8

Borgtog?

Nou, in die hof, het die seun omgedraai en opgestaan, soos die res van ons toe landdros Mazwi die vertrek binnekom. Nadat almal weer hul plekke ingeneem het, het Mazwi gesê dat die hof nou as ’n kinderhof in sitting is, kragtens die Wet op Kindergeregtigheid, no. 75 van 2008. Hy het beklemtoon dat dit ’n kinderhof is en dat die verdagte steeds ’n minderjarige is, en dat sy identiteit dus nie in die media bekendgemaak kan word nie. Om die waarheid te sê, die media is nie eers toegelaat om na hom as die “minderjarige verdagte” te verwys nie, maar slegs as “die beskuldigde”.

Advokaat Cloete word as een van die beste staatsaanklaers in Suid-Afrika bestempel. Cloete, ’n lang, kaalkop man met ’n bokbaard, is geneig om na sy notas te loer deur sy leesbril wat op die punt van sy neus sit. Hy het meestal gestaan met sy hande agter sy rug gevou, wat hom baie nederig laat lyk het. Een van die ondersoekbeamptes het aan my vertel dat Cloete eenkeer vir ’n regsfirma wat misdadigers verdedig gaan werk het, maar dat sy gewete hom so gepla het omdat hy hierdie monsters weer in die samelewing loslaat dat hy kort daarna bedank het. Hy het weer vir die staat gaan werk waar hy hulle agter tralies kon sit.

Cloete het in Upington grootgeword, maar het later na Oudtshoorn verhuis, waar hy op die ouderdom van dertien jaar die skryfwerk van Benjamin Bennett, joernalis vir die Cape Argus, ontdek het. Bennett was ’n misdaadverslaggewer wat hoëprofielsake gedek het. Hy het ook verskeie misdaadromans geskryf. Cloete het versot geraak op die staatsaanklaers in Bennett se verhale en die manier waarop hulle altyd oor die bose geseëvier het. Hy het daarom gekies om ’n advokaat te word en gevolglik in Januarie 1989 in Kimberley beland. Sedertdien het Cloete al aan baie hoëprofielsake gewerk, alhoewel hy ongemaklik voel om sommige sake te klassifiseer as “meer ernstig” as ander.

Hy erken dat die Griekwastad-moorde inderdaad ’n hoëprofielsaak was as gevolg van die massiewe mediadekking wat dit geniet het, maar hy vergelyk dit met ’n ander saak waaraan hy gewerk het waar twee vroue wreedaardig vermoor is in Victoria-Wes. Volgens Cloete was hierdie saak net so groot, maar het dit hoegenaamd geen mediadekking ontvang nie.

Toe ek hom vra of dit waar is dat hy en De Waal nog nooit ’n saak verloor het nie, het hy ja gesê, maar erken dat dit die eerste moordsaak is waaraan hulle saamgewerk het. Die twee manne kom al ’n lang pad saam, aangesien hulle albei in 1977 in Laerskool Oranje-Noord was.

“Ons verstaan en respekteer mekaar net eenvoudig. Ek’s op my gemak as ons twee saamwerk,” het Cloete gesê.

Toe ek hom vra hoe hy die gruweldade hanteer wat mense mekaar aandoen, het hy gesê dat elke mens maar sy eie manier vind om dit te hanteer. Hy self geniet dit byvoorbeeld om tyd saam met sy vrou by die huis te spandeer en om gholf te speel. Dit is hoe hy ontspan en afskakel.

“Vir my is dit ’n leefwyse om altyd agter die waarheid te probeer kom, want om dit te vind, is amper verslawend. Daar is ’n tipe vreugde daaraan verbonde om ’n verskil te maak,” het hy gesê.

Cloete, ’n man van oortuiging en beginsels, het nietemin ook na ’n redelike windmaker gelyk. Hy het duidelik daarin geslaag om almal se aandag te kry met sy dramatiese uitdrukkings en intense styl.

Toe die verhoor om borgtog begin, het Cloete opgestaan en die hof meegedeel dat die staat beoog om die seun van drie skedule 6-misdrywe, wat die ernstigste aanklag moontlik is, aan te kla. Dit het beteken dat die staat van mening was dat die moorde vooraf beplan is. Cloete het vir kennisname gesê dat die seun van die wreedaardige moorde op Deon, Christel en Marthella Steenkamp aangekla word. Hy het ook gesê dat geskrewe bevestiging in hierdie verband aan Coetzee oorhandig is, kragtens artikel 60 (11A)(a) van die Strafproseswet, no. 51 van 1977.

Coetzee het op sy beurt bevestig dat die klagstaat inderdaad aan hom oorhandig is. Vanweë die staat se voorneme om sy kliënt van skedule 6-misdrywe aan te kla, was die onus op hom en sy regspan om bewyse aan te voer wat toon dat buitengewone omstandighede bestaan wat, in die belang van geregtigheid, sy vrylating op borgtog regverdig. Dit is gewoonlik baie moeilik om buitengewone omstandighede te bewys, aangesien skedule 6-misdrywe inderdaad as baie ernstig beskou word.

Die verdediging sou eerstens twee getuies roep om ten gunste van die beskuldigde se vrylating op borgtog te getuig. Hulle was Heckroodt, as die seun se voog, en Krös, as sy “privaat” maatskaplike werker. Dit het my gepla dat die seun nie geroep sou word om te getuig nie, of selfs gevra sou word om ’n beëdigde verklaring vir sy aansoek om borgtog te verskaf nie. Dit het gelyk asof hy onaantasbaar is; ek het dit toegeskryf aan sy ouderdom en sy verwantskap met die oorledenes. Sover ek kon agterkom, het nie een van sy ondersteuners geweet of hy sou pleit nie en indien hy wel sou pleit, hoe hy sou pleit nie.

Iets anders het my gepla. Ek is deur die loop van die dag ingelig dat Heckroodt en Krös familie is. Anton van Niekerk het hierdie skokkende brokkie inligting met my oor middagete gedeel. Krös is Heckroodt se susterskind, wat sekerlik ’n botsing van belange vir sy teenwoordigheid by die verhoor om borgtog beteken het. Die Heckroodts sou duidelik alles in hul vermoë doen om die seun te beskerm sodat hy van die aanklagte teen hom vrygespreek kon word. Hulle sou Krös maklik kon beïnvloed, wat dit moeilik sou vind om professioneel en onpartydig in sy werksverhouding met die seun te bly. Alhoewel dit op daardie stadium my persoonlike opinie was, sou Cloete ook later tydens kruisondervraging sy bekommernis hieroor uitspreek.

Heckroodt het eerste getuig. Hy het die hof meegedeel dat hy ’n boer en brandstofverspreider is. Hy het gesê dat die beskuldigde ’n graad 10-leerder aan Grey-kollege in Bloemfontein is en dat hy gedurende die week in die skool se koshuis bly, maar oor naweke en tydens skoolvakansies op Heckroodt se plaas tuisgaan. Volgens Heckroodt was sy oudste seun, Basie, en die seun baie na aan mekaar. Heckroodt het ook bygevoeg dat hy tot op hede nie enige probleme met die seun se gedrag of houding ondervind het nie.

Hy het voortgegaan om te sê dat sy pleegkind ’n ywerige sportman is wat Suid-Afrika ’n paar maande tevore in gimkana teen Australië verteenwoordig het. Hy het verder daaroor uitgewei dat die seun ’n belangrike deel van die nasionale gimkanaspan en -gemeenskap uitmaak, en dat hy aan nog nasionale toernooie in die daaropvolgende maande sou deelneem. Hy het blykbaar ook rugby en krieket gespeel, alhoewel hy ’n asmalyer is.

Volgens Heckroodt het die seun goed op skool gevaar, wat duidelik was uit die onlangse vorderingsverslag wat hy van Grey-kollege huis toe gebring het.

Heckroodt het aan die hof gesê dat hy en sy pleegkind ’n baie goeie verhouding het en dat hulle vrylik, openlik en reguit met mekaar is. Die enigste onderwerp wat hulle nie bespreek nie, is die Griekwastad-moorde. Volgens Heckroodt het die seun hom as ’n vaderfiguur beskou.

Volgens Heckroodt het sy pleegkind ’n kliniese sielkundige, Riana Cronjé, in Kimberley gaan sien voor hy terug skool toe is. Die seun het na bewering simptome van trauma getoon, waarvoor Cronjé medikasie voorgeskryf het. Heckroodt was baie dankbaar hiervoor, aangesien dit gelyk het asof die seun as gevolg van die medikasie en Cronjé se berading beter op skool vaar. Heckroodt het ook gesê dat alhoewel sy pleegkind op akademiese en sportgebied goed vaar, hy nie weet wat in die seun se kop aangaan nie.

Heckroodt het aan die hof vertel dat hy en sy gesin belowe het om sy pleegkind teen die negatiewe publisiteit te beskerm nadat hy as verdagte in die saak geïdentifiseer is – iets wat hulle klaarblyklik steeds gedoen het. Aangesien die seun daarvan bewus was dat hy in hegtenis geneem kon word, was dit nie iets waarvan hy “probeer wegskram het nie”, het Heckroodt gesê. Dit was steeds ’n uiters traumatiese tyd vir hom.

Heckroodt het die landdros verseker dat die seun nie bewus was van enige bewyse wat die staat van plan was om in die verhoor te gebruik nie, of van die identiteit van enige van die staat se bestaande of moontlike getuies nie, en dat hy daarom glad nie met die ondersoek kon inmeng nie. Heckroodt het aan die hof die versekering gegee dat indien borgtog aan sy pleegkind toegestaan sou word, hy onmiddellik terug skool toe sou gaan, aangesien dit vir hom belangrik was om nie agter te raak nie.

Heckroodt het ook aan die hof gesê dat die seun se verhouding met sy skoolhoof, Johan Volsteedt, en sy onderwysers en medeleerders steeds ongeskonde was ten spyte van al die negatiewe gerugte, en dat dit tot sy nadeel sou wees indien hy nie terug skool toe kan gaan nie. Die seun moes vir sy eindeksamens begin voorberei sodat hy na graad 11 kon vorder.

Cloete het tydens sy kruisondervraging van Heckroodt ’n knuppel in die hoenderhok gegooi. Hy het Heckroodt gevra of dit waar was dat die seun se prokureur hom op 23 Mei, ongeveer ses weke ná die moorde, ingelig het dat hy die polisie se hoofverdagte is. Die verslaggewers in die hofsaal, myself ingesluit, het in skok na ons asems gesnak. Ons het geglo dat die seun vir maande ná die moorde nie as ’n verdagte geïdentifiseer is nie, maar hier was die bewys dat hy byna die hele tyd geweet het dat hy die hoofverdagte is.

En hy en Heckroodt het met hul lewens aangegaan asof niks gebeur het nie.

Ek het teruggedink aan die baie kere dat die polisie vir ons gesê het dat die seun nie ’n verdagte is nie terwyl hy duidelik een was, en hoe Heckroodt telkemale beweer het dat hy nie weet wat in die ondersoek aan die gang is nie. Ek het regs gedraai en my skok en teleurstelling geluidloos oorgedra aan Ehlers, wat die verrigtinge as woordvoerder van die Noord-Kaapse polisie bygewoon het. Maar sy het net haar skouers opgehaal, geglimlag en aangedui dat sy nie voorheen enigiets kon sê nie.

Ek het gevoel asof ek mislei is, en meer op die man af: ek was woedend. Ons het maande lank ongelooflike frustrasie verduur omdat ons slegs kon bespiegel oor wie werklik die fokus van die polisie se ondersoek is, terwyl hulle ons opsetlik in die duister gehou het.

Terwyl ek hierdie ontstellende inligting aan my volgelinge getwiet het, het ek vir die eerste keer besef hoeveel tyd en energie die ondersoekspan daaraan bestee het om ’n waterdigte saak teen die sestienjarige seun saam te stel. As ’n geharde joernalis met baie jare se ervaring in moordondersoeke en hofsake was dit die eerste keer dat ek hierdie vlak van geheimhouding aanskou het. Ek het net gehoop dat die staat inderdaad ’n sterk saak het, want indien dit nie die geval was nie en die seun skotvry daarvan afkom deur onskuldig bevind te word, het ek gesidder oor die gevolge wat dit vir hulle sou inhou ten opsigte van die publiek en die media.

Maar dít was seker: die seun se verhoor om borgtog was op die punt om nog meer interessant te word.

“Ek kan nie die veiligheid van enigiemand naby die kind waarborg nie. Hy’s ’n gevaar vir die samelewing,” sê advokaat Cloete en wys na die verdagte.

Cloete kon die gehoor goed speel. Hy het voortdurend hier en daar met mense in die hofsaal oogkontak gemaak en elke keer ’n paar sekondes stilgebly om die punt wat hy gemaak het, te beklemtoon. Hy was besig om Heckroodt, wat trots en onwrikbaar in die getuiebank gestaan het, te ondervra. Terwyl Heckroodt enigiets in sy vermoë sou doen om wat hy as ’n baie broos kind beskou het, te beskerm, was die prentjie wat Cloete van die verdagte probeer skets het heeltemal die teenoorgestelde.

Cloete het aangevoer dat die verdagte gedink het hy sou met ’n driedubbele moord wegkom, maar dat daardie hoop ná sy inhegtenisneming begin taan het. Hy het die landdros gewaarsku dat dit nie in die belang van geregtigheid sou wees om borgtog aan die verdagte toe te staan nie.

“Daar is nie buitengewone omstandighede wat dit regverdig om die verdagte op borgtog vry te laat nie,” het Cloete aan die stampvol hof gesê. “As jy beskuldig word van drie moorde, is dit ernstig. Ek kan nie anders as om harde woorde te gebruik nie. Die minderjarige is nie die slagoffer nie en moenie so behandel word nie.”

Cloete het voortgegaan en gesê dat die staat nie na sensasie op soek is nie, maar slegs na die onweerlegbare feite van die saak en dat die karaktergetuies vir die verdediging nie in staat sal wees om die geldigheid van die bewyse wat die staat teen die verdagte versamel het, te betwis nie. Sweerlik was dit hoogs onwaarskynlik dat die verdagte met sy normale skoolopleiding sou kon voortgaan asof niks gebeur het nie?

Heckroodt het aangedui dat hy Cloete se argument verstaan, maar dat hy, as ’n ouer, gevoel het dat die seun op borgtog vrygelaat moes word sodat hy sy skoolopleiding kon voortsit. Cloete het Heckroodt beleefd vir sy bydrae bedank en teruggekeer na sy plek agter die klein tafeltjie, voor in die hof, langs De Waal. Die twee mans het na mekaar gedraai en saggies gefluister. Heckroodt het die getuiebank verlaat en weer agter die verdagte gaan sit. Hy het die seun se skouer ’n drukkie vir ondersteuning gegee, terwyl sy pleegkind na hom gekyk het met ’n glimlag vol selfvertroue.

Advokaat Coetzee het sy volgende getuie geroep. Op pad na die getuiebank het Francois Krös baie selfversekerd, amper arrogant, voorgekom. Ek het hom ’n paar uur tevore in die binnehof gekonfronteer oor sy verwantskap met die Heckroodt-familie. Ek wou weet of dit waar is. Ek het gedink dat dit beslis ’n botsing van belange moet wees. Ek het my aan Krös voorgestel en hom gevra hoe hy by die saak betrokke is. Toe hy my vertel dat hy as die seun se “berader” optree, het ek probeer om hom onverhoeds te betrap.

“Is dit waar dat jy familie van Heckroodt is?” het ek gevra.

“Ja, Bennie is my oom aan moederskant,” het hy, tot my verbasing, geredelik bevestig.

“Is dit dan nie ’n botsing van belange nie?” het ek hom gevra.

“Glad nie. Hoekom sou dit wees?” het hy gesê.

Ek was uit die veld geslaan deur sy ongeërgde reaksie. Hoe kon hy blind wees vir die feit dat hy as Heckroodt se nefie nie bevooroordeeld in sy professionele evaluering van die seun sou wees nie?

Ek het my verskoon en die ondersoekbeamptes gaan opsoek om meer uit te vind. Ek het De Waal en Vermeulen op die agterstoep gekry, waar die verdagte daardie oggend in die gebou ingebring is. Ja, het hulle gesê. Hulle het geweet Krös is familie van Heckroodt, maar dit het by Cloete berus om die saak aan die hof voor te lê. Maar Vermeulen het met my saamgestem dat die verhouding ’n botsing van belange meebring.

Terug in die hof het Krös getuig dat hy ’n privaat maatskaplike werker is wat die seun die afgelope maand en ’n half “behandel” het. Krös het in 2003 sy baccalaureusgraad deur die Universiteit van Suid-Afrika verwerf en was by die Suid-Afrikaanse Raad vir Maatskaplike Diensberoepe geregistreer. Hy het gesê dat hy by Riana Cronjé, die verdagte se kliniese sielkundige met wie hy gekonsulteer het voor hy met die seun se behandeling begin het, oorgeneem het.

Krös was versigtig om nie te veel in die hof te onthul nie en hy het meer as een keer gesê dat enige inligting waaroor hy wel mag beskik, deur privilegie beskerm word. Hy het egter Heckroodt se argument dat die verdagte na Grey-kollege moes terugkeer, ten volle ondersteun.

Volgens Krös het die seun ’n goeie verhouding met sy skoolmaats gehad en was hy gretig om terug te keer skool toe. Krös het beweer dat die seun se medeleerders “met deernis” na hom gekyk het toe hy by die skool gearresteer is en in boeie verby hulle moes loop.

Krös het gesê dat hy in sy professionele hoedanigheid glo dat dit uiters nadelig vir die seun sou wees om hom uit die skoolomgewing, waar hy gemaklik voel en goed funksioneer, te verwyder. Dit het vir my voorgekom asof Heckroodt sowel as Krös se enigste argument vir die seun se vrylating die belangrikheid van sy skoolopleiding is. Die feit dat Grey-kollege as een van die beste skole in Suid-Afrika beskou word, is in ’n stadium genoem, maar was dit regtig van belang in die konteks van ’n driedubbele moordsaak? Ek het nie so gedink nie. Alhoewel die verdagte minderjarig is, is hy daarvan aangekla dat hy drie gewelddadige moorde gepleeg het. Die feit dat hy uit ’n welgestelde gesin kom, behoort geen invloed op die saak te hê nie. Het hy nie dieselfde behandeling as enige ander verdagte moordenaar verdien nie? En tog het dit gelyk asof dit in sy guns tel. Die verdediging het goed van hul kanse gebruik gemaak – dit het gelyk asof die landdros baie waarde heg aan die verdagte se skoolopleiding en sy deelname aan sport op nasionale vlak.

Cloete het weer aan die beurt gekom, hierdie keer om Krös onder kruisverhoor te neem. Hy was onverbiddelik in sy aanval op die jonger man, wat onwrikbaar aangevoer het dat sy verhouding met die seun privaat is. Krös het verduidelik dat die doel van sy betrokkenheid is om seker te maak dat die seun optimaal funksioneer, nadat hy geweldige trauma beleef het omdat sy “steunpilare” vermoor is. Krös het erken dat sy “pasiënt” hom vrylik uitdruk tydens hul terapiesessies en dat hy die gesprek lei in die rigting waarin hy dit ook al wil laat gaan.

“Hoe gaan jy hierdie hof kan bystaan as jou verhouding met die verdagte as privaat beskou word?” het Cloete met ’n ernstige uitdrukking gevra.

“Ek’s nie hier om die hof by te staan nie, maar wel die seun, en ek gaan nie die strekking van ons privaat gesprekke openbaar maak nie. Ek’s hier om na sy belange om te sien,” het Krös gesê.

Cloete het dramaties in die hofsaal rondgekyk.

“Meneer, jy het geen idee waartoe die verdagte in staat is nie. Jou getuienis is subjektief en misleidend,” het hy gewaarsku.

Krös moes ná hierdie teregwysing tot ander insigte gekom het, omdat hy daarna teësinnig gesê het dat sy gesprekke met die seun oor sy toekoms en nie die moorde of die hofsaak gegaan het nie. Krös se getuienis was besig om gevaarlik naby daaraan te kom om die verdediging se saak te benadeel en hulle het toe die verrigtinge vinnig afgesluit. Aangesien dit toe reeds laat die middag was en die aanvang van die verhoor reeds erg vertraag is, is die saak tot die volgende oggend uitgestel.

Voor landdros Mazwi die hofsaal verlaat het, het hy aangekondig dat die verdagte in aanhouding sou bly. Die seun het nie baie gelukkig gelyk met die idee om nóg ’n nag in aanhouding deur te bring nie, maar die Heckroodt-gesin en ander familielede het hom vinnig met drukkies en ’n paar bemoedigende woorde vertroos en Heckroodt se seuns het grappe met hom gemaak. Hy het spoedig begin ontspan en later selfs geglimlag. Ek was seker dat hy daarvan oortuig was dat hy ’n goeie kans staan om op borgtog vrygelaat te word. Wie sou nou nie so dink as hulle soveel familie en vriende gehad het om hulle te ondersteun en te sê dat daar niks is om oor bekommerd te wees nie?

Maar ek sou bekommerd gewees het. De Waal en Vermeulen het soos somber standbeelde naby die deur gestaan en die seun soos twee honger wolwe dopgehou. Hulle het vir hom gewag om almal te groet sodat hulle hom na sy sel kon terugneem. Ek en die meeste ander joernaliste het in die hofsaal rondgehang om te luister vir brokkies van gesprekke tussen die verdagte en sy ondersteuningsgroep. Aangesien niemand van hierdie mense gretig was om met ons te praat nie, moes ons ons daartoe wend om ’n paar aanhalings te “steel” wanneer die geleentheid hom voorgedoen het.

Buite het dit dol gegaan soos fotograwe rondgehardloop het tussen die drie moontlike uitgange waardeur die seun die gebou kon verlaat. Aangesien die meeste daardie oggend sy binnekoms in die hofsaal misgeloop het, was dit nou hul kans om dit by hul redakteurs goed te maak. Buite die hof was daar, behalwe die media, ook ’n groot aantal plaaslike inwoners, driedubbel die grootte van die groep van ’n paar uur vroeër, wat nuus oor die verrigtinge oor die radio, op die Internet en op Twitter gevolg het. Almal wou die “moordenaar” te sien kry en niemand het geïnteresseerd gelyk in die opvatting dat iemand onskuldig is tot hul skuldig bewys is nie. Volgens hulle was hy skuldig.

Ek was seker dat indien die seun sonder beskerming uit die gebou sou loop, hy aangeval of selfs met klippe bestook sou word. Hierdie mense was kwaad en op die oorlogspad. Maar De Waal het weer eens almal uitoorlê deur ’n pad aan die ander kant van die gebou te neem en na die agterkant van die polisiestasie te ry, waar die seun die nag sou deurbring.

Soos teen hierdie tyd al die gewoonte, het ek en my kollegas op Proviand toegesak om ’n laat middagete te eet, ’n koue bier te geniet en die dag se verrigtinge te bespreek. Aangesien dit maar slegs Donderdag was en ek my storie eers Saterdag moes instuur, het ek gesit en kyk hoe die ander rondskarrel om foto’s bymekaar te kry en hul stories te skryf. Ek moet sê dat ek die ruskans geniet het. My taak as joernalis by ’n Sondagkoerant was om altyd die storie uit ’n ander hoek as die dagblaaie, soos Beeld en Volksblad, te beskou. Dit was nie altyd maklik nie, maar dit het vir goeie wedywering tussen die koerante gesorg. Dit het my ook meer tyd gegee om my eie indringende ondersoek te doen.

Terwyl ek ’n koue bier geniet het en vir my wildspastei gesit en wag het, het Van Niekerk nadergestap en gevra of ons privaat kon gesels. Van Niekerk, ’n lang man in sy laat vyftigs of vroeë sestigs, met wit hare en ’n netjiese kort baard, is baie vriendelik, maar ek kon sien dat hy ’n vinnige humeur het en nie enige nonsens van die plaaslike drinkebroers wat sy onderneming besoek, verdra nie.

Ons twee het by ’n tafel op die stoep buite hoorafstand gaan sit. Hy het kortliks verneem hoe die dag in die hof verloop het en wat ek dink die landdros se besluit oor borgtog sou wees. Paul Botha het hom by ons aangesluit. Botha het die eerste keer net ná die Steenkamp-begrafnis met my gepraat.

“Dink jy hy gaan op borgtog vrygelaat word?” het Botha my gevra. “Ek hoop regtig nie so nie. Ek het nie hierdie stres in my lewe nodig nie.”

Ek het hom gesê dat alhoewel ek nie kon weet wat die landdros sou besluit nie, ek uit ondervinding amper 100% seker is dat die seun nie op borgtog vrygelaat sou word nie. Maar ek was bekommerd oor Mazwi – hy was ongelooflik moeilik om te peil. Dit het een oomblik gelyk asof hy ten gunste is van die staat se argument en die volgende oomblik weer dié van die verdediging. Iets anders wat my gepla het – en ek het dit nooit in enige van my daaropvolgende artikels genoem nie – was die feit dat Media24 se prokureur, wat daardie oggend die aansoek ingedien het vir die media om die verhoor om borgtog by te woon, beweer het dat hy die vorige aand ’n e-pos met ’n afskrif van die nuwe Wet op Kindergeregtigheid vir die landdros gestuur het.

Was dit moontlik dat die landdros wat die aansoek moes aanhoor om borgtog vir ’n minderjarige kind, wat daarvan beskuldig word dat hy sy gesin vermoor het, nog nooit gehoor het van hierdie wet wat hoofsaaklik van toepassing is op die saak nie? Dit was natuurlik net bespiegeling en ek sou weens minagting van die hof aangekla word indien ek hieroor sou skryf. Daarom het ek dit maar gelos. Ek het net gehoop dat Mazwi, wat moontlik nog nooit vantevore so ’n saak aangehoor het nie, die wet deeglik bestudeer het in die tyd tot sy beskikking.

Ons het Botha gevra om te bly, maar hy moes sy vrou gaan haal en het gegroet. Ná hy weg is, het Van Niekerk skielik sagter gepraat en my vertroulik meegedeel dat hy iets baie ontstellends by die bevelvoerder van die Griekwastad-polisiestasie gehoor het. Dit was waarskynlik die skokkendste deel van ’n saak wat reeds op daardie stadium groot nuus was.

Volgens die stasiebevelvoerder is Marthella dalk seksueel gemolesteer, waarskynlik selfs ná haar dood, het Van Niekerk gesê. Dit was, om die minste te sê, ’n baie ernstige bewering en die eerste wat ek daarvan gehoor het, maar Van Niekerk het daarop aangedring dat almal in die polisie daaroor gepraat het. Ek het hom gesê dat ek daarop sou ingaan, maar dit dadelik as ’n nare gerug verwerp en opgestaan om te gaan kyk hoe ver my kollegas is.

Teen daardie tyd het die meeste reeds hul stories en foto’s ingestuur en ons het gevolglik almal op die stoep gaan sit om te ontspan. Die Griekwastad-polisiestasie was regoor ons aan die ander kant van die straat. Ons het gesit en wonder waar die seun slaap en onder watter omstandighede. Het hy ’n sel met een of ander dronklap gedeel, of hou hulle hom in een van die kantore aan? Ons het gebrand om uit te vind en ek het skertsend aangebied om my weens dronk en wanordelike gedrag te laat arresteer sodat ek toegang tot die seun kon verkry vir ’n eksklusiewe onderhoud. Ek was natuurlik nie ernstig nie en die ander het net vir my grappie gelag.

Die ironie van die saak was dat ons op daardie stadium onbewus was daarvan dat die seun eintlik gemaklik slaap omdat sy familie vir hom komberse en kussings gebring het. Ek twyfel of die gewone aangehoudene sulke voorregte geniet, wat weer eens die vraag laat ontstaan: Hoekom het hý spesiale behandeling ontvang?

Vroeër die dag het ek ’n gesprek met Vermeulen gevoer, waartydens ek gevra het of ek hom en sy kollegas by hul gastehuis kon besoek vir ’n informele kuier. Hy het gesê dat hy hulle eers moes vra en dan na my toe sou terugkom. Ek was gretig om die ouens te leer ken en hopelik hul vertroue te wen. Hulle was deel van die ondersoek se binnekring en het oor ’n magdom inligting beskik wat toe nog nie in die media openbaar gemaak is nie.

Vermeulen het gesê dat hy my daardie aand sou bel om te laat weet of ek welkom is of nie. Die gastehuis waar hy, De Waal en Cloete tuisgegaan het, is ongeveer 15 km noord van Griekwastad. Om daar uit te kom moet jy op ’n ongelooflik slegte gruispad ry en hoop dat jy nie ’n paar pap bande kry nie. Erger nog – en dit was iets waarvan nie ek óf Vermeulen bewus was nie – was dat daar absoluut geen selfoonontvangs in die gebied is nie. Ek het die hele aand probeer om hom in die hande te kry, maar kon dit natuurlik nie regkry nie. Ek was gretig om by die gastehuis uit te kom en het daarom nie ophou probeer nie; ek het ure lank aangehou om met Vermeulen te probeer kontak maak.

Terwyl ek probeer het om hom in die hande te kry, het my naamgenoot en sy vriende hul opwagting by Proviand gemaak. Dit was al redelik laat in die aand. Die meeste van my kollegas wat in Kimberley tuisgegaan het, was reeds op pad terug soontoe. Terwyl ons saam iets gedrink het, het die gerugte oor die seksuele molestering weer die ronde gedoen, maar ek het dit weer eens verwerp. Maar nou het dit gelyk asof almal tog daaroor wonder.

Omstreeks 11:00 die aand het ek, weens gebrek aan ’n beter woord, uit Proviand gevlug, aangesien dit gelyk het asof die plaaslike inwoners nie lewers het nie volgens die hoeveelheid alkohol wat hulle verbruik en die spoed waarmee hulle dit doen. Ek het die kort afstand na die gastehuis gery, my motor geparkeer en reguit bed toe gegaan. Dit was ’n lang dag en die volgende een sou waarskynlik nog langer wees.

Ek en Palmer was vroeg op en het by Proviand gaan ontbyt soek die oomblik toe hulle hul deure oopmaak. Palmer wou nie met my praat nie. Ons het die vorige dag ’n argument gehad omdat sy nie ’n foto van die verdagte, terwyl hy die hofgebou ingebring is, gekry het nie. Die storie was besig om my te verswelg. Ek wou die beste moontlike foto’s hê om by my storie in Sondag se koerant te gebruik, aangesien ek strawwe mededinging verwag het en nie op Volksblad se foto’s wou staatmaak nie. Om te sê dat ek dus teleurgesteld was dat Palmer daardie fotogeleentheid misgeloop het, is sagkens gestel. Ek het geweet dat sy maar net op die verkeerde plek op die verkeerde tyd was, maar sy het my teleurstelling aangevoel en my gekonfronteer, waarna ons woorde gehad het.

Tydens ontbyt het ons oor koeitjies en kalfies gesels en ek het haar om verskoning gevra. Ek het gesê dat ek besef dat ek oorywerig is en toe verduidelik waarom ek so vasbeslote was om die beste moontlike storie oor die saak te doen. My redakteur sowel as adjunkredakteur was besig om my onder geweldige druk te plaas en het op my staatgemaak om ’n uitstekende voorbladstorie vir daardie Sondag se koerant te lewer. Die legendariese Hanlie Retief, wat Rapport se weeklikse artikels skryf, is ook na Griekwastad gestuur om ’n “atmosfeerstorie” te skryf en sy het op my staatgemaak om haar aan die belangrikste rolspelers voor te stel en rond te wys. Ek moes dus nie net met Volksblad, OFM en Huisgenoot meeding nie, maar ook met my eie koerant.

Ek was onder druk, maar was seker dat ek iets sou kry om oor te skryf. Ek het ’n goeie verhouding met die staatsaanklaer en ondersoekbeampte opgebou en ek was van plan om nog ’n dag aan te bly om my meer tyd te gee om iets uit te snuffel.

’n Paar uur later het almal die hof binnegegaan vir die voortsetting van die verhoor om borgtog, maar hierdie keer was daar baie minder mense as die vorige dag. Die Heckroodt-gesin was natuurlik weer teenwoordig, maar die meeste van die seun se familie was afwesig. Dit was die staat se beurt om getuies te roep en hul enigste getuie was De Waal, die hoofondersoekbeampte in die saak. Hy het die hofsaal vol selfvertroue binnegestap en sy plek in die getuiebank ingeneem. ’n Groot sluitkas is ingedra en langs hom neergesit. Binne-in was massiewe dossiers en fotoalbums wat elke detail van die Griekwastad-moorde bevat het. Ek het gedink dat ek nog nooit sulke dik polisielêers gesien het nie en daar was drie van hulle: een vir elke slagoffer.

Die drie fotoalbums was selfs nóg dikker en ek sou wat wou gee om die inhoud daarvan onder oë te kon kry. Seer sekerlik was die omvang van die dossiers alleen ’n sterk bewys van die staat se saak teen die verdagte? Dit het duidelik groot hoeveelhede inligting en bewyse bevat. De Waal het doodernstig gelyk terwyl hy na die seun bly kyk het. Maar hy, wat duidelik bewus moes gewees het van die dreigende De Waal wat hom dophou, het nie een keer in sy rigting gekyk nie. In plaas daarvan het hy eerder sy rug na De Waal gedraai en met Heckroodt se seuns grappies gemaak.

Die tweede dag van die verhoor om borgtog het die oggend net voor 10:00 begin, maar verrigtinge het vinnig tot stilstand gekom toe Coetzee opstaan en protesteer dat die staat eers daardie oggend ’n verklaring van twintig bladsye oor die ondersoek, asook die drie fotoalbums, aan die verdediging oorhandig het. Coetzee het aangevoer dat daar nie genoeg tyd vir die verdediging was om al die bewyse te bestudeer nie en dat hulle daarom nie in staat was om te bepaal watter bewyse in die hof toelaatbaar is nie.

Landdros Mazwi, wat uit die aard van die saak ontevrede was oor hierdie stand van sake, het Cloete gevra hoekom die staat die bewyse nie die vorige dag oorhandig het nie. Cloete, wat sy bes gedoen het om geskok te lyk, het gesê dat hy van mening was dat dit nie saak gemaak het nie, aangesien die saak nog nie gereed was om aangehoor te word nie en die verdediging dus nie nou al toegang tot die saaklêers kon kry nie. Hy het uitgewys dat die staat die vorige dag geen inligting oor die verdediging se getuies ontvang het nie of waaroor hulle sou getuig nie.

“Ek moes uit die vuis dink, so waarom kan die verdediging nie dieselfde doen nie?” het Cloete die landdros gevra.

Maar Coetzee het volgehou dat sy kliënt benadeel sou word indien die verdediging nie genoeg tyd gegun word om al die bewyse te bestudeer nie. Hy het gevra dat die saak uitgestel word tot die Maandag om hom genoeg tyd te gee om die materiaal te bestudeer. Cloete het beswaar aangeteken. Dit was in almal se belang dat die verhoor om borgtog afgesluit moet word, het hy gesê. Die hof, die landdros en die getuie sou almal verontrief word indien die saak uitgestel word. Mazwi het daaroor nagedink en uiteindelik toegegee dat alhoewel die staat inderdaad die verdediging onkant betrap het, hy geen rede kon sien waarom die staat nie kon voortgaan om hul getuienis te lewer nie.

Mazwi het Coetzee gevra of hy sou omgee om vinnig deur die verklaring te gaan om te besluit wat toelaatbaar is. Coetzee het baie onwillig ingestem en die landdros het die verdediging ’n uur gegee om die staat se bewyse te bestudeer.

Dit het beteken dat ons meer as ’n uur moes wag terwyl Coetzee en De Jager hul volgende skuif beplan. Op een stadium het hulle selfs vir Heckroodt ontbied, waarskynlik om te bespreek hoe die bewyse hul saak sou beïnvloed en, nog belangriker, hoe dit die mening van die publiek sou beïnvloed.

Die staat se strategie het gedraai om De Waal, wat die verklaring van twintig bladsye hardop in die hof sou voorlees voor hy die bygaande foto’s sou wys en verduidelik hoe hulle die seun met die moorde verbind. Dít was hoekom ons, die media, in die hof wou wees. Ná maande se bespiegeling kon ons nie wag om die waarheid te hoor nie. Ek het gedink die spanning sou my mal maak.

Behalwe die media het duisende mense regoor die wêreld hul selfone deurentyd dopgehou om my twiets te volg. Selfs nog voor die verhoor om borgtog is ek, onder andere, deur Australiërs en Amerikaners gekontak wat die verrigtinge gretig via Twitter en Facebook gevolg het. Dit het my verbaas hoe baie mense die ontwikkelinge in die Griekwastad-moorde gevolg het. Ek het selfs boodskappe van mense ontvang waarin hulle sê dat hulle die werk laat weet het hulle is siek omdat hulle niks van die gebeure in Griekwastad wou misloop nie. Ek kon dit verstaan, want ek wou ook niks misloop nie.

Tydens die hofreses het ek met ’n plaaslike polisiebeampte en ’n aanklaer gepraat, wat albei na die bewerings van seksuele molestering verwys het. Ek kon doodeenvoudig nie meer die gerugte ignoreer nie. Ek het Retief om haar kundige joernalistieke raad gevra. Sy het gesê dat sy ook die gerugte gehoor het en dat dit my taak is om oor die storie verslag te doen. Gewoonlik sou ek nie oor gerugte verslag lewer nie, aangesien ek my integriteit en beginsels op prys stel, maar sy was reg. As dit die waarheid was, moes ek dit onder die publiek se aandag bring.

Maar eers moes ek heeltemal seker maak dat dit nie net alles snert is nie. En die enigste twee mense wat ek geken het wat die storie kon bevestig of ontken, was De Waal en Vermeulen. Ek het gehoop die verhouding wat ek met hulle opgebou het, was op wedersydse respek gebaseer en dat hulle die bewerings voor die voet sou afmaak indien dit nie waar was nie. Ek het hulle op die stoep aan die agterkant van die gebou gekry.

“Hallo julle, hoe gaan dit vandag?” het ek gevra.

Ek het met hulle blad geskud en Vermeulen het my hartlik gegroet, maar De Waal was op sy hoede.

“Goed en met jou?” het De Waal gevra.

“Luister, ek het ’n skokkende bewering oor die saak gehoor en het gehoop dat julle my reguit sal sê of dit die waarheid of net loutere onsin is.”

Die twee mans het afwagtend na my gekyk en De Waal het sy kop geknik.

“Steek daar enige waarheid in die bewering dat Marthella seksueel gemolesteer is voor of selfs ná haar dood?”

De Waal het sy oë geknip en geaarsel voor hy stadig gesê het: “Geen kommentaar.”

Hy het weggestap en Vermeulen het hom gevolg. Ek het hulle bedank soos hulle weggestap het en my na Retief gehaas. Ek was baie opgewonde. Ek het haar vertel dat die twee ondersoekbeamptes, wat ek as beginselvaste mense beskou het, nie die bewering ontken het nie, wat slegs kon beteken dat daar dalk waarheid daarin gesteek het. Ek en Retief het saamgestem dat De Waal en Vermeulen maklik die storie as ’n blote gerug kon afmaak, maar dat hulle dit nie gedoen het nie. Hoekom nie? Dit het ons tot die gevolgtrekking laat kom dat Marthella wel seksueel gemolesteer is, waarskynlik deur dieselfde persoon wat haar en haar ouers vermoor het.

As die seun inderdaad skuldig is, sou hy in staat wees om so iets te doen? Die beskuldigde wou Marthella straf. Die moontlikheid het my gewalg. Ek wou my nie indink wat daardie arme veertienjarige meisie tydens haar laaste oomblikke moes verduur nie. Maar ek was daar om oor die nuus verslag te doen en my nuusredakteur was die een wat die besluit moes neem oor watter storie om op die voorblad te plaas. Ek het besluit om De Lange te bel.

“Sit jy?” het ek haar gevra.

De Lange het ja gesê.

“Jy sal nie glo wat ek sopas uitgevind het nie. Ek het met verskeie mense gepraat en almal het dieselfde bevestig: Marthella is seksueel gemolesteer, moontlik ná haar dood.”

Sy het na haar asem gesnak voor sy hard uitgeroep het: “Wat?! Is jy seker?”

Sy het my oordeel vertrou, maar dit was ’n baie ernstige bewering om te maak.

“Ja. Aanvanklik het ek dit dadelik verwerp, maar ek het die ondersoekbeamptes gevra om dit óf te bevestig óf te ontken. De Waal het net gesê ‘Geen kommentaar’ en toe weggeloop. Ek’s seker dat indien dit nonsens was, hy so sou gesê het.”

“Heng, Jacques. Ek voel sommer naar. Hoekom sou hy [die seun] so iets doen?”

“Ek weet nie. Ek voel net so aaklig. Dit kom daarop neer dat Marthella die fokus van haar aanvaller se woede was.”

De Lange het my bedank dat ek haar hieroor ingelig het en gesê dat sy later daardie middag weer met my sou praat. Ek het om die gebou gestap om oor hierdie onthulling na te dink. Dit het my ontstel omdat ek nie wou glo dat die seun so ’n gruweldaad kon pleeg nie. Watter soort monster was hy? Maar as hy die mense koelbloedig kon vermoor, dan was dit nie so vergesog om te dink dat hy Marthella gemolesteer het nie.

Die ander moontlikheid was dat hy heeltemal onskuldig is. Niks is gesteel nie, maar sê nou iemand was agter Marthella aan? Die seksuele molestering sal dan beslis sin hê. Ek moet erken dat dit die eerste keer was dat ek die moontlikheid oorweeg het dat die seun onskuldig kan wees en dat iemand anders hom dalk vir die moorde wou sien boet. Die idee dat hy ’n jong, onskuldige meisie kon molesteer het, was net te veel vir my. Dit was egter my taak om onpartydig te bly en oor die feite verslag te doen, en die ondersoekbeamptes het nie die gerug ontken nie. Ek sou oor hierdie ontstellende bewering verslag moes doen.

Ons is na die hofsaal teruggeroep. Tydens die reses het die landdros met Cloete en Coetzee beraadslaag. Hulle het besluit dat in plaas van om die verklaring voor te lees en die foto’s te wys, De Waal nou Cloete se vrae sou beantwoord. Dit was vir die staat se saak potensieel ’n massiewe terugslag, aangesien ek oortuig was dat die staat se bewyse verbysterend sou wees – miskien selfs onweerlegbaar – indien dit onthul sou word.

Dit was natuurlik ook ’n terugslag vir die media. Die waarheid is weer eens van ons weerhou. Almal in die hof, met die uitsondering van die verdediging en die seun se ondersteuners, het teleurgesteld gelyk deur die hof se beslissing. Alhoewel ek nie hul uitdrukkings van agter in die hof kon sien nie, was ek redelik seker dat Heckroodt en sy vrou triomfantelik geglimlag het. Was die seun bewus van sy klein oorwinning? Ek was seker hy is. Dit het steeds gelyk asof hy daarvan oortuig is dat hy onskuldig verklaar sou word. Hy het nie vir ’n oomblik hartseer, bekommerd of bang gelyk terwyl hy voor die landdros verskyn het nie.

Terwyl De Waal met sy getuienis begin het, het ek gewonder wat die seun weet wat die res van ons nie weet nie.