Ek het ’n lang, interessante gesprek met die seun se grootouers gehad kort ná die in loco-ondersoek afgehandel is. Die tagtigjarige man het my aan my eie oupa herinner: ’n formidabele mens wie se krag en liggaamshouding oor die jare nie afgeneem het nie. Die seun se grootouers het die verhoor byna elke dag bygewoon. Ek het nie gedink dit is goed vir hulle gesondheid om in die hof aan die grusame details van die saak blootgestel te word nie. Die ou man het inderwaarheid al twee beroertes sedert die moorde gehad.
Maar daar op ’n bankie langs die liefde van sy lewe wat hy al sedert skooldae ken, het hy daardie Maart nog steeds nie vir ’n oomblik getwyfel dat sy kleinseun onskuldig is nie. Toe ek my aan hom voorstel, het hy my regterhand met sy ystergreep verbrysel en aanhou druk terwyl ons oogkontak behou het om ons manlikheid te bewys. Ek het hom nie teleurgestel nie.
Toe het hy my uitgetrap oor die foto’s wat ek die jaar vantevore van hom en sy vrou buite die Galeshewe-polisiestasie geneem het. Hy het gesê dat ek ’n lafaard was om stilletjies foto’s van hulle van agter te neem in plaas daarvan om hulle direk te nader. Ek het probeer verduidelik dat ek hulle daardie dag nie verder wou steur nie, en dat ek hulle uit respek met rus gelaat het. Maar hy wou niks hoor nie.
Ek het by mense in Griekwastad gehoor dat die ou man baie trots was – miskien te trots. Hy was die soort man wat eerder in ontkenning sou volhard as om toe te laat dat die familienaam deur die modder gesleep word. Dit kan dalk verduidelik waarom hy geweier het om die moontlikheid te oorweeg dat sy kleinseun ’n koelbloedige moordenaar kan wees. Maar die ou man het oor ’n sin vir humor beskik, soos hy bewys het deur my ’n “baster-Steenkamp” te noem. Volgens hom was ’n Steenkamp lief vir twee dinge: mooi vroue en perde. Ek is nie lief vir perde nie en daarom was ek dus ’n “baster-Steenkamp”.
Toe ons gesprek einde se kant toe staan, het sy vrou tussenbeide getree en gevra of ek die joernalis is wat beweer het dat Joe Scholtz ’n verdagte in die moorde kon wees. Per slot van rekening, het sy gesê, was hy tog een van die eerste mense op die toneel en die eerste mens wat die fokus na die seun laat verskuif het toe hy aan die media gesê het dat dit nie ’n plaasmoord was nie. Dink ek miskien dat Scholtz probeer om hul kleinseun valslik te beskuldig?
Ek het die hoop in hul oë gesien, maar by my was daar geen twyfel dat Scholtz heeltemal onskuldig is nie. Ek het egter ’n gesprek met een van my kollegas, Felix Dlangamandla, onthou wat ons die week ná die moorde gehad het toe ons naby Naauwhoek se hek gewag het en Scholtz verbygery het. Ons wou met hom gesels, maar hy het weggery sonder om iets te sê. Ek en Felix het bespiegel oor of hy ’n verdagte kon wees, maar ek het vinnig besef dat hy ’n opregte en goeie man is wat verpletter was oor die dood van sy vriende.
Daarom het ek die ou mense ’n eerlike antwoord gegee. Ek het erken dat ek dalk eenkeer so iets beweer het, maar dat ek nie meer dink dat hy enigiets met die moorde te doen gehad het nie. En dit was die einde van ons gesprek.
Ek het gewonder of die verdediging sou probeer om Scholtz uitmekaar te skeur wanneer hy later daardie oggend sy plek in die getuiebank inneem. Hul taak was eenvoudig: hulle moes maar net genoeg twyfel bewerkstellig dat iemand anders ’n rede kon gehad het om op of naby die plaas ten tyde van die moorde te wees.
Maar Scholtz het vermoed dat Coetzee en De Jager dalk sou probeer om hom met die moorde te verbind. Hy en Cloete het ’n eenvoudige strategie uitgewerk wat Coetzee hopelik van stryk af sou bring. Toe dit sy beurt was om te getuig, het Scholtz net ja of nee geantwoord op Cloete se vrae. Hy het selde uitgewei oor enigiets waaroor hy uitgevra is, wat dit byna onmoontlik vir Coetzee gemaak het om hom te kruisondervra.
Cloete het begin deur Scholtz te vra of dit korrek is dat hy Vrydag 6 April 2012 tuis was tydens ’n familiebyeenkoms op sy plaas Patrysfontein. “Ja,” het Scholtz geantwoord. En was dit waar, het Cloete gevra, dat daar ongeveer veertig mense daar was, wat veertig moontlike alibi’s beteken het. “Ja,” het Scholtz weer eens geantwoord. Scholtz het gesê dat hulle op die punt gestaan het om die braaivleisvure aan te steek toe sy vrou ’n oproep van Bob de Villiers ontvang. Scholtz wou nie gepla wees nie, maar sy vrou het aangedring dat die oproep dringend is. Scholtz was uiters geskok toe Bob hom van die moorde vertel – hy kon nie glo dat sy vriende dood is nie. Hy het sy selfoon gegryp en eers Deon se nommer geskakel, toe Christel s’n en laastens die huisnommer, maar niemand het geantwoord nie.
Hy het toe ’n flits gegryp en alleen Naauwhoek toe gery. Die plaas was slegs enkele kilometers ver soos die kraai vlieg, maar 22 km padlangs. Hy het met die gruispad van sy huis af dorp toe gery, van waar hy ’n entjie met die N8-hoofweg gery het voor hy links in die Niekerkshooppad gedraai het. Toe hy die plaas bereik, het hy die drie polisiemanne wat wag gestaan het by die toneel gevra of daar enige oorlewendes is en hulle het gesê dat hulle nie weet nie.
Scholtz het toe een van die polisiemanne gevra om hom na die huis te vergesel om te kyk of daar enige oorlewendes is. Hy het op die lyke van Deon, Christel en Marthella afgekom. Hy het die huis weer later binnegegaan toe die polisie hom gevra het om na die kluis en die verskeie vuurwapens wat steeds netjies binne-in gepak was, te gaan kyk.
Cloete het vervolgens vir Scholtz uitgevra oor die oliedromme wat hy oor die gestolde bloed buite die huis geplaas het. Scholtz het gesê dat hy dit gedoen het omdat hy die honde hoor blaf het en toe ontdek het dat hulle besig was om oor iets op die gras te baklei. Toe hy dit van naderby bekyk, het hy besef dit is bloed. Hy het die honde weggejaag en ’n paar leë 20 liter-oliedromme gaan haal om daarmee die posisie van die bewysstukke vir die polisie te merk en dit te beveilig.
Verskeie sekuriteitskameras is op verskillende plekke rondom Griekwastad en langs die gruispaaie tussen die plase geïnstalleer en Cloete het Scholtz hieroor uitgevra. Hy het gesê dat hy kort voor Deon se dood by gesprekke betrokke was om ’n geskikte plek naby Naauwhoek te vind waar hulle een van hierdie kameras kon installeer. ’n Ander kamera, tussen Naauwhoek en Griekwastad, was die aand van die moorde buite werking, aangesien dit geskuif sou word.
“Het jy gevra of daardie kamera die aand van 6 April enigiets opgeneem het?” het Cloete gevra.
“Ek het, maar niks bruikbaars is gevind nie,” het Scholtz geantwoord.
Cloete het die hof toe meegedeel dat daar op ’n latere stadium van die verhoor meer oor hierdie kameras en hul liggings in die distrik sou wees. Cloete het nou begin fokus op Scholtz se verhouding met die Steenkamps. Hy het Scholtz uitgevra oor ’n insident in Bloemfontein waarby die beskuldigde ’n paar maande gelede betrokke was. Scholtz het gesê dat hy ’n gesprek met die seun gehad het waarin hy gesê het dat hy nie meer in Grey-kollege wou wees nie.
“Hy het aan my gesê dat hy slegs in daardie skool was omdat sy ma oor haar beeld bekommerd was. Hy het gesê dat hy nie daar wou wees nie en dat hy graag eerder na ’n plaaslike skool nader aan Naauwhoek wou gaan, aangesien hy saam met sy pa wou boer,” het Scholtz gesê.
In antwoord hierop, het Scholtz gesê, het hy aan die seun gesê om dankbaar te wees vir al die opofferings wat sy ouers vir hom gemaak het; nie almal kon dit bekostig om hul kind na so ’n eliteskool te stuur nie. Scholtz het saam met Deon grootgeword en het Christel sedert haar huwelik met Deon geken. Hy het Marthella en die beskuldigde sedert hul geboorte geken.
Ná Cloete sy kruisondervraging afgesluit het, het Coetzee vir die verdediging oorgeneem. Op hierdie stadium het ek aangeneem dat Scholtz met vrae gepeper sou word. Maar Coetzee was by tye so langdradig en het so baie op dieselfde punt gehamer dat dit Kgomo geïrriteer het en hy ingegryp het. Coetzee het sy gewone verwarde uitdrukking op sy gesig gehad toe hy met sy kruisondervraging begin; ek het aangeneem dat dit sy beste toneelspelpoging is. Hy het dadelik tot die punt gekom en Scholtz gevra hoekom hy en ’n paar van die Steenkamps se vriende die misdaadtoneel skoongemaak het. Die beskuldigde het ongewone belangstelling in Scholtz se antwoord getoon, aangesien hy toe regop sit en hom afwagtend begin dophou.
Scholtz het verduidelik dat hy en drie ander mense, vermoedelik Paul Botha en beide hul vrouens, die dag ná die moorde na Naauwhoek toe is. Hulle het bloedbevlekte items bymekaar gemaak wat die polisie agtergelaat het en wat nie sou skoon kom nie. Dit het die mat ingesluit waarop Marthella in die sitkamer doodgebloei het en Deon se groen Jeep-baadjie wat hy, miskien net voor hy geskiet is, oënskynlik probeer uittrek het.
Scholtz het gesê dat hy hierdie bloedbevlekte items na Patrysfontein geneem het, waar hy dit verbrand het. Alhoewel De Waal vir Scholtz toestemming gegee het om dit te doen, het iets my gepla. Ek het dadelik aan die grootouers se teorie gedink dat Scholtz op een of ander manier betrokke is, aangesien dit definitief lyk asof hy waardevolle bewysstukke vernietig het. Hoekom is hierdie items nie as bewysstukke versamel en na die polisie se forensiese laboratoriums gestuur om geprosesseer te word nie? Die items was tog sekerlik albei vol van die slagoffers se bloed en moes derhalwe in ’n beheerde omgewing ondersoek word?
De Waal het die uitdrukking op my gesig gesien en my later, toe Kgomo ’n kort reses aankondig, gevra waarom ek so geskok gelyk het. “Behoort alle bewysstukke nie in jul laboratoriums getoets te word nie?” het ek hom gevra. Hy het sy kop geskud en “Nee” gesê.
Ek het teruggedink aan Mohithli se getuienis van die vorige week en my vertroue in die staat se saak in twyfel begin trek. Ek is meegedeel dat die polisie, deur middel van ’n proses van eliminasie, deur bykans honderd vingerafdrukke gegaan het en tot die gevolgtrekking gekom het dat die seun die enigste verdagte is, om net later uit te vind dat hulle slegs een onbekende afdruk op een van die koeldrankglase buite die plaashuis gevind het. En hulle kon nie eers vingerafdrukke opspoor wat met daardie enkele vingerafdruk ooreenstem nie, want iemand het nagelaat om Marthella se vingerafdrukke te neem voor sy veras is. Ek het al hoe meer bekommerd begin raak dat die omstandigheidsgetuienis waarop die staat blykbaar gereken het, uiteindelik nie genoeg sou wees nie.
Ek het ook my besorgdheid tydens die kort onderbreking in die hofverrigtinge met Cloete gedeel. Ons het agter in die hofsaal gaan gesels sodat ons nie afgeluister kon word nie. Cloete se reaksie was ’n eenvoudige: “Lyk ek vir jou bekommerd?” Daar is gesê dat hy en De Waal saam nog nooit ’n saak verloor het nie en met hul ondervinding wat oor dekades strek, kon ek maar net hoop dat hulle nie arrogansie met selfvertroue verwar nie. Kgomo het net daarna weer die hofsaal binnegekom en die saak is voortgesit.
“Hoekom die twee items vernietig?” het Coetzee gevra.
“Ek vermoed dit was omdat daar so baie bloed op was,” het Scholtz geantwoord.
Ek het verwag dat Scholtz ten minste ’n dag lank in die getuiebank sou deurbring en was verbaas toe hy kort daarna moes plek maak vir die staat se volgende getuie, Henriëtte Truter.
Truter was senuweeagtig toe sy die hofsaal binnekom. Sy het vinnig in die hofsaal rondgekyk en meer as een keer oogkontak met die beskuldigde gemaak, maar hy het weggekyk en eerder met sy hande gesit en vroetel.
Toe Cloete haar oor die aand van die moorde begin uitvra, het Truter gesê dat sy net voor 19:00 besig was om ’n koppie koffie op Proviand se stoep te geniet. ’n Wit dubbelkajuitbakkie het met skreeuende remme voor die polisiestasie tot stilstand gekom en ’n tienerseun het die gebou in gehardloop terwyl hy geskree het dat daar ’n skietery op hul plaas was en dat almal dood is. Sy het dadelik besef dat daar groot fout is en sy het ’n glas suikerwater in die restaurant se kombuis gaan maak vir die oënskynlik getraumatiseerde seun. Toe het sy haar oor die stil N8-hoofweg gehaas en die polisiestasie binnegegaan, waar sy die seun aan die agterkant van die gebou gekry het, besig om hom te was by ’n trog vas aan ’n buitemuur.
Cloete het haar onderbreek en gevra of sy die beskuldigde oor die bloed uitgevra het. “Nee,” het Truter gesê. Sy het gesê dat die seun van die suikerwater gedrink het, maar dat hy slegs daarin belanggestel het om weer saam met die polisie na sy ouers se plaas te gaan.
“Ek het hom gesê hy moet kalmeer, want dalk is almal nie dood nie. Hy het vir my gesê: ‘Nee, almal is dood,’” het Truter in die stil hofsaal getuig.
Sy het toe vir die seun, wat toe nog net sy rugbybroek aangehad het, na Proviand geneem waar sy haar eie baadjie gaan haal het en vir hom gegee het om aan te trek. Sy het hom geneem na die restaurant se beknopte kroeg, aan die agterkant van die gebou, wat meer privaat was. Hy het op ’n vensterbank gaan sit, waar hy sy bene opgetrek het en sy kop in sy hande op sy knieë laat rus het. Truter het gesê sy het nie geweet hoe om hom te troos nie.
“Ek het nie geweet wat om vir hom te sê nie. Hoe troos ’n mens so ’n kind?” het sy gevra.
Kort daarna het die seun sy werkende selfoon uit sy kortbroek se sak gehaal en sy ouma in Kimberley gebel. Truter het gesê dat hy toe die foon vir haar gegee het om met sy ouma te praat en om te bevestig wat hy gesê het: dat sy gesin vermoor is. Ná die gesprek het sy die seun in die manstoilet, ’n klein vertrek met ’n toilet en ’n wasbak langs die dames s’n, aangetref.
“Hy was besig om bloed van sy been af te was,” het sy gesê.
Hulle het toe oorgestap na die polisiestasie om uit te vind of Wildt en Rooy enige inligting bekom het oor wat op Naauwhoek aan die gebeur was. Truter het gesê dat die seun slegs geïnteresseerd was in sy selfoon, waarmee hy glo besig was om BlackBerry-boodskappe te stuur. Hy het haar later ’n baie eienaardige vraag gevra wat haar heeltemal onverhoeds betrap het.
“Hy het na my toe gekom en gevra of hy al sy vriende of net sy beste vriende moes laat weet oor wat gebeur het. Dit was vir my ’n baie vreemde vraag en ek het hom gesê dat sy vriende nie nou al hoef te weet nie,” het Truter gesê.
Cloete het hiermee volstaan en toe was dit die verdediging se beurt. Ek was verbaas toe Coetzee vir advokaat Erasmus die kans gee om die getuie te kruisondervra. Tot op daardie stadium het Coetzee hoofsaaklik die kruisondervraging hanteer. Erasmus is goed in haar werk. Sy het jare lank saam met Cloete as staatsaanklaer gewerk, maar het die staatsdiens ’n paar jaar vantevore verlaat, waarskynlik om ’n meer winsgewende beroep in die privaat sektor te volg. Erasmus het baie ernstig gelyk; sy het my laat dink aan ’n skooljuffrou wat op die punt staan om met ’n stout kind te raas.
“Volgens jou mening, was die beskuldigde enigsins getraumatiseer daardie aand?” het Erasmus gevra.
Truter het teruggedink aan die aand en selfversekerd geantwoord.
“Ek dink tot ’n mate. Hy het twee oktawe hoër gepraat en het ’n paar trane in sy oë gehad, maar hy het nie snot en trane gehuil nie. Ek het daardie aand gesien hoe groot mans soos babas huil, terwyl hy skaars ’n paar trane gestort het,” het Truter geantwoord.
Op daardie stadium het die toonhoogte van die seun se stem by my verbygegaan, al het een van die beamptes by die polisiestasie voorheen getuig dat hy harder as normaalweg gepraat het. Maar toe iemand later op Twitter kommentaar lewer in reaksie op my twiets oor Truter se getuienis, het dinge skielik vir my duidelik geword. Die persoon het gesê dat wanneer iemand ’n vuurwapen, veral ’n .357-Magnumrewolwer, in ’n beknopte ruimte soos ’n huis afvuur, die lawaai oorverdowend kan wees en daartoe lei dat iemand harder praat as wat hy of sy besef. Dit was uiters belangrike getuienis, alhoewel steeds omstandigheidsgetuienis. Indien die seun nie ’n vuurwapen afgevuur het nie, hoekom het hy so hard gepraat en waarom het hy gedink dis nodig om al sy vriende te vertel wat gebeur het, terwyl die meeste van sy familie en die gemeenskap nog onbewus was van die moorde? Erasmus het haar kort kruisondervraging afgesluit en dominee Piet Otto is as die volgende getuie geroep.
Otto het getuig dat hy deur Bob de Villiers na Proviand ontbied is, en dat dié hom vertel het wat klaarblyklik gebeur het en dat die enigste oorlewende lid van die gesin dalk sy leiding en ondersteuning kon benodig. Otto het gesê dat hy die kort afstand na die restaurant afgelê het en dat De Villiers en sy vrou, Henriëtte, ook toe sopas daar aangekom het. Hy het die seun in die tuin voor die gebou aangetref, waar hy op sy hurke met sy kop in sy hande gesit het. Volgens Otto was hy getraumatiseer. Hy het die seun ’n paar maande vantevore gesien en gesê dat hy ’n intieme verhouding met God het. Hy het die seun ook die dag ná die moorde gesien toe hy by die polisiestasie was om sy verklaring af te lê.
“Ek het hom toegelaat om openhartig te wees en om vir my te sê wat hy wou sê,” het Otto getuig.
Otto het erken dat hy dit vreemd gevind het toe die seun vir hom sê dat Marthella hom weggestoot het kort voor haar dood. Maar Otto het dit aanvaar as ’n akkurate weergawe van wat gebeur het. In sy kruisondervraging het Coetzee gevra hoe die beskuldigde opgetree het toe hy en Otto by die restaurant met mekaar gepraat het.
“Volgens my was hy geskok,” het Otto gesê.
Coetzee het toe verwys na verskeie gerugte wat sedert daardie aand in die gemeenskap die ronde doen en het Otto gevra of hy daarvan bewus was; veral gerugte oor die aand van die moorde en wie betrokke kon wees. Otto het gesê dat hy van baie gerugte bewus is, maar dat hy by die gemeenskap gepleit het om dit nie te versprei nie omdat dit ongegronde bewerings is. Hy het voorgestel dat mense die polisie toelaat om hul werk te doen.
Coetzee het toe op een van die gerugte gefokus. Hy het Otto gevra waar hy gehoor het dat die beskuldigde die plaaswerkers gewaarsku het om te vlug voor hy hulp gaan soek het. Otto het toegegee dat hy nie seker was of die seun of iemand anders hom vertel het nie. Coetzee het probeer bewys dat mense met verloop van tyd vergeet waar hulle iets gehoor het en dan eenvoudig iemand anders se vertelling by hul eie voeg omdat dit geloofwaardig klink. Twee weke ná die moorde toe ek Naauwhoek besoek het, het die plaaswerkers vir my gesê dat die seun hulle gewaarsku het om te vlug – ek het daaroor in Rapport geskryf. Otto kon dit in die koerant gelees het en aangeneem het dat hy dit by die seun, of iemand anders, gehoor het.
Otto is hierna verskoon en Bob de Villiers is na die getuiebank geroep.
Toe De Villiers verby my loop, het ons vlugtig oogkontak gemaak en geglimlag. De Villiers het getuig dat Proviand se eienaar, Anton van Niekerk, hom geskakel het om hom oor die moorde in te lig. Van Niekerk was met vakansie saam met sy mooi vrou, Elsa, by hul vakansiehuis buite George in die Wes-Kaap. De Villiers het gesê dat hy toe vir Otto gebel het. Hy het getuig dat die seun gespanne voorgekom het toe hy hom ook in die restaurant se tuin opgemerk het.
“Hy het baie rondbeweeg in die tuin en dit het gelyk asof hy baie besig is op sy selfoon,” het De Villiers gesê.
Tydens die kruisondervraging het dinge tussen De Villiers en Coetzee vinnig driftig geword toe die advokaat wou weet wat die verskil is tussen iemand wat gespanne is en iemand wat getraumatiseer is. Kgomo moes op ’n stadium tussenbeide tree aangesien De Villiers sy man gestaan het en herhaaldelik gesê het: “Ek kan nie kommentaar lewer nie.” Coetzee het so kwaad geraak dat ek gedink het hy gaan die getuie met sy koffiebeker gooi.
Met die kruisondervraging van Henriëtte de Villiers het dit geensins beter gegaan nie, aangesien sy ook seker van haar saak was. Die spanning tussen haar en Coetzee was tasbaar. De Villiers het aan die hof gesê dat sy en haar man ná Otto by die restaurant aangekom het, en ook dat Christel en Deon die aand voor die moorde by haar was om koekies op te tel. Henriëtte het gesê dat die seun nie gehuil het toe sy hom by die restaurant gesien het nie, en dat hy rusteloos voorgekom het. Sy het ook bevestig wat die ander getuies gesê het: dat die seun baie tyd op sy selfoon deurgebring het. Volgens Henriëtte het hy aan haar gesê dat hy ’n mes uit die kluis gehaal het en na die skuur geneem het om skerp te maak, wat die rede kon wees hoekom die kluis nie gesluit was nie en hoekom hy nie in die huis was toe die moorde gepleeg is nie.
Coetzee wou tydens sy kruisondervraging weet hoekom daar teenstrydighede is tussen Henriëtte se verklaring aan die polisie en haar getuienis in die hof. Hierdie teenstrydighede het klaarblyklik verband gehou met aannames wat gemaak is ná haar gesprekke met die seun. Coetzee het ook gehamer op die verskille tussen Henriëtte en Otto se getuienis oor wie van hulle eerste by die restaurant aangekom het. Otto het gesê die egpaar was voor hom daar, terwyl Henriëtte die teenoorgestelde beweer het.
Sy het Coetzee nie baie amusant gevind toe hy haar vra of sy beweer dat die dominee ’n leuenaar is nie, maar sy het uiteindelik toegegee dat hulle almal binne sekondes van mekaar by die restaurant moes aangekom het; derhalwe die verwarring. Coetzee het gesê dat nóg Henriëtte se man nóg Otto melding van die mes gemaak het, maar Cloete het opgestaan en die advokaat vir die verdediging reggehelp deur uit te wys dat hulle inderdaad ’n mes in hul verklarings genoem het. Coetzee het uit die veld geslaan gelyk, maar het toegegee nadat hy verskeie dokumente op sy lessenaar, waarskynlik die beëdigde verklarings, geraadpleeg het.
De Villiers, rooi in die gesig, is verskoon en Deon se lewenslange vriend, Samuel “Junior” Ludwick van die plaas Kaalkol, is geroep om te getuig. Ek het te hore gekom dat Ludwick die seun sedert die moorde ondersteun het. Hy het die hof meegedeel dat hy daardie aand dorp toe is om die kind te ondersteun en nie om na sy weergawe te luister van wat op die plaas gebeur het nie. Hy het daardie oggend by die kerk, voor en ná die diens, met Deon gepraat. Iemand het hom daardie aand gebel en gevra of hy iets van ’n skietery in die streek weet. Hy het gesê dat hy en sy vrou toe na Proviand is, waar hulle die getraumatiseerde seun aangetref het.
“Hy het aan my gesê dat Marthella sy hemp gegryp en geskeur het voor sy dood is,” het Ludwick bevestig.
Dít nadat die seun aan Ludwick gesê het dat hy haar in die huis hoor gil het. Hy het gesê dat die seun aan hom gesê het: “Oom, ek het kak aangejaag. Ek het die wapens opgetel.” Ludwick het gesê dat sy vrou en Christel soos susters was en dat sy vir die kind ’n pilletjie gegee het om hom te kalmeer. Hy het dit blykbaar nodig gehad, want hy was geskok en getraumatiseer. Onder Coetzee se kruisondervraging het Ludwick gesê dat die seun gehuil het, maar dat dit nie die “manlike” ding was om in hulle “wêreld” te doen nie. Hy het gesê dat die kind op sy skouer gehuil het en dat hy en sy vrou beurte gemaak het om hom te troos.
Coetzee het dit aan Ludwick gestel dat sy kliënt sal getuig dat hy nooit aan Ludwick gesê het dat hy Marthella hoor gil het nie. Dit was nie die eerste keer dat die seun die getuies se verklarings betwis het nie; hy het al minstens een of meer feite waaroor Scholtz, Otto en De Villiers getuig het, betwis. Hy het selfs wat sy ouma onder eed in die hof gesê het oor ’n gesprek wat hulle gehad het, betwis. Maar dit was die eerste keer dat Coetzee genoem het dat sy kliënt moontlik sou getuig, wat niemand gedink het ooit sou plaasvind nie.
Christel se bejaarde ma is toe geroep om te getuig. Die ou dame het stadig na die getuiebank gestap, waar sy toegelaat is om te sit. Sy was duidelik nie baie gesond nie, maar die nederige vrou het haar kort getuienis bereidwillig gelewer. Sy het aan die hof van haar telefoongesprekke met Christel kort voor haar dood vertel en dat sy niks vreemds agtergekom het nie. Sy het verder genoem dat haar dogter ’n “normale” verhouding met haar gesin gehad het.
Sy het ook ’n gesprek genoem wat sy by die gedenkdiens gehad het, waar iemand aan haar gesê het dat indien plaasaanvalle ooit in Griekwastad sou voorkom, dit op Naauwhoek sou begin. Ek kon maar net aflei dat die persoon bedoel het dat die Steenkamps die slagoffers sou wees omdat hulle ryk is, of dat Deon ’n moontlike teiken sou wees as gevolg van die status wat hy in die gemeenskap gehad het.
Ná die ou dame se getuienis het Kgomo die hof tot Maandag 25 Maart verdaag. Dit was die laaste week wat die vorige jaar vir die verhoor opsy gesit is. Teen hierdie tyd het dit duidelik geword dat baie meer tyd benodig sou word om die verhoor af te handel, aangesien slegs ’n tiende van die staat se getuies teen die einde van daardie week sou getuig het. Ek het net gehoop dat De Waal die geleentheid sou kry om te getuig sodat ons uiteindelik kon hoor hoe alles inmekaar steek.
En net die volgende week het De Waal sy kans gekry.