Scholtz en Paul Botha het daardie Saterdagmiddag saam met hul vrouens en verskeie ander mense na Naauwhoek gegaan om die misdaadtoneel skoon te maak, as ’n gebaar van liefde en respek vir hul geliefde vriende wat nie meer daar was nie. De Waal, wie se span hul prosessering van die misdaadtoneel voltooi het en al die bewysstukke ingesamel het, het hulle toestemming gegee.
Verskeie belangrike items het egter agtergebly, waarvan die belangrikste ’n bloedbevlekte baadjie was wat aan Deon Steenkamp behoort het. Die polisie het die baadjie nie as belangrik beskou nie en Scholtz is gevra om dit op sy plaas te verbrand. Ek was ’n bietjie verward toe ek hiervan te hore kom omdat ek onder die indruk was dat alle bewysstukke by ’n misdaadtoneel ingesamel en geprosesseer moet word. De Waal het waarskynlik sy redes gehad en eendag sal ons seker uitvind wat dit was. ’n Bloedbevlekte baadjie wat egter aan ’n buurman, wat op daardie stadium ook nie bo verdenking was nie, gegee word om te vernietig, was rede tot kommer.
Daardie selfde dag het Deon se susters, Marianna Smith van Stellenbosch en Elbeth Vermaak van Pretoria, met hul gesinne in Kimberley aangekom. Die susters het gehoop om hul bejaarde ouers te help om hul enorme verlies te verwerk. Veral die nege-en-sewentigjarige Don sr. se gesondheid was swak en die familie was bekommerd dat hierdie tragiese gebeurtenis sy vroeë dood sou veroorsaak.
Daarteenoor was die vyf-en-tagtigjarige Bettie baie sterker as die verskrompelde uiterlike wat mense gesien het. Sy is inherent ’n stil mens wat verkies om self met haar duiwels te baklei. Elbeth, adjunkhoof van die Hoërskool Menlopark in Pretoria, het eerste daar aangekom. Haar twee kinders was ook by haar. Marianna en haar man het die middag ná die moorde uit Kaapstad gevlieg en het vroegaand by hul ouers se huis aangekom. Daar was nie veel om te sê nie, maar die familie het mekaar omhels en vertroos. Tog was daar so baie vrae en byna geen antwoorde nie. Die enigste persoon wat lig kon werp op wat gebeur het, was op pad terug van Griekwastad.
’n Onemosionele maar moeë Don, vergesel van Heckroodt en sy vrou Hanlie, het daardie aand ongeveer 20:00 in Kimberley aangekom. Vir die seun was dit ’n lang dag, maar een wat nog lank nie verby was nie. Don se familielede het medelye met nou die jongste lid van hul familie betoon en alhoewel Elbeth en Marianna graag met hom wou praat, wou hulle nie hul ouers nog meer ontstel as wat reeds die geval was nie. Die susters het wel later daardie aand daarin geslaag om alleen met Don in die kombuis te praat. Hy het baie “opgewek” voorgekom en aangebied om hulle alles te vertel wat hulle wou weet.
Don het weliswaar vir sy tannies vertel dat voor Marthella in sy arms dood is, sy gesê het: “Boetie, ek’s lief vir jou. Ek gaan nou sterf.” Hy het hulle gevra om dit nie vir sy grootouers te vertel nie, aangesien hy gedink het die wete dat Marthella gely het “hulle sou knak”.
Wat Don vir Elbeth en Marianna vertel het, het hul harte gebreek. Hulle was baie lief vir Deon, Christel en Marthella en het baie vir hulle omgegee. Diegene wat by die huis bymekaargekom het, het tydens die aand elkeen van die Steenkamp-gesin in herinnering geroep. Hulle het stories vertel en soms gelag, maar meestal is daar saam gehuil.
Die Steenkamp-familie en hul vriende sou mekaar nog tot laat in daardie lang, donker nag vertroos.
Die Sondag ná die moorde het die hele gemeenskap van Griekwastad in die NG kerk in die dorp bymekaargekom om die heengaan van hul geliefdes te betreur. Die kerk, wat die dorp se ryk en kleurryke geskiedenis weerspieël, is op 17 Desember 1881 gestig. Dit het die huidige predikant, Piet Otto, effens oorgewig en in sy vroeë sestigs, met liefdevolle oë en ’n ontspanne houding, te beurt geval om die gemeenskap te help sin maak van die moorde.
Alhoewel die kerk stampvol was, het Otto daarin geslaag om die nuwe gesigte tussen die gereelde bywoners uit te ken. Dit het gelyk asof almal in die dorp besig was om te rou en berusting by hom kom soek het. Dit was vir hom belangrik om die gemeente te laat verstaan dat God sy eie plan het en alles om sy eie redes doen.
Otto het besluit om ’n wit pak (in plaas van die stemmige swart pak wat hy gewoonlik gedra het) vir die geleentheid aan te trek, wat vir hom lewe simboliseer. In sy preek het hy die kruisiging van Jesus Christus en sy gevolglike opstanding met die afsterwe van die Steenkamp-gesin vergelyk.
“Die hele Griekwastad is diep hartseer. Mense was ook opstandig toe hulle destyds Christus se bebloede klere gesien het. Maar moenie moed verloor nie. Nuwe lewe word egter op wrakstukke gebou. Ons mag nou treur, maar daar is lewe in Christus,” het hy gepreek.
Otto het dit op hom geneem om almal wat vertroosting en bemoediging nodig gehad het, te vertroos. Hy sou in hierdie hartseer tyd die rots wees waarop die gemeenskap kon steun. Hy sou ook sorg dat hy daar is vir Don indien hy hom sou nodig kry.
My artikel oor die moorde was die eerste een wat daardie Sondagoggend in die nasionale Afrikaanse koerant, Rapport, verskyn het. Diegene wat nog nie van die storie via sosiale media of op die radio gehoor het nie, het met die volgende opskrif wakker geword: “Seun op sy knieë: ‘Hul is almal dood’”.
Daar was hierna geen omdraaikans nie. Die publiek se behoefte aan die waarheid en, ongelukkig, aan sensasie moes nou bevredig word. Ek was bly dat ek Gerber en De Lange van die belangrikheid van die driedubbele moorde oortuig het en dat die storie die voorblad gehaal het.
Alhoewel dit Paasnaweek was, wat gewoonlik ’n daling in koerantverkope beteken, het mense wat reeds van die Griekwastad-moorde gehoor het, inderhaas die koerant gaan koop. Met die hulp van my adjunkredakteur, veteraanjoernalis Herman Jansen, het ek die storie op so ’n manier geskryf dat mense tussen die reëls kon lees en hul eie gevolgtrekkings kon maak.
Dit was ’n boeiende storie wat op die feite gefokus het en die leser gevra het waarom die seun gespaar is, hoekom niks gesteel is nie en hoekom die moordenaars die vuurwapens by een van die plaashekke gelos het. Ek wou hê dat mense hul eie gevolgtrekkings moes maak oor wat op daardie noodlottige aand gebeur het.
Teen hierdie tyd het die storie my heeltemal aangegryp. Ek het uit ondervinding aangeneem dat die polisie vinnig sou aankondig dat hulle ’n verdagte het.
Daardie Sondag het Don, sy tannies en sy ouma Naauwhoek toe gegaan om goed te kry wat hy vir skool nodig gehad het. Die vroue het ook van die geleentheid gebruik gemaak om van die drie oorledenes afskeid te neem.
My voorbladstorie het die publiek se verbeelding aangegryp en die vernaamste mediagroepe was gou om ook hulle joernaliste en fotograwe Griekwastad toe te stuur om agter die waarheid oor die moorde te probeer kom. Die dorp se gastehuise was gou heeltemal vol, waarskynlik vir die eerste keer in die dorp se geskiedenis. Diegene wat nie plek kon kry nie, moes lang afstande aflê tussen Kimberley en ander omliggende dorpe, soos Postmasburg in die noorde en Douglas in die suide, om die storie te dek.
Elke huishouding en sake-eienaar in Griekwastad is in detail uitgevra oor hul verhouding met die Steenkamp-gesin en wie hulle dink vir die gesin se dood verantwoordelik is. Bo aan elke joernalis se lys vrae was natuurlik of iemand ná aan die familie die skuldige party kon wees.
Ondanks die toenemende histerie het die polisie doodstil gebly. Niemand het geweet watter inligting of bewyse die polisie op daardie stadium reeds het nie, aangesien hul woordvoerder nie oor sy vorige verklaring wou uitwei nie. Almal buite die ondersoek is in die duister gehou en die bespiegeling het ononderbroke voortgeduur. Dit het gou vir my meer as net frustrerend geraak – ek het dit uiters irriterend gevind.
In my loopbaan as joernalis het ek nog net een geval ervaar waar die media totaal in die duister gehou is – en ja, dit het ons mal gemaak – toe Nelson Mandela vroeg in 2011 in die Milpark-hospitaal in Johannesburg opgeneem is. Daar is niks vir ons gesê nie en natuurlik was ons verbeeldings op hol – soos nou weer die geval was. Soos die verslaggewers oor die Griekwastad-saak verskillende gerugte van verskillende bronne gehoor het, het al die moontlike weergawes van wat gebeur het of wat besig was om te gebeur ons soos afkop hoenders laat rondskarrel. Ons is eenvoudig aan ons eie genade oorgelaat en moes ons eie ondersoek doen in die hoop om uit te vind wat die “ware” storie is.
Gelukkig is hierdie soort ding my kos en in die daaropvolgende maande sou ek keer op keer my kompetisie klop deur skokkende feite oor wat as “die Griekwastad-moorde” bekend geword het, te onthul.
Dit was nie net die media wat daarop uit was om antwoorde te kry nie – die plaaslike inwoners was net so gretig om te weet wie agter die moorde sit. Natuurlik het dit gelei tot wilde bespiegeling, ongegronde gerugte en skaamtelose leuens. Vanselfsprekend het sommige van hierdie gerugte by die Steenkamp-familie uitgekom en hulle was uiters ontsteld daaroor. Hulle het reeds sommige van die bose gerugte gesien wat op die Internet die ronde gedoen het, maar die nuwe stories was gebaseer op artikels wat in Rapport en op OFM se webtuiste verskyn het.
Andries het aan verslaggewers gesê dat hy geskok en sy hart stukkend was nadat hy gelees het wat geskryf is. “Almal het hul eie teorieë oor wat gebeur het,” het hy gesê, maar bygevoeg dat hy “sou wag en kyk wat die polisieondersoek oplewer”.
Hy het voortgegaan om te sê dat Deon se bejaarde ouers ontroosbaar is, maar dat hul dogters ten minste daar is om hulle te vertroos. Marianna het breedvoerig oor haar broer en sy gesin gepraat. Sy het genoem dat haar nefie baie kalm voorkom omdat, volgens haar, “[is] die lig uit klein Don se oë”. Volgens Marianna het Don gehuil toe die polisie aan hom verduidelik het wat tydens ’n nadoodse ondersoek gebeur. Hy het sy grootouers en sy twee tannies daardie Maandag, drie dae ná die moorde, besoek. Marianna wou nie bespiegel nie, maar sy het aan ’n verslaggewer gesê dat die motief vir die moorde moontlik jaloesie kon wees. Sy wou egter nie verder uitwei nie.
“Dit bly steeds ondenkbaar,” het sy gesê.
Marianna was ook bekommerd oor haar ma, aangesien Bettie nog steeds aan skok gely het en nog glad nie gehuil het nie, anders as Don sr. Hy was nie net ontroosbaar nie, maar ook baie emosioneel. Marianna het verduidelik dat Deon “alles” vir haar ma was. Bettie het twee miskrame gehad voor sy op die ouderdom van twee-en-veertig aan haar enigste seun geboorte geskenk het. Deon was agt jaar jonger as Marianna en elf jaar jonger as Elbeth. Volgens Marianna was die hele familie “mal” oor Deon.
“Deon was ’n vriendelike, standvastige en verstandige mens,” het Marianna gesê. “My man, Valdon, het ná ons kuier hier in Desember gesê Deon is so wys. En kon hy die beste uit ’n viertrekvoertuig kry!” Sy het Christel as uiters hardwerkend en deeglik beskryf. Sy het Scrumptilicious, haar onderneming wat tuisgebak verkoop, in die fynste besonderhede beplan en het elke resep oor en oor getoets. En, het Marianna beklemtoon: “Hulle was fantastiese ouers vir die twee kinders. Deon en Marthella was ook amper dieselfde mens.” Sy het afgesluit deur te sê: “Dit is vir almal ’n baie moeilike tyd.”
Daar is min of meer dieselfde tyd ’n onderhoud gevoer met Christel se jonger suster, Marietha Massyn, wat in Port Elizabeth woon. Sy het gesê die gerugte oor die moorde wat die ronde doen “sny diep”. Volgens haar het Deon en Christel baie moeite gedoen om Don en Marthella elke naweek wat hulle kon, ongeag die koste, te gaan haal aangesien die kinders albei koshuisgangers was by hul onderskeie skole in Bloemfontein, ongeveer 330 km vanaf Griekwastad. Tydens die moorde was Don in graad 10 aan Grey-kollege en Marthella in graad 9 aan die Hoër Meisieskool Oranje.
Die verlies van hul dogter, skoonseun en kleinkind het haar ouers, Boelie en Martie Massyn, wat in Jeffreysbaai in die Oos-Kaap woon, deur diepe waters laat gaan, het Marietha gesê. “Deon en Christel was wonderlike, betroubare mense wat aktief by hul gemeenskap betrokke was. My suster was die soort mens op wie se knoppie jy altyd kon druk om te help met iets, al was sy ook hoe besig.”
De Waal het die nadoodse ondersoeke op Woensdag 11 April by die staatslykhuis in Bloemfontein bygewoon. Onder dié ook teenwoordig, was McAnda en brigadier Leonie Ras van die SAPD se eenheid vir slagofferidentifikasie. Dit is nooit maklik om die prosedure te aanskou wanneer ’n patoloog ’n liggaam oopsny nie, maar De Waal het geweet dat dit gedoen moes word. Dit het hom altyd aan ’n slagter laat dink wat die karkas van ’n koei of vark opsny – net baie, baie erger.
Tydens ’n nadoodse ondersoek bestudeer die patoloog die liggaam versigtig vir enige forensiese bewyse wat die ondersoekbeamptes potensieel kan help om ’n misdaad op te los en die skuldige te arresteer. Die liggaam vertel ’n eie storie en kan die oplossing verskaf vir die raaisel van hoe iemand vermoor is. Tydens hierdie spesifieke nadoodse ondersoek het daar drie lede van dieselfde gesin in die helder verligte en skoon, maar yskoue koelkamer op vlekvryestaaltafels gelê en wag op die patoloog se skalpel.
Die afgryslike wonde aan die lyke was die enigste herinnering aan die manier waarop elkeen van die gesin vermoor is. In die dood het dit nou gelyk asof hulle die vrede gevind het wat hulle tydens hul laaste oomblikke ontsê is. Deon en Christel het, op die allerminste, liefde en ouerskap, en sukses en mislukking ervaar, maar vir die arme Marthella sou nie ’n enkele droom ooit waar word nie.
Terwyl De Waal en die ander waarnemers toegekyk het, het dr. Lemaine Fouché begin om die liggame noukeurig te ondersoek. Dit was haar taak om te bepaal watter een van die Steenkamp-gesin eerste geskiet is en dan die volgorde van die gebeure. Die forensiese bewyse sou later gebruik kon word om die betroubaarheid van die getuies se verklarings en/of getuienis te bepaal.
Al drie oorledenes het verskeie koeëlwonde gehad wat vermoedelik veroorsaak is deur die .22-geweer en .357-Magnumrewolwer wat Don langs ’n hek naby die plaashuis “ontdek” het. Fouché moes nou bepaal of die koeëls van die kleiner .22-geweer die lewens van al die Steenkamps geëis het en of dit die .357-rewolwer was, wat meer skade aan ’n liggaam kan aanrig. McAnda het alles volledig gedokumenteer. Die foto’s wat hy geneem het, het hul gewelddadige dood uitgebeeld: van die koeëlgate in hul koue en ontbinde lyke tot Marthella se opgeswelde, pers ooglede.
Soos die nadoodse ondersoek gevorder het, het dit al hoe duideliker geword dat Marthella die meeste van die aanvaller se woede verduur het. Deon is drie keer geskiet. Hy het ’n koeëlwond aan sy regterskouer, een agter in sy kop en een agter sy linkeroor gehad. Christel is twee keer geskiet. Die eerste skoot, in haar rug, het deur haar abdomen gegaan. Die tweede skoot het haar in die kop getref en was die doodskoot.
Marthella het vier koeëlwonde gehad. Sy is twee keer in die bors geskiet en twee keer in die gesig. Volgens Fouché is Marthella eers met die .357-rewolwer in die bors geskiet en het sy heel waarskynlik etlike minute later aan hierdie besering beswyk. Maar dit het geblyk dat Marthella, kort ná sy met die rewolwer geskiet is, twee keer met die .22-geweer in die gesig geskiet is. Sy kon teen hierdie tyd reeds dood gewees het, aangesien die hart ophou om bloed deur die liggaam te pomp wanneer iemand sterf en daar nie veel bloed rondom die .22-koeëlwonde gevind is nie.
Al drie oorledenes se hare is tydens die nadoodse ondersoek gedeeltelik afgeskeer, wat verskeie beserings aan Deon se kop blootgelê het, maar spesifiek ook aan Marthella se kop. Sy het verskeie houe teen die kop met ’n stomp voorwerp, moontlik die kolf van die rewolwer, verduur terwyl sy nog geleef het en met haar aanvaller geworstel het. Deon se beserings kon toegedien gewees het ná sy dood. Wie ook al hierdie drie mense vermoor het, wou seker maak hulle is dood. Die foto’s van die nadoodse ondersoek spook vandag nog by my, veral die beelde van Marthella se lyk vol slaanmerke en kneusplekke. Die skoot aan haar kop het soveel druk op haar skedel geplaas dat haar oë uit haar oogholtes gekom het, wat haar vermink laat lyk het. Dit staan bekend as die “wasbeertjie”-effek.
Fouché en die ondersoekbeampte het oor een raaisel gewonder: Hoekom is Christel nie ook oor die kop geslaan nie? Het sy en haar moordenaar miskien ’n spesiale verbintenis gehad sodat haar moordenaar haar enige onnodige pyn wou spaar? Die forensiese uitslae en bewysstukke wat op die toneel versamel is, blyk aan te dui dat sy eerste geskiet is en onmiddellik gesterf het, wat haar die verskrikking gespaar het om in die oë van haar moordenaar te kyk.
Ras het haar eie teorie gehad oor wat daardie Vrydagaand gebeur het. Haar klein eenheid, wat uit ’n handvol forensiese spesialiste bestaan, het gewoonlik die grusame taak om liggaamsdele vir identifikasiedoeleindes bymekaar te maak ná ’n groot ramp soos ’n vliegtuig- of treinongeluk. Maar hulle word ook na hoëprofielsake ontbied en die Griekwastad-moorde was net mooi so ’n saak, as gevolg van die enorme mediadekking en belangstelling van die publiek.
De Waal en die ander waarnemers in die vertrek het Fouché fyn dopgehou toe sy begin om Marthella se geslagsdele te ondersoek. Hulle was verstom toe sy opmerk dat daar aanduidings is dat Marthella kort voor haar dood seksueel aangerand is. Kon dit ’n motief vir die moorde wees? Dit het die ondersoekspan met meer vrae gelaat.
Die dag ná die nadoodse ondersoek het De Waal lede van die eenheid vir slagoffer-identifikasie en forensiese spanne van Pretoria en Kaapstad na Naauwhoek vergesel om die plaas te deursoek vir enige bewyse wat dalk voorheen gemis is. By hul aankoms het De Waal verskeie bosse blomme en kaartjies met boodskappe teen die hek by die hoofingang van die eiendom opgemerk. Een van die kaartjies het gelui: “Ons gaan julle baie mis. Julle was vir ons baie spesiaal.”
Amper ’n week ná die moorde het ek die Noord-Kaapse polisiewoordvoerder, kaptein Cherelle Ehlers, ’n pragtige donkerkop in haar laat dertigs wat in Kimberley gestasioneer is, gevra hoekom die forensiese spanne dit nodig gevind het om Naauwhoek amper ’n week ná die moorde weer te besoek. Haar reaksie was toepaslik vaag: “Hulle het na die plaas teruggekeer om die moordtoneel te rekonstrueer. Ons [die polisie] wil seker maak dat wat die getuies sê gebeur het, werklik so gebeur het. Ons wil seker maak ons het ’n waterdigte saak wanneer ons hof toe gaan.” Sy het volgehou dat die polisie nog nie enige verdagtes geïdentifiseer het nie.
Ek het my bes probeer om meer inligting uit Ehlers te kry en het haar selfs gevra om vertroulik met my te praat, maar sy wou nie byt nie. Sy het beweer dat sy ook nie op hoogte van sake gehou word nie. Ek het geweet dat sy meer weet as wat sy laat blyk het en ek moes haar bewonder vir haar toewyding aan haar taak. Enigiemand anders sou gebrand het om iemand te vertel wat hulle weet, maar nie Ehlers nie. Of ten minste het sy nie vir my vertel nie.
Haar stilte oor die onderwerp het my net meer vasbeslote gemaak om die raaisel op te los.
Terwyl die polisie op die plaas besig was, het familie en vriende hulle voorberei om die Steenkamp-gesin te groet. Die roudiens sou by die NG kerk in Griekwastad, dieselfde kerk wat die Steenkamp-gesin die oggend van hul moorde bygewoon het, plaasvind. Honderde mense van regoor die land het op die dorp toegesak om die verlies van drie gerespekteerde en geliefde lede van dieselfde gesin te betreur. Klasmaats van Don sowel as Marthella het busse gehuur vir die lang reis vanaf Bloemfontein na Griekwastad.
Die dag van die begrafnis, Donderdag 12 April, het woedende skares, wat oor swak dienslewering betoog het, chaos op die N8-hoofweg veroorsaak en die pad deur Petrusburg versper. As gevolg hiervan het die bus met leerders van Grey-kollege omgedraai en teruggery Bloemfontein toe, maar die meisies van die Hoër Meisieskool Oranje was vasbeslote om by die begrafnis uit te kom. Hulle bus het ’n ompad gevolg deur die Boshofpad as alternatiewe roete te gebruik, en hulle het dit uiteindelik tot 10 km buite Griekwastad gemaak toe een van die bus se bande bars.
Daar was nege leerders en twee ouers, Madelaine van Heerden en Marilize Moolman, in die bus. Die twee vroue het gereken dat hulle dit al só ver gemaak het; hulle was nie van plan om moed op te gee nie. “Niks,” het Van Heerden later gesê, “sou ons keer om die diens by te woon nie.” Volgens haar het hulle ’n bakkie wat verby hulle gery het en aan ’n lid van die polisie se veediefstaleenheid in Upington behoort het, voorgekeer. Hulle het almal agter op die bakkie geklim het en die man het hulle toe Griekwastad toe geneem. Hulle was ’n halfuur laat, maar die gemeente het vir hulle gewag.
“Ons het ’n SMS gestuur en gesê ons gaan laat wees,” het Van Heerden gesê. “Hulle het darem spesiaal vir ons gewag. Die harte het maar vinnig geklop toe ons uiteindelik die kerk binnestap.”
In die kerk se voorportaal is die begrafnisgangers met verskeie foto’s van die Steenkamp-gesin begroet. Daar was ook ’n paar foto’s voor die preekstoel. Marthella se foto’s het ’n pragtige jong meisie op die drumpel van haar lewe vertoon, met die potensiaal om uitsonderlike hoogtes te bereik. Tog is haar jong lewe, saam met dié van haar geliefde ouers, tragies kortgeknip.
In die kerk het mense in die banke ingedruk gesit. Elke ry was oorvol; dieselfde met die balkon. Ekstra stoele moes gehaal word en dit is in die paadjies tussen die rye kerkbanke geplaas.
Terwyl die media in die kerk links voor in die banke ingedruk gesit het, waar hulle die begrafnisgangers en veral Don goed kon sien, het ek op een van die stoele agter gaan sit. Hierdie mense het die reg gehad om oor hul geliefdes te treur sonder dat ek hulle aanstaar en inbreuk maak op hul privaatheid. Ek kon nietemin vanuit my posisie duidelik die pyn op hulle gesigte sien en ek kon selfs hoor wat hulle vir mekaar sê.
Don het links van die preekstoel in die heel eerste bank gesit met ’n ouma weerskante van hom. Sy oupas het langs hul vrouens gesit. Almal van hulle het verslae gelyk.
In die tweede kerkbank, reg agter Don, was Andries en sy gesin, asook Heckroodt en sy familie. Almal was daar om aan Don al die ondersteuning te bied wat hy nodig gehad het om finaal sy ouers en suster te groet.
Don het ontsettend hartseer gelyk daar waar hy gesit het tussen die twee vroue wat sy ouers in die wêreld gebring het. Maar dit het ook gelyk asof hy kwaad en gefrustreerd is oor die hordes fotograwe en joernaliste wat teenwoordig was, alhoewel hy sy bes gedoen het om dit weg te steek. Die verteenwoordigers van die media was egter nie in die minste gepla dat hulle blatant onsensitief by hierdie geleentheid optree nie. En net om te bewys dat dit geen gewone begrafnis is nie, was hul kameras permanent op Don gerig.
Mary-Ann Palmer, Rapport se fotograaf wat uit Johannesburg vir die begrafnis by my aangesluit het, het my later die honderde foto’s gewys wat sy van Don geneem het. Op die foto’s kon ek die woede sien smeul net onder die oppervlak van sy hartseer uiterlike. Op sommige foto’s het hy die mense agter die kameras aangegluur.
Otto het die diens gelei en sy aangrypende woorde het gou almal se aandag geboei. Griekwastad het vandag die verlies van sy kinders betreur, het hy gesê, en wil nie getroos word nie.
“Maar ons kan nie net by die tragiese gebeurtenis verbystap nie; ons moet dit hanteer. Ons harte is seer; ons is bedruk. Ons staan verslae as ons dink dat van so ’n gesin net een, klein Don oorgebly het.”
Hy het die Steenkamps beskryf as ’n gesin wat “diep spore” in die dorp getrap het.
“Ons mis hulle vanoggend; ons gaan hulle nog baie mis. Hulle [Deon en Christel] is twee mense wat so in die gemeenskap geleef en gewerk het; ons weet nie hoe ons sonder hulle gaan klaarkom nie. Ek het hulle geken as twee mense wat alles tot eer van God en sy Woord gedoen het. Van die twee kinders was Marthella die ekstroverte, sprankelende een; Don was die stil een.”
Hy het gesê dat daar baie onbeantwoorde vrae is: “Wie doen so iets? Hoekom doen iemand so iets? Hoe kan een mens so wreed wees?” Maar hy het gewaarsku dat niemand oor die antwoorde beskik nie; almal sou moes wag tot die polisie hul ondersoek voltooi het.
“Bloed het gevloei en dit roep na geregtigheid. Geregtigheid kan nooit ’n oproep om wraak wees nie. God is nie afwesig nie; Hy het nie sy rug op die wêreld gedraai nie,” het Otto gewaarsku.
Hy het ’n beroep op Griekwastad gedoen om ’n stukkie van God se paradys in hierdie verskriklike tyd te wees. Vaders moet na hul seuns draai en moeders na hul dogters om dit wat stukkend is, heel te maak. Almal kan vergewe word, het Otto gesê – selfs ’n moordenaar. Hy het verwys na die moordenaars wat aan beide kante van Jesus gekruisig is. Toe een van die manne volgens die Bybel vir Jesus om vergifnis smeek, het Jesus na hom gedraai en gesê: “Vandag sal jy saam met my in die paradys wees.”
Otto het verskeie kere herhaal dat enigiemand vergewe kan word, indien hy of sy hul sondes bely en God om vergifnis vra. Dit was amper asof hy by die moordenaar gepleit het om te bely, maar ek het getwyfel of daar enigsins ’n kans was dat dit sou gebeur.
In die begrafnisprogram wat aan almal voor die diens uitgedeel is, het die Steenkamp-familie die volgende boodskap vir almal gehad: “Vandag neem ons afskeid van Deon, Christel en Marthella. Alhoewel ons harte bloei, weet ons dat ons Hemelse Vader aan elkeen van ons langdurige troos sal gee, dat Sy ewigdurende arms ons sal omvou en dat Hy ons volledig sal ken. Hy omarm ons ten volle en omring ons met Sy teenwoordigheid sodat niks ons van Sy liefde kan skei nie.
“Die pyn is nie vir ons maklik nie, maar ons word deur Hom getroos. Ons grootste troos is dat daar ’n einde aan die droefheid sal wees en dat Hy sal kom om Deon, Christel en Marthella te kom haal en na ’n plek te neem waar daar geen pyn en lyding is nie.
“Ons sou graag wou hê dat julle [die oorlede Steenkamps] nog ’n rukkie langer saam met ons moes wees sodat ons nog een keer kon gesels en lag, of selfs net kon luister hoe julle mekaar terg. Ons dank die Vader egter vir die kosbare herinneringe en die wonderlike tye waarmee julle ons lewe verryk het.”
’n Paar dae later is die drie Steenkamps veras, in plaas van om in die familiebegraafplaas begrawe te word. Generasies van Steenkamps is in daardie begraafplaas begrawe, maar Deon, Christel en Marthella sou nie by hulle aansluit nie. Alhoewel die redes hiervoor steeds duister is, moes die familie besluit het dat dit beter vir alle betrokkenes sou wees, weens die aard van die gesin se dood en die publiek se nuuskierigheid oor die saak, om eerder ’n privaat verassing te hou.
Ná die kerkdiens het die begrafnisgangers by ’n saal aan die ander kant van die dorp bymekaargekom, waar kos en drinkgoed aan hulle bedien is. Terwyl almal weer op hoogte van mekaar se sake gekom het, veral familielede wat mekaar lanklaas gesien het, het Don ’n eensame figuur geslaan. Hy het tussen die mense rondgedrentel sonder om regtig met iemand te praat. Dit het gelyk asof mense hom vermy – hy moes baie bewus gewees het van die baie pare oë wat elke beweging van hom dopgehou het. Hy het geweet wat oor hom in die media gesê word en van die gerugte wat van die een skinderbek na die volgende oorgedra is. Ongeag of hy die moorde gepleeg het of nie, het dit nie saak gemaak nie – baie het hom reeds skuldig bevind.
Ek het rondgeloop en met ’n paar mense gepraat, maar ek was versigtig om nie hul privaatheid te veel te versteur nie. Ek het begryp dat nie almal gretig was om op so ’n tydstip met ’n joernalis te praat nie, maar Paul Botha, die Steenkamp-gesin se buurman en Don se wettige voog, was gewillig om te gesels.
Toe ek die onderwerp van sy voogdyskap opper, het hy senuweeagtig gelyk en ek kon verstaan hoekom. Botha se dogter was reeds die teiken van onbesonne, smerige uitlatings by haar skool in Kimberley.
Ná my gesprek met Botha het ek en Palmer Naauwhoek toe gery. ’n Polisiebeampte het steeds die hoofingang bewaak. ’n Paar plaaslike inwoners het daar rondgestaan en met die e.tv-joernalis Earl Coetzee en sy videoman gepraat. Toe ek naderkom, het die mense weggedrentel en ek het ’n paar woorde met die e.tv-ouens gewissel. Palmer het ’n paar foto’s van die hek geneem, wat nou met blomme en kaartjies versier was.
Verskeie minute later het ons ’n paar polisievoertuie en bakkies van die plaashuis in ons rigting sien aankom. Terwyl een van die polisiebeamptes die hek vir die voertuie oopgemaak het, het ek vir De Waal, wat in een van die voertuie was, gevra of ons die eiendom kon binnegaan om ’n paar foto’s van die huis te neem. Hy het gesê dat die polisie hul werk afgehandel het en dat die eiendom aan die Steenkamp-familie oorhandig is. Ons moes hulle toestemming kry om die eiendom te betree.
Toe die klein konvooi in die verte verdwyn, het ek en Palmer saam met Coetzee en sy videoman in sy motor gespring en by Naauwhoek ingeglip. Toe ons eers binne was, het ons teen die heining rondom die huis uitgeklim en soveel foto’s moontlik geneem. Coetzee het selfs ’n kort uitsending met die huis op die agtergrond opgeneem.
Ek het vinnig my eie ondersoek gedoen en gekyk of daar enige selfoonontvangs was. My MTN-selfoon het goed gewerk. Ek het my hande ook verskeie kere geklap om te bepaal hoe ver klank in die gebied trek. Die klank het na my toe terugweergalm, wat beteken dat die klank van geweerskote definitief ’n ent in die oop, leë ruimtes moes getrek het. Verskeie minute ná ons onwettige betreding het ons van die verlate Naauwhoek weggery, met niemand wat iets wys geword het nie. Dit wil sê, tot nou.
Die plaaslike koerante het teen hierdie tyd daagliks briewe van die publiek ontvang, waarin die skrywers gretig was om hul mening oor die saak te gee. Een artikel in Volksblad se opskrif was: “Griekwastad en massas se nuuskierigheid”. Die joernalis André Botha het die situasie perfek opgesom toe hy geskryf het dat alhoewel dit natuurlik vir mense is om oor die moorde te gesels en te bespiegel oor wie die verskriklike dade gepleeg het, dit nie een of ander speurreeks op televisie is nie.
“Dis regte mense wat betrokke is,” het hy geskryf, “regte mense wat seer het, regte mense wat geliefdes verloor het. En regte mense wat met ’n hartseer werklikheid moet saamleef.”
Botha het die publiek gesmeek om nie te bespiegel en bose gerugte te versprei nie, aangesien die Steenkamp-familie en Griekwastad nog die moorde emosioneel moes verwerk.
“Kom ons los dit vir die polisie om die saak op te los. Hulle werk hard om dit te doen. Dis hul werk, nie om mense se nuuskierigheid te bevredig nie. Kom ons hou ons gedagtes vir onsself. Kom ons wag vir die waarheid … En kom ons gee die Steenkamps se geliefdes die ruimte om hierdeur te kom,” het hy geskryf.
In ’n openlike brief aan ’n koerant het ’n Griekwastad-inwoner gesê dat sy verbaas is oor hoeveel “speurders” daar in Suid-Afrika is wat oor “inligting” beskik, maar dat daar steeds so baie onopgeloste misdade in die land is. Hul klein gemeenskap is geruk deur die drie moorde, het sy geskryf; dit is ’n verskynsel wat grotendeels onbekend is aan hulle in hul plattelandse omgewing. Daar was ongeveer twee jaar gelede ’n plaasaanval in ’n ander Noord-Kaapse dorp, maar dit was niks in vergelyking met die statistieke van plaasmoorde in provinsies soos Gauteng en Mpumalanga nie.
Die briefskrywer het voortgegaan deur te sê dat in plaas daarvan dat almal mekaar ondersteun en dankbaar is dat dit nie met hul eie gesin gebeur het nie, hulle meer geïnteresseerd is in die bevrediging om eendag te kan sê: “Ek het julle mos gesê.”
“Selfs al het ons feite, is dit nie ons plek om te oordeel nie. Vra jouself af: Is jy deel van die probleem of van die oplossing? Het jy vandag bygedra om die wêreld ’n beter of ’n slegter plek te maak? Draai net een maal die prentjie om,” het sy afgesluit.
Tien dae ná die moorde het Volksblad ’n artikel gepubliseer waarin daar vir die eerste keer beweer is dat “’n tienerseun” die polisie se enigste verdagte is. Dit was groot nuus. Die koerant het egter nie die naam van die seun genoem nie, aangesien die wet die bekendmaking van minderjariges se identiteit verbied, maar natuurlik het almal wat iets oor die saak geweet het, onmiddellik vermoed na wie Volksblad verwys.
Ek was nie te gelukkig met die artikel nie en nie net omdat hulle my koerant voorgespring het nie, maar ook omdat dit aan laster gegrens het. Ons het almal vermoed na wie hulle verwys, maar die koerant wou dit nie op rekord stel nie en selfs die polisie het dit op daardie stadium ontken. Volgens die artikel was daar net een skieter. Die artikel het ook beweer dat Marthella waarskynlik buite die huis geskiet is voor sy binnetoe gesleep is.
Natuurlik sou die bespiegeling en gerugte hierna net toeneem.
In ’n onderhoud met Volksblad het Deon se suster Marianna aan die koerant gesê dat haar broer en sy dogter daarvan gehou het om televisie te kyk, terwyl Don en sy ma eerder verkies het om ander goed te doen. Don, het sy gesê, het die buitelewe geniet en daarvan gehou om mense poetse te bak. Toe sy gevra is of ’n buitestander dalk vir die gesin se dood verantwoordelik kon wees, het Marianna gesê dat haar broer ’n groot man van 140 kg was. Hy sou nie ’n maklike teiken wees wat net deur enigiemand aangeval kon word nie.
“Christel was bedag op sekuriteit en het altyd die sifdeur by die kombuisdeur gesluit,” het Marianna gesê. “Sy sou haar beslis teëgesit het tydens die aanval. Daarom dink ek hulle is waarskynlik onverhoeds betrap.”
Teen hierdie tyd was ek desperaat vir antwoorde en ek het die polisie weer genader. Daar is vir my gesê dat behalwe dat hulle nie enige verdagtes gehad het nie, hulle ook nie geweet het wat die motief vir die grusame moorde is nie. Natuurlik het ek vermoed dat hulle maar alte goed geweet het, maar ek het ook geweet dat as gevolg van die aard van die misdaad en Don se ouderdom, hulle niks sou weggee totdat hulle ’n waterdigte saak teen hom gehad het nie. Maar ander mense was nie heeltemal so omsigtig nie. Marianna het in die Volksblad-artikel daarop gesinspeel dat jaloesie die motief vir die moorde kon wees; iets wat op daardie stadium baie sin gemaak het.
Twee weke ná die moorde het die polisie steeds geweier om oor hul ondersoek uit te wei. Hulle het enige navrae van die media na die enigste amptelike persverklaring verwys. Hierdie keer het polisiewoordvoerder Cherelle Ehlers egter amptelik ontken dat Don ’n verdagte is.
“Ons kan nie iemand net op grond van bespiegelinge arresteer nie. Wanneer ons ’n arrestasie maak, gaan dit op grond van die verklarings, uitslae van die lykskouing en die forensiese en ballistiese toetse wees. Die arrestasie sal deur bewyse ondersteun word,” het sy ferm gesê.
Ek het al hoe meer gefrustreerd geraak met die gebrek aan samewerking van die polisie. My redakteurs wou die publiek se vrae oor die moorde beantwoord en almal het van my verwag om die antwoorde te verskaf. Dit was baie moeilik, amper onmoontlik, om die waarheid onder hierdie omstandighede uit te vind, maar in die daaropvolgende weke en maande sou ek baie naby daaraan kom om die Griekwastad-moorde op te los.
Inderdaad baie naby.