22

Adrenalien: Die Waarheid

Ek bely hiermee dat die volgende gegewe die waarheid is – die volle waarheid en dat daar geen verdigsel of versagting van die waarheid is nie, so help my God.

Dit word as deel van my testament ingesluit en mag slegs openbaar gemaak word sodra ek veras is. My as moet tussen die rose agter die Spa gestrooi word.

’n Mens kan net so lank met jou gewete saamleef.

Ek begin by dertig maande voor my verblyf in die Bosveld Spa.

Ek het uitgewers genader om vertalings van Edgar Allan Poe se werk in Afrikaans te publiseer. Niemand wou byt nie. Ek het enkele verhale en idees, gegrond op sy werk, voorgelê wat in romans of selfs rolprente omskep kon word, maar niemand het belanggestel nie. Ek het televisiestasies genader met verwerkings van Poe se verhale as ’n TV-reeks in Afrikaans. Ek het nie eers ’n antwoord gekry nie.

Ek gaan sit by my geliefkoosde boekwinkel in Pretoria, kyk hoe die mense in- en uitstap. Kyk wat hulle koop, wat hulle lees. Probeer ’n patroon sien. Vra selfs vir iemand wat uit Graffiti gestap kom: “Waarna soek jy wanneer jy ’n boek lees?”

Sy kyk my aan asof ek vra of ek ’n maansteen aan haar vinger kan plaas om aan haar verloof te raak. “Net ’n goeie storie, meneer.”

“Watter genre?” probeer ek weer.

“Ek gee nie om wat dit is nie. Ek soek net ’n goeie storie.”

“Maar wat maak ’n goeie storie?” vra ek.

“Jy sal weet as jy dit lees.”

Asof dit my nou help.

Op daardie spesifieke dag blaai ek oudergewoonte deur my Edgar Allan Poe-bundel – een van die jongstes wat as ’n soveelste herdruk verskyn het met mooi illustrasies. Kan nie genoeg kry van sy makabere verhale nie.

Ek lees tans The Poe Shadow van Matthew Pearl, waarin Poe se eie speurders sy dood probeer oplos. Hoe hy in ’n sloot beland het. Wat agter sy raaiselagtige dood skuil. Wie dalk daarvoor verantwoordelik was.

Ai. Daar gaan daardie idee. Ek het vir ’n ruk daarmee gespeel, ’n fiktiewe verklaring vir sy dood, maar toe kom hierdie boek uit en blaas dit na die maan.

Ek trek al by my derde glas wyn. Dis goedkoper as whiskey, my gunsteling.

Toe sien ek die meisie met die rooi baret oorkant my. Sy sit met haar rug na my toe en ek sien nie haar gesig nie. Tog vang sy my oog.

Maar wat eintlik interessant is, is die Klaas Vakie wat agter op haar T-hemp geteken is. Hy lyk nogal soos ek my die karaktertjie voorgestel het. Skewe mussie op die kop (amper soos haar rooi mussie!), ’n sak sand op sy boggelruggie en ogies wat na my gluur omdat ek waag om na haar rug te kyk.

Ek oorweeg dit om van tafel te verwissel en oorkant haar te gaan sit, maar iemand anders neem by dié einste oop tafel plaas.

Die meisie met die rooi baret sit soos ’n besetene en skryf. Sy blaai haastig om in ’n notaboek en skryf daarin asof sy gees gevat het.

“Wikkel, meisie!” sê ek vir niemand in die besonder nie.

Sy neem ’n sluk wyn en skryf dan weer besete. Later dink sy weer.

Nou ja toe. Wat sy ook al skryf, moet baie belangrik wees. Of persoonlik.

Van waar ek sit, kan ek uitmaak dat daardie notaboek al byna volgeskryf is. Maar sy skryf en skryf en skryf puntsgewys, want kort-kort maak sy wat lyk na ’n syfer, sit dramaties ’n punt daaragter en onderstreep die syfer.

Seker ’n joernalis wat ’n onderhoud voorberei. Of iemand wat navorsing doen, dis moeilik om te sê. Langs die notaboek lê ander dokumente. Papiere. En die rekening.

Sy ledig haar glas en maak haar notaboek toe. Dan kyk sy na die rekening, skuif aan haar rooi baret, beduie vir die kelnerin dat sy per kaart gaan betaal en begin haar dokumente terugpak in haar tassie met die los flap wat langs haar stoel staan.

Een na die ander druk sy die dokumente daarin sonder om te kyk wat sy doen.

My selfoon lui.

“Hallo?”

“Meneer Prinsloo?” Aan die stemtoon kan ek hoor dit is iemand belangriks.

“Dis korrek, ja.”

“Anton Theron van Alpha Uitgewers. Hoe gaan dit?”

“Nee, lekker, dankie, lekker.”

Ek buk vooroor en druk my ander oor toe. “Wat dink u van my voorstel, meneer Theron?”

“Man, ja. Uhm.” O hel, hier kom dit. Hy stel nie belang nie. Hy sê dan ook: “Ons het lank hieroor gepraat, maar ons glo nie dat Edgar Allan Poe in Afrikaans sal werk nie.” Ek sug en vee die sweet van my voorkop af. Ek sien uit die hoek van my oog hoe die meisie wegstap. Onderaan die Klaas Vakie agter op haar rug staan in groot letters geskryf: Mister Sandman!

Dêmmit. Voor ek genoeg moed bymekaar kon skraap om te sien hoe sy lyk of om met haar kennis te maak, is sy vort.

“Maar!” kom die stem oor die lyn. Ek laat my kop weer sak, probeer hoor wat hy sê: “Máár! Ons soek na ’n riller in Afrikaans. ’n Oorspronklike riller wat mense oop-oë nagmerries gaan gee. Indien jy so iets in een van jou laaie het, laat weet my? Maar dit moet ’n goeie storie wees. Nie net gogga-maak-vir-Pietie-bang nie.”

Daar is dit weer. ’n Goeie storie! Verdomp! Ek kan nie stories uitdink nie. Ek kry een idee en dan loop ek daarmee, maar dan is die storie binne die eerste vyftig bladsye op.

Ek soek na ’n storie wat vir minstens driehonderd bladsye kan hou.

Ek lig my boude van die stoel af en kyk of ek die meisie met die rooi hoedjie en die Klaas Vakie op haar rug nog iewers sien, maar die menigte het haar ingesluk.

“Dankie, meneer Theron. Ek belowe, wanneer ek aan iets dink, sal jy die eerste wees om te weet.”

Ek ledig my glas, dink aan die bekende liedjie “Onder in my whiskeyglas”, en dink aan hoeveel stories al onder in whiskeyglase soos myne by die huis gelê het. Ordentlike stories wat nie op donker, stormagtige nagte begin en opdroog ná die eerste weerligstraal nie.

Cool ouens met wit oorfoontjies in hul ore slenter verby in broeke wat soos Marie Antoinette-rokke aan hulle hang. Met lywe wat in die gim gebou is, maar die spiere weggesteek onder lappe wat te groot is vir hulle. Hulle lyk na rampokkers, die sonbrille laag oor die neuse afgeskuif, die bofbalkepse agterstevoor met kettings en lappe wat by sakke uitpeul. My oë volg twee van die seuns wat tussen die tafels deurstap en ek plaas my hand vinnig oor my beursie, net ingeval. ’n Mens weet nooit.

Die voorste seun stap verby die tafel waar die Klaas Vakie-meisie tevore gesit het en ek dink dat dit ook maar goed is dat sy al geloop het, anders was sy dalk haar sak kwyt wat langs haar voete teen ’n stoel se pote geleun het.

En toe sien ek dit.

Ek kan nie glo ek skryf hierdie woorde nie. Maar dit is al wat my bevryding gaan gee.

Uiteindelik die waarheid. Die waarheid wat erger by my spook as enige van die monsters wat my in die Lodge geterroriseer het. Of dalk het ek hulle, soos Edgar Allan Poe, opgetower om die duiwels te besweer en toe met hulle begin praat.

En toe sien ek dit. Ek moet daardie woorde herhaal, want dit is die kruks van hierdie saak.

Toe sien ek dit. My oë wat die laaities se losgatbroeke gevolg het, kom tot ruste op …

Wag. Was dit nie vir hulle nie, het ek nie eers weer in die rigting van die meisie se tafel gekyk nie. Het ek opgestaan en ’n honderdrandnoot vir die wyn gelos en my koers gekry.

Het ek maar.

Het Edgar Allan Poe maar nie in die sloot beland destyds nie.

Het ek nie as gevolg van daardie insident besluit om sy verhale te probeer vertaal en aan uitgewers voor te lê nie.

Het my oë maar nie die Marie Antoinette-broeke gevolg nie.

Maar het is verlede tyd. Verby. Vergaan. Te laat.

Het is verby.

Want langs die stoel se pote waar die rooibaret-meisie nou net gesit het, lê haar notaboek. En dit tref my soos daardie einste weerligstrale uit donker, stormagtige nagte, met verblindende helderheid, maar ook vrees: Sy het haar notaboekie in haar sak gedruk, maar te vlak gedruk, toe val dit langs die stoel. En sy het nooit besef dat sy dit verloor het nie.

Ek kyk rond, wonder of sy sal terugkom, oorweeg dit om in dieselfde rigting te hardloop as waarin sy verdwyn het. Maar ek weet nie eers hoe sy lyk nie! Tog sal ek haar aan haar Klaas Vakie-T-hemp herken. Mens kan dit nie mis nie.

Ek staan op en stap doodluiters na die tafel toe, buk, tel die notaboek op en kyk rond, maar niemand sien my nie. Almal is besig met gesprekke. Of hulle stuur boodskappe op selfone, of speel speletjies op hul iPads.

Hier en daar sit iemand en lees iets wat hulle seker by Graffiti gekoop het.

Haar notaboek in my hande.

Ek draai terug, kyk tussen die mense rond, maar juffrou Klaas Vakie is nêrens te sien nie.

Ek maak die notaboekie oop. Dalk is haar naam en selfoonnommer daar.

Maar daar is niks. Net ’n klomp notas. Punt 1, 2, 3, 4, ensovoorts.

Ek gaan sit op my balkonnetjie so groot soos tien skootrekenaars en kyk na die Pretoria-uitsig. Toe val my oog weer op die notaboek.

Uit skone verveling trek ek dit nader. Maak dit oop, dink aan die hande wat tevore aan die boekie gevat het en wonder hoe die sexy meisie van voor af lyk. Ruik daaraan, hou van die soet reuk, maak dit oop.

En begin lees.

Het ek maar nie begin lees nie. Het ek liewer gaan gim of na ’n kommin Afrikaanse komedie gaan kyk of my doodverveel voor die televisie.

Het! Het! Het!

Maar toe begin ek lees.

Die storie gaan oor ’n senuweelyer wat sy kind, Emily, aan die dood afgestaan het. Hierna het sy huwelik op die rotse beland en het hy by ’n beeldskone maar verraderlike meisie gaan troos soek.

Die storie is netjies, presies en puntsgewys uiteengesit.

Senuweelyer (naam: Albertus? Gerhardus? Wian?) ly aan sy senuwees. Gewete vreet hom op.

Probeer skryf om sy hartseer te verwerk. Niks help nie.

Soek adrenalien om sy verbeelding te prikkel.

Onthou kind se dood – gruwelik (naam: Emily?).

Loop hom vas teen sy emosielose vrou wat hom boelie.

Ek blaai om. Punt 6, punt 7, punt 8. Ek lees en lees en lees soos iemand wat ’n nuwe Edgar Allan Poe-rillerverhaal ontdek het.

Vir dertien bladsye het die meisie notas gemaak, dikwels met vraagtekens agterna. En staan daar iewers: Moontlike skrywers: Arno? Frieda? Charles? Ulrich?

Beteken dit …? Ek dink vinnig. Beteken dit dan dat sy nie self hierdie verhaal kan skryf nie, maar iemand soek om dit te skryf?

Ek blaai om. Op die rugkant van een van die bladsye staan geskryf: Pieter is die ideale skrywer. Moet vir Pieter probeer!

Ek lees verder.

Die storie laat my bloed stol, selfs al is dit net in opsommingsvorm en puntsgewys uiteengesit.

Ek lees dit weer, skink nog ’n whiskey (die laaste uit my huidige bottel), herlees dit tot ek dit uit my kop ken. En ek wonder.

Hierdie inligting kan nie op ’n rekenaar wees nie. Dit is met die hand geskryf. Die kans dat daar iewers ’n kopie hiervan is, is nul, want dit is nog in rowwe formaat – halwe woorde, storielyne wat doodgekrap is en herbedink is. Net gedagtes wat neergestip is. Sy is duidelik nog besig om die storie uit te dink. Enigiets kan nog gebeur. Die einde is nog nie uitgedink nie.

Maar die basis is daar.

Ek drink die whiskey skoon. My kop begin duisel.

“Vergeet van die donker en stormagtige nag! Hier is die ware Jakob!”

Ek bewe so dat ek nie behoorlik kan stilsit agter my rekenaar nie. Ek kyk na die soveelste blanko skerm wat my begluur. My vingers huiwer bokant die rekenaartoetse soos so dikwels in die verlede.

En skielik, vir die eerste keer dat ek agter ’n rekenaar sit, skiet die adrenalien deur my en begin ek skryf.

Ek skryf en skryf en skryf die hele nag deur met die storie langs my in die notaboek. Ek volg net die intrige puntsgewys. Verander soms aan die gebeure, gebruik ander name, maar skryf en skryf tot ek later in ’n sittende posisie aan die slaap raak.

Toe ek wakker word, bel ek die reklamemaatskappy waar ek werk en sê dat ek siek is.

Ek stort, staar uit oor die stad, gaan sit en skryf en skryf en skryf soos ’n besetene. Skryf die storie onbevange en ongedwonge met die notas wat my lei. Skryf soos ’n masjien, want nou vloei dit net uit my uit aan die hand van die notas. Hoef ek nie nog die storie uit te dink nie. Dit staan reeds daar!

Uiteindelik ’n goeie storie!

Skryf en skryf en skryf, dwarsdeur die naweek, eet wegneemkos, skryf en skryf en skryf tot my vingers blase vorm.

En toe, na drie weke, waarin ek noodgedwonge tussenin moes werk toe gaan, beweeg my merker terug na die titelbladsy. En sonder om twee keer te dink, skryf ek:

Adrenalien. ’n Roman deur Gustaf Prinsloo.

Toe die skakelbord my uiteindelik deursit na Anton Theron, sê ek: “Ek het vir jou die beste riller nog in Afrikaans geskryf. Ek noem dit Adrenalien. En ek bring dit eerste na jou toe, meneer Theron.”

“Wie praat?” vra hy.

Edgar Allan Poe, wil ek sê, maar ek byt die naam terug: “Gustaf. Gustaf Prinsloo. Kan ek jou nou kom sien?”