6

Die inhegtenisneming

Verslaggewers floreer daarop om ander koerante voor te spring met die nuus; om eerste te wees om die storie te plaas. Maar met die naderende inhegtenisneming van die verdagte in die Griekwastad-moorde was die druk baie groot om die storie eerste te plaas. Elke verslaggewer wat aan die storie gewerk het, was hard besig om al hul kontakte “te bearbei” sodat hulle enige beskikbare inligting voor enigiemand anders sou kry. Aangesien die verdagte steeds minderjarig was, het ons geweet dat die polisie waarskynlik sou probeer om sy inhegtenisneming streng geheim te hou. En niemand van ons kon 100% seker wees dat die polisie wel ’n verdagte het nie; dit was alles net bespiegeling totdat hulle optree.

Almal van ons in die media was in dieselfde bootjie. Daar was nie veel wat ons kon doen nie behalwe om te sit en wag, en vurig te hoop dat ons ingelig sou word wanneer die Nasionale Vervolgingsgesag gereed was om hul “belangrike aankondiging” te maak, of wanneer die polisie uiteindelik iemand in hegtenis geneem het.

Op Dinsdag 21 Augustus, kort ná 12:00, was ek in Sasolburg op besoek aan my ouers. My werkweek by Rapport was van Dinsdag tot Saterdag, maar ek het daardie Dinsdag afgehad nadat ek baie oortyd gewerk het. Ek was besig om met my jongste seun te speel en het net nou en dan die boodskappe op my BlackBerry gelees. Soos die toeval dit wou hê, het ek die SMS en e-pos van Tania Birch, die adjunkdirekteur van openbare vervolging, slegs ’n halfuur nadat sy dit gestuur het, gesien. Dit het gevoel asof my hart byna gaan staan toe ek die inhoud van die boodskap lees: ’n Sestienjarige verdagte is sopas by sy skool in hegtenis geneem weens die moorde op Deon, Christel en Marthella Steenkamp.

Aangesien ek geweet het dat ek die nuus so gou moontlik moes uitkry voor ons deur ’n ander koerant voorgespring word, het ek onmiddellik probeer om my nuusredakteur in Johannesburg in die hande te kry. Uiteindelik het dit waarvoor ons almal gewag het, sopas gebeur. Op daardie kritieke oomblik het my BlackBerry ophou werk en ek moes dit opnuut weer aanskakel. Dit het verskeie lang en stresvolle minute geneem en ek kon nie help om ’n paar vloekwoorde te los nie. Ek het nie geweet of enigiemand anders van die inhegtenisneming in kennis gestel is nie. Hoe langer dit vir my neem om die boodskap te stuur, hoe groter was die moontlikheid dat een van my mededingers die nuus eerste sou plaas. Ek het in my desperaatheid selfs Mediapark se skakelbord gebel, maar niemand het geantwoord nie. Ek het die uitdrukking op my ma se gesig gesien terwyl sy my dopgehou het. Sy moes gedink het ek het mal geword.

Uiteindelik het ek daarin geslaag om die boodskap na Rapport se nuuskantoor deur te kry en toe het ek die storie onmiddellik op Twitter geplaas. Natuurlik het dit soos ’n veldbrand oor al die sosialemedianetwerke en ander platforms versprei. News24 het die inhegtenisneming onmiddellik op hul webwerf geplaas, maar joernaliste van Volksblad en OFM wou amptelike bevestiging hê voor hulle dieselfde doen.

Hulle het kaptein Ehlers gekontak, maar sy kon steeds nie haar stilswye verbreek nie en wou nie bevestig dat enigiemand in hegtenis geneem is nie. Maar Volksblad en OFM het ander kontakte gehad wat later bevestig het dat die inligting wat ek ontvang het en toe reeds aan my koerant oorgedra het, inderdaad waar was.

In die tussentyd was die verdagte besig met net nog ’n dag by Grey-kollege toe hy na Volsteedt se kantoor ontbied is. Daar het De Waal en ’n kollega op hom gewag.

Kolonel Wilmo Vermeulen en ’n ander speurder was ’n paar honderd meter gestasioneer van die ingang na die plaas waar die verdagte die afgelope paar maande gewoon het. Vermeulen het geduldig op die teken van De Waal gewag om die eiendom met die voorafgereëlde lasbrief te betree, om die verdagte se slaapkamer vir bewyse te deursoek.

Vermeulen was die waarnemende bevelvoerder van die Valke in Kimberley en het direk onder De Waal gewerk. In die dekade dat die twee van hulle saamgewerk het, het hulle al baie sake opgelos. Vermeulen was van die begin aktief betrokke by die ondersoek na die Griekwastad-moorde alhoewel sy deelname agter die skerms plaasgevind het.

Die skok was duidelik op die seun se gesig te sien toe hy die skoolhoof se kantoor betree. Skuldig of nie, sy maag moes op ’n knop getrek het en sy hart moes woes geklop het toe hy besef wat volgende gaan gebeur. De Waal het handboeie uitgehaal en aan die seun gesê dat hy weens drie moorde gearresteer word. Toe het hy die verdagte se hande agter sy rug geboei.

Vermeulen is omstreeks dieselfde tyd ingelig dat hy kon voortgaan om die plaas binne te gaan om op enige relevante bewyse beslag te lê. Heckroodt en die verdagte se regspan is ingelig oor die inhegtenisneming. Heckroodt kon hom nie betyds na Bloemfontein haas nie en het sy neef, Francois Krös, Heckroodt se suster se seun, in sy plek gestuur.

Krös, in sy laat twintigs, is ’n ywerige valskermspringer en adrenalienverslaafde. Hy is ’n aantreklike man van gemiddelde lengte met kort, dun swart hare. Hy het by die skool aangekom net toe die geboeide seun tydens middagete oor die skoolgronde na sy koshuis vergesel is, wat beteken het dat die meeste van sy vriende en klasmaats kon sien wat gebeur. Almal van hulle het geskok en ietwat verward gelyk. Volsteedt, wat die optog gelei het, het kwaad en ’n bietjie verleë gelyk soos die baie oë hul vordering dopgehou het. Die verdagte se gesig was uitdrukkingloos. Hy het oogkontak met almal vermy en verkies om eerder na die grond as na sy vriende te kyk.

Enigeen wat nie gesien het hoe die seun en sy geleide vinnig verbyloop nie, is oor die inhegtenisneming ingelig via SMS-boodskappe van hul vriende. Hulle moes gewonder het of dit beteken dat hy wel die ondenkbare gedoen het en drie onskuldige mense uitgewis het. Die toesighouer wat na die seuns in die koshuis omgesien het, het die groep by die ingang ontmoet voor hy hulle boontoe, na die verdagte se koshuiskamer, gelei het. De Waal en sy kollega het die kamer deeglik deursoek vir enige items wat die seun met die moorde kon verbind, terwyl die verdagte net daar gestaan en niks gesê het nie.

Tydens die soektog het De Waal ’n punt daarvan gemaak om nou en dan na die verdagte te kyk vir enige tekens van kommer of vrees op sy gesig, maar die seun het net emosieloos daar bly staan. Volsteedt, wat baie omgekrap was oor die onaangekondigde inhegtenisneming, kon nie sy oë van die seun afhou nie. Dit het gelyk asof hy na antwoorde op daardie uitdrukkinglose gesig soek, of miskien het hy homself probeer oortuig dat hierdie sestienjarige werklik drie mense in ’n oogwink vermoor het.

’n Paar honderd kilometer weg was Vermeulen besig om swaar te kry met die uitvoering van sy pligte. Die oomblik toe hy die huis binnegaan en deur die seun se goed begin soek, het Hanlie hom begin uitskel. Vermeulen het probeer om die items in te samel waarop die polisie besluit het voor hulle die seun in hegtenis sou neem, maar toe ’n paar ander items ook sy aandag trek, het hy dit ook gekonfiskeer.

Tydens die soektog het Hanlie nie vir ’n sekonde stilgebly nie. Sy het die polisiebeamptes presies vertel wat sy van hulle en hul “sogenaamde” ondersoek dink. In haar fanatiese geloof dat die seun onskuldig is, het sy beweer dat die beamptes wat besig was om sy besittings te konfiskeer, “saamsweer” om hom vals te beskuldig. Maar wie kon haar blameer? Sy is ’n liefdevolle ma wat ’n gebroke kind in haar huis geneem het en hom nou met alle mag wou beskerm soos sy met al haar eie kinders sou doen. Haar liefde het haar blind gemaak vir die moontlikheid dat hy die motief sowel as die geleentheid gehad het om die grusame moorde te pleeg. Sy sou nooit in staat wees om te glo dat hy skuldig is aan so ’n misdaad nie, selfs al sou hy skuldig bevind word.

De Waal het net ná 12:00 weer saam met die verdagte deur die skool se gange gestap, na die parkeerterrein waar sy dubbelkajuitbakkie geparkeer was. Hierdie keer was die hele Grey-kollege reg vir hulle verskyning en almal het oopmond gestaar na die jong man in handboeie. Dit het De Waal nie in die minste gepla nie. Om die waarheid te sê, die hoofondersoekbeampte kon selfs die inhegtenisneming opsetlik tydens die pouse uitgevoer het om die seun soveel as moontlik in die verleentheid te stel. Miskien sou hy sy humeur verloor of ineenstort en begin huil. En as hy emosioneel genoeg word, kon hy dalk skuld beken. Maar in hierdie geval was De Waal te optimisties; die seun het nooit geweifel nie.

Toe De Waal sy bakkie bereik, het hy ’n sug van verligting geslaak. Daar was geen tekens van flitsende kameras of verslaggewers wat hom met vrae peper nie – die parkeerterrein was basies verlate. Die laaste ding wat hy wou hê, was dat die inhegtenisneming in ’n mediasirkus moet ontaard. Om die waarheid te sê, hy het verkies om die media te vermy en almal wat van die inhegtenisneming geweet het, moes plegtig belowe om dit geheim te hou. De Waal het sy verdagte op die agtersitplek van die bakkie laat sit voor hy na sy horlosie gekyk en probeer bereken het hoe lank dit sou neem om Kimberley toe te ry.

Aangesien die moorde in die jurisdiksie van die Noord-Kaap gepleeg is, moes die seun volgens wet daar opgesluit word en binne agt-en-veertig uur ná sy inhegtenisneming voor ’n landdros verskyn in die dorp waar die moorde gepleeg is. Maar omdat hy nog steeds minderjarig was, moes hy in ’n sentrum vir jeugoortreders opgesluit word en daarom is hy na Kimberley in plaas van Griekwastad geneem.

De Waal het Vermeulen gebel en hom ingelig dat hulle die verdagte ná 13:00 in Kimberley sou hê. Hy het gevra of alles goed verloop het op die plaas, en Vermeulen het hom toe van Hanlie Heckroodt se optrede vertel. De Waal het net geglimlag. Hy het gegroet en met die bakkie in die rigting van Nelson Mandela-rylaan begin ry, op pad na die N1-hoofweg. Hy het in ’n suidelike rigting op die hoofweg gery voor hy ’n paar kilometer verder op die N8-hoofweg afgedraai het. Dit was 150 km na Kimberley op die N8-hoofweg, maar daar was verskeie stop-en-ry-tekens langs die pad weens padwerke en die rit het twee keer so lank geneem.

By een van hierdie stopplekke het De Waal die radio aangeskakel om op OFM na die 13:00-nuus te luister. Hy het gedurig na die seun in sy truspieëltjie gekyk. Soms het die seun teruggestaar en ander kere weer weggekyk. Niemand het baie gepraat terwyl hulle vir die padwerkers, wat besig was om aan dele van die hoofweg te werk, gewag het om hulle deur te laat nie. Dit het stadig gegaan, maar hulle het geleidelik hul bestemming genader, waar Heckroodt en die seun se prokureur op hulle gewag het.

Die OFM-nuusleser se opgewonde stem het presies om 13:00 aangekondig dat hulle nuus oor die Griekwastad-moorde het. Dit het almal in die motor laat regop sit en De Waal het die radio harder gedraai. Ná die nuus se kenwysie het die nuusleser met haar uitsending van vyf minute begin.

“Volgens Rapport is ’n sestienjarige seun vroeër vandag by ’n skool in Bloemfontein in hegtenis geneem …” het sy gesê.

De Waal is heeltemal onkant betrap toe hy in sy truspieëltjie kyk en sien dat die seun sowaar glimlag. Die selfvoldane bliksem, het hy gedink. Toe die seun besef dat De Waal na hom staar, het hy eenvoudig by die venster uitgekyk. Was hy ’n psigopaat, of het hy net die aandag geniet? De Waal, wat nie geweet het wat om daarvan te dink nie, het weer op die pad gefokus en vinniger gery.

Die ervare polisiebeampte was geskok deur die seun se arrogansie. Wie sou glimlag oor sy eie inhegtenisneming? ’n Paar dae gelede het iemand genoem hoe die seun se houding verander het en dat dit lyk asof hy die aandag geniet wat hy as gevolg van die tragedie ontvang. ’n Onskuldige persoon, om nie eers te praat van ’n onskuldige tienerseun nie, sou van vrees gebewe het of in trane wees, het De Waal gedink; hy sou nie selfvoldaan glimlag net ná sy inhegtenisneming aan die wêreld verkondig is nie.