20

Die selfoon-analis

Een van die eerste dinge wat ek gedoen het toe ek op Naauwhoek aangekom en om die plaashuis geloop het, was om te kyk of ek selfoonontvangs het of nie. Ek het gehad. Ek het MTN-dekking gehad, soos die beskuldigde sou gehad het toe hy gekies het om nie hulp te ontbied nie.

Kaptein Francois Möller is ’n forensiese kommunikasie-en-selfoonanalis by die SAPD. Dit was sy taak om die verskillende selfone wat op die misdaadtoneel ingesamel is, ook die een wat aan die beskuldigde behoort, te analiseer. Möller is geroep om te getuig nadat Vermeulen die getuiebank verlaat het. Hy het sy getuienis begin deur aan die hof te verduidelik hoe hy die data in ’n selfoon analiseer, asook hoe hy uitgewiste data onttrek. Möller het gesê dat hy opleiding om dit te doen van Suid-Afrika se twee grootste netwerke, Vodacom en MTN, ontvang het.

“Toe ek Naauwhoek besoek het, het ek die GPS-data aangeteken en gesien dat slegs MTN beskikbaar is vir normale selfone op die plaas,” het hy gesê.

’n Geografiese kaart van die streek rondom Griekwastad is op die hofsaal se projektorskerm vertoon. Naauwhoek, sowel as ’n selfoontoring, was duidelik gemerk. Möller het verduidelik dat hierdie toring sowat 8,5 km van Naauwhoek is en die enigste selfoontoring naby die plaas is. Die tweede naaste toring is naby Douglas, ongeveer 30,3 km ver. Hy het gesê dat ’n selfoon in 90% van die gevalle sal konnekteer met die toring met die sterkste sein; maar, het hy gewaarsku, heuwels en geboue kan die sterkte van die naaste toring se sein beïnvloed. Möller het getuig dat De Waal hom gevra het om die gedetailleerde rekenings van vier selfone, waarvan een die beskuldigde se BlackBerry 8520 was, te analiseer. Hy het bevestig dat hy vier state wat aan Deon, Christel, Marthella en die beskuldigde behoort het, ontvang het.

“Ek kon sien watter kommunikasie op watter tye plaasgevind het en het dit daarvolgens geanaliseer,” het Möller gesê.

Hy het verduidelik dat hy twee afsonderlike tydlyne vir elke selfoon vir Vrydag 6 April 2012 opgestel het. Die eerste strek van 06:00 tot 17:00 en die tweede van 17:00 tot 20:00. Die tweede was natuurlik uiters belangrik, aangesien die moorde in daardie tydgleuf plaasgevind het. Möller het gesê dat hy eerder gewerk het met die tye op die MTN-rekenings as met dié wat op die selfone gewys het, aangesien dit bekend is dat die diensverskaffer se tye meer akkuraat is. Hy het verduidelik dat selfone gebruik word om oproepe te maak en te ontvang, SMS-boodskappe te stuur en te ontvang, met die internet te konnekteer en datakommunikasie van die internet te ontvang.

Möller het begin deur die hof in te lig oor die aktiwiteit op Marthella se foon die dag van die moorde. Haar MTN-rekening het aktiwiteit vanaf 08:54 getoon toe haar foon meer as 7 000 sekondes met die internet gekonnekteer het voor dit gediskonnekteer het. Volgens Möller kon Marthella onbewus daarvan gewees het dat een van haar BlackBerry se toepassings outomaties met die internet gekonnekteer het. Drie verdere internetgebaseerde konneksies is deur die dag tot en met haar dood gemaak.

Möller het vervolgens die beskuldigde se selfoon bespreek. Hy het met die internet gekonnekteer, na sy stempos geluister en probeer om oproepe te maak. Sy vriend van kleins af het gebel en ’n stempos gelos. Die seun was veronderstel om die aand van die moorde op Naauwhoek oor te slaap, maar het op die laaste nippertjie van plan verander. Die beskuldigde het na sy stempos geluister en toe sonder sukses probeer om sy vriend in die hande te kry.

“Die seun se foon was baie meer aktief tussen 17:00 en 17:49. In hierdie kort tydjie het hy vier keer met die internet gekonnekteer, maar dit kon ook outomaties gewees het,” het Möller gesê.

Die beskuldigde het om 17:58 weer probeer om sy vriend te bel, maar die oproep het slegs vier sekondes geduur. Tussen 18:00 en 19:00 is geen oproepe gemaak en geen SMS’e gestuur en ontvang nie. Dit was uiters belangrik, aangesien die moorde in dié tyd plaasgevind het en die beskuldigde na bewering in die skuur weggekruip het. Teen 19:02 het die beskuldigde sy oupa in Kimberley gebel om hom van die moorde in kennis te stel. Die oproep het 115 sekondes geduur. Hy het daarna Christel se beste vriendin, Romi Ludwick, iemand bekend as “Klein Koos” en ’n vriendin gebel.

Möller het toe Deon en Christel se foonaktiwiteit bespreek. Deon het daardie oggend vir Christel gebel en later daardie middag, om 17:49, sy pa.

Christel was oënskynlik die aktiefste op haar foon, wat Möller gedemonstreer het deur ’n grafiek van haar foonaktiwiteit op die projektorskerm te vertoon. ’n Vrou met die naam Samantha het gebel om navraag oor haar troukoek te doen en daar was oproepe na en van Romi Ludwick en Deon se ma. Christel het ook verskeie oproepe ná haar dood ontvang.

“Ek het die inhoud van die SMS-boodskappe op Christel se foon afgelaai,” het Möller bevestig.

Sy het twee SMS’e voor haar dood gestuur, om 18:32 en 18:34; een aan haar suster in Port Elizabeth en een aan ’n vriendin. Die drietal het die beskikbaarheid van vlugte tussen Bloemfontein en Port Elizabeth bespreek, aangesien Christel se suster oënskynlik Vrystaat toe wou vlieg. SMS-boodskappe wat min of meer om 19:02 na Christel se foon gestuur is, was ongelees.

Vir my was die tyd van die laaste SMS wat om 18:34 gestuur is die mees deurslaggewende stuk omstandigheidsgetuienis, aangesien dit die beskuldigde se weergawe van gebeure weerlê het. Hy kon nie geweet het dat Christel daardie boodskap om 18:34 gestuur het nie. Daarom, toe hy on geveer dertien minute later by die Griekwastad-polisiekantoor opgedaag en ’n breedvoerige storie vertel het van hoe hy verskeie minute lank weggekruip het, ensovoorts, het hy nie besef dat sy tydsberekening met meer as 10 minute uit was nie.

Möller het gesê dat hy altesaam sewe selfone geanaliseer het. Hy het die moontlikheid erken dat data van sekere toepassings uitgewis kon gewees het. Hy het bevestig dat sowel BBM- as WhatsApp-boodskappe wat uitgewis is, nie herwin kon word nie. Basies was die data van enige tipe webgebaseerde toepassing vir hulle verlore nadat dit uitgewis is.

Möller het daarin geslaag om al die SMS’e, foto’s en video’s van die beskuldigde se foon af te laai. Daar was ongeveer 215 kontakte en sesen-twintig ander wat oor ’n tydperk uitgewis is. Daar was ook meer as 400 BlackBerry-toepassings, maar die meerderheid hiervan was gedeïnstalleer. Die stelsel het boodskappe ouer as dertig dae outomaties uitgewis, maar Möller kon die meeste hiervan herwin.

Ek het onthou dat iemand my vertel het dat die ondersoekspan ’n lasbrief vir die beskuldigde se BBM-boodskappe verkry het en dit is na BlackBerry se vervaardigers, Research in Motion, in Kanada gestuur. Möller het hierdie kwessie aangeraak en gesê dat hulle slegs een aktiewe gesprek tussen die beskuldigde en sy vriendin kon kry. In hierdie lang gesprek, wat die dag ná die moorde tussen 10:08 en 13:39 plaasgevind het, het die beskuldigde aan sy vriendin gesê dat die polisie reeds ’n saakdossier teen hom aangelê het. Die meisie het hom gevra hoe hy weet dat die dossier vir hom is, asook hoe hy weet dat hy die enigste verdagte sal wees en dat al die getuienis na hom sal wys. Op een stadium het sy aan die beskuldigde gesê dat haar ouers haar verbied het om verder met hom te praat omdat die polisie dit sou uitvind en haar ook sou ondervra. Sy het gesê dat haar ouers wou hê dat sy alle kontak met hom verbreek, maar dat sy vreeslik gehuil het en hulle uiteindelik toegegee en vir haar gesê het dat sy kon voortgaan om via BBM met hom te praat. Sy het hul gesprek met ’n vertroostende Christelike boodskap afgesluit.

Voordat hy verder gegaan het, het Möller ’n foto van die beskuldigde en Deon gewys wat ingesluit was in die data wat hy van die seun se WhatsApp kon herwin.

Möller het toe almal verbysterd gelaat deur te getuig dat Marthella se BlackBerry ’n wagwoord opgehad het en dat niemand dit kon ontsyfer nie. Ek was baie teleurgesteld – daar moes tog seker ’n manier wees om die foon te ontsluit? Maar omdat ek geweet het dat die ondersoekspan in kontak met Research in Motion was, het ek afgelei dat dit die waarheid moet wees. Dit het egter nie verskeie van my tegnobedrewe Twitter-volgelinge daarvan weerhou om skakels na ietwat riskante sagtewarewebtuistes, wat beweer dat hulle BlackBerries kan ontsluit, aan my te twiet nie. Ongelukkig moet die polisie hulle by die reëls hou.

Möller het getuig dat hy verskeie Nokia-selfone gevind het wat ’n geruime tyd lank nie gebruik is nie. Een het nie ’n SIM-kaart gehad nie en ’n ander een het aan Christel behoort. Hulle is onderskeidelik sedert Mei 2011 en 26 Januarie 2012 nie gebruik nie. ’n Nokia is naby Marthella se liggaam gevind en ’n ander een, wat duidelik aan Deon behoort het, in die TV-kamer.

Cloete het Möller se opinie oor selfoonontvangs op die plaas gevra.

“Ek is van mening dat daar die dag van die moorde konstante selfoonontvangs op die plaas was,” het hy geantwoord.

Möller, wat voortgegaan het met sy getuienis, het vervolgens ’n video gewys wat met ’n selfoon opgeneem is. Dit was getiteld “Skiet van perd af” en die eerste keer dat ek die stemme van Deon, Christel en Marthella gehoor het. Dit was grillerig om hulle te hoor lag en hulle so gelukkig te hoor klink. Ek het na die beskuldigde geloer en gemerk dat hy glimlag. Hy het vorentoe gesit en alles noukeurig gevolg. Dit was bykans twee jaar ná die moorde en ongeag waarvan hy aangekla is, was die beskuldigde steeds ’n kind.

Die video het gewys hoe Deon vir die beskuldigde leer om te perd na ’n teiken te skiet. Jy kon die seun duidelik op die perd sien waar hy na ’n teiken na regs skiet en Marthella wat aan die oorkant by Christel staan terwyl sy hom verfilm. Deon het hom aangemoedig en op en af voor die kamera geloop. Oor die gedreun van hoewe kon jy Marthella aan die seun hoor fluister: “Sit stil.” Nou en dan het Christel ook daarin geslaag om ’n woord in te kry, terwyl Deon na die teiken geloop het om die beskuldigde se handewerk te beskou. In die hofsaal was daar glimlagte ter herinnering op die gesigte van diegene wat die Steenkamps geken het en vir hulle lief was.

Kort voor die einde van die video het Möller genoem dat ons geluister het na die stemme van die oorledenes. Daar was ’n somber atmosfeer in die hofsaal toe Cloete aankondig dat hy klaar was met sy getuie. Coetzee het opgestaan en gesê dat hy geen verdere vrae het nie. Die selfoon-analis kon die getuiebank verlaat.

Die volgende getuie wat na die getuiebank geroep is, was Nico Scholtz, nog een van die Steenkamps se bure. Scholtz was lank en skraal, met donker hare. Hy het ongeveer 6 km van Naauwhoek gewoon op sy plaas Grootdoring, wat verder suid op die Niekerkshooppad was. Scholtz het getuig dat hy familie besoek het, vermoedelik sy pa in Griekwastad, en teen ongeveer 18:00 met sy ou wit Mercedes-Benz huis toe gery het toe hy verby Naauwhoek is. Hy het Jan Koopman se bakkie langs die pad buite die minder gebruikte hek naby die plaaswerkers se huise gesien en ’n ander die selfoon-analis boer het verby hom gery. Coetzee wou hom nie kruisondervra nie, en Scholtz het die getuiebank verlaat.

Vervolgens was die nege-en-veertigjarige Dawid Kgoranyane aan die beurt. Kgoranyane se leeragtige vel en geplooide gesig was die resultaat van lang ure in die son. Hy het baie ouer gelyk as wat hy was. Sy baard was meer grys as swart; dit het sy ken bedek en bo sy mond ’n snor gevorm. Hy het heel waarskynlik sy kisklere aangehad vir sy kort hofverskyning: ’n gevlekte gryserige streepbroek en ’n roomkleurige gholfhemp met swart, wit en blou strepe.

Kgoranyane het in Afrikaans getuig dat hy ongeveer dertien jaar vir Deon Steenkamp gewerk het, waartydens hy die gesin goed leer ken het. Hy het bevestig dat sy diens ongeveer ’n jaar en ’n half voor die moorde beëindig is ná ’n uitval oor ’n ystersaag wat weggeraak het. Kgoranyane het gesê dat hy Deon net een keer daarna gesien het en dat dit in die dorp en nie op die plaas was nie. Toe hy gevra is waar hy die aand van die moorde was, het Kgoranyane geantwoord dat hy soos gewoonlik laat gewerk het en dat dit reeds donker op Dawie Herselman se plaas was toe hy van die moorde te hore gekom het. Volgens die beskuldigde was Kgoranyane die een wat na bewering gesê het dat indien plaasmoorde in Griekwastad sou begin, sulke moorde eerste op Naauwhoek sou plaasvind. Dit was daarom geen verrassing dat Coetzee gekies het om Kgoranyane te kruisondervra nie.

Toe die advokaat hom oor sy beweerde stelling uitvra, het die plaaswerker ontken dat hy ooit so iets gesê het. Behalwe die een insident met die saag het hy en die Steenkamps altyd goed oor die weg gekom.

Net om seker te maak dat daar geen verwarring oor Kgoranyane se onskuld en alibi is nie, het Cloete die plaaswerker se nuwe werkgewer, Dawie Herselman, na die getuiebank geroep. Herselman, ’n boer wat ongeveer 11 km buite Griekwastad op die Daniëlskuilpad woon, het bevestig dat Kgoranyane omstreeks die tyd van die Naauwhoek-moorde op sy plaas was. Hy was besig om vuur te maak aangesien hy vleis wou braai. Herselman het gesê dat sy broer hom ongeveer 19:10 gebel het om hom van die Steenkamps te vertel.

Die tempo waarteen getuies geroep en weer laat gaan is, was nou baie vinniger as aan die begin van die verhoor. Hierdie keer is geen tyd verspil nie. Selfs die regter het aangedui dat hy gewillig was om tot 17:00 te sit en nie net tot 16:00 soos sy gewoonte was nie.

Jan Saxon was die volgende getuie wat geroep is. Hy het op Klein Naauwhoek, ’n paar kilometer noord van Naauwhoek en net suid van Griekwastad, gewoon en geboer. Saxon was die dag van die moorde in Hopetown en het laatmiddag na Griekwastad teruggekeer. Hy het gesê dat hy op die verlate 1400-Nissanbakkie langs die pad afgekom het en ook die Steenkamps se plaaswerkers in die rigting van die dorp sien loop het. Voor hy die getuiebank verlaat het, het Saxon aan die hof vertel dat Deon ’n goeie mens was wat altyd gewillig was om te help. Daarmee het die hof vir die dag verdaag.

Die volgende dag het beloof om opwindend te wees, aangesien daar verwag is dat een van die twee forensiese patoloë wat in die saak getuig aan die hof sou vertel waarom hulle van mening is dat Marthella seksueel aangerand is. Tot nou toe kon ons net bespiegel oor hoe sterk die staat se saak met betrekking tot die verkragtingsaanklag was. Baie van my kollegas het gevoel dat daar nie genoeg bewyse was om ’n suksesvolle skuldigbevinding vir Marthella se verkragting te verseker nie. Ek was nie so seker nie, aangesien die verkragting ten minste die motief sou verskaf. Ek het gehoop dat die patoloog in staat sou wees om meer lig op die saak te werp.

Wat ons nie verwag het nie, was die moontlikheid dat die media van hierdie gedeelte van die verhoor uitgesluit kon word. Ná ’n oomblik se verwarring toe ons by die hofsaal aankom, het ons ons rondom die beginsel van mediavryheid geskaar en was ons gereed om met hand en tand terug te veg.