Die gemeenskap van Griekwastad, saam met die res van Suid-Afrika, het bykans ’n volle jaar lank die maande afgetel tot die verhoor kon begin. Almal het gehoop dat die baie vrae wat die moorde ontlok het uiteindelik beantwoord sou word. Drie weke is vir die verhoor geskeduleer en almal het verwag dat die seun aan die einde daarvan óf skuldig bevind óf vrygelaat sou word.
Ek was opgewonde en verlig. Ek wou natuurlik weet wat regtig gebeur het, maar nog belangriker, ek wou hê die verhoor moet klaarkry sodat ek met my lewe kan aangaan. Dit was uitputtend en tydrowend om die storie te dek – ek het reeds ’n kwart van die jaar daaraan gespandeer om die Griekwastad-moorde te ondersoek, daaroor te skryf en daaroor te dink. Dit was ook nie maklik om my mededingers die hele ent van Gauteng af met die nuus te klop en gedurig net voor hulle te probeer bly nie.
Ek was dus uiters teleurgesteld toe my nuwe nuusredakteur, Inge Kühne, my minder as twee weke voor die begin inlig dat ek moontlik glad nie die verhoor sou dek nie. (Kühne het aan die einde van 2012 by Rapport begin werk.) Een middag net ná 17:00 het ek ’n e-pos van haar ontvang waarin sy my meegedeel het dat hulle eerder vir Hanlie Retief gaan stuur omdat dat daar slegs een sitplek aan Rapport by die verhoor toegeken is. Hanlie sou ’n “atmosfeerstorie” doen – m.a.w., sy sou nie oor die nuus verslag doen nie.
Ek was platgeslaan oor die manier waarop ek ingelig is. Ná al my harde werk sou ek nie die verhoor kon bywoon nie. Ek kon nie verstaan hoekom daar slegs een sitplek aan Rapport toegeken is nie.
Maar ek het besluit om dit nie sommerso te aanvaar nie; ek wou nie die stryd maklik gewonne gee nie. Ek het ’n lang e-pos aan Gerber geskryf. Ek het hom meegedeel hoe teleurgesteld ek is en dat van al die verslaggewers wat die verhoor sou bywoon, ek dit die meeste verdien om daar te wees. Ek het verder uitgewei oor die groot aantal voorbladstories wat ek vir Rapport geskryf het en hoe ek die een was wat hulle oortuig het om die storie te plaas. Ek het ook eerste van die seun se inhegtenisneming geweet en daaroor verslag gedoen.
Ek het verduidelik dat ek tot die einde eenvoudig daar moes wees omdat dit nie net my storie was nie, maar nog belangriker, dit was ook Rapport se storie en ons moes dit enduit deursien. Minute later het Gerber my na sy kantoor ontbied en gesê dat ek oorreageer, en dat dit nog al die tyd sy plan was dat ek die verhoor bywoon. Tot my verligting is toestemming aan my verleen en kon ek weer my reisplanne vir die verhoor indien.
Aangesien ons slegs een sitplek tussen die twee van ons gehad het, is daar besluit dat ek en Retief beurte sou maak om die verhoor te dek. Sy sou besluit wanneer en vir hoe lank sy die verrigtinge wou bywoon, en ek sou dan haar plek daarna inneem. Na ek verskeie telefoonoproepe na my bronne gemaak het, het ek vir Retief gebel en haar ingelig dat die seun nie eerste sou getuig nie; hy sou heel waarskynlik eers in die tweede of laaste week van die verhoor in die beskuldigdebank wees. Gelukkig het sy toe besluit dat sy eerder vir hom sou wag om te getuig, aangesien alles wat verder by die verhoor sou uitkom die beste deur beriggewing gedek sou word.
Ek het Sondag 10 Maart 2013 per motor na Kimberley gereis nadat ek die dag saam met my lewensmaat en ons kinders deurgebring het. Tydens die lang rit suidwaarts het my gedagtes gedurig vasgesteek by wat moontlik in die komende weke kon gebeur en hoe die seun sy aandeel in die storie sou probeer verduidelik. Ek het by die Garden Court Hotel in Kimberley ingeteken. Die hotel was slegs 500 m vanaf die stad se hooggeregshof, waar ek vroeg die volgende oggend moes wees. Een vir een het my kollegas van verskillende mediahuise ook in die stad aangekom.
Ek was só opgewonde dat ek daardie nag gesukkel het om te slaap. Terwyl ek wakker gelê het, het ek weer oor alles gedink wat ek van die saak weet. Daar was nog so baie wat ons nie geweet het nie: inligting wat die polisie van die media weerhou het, maar wat tydens die verhoor aan die lig sou kom. Vir my sou die “hoogtepunt” van die saak ongetwyfeld wees om die seun se getuienis aan te hoor of, dan eerder, om toe te kyk hoe die staatsaanklaer, Hannes Cloete, hom onder kruisverhoor neem. Ek het vermoed dat die waarheid dan onthul sou word, aangesien ek nie kon sien hoe die tiener weerstand kon bied teen Cloete se kundige ondervraging nie. Ek het aangeneem dat hy óf betrap sou word waar hy jok óf ineen sou stort en dan die waarheid vertel. Wat ook al die geval, dit sou baie interessant wees om te aanskou.
Ná ontbyt daardie Maandagoggend 11 Maart het ek my na die hooggeregshof gehaas, maar ek was steeds die laaste verslaggewer wat daar aangekom het. Sekuriteit by die ingang van die gebou was net so slap soos altyd. Ek het my persoonlike besonderhede en die rede waarom ek die hof besoek vinnig neergekrabbel voor ek met die trappe op is. Ek moes rondvra, maar het my gou in die groot hofsaal bevind, waar die Griekwastad-moordverhoor binnekort sou begin. In vergelyking met die aantal mense wat die aansoek om borgtog bygewoon het, was hierdie vertrek bykans leeg. Ek het dit toegeskryf aan die feit dat die verhoor agter geslote deure sou plaasvind.
’n Paar verslaggewers was reeds op hul pos in die voorste banke links in die hofsaal, waar die jurielede dekades gelede gesit het toe Suid-Afrika nog ’n jurieregstelsel gehad het. Vandag, en vir die res van die verhoor, sou dit deur die media beset word. Huisgenoot se Herman Scholtz, OFM se Mariné Jacobs, SAPA se André Grobler en Volksblad se Charné Kemp en Vicus Burger het my gegroet toe ek my plek tussen hulle inneem. Ons het gesels oor waar almal bly en wat ons verwag in die volgende dag of twee sou gebeur. Nie een van ons het gedink dat die verhoor daardie dag sou begin nie, aangesien die media ’n aansoek ingedien het om oor die verrigtinge verslag te doen en die proses gewoonlik ’n paar uur neem.
’n Regspan wat deur Media24, Independent Newspapers en die Central Media Group aangestel is, het die aansoek kragtens artikel 153(1) van die Strafproseswet, no. 56 van 1977, en artikel 63(5) van die Wet op Kindergeregtigheid, no. 75 van 2008, ingedien. Ná ’n paar uur se konsultasie in die kamers van die Noord-Kaapse regter-president, Frans Kgomo, het ons toestemming verkry om oor die verhoor verslag te doen. Die voorwaardes was dat ons nie die beskuldigde se identiteit moes onthul nie, of enige foto’s of videobeelde van hom in die hof publiseer of weergee nie.
Omdat die beskuldigde ’n minderjarige is, het dit by die regter-president berus om te besluit wie die verhoor kon bywoon. Die seun se naaste familie, insluitende sy grootouers, pleeggesin en tannies, is toegelaat om ook die verrigtinge by te woon. Slegs die publiek, wat vriende van die oorledenes ingesluit het, is toestemming geweier om eerstehands te hoor wat werklik op 6 April 2012 plaasgevind het.
Kort ná 11:00 daardie oggend, teen alle verwagting in, het die verhoor begin. Toe regter Kgomo die vertrek binnekom, is die beskuldigde beveel om op te staan. Advokaat Cloete het hardop elkeen van die vyf aanklagte teen die seun voorgelees. Hy het gereageer deur “onskuldig” op elke aanklag te antwoord. Cloete het vervolgens die hof meegedeel dat ’n kinderhof nou in sitting is. Geen pleitverduideliking is deur die verdediging ingedien nie.
Die staat het hul eerste getuie, kolonel Sietze Albertse, ’n forensiese deskundige van Pretoria, geroep. Sy werk behels die gebruik van ’n nuwe rekenaarprogram, bekend as SceneCenter Forensic, wat gebruik word om misdaadtonele te rekonstrueer. Albertse het fisiek sterk gelyk, maar was van gemiddelde lengte en het stug voorgekom. Hy het nie gelyk na iemand wat baie lag nie.
’n Spesiale kamera wat 360°-foto’s van die hele misdaadtoneel neem, word in die rekonstruksieproses gebruik. Die foto’s word op rekenaar afgelaai en SceneCenter Forensic rekonstrueer dan die toneel driedimensioneel, wat ’n mens in staat stel om in en uit sekere dele te zoem en op die bewysstukke te fokus. Voor hierdie saak is die sagteware slegs ’n paar keer in Suid-Afrika gebruik. Dit was nou die eerste keer dat dit in die Noord-Kaap gebruik word.
Cloete het voor sy ondervraging van Albertse eers die familie van die oorledenes gewaarsku dat hulle na foto’s van ’n grusame aard gaan kyk wat op die misdaadtoneel geneem is kort ná die polisie op die lyke afgekom het, asook na foto’s wat dae later in die lykshuis geneem is nadat die nadoodse ondersoeke uitgevoer is. ’n Projektorskerm is voor in die hofsaal aan die regterkantse muur aangebring; dit is op sy beurt gekoppel aan ’n skootrekenaar wat deur Dick de Waal beheer is. Die regter sowel as die beskuldigde se regspan het kleiner skerms voor hulle gehad.
Advokate Willem Coetzee en Sharon Erasmus het slaggereed gelyk waar hulle die verrigtinge van agter ’n lang houttafel dopgehou het. Reg agter hulle, binne hoorafstand, het die seun se prokureur, Stoffel de Jager, langs Bennie Heckroodt gesit. Die seun het links agter hulle, in die middel van die vertrek, in die beskuldigdebank gesit. Toe hy ’n paar uur tevore die hofsaal binnegekom het, vergesel van Heckroodt en Hanlie, het hy kalm en bedaard gelyk. Hy was geklee in jeans en ’n hemp.
Ek was verbaas toe die seun opspring om sy grootouers, wat gekom het om hom te ondersteun, te groet. Hulle het steeds geglo dat hy onskuldig is, ongeag die bewyse wat op die teendeel gedui het. Dit het gelyk asof hy ongelooflik bly was om hulle te sien en hy het hulle omhels en gesoen voor hy weer gaan sit het. Die ou paartjie het toe op die groot, leë tussenvloer gaan sit, in die tweede ry van agter, naby die deur. Miskien het hulle gedink dat hulle op een of ander stadium die hofsaal vinnig sou moes verlaat.
Christel se ouers was ook teenwoordig. Hulle het langs Hanlie gesit, regs van die seun, aan die kant van die verdediging.
Kgomo het die hof vir ’n kort rukkie verdaag en die regspanne gevra om aan beide die families die aard en doel van die foto’s te verduidelik wat hulle op die punt was om te sien. Daarna het Christel se ouers verkies om in die hofsaal te bly, maar Deon se ouers het opgestaan en uitgestap. En hulle sou voortgaan om die hofsaal tydens die res van die verhoor te verlaat wanneer grusame foto’s van hul vermoorde geliefdes vertoon word.
Toe die verhoor voortgaan, is Albertse gevra om in detail te verduidelik hoe die sagteware werk. Hy het dit gedoen deur die werklike gerekonstrueerde moordtoneel, wat op die groot skerm geprojekteer is, te gebruik. Ek was gefassineer, om dit sagkens te stel. Ek het gebrand om my hande op ’n kopie daarvan te kry, aangesien dit ’n holistiese beeld van die toneel ten tyde van die moorde bied.
Albertse het begin met ’n foto van die buitekant van die huis en het toe ingezoem op bloedspatsels teen ’n muur. Daarna het gevolg ’n foto van die verdagte wat wys waar hy na bewering die “agtergelate” vuurwapens gevind het. Albertse het in en uit ’n 360°-foto gezoem wat duidelik die ligging van die huis en die hek getoon het in verhouding tot waar die verdagte in ’n nabygeleë veld staan.
Op die skerm het verskillende byskrifte of merkers in kleur die onderskeie hoofbewysstukke aangedui. Enigiemand wat die program gebruik, kon eenvoudig op een van die merkers kliek, wat óf ’n versameling foto’s oopmaak, die bewysstukke toon, óf die notas lys wat die ondersoekspan oor ’n spesifieke area gemaak het. Dit was fassinerend om te sien hoe die misdaadtoneel “lewe kry” met die driedimensionele weergawe wat Albertse en De Waal geskep het.
Die doel van Albertse se getuienis was om die regter se toestemming te verkry sodat die staat die SceneCenter Forensic-program tydens die verhoor kon gebruik. Juis daarom het Coetzee onmiddellik die program se betroubaarheid tydens kruisondervraging aangeval. Hy het gevra of daar met die program gepeuter kon word en Albertse het toegegee dat dit gemanipuleer kon word deur dinge van die toneel te verwyder of by te voeg. Hy het egter beklemtoon dat die bewysstukke op die misdaadtoneel dieselfde bly, ongeag wat in die program bygevoeg of verwyder word.
Coetzee het toe gevra wat die verskillende kleurkodes op die model beteken en Albertse het verduidelik dat dit die aanbieder help om die verskillende aspekte van die misdaadtoneel beter te verduidelik.
Albertse het die hof meegedeel dat hy Naauwhoek in Augustus, vier maande ná die moorde, besoek het en toe verskeie 360°-foto’s geneem het. Hy het toe die driedimensionele model saamgestel deur die inligting wat ingesamel is en die groot aantal foto’s wat die aand van die moorde en die dae daarna geneem is, by te voeg.
Terwyl Albertse die program se funksies aan die hof verduidelik het, het hy ons op ’n vinnige virtuele toer deur die misdaadtoneel geneem. Dit was die eerste keer dat ons, die media, die grusame beelde van daardie verskriklike nag aanskou het.
Een van die eerste foto’s was van Deon, wat op die vloer op sy maag gelê het. Hy het ’n donkerblou rugbyhemp aangehad met die woorde “South Africa” in wit op die agterkant geskryf. Sy arms was onder hom ingevou en regs van sy kop was ’n groot bloedsleepmerk. Dit het gelyk asof hy deur sy eie bloed gesleep is, of dat hy self beweeg het voor hy aan sy wonde beswyk het.
Daarna is ’n foto van ’n meisie, wat op die vloer lê, aan ons gewys. Sy het op haar regtersy gelê, met haar arm onder haar liggaam ingebuig sodat haar elmboog agter uitsteek. Sy was in ’n neongroen hemp en blou kortbroek geklee. Verskeie tydskrifte het agter haar naby ’n klein koffietafel rondgelê. ’n Onheilspellende stilte het oor die hofsaal gedaal terwyl almal na die groot skerm staar.
Selfs die beskuldigde het na die foto’s gekyk; die enigste verskil tussen hom en ons was dat hy verveeld en ongeïnteresseerd gelyk het. In sekere mate kon ek hom nie blameer nie, aangesien hy die foto’s sekerlik baie kere as voorbereiding vir die verhoor moes gesien het, maar die uitdruk-king van verveeldheid was totaal onvanpas. Toe, terwyl hierdie grusame foto’s vertoon is, het hy direk na my gekyk en ’n gaap onderdruk.
Die volgende getuie wat geroep is, was luitenant André McAnda, bevelvoerder van die Noord-Kaapse misdaadtoneelondersoekeenheid. McAnda, ’n bruin man met kort hare en ’n snor, het ’n afsydige houding gehandhaaf terwyl hy gevra is om uit te wei oor sy aandeel in die ondersoek. Met albei sy hande oor sy boepmaag gevou, het hy die hof vertel hoe hy min of meer dieselfde tyd as De Waal in Griekwastad aangekom het. Hy het bewyse by die Griekwastad-polisiestasie ingesamel voor De Waal, sy hoof, hom beveel het om op verskeie items, insluitende die beskuldigde se rugbybroek, beslag te lê. McAnda het egter nie gedink dat dit nodig was om daarop beslag te lê nie, aangesien hy geglo het dat die seun ’n voldoende verduideliking gegee het vir waarom daar bloed op was. In teenstelling met De Waal was McAnda op daardie stadium tevrede met die seun se verduideliking.
“Hy het gesê dat hy die meisie in die huis gehelp het en dat dit is hoe die bloed op sy rugbybroek beland het. Ek het nie gedink dit is nodig om daarop beslag te lê nie omdat hy nie op daardie stadium ’n verdagte was nie, maar De Waal het my beveel om dit te doen,” het McAnda gesê. Ook maar goed, het ek gedink.
Hierna het McAnda, met behulp van De Waal en sy skootrekenaar, sommige van die 146 foto’s wat in ’n fotoalbum saamgevat is aan die hof gewys. Party het die slagoffers op die toneel getoon; ander het bewysstukke soos patroondoppies, bloeddruppels en bloedspatsels wat in en om die huis aangetref is, gewys. En dan was daar die foto’s van die nadoodse ondersoek.
Daar is voor McAnda met sy getuienis begin het, besluit dat die staat nie enige foto’s van die nadoodse ondersoek op die skerm sou wys nie. In plaas daarvan sou die regter, die verdediging, De Jager, Heckroodt en die beskuldigde verskeie identiese fotoalbums met die foto’s ontvang.
Maar ten spyte van die besluit om nie foto’s van die nadoodse ondersoek te vertoon nie, is sommige tog twee keer tydens die loop van die dag onthul toe De Waal per ongeluk met die rekenaar se muis oor hulle beweeg het. Ek het verskeie foto’s van Marthella gesien waar sy kaal op ’n vlekvryestaaltafel in die lykshuis lê. Foto’s van haar geslagsdele is ook gewys, wat heel waarskynlik deel van die bewyse uitmaak wat die aanklag van verkragting sou staaf.
Maar die grusaamste beeld wat ek daardie dag gesien het – en dit is ’n deel van hierdie saak wat vir die res van my lewe by my sal spook – was ’n nabyskoot van Marthella se geskende gesig. Daar was geen teken van die pragtige meisie in bykans elke foto wat ek van haar gesien het nie: in plek daarvan was daar twee pers ooglede wat twee uitermate groot oogballe terughou, blykbaar uit hul oogholtes geforseer weens die impak van die houe teen haar kop. Haar gesig was vol bloed; selfs haar neus en mond was verwring. Sy het ’n gewelddadige dood gesterf en moes ondraaglike pyn verduur het voordat sy haar laaste asem uitgeblaas het.
Ek het na die foto’s op die skerm gekyk en toe na die beskuldigde, wat gelyk het of hy steeds glad nie geraak word deur die beelde nie. Dit het my woedend gemaak. Op daardie oomblik het ek gehoop dat indien hy skuldig bevind sou word, iemand aan hom sou doen wat hy aan haar gedoen het.
Kort daarna is die hof vir middagete verdaag, maar nadat ons almal die afgryslike foto’s aanskou het, was niemand eintlik honger nie.