Gustaf slaap daardie aand glad nie.
Toe hy uiteindelik in die middel van die nag wil begin wegdommel met oogballe wat soos hardgekookte eiers voel, word hy skielik wakker van ’n geskud. Sy eerste gewaarwording is dat dit die polisie is wat hom kom arresteer op aanklag van verkragting en dat hulle aan die Lodge se deure ruk. Maar toe hy by die venster uitkyk, sien hy in die maanlig hoe die vier seekoeie van tevore met die sloot afskommel na die veld hier agter.
Na ’n ruk verdwyn hulle.
Uit. Hy moet uit hierdie Lodge kom. Hy moet gaan stap, al is dit in die nag en al is dit hoe gevaarlik.
Hy moet vars lug kry!
Astrid Beukman se plan was briljant – om hom al die vuilwerk te laat doen, die draaiboek se konstruksie uit te werk en die tonele in die regte volgorde te plaas sodat sy die verhaal bloot kon oorskryf.
“Boontjie kry sy loontjie,” sê hy vir homself. “En jy het weer misluk. Jy was te sleg om te keer. Jou patetiese verskoning vir ’n mens.”
Adrenalien: Die Waarheid sal ’n onvoltooide draaiboek bly. Die idees, gebeure, kinkels, geheime, alles. Net Elisma kan daarmee help. Die legkaart inmekaarpas. Die konstruksie uitwerk.
Nou gaan hy tot aksie oor. Gaan hy alles beëindig.
Nee, bliksem. Uit! Uit in die natuur in!
Hy gryp ’n mandjie in die kombuis, asook ’n flits, en stap uit.
Nou laat hy homself eers toe om na al die naggeluide te luister. Hoor hy hoe baie bosklanke daar is. In sy roman het hy dit as ’n bosveldsimfonie beskryf.
Eers die verskillende soorte paddas – amfibiese kreature wat elk sy unieke stem wil laat hoor en nie toelaat dat enigiets daardie roep na ’n maat verdring nie. Dan die dreunsang van die rivier, waar die eentonigheid verbreek word deur ’n stomp wat teen ’n rots klap of ’n ekstra groot brander wat oor ’n rots spoel.
Dan die krieke wat iewers in die koor probeer noot vang, die seekoeie wat basklanke uitkreun, die pienggeluide van die vlermuise wat soos die driehoekies klink wat hy in die skoolorkes gespeel het. En veraf die hô-hô-hô van bobbejane. Ook die verwarde sonbesies wat nie hul gesanik kan volhou nie, asof hulle moeg raak om hul vlerkies teen mekaar te vryf.
Dalk raak daardie vlerkies net so seer soos sy ooglede.
Ook uile. As hy baie mooi luister, selfs ’n verdwaalde jakkals wat tot die koor wil toetree, maar heeltemal te vals sing – die note lank en uitgerek, dralend deur die bos.
Teen hierdie agtergrond beplan hy nou ’n moord.
Gustaf loop al met die voetpaadjie langs deur die seekoeie se sloot, af met die wal tot teen die rivier waar die giftige sampioene groei.
Hy skyn die flitslig op hulle. Die spierwit huide troon soos skedels bokant die grond uit: spierwit kopbene wat uit ’n graf steek.
Hy gaan dit doen. Hy. Kan. Dit. Doen.
Eers die voorste twee sampioene uitlig. Die huide is sag en sensueel teen sy vingers.
Hy bekyk hulle van voor en agter, ruik daaraan, sien die verraderlike skoonheid, vee hulle teen sy wang soos ’n minnares se hand wat oor sy gesig streel, plaas sy lippe daarteen, verbeel hom hy soen Elisma, maar hy byt nie in die vlees nie.
Nog nie. Hy gooi die gifsampioene in die mandjie.
Wanneer daar genoeg is, stap hy terug na die Lodge toe. Hy weet nou presies wat om te doen.
Uiteindelik gaan die bleeksiel tot aksie oor.
Plek-plek weifel hy, hoor hy bewegings in die bos, wag hy vir die bobbejaan om hom te gryp, luister hy of hy die dondervoete van die seekoeie hoor terugkom.
Niks. Die natuur verlos hom nie van sy nuttelose, troostelose lewe nie. Hy sal genoeg moed aan die dag moet lê.
In die kombuis kerf hy die sampioene op. Klik-klik-klik. Hoe dikwels het hy sy ma nie hierdie kerfgeluide hoor maak nie. En dit bring ’n vreemde soort gerusstelling. Ook heimwee.
Kerf-kerf-kerf. Oppas vir sy duim. Versigtig. Hy moet ’n mooi lyk uitmaak.
Hy hou soms ’n stukkie sampioen teen sy mond, voel hoe dit is om mag oor lewe en dood te hê. Besef dat hierdie die enigste manier is om te voel hoe dit is om te moor.
Om homself om die lewe te bring. Sy dood behoort die voorblad te haal. Die beste reklame wat sy storie ooit kan kry. Soos met Edgar Allan Poe, sal niemand verstaan presies wat gebeur het of hoekom nie. Hulle sal net op sy lyk afkom. Ongeskonde. Miskien net met skuim om die mond.
Kerf-kerf-kerf en dan in die pan. Maar hy skakel nog nie die stoofplaat aan nie. Is hy bang? Begewe sy moed hom?
Elisma. Hy moet Elisma bel. ’n Sprankie hoop in sy hart.
Bewerig, onseker, hoopvol. Elisma kan help. Hy kan nie skryf nie, hy kan nie slaap nie, hy kan nie leef sonder Elisma nie.
Dit is sy laaste kans. Sy laaste kans om te lewe.
Hy stap na die telefoon toe. “Werk. Asseblief, jy moet werk!” sê hy saggies vir homself.
Sy hand rus op die gehoorbuis, hy is te bang om dit op te tel. Toe doen hy dit.
Krrrrrrr, sê die lyn. ’n Gedeelte van die spanning vloei uit sy liggaam wanneer hy Elisma se nommer skakel. Dit lui aan die ander kant.
“Hallo, dis Elisma.”
Hy moet kalm probeer klink. “Elis …” Stilte. “Hallo, Elis. Is jy daar?”
“Hallo, Gustaf.” Nie Gustawus of Gus soos sy hom in teer oomblikke genoem het nie, maar Gustaf, asof sy met ’n student in een van haar klasse praat.
“Astrid het my draaiboek op ’n memory stick afgelaai. Sy gaan dit oorskryf.”
“Dalk is dit beter so. Jy is nie ’n skrywer nie en beslis nie ’n draaiboekskrywer nie.” Koud, klinies.
“Maar ek het ’n baie beter storie as daardie een, Elis.”
“Wat wie uitgedink het?”
“Ek.”
’n Effense laggie aan die ander kant.
“Ek het jou lief,” sê hy skielik.
Stilte. “Wat kan ek vir jou doen, Gustaf?”
Hy haal ’n paar keer asem en probeer die woorde uitkry sonder om te hakkel. “Noudat sy die draaiboek het, die een waaraan ek in elk geval nie meer glo nie, het ek jou nodig om my te help om sin te maak uit ’n nuwe storie. Ek word mal, Elis!”
“Ag, Gustaf. Regtig!” Irritasie. Haar donker stem. Hard.
“Ek noem die draaiboek Adrenalien: Die Waarheid.”
Sy lag nou. “Ja, en ons land is misdaadvry.”
Hy antwoord nie. Maar dan: “Het jy al vir iemand die waarheid vertel?”
Sy lag weer. “Ek is te skaam.”
“Hier gebeur dinge met my.”
“Gewete, Gustaf, is die grootste hel wat daar is. Dit is erger as enige foltering wat onse goeie vriend Edgar kon uitdink.”
“Ek sien mense. Ek hoor dinge. Hier is goeters rondom my.”
“Gewete manifesteer. Dit is hoe die waarheid werk.”
“Elisma.”
“Ek het niks verder vir jou te sê nie. Ek moes nie eers jou eerste oproep nou die dag gevat het nie. Al wat oorbly, is om alles te erken. Dan, en net dan, sal jy bevry word.”
“Maar help my om dit te doen!”
“Ek is jammer, Gustaf. Ek het jou nie meer lief nie. En regtig, ek gee nie om wat jy doen nie. Ek kan nie langer met jou of jou leuens saamleef nie.”
Hy blaas sy asem uit. Dan: “Die waarheid is in ’n koevert in Die Bosveld Spa tussen Hoedspruit en Mica.”
“O, is dit waar jy is?”
“Jou naam is daarop.”
“Is die waarheid in die koevert deel van jou nuwe plot?”
“Dis die begin daarvan. Dis die waarheid in my eie handskrif sonder om dit te dramatiseer.”
“Gustaf. Jy is al so besmet van leuens, jy weet nie meer wat die waarheid is nie.”
“Elisma …”
’n Sug. “Hoekom nou eers?”
Omdat ek vanaand gaan moord pleeg, wil hy sê. Maar hy sê dit nie hardop nie. Omdat ek gehoop het hierdie oproep gaan my lewe red. Maar soos gewoonlik het ek verloor.
Sy bly so lank stil dat hy dink sy het doodgedruk.
“Die spa is vyftien kilometer van Hoedspruit af. Die bordjie na die Lodge toe is duidelik. Dis naby die Old Trading Outpost Restaurant. Indien jy nie môreoggend tienuur van my hoor nie, kom asseblief hierheen. Alles sal gereed wees vir jou.” Hy sluk. Die sonbesies wat vir die maan geskree het, hou uiteindelik op met skril. “Hiermee bewys ek hoe lief ek jou het, Elisma. Ek gee die waarheid in my eie handskrif vir jou.”
Die verbinding word verbreek.
Hy sit lank stil voordat hy die gehoorbuis neersit.
Nou neem hy ’n stuk papier en begin met die hand skryf. En terwyl hy skryf, weet hy sy Adrenalien: Die Waarheid-draaiboek sal in elk geval nooit verfilm word soos hy dit geskryf het nie.
Hy steek ’n kers aan. Geen elektriese lig meer by ’n elektriese masjien met sy elektriese storie nie. Net ’n kers soos dalk gebrand het as Poe dalk geskryf het in ’n handskrif wat soos dié lyk.
Gustaf skryf in die eerstepersoonsvorm, want hy kan die storie nie meer met iemand anders laat gebeur nie. Dit is sý storie. En hy vertel dit soos dit werklik twee jaar gelede met hom gebeur het.
Skryf tot by die laaste woord. Letter vir bloedige letter vir brutale sin. Die waarheid. Uiteindelik bevryding.
Dan bars die storm in alle erns los. Dit reën asof ’n ou man agter die bult wyn drink terwyl hy ’n ark bou.
Gustaf luister na die reën op die dak. Presies nes hy geskryf het, reën dit nou onophoudelik tot die wolke so leeg getap gaan wees soos sy verbeelding.
Vanaand verlang hy na die grieselgeeste. Betrap hy hom dat hy sit en wag vir die geskraap van borde, die aanskakel van die borrelbad, die sauna se deur wat skielik toegaan en die boggelrug wat voor die venster met sy sakkie sandjies staan.
Hy stap later uit, ruik die storm, asem die vars reënlug in, luister na die siedende rivier en die paddas wat nie meer na die reën roep nie, maar dankie sê.
Moord. Uiteindelik gaan hy moor. Net jammer hy gaan nie bly leef om dit te geniet nie.
Kan ’n mens jouself vermoor? Dit is tog anders as selfdood, is dit nie? In hierdie geval werklik self-moord.
Donderslae, harde blitse in die ooste. “Dit is ’n donker en stormagtige nag.” Hy lag. Dit is hoe hy Adrenalien: Die Waarheid moes begin het.
Maar dit was nie ’n donker en stormagtige nag toe alles begin het nie. Dit was ’n pragtige dag in Pretoria. Sonder blitse, sonder spoke, sonder grieselgeeste, sonder donderslae. Net ’n doodgewone dag.
Toe neem hy nog ’n stuk papier en skryf:
My liefste Elisma wat ek liewer as myself het –
Net om te bevestig dat ek Astrid nie probeer verkrag het nie. Dat sy daardie storie opgemaak het en gedreig het om leuens oor my te versprei indien ek nie haar weergawe van Adrenalien onder my eie naam geskryf het nie.
Hiermee die eerste paar bladsye van my eie weergawe op ’n memory stick.
Ek het so gewens ek kon iets doen om jou te motiveer om terug te kom na my toe. Nou bly net die dood oor.
Met liefde, Elisma sonder wie ek nie kan skryf nie
Jou Gustaf Prinsloo
Hy plaas die brief in ’n koevert en plak dit toe. Hy skryf ELISMA daarop.
Hy neem die Edgar-pop en loop terug kombuis toe. Hy sit sy vriend op die tafel neer en skakel die stoof aan.
“Wens jy kon saam eet, Edgar my pel.”
Nou braai hy die sampioene in botter en knoffel, ruik die geur, roer die verraderlike sampioene om en om, lig dit met ’n spaan, keer dit om, ruik weer daaraan, kry lus daarvoor.
Sy laaste Avondmaal. Sy gewete-sampioene. Waarheidsampioene. Wat ’n oorspronklike manier om self-moord te pleeg.
Hy loop uit op die veilige dek met die sampioene in ’n bord. Hoe lekker is die vars lug nie.
Gustaf gaan sit op ’n dekstoel en neem sy vurk, kyk na die verraderlike sampioene. Steek ’n vurk daarin en bring een van hulle na sy mond toe.
Die mag oor lewe en dood. Moord. Nou weet hy hoe dit is om moord te pleeg. Dit is makliker as wat hy verwag het.
’n Seekoei bulk iewers. Dalk het iets haar gesteur.
Nog paddas val by die koor in. Hier en daar ook ’n kriek.
Die giftige sampioene lê vol en ryp op sy bord.
Skielik die figuur op die dek. “Wat …?”
Twee blitse later sien hy hom weer. Die man met die hoed op die houtdek. Hy skrik so groot die bord val uit sy hand. Die sampioene rol oor die dek en verdwyn in die rivier.
“Fo-o-o-o-k!!” skreeu hy. Net die rivier antwoord.
“Oom Baltus!” Die vrees klem sy keel toe, maar hy is terselfdertyd woedend. “Wat … de hel …?”
En in die gietende reën, teen die agtergrond van die watermassa van die Olifantsrivier wat nou met mening afkom, stap die man met die hoed reguit op hom af.
“Moet ek die ander planke regmaak op die vrot dek?” vra hy teen die stormgeweld.
Gustaf sluk, draai terug, verstik byna van vrees. Duidelik oorkant hom, in die deur wat na die spa toe lei: drie mense wat na hom staan en kyk. Elkeen het ’n bord in die hand. En hulle eet.
“Nee. Moenie die dekplanke regmaak nie.”
“Onthou hulle,” sê oom Baltus.
Gustaf draai om, kyk weer na die glasdeure. Maar toe hy terugdraai, is Baltus is nie meer daar nie.
Die sampioene. Die verdomde sampioene het weggespoel! Dan moet hy maar weer gaan pluk, dit nog ’n keer braai, sy moord herbeplan. Die adrenalien vloei nou sterk genoeg om hom gas te gee om dit weer te pleeg.
Hy ruk die Lodge se deur oop en strompel deur die ligte reën wat nog drup-drup-drup. Orals om hom hoor hy watergeweld. Dié slag neem hy nie die flits saam nie, want hy weet tog waar die sampioene is.
Strompel-val tot by die plek. Maar waar daar tevore ’n klomp wit duiwelsbrood gestaan het, is nou slegs ’n watermassa. Die rivier het opnuut afgekom en die grond verspoel.
Daar het niks van die sampioene oorgebly nie.
Toe hy terugkyk, staan Baltus Buitendag onder die huilboerboon. Hy tik sy hoed, plaas dit op sy kop. En stap die donkerte in.
Agter hom, by die venster, staan drie mense met beenderige gesigte na hom en kyk.
Maar na die volgende blits is hulle nie meer daar nie.
Bliksem. Hy kon nie eers die volmaakte moord pleeg nie.
Hy stap vreesloos terug na die huis, gaan haal Edgar in die kombuis, gaan sit agter sy lessenaar en neem sy belydenisnotas. En met net die Edgar-pop as geselskap, lees hy dit weer.