16

Dit het darem opgehou met reën.

Gustaf besef dit is nou of nooit. Maak of breek. Vrede maak of waansinnig raak. Oorgee of terugbaklei.

Hy sit in sy slaapkamer, weer eens te bang om te beweeg. Maar daar is nou ’n woede in hom, ’n ergernis wat verby beheersing strek. Dalk moet hy in die sitkamer invaar en alles wat daar is stukkend gooi. Dalk moet hy die kruike met as vat en dit gaan begrawe. Dalk moet hy Astrid bel en haar vra hoekom sy hom hierheen gestuur het, wel wetende van die tragedie wat hier plaasgevind het.

Maar dit is dan presies wat hy wou gehad het! Afsondering op ’n onheilige plek wat die adrenalien laat vloei.

Oppas waarvoor jy wens …

Hy haal vir die soveelste keer sy selfoon uit. Daar is darem een stafie op die skerm wat wil-wil registreer. En daar het al ’n paar e-posse afgelaai en SMS’e deurgekom, wat nog nie tevore gebeur het nie.

Met die selfoon bokant sy kop waag Gustaf om die deur oop te maak. Hy stap uit. Die lang gang se ligte brand nog.

Of hy nou met Vrees wil maats maak of nie, hy gaan beslis nie vannag weer tot by die vorige eienaars se woonkwartiere loop nie. En beslis nie nou nie!

Hy loop uit op die dek en gryp ’n groot besem. Hy begin die vrot blare van die dek afvee in die vol rivier in, al is dit net om iets te doen. Dit koek in bondels voor die besem en hy moet al sy krag gebruik om die berg blare van die dek af te vee.

Op die plek waar die ou man die planke reggemaak het, vee hy ekstra versigtig. Ja, dié planke lyk nuwer en stewiger as die ander. Ook deurnat, selfs gevlek, maar nie so erg soos die ander nie.

Vee, vee, vee tot daar ’n pad deur die blare oopgevee is.

Die dek is darem stewig onder hom. Maar die magtige rivier vloei stil verby tot by die druising waar die stroomversnellings laer af begin. Hier begin nou reeds ’n paar rotse uit die water punt maak. Hulle bol soos versteende seekoeie in die son wat soms deurbreek.

Vee, vee, vee. Dit laat sy hart bedaar wat nog die hele tyd in sy keel klop. Elisma was reg. Wanneer paniek dreig om oor te neem, doen iets anders, dink aan iets anders, sit ’n rekkie om jou pols en pluk-skiet dit gedurig. Daardie pyn trek jou aandag van die werklike probleem af.

Gustaf gaan sit. Die sweet tap hom af. Maar soos hy die dek skoongevee het, het hy ook sy bewussyn probeer skoonmaak. Die enigste probleem is, al die verrotte blare het nie in die rivier geval en weggestroom nie. Dit sink in sy onderbewussyn in waar dit gaan lê en kook en gis, net om nog meer monsters te bedek en nuwe krokodille uit die slyk te laat verrys wat oopbek pleit: “Voer my! Voer my!”

Hy haal sy selfoon uit sy sak en hou dit weer bokant sy kop.

Dêmmit! Die een flou stafie wat netnou geflikker het, is weg. Geen ontvangs nie.

Diep asemhaal. Kyk na die skerp kollig wat oor die rivier uitsprei. Hy sien ’n krokodil en boomstompe wat meegesleur word.

Dit is toe hy by die telefoon verbystap, dat ’n gedagte hom skielik tref. Op ’n ingewing lig hy die gehoorbuis. As “Mister Sandman” nou speel, sing hy saam, die vet weet! Hy gaan nie weer geterroriseer word nie.

’n Luitoon! Daar is jou wragtigwaar ’n luitoon!

Sy vingers soek na die sleutels. Nie ’n enkele nommer kom by hom op nie.

Behalwe Elisma s’n.

Elisma. As hy net haar stem kan hoor. Maar sy sal nie sy oproep neem nie. “Al wat op haar selfoon gaan verskyn, is Private number, poephol! Sy sal nie weet dis jy nie!” sê hy vir homself.

Dit lui. Een lui. ’n Tweede lui. ’n Derde lui. ’n Vierde lui.

“Ha …” Elisma sluk die slaap weg. “Hallo?”

Sy stem steek in sy keel vas. Al weer die vrees. Te hel daarmee.

“Hallo, Elisma. Dis ek.”

Stilte. Sy gaan dooddruk.

“Hallo, Elis?”

Stilte. Buite roep die paddas. Brul ’n brulpadda so hard dat dit klink of hy hier by hom in die kamer is. ’n Baskitaarklank uit ’n amfibiese keel.

“Hallo, Gustaf.”

Hy wag dat sy kortaf vra wat hy dié tyd van die nag soek. Maar niks gebeur nie.

“Hallo, Elis,” sê hy weer, maar sy antwoord nie hierop nie. “Is jy nog daar?”

“Ja, ek is hier.”

“Ek mis jou.”

“Waar is jy?”

Sy praat darem met hom. “Iewers waar niemand my kan kry nie en waar ek met die spoke baklei.”

“Daar is baie spoke in jou, Gustaf.”

“My onderbewussyn is vrot van hulle.”

’n Lang stilte. Is sy nog daar? Dan: “Hoe gaan dit met jou skryfwerk?”

“Ek skryf ’n draaiboek, Elis.”

“’n Draaiboek! Wat weet jy van draaiboek skryf?”

“’n Meisie help my.”

“Dit het jou vinnig geneem om oor ons skeiding te kom.”

“Nee, nee, nee. Niks van daardie aard nie. Sy leer my net om die tegnieke onder die knie te kry en …” Hy sluk. “Elis. Ek mis jou.”

Stilte. ’n Diep sug. Iewers op die agtergrond hoor hy ’n polisiesirene verbygaan en hy wonder of sy steeds by Anton en sy vrou woon.

“Het Anton jou nie gesê waar ek is nie, Elis?”

“Ek was baie kort by hulle. Ek bly nou op my eie. En hy het niks gesê nie.”

Hy wag dat sy moet voortgaan. “Ek mis jou, Elis,” sê hy weer, bloot van nie weet wat anders om te sê nie.

“Gustaf. Dié slag kan niemand jou help nie. Net jy self.”

“Maar as jy net vir ’n dag by my is, kan ons …”

“Ek dink nie dis ’n goeie idee nie, Gustaf.” Sy klink formeel. Amper onvriendelik, soos ’n skoolhoof wat ’n kind aanspreek. “Bewys dat jy dit kan doen. Op jou eie. Met of sonder jou monsters.”

“Ek is so lief vir jou, Elis.”

Stilte. Dalk oorweeg sy om dieselfde terug te antwoord. “Gaan slaap, Gustaf. Goeienag.” En sy druk dood.

Op sy eie. Net hy en sy spoke.

Maar wag! Sy is reg. Hy kán dit self doen. Hy moet dit self doen. Nou. Sommer nou! Elisma het mos so gesê!

Gustaf lig sy rekenaar se deksel. Waar hy na die Adrenalien: Die Waarheid-dokument toe wou gaan, gaan hy terug na die weergawe wat hy vir Astrid skryf. Adrenalien Draft 1.

En hy begin skryf. Hy wag vir die eetgeluide in die kombuis. Hy wag dat die spa-bad aangeskakel word. Hy wag vir die boggelrugmannetjie by die venster. Vir die bobbejaan om op die dak te spring. Die wit gesig agter hom met die skuimende mond. Sy eie ou gesig in die spieëls. Dit is wat hom nou laat skryf.

Elke keer dat hy vassteek, skok die skuimende mond weer woorde uit hom uit.

Later plof die seekoeie weer verby dat die vertrek daarvan skud. Hy wag in eerbied dat hulle verbygaan.

Gustaf skryf en skryf tot ligdag, die Edgar-pop sy enigste geselskap. En verbeel hy hom, of het Poe nou ’n sardoniese glimlag?

“Jy kon nie jou monsters beheer nie, Edgar. Maar ek gaan myne beheer,” sê hy vir die pop en skryf verder.

Een van die pop se slap hande val skielik op sy skoot. Dit laat Gustaf momenteel ophou met skryf. Hy wag dat nog iets moet gebeur, maar daar is niks.

Skryf, skryf, skryf tot die son op is.

Hy gaan lê klere en al op die bed en raak aan die slaap.

’n Deur klap. Gustaf sit regop. Was dit in die huis of ’n motordeur?

Voetstappe op die gruispaadjie. Voëls wat opvlieg uit die bome. Die groot houtdeure wat oopgemaak word. Dit moet oom Baltus wees wat teruggekom het.

Hy staan op, nog half slaapdronk en vervaard. Strompel na sy kamerdeur toe en maak dit oop.

Astrid staan voor hom in die kortste broekie denkbaar wat net weer wys hoe mooi haar bene is. En in haar hand twee pakke wegneemkos.

“En hoe gaan dit met ons flink skrywer?”

Sy is byna onherkenbaar vriendelik, want toe sy hier weg is, was sy stroef. Aggressief.

“Astrid, ek …?”

“Moenie so verbaas lyk nie, Gustaf-met-die-mooi-f! Ek was ’n week laas hier! En ek het mos belowe ek sal elke week kom kyk hoe dit gaan. Het jy nog genoeg kos?”

’n Week! Dit voel nie soos ’n week nie.

“Ek … dit … wel, dit gaan … uhm, beter,” sukkel hy om die woorde uit te kry.

Sy glimlag en soen hom in sy nek. “Ek het ’n lekker brekkie saamgebring. Hier anderkant in Hoedspruit gekoop. Waar’s jou jongste probeerslag? Ek sien só uit daarna.”

Hy wil haar nie eers herinner aan hul vorige uitval nie. Sy kon tog nie vergeet het hoe brutaal onbeskof sy met hom was nie. Hy beduie na sy rekenaar. “Die gees het my gevat.”

“Die gees?” Sy lag. “Dink jy nog steeds dit spook hier?”

“Hoekom het jy my nie gesê van die vorige eienaars wat hier dood is nie?”

“Hoe weet jy daarvan?”

Hy lig sy skouers. “Daar is maniere om uit te vind.”

Sy kyk vir ’n oomblik skerp na hom. “Ek weet jou verbeelding is potent. Ek wou hê jy moet sekere dinge self uitvind. Alles deel van navorsing.”

Nou weer die koudheid, die verandering in haar oë, ’n saaklikheid. Hier sit sy weer, die professionele vervaardiger, ’n teksontwikkelaar wat nou genoeg regte geluide gemaak het.

Speeltyd is verby.

Sy lig haar hande soos iemand wat op ’n rekenaar wil tik. Haar wysvinger roer effens, asof sy ’n pianis is wat na die regte noot soek.

“Eerstens. Het jy my veranderings gelees?”

“Ja.”

“Het jy gesien wat ek gedoen het?”

“Ja.”

“Het jy in dieselfde trant geskryf?”

“Ek het probeer.”

“Jy weet hoeveel verantwoordelikheid jy het, nè, Gustaf?”

Hy voel skielik soos ’n kind by ’n kwaai onderwyser wat ’n wiskundeprobleem verduidelik en hom sy laaste kans gee voordat hy kantoor toe gestuur word.

“Ek weet, ja.”

“Jy besef ook dat ek en Judge Films agteroor buig om jou te akkommodeer.”

“Wat probeer jy sê, Astrid?”

“Ek probéér niks sê nie, Gustaf. Ek wil jou net daarop wys dat ’n produksie van miljoene op jou skouers rus. As jy nie kan deliver nie, word dit gekanselleer. Dis so eenvoudig.”

Hy knik.

“Jy het my voorstelle geïmplementeer?”

“So ver as wat ek kon.”

“Kon is dood; kán regeer nou.” Sy gaan sit en raak aan die rekenaar. Dan gefrustreerd: “Wat is dit met hierdie ding?”

“Wag, jy moet …” Hy druk aan een van die sleutels sodat die rekenaar se skerm aangaan.

“Jy moet ’n Apple kry, for fuck’s sake.” Sy waai ’n muggie met soveel aggressie weg dat sy hom byna raak klap. “Laat ons sien.”

Astrid begin lees. Maar na ’n paar sekondes wikkel haar vingers ergerlik oor die toetsbord.

Sy peuter aan sy opskrifte, verander aan die formaat, en druk dan Enter met soveel geweld dat hy vrees die toetsbord gaan breek.

Die rekenaarmerker beweeg af. Sy maak nie ’n geluid nie. Sy is nou aan die onderkant van die bladsy. Nog ’n diep sug.

Wanneer sy na die volgende bladsy toe beweeg, kan Gustaf agterkom dat sy dit met minder entoesiasme maar meer aggressie doen.

Af, af. Die merker beweeg af.

Stilte. Soos voor die oordeelsdag. Voor ’n leërskare op die digte wolke oor die horison aangesweef kom.

“Gustaf.”

“Ja, Astrid.”

Iets val buite in die rivier.

“Hoe het ek jou geleer?”

“Ekskuus?”

Haar stem sak ’n oktaaf laer soos iemand wat ’n vloermoer probeer inhou. “Lees jou dialoog hardop.” Sy wag. “Doen jy dit?”

Hy antwoord nie.

“Doen jy dit?” vra sy harder.

“Nee.”

Sy lig haar hande van die toetsbord en vorm ’n kom daarom. “Hierdie, ek bedoel hierdie.” Sy leun vorentoe, kan nie mooi sien nie. “Hierdie kak.” Sy beduie en lees dan van die skerm af. “Hallo, Lourens. Hoe gaan dit met jou? Jy lyk vies. Wat het met jou gebeur?” Astrid sak terug, druk haar hand teen haar voorkop. “Wie de fok praat so?”

“Ek weet nie.” Die ergerlikheid begin in hom opstoot. “Gewone mense?”

“My bliksem, Gustaf!” Sy slaan so hard met haar hand op die tafel dat die lampie amper afval. Sy draai na hom toe, haar gesig rooi, haar bors dein op en neer, want sy is kortasem. “Hallo, Gustaf. Hoe gaan dit met jou? Jy lyk vies. Wat het met jou gebeur?”

Hy kyk verbaas na haar.

“Toe! Antwoord my. Antwoord, antwoord, antwoord!”

“Ek is kwaad,” herhaal hy die antwoord wat hy in die draaiboek geskryf het.

“My goeie bliksem!” Elke swetswoord tref hom soos ’n sweepslag. “Ons sién tog wat gebeur. Ons sién die man is vies. Hy wil vir Frans aanrand. Hy kan die man nie voor sy oë verdra nie. Ons hét reeds daardie inligting!” Sy beklemtoon van haar woorde met die krag van ’n voorhamer.

Dan laat sy haar kop sak. “Hoe het ek jou geleer? Wat sê al die boeke wat jy gelees het? Wat is die eerste reël van draaiboek skryf?”

Gustaf raak verbouereerd, is terug in die bioskoop waar die gordyne stadig oopskuif, raak beklem sodat sy asem ál minder word en hy sy stem nie kan beheer nie. “Die … eerste reël van draaiboek skryf … is …” Hy sluk. “Jy skryf in prentjies. Die gehoor sien wat gebeur – jy hoef dit nie vir hulle uit te stippel nie!”

“Presies! Uiteindelik!”

Hy wil haar wys op die vorige drie rolprente wat Judge Films gemaak het waarin daardie reël beslis nie toegepas is nie, maar sal dit nie waag nie.

Haar vingers wikkel oor die sleutels en laat spat die woorde soos bloedvlekke oor die skerm. Delete, Delete, Delete, Cut.

FRANS

Die geld is nie in my rekening nie.

LOURENS

Ek het nog drie weke nodig.

FRANS

My geduld is op.

LOURENS

Ek belowe ek sal …

FRANS

Nou gaan ek tot aksie oor.

Elisma sit terug. “Finish en klaar, Gustaf. ’n Halwe bladsy met die krag van ’n stootskraper. Maar jou toneel …” en sy gee ’n middelvinger na die skerm, “gaan aan …” en die merker beweeg af oor sy dialoog, “en aan …” en die merker spring nog verder, “en donnerswil aan tot by die oordeelsdag!” Nog swetswoorde volg.

Sy vlieg op en hy keer die stoel net betyds voor dit die vloer tref. “Kom ons gaan sit op die dek. Ek versmoor van die hitte!”

“Ons kan net nie …” Hy wil haar waarsku teen die spa se dek waar van die planke vrot is, maar sy loop na die hoofdek.

Astrid leun oor die reling, steek ’n sigaret aan, swets as die ligte windjie die vlammetjie doodwaai. Hy voel soos ’n hondjie wat ’n kwaai baas se guns probeer wen, wil die aansteker neem, maar sy waai sy hand weg. Uiteindelik spring die vlammetjie aan en steek sy die sigaret aan.

Sy trek die rook in, hou dit vir ’n oomblik in haar longe en blaas dit dan stadig uit. Nou eers besef hy dat dit ’n daggazol is. Sy kyk op. ’n Visarend vlieg verby. ’n Seekoei bulk op die eiland, maar sy sien dit nie raak nie.

Met haar rug na hom gekeer, tref die woorde hom soos rottanghoue van ’n onderwyser. “Jy moet my baie mooi verstaan, Gustaf. Ek gaan jou nou onder hande neem en ons gaan werk dat die spoeg spat en jy daarin verdrink. Maar as jy nie hierdie draaiboek kan baasraak nie, is die produksie van die tafel af en kan ek niks meer met Lothar uitrig nie. Maak nie saak hoe graag ons die storie wil verfilm nie. Dit is kapoet!”

Al sy bravade is weg. Hy waag nie om teë te praat nie.

“Sit!” Sy draai om. “Ons begin by dialoog. Praat.”

“Wat bedoel jy, praat?”

Haar stem sak tot ’n monotoon. Sag, ingehoue, gekontroleerd. “Ons gaan improviseer. Die volgende gesprek uitpraat. Die een tussen Lourens en sy vrou. Jy is Lourens; ek is sy vrou. Begin!”

Hy is te verward om te praat.

“Jy sien! Daardie gesprek moet reeds in jou kop wees. Hulle het pas ’n kind verloor. Hoe begin die gesprek? Wat is die kruks van die toneel?”

Hy hakkel, soek na woorde. “Ek was so lief vir Emily. Nou is sy nie meer daar nie en …”

“Te veel woorde. Weer.”

“Uhm …” Hy soek in sy kop na dialoog. “Emily is dood … en …”

“Ons weet Emily is dood. Práát!”

Sy mond raak droog. “Wat gaan ons doen noudat Emily …”

“Moenie die toneel met ’n vraag begin nie. Praat!”

Sy tong lek oor sy lippe. “Ek is baie hartseer omdat …”

“Ons sien hy is hartseer, ons weet hy huil. Praat.”

Hy begin bewe, alle bloed vloei uit sy kop. “Ek probeer om Emily se dood te verwerk, want …”

“Jy herhaal inligting wat ons reeds het. Praat!”

“Emily was my hele lewe, ek weet nie hoe ek sonder …”

Astrid klap met haar vingers. “Te veel woorde. Praat.”

“Haar dood het my …”

“Moenie die woord ‘dood’ gebruik nie. Praat.”

“Ek onthou nog toe Emily my …”

“Moenie onthou nie. Jy blok die aksie. Beweeg die toneel vorentoe. Praat.”

Die woorde droog op in sy mond.

“Uhm. Uhm …”

“‘Uhm’ is nie ’n woord nie. Praat.”

Die emosie begin in sy keel opwel. Hy sluk daarteen.

“Ek het jou lief, maar Emily se dood …”

“Jy praat te veel, Gustaf. Praat.”

“Maar jy sê dan ek moet praat, ek …”

Sy maak haar oë toe en vee oor haar voorkop, trek weer aan die zol. “Dis ’n draaiboek, Gustaf, nie ’n roman nie. Praat in prentjies. Hoeveel keer moet ek dit nog vir jou sê. Praat in verdomde prentjies, jou idioot!”

Hy wil haar aanvat oor haar belediging, maar haar hande beduie. “Kom, kom, kom. Ek wil nie stront hoor nie. Hoe begin die toneel? Hoe begin die donnerse fokken toneel, Gustaf?”

Hy begin huil. Die trane loop oor sy wange. Hy keer die ruk in sy skouers, maar die trane loop. Hy skud sy kop, kan nie ’n woord uitkry nie.

Astrid storm op hom af, kniel by hom, kry hom aan sy skouers beet, blaas die daggarook in sy gesig. “Daar het jy dit. Jou protagonis huil, Gustaf. Hy huil! Dit is hoe jy jou toneel begin. Met ’n fokken huil!”

Hy knik dankbaar, wil opstaan, maar sy stamp hom terug in sy stoel: “Gaan aan! Hy huil. Dis die begin van die toneel. Maar nie boe-hoe-hoe soos ’n blerrie sissie nie, want dis nie Lourens nie. Lourens is ’n sterk, gedrewe, macho man. Hy keer die huil. Hou op met grens, Gustaf!”

Hy vee die trane af, maar sy klap sy hand weg. “Hy byt die huil terug. Dis hoe jy jou toneel begin. Hy veg teen die huil!” Haar hande skets ’n denkbeeldige toneel. “Waar is hy?”

Sy gedagtes is ’n warboel. “In hulle kamer.”

“Hoekom, for heaven’s sake, sal ons al die moeite en koste aangaan om Bosveld toe te kom en jou tonele speel in ’n huis af wat ons net sowel in Melville kan verfilm!” Sy trek aan haar zol, blaas die rook uit en sê sag: “Waarheen gaan Lourens? Sodat die kyker kan sién hy is hartseer. Sodat een skoot sê wat jy in ’n bladsy se bliksemse oortollige dialoog sê? Dink, Gustaf, dink. Hou op tjank. Dink, verdomp, dink, dink, dink!”

Sy praat nou so hard dat voëls uit die bome opvlieg. Sy stamp met haar duim teen sy kop. “Jy het mos ’n goeie storie. Een van die bestes, een van die mees oorspronklikes ooit! Moenie die storie verder verkrag nie! Dink!”

Hy laat sy kop sak, kyk na die enkele blare op die dek, hoor die rivier, dink aan die vrot planke op die ander dek, hoor ’n seekoei. “Hy sit by Emily se grafsteen.”

“En! En! En!”

“Hy lees die grafskrif.”

“Verder, verder! Dink, dink, dink!”

“Sy vingers streel oor die grafskrif.”

“Te melodramaties! Jy skryf nie ’n sepie nie. Aksie!”

“Hy … hy staan net en kyk.”

“Waarna kyk hy?”

“Die grafsteen!”

“Te rose-en-laventel! Dink, Gustaf, dink!”

“Hy kyk … hy kyk …” Hy sluk teen die woede en vrees en trane en frustrasie wat in hom opstoot. “Hy …”

“Toe. Die kopiereg vir die storie is by jou! As jy wil hê ék moet liewer die draaiboek skryf, begin ek nou!”

“Nee!” Die krag is skielik terug. “Ek skryf die draaiboek, niemand anders nie!”

“Dis die flippen probleem, Gustaf. Die kopiereg van die storie lê by jou. Ons kan dit vir niemand anders gee om ordentlik te skryf soos dit moet wees nie. Nie tensy jy die storie per kontrak aan ons gee nie.” Haar stem raak sagter. “Maak dit makliker vir jouself. Maak dit makliker vir ons. Mandie is nie meer in die prentjie nie. Ek het Lothar oortuig dat ek die draaiboek kan oorneem. Jy moet net die storie aan my verkoop. Aan ons verkoop dat dit wettig is volgens kontrak.” Sy streel saggies oor sy wang. “Ons kan dit selfs saam skryf. Maar ék doen die meeste skryfwerk.” Sy klap hom saggies teen die wang. “Wat sê jy?”

Die woorde kom sag, donker, maar sterk uit hom. Hy staan op. Sy kuite bewe, hy voel effens duiselig, maar hy kry die woorde uit. “Ek verkoop nie die regte aan julle nie. Ek skryf die draaiboek. En al moet ek skryf tot my vingers bloei, maar ek en net ek skryf daardie draaiboek.”

Sy kyk lank na hom. Dit laat hom dink aan ’n spinnekop wat met al haar miljuisende oë na ’n slagoffer kyk voordat sy hom met haar gif verlam en dan verorber. Sy trek weer aan die zol, blaas die lug uit en gooi dit in die rivier.

“Ek is oor vyf dae terug. Dan moet jy minstens by bladsy 20 trek as ons die skedule wil maak. En as daar nie ontwikkeling was nie …” en sy boots aanhalingstekens om die volgende twee woorde na, “volle progressie”, en haar hande sak, “kanselleer ons Adrenalien. Jy het vyf dae tyd. En nou!”

Sy stap by die Lodge in. Oomblikke later begin sy die draaiboek verder oorskryf. En daar is niks wat hy daaraan kan doen nie.

’n Uur later verdwyn haar motor sonder dat sy hom groet.

Die seekoei is nie meer op die eiland nie. Net die visarend sit nog op ’n wildevy se uitstrek-takke.

En hy roep na sy maat.