Die rolprentvervaardiger se kantoor is groot en luuks, nes sy rolprente en TV-reekse. Foto’s van hom en belangrike rolspelers in die TV- en filmbedryf hang aan die mure, asook van hom en mooi meisies wat al in sy rolprente gespeel het.
Aan die manier waarop hy oor sy welige baard vryf, kan Gustaf reeds agterkom hier is geen mededeelsaamheid nie. Ook geen aanvoeling vir kunssinnigheid of die rolprentkuns nie. Net vir geld. En die hartlikheid is veel valser as sy glimlag.
Hy lyk egter beter as ’n paar dae tevore toe hulle vlugtig in die donker bioskoop ontmoet het.
“Gustaf. My wêreld. Dat ons mekaar nou weer moet ontmoet, net onder beter omstandighede!” Terwyl hy vinnig op sy selfoon loer vir moontlike SMS’e. “Kom sit, man. Kom sit. Is jy ’n teepot of ’n koffiepot?” Gustaf wil lag, want hy het niemand al die bekende wat-drink-jy-vraag só hoor stel nie. “Of vlieg die Boeing al met oggendstond oor jou dak, soos met al die ander skrywers wat ek ken?” Hy gee dieselfde bulderende lag as Anton.
“Drie-komma-ses miljoen!” Lothar Gräbe beduie na sy jongste rolprent se plakkaat. “Sou nog meer gemaak het as dit net beter bemark was!”
“Wat ons by Adrenalien bring,” sny Gustaf soos ’n mes deur botter. “Ek verstaan jy wil dit graag verfilm.”
Die sywurm se draadjie trek geleidelik uit hom uit. Lothar is duidelik nie daaraan gewoond dat skrywers só met hom praat nie. Daar moet eers oor die gruwelikhede van die bedryf geskinder word. Wie se fliek nou weer misluk het, wie nou weer vir plagiaat gevang is en wie se draaiboek nou weer deur dertien mense herskryf is. Die bebaarde man se hand kom halfpad na sy selfoon toe tot stilstand asof iemand hom met ’n skokstok geprik het. Dan stuur Lothar die SMS.
“Lekker boek, man. Lekker, lekker,” forseer hy ’n glimlag toe hy opkyk.
“So, jy het dit gelees?” ’n Moedswillige klank in Gustaf se stem – skerper as wat hy dit bedoel het, maar hy is nie meer in die bui om speletjies te speel nie. Hy het niks meer oor om te verloor nie. En hy gaan nié hierdie, sy enigste triomf, inboet nie.
“Man, ja. Sulke … dele gelees!” Hy glimlag. “Al die beste dele, moet ek byvoeg! Jammer daar’s nie seks in nie, want seks verkoop. Maar daardie marteltoneel in die kelder. Magtag, Gustaf. Ek kan maar Gustaf sê, nè? Het my maagwerkings gegee! Boetie! Ek het my vrou se koue voete blou geskop, toe neuk sy my met die boek oor die kop! Ha-ha-ha!”
“En die gedeelte waar die skrywer op die plaas aankom, verpletter oor sy egskeiding?”
Weer die gretige SMS-vingers wat moontlik verslag doen oor die gesprek aan een van die ander vervaardigers, dalk Astrid. “Ek het vinnig daardeur gegaan, man. Tjoef-tjoef-tjoef, jy weet? Toe vang die toneel met die arend my, waar die meisie se oë uitgepik word.” Hy leun vorentoe en skud Gustaf se hand onverwags. “Bakgat stukkie daai, ou beesblaas! ‘Flippen hel, give that man a Bell’s!’ het ek vir my pelle gesê.” Hy gebruik sy duim en middelvinger om ’n denkbeeldige toneel te skep. “Sien dit in jou geestesoog. Die blou lug van Limpopo. Blou soos …” En hy sing: “Uit die blou van onse he-e-mel! Doer ver, duskant moerland, is ’n spikkeltjie, oukei? Eina-klein soos ’n lollipop-special se G-string se voering. Sny na!” Hy stamp sy vuis op die lessenaar. “Heldin wat hulpeloos vasgemaak is in …”
“Marina,” sê Gustaf. “Haar naam is Marina.”
“Dis reg, ja. Marina! Marina!” Asof hy die karakter se naam regtig onthou. “Daar lê die girl, indisposed! Die kamera beweeg, woep, woep! Jump cuts vir effek, nader, nader. Die son flits in die lens, iewers skreeu ’n visarend, die meisie se borste druk sweterig teen die T-hemp, en die arend duik, special effect green screen, tol-tol-tol af na haar verskrikte gesig. Haar mond is oopgesper in hierdie moerske gil, nè? Die snawel pik! Kakwaa! And cut!”
“Marina dra nie ’n T-hemp waardeur haar nipples wys nie.”
“Dis bysaak, pella. Alles in die fyn druk. We’ll fix it in post.” Lothar slaan sy hande teen mekaar. “Ons moet net oppas vir ’n niemand-onder-sestien-beperking! Dit sluit ’n major deel van ons audience uit en ons is in die business om super bucks te maak. Maar wie weet, dalk cheat ons met ’n vinnige kamerabeweging, ’n flink stukkie editing! En my naam is ‘Blow your blue balls to a box-office hit’!”
“Ek gaan die draaiboek self skryf,” sê Gustaf, maar hy wonder of Lothar hom gehoor het.
“Draaiboek skryf is ’n moeilike joppie, my vriend. Nie so maklik soos dit lyk nie.”
“Ek weet, maar ek …”
“Ek vergelyk draaiboek skryf altyd met ’n wiskundeprobleem. Watter formule pas waar? Watter toneel staan links van die is-gelyk-aan-teken en watter toneel daarna? En hoekom?” Hy lag bulderend uit sy maag. “Die groot vraag wat ek altyd vir my skrywers vra, is: Hoekom! Ek wil verstáán hoekom de donner jou karakter doen wat hy doen!”
“Of sy.”
“Goes without saying.”
“En sy het nie altyd mooi borste nie.”
Dit gooi Lothar heeltemal.
“Ekskuus. Jy was besig om te verduidelik dat jy wil verstaan?”
“Film maak is spanwerk, boet. Baie breins werk aan die draaiboek.”
“Maar jy verstaan nie my storie of karakters nie.”
“Die draaiboek. Die script.” Asof Lothar aan hom probeer verduidelik dat dit een en dieselfde ding is. “Dit is die alfa en die omega en die tafel op Tafelberg!”
“Kyk, Lothar. Ek verstaan dat julle my nie vertrou nie, dat julle dink ek het geen ervaring met draaiboek skryf nie. Maar my storie is my storie.”
“Gus. Almal se storie is hulle storie en ons verstaan dat jy fyngevoelig is. Maar kill your darlings, Gus! Ons moet almal soms ons lieflinge verwurg.”
Lieflinge verwurg. Wat weet hierdie man van doodmaak? Vir hom is doodmaak net nog ’n toneel wat voldoen aan draaiboekreël 13 en wat gevolg word deur reël 14 en wat die storie vorentoe laat beweeg na reël 15.
Doodmaak.
As Elisma nou ’n selfoonfoto van hom, Gustaf, moet neem, sal hy nog erger as Edgar Allan Poe op sy bekende foto lyk.
“Lothar. Ek het bietjie navorsing gedoen oor jou ander films soos Manalleen.”
“Hoezit, my bra!” Lothar klap op sy maag. “Ons het baie gepraat oor daardie titel.”
“Julle kon nie die titel verander nie, want dit was Hannes Bredenkamp se roman en julle het die film verkoop op sy romantitel.”
“Man, ja. So tussen my en jou en hierdie whiskeyglas, dit was ’n moeilike besluit.”
“Julle het die titel gebruik, maar die storie so verander dat net die karakters se name behoue gebly het.”
’n Gespanne laggie. “Kwit, my pel. Jy verstaan nie! Jy verstáá-áán nie! Ons moes dit rolprentmatig maak. Want ons is in die besigheid van moewies maak, nie boeke skryf nie! Daar is ’n moerse gap tussen ’n boek en ’n draaiboek!” Hy leun vorentoe. “Kyk. Kaarte op die tafel. Ou Hannes, nè!” Hy slaan weer ’n slag op sy maag. “Ou Hannes is ’n donnerse goeie skrywer, ek is die eerste om dit toe te gee. Maar hy’t nie ’n cooking clue hoe film werk nie!”
“Ek het ál drie Save the Cat-boeke in die hospitaal gelees, Lothar. Draaiboekbybels. Deeglik gelees die afgelope drie dae terwyl ek in die bed moes bly. My uitgewer het hulle vir my gebring. So ek het ’n idee waaroor draaiboek skryf gaan.”
“O. Jy ken die kat?”
“Miaau.”
Dit vang Lothar onkant, maar na ’n paar oomblikke sê hy: “Maar dit is nog nie te sê dat as jy daardie boeke gelees het, jy kan draaiboeke skryf nie!”
“Julle gaan my ten minste die kans gee?”
Sy gesig helder op. “Nou praat jy my taal, Gus. Ons vat eerste opsie op jou first draft. Hel, ou partner, ek het al first drafts gesien waarmee jy nie eers jou vetterige braaivleisbek wil afvee nie. But that’s a conversation for another day. As ons voel jou draft het meriete, bring ons iemand in om dit te dokter, hier te twiek, daar te skaaf, mooi in proporsie te kry en …”
“Nee.”
“Ekskuus?”
“Niemand behalwe ek skryf daardie draaiboek nie. Dit moet in my kontrak staan.”
“Maar geen draaiboek word op first draft aanvaar nie! Dis ’n werkstuk! ’n Bloudruk van wat jy uiteindelik beplan! Manalleen het deur 23 drafts gegaan!”
“Ek is ook bereid om oor te skryf mits ek met julle kritiek saamstem.”
“Drie-en-twintig keer?”
“Ek hoop nie dit neem so lank nie, mits ons by my oorspronklike storie bly.”
Lothar gee ’n snorkie deur sy Quasimodo-neus asof hy ’n skuldige ondervra voor hy gemartel word en weet hy sal uiteindelik ingee.
“Gus, my broeder. Ons is mos pelle, nè?” Hy steek skielik sy hand uit en skud Gustaf s’n oordadig. Die hand is vet en nat in syne. “Ons is almal partners in hierdie bedryf. Ha-ha-ha. Kom ons kyk na jou eerste draft, dan praat ons verder. En onthou, ons aanvaar net Final Draft. Het jy daai skryfprogram?”
Hy ken die naam van die draaiboekprogram. “Nee, maar ek sal een kry en dit onder die knie kry.”
“Ek sal jou help. Of ek gee Sterretjie om jou bietjie op jou boude te klits met die program. So maklik soos ’n honger aktrise se oudisie. Tjoef-tjaf en jy’t dit, uhm …” hy maak seksuele bewegings, “onder die knie! Ha-ha-ha.”
“Ek ken die storie. Ek ken rillers. Ek wil dit self doen.”
“Maar prentjies. Dink in prentjies, Gus, my ou maat. Hoe minder mense práát, hoe beter.”
“En tog is al Amanda se draaiboeke die ene dialoog. Televisie deur ’n filmkamera. Bla bla bla blerrie bla!”
Lothar kyk skerp op. Handskoene af, sien Gustaf. Hy het nou op heilige grond getrap.
“Kyk, Gus. Wat ons eintlik wou doen, is …” Hy beduie met sy poffervingers asof hy ’n toneel regisseer: “Om Mandie na my vakansiehuis langs die see te stuur sodat sy daar met jou roman kan spook. Mens moet alleen wees as jy skryf. Niks wat jou aandag aftrek nie. En spook,” hy lag lelik, “is the operative word!”
Net die gaping waarop Gustaf gewag het.
“Nou hoekom stuur julle mý nie iewers heen om ‘met die roman te spook’ nie, Lothar? Ek gaan bly alleen, skryf, e-pos dan draft een na jou toe en ons kyk wat word. Ek neem aan jou rekenaar akkommodeer Final Draft.”
“Akkommodeer Final Draft!” Lothar bulder van die lag. “Ek hou van jou grappies, Gus. Bring bietjie daarvan in die draaiboek in. Sit ’n steek in die whiskey, if you follow my meaning,” en hy knipoog.
“Donker humor is onlosmaaklik deel van goeie rillers.” ’n Sin wat Elisma hom reeds daardie eerste aand in Philadelphia laat neerskryf het.
Hel, hoe verlang hy nie na daardie eerste aand nie.
Lothar se oë flikker en hy sit sy bril op. Hy draai na sy rekenaar wat links van sy lessenaar staan – ’n groot, blink Apple-affêre. Hy druk ’n paar sleutels en kyk dan na Gustaf.
“Luister, boet. Ek het my contacts. Ons boek jou iewers in ’n lekker plek in of gee iemand se huis vir jou en jy skryf. Beste ding wat met jou kan gebeur én met ons, want …” Weer die pofferige hande wat beduie, die rooi whiskey-aartjies op sy gesig wat wil oopbars. “Ons soek jou storie omdat Afrikaanse film nog nooit ’n ordentlike riller gehad het nie. ’n Riller met daardie,” hy boots tromslae op sy lessenaar na, “Afrika-gevoel! Shaka Zulu! Bom-bom-bom-bom-bom! Bom-bom, bom-bom!” Lothar krul sy hande in wat seker veronderstel is om leeukloue te wees. “Bring die tokkelossie in. Afrika-geeste, toordokters! Bygelowe! Die Funduzi-meer, want iewers kyk iemand in jou storie na die Funduzi-meer met sy kaalbors-poppies wat die tokkelossie probeer besweer! Flippen hel, pel! Dan verkoop ons dit aan die buiteland. Ons gaan geld soos uitgepikte oë maak wat in rioolvore afspoel!”
“Daar is nie ’n tokkelossie in Adrenalien nie.”
Lothar klap sy woorde weg soos ’n lastige vlieg wat op brood kom sit het. “Detail, detail. Onthou net, tokkelossie is die een woord wat die Amerikaners ken. Toordokter! Bygelowe! Tiete om die Funduzi-meer! Dit sal hulle dadelik van die draaiboek laat hou!”
Gustaf stap deur toe. “So, wil jy bietjie daaroor dink, Lothar? Ek probeer draft een iewers in die Bosveld – dalk juis op die plek waar die roman afspeel, maar totaal op my eie, en ons praat daarna verder? En terloops. Dit speel nie by die Funduzi-meer af nie. Iemand verwys net daarna in die roman.”
“To be discussed later.”
Lothar steek sy hand uit, maar hy is net te hartlik, te vriendelik, asof ’n plan vinniger as ’n verkeersknoop hier in Sandton vorm aanneem.
“Tot siens, Lothar.”
“Tot weersiens, Gus. En baie geluk met …” Hy beduie na die koerant waarin die Adrenalien-berig verskyn het. “As ons met hierdie storie klaar is, gaan die bedryf nie weet wat hom getref het nie!”