7

Die inwoners van Griekwastad

Sou die verdagte op borgtog vrygelaat word, of sou die landdros besluit dat hy ’n gevaar vir die publiek is en in aanhouding moet bly? Dit was die vraag op almal se lippe daardie Donderdag 23 Augustus, die eerste dag van die seun se verhoor om borgtog. Ek het die vorige dag van Johannesburg af gery sodat ek die aand in Griekwastad kon deurbring om die gemoedstemming van die inwoners te peil. Terwyl ek met sommige van die plaaslike inwoners gepraat het, het dit duidelik geword dat die meeste van hulle vermoed het dat die seun by die moorde betrokke is, maar met sy inhegtenisneming het hulle vir die eerste keer besef dat ’n koelbloedige moordenaar tussen hulle kon gewoon het. En ’n tienderjarige moordenaar daarby. Dit was ’n skrikwekkende idee en een wat hulle sou sukkel om te verwerk.

In teenstelling hiermee het die seun se familie en vriende net die teenoorgestelde geglo; hulle het eenvoudig geweier om te glo dat hy ’n moordenaar kon wees. Hulle het onwrikbaar bly glo dat die polisie die verkeerde persoon in hegtenis geneem het; sommige het selfs gesê dat die polisie eenvoudig te lui was om die werklike moordenaar op te spoor. Volgens hul mening het die polisie ’n sondebok gesoek weens die geweldige mediabelangstelling in die saak en die seun was die gerieflikste en maklikste teiken.

Griekwastad het twee kroeë: Hunter’s Pub & Grill en ’n ander, kleiner kroeg by die Proviand-restaurant. Hier het die meeste plaaslike boere elke tweede aand byeengekom om skindernuus uit te ruil, hul jagprestasies te bespreek en oor boerdery in die algemeen te gesels. Vir pret het sommige van die ouens saam dronk geword en ná donker koedoes op hul plase gaan jag.

Waar die meeste mense nie moet drink en bestuur nie, moes hierdie mense nie toegelaat word om te drink en te jag nie. Ek is op een van hierdie uitstappies saamgenooi, maar het dadelik die uitnodiging van die hand gewys aangesien ons klein groepie van vyf teen daardie tyd reeds verskeie bottels brandewyn uitgedrink het. My gasheer was niemand anders nie as Jacques Steenkamp, ’n boer en een van Deon Steenkamp se neefs, wat ongeveer 10 km wes van Griekwastad woon. Steenkamp, wat ek daardie aand ontmoet het, was in elke opsig ’n groter as lewensgroot karakter. Ek het doodmoeg by Proviand aangekom ná ’n lang rit van Johannesburg af. Henriëtte Truter het my gegroet en gesê dat ek moet deurstap kroeg toe om iemand “spesiaal” te ontmoet.

Ek het die kroeg binnegestap waar ’n groot man met ’n bril, moontlik in sy laat veertigs, met ’n drankie in die hand gesit het. Hy het my met ’n bulderende stem gegroet. Toe Henriëtte ons aan mekaar voorstel, het hy my hard op die rug geslaan en my hand in syne verbrysel. Hy wou my duidelik probeer intimideer, maar op ’n speelse, onskadelike manier.

“So jy is die bliksem wat my so baie probleme gee?” het hy vrolik gesê.

“Ekskuus?”

“Ja, jy! Jy’s die een wie se naam altyd by daardie berigte in Rapport verskyn: ‘Jacques Steenkamp in Griekwastad’ of ‘Jacques Steenkamp in Kimberley’. Weet jy hoeveel probleme jy vir my veroorsaak? Almal dink dis ek wat daardie berigte skryf!”

Ek het lekker saam met die res van die manne in die kroeg gelag oor die manier waarop Steenkamp sy griewe dramatiseer. Hy was ’n aangename mens, maar iemand wat kwaai gedrink het. Ek het om verskoning gevra vir die ongerief wat ek veroorsaak het en my naamgenoot het dadelik vir my ’n drankie, die eerste van vele, bestel. En toe het ons begin gesels.

Die groep in die kroeg het baie in my en my soort werk belanggestel, maar ek het vermoed dat hulle slegs wou weet of ek dink die seun borgtog gaan kry of nie. Ek het aan hulle verduidelik dat ek slegs ’n waarnemer is, maar dat as ek moes raai, ek sou sê dat hy ’n 50/50-kans het – dit het op die ou end alles afgehang van wat die landdros besluit. Die seun se lot was in sy hande.

Een van die ouens het gesê: “Die polisie se saak moet tog sekerlik baie sterk wees? Ek bedoel, hulle glo hy het drie mense doodgemaak, so hy behoort vir lank agter tralies te sit, nè?”

Soos reeds genoem is Proviand regoor die polisiestasie geleë, met die landdroshof onmiddellik links daarvan. Die kroeg, met sitplek vir ongeveer tien mense, was weggesteek in ’n kamer aan die agterkant van die gebou. ’n Deur het op die stoep oopgemaak, wat op die hofsaal uitkyk.

“Ek’s nie seker van die polisie se saak nie,” het ek gesê, “maar ek hoop dis waterdig om hulle onthalwe. Die rede waarom ek glo enige kant kan wen, is as gevolg van die verdagte se ouderdom. Hy’s nog steeds minderjarig en sy regte word deur die Wet op Kindergeregtigheid beskerm. Die landdros sal moet besluit of hy ’n gevaar vir die publiek inhou of nie.”

Op daardie stadium het ek en my kollegas die sterkte van die staatsaanklaer se saak betwyfel omdat die polisie alles so stilgehou het tot en met die inhegtenisneming. Ons het vermoed dat hulle nie oop kaarte met ons speel nie omdat hulle te veel foute tydens die ondersoek gemaak het en nou na strooihalms gryp met sy inhegtenisneming.

Ek en my nuwe drinkebroers het voortgegaan om die saak nog ’n paar uur lank te bespreek voor ek my verskoon het en na my gastehuis toe is, wat ook aan die eienaars van Proviand, Anton van Niekerk en sy pragtige vrou, Elsa, behoort. Elsa het die 1,5 km in haar silwer Volkswagen Jetta afgelê om die gastehuis vir my te kom oopsluit.

Aangesien ek soort van ’n gereelde besoeker geword het, het sy altyd probeer om die beste kamer vir my te reserveer, met die enigste dubbelbed in die gastehuis asook ’n lessenaar, ’n bad en ’n stort. Die kamer is ook effens apart van die ander, wat ’n verligting was aangesien die kamers dikwels deur kontrakwerkers oorgeneem is. Dié het gewoonlik na die plaaslike township gegaan, hulle by ’n sjebien dronk gedrink en dan baie raserig laat die nag teruggekeer.

Soos gewoonlik het Elsa aangebied om ’n vars pot van haar heerlike koffie te maak, maar ek het haar vriendelike aanbod van die hand gewys aangesien ek wou gaan slaap. Sy het gegroet en ek het gesê dat ek net ná 06:00 reg sou wees vir ontbyt. My fotograaf, Mary-Ann Palmer, wat saam met my by die Steenkamps se begrafnis was, het Proviand baie vroeër verlaat en was reeds vas aan die slaap in haar kamer.

Ek en Palmer het al ’n aantal jare saamgewerk; eers toe ek nog vir Beeld gewerk het en nou by Rapport. Sy is ’n uitstekende fotograaf en net soos ek is sy in haar vroeë dertigs. Palmer het daarvan gehou om oor die saak te gesels op die lang reis na Griekwastad en het bespiegel oor wie betrokke was en wat die motief kon wees. Ek moet erken dat haar eindelose samesweringsteorieë my soms mal gemaak het, maar sy was per slot van rekening geregtig op haar eie opinie. En dit het die reis aansienlik vinniger laat verbygaan.

As gevolg van al die opwinding van die vorige paar uur het ek gesukkel om aan die slaap te raak. Ek het maande lank die Griekwastad-moorde vir Rapport gedek sonder om ooit enige klinkklare bewyse te vind dat die verdagte wat die polisie in aanhouding het, die moordenaar was. Maar ek het altyd geweet dat hy iets wegsteek. Ek kon dit in sy oë sien, maar of dit haat, woede of skaamte was, het ek nie geweet nie. Ek was egter daarvan oortuig dat hy iets weet wat niemand anders weet nie.

Ek het die volgende oggend moeër wakker geword as toe ek gaan slaap het. Ek het vinnig gestort, aangetrek en is toe terug Proviand toe. Palmer het vroeër buite my kamerdeur geroep dat sy ’n bietjie vars lug wou skep en die kort entjie gaan stap tot waar ons gedink het die verdagte se familie en vriende hul verskyning sou maak.

Toe ek voor Proviand stilhou, was ek verbaas om te sien dat mense reeds besig was om ontbyt op die stoep te eet. Volksblad-joernalis Charné Kemp en haar fotograaf Emile Hendricks was die bekendstes. Kemp, ’n pragtige, ervare joernalis in haar veertigs, het oorkant Hendricks, ’n aantreklike, atletiese man in sy vroeë dertigs, gesit waar hy die ingang na die landdroshof soos ’n valk dopgehou het. Hy was nie van plan om hierdie fotogeleentheid, waar die seun in die gebou ingebring word, mis te loop nie. Sy loopbaan het heel waarskynlik van daardie skoot afgehang.

Ek het na hulle toe gestap en hulle hartlik gegroet. Ons was op stuk van sake al so lank met hierdie saak besig dat ons basies vriende geword het. Maar selfs vriende moes geheimsinnig wees om mekaar met die nuus voor te spring. Ek kon sien dat Kemp en Hendricks besig was om iets belangriks te bespreek en het daarom gesê ek sal later by hulle aansluit. Ek het by ’n ander tafel gaan sit, waar die eienaar van die restaurant hom by my aangesluit het.

Van Niekerk het oor ditjies en datjies gesels voor hy die gesprek in die rigting van die verhoor om borgtog gestuur het. Hy en Elsa was met vakansie in George toe die moorde plaasgevind het. Dit het hulle nie gekeer om by hul terugkeer hul ore te leen vir al die skinderpraatjies en gerugte wat die ronde gedoen het nie. Maar hulle was hartlike en liefdevolle mense wat my tegemoetgekom het wanneer hulle ook al kon.

Van Niekerk het gevra of ek enigiets weet van die nuwe landdros, wat aangestel is om die plaaslike landdros, Christo Els, te vervang. Els het hom onttrek aangesien hy die Steenkamps baie goed geken het en gedink het dat hy nie in staat sou wees om onpartydig te wees nie. Ek was nie seker wie Els sou vervang nie, alhoewel ek geweet het dat dit ’n landdros van ’n buurdorp sou wees.

Nadat ek met Van Niekerk gesels het, het ek by Kemp en Hendricks se tafel gaan sit. Kemp het my ingelig dat Media24 ’n prokureur aangestel het om ’n aansoek by die hof in te dien, wat ons almal sou toelaat om die verhoor om borgtog by te woon. Omdat die verdagte minderjarig is, sou die media se teenwoordigheid by die verhoor streng beperk en beheer word. Ons prokureur sou aanvoer dat dit in die openbare belang is dat die media die verrigtinge dek.

De Waal en Vermeulen het kort voor 08:00 met hul dubbelkajuitbakkie in Griekwastad aangejaag gekom, met die verdagte wat op die agtersitplek sit. Hulle het die landdroshof vermy en reguit na die polisiestasie gery, waar hulle agter die gebou geparkeer het. Die twee speurders het die verdagte by die polisiestasie gelos en Proviand toe geloop vir ontbyt, waar hulle by advokaat Hannes Cloete se tafel gaan sit het. Selfs die seun se prokureur, Stoffel de Jager, en sy advokaat, Willem Coetzee, was besig om die uitstekende kos by Proviand te geniet. Heckroodt het ongeveer dieselfde tyd met Hanlie, hul kinders en die seun se berader – niemand anders nie as Francois Krös – daar aangekom en by ’n tafel voor op die gras gaan sit na hulle De Jager en Coetzee gegroet het.

Afgesien van al die wit gesigte by Proviand het baie van die bruin inwoners op straat buite die landdroshof begin saamdrom. Hierdie plaaslike mense wat die Steenkamps hul hele lewe lank geken het, wou almal vir die verdagte te sien kry. Alhoewel hulle vir hom kwaad was oor dit waarvan hy beskuldig word, was hulle nog kwater vir die polisie en die plaaslike gemeenskap, wat aanvanklik vermoed het dat die moordenaar een van hulle is. Rassisme het steeds alledaags in Griekwastad voorgekom en daar is bykans altyd vingers gewys na die bruin gemeenskap wanneer ’n misdaad gepleeg is.

Hulle het in klein groepies gestaan en gesels, en ek het gehoor hoe hulle hardop wonder hoekom die seun “dit gedoen het” en of hy tronk toe sou gaan. Hulle rustige praatjies onder mekaar het meer driftig geword toe De Waal en Vermeulen net voor 09:00, met die verdagte in die bakkie, van die polisiestasie na die agterkant van die landdroshof aangejaag kom, waar Volksblad en Rapport se fotograwe – Hendricks en Palmer – vir hulle gewag het.

Die mense se onderliggende woede is aangehits deur die feit dat die verdagte, ’n wit seun uit ’n welgestelde familie, beter behandeling ontvang as wat hulle ooit kon verwag. Wanneer een van hulle in hegtenis geneem is, is hy geboei oor die straat na die hof geneem vir almal om te aanskou. Hoekom word dit hóm gespaar?

Een van die groep, ’n persoon wie se woordeskat uit vloekwoorde bestaan het, het aan my gesê dat die seun soos enige verdagte misdadiger behandel moes word. Maar hierdie plaaslike inwoners het uit die aard van die saak geen idee gehad hoeveel mediabelangstelling daar in die saak was en hoe graag die pers foto’s van die verdagte wou hê nie. De Waal het dit egter verwag en sou alles in sy vermoë doen om ’n chaotiese situasie te voorkom.

Nie Hendricks of Palmer het nog ooit vantevore met so ’n mediasirkus te doen gekry nie, en hulle was dus heeltemal onvoorbereid daarop toe De Waal sy bakkie parkeer en die kameras begin flits. Die verdagte, met sy hande agter sy rug geboei, is vinnig die gebou in geneem, maar Hendricks het nietemin die foto gekry wat hy wou gehad het. Palmer, daarenteen, was aan die ander kant van die bakkie en teen die tyd dat sy haar fout agtergekom het en tot by Hendricks probeer hardloop het, was De Waal en die seun reeds weg. Dit was ’n dom fout; dié van ’n beginner, maar dit kon met enigiemand gebeur het.

Met die verdagte reeds in die hofsaal het ons verwag dat die saak stiptelik sou begin en almal het in die binnehof van die gebou saamgedrom. Die seun se familielede en vriende was in die minderheid in vergelyking met die enorme mediateenwoordigheid. Dominee Otto was ook daar. Hy het die verrigtinge bygewoon om nie net sy ondersteuning te gee nie, maar ook om eerstehands te hoor wat gebeur het.

Die seun se grootouers het hom vroeër by die polisiestasie besoek, maar hulle sou nie die hofverrigtinge bywoon nie. Dit is nie bekend of hulle die media wou vermy, of nie die grusame besonderhede wou hoor waarvan hul kleinseun beskuldig word nie; ek het net van die ondersoekbeampte verneem dat hulle voor die aanvang van die verhoor om borgtog na die seun toe is om hom te ondersteun.

Aan ons is gesê dat landdros Oswald Mazwi van Groblershoop in sy kamers was waar hy op die staat se maatskaplike werker, Liezl Vermeulen, gewag het. Vermeulen is deur die staat aangestel om die verdagte se geestestoestand te evalueer en daaroor verslag te lewer. Terwyl hulle vir Vermeulen gewag het, het Mazwi met Media24 se prokureur, Stian van Rensburg van Naudé Prokureurs in Bloemfontein, beraadslaag. Die prokureur het probeer om Mazwi te oortuig dat die media toegelaat moet word om die verhoor by te woon.

Mazwi het toe aanvanklik die verslaggewers van Media24 se publikasies, soos Rapport, Volksblad en Huisgenoot, toestemming verleen om die hofsaal binne te kom, maar toe die res van die media hieroor begin kla en hul eie prokureur inbring, het Mazwi toestemming vir ’n totaal van tien joernaliste gegee. Niemand wou daardie dag iets misloop nie.

Die maatskaplike werker het uiteindelik net voor 12:00 haar verskyning gemaak en ons is gesê om buite te bly terwyl sy haar getuienis aflê. Vermeulen is hoofsaaklik aangestel om te bepaal of die verdagte geskik is om tereg te staan en sy het bevind dat hy wel is.

Teen hierdie tyd het ’n selfs groter skare toeskouers buite op straat saamgedrom en deur die heining geloer om te probeer uitvind wat aangaan. Sommige van die joernaliste het buite op die gras gesit en al hoe meer ongeduldig geword met die lang wag. Die seun se familie en vriende was ook besig om hul geduld met die vertraging te verloor en hulle het buite op en af geloop terwyl hulle teenoor mekaar gekla het. Dit moes vir hulle ’n ongemaklike situasie gewees het, waar hulle so blootgestel op die gras gestaan het voor die swetterjoel joernaliste en die woedende, maar nuuskierige bruin gemeenskap.

Die verhoor om borgtog het kort ná 14:00 uiteindelik begin toe ons die klein, gehawende hofsaal met sy vier rye banke kon binnetree. Die vertrek het ’n laag verf dringend nodig gehad; dit was duidelik uit die vuil merke op die mure dat daar jare laas enige instandhoudingswerk aan die vertrek gedoen is.

’n Oorgewig polisieman het by die deur wag gestaan en almal se besonderhede nagegaan soos hulle ingekom het, veral dié van die media. Die seun is in ’n kamer ’n paar meter van die hofsaal aangehou en Heckroodt en sy regspan was gedurig in en uit die vertrek om met hom te praat.

De Jager het joernaliste die hele oggend voor die voet voorgekeer om hulle te vertel hoe hy in sy prille jeug by die SAUK gewerk het. Volgens De Jager, wat naby aftree-ouderdom gelyk het, het die SAUK hom jaarliks genooi om hul veteraangala by te woon. Ek bedoel dit nie lelik nie, maar hy het opgetree asof hy nie al sy varkies op hok het nie deur sy storie oor en oor vir dieselfde joernaliste te vertel.

Sy vennoot, Coetzee, wat ook redelik bejaard gelyk het, het soos ’n strokieskarakter gelyk met sy strikdas, pyp, ’n snor amper soos ’n kat s’n en sy afsydige gedrag. Terwyl dit gelyk het of De Jager nie kon ophou om met die media te praat nie, het dit voorgekom asof Coetzee glad nie wou praat nie.

Die Heckroodts het in die eerste ry in die hofsaal gesit, met Andries Steenkamp en sy vrou aan weerskante. Een van die seun se tantes en haar man het in die tweede ry saam met ’n paar ander familielede en vriende gesit. Otto het eenkant gesit. Die joernaliste en fotograwe, wat nie toegelaat is om foto’s in die hofsaal te neem nie, het in die laaste twee rye gesit. Ek het besluit om heel agter te gaan sit omdat ek oor die verrigtinge wou twiet en nie gesien wou word terwyl ek dit doen nie.

Behalwe die duisende Twitter-volgelinge wat elke detail oor die dag se verrigtinge wou weet, was daar ook verskeie plaaslike inwoners wat die vorige aand by Twitter aangesluit het en langsaan by Proviand gewag het om my twiets te lees. Hulle het verkies om die saak op ’n afstand te volg met ’n drankie in die hand en omring deur hul vriende, met wie hulle die fyner besonderhede van die saak kon bespreek.

Die seun, geklee in ’n ligbruin baadjie, is uiteindelik in die hofsaal ingebring. Hy het kalm en bedaard gelyk terwyl hy na sy sitplek in die middel van die vertrek gestap het. Die oomblik toe hy gaan sit, het hy omgedraai en met die Heckroodts en sommige van sy familielede gepraat, wat hom gerusstellend op die skouer geklop het.

Toe het hy in die vertrek rondgekyk en my oog gevang. Dit was nie die eerste keer dat ek sy minagting gevoel het nie, maar toe ek stip na hom kyk, het hy vinnig weggekyk.