Hy ry die afdraai na Die Bosveld Spa en Lodge byna mis en trap rem sodat sy motor in die sand langs die nou teerpaadjie tot stilstand kom. Gruisklippies spoeg oor die motor en een daarvan tjip die voorruit.
Die Bosveld Spa en Lodge 8 km. Die bordjie is al verweer, met twee koeëlgate daardeur. En agter op die vergeelde metaal is graffiti in die vorm van ’n uil – slegs herkenbaar aan die twee oortjies en pieringoë.
’n Kwêvoël sit in ’n boom naby, sy kop skeef, die kuif oorhoops van baldadigheid. “Kwê-kwê-kwê-kwê!” ruk die klank deur die bos, die voël se gewoonte om te waarsku wanneer hy iets vreemds in sy omgewing gewaar.
Dit dien seker as ’n waarskuwing teen hóm.
Die voël vlieg nader en gaan sit in ’n kiaatboom vlak voor die bordjie. “Kwê-kwê-kwê-kwê!” Asof hy hom toegang tot die plaaspaadjie met die digte middelmannetjie weier.
“Jý wou hier kom skryf het, bra,” sê Gustaf vir homself.
Die paadjie lyk na ’n punk-rock-sanger se kuif wat regop gejel is en wag om die motortjie se onderstel te roskam.
Gustaf klim uit. Sy hart klop vinniger, soos dié van iemand wat ’n klomp verbode vrugte anderkant ’n draad sien en moet besluit of hy gaan oorspring om dit te steel voor die skote klap.
Daar is nie ’n motor in sig nie en sy blaas is vol.
Hy slaan water af en kyk hoe die straaltjie afvloei tot by ’n duisendpoot, wat tot stilstand kom. Hier is die duisendpote skynbaar groter as waaraan hy gewoond is. Die pootjies kriewel en krioel asof dit ’n aparte ding is wat onder die lang lyf funksioneer, nes die marionetmeesters van War Horse die gemeganiseerde perde se bewegings beheer het.
Hy sien hoe ’n klein bosbokkie hom deur die bosse betrag, die ogies stip op hom gerig.
Toe Gustaf sy ritssluiter optrek, verdwyn die bokkie tussen die oorgroeide ruigtes met die dik stertjie wat bewe.
Dit wemel van die diere- en inseklewe, amper asof almal spesiaal bymekaargekom het om hom welkom te heet.
“Ha-ha-ha!” sê Gustaf hardop. “Jy en jou verbeelding. Jy kan nie een van hierdie diere in jou draaiboek gebruik nie, want hoe regisseer ’n mens ’n bosbok of ’n kwêvoël of ’n duisendpoot?” Astrid en Lothar sal harder lag as enige katlagter wat hom hier tussen die bosse uitkoggel.
Hy klim in sy motor en ry in trurat terug tot by die nou uitdraaipaadjie. Die motor se wiele tol om in die sand en vir ’n oomblik dink hy dat hy dalk gaan vassit.
Stel jou voor! Hy sit hier vasgevang in die sand. En daar is reeds sedert hy Hoedspruit verlaat het geen selfoonontvangs nie.
Hy slaag daarin om uit die sand te tol tot in die tweespoorpaadjie. En kort-kort glip beelde uit rillerfilms deur sy gedagtes oor dom karakters wat versteekte paadjies opsoek teen alle waarskuwings in.
Trek die Wrong Turn-fliekreeks nie al by nommer sewe nie? Met elke keer dieselfde grusame gevolge?
Maar dit is geen verkeerde afdraaipad dié nie. Bordjies vir Die Bosveld Spa en Lodge, wat seker op sy dag een van die uitsoekspa’s in die omgewing was, pryk elke kilometer pertinent langs die pad. Nege kilometer, agt kilometer, sewe kilometer. Die ses-kilometer-bordjie het omgeval.
Die middelmannetjie skuur onder die motor, met klippe wat kort-kort wegspat. Een of twee keer trek Gustaf sy asem deur sy tande in soos hy eintlik seerkry vir die motor se onthalwe, maar dan maak hy vrede met die klipperige pad wat besig is om nouer te raak soos die bosse hier toegelaat word om onbeheers te groei.
Hy moet onder ’n nou treinbrug deurry. Daar is nie eers relings langs die treinspoor nie – net ’n betonblok wat die spoor oor die pad stut.
Sy motortjie glip maklik onder die brug deur, maar dit is so nou dat hy wonder hoe ’n voertuig met ’n karavaan hier sou deurglip. Of dalk het mense wat karavane sleep nie na Die Bosveld Spa toe gegaan nie.
Vloedmerk 2000, sien hy – ’n verfmerk met ’n bordjie net onder die treinspoorbrug. Die streep vat-vat aan die betonblok.
Liewe hemel, dit ook nog! ’n Woeste rivier hier naby wat hom van die buitewêreld kan afsny. Nog iets wat hy nie in sy draaiboek kan inskryf nie, want beelde van ’n rivier in vloed kan seker nog nie plaaslik deur rekenaars geskep word nie. En praat van clichés! ’n Eensame lodge afgesny van die buitewêreld deur ’n woeste rivier. Lekker!
Doringtakke hang laag oor die pad en dorings krap kort-kort die dak.
Weer die geluid van ’n klip wat sy onderstel tref, soos ’n lyk wat aan ’n kis se deksel klop, so tipies van Edgar Allan Poe se kortverhale.
Geen toegang, staan aan die linkerkant van die pad. En dan is daar ’n graffiti-kopbeen oor ’n voosgebakte bordjie waarop staan: Gebruik pad op eie risiko. Hy draai die ruit af. Dit is nou bliknerswarm.
“Jy wil mos alleen wees,” sê Gustaf weer vir homself.
Tussen die bosse sien hy ’n allemintige stuk water – ’n rivier wat kant en wal loop met riete wat soos lui vingers heen en weer wieg in die watergeweld. Riet-alleen in die Rowwe Rivier. Lekker subtitel vir sy draaiboek.
’n Bobbejaan staan eensklaps vlak voor hom in die pad. Langs die dier lê ’n bloedige karkas, moontlik van ’n ander bobbejaan.
Hy slaan rem aan.
Die motor skuif oor die los sand en skuur oor die middelmannetjie tot amper teen die dier, wat uit die pad waggel en sy luisbesmette agterkant vir Gustaf wys.
Die enjin het gestol en Gustaf sukkel om dit weer aan die gang te kry, maar genadiglik vat dit.
Die bobbejaan draai om en beskou hom terwyl hy geluide maak. “Hô-hô-hô!” weerklink dit deur die bosse. En hy het altyd gedink ’n bobbejaan maak “Boggom!” Snaaks waaraan ’n mens in ’n oomblik van krisis dink.
Vir ’n oomblik die beeld van die bobbejaan se stertkant vol bloedige sere waaruit die etter drup. Dan, stadig, draai die gedrog om.
Die dier waggel terug na die motor toe.
Gustaf druk die toeter. Dit maak die bobbejaan net meer aggressief. Die dier boggom-skreeu weer en loop terug na die karkas in die middel van die pad.
Hy lig sy klou terwyl sy oë die hele tyd wantrouig op Gustaf gerig is. Dan steek hy dit in die maaierbesmette karkas. Dit is toegekoek van brommers en wurms.
Die bobbejaanmannetjie kyk vir die eerste keer weg asof hy wag dat nog monsters by hom aansluit, maar daar is niks.
Hy gaan sit langs die karkas en skep hande vol vleis en wurms daaruit, stop dit in sy bek asof hy vuil spookasem verorber.
Durf hy dit waag om vorentoe te ry en óm die dier en die karkas te skuur? Daar is gelukkig net platgetrapte gras, dus is daar verbykomplek. Dan, asof die bobbejaan besef daar is vars vleis sonder wurms in die motor, kyk hy op. Die primitiewe oë gluur aggressief na die motor en die poot huiwer tussen die karkas en die oopgesperde bek met die geel slagtande.
Sonder waarskuwing spring die gedierte op Gustaf se motor se bakwerk.
Hy kyk rond of daar nog bobbejane is, maar die ou mannetjie (hy dink dit is ’n mannetjie) is skynbaar alleen, weg van die trop. Dit lyk of daar iets uit die dier se bek drup. En hy lek met sy dik tong oor sy opgeswelde lippe – die slagtande gierig ontbloot.
Selfs die kwêvoël is nou stil, asof dit weet hier kom ’n slagting.
Gustaf maak seker dat al sy vensters behoorlik opgedraai is. Wat moet hy doen om van die dier ontslae te raak?
Iewers ’n harde gekekkel in die bos soos loeries altyd maak.
Gustaf druk op die toeter.
Die bobbejaan krap in sy lieste en Gustaf merk dat sy pens vol rou sere is. Die dier krap-krap-krap, skynbaar glad nie gesteur deur die toeter nie.
Gustaf druk dit weer, dié slag aanhoudend.
Die bobbejaan ruk vir ’n oomblik. Gustaf sien die skelm ogies wat hom weifelend begluur. Hy dink weer aan sy draaiboek wat hoeka met so ’n toneel begin, asof die noodlot dit spesiaal vir hom hier opgestel het. Wat sal Astrid en Lothar sê as daar staan:
EXT. BOSVELD – DAY
’n Bobbejaanmannetjie lê op sy rug en krap die rou sere in sy lieste. Hy kyk spottend na Gustaf.
“Hoe de hel kry ons sere in sy lieste?” sal Astrid vra. “En hoe de donner kry jy die dier om spottend na die kamera te kyk?”
Of wag, wanneer ’n karakter of item van belang die eerste keer gemeld word, moet dit mos in hoofletters wees – amper vergeet hy!
’n BOBBEJAANMANNETJIE lê op sy rug en …
Die bobbejaan spring orent. Die woeste gewig laat die motor skud – die slagtande eensklaps teen sy voorruit. Die geel etter wat uit die wonde peul, maak taai strepe op die windskerm soos die bobbejaan sy maag oor die ruit skuur asof hy hom koggel.
Die adrenalien skiet deur sy liggaam. Veg of vlug. Trek weg. Gee pad! Gee net pad! Maar soos in enige goeie riller sal die motor nou seker vrek omdat hy te vinnig probeer wegtrek. Dus, in sy draaiboek:
Motor stol. Die bobbejaanmannetjie skeur die bakwerk oop en slaan sy slagtande in Gustaf se keel en ruk sy strot uit.
Hoe gaan hulle dit verfilm? Alles gedagtes wat deur sy deurmekaar kop skiet en dreig om enige logika te verdring.
Gustaf druk die toeter weer hard en dringend en aanhoudend, wat die dier mal maak. Hy spring op en af op die dak, skreeu soos iets uit die oertyd, krap, slaan, duik die dak, probeer by Gustaf uitkom.
Dan besef hy: Dit moet die lekkergoed en kos op die spatbord wees wat die monsterdier se aandag trek.
Gustaf steek sy hand uit om dit te verwyder, maar dit maak die bobbejaan net meer aggressief. Dit boggom-blaf nou teen die ruit asof die dier iets of iemand vervloek wat hom deur soveel pyn en lyding sit.
Vir etlike minute sit Gustaf so, sy hart klop in sy keel. Dan is dít wat bedoel word met daardie uitdrukking, want hy voel die kloppings in sy keel soos iets wat poog om in te kom.
En hy wonder skielik, hy wat so nuuskierig is oor moord, oor die proses van doodmaak: Kraak daar beentjies onder jou hande wanneer jy iemand verwurg?
Sweet stroom teen sy voorkop af, ook in sy nek, laat die hemp aan sy liggaam vasklou, die hitte verstikkend in die motor, die wolke bleek teen die horison.
Gustaf skakel noodgedwonge die lugverkoeling aan, wat ’n geluid veroorsaak wat die bobbejaan nog meer aggressief maak – die gevreet met die oop bek waaruit die etter en wurms drup vlak voor hom.
Hy skakel die enjin af, maar die hitte raak versengend. Dit voel of hy nie kan asem kry nie. Hy durf nie die venster oopmaak nie, nie eers op ’n skrefie nie, want dan word hy van voor af aangeval soos die dier probeer om by die kos uit te kom.
Of sou dit by hóm wees? Vars vleis. ’n Nuwe slagoffer? Wat sou die puntenerige taalpuris met hierdie beskrywing van “slagoffer” maak?
Dit is na vyf minute so bedompig dat hy kortasem raak. Die smetterige smeersels op sy windskerm verberg gedeeltes van die bobbejaan se bakkies. Maar deur die smeersel, asof iemand eier geëet en dit oor sy voorruit opgebring het, sien hy die woeste dier hop op die bakwerk.
Nou merk hy eers dat die Edgar Allan Poe-pop van die sitplek afgeskuif het. Hy buk stadig om dit van die vloer af op te tel. En toe hy die pop orent bring, skreeu die bobbejaan weer teen die ruit. Hap en kap hy, drup die kwyl van sy tande af. Dit is asof die bobbejaan die pop nou eers opgemerk het en Edgar hom nog verder antagoniseer. Die krete en geluide wat uit sy bek kom, klink na iets uit die oertyd.
Dis nou of nooit.
Sy hande bewe wanneer hy die enjin weer aanskakel. Die bobbejaan lig sy kop. Gustaf probeer die etter van sy windskerm afvee, maar die bobbejaan beskou dit as ’n aanval. Hy gryp die windskermveërs en ruk die regterkantse een met soveel mag af dat dit soos ’n vuurhoutjie in sy poot ombuig. Hy bekyk dit asof hy dit in sy mond wil stop voordat hy dit oor sy skouer smyt.
Gustaf skakel die enjin af en dan vries hy.
Hy sit lank so na die dier en kyk tot dit bedaar en Gustaf aangluur.
Soos ’n toegemesselde graf se wande druk die motor se deure nou teen hom aan. En nes in Poe se The Pit and the Pendulum, voel dit of die wande nader en nader aan hom beweeg sodat hy soos ’n vis uit ’n sardientjieblikkie gaan peul en die bobbejaan hom kan doodbyt.
Hy raak kloustrofobies, veral van die hitte wat sy asem uitpers. Water, koeldrank, enigiets! Hy moet vloeistof in sy liggaam kry! Sy hand beweeg behoedsaam na die halfleë koeldrankbottel langs hom en hy lig dit. Die oomblik toe hy begin drink, raak die bobbejaan berserk.
Gustaf druk sy hand voor sy mond toe hy die warm koeldrank uithoes. Dit brand suur deur sy keel.
Hy spoeg die laaste suur uit sy mond sodat dit oor die spatbord en ruit plas. Hy hoes en gryp na die meganiese ruitknoppie. Enigiets. Hy moet lug kry! Maar die enjin moet aangeskakel wees vir die ruit om af te draai!
Hy gaan dit op ’n skrefie oopmaak sodat vars lug kan inkom. Want nou ruik die motor suur van sy vrees.
Gustaf skakel die enjin weer ’n slag aan. Die bobbejaan spring, maar gaan sit weer, sy gruwelpens ontbloot.
Stadig, stadig beweeg Gustaf se hand na die ruitknoppie. Hy moet vars lug kry!
Hy druk die knoppie en die ruit kom in beweging. Hy los dit skielik sodat die ruit moet stop, maar dit gly steeds af. Die bobbejaan merk die onverwagte beweging en spring op en af asof hy ’n oorwinning behaal het. Uiteindelik toegang tot die kos, die koeldrank.
En sy prooi.
Stof en hitte sypel die motor binne, maar dis bedompig en ruik na bobbejaansere en uitwerpsel.
Gustaf skreeu en druk weer die knoppie. Dié slag skuif die venster harmansdrup-stadig op – nie naastenby so vinnig soos netnou toe dit afbeweeg het nie. Die bobbejaan bemerk steeds toegang tot die kos en steek sy poot blitsvinnig deur die venster.
Die ruit skuif op, stadig, baie stadig. Die poot kap-gryp na sy oë soos ’n slang wat pik. Gustaf skreeu en laat die motor vorentoe skiet, luister na die gehuil-kerm-skreeu van die bobbejaan soos hy vorentoe beweeg en sy greep verloor.
Skreeu. Gil. Swets. Gustaf slaan met alles wat hy in die hande kan kry. Die koeldrankbottel, enigiets. Hy sien takke, bobbejaantoue, kwyl, slagtande, etter en geel strepe oor die ruit.
’n Dowwe geluid agter hom soos die bobbejaan op die gras beland. Die ruit is nou toe.
Gustaf jaag. Agter hom kom die briesende dier aangewaggel nes die dreigende Klaas Vakie voor die teater.
Die motor gly in die sand, ry-glip oor ’n klomp wit sampioene langs die pad, tref die takke van ’n doringstruikie wat oor die pad lê en tol ’n slag in die rondte voordat Gustaf weer beheer daaroor kry.
Die bobbejaan is byna weer op hom. Die motor stamp-spring oor die middelmannetjie en skop stof in die dier se gevreet terwyl Gustaf die toeter aanhoudend druk.
Iemand moet hoor. Iemand moet kom help!
Die Bosveld Spa en Lodge 3 km wys ’n verweerde bordjie en Gustaf ry dit byna onderstebo. Die metaal skuur teen die motor se buffer. Daar is jou wragtigwaar ’n padteken wat gebied dat voertuie nie hier by mekaar verby mag ry nie en ’n dowwe waarskuwing vir ’n skerp draai! Wie de hel sal hulle hier aan so iets steur?
Hy jaag met so ’n stofwolk agter hom dat hy nie kan sien of die dier hom steeds agtervolg nie.
Die middelmannetjie hou mettertyd op en die pad maak ’n skerp draai na links toe die geboue skielik voor hom verskyn.
DIE BOSVELD SPA EN LODGE HEET U WELKOM staan lewensgroot daar geskryf. Die rivier lek-lek aan die voorste kamers se stoepe.
Gustaf jaag tot by die voordeur.
Dan stop hy. Hy hyg, probeer sy asemhaling reguleer en kyk in die truspieëltjie of die bobbejaan nog daar is.
Die pad lê oop agter hom. Die dier is nie meer daar nie. Of het hy kortpad deur die bosse gekies en wag hom hier in?
Gustaf sluk teen die knop in sy keel. Hy besef nou dat hy huil van vrees.
EXT/INT. MOTOR – DAY
LOURENS YSSEL (alter ego van Gustaf Prinsloo) huil van spanning. Sy hand beweeg stadig na die deur se handvatselknoppie. Sy vingers bewe. Dit huiwer bokant die knoppie. Sy oë flits na die truspieëltjie. ’n Skoot van wat hy sien.
EXT. VERLATE PAD – DAY
Die pad lê verlate en uitgestrek – bobbejaantoue hang daaroor.
EXT/INT. MOTOR – DAY
Sy bewende vingers druk die knoppie en die deur gaan stadig oop.
Hy sien ’n groot gebou wat nog in ’n goeie toestand is, maar duidelik nie meer gebruik word nie. Durf hy uitklim?
“Verdomp!” skreeu Gustaf. “Vergeet van die donnerse draaiboek en sorg dat jy veilig in die gebou kom!”
Wanneer sy voete op die grond beland, vou sy bene onder hom in. Sy pakkie twintigs val in die modder. Bliksem! Hy het vergeet om nuwe sigarette te koop!
Hy sukkel orent, kyk angstig rond, verwag die bobbejaan wat op hom gaan toesak en hom gaan verskeur. Maar wat is ’n storie sonder ’n protagonis? Hy kan mos nie in die openingstoneel voor die eerste name sterf nie!
Gustaf gryp sy kop vas. “Nie nou nie. Raak net nugter!” sê hy vir homself.
Die motor lyk of ’n orkaan dit getref het en hy ruik ou vleis, muwwe oorblyfsels van dood en die reuk van sy eie vrees asof hy hom bevuil het. Dis waar. Vrees kan geruik word. Dit is hoekom diere so aggressief raak wanneer hulle mense skielik in die bos teëkom!
“Moet nooit vir ’n dier wys jy is bang vir hom nie – hy kan dit ruik!” het iemand eendag vir hom gesê. Maar hy is doodbang, maak nie saak wie watse raad gee nie.
Gustaf kyk terug. Daar is niks. Net rondawels wat op die vol rivier uitkyk met die grondpad wat reguit strek tot by die draai.
Voetjie vir voetjie op teen die trap na die houtdek wat oor die rivier gebou is. Sy bene vou ’n tweede keer onder hom.
Astrid het hom ’n sleutel gegee wat hy gelukkig in sy broeksak gesit het, want as hy nou moes terugstap na sy motor toe …
EXT. HOUTDEK SPA – DAY
’n C/U (nabyskoot) van Gustaf se bewende vingers wat die sleutel in die deur steek, maar dit pas nie. Hy probeer ’n tweede sleutel. Skoot van sy motor wat met ’n halfoop deur staan. En agter die motor …
Gustaf probeer fokus.
En agter die motor net die bobbejaantoue wat oor die pad hang.
Dan sien Gustaf Lourens die bord langs die deur.
Die kamera glip oor die volgende woorde: Pasop vir krokodille en seekoeie. Moenie in rivier swem nie.
Moenie die bobbejane voer nie.
Malaria-gebied.
WELKOM!
Die regte sleutel pas uiteindelik in die slot. Hy sluit die deur oop. En voor hom is die plek waar hy die volgende ses weke stoksielalleen gaan wees. Die ergste spoke en gevare is nie noodwendig binne die gebou nie, maar buite.
Tog hoort daardie aanduidings nie in ’n draaiboek nie.
Dit is die regisseur se plig om dit te wys.
Maar hy gaan dit nou namens die regisseur ervaar en dalk ’n splinternuwe storie uitdink wat die waarheid gaan lieg. Dit is mos wat rolprente doen. Hulle lieg die waarheid. Hulle steel by die waarheid.
Hy weet hoe dit voel.