Die sand spat spikkeltjies modder onder die fiets se wiele soos hy deur die bosse jaag.
Hy het die fiets in ’n skuur gekry – seker een van die gewone trapfietse waarmee toeriste op die gemerkte paaie kan ry. Veilig vir fietsers staan aan die begin van een van die paaie wat na ’n toegekampte area lei.
’n Ligte reënsproei tref sy gesig, maar dit lawe die koors van die vrees weg. Hy weet nie wat die ergste is nie – sy vrees vir die wilde diere of sy vrees vir die gedoentes in die Lodge. Maar die plek het so beklemmend geraak dat hy moes uitkom. Dan liewer die vars lug en die moontlikheid van die bobbejaan as om na die geluide in die huis te luister.
En wat het geword van sy voorneme om maats te maak met Vrees? ’n Mens kan nie met iets of iemand ’n vriendskap aanknoop as jy bang is daarvoor nie.
Maar hoe oorkom ’n mens jou vrees vir Vrees?
Groot sambreelbome. Waterpoele orals. Bloedbevlekte impalalelies. Swamme op deurnat boomstamme. Wilde sampioene. Tarentale fladder uit sy pad. Meerkatte sit kiertsregop, pootjies gevou soos die tannies in die kerk as hulle vroom na die dominee luister maar hom onderlangs dophou met die gedagte om hom vir hul dogters aan te keer, oortjies gespits, ogies wakker.
Weg is hulle. Apies neem hul plek in, skarrel in die bome rond.
“Oorkom jou vrees, Prinsloo,” sê hy vir homself. “Het die olifant jou nie geleer nie? Het die drie siele wat by die tafel eet jou nie gehelp nie?”
Nog sampioene. ’n Hele plaat van hulle. Hy hou stil en laat die fiets teen ’n moepel se stam rus. Gustaf buk, pluk een van die sampioene en kyk daarna. Hy is skielik lus vir een van hulle, want dit is sy gunstelingkos, maar hy onthou sy ma se waarskuwing om nooit wilde sampioene in die veld te pluk nie.
Elisma het dikwels soggens sampioene saam met die spek en eiers gemaak. Dit bring herinneringe aan haar terug.
En toe hy die eerste keer van Elisma se sampioene geëet het, het hy sy ma se waarskuwing onthou: “Dis die verskriklikste dood om te sterf. Jy raak dors, tot gekwordens toe dors, en maak nie saak wat jy drink nie. Die dors raak erger en erger tot dit jou keel laat toetrek en die sweet in jou mond inloop tot jy versmoor daarin – skuim om jou mond.”
Hy ruik aan die sampioen wat hy gepluk het. Dit ruik muf, vreemd, na grond maar tog ook na iets anders wat hy nie kan plaas nie. Hy breek dit in twee, drie stukke, vryf met sy hande oor die vlesige huid en gooi dit dan weg.
Liewer bang Jan as dooie Jan. Ha-ha-ha. Baie snaaks, dink hy. In hierdie geval is dooie Jan dalk veiliger as bang Jan. Want vrees vreet later alles in jou op. Verdryf die warmte van die whiskey, verteer die lekkerte van sy comfort food, tintel in sy tone in en laat sy regteroog spring van spanning.
Vrees. Wonderlike vrees. Die vrees van adrenalien.
Hy gaan sit tussen die sampioene en begin huil oor wat hy hom alles verbeel. Ook oor Astrid se vloermoer, oor die roman en oor Elisma. Elisma. Liewe, dierbare Elisma.
Die huil help bietjie, want hy huil al sy vrees uit waar niemand dit kan sien nie.
Wat bedoel hy, “niemand”? Daar is mos niemand in die huis nie. Dit is bloot sy verbeelding. Hallusinasies! Die horries! Kry hy dalk horries van skone vrees?
Of is daar werklik iemand?
Die bome om hom staan roerloos. Ligte waterdruppels gly teen die blare af, die stamme donker en klam van die reën. ’n Skoenlapper met blou vlerke fladder voor hom verby. Hy het nog nooit sulke blou vlerke gesien nie! Dit dartel en vlieg en verdwyn dan.
Na ’n kwartier is hy terug by die Lodge. ’n Spa-bad sal nou lekker wees. Maar daar is geen kans dat hy weer in daardie water klim na die vorige aand nie. Geen kans dat hy saam met spoke bad nie!
Die voordeur staan oop. Maar hy is seker hy het dit toegemaak! Hierdie groot, soliede houtdeure kan tog nie vanself oopgaan nie.
Dalk het Astrid teruggekom! Maar net sy motor staan daar. En sy kan seker nie so vinnig weer van Johannesburg af hierheen kom nie.
Hy stap in die Lodge in verby die bordjie wat wys na die spa-bad.
Daar is iewers ’n gekap. Hoor hy reg? Is dit ’n houtkapper? ’n Reuse-toktokkie wat in sy kop boodskappe uitkap? Sy hart wat tekere gaan?
Kap! Kap! Kap!
Iemand staan op die houtdek besig om ’n verrotte plank te vervang! Gustaf sien hom duidelik.
Nou het hy genoeg gehad. Biedêm vrees. Biedêm alles. Genoeg is genoeg. As dit ook sy verbeelding is, gaan hy dit nou onder beheer bring.
Hy stap met mening na die glasdeur toe wat oop staan. Kom tot stilstand, maak sy oë toe asof hy die figuur wegwens. Maak dit weer oop. Vryf Klaas Vakie se laaste sandjies uit en fokus.
Die man staan steeds daar.
“Goeiemôre!” Hard en duidelik.
Die man kyk op. Dit is ’n ou man met ’n outydse plaashoed op waarom ’n dier se vel gedraai is met ’n tarentaalveer wat uitsteek.
Die man lig sy hoed.
“Goeiemôre, neef! Buitendag. Baltus Buitendag. Hoe voer neef die van?”
Die man praat sowaar, en hy klink net soos iets uit die Groot Trek!
Gustaf stap nader. Die man hou sy hand uit, maar Gustaf is te bang om daaraan te vat. Hy knik net.
“Gustaf Prinsloo. Ek bly hier vir ’n paar weke. Wie is u?”
Die oubaas verstel sy hoed, gaan sit op sy hurke en kap weer aan die hout. “Opsigter. Eintlik noem ek myself sommer ‘Hei-luister-meneer’!”
“Hei-luister-meneer?” frons Gustaf.
“Ja. Al die mense wat tot dusver hier gebly het, sê altyd vir my: ‘Hei, luister, meneer! Kan jy nie gou dit en dat kom regmaak nie?’ Nou maak ek maar die vrot planke op die dek reg voor jy my ‘Hei, luister, meneer’!”
“O, baie dankie.”
Die man hou aan met kap, vervang die plank, toets dit met sy hand en waarsku dan: “Jy kon baie maklik hier deurgeval het tot in die rivier in, en dan gaan jy na die lang bome toe!”
“Die lang bome?”
“Ja. Die kerkhof hier agter. Al die ou voorgeslagte wat hier gewoon het toe dit nog ’n plaas was, lê daar begrawe. Die laaste eienaar het nog, toe hier ’n weermagkamp naby was, ’n naweekboerderytjie probeer. En intussen wild geskiet. Bob’jane het hom gruwelik gepla, veral ’n moedswillige ou bronstige mannetjie wat hom eendag aangeval het.”
“Hoe … het die mannetjie gelyk?” waag Gustaf.
“So ’n liederlike gedierte vol sere en swamme en die vet weet wat alles.” Die ou man sug. “Hy het die boer uiteindelik aangeval en doodgebyt. Vreeslike storie destyds in die koerante.”
“Wanneer …” Gustaf sluk. “Wanneer het dit gebeur?”
“Hier in die tagtigs rond, toe die army hier in die omgewing op sy hoogtepunt was.”
Gustaf sluk. “Uhm. Hoe dikwels kom u hierheen?”
“Ag, wanneer dit nodig is.”
“Waar woon u?”
Die ou man beduie Mica se kant toe. “So twee wildplase verder aan.”
“Het Astrid vir u gesê ek kom hier bly?”
“Hoesenaam?”
“Astrid.”
“Nog nooit van gehoor nie.”
“Wie …” Gustaf probeer om sy bewerasies onder beheer te bring. “Wie het tevore hier gebly?”
“Ou seuna, as jy vir die oom ’n lekker koppie boeretroos maak, dan vertel ek jou. Maar ek drink liewer hier op die stoep, nie in die kombuis nie.”
“Hoekom nie daar nie?”
Baltus skud sy kop. “Bring die koffie, dan vertel ek jou. Ek gaan nie daar in nie. Swart, dankie, soos my hare nadat ek dit ge-dye het.” En die ou man gaan voort met kap terwyl hy onderlangs lag.
Gustaf maak koffie. Hy kyk kort-kort oor sy skouer, verwag geluide, luister of hy iets uit die spa hoor. Maar al wat daar is, is die geklingel van die koppies en pierings wat hy gebruik.
Vyf minute later loop hy uit dek toe, waar die ou man pas die laaste vrot houtplanke reggemaak het. Hy het intussen sy hoed afgehaal en Gustaf kan duidelik sien dat hy sy hare swart gekleur het.
Swart, soos Vrees se kleed.
“Dankie, my ou boet.” Hy neem dit en kyk na die piering. “Man, ek moet jou net waarsku. Daardie voorste dek hierdie kant toe, die spa-dek, is nie baie lekker nie. Ek het Eddie-hulle gedurig gewaarsku. Iemand gaat nog eendag deur daai planke donner en in die rivier val. En dan is dit tickets!” Hy gooi die swart koffie in die piering en slurp dit luidrugtig op. “Magtag, man! Jy ken van jou boeretroos, nè? Jou ma het jou mooi geleer!”
“Meneer Buitendag …”
“Oom Baltus, seuna. Ek hou tog so daarvan as mense my ‘oom’. ’n Meneer het ’n pak klere aan en ek het laas met my vrou se begrafnis een gedra.”
“Oom Baltus. Die mense wat tevore hier gewoon het …”
“O ja. Ou mal Eddie en ou versukkelde Rina. Vreemde kombinasie, seg ek nog al die donkiejare!” en hy slurp aan sy koffie.
“Wat het hier gebeur, oom?”
“Gebeur, my ou boet?” ’n Retoriese vraag asof hy nie wil antwoord nie. “Jong. Nie mooi dinge nie. Slegte dinge, om die waarheid te sê.”
Uiteindelik iemand wat meer lig op die saak kan werp. “Vertel my, oom?”
Die ou man sit die hamer en spykers op die dek neer en beduie: “Jy moet bietjie hier vee, seuna. Die probleem is, as die blare so dik soos suurdeeg lê en die planke is vrot daaronder, weet jy nooit wat daar aangaan nie. Jy sal jou Heiland leer ken as jy per ongeluk daarop trap! Ek het ou Eddie meer as een keer gewaarsku.”
“Die vorige mense, oom.”
Die ou man slurp weer sy koffie. “Ou Eddie en sy vrou het die Lodge bestuur, maar ook besit. Gedurig hier rondgehol asof die wêreld en sy maatjie gaan opdaag. Maar dit het ál stiller en stiller begin raak. Mense het nie meer hiernatoe gekom nie. Veral nie na die groot vloed van destyds nie.”
“Ja, ek weet van die vloed, oom.”
“Daardie treinbrug hier anderkant … Boeta! Die water het gevat-vat aan daardie brug. Als was hier onder water!”
“En die vorige eienaars, oom Baltus?”
“Drie siele. Skoon verrinneweer van streke en probleme en geite en maniertjies. Eddie en Rina en jong Petrus. Nou maar kyk!” Hy beduie met sy vereelte hande. “Rina se hande het vir niks verkeerd gestaan nie. Petrus s’n ook nie. Gedurig op kursusse na vreemde plekke toe gegaan om die massaging behoorlik reg te kry.”
“Interessant.”
“Man! Hulle het al die kneukels en knopperasies en jig uit ’n mens se ligamente gevrywe. Ek het self ’n keer of wat gelê, dan voel ’n man weer soos ’n bobaas van die boendoe! Net sonder die happy ending! Ha-ha-ha-ha!”
Nooit gedink so ’n konserwatiewe oubaas sal van happy endings weet nie.
Die oubaas is nou volstoom aan die gang. “Ou Eddie vertel my toe dat hulle die agterste deel van die Lodge vir hulle as ’n blyplek ingerig het. Tevore het hulle in die huis langs die knoppiesdoring gebly – heeltemal apart van die Lodge. Maar toe besluit hulle dat hulle meer deeglik wil toesig hou oor wat hier aangaan in die nag.”
“Aangaan in die nag, oom?”
“Jong, partykeer maak die gaste gat skoon vroegoggend voor hulle betaal het. En dit moes hulle hokslaan!” Weer die geslurp uit die piering.
Gustaf wag dat die ou man moet voortgaan.
“Hulle het sommer ook hul eie groente hier geplant. Beskerm onder nette en wie weet wat alles, net hier agter by die tenthuis.”
“Die tenthuis, oom?”
“Ja, boeta. Was jy nog nie daar nie?”
Gustaf skud sy kop.
Baltus beduie in die rigting van die digte bos hoër op met die rivier.
Gustaf het nog nie daardie pad aangedurf nie, miskien omdat die pad ál slegter raak hoe verder ’n mens langs die rivier opgaan. Hy sal ’n punt daarvan maak om te gaan kyk.
“In elk geval, seuna. So was die klomp Filistyne helemal selfversorgend. Net een maal elke twee weke Hoedspruit toe gegaan om proviand te koop. Of as hulle meer nodig gehad het, is hulle Nelspruit toe.”
Hy slurp die laaste van sy koffie op. Vryf oor sy hoë voorkop nadat hy sy hoed gelig het, en vat aan sy ruie wenkbroue. “Toe, twee maande gelede, vra Rina vir Petrus om sampioene te gaan pluk. Sy het altyd die sampioene gaan pluk, maar dié dag was sy te besig.” Hy sit die piering onderstebo op die koppie neer en neem sy hoed, vryf bietjie aan die veer, en plaas dit dan op sy kop.
“En toe, oom?” moedig Gustaf aan as die ou man nie voortgaan nie.
“Petrus het nooit saamgegaan as sy ma sampioene gaan pluk nie, want hy moes die spa aan die gang hou, mense masseer, al hulle geite hanteer. Maar hy het geweet waar die sampioenplek was.”
“Onder die vaderlandswilg?” vra Gustaf.
“So jy was al daar?”
“Net voor ek oom ontmoet het.”
“Ek hoop nie jy het van die addergebroedsel-goed probeer eet nie?”
Hy skud sy kop. “Ek ken nie sampioene nie, oom.”
“Ook maar goed.”
“Wat bedoel oom?”
Hy kap-kap sy hoed op sy hand asof hy stof probeer uitkry en plaas dit dan terug op sy kop. “Daardie middag het Rina oudergewoonte vir hulle slaai gemaak vol varsgeplukte sampioene.” Sy oë kry ’n veraf uitdrukking.
“En toe wat, oom?”
Hemel, hy wonder wat Astrid met haar streng draaiboekreëls sal maak as hy gedurig “En toe wat, oom?” in die middel van ’n lang relaas skryf.
“Het Petrus die verkeerde sampioene gepluk, my boet.”
Sonbesies begin skreeu. Dit wil begin ooptrek. Die fyn misreëntjie het opgehou, maar die water drup nog op hulle uit die bome wat oor die dek sambreel.
“Die giftiges, oom?”
“Wat opgekom het op ’n plek baie naby waar die ander sampioene gegroei het. Dis nou die regte soort. En Petrus het die twee plekke met mekaar verwar.”
Gustaf wag geduldig dat Baltus verder praat.
“Twee dae na die plukkery hou ek toe weer hier stil, net hier anderkant onder die groot ou hardekool.” Hy kyk oor die rivier. “Toe kry ek hulle drie, morsdood op die perseel. Hier’s mos nie selfoonontvangs nie. Die landlyn was toe stukkend. Werk net partykeer. Maar nie daardie spesifieke dag nie. Toe die gif begin werk, was dit te laat.”
Gustaf gaan sit op een van die dekstoele, sy kop in sy hande. Hy sit ’n hele ruk so.
“Nou ja, boet. Dis die storie. Die drie is toe veras. Wou nie begrawe word nie.” Hy sit sy hoed op sy kop en hou sy hand uit. “Dankie vir die boeretroos, neef. Jy ken jou storie!”
“Waar is hulle as toe gestrooi, oom?”
“Die as is nog nie gestrooi nie. Ek het nie die moed gehad om dit te doen nie. Dit is heeltemal te aardig vir my. En as ek dit iewers moes strooi, sou ek dit tussen die regte sampioene uitgegiet het. Maar ek wil verder g’n niks met hulle as te doen hê nie.”
Hy skud Gustaf se hand. “Nou ja, wederom, neef!”
Oomblikke later is Baltus Buitendag weg.
Gustaf stap later na die voordeur toe wat steeds oop staan en loop uit – dink aan die gruweldood wat die mense hier moes gesterf het.
Hy loop terug kombuis toe, staan daar en kyk na die tafel. Hier het destyds drie mense gesit en eet. En hier het drie mense gruwelik gesterf. Het Astrid geweet wat gebeur het? Van die ongelukkige geskiedenis? Hoekom het sy hom nie vertel nie?
Dit neem Gustaf ’n halfuur om die inligting te verwerk.
Nou gaan hy skryf.
Hy gaan sit agter die rekenaar, maak die Adrenalien Draft 1-weergawe oop, sy kop ’n warboel van gedagtes en emosies na wat hy gehoor het.
Hy sukkel om deur Astrid se sogenaamde “verbeterings” te gaan. Stem hoegenaamd nie saam met wat sy gedoen het nie. Op sommige plekke verander sy selfs die draad van die storie. As hy haar weer sien, sal hy beswaar maak daaroor.
Hy skryf verder. Die woorde vloei. Hy steur hom nie meer so erg aan die draaiboekaanwysings nie – dit sal hy later aanbring. Hy skryf net soos die woorde kom, gegrond op die roman wat oop lê langs sy rekenaar.
Skryf en skryf en skryf tot dit begin skemer word. Toe staan hy eers op, sy ledemate stram. Hy is vir ’n oomblik duiselig, want die adrenalien het so erg gevloei dat hy agt bladsye aaneen geskryf het.
Wanneer hy later terugkom na sy rekenaar toe, gaan hy die ander weergawe lees. Die Adrenalien: Die Waarheid-weergawe wat begin met die drie mense wat sit en eet. Maar tot dusver was hy te bang om verder te lees, want hy het dit nie geskryf nie.
Weer ’n whiskey. Dié slag skoon.
Hy drink stadiger, geniet elke teug, laat die koue vog in sy mond huiwer, kou die stukkies ys fyn en sluk dit dan behaaglik in.
Hier is drie mense grusaam in die huis dood. Hulle het dalk, toe die simptome begin, probeer hulp kry, maar dit was te laat.
Die oom se koppie! Hy het vergeet om dit in te vat.
Wanneer hy uitstap op die dek, is die koppie nie meer daar nie. Die ape moes dit seker gesteel het. Of die bobbejaan.
Die bobbejaan … Hy onthou skielik van die gedierte. En hy dink ook aan die oom se storie.
Hy stap badkamer toe en was sy gesig, al is dit net om die spinnerakke van die baie skryf weg te was.
In die kombuis wil hy aandete begin berei. Maar dan sien hy die koppie waaruit oom Baltus gedrink het op die skottelgoedrak, silwerskoon gewas. En langsaan dit die piering.
Nee. Nee. Nee. Hy gaan nié nou paniekbevange raak nie. Hy weier om aan die moontlikhede te dink wat die ou man geopper het. As ’n mens nie aan dié soort dinge dink nie, gaan dit weg, verdwyn dit soos brood van ’n koshuistafel af.
Vandag, nou, hier, maak hy maats met sy grootste vrees. Gaan hy dit oorkom. Kyk hy na die koppie wat nog klam is.
Hy haal diep asem en sê hardop: “Ek is nie meer bang nie.”
Hy stap venster toe en kyk na buite – sien die modderpoele wat begin opdroog. Maar die wolke hang steeds swaar.
Wanneer hy begin kos maak, bewe sy hande minder.
Hy maak die yskas oop.
Daar is ’n bakkie met sampioene op ’n rak. Maar liewe hemel, hy het nie sampioene gepluk nie! Is dit moontlik dat hy dit wel gedoen het, maar daarvan vergeet het?
Dan ís hy besig om mal te word!
Hy gryp die sampioene en gooi dit by die venster uit.
Dit is later donker.
Hy skakel die ligte aan, krap deur die groente wat hy ontvries het asof hy sampioene daarin verwag, dink aan die drie mense wat tevore by hierdie tafel gesit het, giftige sampioene geëet het en wreed gesterf het. Maar verban dit uit sy kop.
Hy moet probeer vrede maak daarmee. Wat anders kan hy doen? Van sy verstand af raak?
Die enigste manier om dit te verwerk, is om na die deel van die Lodge te stap waar hulle gewoon het. Sommer nou.
En hy moet verby die Privaat-bordjie loop.
Hy neem weer ’n sluk whiskey om moed te kry.
Nou af met die gang.
Hy neem ’n sterk flits saam. Sou dit ook, soos in menige riller, skielik doodgaan wanneer hy ’n beweging in die donker sien? Wanneer ’n paar bleek hande uit ’n donker hoek te voorskyn kom?
Al is die ligte aangeskakel, lig hy nogtans met die flits tot in die donkerste hoekies. Lig-lig-lig, maar vind niks vreemds nie.
Om die draai en af met die gang, verby die spa-kamers en die sauna en die masseervertrekke tot om die hoek.
Dan, wanneer hy aan die uiteinde van die Lodge kom, sien hy weer die Privaat-bordjie – verwag hy ’n doodskop wat in drie tale waarsku: Gevaar! Danger! Ingozi!
En onder dit: Eienaars se kwartiere.
Hy loop verby. Dit voel of hy op verbode terrein loop.
Die laaste mense wat hier geloop het, is nou dood.
Die ligskakelaar. Klik! Geen lig. Klik-klik. Niks.
Dankie tog hy het die flits saamgebring.
Hierdie moet die slaapkamer wees. Gustaf ril.
Hy lig in die donker vertrek rond. Die lig speel oor die spieël. Nou onthou hy sy gesig wat in elke spieël hoër op in die gang verouder het.
Hoe gaan sy gesig in hierdie spieël lyk?
Die lig speel oor die vertrek, dring tot in die mees verskuilde hoekies. Vee oor die spieël, rus op die hangkas, raak soms aan die bed.
En onder die bed ’n stel skoene.
Hy deins terug. Want die skoene lê met hul voetsole boontoe asof iemand daar lê en doodgaan het.
Nee, hy moet hier uitkom. Nou dadelik.
Hy loop agteruit. In die proses bots hy teen iets, skrik vir die houtmuur agter hom, loop vorentoe tot die flitslig weer oor die bed speel. Die skoene is nie meer daar nie!
Hy kyk in die spieël. En agter hom, ’n wit gesig met skuim om die mond.
Gustaf gil en hardloop na die deur toe, maar hy het dit netnou net halfpad oopgemaak, sodat hy homself disnis daarteen vasloop.
Sterretjies. ’n Blits voor sy oë. Die flits val. Toe donkerte.
Hy sak in ’n beswyming neer.
Wanneer hy sy bewussyn herwin, kyk hy in die flitslig vas wat voor hom geval het en in sy oë lig. Dit verblind hom vir ’n oomblik. Hy tel dit op, sukkel orent en sluit sy vingers om die koue staal.
Gustaf laat die lig oor die vertrek speel.
Orals staan ornamente. Glaspoppies, Hollandse medisyne in antieke botteltjies. En portrette teen die muur.
Maar geen gesig nie.
En tog. Portrette.
Die gesin kom op al die portrette voor – die ma altyd stug en die pa met die ronderaam-brilletjie kyk gewoonlik strak voor hom uit.
En die seun. Dis dieselfde gesig wat hy netnou agter hom gesien het met die skuim om die mond!
En toe, op die tafel voor die venster: drie kruike. Antieke kruike. Mooi. Duur, skaars. Die flitslig vang die een, dan die tweede een, dan die derde.
Gouelokkies en die drie beertjies. Hy is in die twee ouer bere se slaapkamer.
Hy kan homself nie keer nie.
Gustaf stap nader, raak aan een van die kruike en wil dit net omkeer om te sien of daar name en datums aan die onderkant is. Die deksel skuif af en ’n poeier sif uit.
As. Eddie se as. Rina se as. Petrus se as.
En voor op die kruike, drie datums. Hul sterfdatums.
Dit is presies ses weke gelede.