15

Die in loco-ondersoek

Op Vrydag 15 Maart was dit Sebastiaan Mofokeng se beurt om te getuig. Mofokeng, ’n indrukwekkende man in sy veertigs, het vir die geleentheid ’n pak klere en ’n ligte das aangehad, en het met sy hande voor hom gevou in die getuiebank gestaan. Hy het met selfvertroue in Afrikaans, sy moedertaal, getuig.

Mofokeng werk al twee-en-twintig jaar by die Griekwastad-polisiestasie en hy het getuig dat hy die eerste polisieman op die toneel was. Hy het die Steenkamps se huis binnegegaan saam met twee ander polisiemanne, wat veronderstel was om hom te beskerm indien hulle aangeval sou word.

Mofokeng het beveel dat niks aangeraak of geskuif moes word nie, aangesien hulle op daardie stadium slegs moes vasstel of daar enige oorlewendes is. Hy het die hof meegedeel dat hy almal onmiddellik herken het toe hy op die lyke afkom, aangesien hy die Steenkamps geken het. Daar was geen teken van lewe nie.

Toe het Mofokeng iets genoem wat my aandag getrek het – hy het gesê dat hy gras op die agterkant van Marthella se bloedbevlekte T-hemp opgemerk het daar waar sy langs haar ma gelê het. Die gras was nie vol bloed nie, wat aandui dat sy reeds beseer was toe die gras op haar bloedbevlekte T-hemp beland het en vóór sy weer die huis binnegegaan het. Die onbeantwoorde vraag was of Marthella uit vrye wil weer na die huis teruggekeer het en of sy gesleep of deur haar aanvaller teruggedra is.

Mofokeng het gesê dat hy sy span kort ná hulle die huis verlaat het, opdrag gegee het om hul informante te kontak vir enige inligting wat hulle oor die moorde kon hê. Maar niemand het enigiets geweet nie. Ondanks hul breedvoerige ondervraging van die Steenkamps se plaaswerkers, vriende en kennisse het die ondersoek absoluut niks opgelewer nie. Dit het ’n dooie punt bereik.

Die kwessie van die verlate wit 1400-Nissanbakkie is geopper en Mofokeng het gesê dat hy die eienaar van die voertuig goed ken. Hy het die gestrande plaaswerkers en Jan Koopman, die eienaar van die bakkie, op die gruispad op pad na Naauwhoek opgemerk. Hy het toe besluit om hulle op te laai vir ondervraging. Hulle moes agterin die polisievoertuig wag terwyl Mofokeng en sy kollegas die misdaadtoneel ondersoek het. Dit moes vir hulle ontstellend gewees het, aangesien hulle slegs minute vantevore vir hul lewens van die plaas af weggevlug het.

Coetzee het toe vir kruisondervraging opgestaan en Mofokeng gevra of hy oor die vaardighede en uithouvermoë beskik om ’n driedubbele plaasmoord te ondersoek. Ek het aangeneem dat Coetzee vermoed dat die polisiemanne nie baie ondervinding van hoëprioriteitsmisdade het nie en dat dit realisties is om te verwag dat sekere dele van hul ondersoek verbrou is of dat daar ten minste foute begaan is.

Mofokeng het toegegee dat daar baie onopgeloste sake op sy lessenaar is, wat nie baie vertroue in die Griekwastad-speurtak ingeboesem het nie, aangesien hulle waarskynlik tog nie soveel sake gehad het om mee te begin nie. In so ’n afgeleë gemeenskap, met groot plase ver uitmekaar en ’n klein informele nedersetting, Las Vegas, net buite ’n selfs kleiner dorpie, is ernstige misdade soos moord, aanranding en korrupsie maar skaars. Dit laat natuurlik die vraag ontstaan: Hoe kon daar so baie onopgeloste sake wees?

Ná Mofokeng het een van sy kollegas sy plek in die getuiebank ingeneem. Adjudantoffisier Anthony Wildt, ’n maer man in sy vyftigs, het aan die hof vertel dat hy aan diens was in die Griekwastad-polisiestasie se aanklagkantoor op 6 April 2012 omstreeks 18:50, toe ’n seun ingehardloop gekom het en geskree het dat sy gesin sopas vermoor is. Wildt het gesê dat hy geskok was om te hoor dat die Steenkamps die slagoffers van ’n plaasaanval is.

“In die vyftien jaar in Griekwastad het dit [plaasmoorde] nooit gebeur nie,” het hy gesê.

Hy het gesê dat hy onmiddellik die telefoon gegryp het en hulp ontbied het van beamptes op plaaslike sowel as provinsiale vlak. Hy het ook genoem dat een van sy kollegas die seun buitentoe geneem het in ’n poging om hom te kalmeer en meer inligting oor die moorde uit hom te kry.

Die hof het daardie Vrydag kort ná middagete verdaag aangesien almal ’n rustige naweek wou hê ná hulle met die grusame details van die saak gekonfronteer is. Dit het ook op daardie stadium duidelik geword dat die saak nie tydens die drie weke wat daarvoor opsy gesit is, afgehandel sou word nie. Dit was ’n groot teleurstelling. Nadat ek bykans ’n hele jaar daaraan gespandeer het om die storie op te volg, was ek baie gretig dat dit so spoedig moontlik afgehandel moes word. Die vooruitsig dat dit tot ’n latere datum uitgestel sou word, het my maar moedeloos gemaak.

Voor ons die hofsaal verlaat het, het Cloete hom tot Kgomo gerig oor die in loco-ondersoek van die misdaadtoneel en die Griekwastad-polisiestasie wat op Maandag 18 Maart sou plaasvind. Die kwessie was of die media toegelaat moes word om saam te gaan. Cloete en Coetzee het albei toegegee dat hulle nie werklik ’n probleem met die media se teenwoordigheid het nie, solank ons nie inmeng nie en op ’n afstand bly. Kgomo het ingestem en ons oor die besluit ingelig.

Ek het die naweek op Van Niekerk se plaas deurgebring waar hy en ’n paar van die plaaslike ouens my op ’n jolige naweek getrakteer het. Ons het koedoes gejag, maar die verhoor en afloop daarvan was nooit ver van ons gedagtes nie. Bob en Henriëtte de Villiers, eienaars van Bobby se Shoppy in Griekwastad, was ook daar en ek het hul dogter, Louise, goed leer ken tydens my baie besoeke aan die dorpie.

Daardie Saterdagaand, terwyl ons om die vuur whisky en rooiwyn geniet en aan gebraaide skaapsterte en heerlike tjops smul, het Henriëtte my vertel hoe sy by die storie inpas.

Ek was besig om my op gevaarlike terrein te begewe, aangesien Henriëtte sowel as Bob daardie week nog moes getuig en ek hoegenaamd nie met hulle kon praat nie. Kgomo het ons al tydens die eerste week van die verhoor gewaarsku om van die getuies af weg te bly. Maar ek is ’n joernalis en móés eenvoudig weet wat hulle geweet het. Ek sou in elk geval nie daardie aand ’n storie kon stuur nie omdat die volgende dag se koerant reeds by die drukpers was.

Terwyl Henriëtte haar storie aan my vertel het, het ek stadig die stukke van die legkaart bymekaar gepas wat ek nie tydens my eie ondersoek kon regkry nie. Die belangrikste hiervan was presies wanneer die beskuldigde ononderbroke toegang tot Marthella kon gehad het. Dit sou gedurende daardie tyd wees dat hy haar na bewering verkrag het en wat minder as vier-en-twintig uur later dalk die moorde tot gevolg kon hê.

My informant in die polisie se forensiese eenheid het ’n paar weke vroeër aan my gesê dat Marthella ongeveer twaalf tot vier-en-twintig uur voor haar dood verkrag is. Volgens daardie persoon het dit gelyk asof dit nie die eerste keer was dat Marthella seksueel aktief was nie; haar nadoodse ondersoek het na bewering aangedui dat sy reeds geruime tyd seksueel aktief was.

Maar terug na Henriëtte se storie: Sy het my vertel dat Christel en Deon Steenkamp laatmiddag of vroegaand die Donderdag voor die moorde by die De Villiers-gesin se huis op die dorp stilgehou het. Henriëtte het koekies gebak wat Christel vir haar onderneming, Scrumptilicious, by haar wou optel. Die egpaar is vergesel van sommige van hul werkers, wat agterop hul dubbelkajuitbakkie gesit het. Dit was dan die tyd toe die beskuldigde en Marthella alleen op die plaas was en hy haar kon verkrag het.

Henriëtte was baie nuuskierig oor Coetzee en Erasmus en het my gevra of sy bekommerd moes wees oor hulle kruisondervraging. Ek het haar vertel wat ek geweet het, aangesien ek hulle albei in aksie gesien het. Ek het vir Bob en Henriëtte jammer gekry – hulle is hardwerkende, sout-vandie-aarde-mense wat die eerlikheid self is. Ek het net gehoop dat wanneer dit hulle beurt in die hof is hul senuwees nie die oorhand sou kry nie.

Vroeg daardie Maandagoggend het al my kollegas van OFM en Volksblad asook joernaliste van die eNews Channel Africa (eNCA) en die Diamond Fields Advertiser (DFA) voor die Proviand-restaurant gestaan en wag vir Kgomo om ons met sy teenwoordigheid te vereer. Die beskuldigde het in ’n wit minibus daar aangekom, vergesel van Heckroodt en die seun se oupa aan moederskant. De Jager het ook vir die reis van Kimberley af saamgery, terwyl Coetzee en Erasmus in hul eie voertuie gearriveer het.

De Waal, vergesel van Cloete en ’n paar ander polisiemanne, was in sy dubbelkajuitbakkie, wat hy langs die polisiestasie geparkeer het. My kollega van OFM, Mariné Jacobs, se motor het ’n gebuigde wielvelling gekry nadat sy deur ’n slaggat op pad dorp toe gery het. Heckroodt, die seun en sy bejaarde oupa was vinnig om vir die mooi joernalis aanwysings te gee na die naaste garage waar haar motor herstel kon word.

Ek noem hierdie voorval rakende Jacobs omdat ek al vroeër opgemerk het hoe die seun se hormone dikwels die oorhand oor hom kry. Gedurende die maande wat ek in sy teenwoordigheid deurgebring het, het ek gereeld gesien hoe hy, selfs in die hof, ’n vrou se borste of haar boude bekyk. Tydens die eerste week van die verhoor het Volksblad ’n jong blonde intern saamgevat wat binne ’n oogwink toegang tot die seun in die tye voor en ná die hofverrigtinge verkry het. Die res van ons, wat nie jonk, blond of vroulik was nie, het dit nooit reggekry nie. Ek onthou ook die uitdrukking op die seun se gesig toe die intern die hofsaal eenmaal tydens ’n teepouse verlaat het. Hy het Heckroodt vinnig vir ’n paar rand gevra en agter die jong vrou aangehardloop.

Daardie tye het ek gewonder of hy ooit ’n oomblik nagedink het oor hoekom hy daar was en watter gevolge dit vir hom sou inhou. Daar was hy: besig om al agter ’n intern aan te hardloop wat oor sy verhoor in verband met moord én verkragting verslag moes lewer. Aan die einde van die eerste deel van die verhoor moes die regter vir Volksblad teregwys omdat hulle direkte aanhalings van die beskuldigde gepubliseer het, wat die intern sonder enige moeite bekom het.

Ek het met Cloete en De Waal gestaan en gesels toe Kgomo, in ’n wit hemp en swart broek, daar aankom. Die regter, die hofpersoneel, die staat se span, die verdediging se span, die beskuldigde en sy ondersteuners, en die media het uit ongeveer twintig mense bestaan. Cloete, wat met sy wit hemp sonder das en sy wit kamphoed eerder soos ’n krieketskeidsregter as ’n advokaat gelyk het, het kortliks met die regter gepraat en toe die afvaardiging die polisiestasie se aanklagkantoor binnegelei.

Binne die aanklagkantoor het hy die toonbank uitgewys waaragter Wildt en Rooy gestaan het toe die beskuldigde die aand van die moorde daar aangekom het. Toe het hy die regter die stasiebevelvoerder se kantoor en die sementtrog aan die agterkant van die gebou gewys waar die beskuldigde die bloed van hom afgewas het. Die klein polisiestasie se smal gange is gou versper deur ons, die joernaliste, wat die hoofgroep deur die gebou gevolg het. Ons kon alles hoor wat gesê is en is selfs toegelaat om foto’s te neem.

Nadat almal klaar die polisiestasie besigtig het, het die groep na Naauwhoek vertrek, met De Waal wat voor met sy bakkie ry om die pad aan te dui. Die gruispad van 9 km was nie in ’n goeie toestand nie en aangesien dit lanklaas gereën het, was ons toe onder ’n stofwolk wat deur die voorste voertuie opgeskop is. De Waal het stilgehou om aan te dui waar die verlate Nissan-bakkie gevind is. Almal het rondom Cloete en Kgomo saamgedrom om te kon hoor wat hulle sê. Die seun, geklee in ’n byderwetse gestreepte hemp en jeans, was nooit ver buite hoorafstand nie en het baie geïnteresseerd gelyk in alles wat gesê is.

By Naauwhoek aangekom, het Cloete die twee hekke na die plaas uitgewys. Die eerste hek was naby die plaaswerkers se huise en het na die plaashuis gelei met ’n lang, digbegroeide paadjie. Die tweede hek het ’n meer direkte en onbelemmerde roete na die plaashuis gevolg. Ons het deur die tweede hek en toe deur nog ’n kleiner hek gery, wat deel vorm van ’n heining rondom die huis en skuur, om langs die huis te parkeer. Dit was die gebied waarin die gesin se honde aangehou is voordat hulle van die plaas verwyder is.

Die werf om die huis het onheilspellend en verlate gevoel, maar iemand het dit steeds in stand gehou omdat die sproeiers geloop het en die gras groen was. ’n Swaai gemaak van ’n ou buiteband het steeds aan die populierbome gehang, naby die plek waar Joe Scholtz die plas gestolde bloed aangetref het. Toe Cloete en De Waal hierdie plek uitwys, het De Jager met hulle verskil en ’n plek ’n paar meter verder oos aangedui en gesê dat dít die plek was. Kgomo het tussenbeide getree en sy notas geraadpleeg. Dit het gelyk asof hy met Cloete en De Waal saamstem.

’n Smal radiomas van staal met ’n skottel en ’n televisieantenna het langs die huis gestaan, naby die agterdeur. MTN verskaf die enigste selfoonopvangs en die beskuldigde en bykans almal in Griekwastad is intekenare. Die pastelpienk huis, gebou van asbes of ’n soortgelyke tipe materiaal, het somber en leeg voorgekom, met elke blinding en gordyn wat binne toegetrek was.

Terwyl ek om die huis geloop het, het ek gewonder hoe dit binne lyk. Die grusame video, wat ons slegs enkele dae gelede in die hof gekyk het, het oor en oor in my kop bly speel. Cloete het Kgomo na die skuur vergesel, waar hy die koeëlgat links van die dubbele skuifdeure uitgewys het. Afgesien van ’n swaar silwer aambeeld en ’n 2 200 liter-dieseltenk was daar geen ander gereedskap of masjinerie nie. ’n Nabygeleë kampie waarin waarskynlik hoenders of skape aangehou is, was met gras toegegroei en het leeg gestaan.

Toe ons die skuur binnegaan, het Cloete ’n vleiskamer en instapkoelkamer agter in die skuur uitgewys. Nie baie mense het van hierdie deel van die gebou geweet nie. Die bespreking het begin fokus op die geraas wat die koelkamer sou gemaak het en of iemand in die skuur geweerskote of iemand wat buite skree, sou kon hoor. Kgomo het Cloete gevra of dit ondersoek is, al dan nie, en indien nie, of dit ’n tweede in loco-ondersoek kon benodig. Cloete het gesê dat die ondersoek deeglik uitgevoer is, wat vir my daarop gedui het dat die polisie inderdaad so ’n toets gedoen het.

Ons het ’n wyle by ’n werkbank voor in die regterkantste hoek van die skuur vertoef, waar Coetzee vir Kgomo die vensters gewys het wat op die kombuisdeur en die werf uitkyk. Sweiswerk wat op die werkbank daar naby gedoen is, het swart merke op die vensters gelaat. Die beskuldigde het na bewering tydens die moorde onder een van hierdie vensters weggekruip, maar Cloete het uitgewys dat hy ’n onbelemmerde uitsig op die kombuisdeur sou hê. Indien hy daar weggekruip het, sou hy die beseerde Marthella en haar aanvaller kon sien toe hulle die huis verlaat voor hulle dit weer later binnegegaan het.

Ons het toe in die rigting van die huis beweeg, waar ’n koeëlgat in die huis se muur vir Kgomo uitgewys is. Maar dit was so ver as wat ons kon gaan – die media is nie toegelaat om saam met die res van die groep die huis binne te gaan nie. Ons het ongeduldig gestaan en wag, met die sekondes en minute wat verbytik, terwyl ons bekommerd was oor wat ons besig was om daarbinne mis te loop. Ná ongeveer vyf minute het ek my kop by die oop kombuisdeur ingesteek en ’n paar woorde met een van De Waal se assistente gewissel. Kort daarna het sy uitgekom en ons almal ingenooi.

Dit was die eerste keer dat ek die huis binnegegaan het en ek was verbaas oor hoeveel kleiner al die kamers gelyk het in vergelyking met die video wat ek gesien het. Die lyke is baie nader aan mekaar aangetref as wat ek aanvanklik gedink het. ’n Paar meubelstukke was steeds in die huis, maar verder was dit hoofsaaklik leeg.

Die seun het aandagtig gestaan en luister, met sy hande op die ontbythoekie, na wat bespreek word. Terwyl die res van die groep die huis verlaat het, is die media ’n paar minute lank alleen gelos om foto’s te neem. Ek het na Marthella se kamer gegaan, waar die pienk mure die enigste herinnering aan die eens pragtige en lewenslustige jong meisie was.

Cloete het toe met Kgomo om die huis gestap, maar daar was nie veel te sê oor die selfgeboude braai-en-onthaalarea met sy klipdak langs die swembad nie. Dit was ’n baie warm dag en ’n paar van ons het deur die sproeiers geloop sodat die koue druppels ons kon afkoel.

Op pad terug dorp toe het ek weer eens gekyk hoe lank dit vat om van die plaas af dorp toe te ry. Ek het dit in bietjie meer as vyf minute gery, nogal in ’n Ford Figo en nie ’n bakkie nie. En die beskuldigde het tog gespog hoe vinnig hy gery het die aand op pad polisiestasie toe. Op pad het ek verby my kollegas van eNCA gery, wat steeds langs die pad gestrand was nadat hulle ’n pap wiel gekry het.

Die hele in loco-ondersoek het ongeveer ’n uur en ’n half geduur. Almal het nou ’n baie beter begrip gehad van die toneel en die bewysstukke wat daar ingesamel is. Veral Kgomo het baat gevind by die verrigtinge. Dis een ding om digitale voorstellings van ’n moordtoneel te aanskou, maar ’n heel ander saak om alles in konteks te kan plaas en die omvang te kan vasstel.

Die beskuldigde het die hele oggend saamgedrentel en op sy hoede gelyk in plaas van die gewone verveelde uitdrukking wat altyd op sy gesig was. Terwyl hy saam met ons gestap het, was dit maklik om te vergeet wie hy was en hom net as nog ’n waarnemer te beskou. Hy het die plaas sedert die moorde al verskeie kere besoek en ek het gewonder watter weergawe van daardie aand se gebeure deur sy gedagtes gegaan het: sy weergawe as die onskuldige toeskouer, of die staat se weergawe van hom as die moordenaar?

Die verhoor het die dag ná die in loco-ondersoek weer voortgegaan en die eerste van verskeie vriende en familielede van die Steenkamps het hul plek in die getuiebank ingeneem. Maar almal wou egter ’n antwoord op die volgende vraag hê: Sou die beskuldigde getuig? Die seun se grootste ondersteuners het gesê dat die perde sou horings kry voor sy verdediging sou toelaat dat die staat hom onder kruisverhoor verskeur. Ek het steeds gehoop dat iemand na aan hom rede sou insien en besef dat hy die enigste een is wat sy onskuld sou kon bewys.

As hy onskuldig is, wat kon hy verloor deur te getuig?