Die res van die dag waag hy dit nie naby sy rekenaar nie, want Astrid bring veranderings aan. Hy maak lusteloos kos, herleef haar vloermoer en wil gaan stap, maar is te bang nadat hy in die olifant vasgeloop het.
Waar skuil die ergste gevare? Buite in die wildernis? In sy kamer agter die rekenaar; selfs ín die rekenaar; iewers in die kombuis? Op die halfvrot spa-dek?
Maar liewer daardie grieselgeeste as die verwoede Astrid wie se sterretjies almal seker nou moerland toe is.
Later gaan sit Gustaf weer in die spa-bad, maar dié slag met sy oë wawyd oop.
Toe hy ’n halfuur later terugstap, is daar geen spoor van Astrid nie. Net ’n Post-it: Ek vlieg vanaand terug. Kyk na my veranderings en leer daaruit. A
Haar huurmotor staan ook nie meer langs syne nie.
Hy braai later vleis op die dek, kyk hoe die rivier se vlak weer begin daal soos die stormgeweld afloop, en wag dat dit skemer word. Vrees die rekenaarskerm met die merker wat aan en af flits, aan en af. En die slagveld van sy teks nadat Astrid daardeur is.
Nou weet hy hoe die Geallieerdes gevoel het toe hulle Nazi-Duitsland destyds binnegeval het. Want dit is hoe sy draaiboek nou gaan lyk.
Maar hy kan dit nie langer uitstel nie.
Die rekenaarskerm is nog op die Adrenalien Draft 1-weergawe oop, maar op bladsy 9 waar hy tevore opgehou het.
Gustaf skakel die leeslamp aan. Hy kyk na die korreksies wat Astrid gemaak het. Feitlik geen sin of aanwysings van wat hy oorspronklik geskryf het, is behou nie. Sy het alles verander.
Hy lees ’n entjie, maar raak dan so moedeloos dat hy sy kop op die toetsbord plaas. Só raak hy aan die slaap.
Iets maak hom wakker. Hy lig sy kop. Dit is nou donker behalwe vir die rekenaarskerm wat in slaapmodus gegaan het en ’n dowwe lig oor die vertrek gooi, nes die EXIT-ligte daardie dag in die bioskoop.
Hy draai sy kop.
Sy leeslamp is afgeskakel. Maar hy onthou tog duidelik dat hy dit aangeskakel het terwyl hy deur die korreksies gegaan het. En nou is dit af?
Die skakelaar is koud onder sy vingers.
Aan. Daar is lig! Maar die lig val net op die rekenaar se toetsbord.
’n Yslike koringkriek sit op die toetsbord met sy voelers wat nuuskierig in sy rigting soek. Gustaf vlieg op en skreeu. Die liederlike ding skarrel agter die rekenaar in en kruip agter die skerm weg, tot hy die dierasie met ’n opgerolde koerant verwilder. Die gekriewel van die pootjies maak hom mal!
Na ’n ruk gaan sit hy weer voor die rekenaar en wag dat die koringkriek weer sy aaklige Parktown Prawn-gevreet wys. Maar die insek is gelukkig weg.
Hy kyk na sy rekenaar se skerm.
Die rooi geheuestokkie is in. En die skerm is oop op Adrenalien: Die Waarheid waar hy laas ’n toneel geskryf het oor die pa, ma en seun wat tevore die Lodge bestuur het.
Kalm bly. Kalm, kalm bly. Hy moes dit ingedagte gedoen het terwyl hy geskryf het.
Hy laat sy kop in sy hande sak en luister na die gedruis van die rivier hier buite.
Plonk! Plonk!
Gustaf hoor duidelik hoe iemand in die spa-bad hier langs sy slaapkamer klim. Plonk! Plonk!
Nóg iemand klim in.
Plonk! Plonk! ’n Derde persoon klim in.
Shit!
Die spa-bad word aangeskakel.
Vrees vou hom toe soos ’n spinnerak. Om en om en om en om.
Die spuite in die spa-bad word vinniger gestel. Dit maak ’n onaardse borrelgeluid.
Skielik die klank van ’n lyf wat afskuif oor die bad se rand – van vel wat daaroor skuur. Plasse. Iemand skep die water en laat dit terugval oor ’n liggaam.
Vrees. Maak vriende met jou vrees. Moenie bang wees vir Vrees nie.
“Hallo, Vrees. Swart koffie soos jou kleed?”
’n Tapisserie kantel, skuif en val van die muur af. Gustaf spring op.
“Ek is nie bang vir jou nie!” Sy stem klink belaglik dun in die vertrek. Sal sy ledemate gehoorsaam as hy dit opdrag gee om in beweging te kom en op te staan?
Die spuite in die spa-bad word weer gestel, hoor hy. Dit is nou nie meer op die hoogste spoed nie.
Borrel, borrel, rustiger. Vel oor bad, plas, plas. Plonk.
Bubble, bubble, toil and trouble.
Nou! Moet! Hy! Uitstap!
Nou!
Sluk. Koue sweet. Rillings. Is dit bloed teen sy slape af? Daar is trane in sy oë van vrees. Bewende vingers raak aan sy rekenaar waar die verdomde koringkriek netnou gesit het.
Die skerm is nog steeds op dieselfde bladsy as toe hy aan die slaap geraak het, die einde van toneel 2.
Vir ’n oomblik wil hy die rekenaar stukkend gooi teen die muur, maar hy het nie die krag om dit te lig nie.
Hy stel die oomblik uit om na die spa te loop …
Die Edgar-pop kyk somber na hom. Verbeel hy hom of het die pop se hare effens gegroei? Is die een oog effens meer toe as die ander?
Loop, jou bang bliksem! Lóóp!
Plonk. Skuif. Borrel. Spat.
Was dit ’n giggel?
Een tree. Pouse. Kaplonk! bots ’n stuk boom teen die Lodge se pale in die rivier.
Twee, drie tree. ’n Seekoei bulk asof sy pens met ’n saag oopgesny word.
Pouse. Wag. Soek. Dink.
Vier tree. Nog net een, dan is hy by die deur. Nog net een tree!
Vyf tree. Die vyfde tree tot by die deur.
Hy kyk terug oor sy skouer, maar weet wat op sy rekenaar se skerm staan. Adrenalien: Die Waarheid einde toneel 2. Nie Adrenalien Draft 1 wat Astrid so verkrag het nie.
Hy wens hy het ’n rewolwer gehad …
Die deurhandvatsel glip uit sy sweterige hand sodat hy dit eers die tweede keer kan raak vat. En draai. Draai. Dráái!
Dié slag gaan sy kamerdeur oop.
Dowwe ligte teen die mure. Verder net donkerte.
Kliek! Die spa-bad word afgeskakel. En hy hoor hoe drie mense uitklim.
Nou! Hy moet nóú soontoe loop en die waarheid met sy eie oë sien. Hoeveel treë is dit tot by die spa se deur? Vier? Vyf? Ses? ’n Ewigheid?
Soos Gustaf met die gang afloop, gaan die ligte teen die muur een na die ander af asof hulle die sekondes na sy dood toe aftel. Vyf ligte. En soos hy verbyloop, doof hulle uit tot die gang stikdonker is.
Een, twee, drie, vier, donker.
Uiteindelik voor die spa se deur.
Dit is nou stil binne. Die bad is afgeskakel.
“Hallo?”
Is jy gek, Gustaf Prinsloo? Verwag jy regtig hulle gaan jou teruggroet en nooi vir ’n groepswoeps in die spa-bad?
Toe hy aan die deurhandvatsel vat, skreeu ’n jakkals buite.
Niks kan hom nou keer nie. Hy moet sien wie in die spa is.
Krag. Van iewers af. Bloed vloei deur sy kop. ’n Suising iewers. Weer ’n harde slag – dalk weer die seekoeie wat met die paadjie op waggel weiveld toe?
Maak oop die deur, poephol!
Die deur gaan stadig oop. Dit kraak darem nie. Maar gaan stadig oop, oper, oopste, mees oopste, heeltemal oop, soos ’n doodskis se deksel wat gelig word.
’n Buitelig skyn deur die venster. En in daardie lig sien Gustaf drie handdoeke langs die bad lê. En die water klots nog liggies asof mense pas uit die bad geklim het.
Hy kyk na die vloer – sy vingers soek die ligskakelaar, vat dit raak, sit dit aan, maar niks gebeur nie.
Tot by die bad in die dowwe lig van buite. Die handdoeke. Twee grotes en een kleintjie. Goue Lokkies en die drie bere. Die pappa-beer, die mamma-beer en die ou klein beertjie.
Wie het my pap geëet? En wie het in my spa-bad geweek?
Hy wil eers nie daaraan raak nie, maar tel dit tog op. Die handdoeke is nat asof mense dit pas gebruik het. Nou eers skop die adrenalien in sy liggaam in, kry hy sy krag terug, smyt hy die handdoeke neer en vlug blindelings uit die spa, bang vir wat hy gaan sien, hardloop tot in die sitkamer waar hy uiteindelik daarin slaag om ’n lig aan te skakel wat die hele vertrek verlig.
Daar is niks. Niemand.
Ag liewe Here tog, sal hy nou só diep in sy twintigerjare vir die eerste keer weer begin bid?
Later begin hy uit skone vrees na die boekrak langs hom te kyk, enigiets om sy aandag af te trek van die vertrek met sy meubels en foto’s en verskuilde hoekies.
Tipiese vakansieleesstof. Afrika-boeke. ’n Boomgids. Hoe om Scrabble te speel. Die voëlsoorte van Suider-Afrika. Boeke oor Nelson Mandela.
En ’n fotoalbum. Redelik nuut. Seker met foto’s van gaste wat al hier tuisgegaan het.
Sy vingers bewe terwyl hy dit oopmaak.
Daar is foto’s van bekendes wat by die spa was, almal hand-om-die-skouer met ’n ouerige man met ’n ronde brilletjie. Soms is daar ’n vrou by – haar gesig vriendelik en mededeelsaam. Dis dieselfde mense van die foto in die kantoor.
Hoe verder Gustaf blaai, hoe meer kom die twee mense op die foto’s voor. Was beslis die oorspronklike eienaars of opsigters.
En skielik hou die foto’s op.
Hy blaai terug.
Op die laaste foto staan die drie mense. Dieselfde man met die brilletjie, dieselfde vrou wie se hare altyd in ’n bolla saamgevat was, die hare nou los oor haar skouers, en dieselfde seun van sowat vyf-en-twintig – sy gesig bleek, amper oud, asof hy reeds baie trauma beleef het.
Wat sou van hulle geword het? Hy moet vir Astrid vra. Maar na die drama tevore sal hy dit nie waag om nou sulke vrae te vra nie.
Hy kyk op. Is daar iemand in die gang? By die spa-bad?
Haastig, met lang, ferm treë tot by die bad. Maar die water roer steeds net liggies van die outomatiese spuite wat dit reguleer.
Die handdoeke wat netnou op die vloer gelê het, is nou opgehang aan hake teen die muur.
En daar is ’n kougompapiertjie op die bank!
Kombuis toe. Hy moet iets eet. Enigiets!
Die ligte in die gang brand skielik weer. Hy bekyk elke gloeilamp soos hy verbystap, maar hulle doof nie weer uit nie.
Dit is toe hy by die kombuis wil instap, dat hy besef dat hy nog nie tot heel onder in die huis geloop het nie. Die gang maak ’n draai en daardie deel van die huis is in donkerte gehul.
Wat sou daar wees?
Maak dit saak wat daar is? Moet sommige geheime nie verberg bly nie? Moet party kamers nie maar onaangeraak wees nie?
Later. Hy sal later gaan kyk wat daar is.
Maar as hier nog mense is, is dit dalk waar hulle wegkruip?
Vrees, sy metgesel, staan nou langs hom, hou sy benerige hand uit, lig sy swart mantel sodat ’n paar rooi oë na hom kyk, en wink vir hom.
Dan tel Vrees sy sens op.
Gustaf volg hom. Die vloer is steeds koud onder sy voete, maar as hy in Vrees se spoor loop, vries sy voete byna aan die sement vas.
Al die kamerdeure staan nou oop. Hy gaan staan by die eerste oop deur en skakel die lig aan. Voor hom is ’n man met ’n bleek gesig en woeste hare en vrees in sy oë.
Donnerbliksem, dis hy self wat in die spieël terugstaar. Die ruimte donker en leeg om hom. Sy oë ingevalle in hul kasse soos ’n karakter uit een van Poe se verhale.
Hy klap die deur toe en loop na die volgende oop deur. Hy skakel die lig aan, maar skrik nie weer vir sy eie beeld nie.
Verbeel hy hom of lyk hy ouer in hierdie spieël? Gustaf stap vorentoe, leun tot teen die spieël en kyk na sy gesig wat maklik vyf jaar verouder het.
Nou die volgende vertrek. Aan met die lig! Nou is daar ’n grys strepie in sy kuif. Lyk hy nog vyf jaar ouer.
Voor hom, by ’n draai in die gang, ’n bordjie wat sê: Privaat.
By die laaste kamer langs die bordjie kyk hy weer na homself in die spieël. Sy voorkop het skielik meer plooie op.
Hy het in elke spieël verouder! Liewe Here tog, hy kan nie meer nie. Hy vlieg om en storm terug, weg van die private woonkwartiere, weg van die spieëls, terug na veiligheid.
Toe hy die kombuisdeur oopmaak, verwag hy weer borde, messegoed en kos op die tafel. Maar alles is presies soos hy dit gelaat het.
Die whiskey het hom gehelp om sy bewerasies onder bedwang te bring.
Hy loer terug in die gang af, maar sal nie weer by daardie spieëls verbyloop nie.
Gustaf maak vir hom ’n pakkie sop warm en verbrand amper sy mond. Hy vee die dik sop met brood op en prop dit gulsig in sy mond.
’n Deur word laer af in die gang toegemaak. Die deur wat na die private woonkwartiere lei.
Donderweer. Enkele blitse.
Hy sal ’n slaappil moet neem. Hoe anders gaan hy slaap?
Die leeslampie in sy slaapkamer brand nog wanneer hy die deur uiteindelik toemaak. Hy sluit dit en plaas ’n stoel daarteen.
Vanaand is hier niks vreemds nie. Niks buiten die gewone nie. Net die rekenaarskerm wat aan is. En wel op Adrenalien Draft 1 met Astrid se woeste verbeterings. Die geheuestokkie lê netjies langs sy rekenaar. En as hy aan die geheuestokkie raak, is hy seker dat dit klam is, asof ’n nat hand daaraan gevat het.
Gustaf drink een van die sterkste slaappille wat hy in sy toiletsakkie vir noodgevalle gebêre het. Daar is nog net twee oor. Maar gelukkig het die dokter toe wel sy voorskrif vir antidepressante hernu. Dit behoort darem te help.
As hy verdomp net onthou het om sigarette te koop!
Dit is warm en sweetaftappend bedompig – tekens dat ’n storm weer besig is om op te steek.
Hy loop na die venster toe, kyk uit en sien blitse. Dit ook nog. Hy sal seker in die middel van die nag deur ’n harde donderslag gewek word. Of deur die seekoeie wat teen die houtmuur skuur wanneer hulle teruggaan water toe. Dit voel telkens asof ’n reus die mure skud.
Hy stap badkamer toe. Hy is te bang om in die spieël te kyk, maak sy oë toe en borsel sy tande oor en oor tot sy tandvleis daarvan wil bloei.
“Maak oop jou oë, Gustaf,” fluister Vrees in sy oor. “Jy is mos nie bang nie, of hoe, ou grootman? Toe. Ogies oop. Kyk in die spieël!”
Hy spoel sy tandepasta-mond uit. Twee, drie, vier keer. Proe bloed.
Gustaf vee sy mond af. En maak sy oë oop.
Die gesig wat na hom toe terugstaar in die spieël, lyk presies soos hy hom ken. En Elisma is reg. Met sy hare wat nou onbeteuld groei, begin hy al hoe meer na Edgar Allan Poe lyk.
Iets by die venster. Hy kyk op. Het hy hom verbeel, of …?
Hy stap tot by die venster. Soos in die beste Frankenstein-rolprente is daar, asof deur die spesiale-effekte-afdeling van Judge Films, ’n blits wat alles verlig. En in die blits sien hy ’n mannetjie met ’n boggelrug en ’n sak oor sy skouer en ’n mussie hier reg voor sy venster wat na hom staar – die hand oop, palm na bo, vol wit sandjies.
“Aaaaaaau!” Hy het nog nooit só ’n geluid uit sy liggaam hoor kom nie.
Gustaf deins terug. Maar in die tweede blits is daar niks.
Die gordyne sjoer-sjoer wanneer hy dit toeskuif.
“Jý het Klaas Vakie opgeroep, jou idioot!” kners hy. “Dit was jy!”
Hy wag twee minute voordat hy weer die gordyne oopmaak. Stadiger. Sjoe-oe-oer, sjoe-oe-oer. Die materiaal wieg heen en weer soos die gordyne skud, nes in die rolprentteater.
Nog blitse, maar dit is vinnige, kil strepe bleek lig wat net hier en daar ’n boomstam of ’n stuk pad deur die venster verlig.
Daar is niemand nie.
Gustaf pluk die gordyne toe, klim in sy bed, wil die lig afskakel, maar is te bang.
Skuifel, skuifel. Is dit weer die verdomde koringkriek! Hy moes die verdomde ding vrekgemaak het!
Skuifel, skuifel. Is dit voete of ’n sak wat gesleep word? Of ’n lam voet?
Hy skakel die lig af, te bang vir wat hy dalk daar kan sien.
Sy hart klop. Daar lê iemand langs hom. Is dit sy bedmaat, Vrees, wat sy koue voete teen syne gaan druk?
Hy is te bang om te voel. Maar hy weet daar is iemand langs hom.
Dan, uiteindelik, oorval die slaap hom. Maar dit is ’n onrustige slaap. Hy is daarvan bewus dat hy slaap, hoor die venster oopgaan, ’n geskuifel iewers, dalk ’n sug. Dan word die ruit weer afgeskuif.
Hy maak sy oë oop. Hy lê op sy rug. Daar is sandjies in sy oë.
En niemand langs hom nie. Net die vou van ’n kop in die kussing langs syne. Met ’n fyn strepie bloed daarop.