Na middagete was luitenant McAnda steeds in die getuiebank. Nadat hy breedvoerig oor die fotoalbum en die inhoud daarvan gepraat het, het hy beskryf hoe die polisiemanne op die toneel beskermende klere, beter bekend as “maanpakke”, gedra het, wat hulle van kop tot toon bedek en verseker dat hulle nie die misdaadtoneel versteur nie.
Alhoewel dit gelyk het asof regter Kgomo vertroud is met al die tegniese terme, het hy nie gehuiwer om die verrigtinge te onderbreek wanneer hy ook al gevoel het dat ’n sekere punt verder verduidelik moet word nie. Toe hy McAnda vra of die dra van maanpakke op misdaadtonele standaardpraktyk is, het McAnda dit bevestig.
McAnda het na die grusame foto’s teruggekeer en gesê dat hulle foto’s geneem het van wat na bloedspatsels gelyk het op die buitemuur regs van die kombuisdeur. Dit was waar die polisiemanne die huis vir die eerste keer betree het. Foto’s van nog bloedspatsels op die teëlvloere, op verskeie plekke op die kombuistoonbanke en ook naby en op die Telkom-telefoon is ook geneem. Die telefoon was van die mik af en die gehoorstuk het bloed opgehad waar dit op die toonbank naby die lyke van Marthella en Christel gelê het. Die voor die hand liggende gevolgtrekking is dat óf Marthella óf haar ma na die telefoon gegryp het in ’n poging om hulp te ontbied, maar óf gesterf het terwyl hulle dit probeer doen het óf deur hul aanvaller gekeer is.
McAnda het gesê dat hulle drie koeldrankglase op verskeie plekke buite die huis gevind het. Twee van die glase het op die gras gelê verskeie meter uitmekaar in ’n reguit lyn aan die oostekant van die huis, naby die braai en die swembad. Die derde glas is ook op die gras aangetref, maar aan die suidekant van die huis, tussen die kombuisdeur en die skuur.
Op hierdie stadium het my kop oortyd gewerk. Skielik het ek weer begin twyfel. Was ons verkeerd in ons aanname dat die seun die moordenaar is? Was daar ander mense op die eiendom voor of tydens die moorde? Of het die seun dalk medepligtiges gehad? Duidelik het iemand iets ten tyde van die moorde gedrink.
Ek het al oor verskeie plaasaanvalle en huisinbrake verslag gedoen waar die aanvallers die slagoffer se drank uitgedrink het. Dit was daarom nie so vergesog om aan te neem dat die moordenaar(s) sterk drank geniet het om hul senuwees te kalmeer of hul selfvertroue ’n hupstoot te gee nie. Ek was nie die enigste een wat hierdie afleiding gemaak het nie omdat McAnda toe gesê het dat die glase ontleed is om te bepaal of dit alkohol bevat het, maar dat geen teken van alkohol gevind is nie. Dit was dan ook die einde van daai teorie …
McAnda het die hof meegedeel dat hy die misdaadtoneel ná 01:00 die oggend ná die moorde verlaat het. Hy het toe na sy kantoor teruggekeer en elke bewysstuk wat hy ingesamel het deeglik gemerk en gedokumenteer. Hy het toe aan die hof erken dat hy besef het dat hy verskeie foute begaan het, onder andere ’n aantal tikfoute, maar dat hy dit agtergekom het en reggestel het.
McAnda het sy getuienis onder leiding van advokaat Cloete, die staatsaanklaer, afgelê. Cloete het vrae aan hom gestel wat die ervare polisieman toegelaat het om te verduidelik watter foute hy begaan het en hoekom. Op ’n stadium het McAnda na die regter gedraai en gesê: “Ek is baie getraumatiseer deur dit wat ons op die plaas gesien het en dit, saam met die feit dat ek baie moeg en oorwerk was, het veroorsaak dat ek ’n paar klein foute gemaak het. Ek het dit egter reggestel. Ek wil hierdie hof, die familie van die slagoffers en die publiek om verskoning vra vir hierdie ongerief.”
McAnda se verskoning het my onkant betrap. Hy was duidelik ’n opregte man wat nie daarvan gehou het om foute te maak nie en trots op sy werk is. Uit my ervaring was dit ongewoon vir ’n polisieman. Ek het McAnda gerespekteer dat hy nie toegelaat het dat trots in sy pad staan om te erken dat hy foute gemaak het nie, want gewoonlik sou ’n polisieman betrokke by so ’n hoëprofielsaak oor sy loopbaan bekommerd wees en probeer om enige foute geheim te hou.
Maar ek het na Coetzee geloer en ek kon sien dat hierdie kwessie nog glad nie afgehandel was nie. Die uitdrukking op sy gesig het duidelik getoon dat hy gedink het hy het sopas ’n klein oorwinning behaal. Dit sou sy taak baie vergemaklik; al wat hy nou moes doen, was om te bewys dat die polisiemanne op die misdaadtoneel onbevoeg was en die bewysstukke versteur het.
Maar Cloete was waarskynlik bewus van wat Coetzee in gedagte gehad het, aangesien hy McAnda gevra het of die bewysstukke op een of ander manier versteur is. McAnda het nee gesê en verduidelik dat slegs die volgorde van die bewysstukke verkeerd genommer is, maar dat dit daarna reggestel is. Dit het gelyk asof Kgomo hiermee tevrede is en dit is as sodanig in die hofdokumente aangeteken.
McAnda het verder getuig dat die gedokumenteerde en/of ingesamelde bewysstukke bestaan het uit die voertuie, ’n .357-Magnumrewolwer en ses leë patroondoppies, ’n .22-geweer, ’n rugbybroek, en ’n maroen sowel as ’n groen T-hemp. Die een T-hemp is in die beskuldigde se slaapkamer gevind en die ander een buite die polisiestasie. McAnda het toe erken dat ’n bloedsmeermonster van ’n moontlike bloedkol op die beskuldigde se been weggeraak het. Toe ’n foto van die bloedsmeermonster in die hof aan hom gewys is, het hy gesê dat hy geen idee het wat daarvan geword het nie.
Hy het verduidelik dat nadat hy die bloedsmeermonster geneem het, lede van die gemeenskap buite die polisiestasie op hom en sy kollegas toegesak het en dat iemand op daardie stadium die monster kon geneem het. Of hy kon dit verlê het.
Dit het my laat wonder of die res van die ingesamelde bewysstukke op daardie tydstip beveilig is en of ’n derde party ook toegang daartoe kon verkry het of dit kon versteur het. Een van die vele gerugte wat oor hierdie verlore bewysstuk die ronde gedoen het, was dat een van die seun se familielede na bewering naby McAnda se motor gesien is en dat hierdie persoon die bewysstuk gesteel het in ’n poging om die ondersoek te belemmer.
Terwyl die polisie die misdaadtoneel op Naauwhoek deursoek het, het hulle in die veld op ’n kombuismes afgekom, naby die plek waar die beskuldigde gesê het hy die vuurwapens gekry het. McAnda het gesê dat die mes nie by die bewysstukke ingesluit is nie omdat daar roes op was, wat daarop dui dat dit reeds geruime tyd daar gelê het.
Hy het ook die wit 1400-Nissanbakkie genoem wat verlate op die gruispad tussen die dorp en die plaas gevind is. Hulle het wat gelyk het soos twee bloederige handafdrukke op die kant van die bakkie en die stuurwiel weggestuur vir analise. McAnda het verskeie foto’s van die voertuig, die binnekant daarvan en die area daar rondom geneem. Die ware verhaal agter die afdrukke sou later deur een van die getuies onthul word.
Ná twee dae in die getuiebank en nadat hy van elke bewysstuk getuienis gelewer het – en in sommige gevalle waar hy moes uitwei oor hoe en waarom sekere bewysstukke ingesamel is – het McAnda se hoofgetuienis om teetyd op Woensdag 13 Maart tot ’n einde gekom. Sy forensiese verklarings wat al die bewysstukke en bewyse bevat, saam met die fotoalbum, het nou alles deel uitgemaak van die hof se amptelike rekord van die saak. Naas Deon en Christel se ouers, het Deon se twee susters ook dié dag opgedaag. Daar is verwag dat hulle albei op ’n stadium sou getuig.
Ná teetyd, wat Kgomo klokslag om 11:00 gehou het, was dit Coetzee se beurt om McAnda te kruisondervra. Ek het Coetzee die vorige jaar in aksie gesien tydens die aansoek om borgtog. Ek het geweet dat hy baie omslagtig sou wees en om geen ooglopende rede nie herhaaldelik op sekere punte sou hamer. Ek glo dit is een van die redes waarom Cloete vir McAnda so noukeurig oor sy foute uitgevra het, aangesien hy geweet het waartoe Coetzee in staat is.
Met sy langerige grys hare en snor, het Coetzee my aan ’n hippie laat dink. Hy het gelyk asof hy nie in ’n hof hoort nie; dit het weer eens geblyk uit die manier waarop hy op sy een been balanseer terwyl die ander een onder hom ingevou is, wat hom soos ’n ooievaar laat lyk het. Hy het ook gereeld snaakse gesigte getrek en het daarvan gehou om alles te dramatiseer. McAnda moes hom inderdaad regmaak vir ’n moeilike tyd.
Coetzee het sommer dadelik weggespring met die vele administratiewe foute wat McAnda gemaak het. McAnda het daarop gereageer deur te sê: “Ek het getuig in die deurmekaarspul,” maar Coetzee het gevra: “Hoeveel foute maak jy? Ons sal by die ander uitkom.” McAnda het die hof meegedeel dat, ongeag of hy ’n kenner is op sy gebied of nie, foute steeds gemaak kon word. “In alle velde van kundigheid is daar ruimte vir foute,” het hy verduidelik.
Tydens sy hoofgetuienis sowel as kruisondervraging het McAnda herhaaldelik deur ’n stapel dokumente geblaai wat hy saam met hom na die hof gebring het. Hierdie dokumente het Coetzee se belangstelling geprikkel en hy het spoedig gevra om daarna te kyk. Maar McAnda was ferm: “Nee,” het hy gesê. “Dit is my private notas.” Dit het gelyk asof Coetzee geskok is deur die polisieman se ferm houding en ek het per ongeluk hardop gelag. Ek het ’n baie lelike kyk van Coetzee gekry, wat heel duidelik glad nie gedink het dit is snaaks nie.
Ek het nie bedoel om hardop te lag nie, of om my Coetzee se toorn op die hals te haal nie, maar ek het die uitdagende manier waarop McAnda op sy regte gestaan het terdeë geniet. Ek het ’n paar weke tevore die Olimpiese atleet Oscar Pistorius se aansoek om borgtog bygewoon en aanskou hoe die ondersoekbeampte, Hilton Botha, onder kruisondervraging ineengestort het. Ek was verlig dat McAnda sy man kon staan. Dit was veral belangrik in die konteks van ’n hoëprofielsaak soos die Griekwastad-moorde en dit het my vertroue in die polisie asook die Nasionale Vervolgingsgesag opnuut versterk.
McAnda het beklemtoon dat sy getuienis voldoende is en dat hy Coetzee nie sou toelaat om sy notas te sien nie. Coetzee het regter Kgomo toe versoek om tussenbeide te tree, wat op sy beurt vir Cloete gevra het of McAnda se notas enige inligting bevat wat vir die verdediging verbode is. Aangesien dit amper 13:00 was, het Kgomo die hof vir middagete verdaag, maar Cloete versoek om met McAnda te beraadslaag en die hof vervolgens in te lig of Coetzee toegang tot die notas kon hê. Indien Cloete vir McAnda sou steun, sou Kgomo oor die saak moes beslis.
Ná middagete het Cloete die hof egter ingelig dat die notas niks buitengewoons bevat nie en dat Coetzee dit maar kon kry. Coetzee het amper teleurgesteld gelyk dat die staat nie by ’n geveg oor toegang tot die notas betrokke wou raak nie.
Coetzee het met sy kruisondervraging voortgegaan en weer eens die kwessie van McAnda se foute opgehaal. Hy het verskeie vrae gevra om die punt wat hy probeer maak het – dat McAnda onbevoeg is – te bewys. Tot my ontsteltenis het McAnda erken dat hy uit geskrewe verslae “geknip en geplak” het en nie sy werk behoorlik nagegaan het nie. Hy het weer eens benadruk dat forensiese ondersoekers slegs menslik is en foute kan maak, wat dikwels veroorsaak word deur die lang werksure en die trauma wat by misdaadtonele ervaar word.
Ek self ly aan posttraumatiese stressindroom om laasgenoemde rede. Dus kon ek met hom simpatiseer. Ek is jare lank aan moordslagoffers en hul getraumatiseerde familielede blootgestel en selfs die vele motorongelukke waarvan ek oor die jare heen moes foto’s neem, gee my nagmerries. Dit maak nie saak wie jy is, of hoe sterk jy dink jy is nie – om ’n lyk vol bloed te sien, of wat in verskillende dele geskeur is, sal enigiemand raak.
Dit is selfs erger indien jy ’n ouer is, soos die geval is met die meeste ouens wat aan hierdie saak gewerk het, omdat jy geneig is om ’n dooie kind met jou eie te assosieer en op die ou end wonder jy hoe dit sou voel as dit jou kind was wat daar dood lê. Ek het geglo dat Marthella nie net by my gespook het nie, maar ook by hierdie manne en vroue.
“Ek is maar net ’n mens,” het McAnda die hof meegedeel. “’n Gesin is daardie aand grusaam vermoor en om na die misdaadtoneel terug te keer, het die herinneringe teruggebring.”
“Dus, om die waarheid te sê, weet ons nie hieruit of die forensiese laboratorium dit wat op die dokument aangedui is, ontvang het nie?” het Coetzee gevra. Coetzee het verwys na die forensiese papierwerk wat McAnda veronderstel was om saam met elke bewysstuk wat gedokumenteer is, in te dien voor alles na die verskillende forensiese laboratoriums vir toetse gestuur word. Coetzee wou weet of die dokumente met die spesifieke bewysstukke ooreenstem.
McAnda: “Ek stem saam dat dit ’n belangrike dokument is, maar [ek] het dit nie behoorlik nagegaan nie. Ek het die papierwerk laat die aand gedoen nadat ons van Griekwastad af teruggekom het.”
Coetzee was nie tevrede met McAnda se antwoord nie en hy het hom weer eens gevra hoe hy die prosedure vir die insameling van forensiese bewysstukke uitgevoer het. Toe Coetzee na McAnda as ’n forensiese kundige verwys, het die polisieman hom reggehelp en gesê: “Ek is nie ’n forensiese kundige nie. Ek is ’n forensiese veldwerker.”
Coetzee het daarop vir McAnda gevra waarom hy nie probeer het om sekere bewysstukke in te samel wat kon bepaal of iemand anders tydens die moorde teenwoordig was nie. McAnda is toe gedwing om sy optrede te verdedig en oor sekere aspekte van die bewysstukke uit te wei. Hy het verduidelik dat hy nie die vloer kon nagaan vir afdrukke nie omdat die polisiemanne op die toneel reeds die area versteur het. Hy het ook erken dat hy nie probeer het om bewyse vanaf die groen baadjie wat Deon se regterarm gedeeltelik bedek het, in te samel nie.
Coetzee het toe gevra of enige monsters van die bloedbevlekte mat onder Marthella se lyk geneem is en weer eens het McAnda nee gesê. Hy het ook erken dat hy nie foto’s van sommige van die bewysstukke geneem het nie, aangesien hy gedink het dat dit “onbelangrik” is.
Coetzee het McAnda gevra wat van ’n bruin baadjie geword het wat oor ’n stoel se rug naby die vroue se lyke gehang het. Coetzee het probeer om hierdie item in McAnda se aangetekende bewysstukke te vind, maar kon nie daarin slaag nie. McAnda het erken dat hy “nagelaat het om dit te doen”, wat daarna verwys dat hy nie die baadjie gedokumenteer het nie. Coetzee het die getuie berispe en gesê: “Jy het weer nagelaat om dit aan te teken,” waarmee hy toe sy kruisondervraging afgesluit het.
Ek het in die beskuldigde se rigting geloer en die grynslag op sy gesig opgemerk. Dit het gelyk asof hy Coetzee se kruisondervraging geniet het en duidelik verstaan dat dit McAnda se reputasie in gedrang kon bring en, in ’n latere stadium, die geldigheid van die ingesamelde bewysstukke kon bevraagteken. Maar dit het gelyk asof Cloete glad nie van stryk gebring is nie. Ek het oogkontak gemaak met die ervare staatsaanklaer, wat amper nooit ’n saak verloor nie, en hy het vir my geknipoog. Waarskynlik was dit ’n poging om my te verseker dat alles onder beheer is.
Die staat het vervolgens McAnda se assistent, konstabel Motlalekgomo “Stephen” Mohithli, na die getuiebank geroep. Mohithli was verantwoordelik vir die meeste van die vingerafdrukke wat op die toneel ingesamel is en hy is ook beveel om die eerste video-opnames van die misdaadtoneel te maak terwyl die lyke steeds in die huis was. Hy het sy getuienis begin deur te verklaar dat hy primêre residutoetse op albei die beskuldigde se hande gedoen het.
“Ek het die toets voor hom verseël,” het Mohithli bevestig.
Primêre residutoetse word op ’n persoon se hand of hande gedoen om te bepaal of hy of sy ’n vuurwapen afgevuur het. Die toets tel enige kruitresidu op wat oorgedra is ten tyde van die afvuur van die vuurwapen. Die beskuldigde het negatief getoets vir kruitresidu op sy hande, maar die klere wat hy op daardie tydstip aangehad het, het positief getoets. Die feit dat sy hande skoon was, was waarskynlik omdat hy hulle twee keer met seep en water gewas het kort nadat hy by die polisiestasie opgedaag het. Seep en water is blykbaar baie effektief om van kruitresidu ontslae te raak.
Mohithli het toe oor vingerafdrukke begin getuig. Ek was geskok om te hoor hoe hy erken dat hy slegs een vingerafdruk kon lig vanaf al die areas wat hy nagegaan het en dat hy dit nie met enigiemand kon verbind nie. Almal in die hofsaal het ontsteld gelyk. Mohithli moes tog seker vingerafdrukke van die oorledenes gevind het? Per slot van rekening was hulle besig om aandete te eet voor hulle vermoor is.
Die enkele vingerafdruk is gelig vanaf een van die koeldrankglase wat buite die huis gevind is. Ek het later van ’n betroubare bron verneem dat die vingerafdruk na bewering aan Marthella behoort het. Die patoloë het skynbaar nie al haar vingerafdrukke tydens die nadoodse ondersoek gedokumenteer nie en omdat sy slegs veertien jaar oud was en te jonk was om ’n Suid-Afrikaanse identiteitsdokument te hê, waarvoor haar vingerafdrukke nodig sou wees, het nóg die polisie nóg die staat die vingerafdruk amptelik met haar verbind.
Mohithli het getuig dat hy ook verskeie ander voorwerpe vir vingerafdrukke getoets het, onder andere ’n pistoolsak wat voor die kluis in die hoofslaapkamer gevind is, die kombuistoonbank en die telefoon in die kombuis, die eetkamertafel en die eetgerei wat die gesin vir aandete gebruik het.
Toe die staat aankondig dat hulle gereed is om die ontstellende video-opname wat Mohithli daardie aand gemaak het in die hof te vertoon, het Deon se bejaarde ouers opgestaan en uitgestap. Deon se een suster het bly sit. Ek glo nie sy het besef waarvoor sy haarself inlaat nie.
Die oomblik toe die hofsaal se ligte gedemp word, was almal se oë op die skerm vasgenael. Dit wil sê, almal behalwe die beskuldigde. Hy het net in die verte gestaar. Of dit nou as gevolg van hartseer of sy gewete was, kon niemand weet nie. De Waal het op die skootrekenaar voor hom getik en oor sy bril na die skerm geloer toe die video begin speel.
Dis stikdonker buite die plaashuis. Al geluid is konstabel Stephen Mohithli se asemhaling terwyl hy om die huis stap. ’n Kriek tjirp iewers en drie honde hardloop opgewonde om hom. ’n Skerp lig beweeg onreëlmatig heen en weer. ’n Mens sien al die vensters is toe. Die deure is toe. Daar is geen tekens van ’n inbraak nie. Iemand fluit vir die honde en hulle kom verby ’n senuagtige Mohithli gehardloop.
Hy stap nader aan die agterstoep en fokus op verskeie bloedspatsels op die plaveisel en teëls by die agterdeur. Die dubbelhout-kombuisdeur én sy wit veiligheidshek staan oop. Die onderkant van die deur het ’n koeëlmerk. Daar’s bloed op die skarniere. Regs van die deur teen die huis se muur is drie rye bloedspatsels in ’n boogpatroon. Iemand is duidelik reeds hiér beseer.
Mohithli stap die huis binne en betree die waskamer met sy opwasbak, wasmasjien en tuimeldroër. Daar is ook ’n skottelgoedwasmasjien wat oopstaan en dit lyk of iemand besig was om glase uit te pak. Daar’s ’n bloedmerk teen die kas en op die blad naby die masjien. Die huis is doodstil. Die onervare polisieman se asemhaling raak vinniger namate hy dieper die huis inloop. Van iewers kom ’n onheilspellende klank wat die stilte verbreek. Dit klink soos ’n TV wat aan is.
In die kombuis fokus Mohithli op verskeie bakke kos wat op die tafel staan. Daar is ’n groot bloedmerk teen ’n kas. Bo die kas op ’n blad staan verskeie ongewaste borde met messe en vurke, asook ’n glasbak met ’n toe deksel. Dit lyk of die Steenkamps net klaar met aandete was toe hulle oorval is.
Mohithli loop om die ontbythoekie. ’n Mens sien ’n man se voete uitsteek, en dán die res van Deon Steenkamp se lyk. Sy Crocs is half van sy voete af. Hy lê wydsbeen op sy maag in ’n kort donkerkleurige broek en ’n blou hemp met die woorde “South Africa” op sy rug. Albei sy arms en hande is onder hom ingevou. Langs hom lê ’n groen Jeep-baadjie. Tussen sy kop en die baadjie is droë bloed wat lyk soos ’n sleepmerk. Die polisieman fokus met die kamera op ’n patroondoppie* agterop Deon se rug. Mohithli fokus op Deon se kop. Dit lyk of daar twee koeëlwonde is. Daar’s nie baie bloed nie.
Mohithli draai regs. Tussen die sitkamer en ontbythoekie voor hom lê die bebloede lyke van twee vroue naby mekaar agter ’n koffietafeltjie. Marthella het ’n groen hemp aan en lê op haar sy. Daar’s ’n lang bloedvlek, die lengte van die onderste regterkantse deel van haar lyk, op die vloer. Daar’s stukkies gras op haar rug. Mohithli fokus op haar geskende, bebloede gesig.
[In die hof bars Deon se suster in trane uit.] Dit lyk glad nie soos die pragtige jong meisie van wie foto’s die afgelope jaar in die media verskyn het nie. Voor haar lê haar ma, Christel, op haar maag. Sy het ’n blou hemp en denimrok aan en is ook met bloed bedek. Mohithli fokus die kamera op die TV wat aan is. Op die kant van die ontbythoekie is daar ’n telefoon. Die foon is van die mikkie af en daar’s ’n bloedmerk naby. Op die vloer agter Christel lê ’n Huisgenoot en ander tydskrifte wat vermoedelik van die koffietafel afgestamp is. ’n Selfoon lê net bokant Marthella se kop en is aan sy laaier gekoppel.
Mohithli loop verder. Die spaarkamer is vol goedere. Marthella se kamer langsaan lyk netjies. Die helderpienk kussings en mat voor die bed behoort duidelik aan ’n tienermeisie. Op die spieëlkas is daar nog ’n selfoon op ’n Bybel. Dit is ook aan die laai.
Haar ouer broer se kamer is oorkant. Dáár is ’n springbokvelmatjie. Kaste staan oop en op die vloer lê ’n paar hemde. Die hoofslaapkamer is ook netjies. Agter die deur staan die staalkluis oop met die sleutel in die deur. Op die vloer voor die kluis lê ’n bruin vuurwapenskede.
Daar lê nog ’n patroondoppie tussen die deur en die kluis. Dis die einde van die video.
(Rapport, 17 Maart 2013)
Toe ek om my rondkyk, het ek opgemerk dat almal doodstil en oënskynlik diep in gedagte is. Die regter, my kollegas … ons het almal gesit en dink oor wat ons sopas gesien het.
Deon se suster het direk regs van my gesit, met trane wat steeds teen haar wange afrol. Voor regs van my het die beskuldigde gesit, so emosieloos soos altyd en steeds blykbaar onaangeraak deur wat hy sopas gesien het.
Dit behoort, inderwaarheid, sy hart te gebreek het.
*Wanneer ’n .22-geweer afgevuur word, word die patroondoppie uitgeskiet in teenstelling met ’n .357-rewolwer, waar die patroondoppie agterbly tot dit verwyder of vervang word. Dit is die eerste keer dat die gebruikte patroondoppie gedokumenteer is.