18

Die geld raak op

Dit het nie gelyk asof daar baie gebeur het in die vyf maande ná die verhoor tot September 2013 uitgestel is nie. Of, ten minste, so het ons almal gedink. Maar ek het later te hore gekom dat daar agter die skerms ’n geheime oorlog tussen die Steenkamps en die Heckroodts gevoer is en dat die miljoene rande in die Steenkamps se boedels die oorsaak van al die moeilikheid was. Ek het maar slegs aan die einde van Julie hiervan te hore gekom toe die seun se oupa, sy getrouste ondersteuner, sy derde beroerte gehad het.

Die ou man, wat tagtig was ten tyde van die voorval, het die beroerte tydens middagete gehad op Sondag 21 Julie 2013. Paramedici van Netcare 911 is ontbied en hulle het met die afgetrede boer na die Mediclinic in Kimberley gejaag. Ironies genoeg is die hospitaal maar net ’n klipgooi van die hooggeregshof af, waar sy kleinseun se verhoor binnekort weer hervat sou word. Die ou man se dogter het my ingelig dat haar pa in ’n kritieke maar stabiele toestand verkeer. Dit het gelyk asof die familie se patriarg die uitspraak van regter Kgomo gespaar sou word en dat hy nie enige verdere pyn sou hoef te verduur nie.

Dit was vir my duidelik dat die spanning, emosioneel sowel as liggaamlik, ’n uiters nadelige uitwerking op die bejaarde man gehad het en, alhoewel hy sedert die moorde reeds twee beroertes gehad het, hy nie hierdie laaste stryd sou oorleef nie. Besoekers het aanhoudend by die hospitaal opgedaag, maar ek twyfel of hy dit ooit eers besef het. Die besoekers het sy vrou en sy kleinseun ingesluit. Die bejaarde man is tien dae ná die beroerte, op 31 Julie, uiteindelik in die hospitaal in sy slaap oorlede. Sy dood was nie onverwags nie en dit het gelyk asof sy familie die verlies gelate aanvaar.

Sy gedenkdiens is op Sondag 4 Augustus by die NG kerk Vooruitsig in Kimberley gehou. Die familie het die media gevra om hul privaatheid te respekteer en nie die diens by te woon nie. Ek het dus nie gegaan nie omdat ek gevoel het die familie het genoeg verduur, maar verskeie van my kollegas het hul versoek geïgnoreer. Ek het wel die dag voor die diens, op die Saterdag, die kerk besoek en ’n paar foto’s geneem. Die kerk was verlate en ek kon my werk doen sonder om in enigiemand se pad te wees.

Die oorskot sou veras word, net soos die geval met Deon, Christel en Marthella was. Sy as sou in ’n nis in die gedenkmuur op die kerkgronde bewaar word. Die hekke van die klein gedenkpark waar sy as ter ruste gelê sou word, was gesluit en ek moes oor die muur leun om ordentlike foto’s te neem. ’n Holte in die muur het die eensame en afgesonderde plek aangedui waar die houer met die as geplaas sou word. Ek kon nie help om te wonder of dit nie beter sou gewees het om sy stoflike oorskot in ’n begraafplaas te begrawe nie, aangesien die gedenkpark verwaarloos gelyk het en langs ’n besige pad geleë is. Dit was ’n eensame plek om die ewigheid in deur te bring.

Kort voor die ou man se begrafnisdiens het ek sy oudste dogter by die Garden Court Spur in Kimberley ontmoet vir ’n lang gesprek. Sy het my vertel dat sy elf jaar en haar suster agt jaar oud was toe hul broer Deon gebore is. Hulle het gedink hy was ’n wonderlike nuwe speelding, maar hy het homself gou bewys as ’n platjie om mee rekening te hou soos hy ouer geword het. Sy onthou toe Deon nog klein was en hul ma ’n slang moes skiet voor dit hom kon pik.

“Hy het almal by die skool vertel dat sy ma die skietwerk moes doen omdat sy pa bang is vir slange,” het sy gesê.

Deon was byna sewe jaar oud toe sy die huis verlaat het en universiteit toe is. Daarna is sy getroud en het sy drie dogters en ’n seun gehad. Deon was meer haar kinders se ouderdom en hulle het saam gespeel en perdgery. Hy was ook tydens sy skooljare ’n rugbyspeler en het weens sy lengte hoofsaaklik slot gespeel.

Deon het Christel by die Universiteit van die Vrystaat ontmoet, waar hy wiskunde en rekenaarwetenskap en sy kommunikasie geswot het. Christel het ook op ’n plaas in die Oos-Kaap grootgeword. Deon en Christel is op 20 Mei 1991 tydens ’n oggenddiens in Bloemfontein getroud. Deon se ma het haar aanstaande skoondogter se trourok gemaak. Die egpaar, wat albei nog in hul vroeë twintigs was, het Griekwastad toe getrek sodat Deon sy pa met die boerdery kon help. Christel was ’n toegewyde en hardwerkende boervrou wat geleer het hoe om ’n karkas op te sny en te bewerk, en kos vir die wintermaande voor te berei.

Deon en Christel was in die wolke toe hulle in 1996 die nuus ontvang dat daar ’n seun op pad is. Hy sou die eerste kleinseun wees wat na die patriarg vernoem sou word.

Terwyl ons gesels het, het sy genoem dat sy Christel so lief soos ’n suster gehad het: “Ek onthou nog hoe graag sy vir ons ryk geregte gekook het, maar sy het altyd notas van haar spyskaarte in ’n boekie gemaak om te verseker dat sy nooit dieselfde gereg twee keer bedien nie.”

Sy het ook haar oorlede broer as ’n sagmoedige reus beskryf wat amper nooit kwaad geword het nie, maar graag poetse gebak het. Christel het baie gouer kwaad geword, maar soos haar man was sy ’n leier in hul gemeenskap. Marthella was op die ouderdom van twee jaar die pragtigste klein mensie met die grootste bruin oë en het reeds vlot gepraat.

Deon en Christel het hul kinders dikwels – op die laaste oomblik – Kimberley toe geneem wanneer die kleingoed gesê het dat hulle hul liefdevolle grootouers mis.

“Ons was nog altyd ’n baie hegte familie wat daarvan hou om tyd saam deur te bring,” het die vrou aan my gesê.

Marthella en haar broer het albei in hul onderskeie hoërskoolkoshuise tuisgegaan en hul ouers besoek wanneer enigsins moontlik. Deon en Christel het eintlik meer tyd in Bloemfontein deurgebring om hulle te besoek en sportwedstryde onder andere by te woon. Die gimkana-tradisie het by Deon begin, maar die hele gesin was mal oor perde.

As sy terugdink aan die nag van die moorde onthou sy dat haar suster haar met die skokkende nuus gebel het, waarna sy oor die straat na haar dogters gehardloop het. Een van haar skoonseuns het trouens gebel om te bevestig dat die Steenkamps regtig dood is.

“Ek probeer steeds sin maak van wat regtig gebeur het,” het sy erken.

Hulle het nie eintlik as ’n familie die aanklagte teen die beskuldigde bespreek nie. Veral nie die aanklag van verkragting nie. Hulle het net gehoop dat geregtigheid sou geskied.

Sy het ook nie geglo dat haar pa se beroertes en gevolglike dood deur die trauma veroorsaak is nie, maar dat dit bloot aan ’n gevorderde ouderdom toegeskryf kon word. Sy het gesê dat sy dit mis om Christel te kan bel vir raad en ook haar kook- en bestuursvernuf: “Ek het altyd gedink dat sy ’n beter ma is as wat ek ooit kan wees.”

Sy mis dit ook om te hoor hoe Deon sy kinders met hul huiswerk help, veral wiskunde. Volgens haar was die Steenkamps ’n goedhartige gesin wat uit hul pad gegaan het om ander te help.

Marthella was ’n regte dame, wat uitermate mooi was en altyd ’n voorbeeld gestel het. Sy en haar broer het ’n normale broer-en-suster-verhouding gehad. Haar tannie was nie van enige jaloesie tussen die twee kinders bewus nie en het nooit iets onvanpas opgemerk nie. Sy het ook enige gerugte ontken dat die seun swak op skool gevaar het. As onderwyseres het sy gesê dat seuns dikwels nie so goed soos meisies vaar nie omdat hulle lui is.

“Dit het niks met jaloesie te doen gehad of wie die slimste is nie omdat dit eintlik net ’n seun-meisie-ding was. Hy het waarskynlik gedink sy is vervelig omdat sy voor die boeke sit en sy het heel waarskynlik gedink hy gaan druip,” het die vrou voor my geskerts.

Oor die beskuldigde het sy gesê: “Die hof sal hom straf vir wat hy gedoen het en daarom is dit nie vir ons om hom nog verder te straf nie.”

Terwyl ek in Kimberley was, het gerugte my bereik dat die verhouding tussen Heckroodt en die ou man vóór sy dood begin versleg het. Na bewering was dit as gevolg van die feit dat die bejaarde sy toestemming teruggetrek het wat De Jager toegang tot Deon Steenkamp se boedel verleen vir die betaling van die seun se regskoste. Ek het reeds geruime tyd gewonder presies hoeveel die seun se regspan betaal word. ’n Beduidende aantal mense wat by die saak betrokke is, het vermoed dat hulle besig was om die trustfonds tot op die laaste sent uit te melk. Ek het derhalwe besluit om nader ondersoek te doen en te probeer uitvind wat presies De Jager, Coetzee en Erasmus verdien.

Die drie is minder as vier-en-twintig uur ná die moorde aangestel om die “regte van die seun” te beskerm. As ’n misdaadverslaggewer met jare se ervaring het ek nog nooit oor ’n strafsaak verslag gedoen waar ’n beweerde slagoffer die dienste van twee advokate en ’n prokureur in so ’n kort tydperk bekom het nie. Misdadigers wat op heterdaad betrap word, benodig uit die aard van die saak sulke bystand, maar die enigste oorlewende van ’n gesin wat uitgewis is?

Ek het geweet dat advokate veral nie goedkoop is nie en enigiets in die omgewing van R20 000 per dag kan verdien. Ek het probeer om die inligting wat ek wou hê op die gewone maniere in die hande te kry – ek het verskeie advokate gebel, asook die balie in Kimberley en Bloemfontein, maar ek is elke keer meegedeel dat die inligting vertroulik is en nie openbaar gemaak kan word nie. Ek het egter nie moed opgegee nie. Ek het derhalwe vir Estie du Plessis by Rosendorff Reitz Barry Prokureurs in Bloemfontein genader. Du Plessis, ’n aantreklike middeljarige vrou, was verantwoordelik vir die boedels van die Steenkamps asook dié van die ou man.

Ek het bykans ’n halfuur lank met Du Plessis oor die telefoon gesels. Alhoewel sy beleefd was, het sy nie met die inligting vorendag gekom waarna ek gesoek het nie. Ek dink sy het dit nogal geniet om my te terg, veral omdat dit voorgekom het asof sy baie van die saak weet. Dit was uiters frustrerend om die minste te sê.

Alhoewel Du Plessis niks kwytgeraak het nie, het sy ten minste aangebied om te luister na wat ek uitgevind het en belowe om aan te dui of ek op die regte spoor is. Ná ons gesprek het ek nie veel hoop gehad dat ek ooit sou uitvind wat die seun se regspan uit die saak verdien nie. Ek was op die punt om tou op te gooi, toe dit my byval dat ek iemand in De Jager se binnekring ken: een van sy voormalige werknemers wat ’n paar maande tevore die seun se amptelike verklaring aan my wou verkoop.

Hierdie persoon het vir De Jager in Kimberley gewerk, maar het ’n ongelukkige werksverhouding met hom gehad en vervolgens bedank. Sy het egter voor sy geloop het kopieë van die seun se verklaring gemaak as versekering vir die “kwade dag”.

Sy het toe een van my beste vriendinne en ’n kollega, Adele du Toit van Nelspruit in Mpumalanga, genader. Die voormalige werknemer se kind was klaarblyklik baie siek en sy het dringend geld nodig gehad om die mediese rekeninge te betaal. Sy het Du Toit gevra of sy van enigiemand weet wat daarin sou belangstel om die dokument te koop, aangesien dit blykbaar opspraakwekkende inligting bevat. Die twee het by die plaaslike Wimpy ontmoet, waar Du Toit toegelaat is om die verklaring te lees ten einde die betroubaarheid daarvan na te gaan en seker te maak dat al die inligting nie reeds openbaar gemaak is nie.

Du Toit het my toe gebel, aangesien sy geweet het dat ek die saak dek en besig was om ’n boek te skryf. Sy het my gevra of Rapport sou belangstel om die verklaring te koop. Haar kontak wou R10 000 daarvoor hê, maar Du Toit het gesê dat die persoon desperaat was en ’n paar duisend rand sou aanvaar.

Alhoewel ek ongemaklik gevoel het om so ’n dokument te bekom, aangesien ek nie seker was of dit enigsins wettig is nie, het ek nogtans die koerant van die dokument se bestaan ingelig. Die koerant wou nie vir die dokument betaal nie, maar ek is aangesê om dit gratis in die hande te probeer kry. “Jy sal waarskynlik ook glad nie oor die inhoud kan skryf nie,” is aan my gesê, “aangesien die verhoor reeds aan die gang is.”

Du Toit het my die voormalige werknemer se kontakbesonderhede gegee en ek het haar gebel en op die ou end ingelig dat Rapport nie vir die dokument wou betaal nie. Daarna het ek van haar vergeet.

Maar nadat ek in ’n doodloopstraat beland het met my ondersoek oor die koste van die seun se prokureurs, het ek van die voormalige werknemer onthou en haar aan die begin van Augustus vir hulp genader. As daar iemand is wat ’n idee gehad het van wat De Jager, Coetzee en Erasmus vir hul kundige regsadvies betaal word, sou dit sy wees. Sy was meer as gewillig om my te help, mits ek nie haar naam in Rapport noem nie. Op daardie stadium was sy bekommerd dat die Valke haar miskien sou arresteer, maar ek het dit op goeie gesag gehad dat sy nie vervolg sou word nie.

Die voormalige werknemer het aan my gesê dat sy weet wat hierdie mense verdien en sy het ook beweer dat Coetzee die Steenkamps te veel laat betaal. Volgens die inligting wat sy aan my verskaf het, het De Jager enigiets tussen R7 500 en R12 000 per dag verdien. Coetzee en Erasmus het in die omgewing van R25 000 per dag verdien, maar Coetzee kon selfs meer as dit gevra het. Volgens my skatting het die seun se regspan die ou man en sy ontslape seun se boedel reeds êrens in die omgewing van R300 000 per week gekos. En hierdie bedrag het uit die aard van die saak verskeie ander uitgawes uitgesluit, soos die privaat speurders en forensiese kundiges van wie ook gebruik gemaak is.

Ek het uitgewerk dat die boedel, sedert die moorde plaasgevind het, reeds ongeveer R1,5 miljoen opgedok het en dat dit min of meer nog R2 miljoen sou kos om die res van die koste van die verhoor te dek.

Ek het Heckroodt en De Jager albei met my skattings genader. Waar Heckroodt geweier het om enige inligting bekend te maak, het De Jager anders gereageer. Toe ek hom bel om ’n afspraak te maak, het hy reguit gesê: “Ek kan jou nie regtig weier nie, kan ek?”

Voor my afspraak met De Jager het ek vir Estie du Plessis gebel om haar te vra of my benaderde bedrag vir die seun se regskoste in die kol is. Sy het gesê dat ek nie te ver uit is nie.

Ek het Saterdag 3 Augustus vir De Jager by sy pragtige tweeverdiepinghuis in ’n deftige woonbuurt van Kimberley ontmoet. Ek het die klokkie voor by die hek gelui en hy het my soos gewoonlik agterdogtig gegroet. Hy het my na binne gelei en ons het regs in, sou ek reken, een van verskeie woonvertrekke gaan sit. Die banke was oud, maar in ’n goeie toestand en die vertrek was baie skoon en netjies. Ek het ’n bejaarde vrou vlugtig in die kombuis langsaan opgemerk en aangeneem dat sy De Jager se vrou is.

Ons het ’n ruk lank oor ditjies en datjies gesels voor ek begin het om hom oor sy fooi uit te vra, maar hy was nie baie tegemoetkomend nie. Dit het my nie regtig verbaas nie.

“Ons het die eis (rekening) by die ou man se prokureurs in Bloemfontein ingedien en dit is betaal,” het De Jager verduidelik. “Ek weet nie of dit so baie is nie. Ek het nog nie na die lêer gaan kyk nie.” Ek het ’n bedrag van R1,5 miljoen genoem.

De Jager het bevestig dat die bejaarde geweier het om voort te gaan om die rekeninge te betaal; in plaas daarvan het hy aangevoer dat die seun se regskoste moes deel uitmaak van sy onderhoud, wat uit die oorlede Steenkamps se boedels betaal is.

“Die eksekuteurs se rol is om die boedel af te handel,” het De Jager aan my gesê. “Die boedel betaal die eise en as hulle dit weier, sal ons die hof vra om daaroor te besluit.”

Hy was verbasend bombasties oor die situasie, gegewe dat ek van Du Plessis verneem het dat die betalings amptelik stopgesit is en De Jager inderdaad hof toe sou moes gaan. Dit moes ’n groot terugslag vir Heckroodt en sy pleegkind gewees het, aangesien hulle hierdie geld benodig het vir die naderende hofsaak, wat weer op 2 September hervat sou word. Sonder toegang tot hierdie fondse sou Heckroodt waarskynlik daarvoor verantwoordelik wees om die ongeveer R2 miljoen aan regskoste te betaal – geld wat ek seker was hy nie oor beskik het nie.

Gerugte het die rondte gedoen dat Heckroodt finansiële probleme van sy eie gehad het. Volgens dokumente in my besit wou Heckroodt op ’n stadium vir die seun amptelik aanneem, maar ná konsultasie met Du Plessis is hy aangeraai om net sy voog te word. Die rede hiervoor was dat indien Heckroodt die seun sou aanneem, hy alleen vir al sy regskoste verantwoordelik sou wees.

Met die begin van die tweede deel van die verhoor op hande, het ek verneem dat alles nie pluis is in die Steenkamp-geledere nie en dat die verhoor moontlik onbepaald uitgestel sou word. Gerugte het daarop gesinspeel dat die seun se regspan geweier het om met die verhoor voort te gaan tot hulle verseker was van betaling. Soos dinge tans daar uitgesien het, het die geld nie meer in hul bankrekeninge ingestroom nie en, nog meer belangrik, daar was niemand om hulle te betaal nie. Met die ou man se afsterwe het De Jager nou probleme gehad. Die grootste probleem was om die Steenkamp-boedels so ver te kry om weer die rekeninge te begin betaal. Maar die nuwe eksekuteurs van die boedels, die ou man se dogters, was nie daarmee gediend nie.

Die bejaarde het blykbaar ingestem om ’n ooreenkoms met De Jager te sluit wat hom alleen verantwoordelik hou vir die betaling van die rekeninge, hetsy via die boedels of in sy persoonlike hoedanigheid. Dit het beteken dat indien die seun skuldig bevind sou word, die wet wat die “bebloede hand” daarvan weerhou om te erf, in werking sou tree en die boedelgeld terugbetaal sou moes word. Met ander woorde, indien die meester van die hof dit sou nodig ag, sou die ou man se boedel hierdie geld aan die boedels van die ontslapenes moes terugbetaal.

Die ou man se dogters wou nie vir dieselfde slimpraatjies val nie. Du Plessis het advokaat C.A.J. van Rensburg, wat in bestorwe boedels spesialiseer, vir sy regsadvies oor die kwessie genader en hy het voorgestel dat hulle die hof moet laat besluit. Die susters het nie omgegee dat elke sent van hul broer se fortuin van nagenoeg R23 miljoen op regskoste vermors word nie – hulle wou net nie self daarvoor verantwoordelik gehou word om met die geld vorendag te kom nie. Beide susters het dit so aan my bevestig en bygevoeg dat hulle nie persoonlik oor die geld beskik om vir die seun se verdediging te betaal nie.

Die verhoor is van 2 tot 13 September op die hofrol geplaas, maar ons het gou besef dat dit weer uitgestel sou word. Intussen het die seun se sewentiende verjaarsdag aangebreek. Dit was die tweede verjaarsdag wat hy sonder sy gesin sou vier. “Ons beplan niks spesiaals nie en gaan net soos altyd op die plaas wees,” het Heckroodt daaroor gesê.

Soos verwag, is die verhoor op Maandag 2 September tot 21 Oktober uitgestel, weens die kwessie oor die regskoste. Alhoewel De Jager en Coetzee albei beweer het dat die uitstel nie weens finansiële probleme was nie, het Cloete later bevestig dat dit wel die geval was. Aangesien die staatsadvokate en die verdediging privaat met die regter in sy kamers vergader het, is die amptelike rede vir die uitstel nooit aan die media verskaf nie.

Coetzee wou die verhoor tot November uitstel, maar Kgomo het die verdediging net tot Oktober gegee om hul probleme uit te stryk. Dit het wel nie by die regter verbygegaan dat die verdediging sedert Maart gehad het om die saak op te los nie en dat hulle nou besig was om almal se tyd te mors.

Coetzee het maar halfhartig tot die nuwe datum ingestem en gesê: “Die hof sal van alle verwikkelinge in kennis gestel word, Edelagbare.” Dit was duidelik dat hy nie geweet het of hulle teen daardie tyd gereed sou wees nie. Ek het my bedenkinge gehad omdat ek nie kon sien wie met R2 miljoen vorendag moes kom om op die saak te spandeer nie.

Volgens my bronne het Heckroodt etlike jare gelede blykbaar sowat R200 miljoen van sy pa geërf, wat ek moeilik gevind het om te glo. Dit was ’n yslike en amper onrealistiese bedrag geld. Sy pa was ’n bekende afslaer in die Noord-Kaap, en het ’n fortuin vir sy familie bymekaargemaak. Bennie Heckroodt het dit alles geërf, maar wat het van die geld geword as dit wel bestaan het? Ek het besluit dat ek hierdie saak sou ondersoek sodra ek tyd gehad het.

Met die saak wat weer eens uitgestel is, het ek gewonder of die seun graad 11 sou deurkom. Die nuwe datums vir die verhoor sou hom dalk nie toelaat om sy jaareindeksamens te skryf nie, wat beteken dat hy slegs twee uit die vier belangrike eksamens van die jaar sou skryf. Ek het besluit om die skoolhoof van Grey-kollege te bel om meer uit te vind. Die seun was steeds amptelik ’n leerder van dié eliteskool, alhoewel hy privaat onderrig van ’n paar onderwysers in die Jacobsdal-omgewing ontvang het. Deon Scheepers, wat Volsteedt by Grey-kollege opgevolg het, het aan my gesê dat die seun sonder enige probleme sou deurkom.

“Hy het die halfjaar-eksamen geskryf en geslaag. Hy het gereeld opdragte en take deur die jaar ingelewer. Ek voorsien dus nie ’n probleem vir hom om die graad te slaag nie,” het Scheepers aan my gesê.

Ek was amper geskok deur hierdie nuus. Toe ek op hoërskool was, ongeveer vyftien jaar gelede, sou jy gedruip het indien jy een eksamen gemis het, om van twee nie eers te praat nie. Hierdie keer het ek geglo wat so baie mense al geruime tyd sê, naamlik dat ons onderwysstelsel besig is om ons in die steek te laat.

’n Paar dae ná die uitstel van die verhoor het Heckroodt ’n dringende aansoek by die hooggeregshof in Kimberley ingedien vir ’n beslissing rakende die betaling van die seun se regskoste uit die Steenkamps se boedels. En dit het nie net dáárby gebly nie – hy het die ou man se boedel by sy aansoek ingesluit, wat ’n groot polemiek veroorsaak het.

Ek was verbaas om te verneem dat die ou man se boedel óók by die aansoek ingesluit is, maar dit het inderwaarheid baie sin gehad. Heckroodt en De Jager het waarskynlik geweet dat hulle nie veel van ’n kans staan om toegang tot die Steenkamp-boedels te verkry tot die seun onskuldig bevind is op aanklag van moord nie en daarom was hul enigste hoop om die ou man se koffers te plunder. Die seun se oupa het R500 000 in sy testament aan hom bemaak en een van die ou man se dogters het aan my gesê dat hulle die seun met graagte onmiddellike toegang tot hierdie geld sou verleen. Dit sou egter nie genoeg wees om al die uitgawes te dek nie, veral nie teen die slakkepas waarteen die saak ontvou het nie. Volgens my aanvanklike skattings sou die halfmiljoen rand net genoeg wees om die seun se regskoste vir twee weke te dek – wat dalk nie naastenby genoeg tyd is om die saak af te handel nie. Op daardie stadium het Cloete aan my gesê dat hy nog ten minste vier weke in die hof nodig het, terwyl die verdediging ten minste twee weke nodig sou hê. Iemand sou onvermydelik met meer geld vorendag moes kom.

Dit was ongeveer hierdie tyd dat Du Plessis die dokumente wat Heckroodt en die ou man se weduwee onderskeidelik by die hof ingedien het per e-pos aan my gestuur het. Sy was die enigste party wat gekant was teen die verdediging se aansoek om geld uit haar ontslape man se boedel te gebruik om die seun se saak te befonds. Sy sou niks hiervan duld nie en het in haar verklaring gesê dat sy en haar oorlede man beoog het om hul drie kinders so gelyk moontlik te laat erf en dat hul seun reeds sy erflating ontvang het toe hy nog geleef het. Sy het gesê dat sover sy kon aflei, die seun se toekomstige regskoste substansieel sou wees en dus sou betaling van die seun se regskoste uit haar man se boedel nadelig vir haar dogters wees.

“Ek dink nie dis regverdig om enige ander morele aspekte wat my besluit beïnvloed het, bekend te maak nie,” het die weduwee in haar verklaring gesê.

Het sy miskien verwys na haar kleinseun se betrokkenheid by die moorde en na Heckroodt se ywerigheid om na hom om te sien?

Die weduwee het verder gesê dat daar baie “prosessuele gebreke en tekortkominge” in Heckroodt se aansoek was, byvoorbeeld die feit dat die aansoek nie verwys het na die lys van aanklagte waarop haar kleinseun teregstaan nie, aangesien dit direk betrekking het op die konteks waarbinne hy probeer om sy oupa en ouers se geld te gebruik om vir sy regskoste te betaal. Weer eens was die wet ten opsigte van die “bebloede hand” hier van toepassing.

Heckroodt het hom ook slegs verlaat op die opdrag wat die ou man vir hom en De Jager gegee het om die oorledenes se boedels te gebruik om die regskoste te betaal. Volgens hulle was dié onderneming onherroeplik, maar die weduwee het aangevoer dat naas die feit dat geen onderneming ooit onherroeplik kan wees nie, dit met die dood van haar man nie meer van krag was nie. Sy het bevestig dat ’n bedrag van ongeveer R1,2 miljoen teen 23 Mei 2013 reeds van die oorledenes se boedels verhaal is. Sy het gesê dat ’n bedrag van R130 000 aan ’n privaat speurder en vir die saak wat Heckroodt teen Grey-kollege aanhangig gemaak het, betaal is. Sy het ook erken dat haar man baie swaar gekry het ná die moorde.

“Hy was uiters emosioneel, depressief en aggressief tot sy afsterwe. Hy het na my beskeie mening nie altyd regdenkend opgetree nie,” het sy gesê.

Sy het gesê dat haar man die onderneming om die regskoste te betaal onder emosionele druk van De Jager onderteken het, maar dat hy later dié besluit berou het. Dit is waarom hy later sy toestemming teruggetrek het en sy dogters as eksekuteurs oorgeneem het.

Sy het ook bevestig dat die seun die enigste erfgenaam van die boedels is. Sy het gesê dat sy nie weet wat Heckroodt finansieel kan bydra nie en het selfs die hof versoek om hom te dwing om sy finansiële state voor te lê.

“Dit is deel van Heckroodt se plig as voog om nou die seun se regskoste te betaal,” het sy in haar verklaring betoog. Sy het gevra dat Heckroodt se aansoek met koste verwerp word.

In Heckroodt se antwoord het hy gesê dat hy “uiters verbaas” is deur die vele tegniese regsbesware wat die weduwee geopper het. Hy het ontken dat die ou man onder enige emosionele druk geplaas is om die onderneming te onderteken en het gesê dat hy hom herhaaldelik verseker het dat hy alle uitgawes sou dek in verband met sy kleinseun se welstand. Dit het die regskoste ingesluit.

Heckroodt het gesê dat hy en sy vrou die ou man en sy familie gereeld in Kimberley besoek het, waar hierdie kwessies breedvoerig bespreek is. Heckroodt het beweer dat die ou man selfs aan hom gesê het dat hy hom nie hoef te bekommer indien die regskoste buitensporig hoog word nie. Heckroodt het verder gesê dat hy die seun ingeneem het met die volle goedkeuring van die seun se familie en kort daarna sy wettige voog geword het. Hy het ook bevestig dat hy ’n maandelikse bedrag geld vir die seun se onderhoud ontvang, wat in sy vrou se rekening inbetaal word.

Heckroodt het ook die weduwee se verklaring dat die dringendheid van hierdie aangeleentheid slegs deur hom geskep is, betwis. Heckroodt het gesê dat die kwessie slegs dringend was omdat die verhoor weer op 21 Oktober sou voortgaan en dat sy aansoek eers op 10 Oktober aangehoor is. Daar was dus slegs tien dae waarin die hof moes beslis of sy pleegkind oor die fondse beskik om voort te gaan.

Heckroodt het in sy verklaring erken dat die R500 000 wat die seun van sy oupa geërf het, nie naastenby genoeg sou wees om sy toekomstige regskoste te betaal nie. Hy het ook ontken dat die ou man ooit sy toestemming om die boedels se geld te gebruik, teruggetrek het en het beweer dat nóg hy nóg sy prokureur ooit hieroor ingelig is.

Die interessantste deel van hierdie hofdokumente was kopieë van verskeie e-posse wat heen en weer tussen die susters en die Heckroodts gestuur is. Hierin het die twee susters hul besorgdheid uitgespreek oor kwessies rakende die hofsaak en hoeveel dit alles sou kos. Maar wat my die meeste verbaas het, was die manier waarop beide partye beoog het om die wet te uitoorlê ten einde te verseker dat die seun nie met leë hande uit die tronk stap nie, indien dit is waar hy sou beland.

Die ou man het raad ingewin van ene Cobus Niemandt wat hom na Piet Swanepoel, ’n prokureur en kundige op die gebied van boedelbeplanning wat blykbaar kontrakwerk vir inrigtings soos Sanlam doen, verwys het. Klaarblyklik het die ou man nie baie vertroue in ons regstelsel gehad nie. Hy was bekommerd dat sy kleinseun skuldig bevind sou word en in die tronk beland en dat hy niks sou hê indien hy weer eendag vrygelaat sou word nie.

“Finansieel moet hy in ’n posisie wees om met sy lewe aan te gaan nadat hy sy vonnis uitgedien het. Die Heckroodts is van mening dat die oorledene se besittings vir die seun bewaar moet word,” lees ’n uittreksel uit ’n e-pos oor ’n vergadering tussen die ou man, die susters en die Heckroodts.

Die e-pos lui verder dat die oorledenes se bates in trusts geplaas is waarvan die seun, as die enigste oorlewende, nou die enigste erfgenaam was. Maar hy sou nooit die werklike titelakte in die hande kon kry nie, aangesien die trusts op so ’n manier gestruktureer is om seker te maak hul kinders se afstammelinge word begunstigdes van die Naauwhoek- en Edelweiss-trusts. Indien die seun egter skuldig bevind sou word, sou die inhoud van die boedels aan sy grootouers verval.

Die volgende deel van die e-pos laat veel te wense oor, aangesien dit voorkom asof die familie vasberade was om seker te maak dat die seun miljoene sou erf ongeag of hy werklik die moorde gepleeg het. Niemandt het in die e-pos Swanepoel se advies aan die familie uiteengesit: die grootouers moes ’n nuwe trust skep waarna die inhoud van die oorledenes se boedels oorgedra moes word en dit moes gedoen word vóór die seun skuldig bevind word.

“Die grootouers erf in hierdie trust. Die oupa skenk dan alles aan die trust. Die inhoud van die trust is dus ’n donasie en nie ’n erflating nie.”

Dis darem seker onwettig, het ek by myself gedink. Die wet is duidelik dat die “bebloede hand” nie kan erf nie, selfs in gevalle soos dié. Niemandt het egter voortgegaan om te waarsku dat die meester van die hof of enige ander persoon wat ’n belang het by die trusts, die geldigheid van die nuwe trust kon betwis.

Die e-posse het ook onthul dat Heckroodt se vrou ’n maandelikse toelae van R9 066 vir die seun se onderhoud ontvang het, maar dat die bedrag uiteindelik tot R6 000 verminder is. ’n Verdere R1 500 is hierby gevoeg vir die versorging van die perde en die koste verbonde aan die seun se privaat onderwysers wat hom met sy tuisonderrig gehelp het.

Die kwessie van die regskoste het toe opgeduik. De Jager het aangevoer dat die oorledene se boedel verantwoordelik gehou moes word vir die seun se opvoeding en regskoste. Hanlie Heckroodt se naam is in hierdie verband genoem, aangesien sy wou hê dat die boedel al die seun se regskoste moes betaal. Volgens die een suster, wat finansiële state van Du Plessis aangevra het, het die boedel reeds ongeveer R2 miljoen aan verskeie uitgawes tussen April 2012 en Mei 2013 uitbetaal. Die susters het ook die bevoegdheid van die seun se regspan openlik bevraagteken. Die seun het hulle toe blykbaar gevra hoekom hulle bedenkinge daaromtrent het, waarop die susters hul redes verduidelik het.

’n Paragraaf van die e-pos lui soos volg: “Willem Coetzee se rekening wissel tussen R21 000 en R31 000 per dag. Coetzee mors tyd deur sinnelose vrae te vra. Die regter moes baie keer ingryp. Hanlie sê dis Coetzee en nie die staat nie wat sinnelose vrae vra en sinnelose bewerings maak. Dis ’n magspel tussen die staat en die verdediging. Coetzee gaan maar net daarmee saam. Die publiek (wat deur die media beïnvloed word) glo oor die algemeen dat die verdediging probeer insinueer dat net die seun die waarheid praat en dat die res van die getuies jok. Hanlie het slapelose nagte oor die regspan, maar hulle kan nie nou gefire word nie omdat die regskoste dan weer van vooraf sal begin.”

’n Ander interessante brokkie was dat advokaat Erasmus blykbaar haar eie broer as ’n privaat speurder vir die saak gehuur het. Volgens my bronne het Errol Vertue, Erasmus se broer, die SAPD ongeveer vyftien jaar gelede verlaat met die rang van luitenant-kolonel. Hy het daarna ’n motorverkoopsman êrens in die Wes-Kaap geword. Die familie het sy bevoegdheid bevraagteken en die rede waarom Erasmus haar eie broer aangestel het.

“Sharon Erasmus het haar eie broer as privaat speurder gebruik. Hoekom? Hy is uit ’n paar opsies gekies omdat hy en De Waal nie van mekaar hou nie. Hy het R68 000 gevra en dit net oor ’n vendetta teen De Waal. Bennie bevestig dat hy gehuur is om De Waal se bevindings te ondersoek. Vertue het nie eers [die seun] se naam in sy verslag reg gespel nie … baie van die foute wat Vertue uitgewys het, het met die 3D-video te doen … Vertue hamer slegs op die blou en swart kortbroek.”

Hoe kon Erasmus ’n persoon vir bykans R70 000 aanstel as hy in meer as vyftien jaar nie aan ’n strafsaak gewerk het nie? Ek het met die susters saamgestem: geld was besig om vermors te word. Ek het vir die eerste keer Erasmus se integriteit begin bevraagteken omdat ongeag wie Vertue aangestel het, sy betrokkenheid by die saak ’n botsing van belange was. Maar aan die ander kant sou dít nie die eerste keer in hierdie saak wees nie.

Die twee susters het verder hul besorgdheid uitgespreek oor hul ouers se gesondheid en die druk waaronder hulle verkeer. Hulle het gesê dat die bejaarde egpaar baie ontsteld is oor die situasie. Die susters het ook uitgevind dat die onderneming wat hul pa onderteken het ongeldig was. Hulle het genoem dat hulle met De Jager, Erasmus en Coetzee wou onderhandel vir afslag op hul regskoste.

“Wat is hul strategie tot nou toe? Ons moet begin onderhandel vir afslag en ’n vasgestelde tarief. Waarheen is hulle op pad? Hoe lank gaan die saak nog duur en wat is die verwagte koste? … Ons sal ons op hul menslikheid beroep om ’n laer tarief te beding,” lui nog ’n uittreksel uit een van die e-posse.

Die inhoud van die e-posse het presies opgesom wat ek en baie ander reeds ’n ruk lank vermoed het. Gerugte het die rondte gedoen dat die seun se regspan besig was om die boedels tot op die laaste sent uit te melk. Sommige van die gerugte was selfs van De Jager se eie werknemers afkomstig. En om te lees hoe die susters hulle op “hul menslikheid [wou] beroep” vir afslag op die regskoste, het my erg omgekrap.

Ek het dit egter sterk betwyfel dat Coetzee R31 000 per dag verdien het, aangesien ek meegedeel is dat die gemiddelde tarief van ’n senior advokaat in die omgewing van R20 000 per dag beloop.

Volgens hul e-posse wou die ou man nie van Coetzee ontslae raak nie, wat my laat dink het dat die susters hieragter sit.

Die laaste paar paragrawe in een van die e-posse het ook gesorg vir baie interessante leesstof. In hierdie paragrawe het die familie die verskillende moontlikhede bespreek indien die seun skuldig bevind sou word. Nóg die susters nóg die Heckroodts het al ooit vantevore hieroor gepraat, aangesien hulle hulle altyd daarvan weerhou het om enigiets opspraakwekkends in die openbaar kwyt te raak. Maar in hierdie e-posse het hulle nie teruggehou nie:

Wat gaan ons doen wanneer die fondse uitgeput is? Oupa sê dit gaan nie help dat [die seun] tronk toe gaan en dan uitkom met niks om daarvoor te wys nie. Ons moet die bates in die Naauwhoek-trust verkoop, want dit help nie ons bespaar op regskoste en dan eindig [die seun] in die tronk op nie. [Die seun] stem saam dat ons eerder van die plase moet verkoop as wat hy tronk toe gaan …

[Een van die susters] sê dat indien [die seun] op ’n tegniese punt skuldig bevind sou word, dit oukei sal wees, maar indien al die getuienis direk na hom wys, sou dit oneties wees om maniere te probeer vind om die wet te omseil in ’n poging om hom te laat erf omdat dit ’n bespotting van die reg maak. Hanlie voel dat alles in die boedels na [die seun] toe moet gaan, nie net dit wat van die beskikbare fondse oorbly nie. Oupa is bang dat hy onskuldig is, maar skuldig bevind gaan word.

Die interessante deel van die uittreksel hierbo is dat die seun teenwoordig was toe hierdie dinge bespreek is. Hy het daar saam met die Heckroodts en die susters gesit en voorgestel wat verkoop kon word om te verseker dat sy regspan betaal word om hom uit die tronk te hou. ’n Bespotting van die reg? Dit was ’n bespotting van alles wat ’n mens as normaal beskou.

Hierdie besprekings het meestal tydens Mei 2013 plaasgevind omdat die verhoudings tussen hierdie twee partye tussen Junie en begin Oktober vinnig agteruitgegaan het. As eksekuteurs van die oorledenes se boedels het veral die twee susters nie meer die moeite gedoen om die seun se opinie oor enigiets te vra nie.

In ’n e-pos gedateer 1 Julie, gestuur om 23:05, het Heckroodt die susters uitgetrap omdat hulle blykbaar ’n dorpshuis, wat aan een van die slagoffers behoort het, sonder die seun se toestemming verkoop het. Hy was blykbaar ontsteld toe die susters as eksekuteurs aangestel is en oor die verkoop van die huis in Kimberley.

Uit dit wat ek kon aflei, het dit amper gelyk asof die Heckroodts nie vir die susters heeltemal vertrou het met die winsgewende boedels nie. Dít het gou duidelik geword toe Heckroodt ’n maandelikse staat van inkomste en uitgawes van hulle aangevra het. Die susters het op Heckroodt se versoek via hul prokureur geantwoord en van toe af het hul verhouding begin versuur.

Heckroodt het op Vrydag 11 Oktober ’n verdere teleurstelling gehad toe regter Johann Olivier sy dringende aansoek om die seun se regskoste van die boedels te verhaal, in die hooggeregshof in Kimberley verwerp. Dit was van die begin af duidelik dat Heckroodt en De Jager heeltemal bewus was van die feit dat hulle geen gegronde rede het vir hul eis teen die trusts nie en daarom besluit het om eerder vir die ou man se geld te skiet. Sy boedel was al die tyd hul mikpunt en ek vermoed sy weduwee het dit geweet. Daarom was sy die enigste een in die familie wat Heckroodt se aansoek teengestaan het.

Advokaat Corrie Ploos van Amstel, SC, het namens Heckroodt verskyn. Hy het beweer dat die ou man emosioneel aan die seun verbind was en daarom seker wou maak dat hy oor die geld beskik om vir sy regskoste te betaal. Ploos van Amstel het ook betoog dat die onderneming onder bespreking nie gekanselleer is nie, maar dat die familie slegs vir afslag op die regskoste gevra het.

Advokaat Majel Wessels, SC, wat namens die ou dame verskyn het, het weer herhaal dat die onderneming inderdaad gekanselleer is en dat haar oorlede man se boedel nie gebind kon word tot die betaling van die seun se regskoste nie. Wessels het gesê dat die ou man in ’n onmoontlike posisie geplaas is waar hy geen idee gehad het wat die finale bedrag sou wees nie. Wessels het ook beweer dat die dringendheid van die aansoek slegs deur Heckroodt geskep is, aangesien hy reeds in Mei van hierdie probleem bewus was, maar tot ná die uitstel van die verhoor in September gewag het om iets daaromtrent te doen.

Regter Olivier het toe vir De Jager en Heckroodt oor die kole gehaal, aangesien hy ook nie kon verstaan hoe hulle kon verwag dat die ou man aanhou betaal ongeag die uitgawes wat aangegaan is nie. In haar verklaring het sy weduwee gesê dat die fondse uitgeput is en dat daar nie meer ’n oop tjekboek beskikbaar is nie. Olivier het saamgestem en De Jager oor sy optrede berispe.

“Dus het jy vir die ou man ’n onherroeplike onderneming laat onderteken en net verwag dat hy aanhou betaal ongeag die uitgawes en waarvoor dit aangegaan is? Dit is inderdaad baie vreemd,” het Olivier gesê.

Hy het ook gesê dat De Jager geen bewyse het dat die bespreking met die ou man oor die onderneming ooit plaasgevind het nie en dat dit ’n groot bron van kommer en ’n groot probleem in hul aansoek was. En Heckroodt het ook verskeie foute begaan in sowel sy repliserende verklaring as sy aansoek omdat hy byvoorbeeld nagelaat het om die hof ’n aanduiding te gee van die toekomstige regskoste of dat hy dit met die familie bespreek het.

In wese, het Olivier opgesom, wou De Jager en Heckroodt hê dat die ou man miljoene rande betaal terwyl hy hoegenaamd geen sê gehad het in hoe die saak vorder of selfs op hoogte gehou is nie. Olivier het verder gesê dat die ou man ook nooit gesê het dat hy persoonlik enige regskoste gaan betaal nie, maar slegs dat dit uit sy seun en skoondogter se boedels betaal sou word. Maar Olivier het ook die juistheid van hierdie aanname bevraagteken, aangesien hy nie kon insien hoe dit in die eerste plek wettig kon wees om dit te doen nie.

Olivier het bevestig dat enige onderneming in elk geval beëindig word en verval met die dood van die opdraggewer. Hy het ook duidelik gesê dat regskoste nie deel van onderhoud uitmaak nie en dat dit in ’n saak soos hierdie nie uit die boedels van die oorledenes betaal kon word tot onskuld bewys is nie.

Soos ek verwag het, het Olivier gelas dat die seun die R500 000 wat sy oupa aan hom nagelaat het, gebruik om die regskoste te betaal. Hy het Heckroodt gelas om ’n afsonderlike bankrekening oop te maak waarin die geld inbetaal moes word en Heckroodt is ook opdrag gegee om die meester van die hof maandeliks van ’n uitgawestaat te voorsien. Olivier het dit selfs op hom geneem om die Regshulpraad te kontak en te vra of hulle bereid sou wees om die seun by te staan om sy regskoste te betaal – natuurlik teen ’n verminderde tarief. Die susters is opdrag gegee om Heckroodt te help om vir sy aansoek se koste te betaal, aangesien hy in belang van die kind opgetree het, terwyl Heckroodt op sy beurt weer die weduwee se koste moes betaal.

Ek het gehoor hoe De Jager vir Ploos van Amstel in die gang sê: “Heckroodt sal wil appelleer; hy’s nie bang om te betaal nie.”

Ek dink nie Heckroodt het sy prokureur se standpunt gedeel nie, want hy het toe nooit geappelleer nie. Inteendeel, Heckroodt het nie baie gelukkig gelyk toe hy die hooggeregshof verlaat nie, maar hy het gedoen wat hy moes. Net voor 21 Oktober, toe die saak veronderstel was om te hervat, is die media ingelig dat die staat en die verdediging ’n ooreenkoms bereik het en dat die verhoor vir ’n verdere twee weke uitgestel sou word, tot Maandag 4 November. Die tyd wat vir die verhoor opsy gesit is, sou nou met twee weke verkort word. Die enigste onbeantwoorde vraag op daardie stadium was: Wie sou die regskoste moes betaal wat die toegekende R500 000 oorskry?

Kort ná regter Olivier gelas het dat die R500 000 in ’n bankrekening van Bennie Heckroodt inbetaal moes word, het De Jager aan OFM gesê dat hy en sy span elke sent van daardie geld verskuldig is. Uit wat ek kon aflei, het De Jager reeds daardie geld spandeer nog lank voor die regter dit aan Heckroodt toegeken het. Ek het gewonder of die regspan sou voortgaan om vir ’n paar weke namens die seun te verskyn tot die geld op is en dan sou wegstap, en of hulle teen ’n verminderde tarief sou werk en die verhoor eervol sou deursien.

Een ding was egter seker: Indien die seun skuldig bevind sou word en tronk toe gaan, sou hy eendag as ’n baie arm man daaruit stap, aangesien die enigste geld wat hy wettig geërf het nou deur sy prokureur en twee advokate geniet sou word.