23

Die bewyse raak al hoe meer

Voor Joubert sy plek in die getuiebank sou inneem, was daar egter nog ’n paar staatsgetuies wat moes getuig. Luitenant-kolonel Thandiwe Mlabateki, ’n forensiese en chemiese analis met meer as sewentien jaar se ervaring, was volgende aan die beurt. Cloete het haar gevra wat met kruitresidu gebeur wanneer ’n vuurwapen afgevuur word. Sy het verduidelik dat dit kenmerkend is dat ’n hoeveelheid kruitresidu agtergelaat word – gewoonlik op die hande of klere van die skieter – wanneer iemand ’n pistool of rewolwer afvuur. Volgens Mlabateki word hierdie residu gewoonlik gevind tussen die duim en voorvinger van die hand wat die wapen vasgehou het toe dit afgevuur is. Verder kan hierdie residu nog tot twee en ’n half uur ná die skoot afgevuur is, gevind word.

“Kan kruitresidu suksesvol verwyder word deur jou hande te was?” het Cloete gevra.

“Ja, as jy dit met seep was, kan dit verwyder word,” het Mlabateki bevestig.

Baie glo dat dit bykans onmoontlik is om kruitresidu van iemand se hande af te was, maar dit is net nóg ’n hedendaagse mite. Mlabateki het inderdaad voortgegaan en gesê dat groot hoeveelhede bloed ook residu kan verwyder, asook deur klere uit te skud of te was. Dit is egter nie ’n maklike taak om residu van klere te verwyder nie.

Toe Mlabateki gevra is of kruitresidu na ’n derde party oorgedra kan word, het sy bevestigend geantwoord.

“Het enige van die oorledenes ’n wapen afgevuur?” het Cloete gevra.

“Nee, al drie oorledenes se hande was sonder enige kruitresidu. Hulle het nie die aand van die moorde ’n wapen hanteer of afgevuur nie,” het die analis geantwoord.

Sy het bevestig dat die beskuldigde se hande ook skoon was, maar Cloete het daarop gewys dat die seun na hul wete sy hande minstens twee keer gewas het.

Cloete het toe gevra of kruitresidu van die wapens, wat die beskuldigde aan die polisie oorhandig het, op sy klere oorgedra kon gewees het. Mlabateki het gesê dat dit moontlik is.

Die staatsaanklaer het toe die hof meegedeel dat beide die T-hemde wat die seun daardie aand aangehad het, positief vir kruitresidu getoets het, maar dat sy kortbroek negatief getoets het.

“Kleef kruitresidu maklik aan klere?” het Cloete gevra.

“Ja, indien ’n mens blootgestel word aan die hoeveelheid kruitresidu in die lug nadat ’n vuurwapen afgevuur is,” het Mlabateki geantwoord.

In sy kruisondervraging wou Coetzee weet of die beskuldigde dalk nie die wapens kon afgevuur het nie, selfs al het sy klere positief vir kruitresidu getoets: “Kon hy aan die hoeveelheid kruitresidu in die lug blootgestel gewees het toe hy die huis ná die skietery binnegegaan het?”

“Ek weet nie. Dis moontlik. So ver ek weet, is geen toetse gedoen om te bepaal hoe lank die kruitresidudeeltjies in die lug bly voor dit neerdaal nie,” het Mlabateki geantwoord.

Cloete het daarna luitenant Cecilia Janse van Rensburg na die getuiebank opgeroep. Janse van Rensburg is ’n DNS-deskundige met nege jaar se ervaring. Sy moes getuig hoe die DNS op die misdaadtoneel en van die beskuldigde ingesamel is, en hoe dit met die staat se weergawe van gebeure ooreenstem. ’n Persoon se DNS is uniek en kan in of op die liggaam, soos in hare, sweet, weefsel en semen, gevind word. DNS is soos die nommer van ’n huis wat uit twee syfers bestaan: een syfer behoort aan die persoon se pa en die ander aan die persoon se ma. Dit word oor die wêreld heen gebruik om slagoffers sowel as misdadigers te identifiseer. DNS-monsters word gewoonlik geneem met ’n forensiese depper, wat later geïsoleer en ondersoek word.

“DNS moet altyd vermeerder word wanneer dit ondersoek word en is soos ’n fotokopieerder omdat ons altyd presiese kopieë daarvan maak,” het Janse van Rensburg verduidelik.

Sy het hard gepraat en selfversekerd en bedrewe voorgekom. Vir hierdie saak is verskeie DNS-monsters vir analise aan haar gegee, insluitende ’n kontrolemonster van die beskuldigde se DNS wat met die DNS op die toneel vergelyk moes word, het sy gesê. Op hierdie tydstip is ’n tabel met haar bevindings en verskeie foto’s – byvoorbeeld van die krapmerke op die beskuldigde se nek, die vuurwapens op die agtersitplek van Deon se bakkie, die telefoon en die beskuldigde se twee T-hemde – aan die regter en beide regspanne beskikbaar gestel.

Aangesien die media nie toegang tot hierdie dokumente gehad het nie, was dit moeilik om Janse van Rensburg se getuienis te volg. Sy het ’n lang lys nommers en letters aan die hof voorgelees wat met sekere seëlnommers in die bewysstukke ooreengestem het. Nadat sy ’n monster genoem het, het sy vervolgens haar bevinding gegee asook die mees konserwatiewe voorkomssyfer soos deur haar vasgestel. Sy het verduidelik dat die oorgrote meerderheid van haar bevindings ’n moontlikheid van tussen een uit 1,2 miljoen en een uit 2 triljoen het om verkeerd te wees. Ek en my kollegas het net al hoe meer verward geraak. Ons het selfs vir ’n ruk opgehou twiet!

Soos ek verstaan, is Marthella se DNS op die beskuldigde se kortbroek gevind en sy DNS is op haar T-hemp gevind. DNS wat nie aan een van die Steenkamps behoort het nie, is ook op die misdaadtoneel gevind, maar dit is verbind met hul werkers en ander besoekers. Onbekende DNS is ook op die wapens gevind en dit het moontlik behoort aan die polisiebeamptes wat die wapens later hanteer het. Janse van Rensburg het verduidelik dat die meerderheid onbekende DNS reeds dae voor die moorde in die huis kon beland het en dat onbekende DNS wat byvoorbeeld op Christel se rok gevind is daarop oorgedra kon word toe sy op die vloer gelê en doodbloei het.

Toe Cloete met sy kruisondervraging volstaan, het Coetzee ’n teepouse van dertig minute versoek om te besluit of hy Janse van Rensburg wou kruisondervra of nie. Ek het Cloete genader en hom gevra om ’n eenvoudiger verduideliking van die DNS-deskundige se getuienis aan te vra en hy het belowe dat hy sou sien wat hy kon doen. Toe die hofverrigtinge hervat en Coetzee geen verdere vrae vir die getuie het nie, het ek gewonder of hy net so verward is soos ons.

Voor Janse van Rensburg verskoon is, het regter Kgomo skielik sy stem laat hoor: “Is daar steeds ’n groot agterstand by die forensiese laboratoriums in Suid-Afrika?”

“Ja, Edelagbare. Ons het nog sewe-en-sestig personeellede in diens geneem en nog ’n laboratorium in KwaZulu-Natal oopgemaak, maar ons werk steeds 24/7 om die agterstand te probeer uitwis.”

Die volgende getuie wat opgeroep is, was adjudantoffisier Nosamose Nhlapo wat in die SAPD se forensiese laboratorium in Kaapstad werksaam is. Nhlapo, ’n forensiese en ballistiese deskundige met meer as tien jaar se ervaring, was reeds by meer as 500 ondersoeke betrokke. Hy het aan die hof gesê dat hy twee fotoalbums voorberei het wat saam met sy getuienis gebruik sou word en dat hy tydens die verloop van die ondersoek verskeie beëdigde verklarings voorgelê het.

“Nie al die getuienis van hierdie getuie word betwis nie en daarom sal hy slegs oor sekere aspekte getuig,” het Cloete aangekondig.

Nhlapo, wat spesialiseer in vuurwapens en ammunisie en die tegniese aspekte daarvan, soos hoe ’n wapen afgevuur word en die impak van ’n koeël, het die nadoodse ondersoeke bygewoon en die liggame volgens die beginsels van “terminale forensiese ballistiek” ondersoek. Nhlapo het voortgegaan waar die staatspatoloog, dokter Lemaine Fouché, opgehou het en gesê dat die skietwonde aan Deon se regterskouer en die regterkant van sy liggaam deur die .357-rewolwer veroorsaak is. Die skietwond agter sy linkeroor is egter deur die .22-geweer veroorsaak.

Met verwysing na die skeurwonde het Nhlapo gesê: “Die wonde aan die agterkant van Deon se kop is nie deur enige koeëls veroorsaak nie.”

Die skietwond aan Christel se onderrug is veroorsaak deur die .357-rewolwer, terwyl die skietwond aan haar kop/nek-area deur die .22-geweer veroorsaak is.

Marthella is met die .357-rewolwer in haar regterbors geskiet en in die agterkop en gesig met die .22-geweer.

“Die geweerskoot wat Marthella se gesig getref het, het ’n afwaartse baan gevolg. Sy het heel waarskynlik gesit of was besig om op te staan toe iemand haar van bo af geskiet het,” het Nhlapo gesê.

Hy het bevestig dat Deon ook van bo af geskiet is, aangesien die koeël wat sy skouer getref het ook ’n afwaartse baan gevolg het. Die koeël aan die agterkant van sy kop is van bo af gevuur terwyl hy op sy maag gelê het. Christel en Marthella is albei ook in die agterkop geskiet terwyl hulle plat gelê het.

“Hulle is tereggestel,” het Nhlapo beslis.

Hy het bevestig dat ’n koeël die onderste helfte van die kombuisdeur beskadig het en dat nog ’n koeël deur die sitkamer se voorafvervaardigde muur is naby aan waar Deon en Marthella gesit en televisie kyk het. Hierdie koeël het buite opgeslaan en in die muur links van die skuurdeure vasgeslaan.

Terwyl Nhlapo getuig het, het hy deurgaans die relevante foto’s van die misdaadtoneel gewys.

“Kan jy asseblief uitwys presies waar die koeël in die skuur se muur vasgeslaan het?” het Cloete gevra.

Nhlapo het die plek aangedui en voortgegaan met sy getuienis. Hy het gesê dat die koeël wat deur die sitkamerstoel gegaan het binne-in die gesin se HP-rekenaardrukker beland het. Verder was hy van mening dat die koeël wat die kombuisdeur beskadig het van binne die huis gevuur is. Dit het gestrook met wat ek geglo het – die beskuldigde het op Marthella geskiet toe sy uit die huis gevlug het, maar hy het misgeskiet. Nhlapo het gesê dat die koeël wat deur die voorafvervaardigde muur gegaan het teen ’n afwaartse baan gevuur is en het bevestig dat dit dieselfde koeël is wat in die skuur se muur vasgeslaan het.

“Sou iemand wat in die skuur weggekruip het geweerskote gehoor het wat in die huis afgevuur is?” het Cloete gevra.

“Beslis. Die .357-rewolwer sou harder as die .22-geweer geknal het, maar iemand 30 m ver behoort beide tipes geweerskote te kon hoor. Die koeël wat in die skuur vasgeslaan het, sou ook ’n lawaai gemaak het.”

Nhlapo se getuienis het basies bewys dat die skieter eers al ses koeëls van die .357-rewolwer gevuur het voor hy na die kluis teruggekeer het om die .22-geweer te gaan haal. Dié het hy toe gebruik om elkeen van die slagoffers tereg te stel – heel waarskynlik om seker te maak dat hulle dood is.

Dit was ook Nhlapo se taak om die Steenkamps se bloeddeurdrenkte hemde te ondersoek. Hy het ingangs- en uitgangskoeëlgate in sowel Marthella as Christel se hemde gevind en twee ingangskoeëlgate in Deon se hemp. Hy het geen kruitresidu op enige van die hemde gevind nie, wat hom die afleiding laat maak het dat hulle almal van ver af geskiet is. Toe hy gevra is hoe hy by hierdie gevolgtrekking uitgekom het, het Nhlapo die verskil tussen ontstekings- en dryfkruitresidu verduidelik. Dryfkruitresidu brand klein gaatjies in klere en kom voor wanneer ’n vuurwapen binne ’n meter van die slagoffer afgevuur word. Daar was nie enige sulke merke op die Steenkamps se klere nie.

Toe ons vir middagete verdaag, het Cloete my ingelig dat die verdediging ons versoek vir ’n eenvoudiger verduideliking van Janse van Rensburg se getuienis geweier het. Dit was niks anders as kwaadwilligheid nie, het ek gevoel. Die verdediging wou duidelik nie hê dat ons oor enige bevindings wat die beskuldigde sou inkrimineer, moes verslag doen nie.

Nhlapo het ná middagete voortgegaan en aan die hof gesê dat die onderste helfte van die kombuisdeur en die twee vuurwapens, waarop hy toetse moes uitvoer, aan hom gegee is. Hy het bevestig dat die koeëlgat in die deur met die .357-rewolwer veroorsaak is. Hy is ook gevra om ’n leë Beefmaster-boks met verskeie koeëlgate daarin te ondersoek.

“Die boks is in die skuur gevind en ek glo dis vir skietoefening gebruik,” het hy gesê.

Hy het tot die gevolgtrekking gekom dat die gate in die boks óf deur ’n 9 mm-pistool óf ’n .357-rewolwer gemaak is, maar nie deur ’n .22-geweer nie. Ek het opgemerk dat die beskuldigde weer eens ontsteld lyk. Elke nou en dan het dit gelyk asof hy beheer oor sy passiewe houding verloor.

“Is dit moontlik dat die koeël wat deur Marthella se regterbors gedring het en by haar sy uit is dieselfde koeël is wat deur die voorafvervaardigde muur is en in die skuur vasgeslaan het?” het Cloete gevra.

“Dis moontlik, ja, as jy na die baan van die koeël kyk,” het Nhlapo geantwoord.

Daarmee het Cloete afgesluit en Coetzee het weer eens, tot almal se verbasing, gekies om nie die getuie te kruisondervra nie. Dit hou niks goeds vir die verdediging in nie, het ek gedink. As hulle nie hierdie soort bevindings bevraagteken nie, sou hulle dit seer sekerlik moeilik vind om die beskuldigde se onskuld te bewys? Ek het verstaan dat die staat skuld moes bewys en dat die verdediging slegs twyfel moes wek, maar wat kon hulle hoop om te bereik deur sleutelgetuies nie te kruisondervra nie? Cloete het selfs geskerts en gesê dat hy hom so goed van sy taak gekwyt het dat Nhlapo nie aan kruisondervraging onderwerp kon word nie.

Later daardie dag het ek vir Stoffel de Jager gevra hoekom dit die geval is. “Verstaan jy dan nie?” het hy taamlik ingenome gevra. “Die staat het nie ’n saak nie.” Hy het toe vaagweg verwys na Janse van Rensburg se getuienis, maar ek kon nie kop of stert uitmaak van wat hy sê nie.

De Jager se antwoord het my gepla, maar sedert die beskuldigde se aansoek om borg het ek geleer om nie veel waarde te heg aan wat die prokureur aan die media kwytraak nie. Ek het Cloete vertroulik genader en hy was net so verbaas soos ek.

Die een probleem wat ek met Nhlapo se getuienis gehad het, was dat hy nie toetse gedoen het met die skieter se lengte in ag geneem nie. Ek het regtig gedink dat hulle deur so ’n toets meer oortuigend sou kon bewys dat die beskuldigde die noodlottige skote gevuur het. De Waal het egter nie gedink dat dit nodig was nie, maar ek het my bedenkinge gehad.

Cloete het vervolgens adjudantoffisier Phillip Bekker opgeroep om te getuig. Bekker, ’n vingerafdrukdeskundige van Port Elizabeth, het my aan ’n begrafnisondernemer laat dink. Ek twyfel of hy al ooit geglimlag het, want hy het stug en baie ernstig voorgekom. Hy was duidelik nie ’n groot media-aanhanger nie en het ons teenwoordigheid heeltemal geïgnoreer. Maar voordat hy kon voortgaan, het Coetzee gevra of die verdediging eers nog erkennings in verband met Bekker se getuienis kon voorlees. Dit het ’n erkenning ingesluit dat sommige van Marthella se handboeke as bewysstukke ingehandig is.

“Ek is ’n misdaaddeskundige en het meer as twee-en-twintig jaar se ervaring, onder andere elf jaar as ’n vingerafdrukdeskundige,” het Bekker gesê toe hy sy getuienis hervat.

Die titelblad van sy verslag het op die projektorskerm verskyn: “Vergelykende wrywingsrif-analise: Griekwastad CAS 18/04/2012”. Bekker het aan die hof gesê dat hy deur die polisie as ’n vingerafdrukdeskundige gebruik word en dat hy verskeie kursusse in sy veld voltooi het. Hy is opgelei om vingerafdrukke te vergelyk en die wetstoepassingsprogram AFIS (Automated Fingerprint Identification System) te gebruik: “Ek is opgelei in die vergelyking van vingerafdrukriwwe, aangesien die numeriese standaard is om riwwe op ’n vingerafdruk met mekaar te vergelyk. Dit staan bekend as rifologie.”

Die riwwe op ’n persoon se vinger veroorsaak wrywing, wat ’n mens byvoorbeeld in staat stel om ’n glas op te tel. Wanneer vergelykings gemaak word, word hierdie riwwe getel. Bekker het gesê dat Marthella se handboeke aan hom gegee is om bruikbare vingerafdrukke te vind, wat vergelyk kon word met die ongeïdentifiseerde vingerafdrukke wat op ’n koeldrankglas buite die Steenkamp-huis gevind is. Hy het bevestig dat daar geen rekord van Marthella se vingerafdrukke is nie, aangesien sy ten tyde van haar dood veertien jaar oud was en daarom te jonk was om reeds ’n ID-boekie te hê. Die patoloog het ook nie haar vingerafdrukke tydens die nadoodse ondersoek gedokumenteer nie, behalwe haar duime. Bekker het bevestig dat Marthella se vingerafdrukke digitaal gemanipuleer is vir die vergelyking.

Die analis het toe deur middel van ’n visuele voorstelling gewys hoe hy te werk gegaan het om die vingerafdrukke te lig. ’n Foto is vertoon van die kleefbandligter wat gebruik is om die vingerafdrukke van die glas te lig en die oorspronklike is as bewysstuk ingehandig. Bekker het verduidelik dat die vingerafdrukligter metrieke plakkers het wat hy saam met ’n donker poeier gebruik het om die vingerafdrukke te lig. Die gehalte van die afdrukke het van goed tot baie sleg gewissel, het hy gesê, en ’n mens kon drie duidelike vlakke van detail sien.

“Slegs gedeeltelike afdrukke is gevind weens die rondheid van die glas,” het hy opgemerk.

’n Tweede foto van die gedeeltelike afdrukke wat van die glas geneem is, is vertoon, maar hierdie foto het verskeie wit en rooi halfsirkels oor die riwwe van die afdrukke vertoon. Dit het blykbaar aangedui waar die vingers aan die glas geraak het en die verskillende kleure het die verskillende vingers aangedui. Bekker het met ’n rooi laser na die skerm gewys. Hy het ’n moontlike regterduimafdruk en ander vingers, en ’n moontlike linkerhandafdruk geïdentifiseer, waarvolgens hy afgelei het dat die glas met iemand se linkerhand vasgehou is. ’n Foto van Marthella se bebloede en gekneusde linkerhand, wat tydens die nadoodse ondersoek geneem is, is daarna gewys.

“Daar is twee tipes voue wat op ’n persoon se hande en vingers voorkom, naamlik refleksie- en velvoue,” het Bekker gesê.

Hy het ’n nabyfoto van Marthella se bloedbevlekte vingers gewys en uitgewys wat hy ’n deltapatroon genoem het. Volgens Bekker het Marthella baie riwwe op haar vingers gehad, wat gedui het op iemand wat met haar hande werk of aktief aan sport deelneem. Hy het bevestig dat hy ulna- en radiuspatrone of boë op haar linkerhand gevind het, maar hy het gesê dat dit moeilik was om hulle met die digitale afdrukke wat van haar handboeke gelig is, te vergelyk.

Aanvanklik het ek dit geïgnoreer, maar ná ’n rukkie het ek begin wonder waarom Bekker voortdurend sy duim op sy nekaar druk terwyl hy getuig. Dit het gelyk asof hy sy hartritme reguleer. Ek het iemand dit nog nooit vantevore sien doen nie. Die beskuldigde het egter verveeld gelyk waar hy besig was om in sy notaboek te skryf.

Bekker het gesê die uitdaging was om ’n afdruk in die handboek te vind wat met die vingerafdruk op die glas vergelyk kon word: “Ek kon slegs vyf punte vind wat ooreengestem het tussen die twee afdrukke, maar in Suid-Afrika word ten minste sewe punte benodig om identiteit te bevestig. Ek moes dus weens die gebrek aan punte die riwwe bestudeer.”

Hy het die lengte, rigting, grootte en vorm van die riwwe noukeurig bestudeer en uiteindelik bevestig dat die riwwe wat op beide afdrukke voorkom, perfek ooreenstem. Hy het egter erken dat daar effense verskille in dele van die riwwe was, maar dat dit was as gevolg van die verskillende tegnieke wat gebruik is om die afdrukke te lig. Hy het bevestig dat beide afdrukke aan ’n klein volwassene behoort en dat die voue dieselfde is. Hy het ’n foto van die vingerafdrukke aan Kgomo oorhandig en die regter gevra om sy vingers met dié in die foto te vergelyk.

“U sien, Edelagbare, ’n kind se vingerafdruk is ongeveer 1 cm en ’n volwassene s’n is baie groter,” het Bekker gesê.

Bekker was baie deeglik en saaklik. Hy het elke aspek van sy getuienis in soveel detail bespreek dat ek getwyfel het of die verdediging enigiets daarvan sou kon weerlê.

Bekker het toe bevestig dat die vingerafdruk wat op die glas gevind is wel aan Marthella behoort. Dit was nog ’n vernietigende slag vir die verdediging, aangesien hulle vroeër geïnsinueer het dat die voorheen ongeïdentifiseerde vingerafdruk kon beteken dat ’n derde party op die misdaadtoneel teenwoordig was.

Toe Cloete gaan sit, het Coetzee opgestaan en vir ’n verdaging gevra. Volgens hom sou die verdediging se vingerafdrukdeskundige eers daardie aand in Kimberley aankom en Coetzee was nie bereid om Bekker te kruisondervra totdat hy met hul deskundige kon beraadslaag nie.

Die volgende oggend het Cobus Steyl, ’n privaat forensiese deskundige, die hofsaal saam met die verdediging binnegekom. Steyl, wat van Durban af kom, is een van ’n handjie vol privaat forensiese deskundiges in Suid-Afrika. Ek het slegs volgens sy reputasie van hom geweet.

Dit het later geblyk dat Steyl eers daardie oggend in Kimberley aangekom het en daarom het die verhoor later as gewoonlik hervat, wat die verdediging kans gegee het om met hom te beraadslaag. Toe Kgomo ’n rukkie later binnekom, het Coetzee opgestaan en weer eens gesê dat hy geen vrae vir die getuie het nie, maar dat hy verskeie verdere erkennings aan die hof wil voorlees.

Dit was volgende kaptein Marius Joubert se beurt om te getuig. Joubert, ’n forensiese en bloedspatsel-analis wat by die forensiese laboratorium in Kaapstad werksaam is, het meer as een-en-twintig jaar se ervaring van ondersoeke by misdaadtonele. Ek het voorheen al baie van hom gehoor en het geweet dat hy die staat se laaste maar belangrikste getuie was.

Maar voor Joubert sy plek in die getuiebank ingeneem het, het Coetzee my egter verras deur my te vra om hom na buite te vergesel. Ons het by die hofsaal uitgestap en by die wagkamer langsaan ingegaan. Coetzee het die deur agter ons toegemaak. Die ouerige advokaat, wat my tot nou toe openlik vyandiggesind was, het sy hand uitgesteek en my vir sy slegte gedrag om verskoning gevra. Hy het verduidelik dat die berigte wat ek geskryf het oor hoeveel hy verdien probleme vir hom veroorsaak het en dat hy as gevolg daarvan besig was om besigheid te verloor. Ek het op my beurt ook om verskoning gevra, maar bygevoeg dat ek slegs my werk gedoen het.

“Het jy geweet dat ek eintlik nou baie minder betaal word? Dat ek hierdie verhoor nou amper gratis hanteer?” het hy my gevra. “En weet jy hoeveel daardie bliksem Ploos van Amstel verdien het net vir die hofaansoek om die Steenkamps se boedel te gebruik om die seun se regskoste te betaal?”

Ek was dadelik geïnteresseerd. “So jy het nie R30 000 per dag verdien nie? En hoeveel het Ploos van Amstel verdien?”

“My fooi is ongeveer R18 000 per dag, maar ek het dit tot R15 000 vir die res van die verhoor verminder,” het Coetzee geantwoord. “Ploos van Amstel het meer as R200 000 vir sy aandeel in daardie hofaansoek ontvang.”

Hy het toe verder uitgewei en gesê dat hy per uur vir oortyd betaal word en dat sy fooi per dag by tye naby aan R30 000 is, maar hy het volgehou dat hy hard werk vir elke sent. Die oortydwerk was ná ure en soms oor naweke, wanneer hy met die beskuldigde en Heckroodt beraadslaag het. Ek het hom nie daarop gewys dat ons land se staatsaanklaers, manne soos Cloete en Hollander, ook lang ure en die meeste naweke werk, maar geen oortyd betaal word nie.

Coetzee het voorts gesê dat hy baie telefoonoproepe ontvang het van prokureurs – met wie hy vroeër saamgewerk het – ná hulle my berigte gelees het. Die meeste van hulle het hom na bewering gedreig en gesê dat hulle nie langer van sy dienste gebruik sou maak nie omdat hy so duur is. Ek het aan Coetzee gesê dat ek die feite in my berigte kan staaf met bewyse van twee baie gesaghebbende bronne. Hy het geweier om dit te aanvaar en my voor stok gekry omdat ek hom nie om sy kommentaar gevra het voor die berigte geplaas is nie. Ek het erken dat ek dit nie gedoen het nie, maar net omdat ek uit ondervinding weet dat advokate nooit oor hul sake praat nie, veral nie oor die buitensporige fooie wat hulle vra nie. Ek het dit vir hom gesê, maar hy het volgehou dat hy met my sou gepraat het.

Ek het van die geleentheid gebruik gemaak om hom uit te vra oor sy nuwe Porsche. Coetzee het hom vervies en gesê dat hy niks met die kar te doen het nie – sy vrou het dit met haar pensioengeld gekoop. Hy het bygevoeg dat dit in elk geval tweedehands is en by ’n vriend van hulle gekoop is.

En daarmee was dit uit en gedaan. Alles in ag geneem moet ek erken dat ek verras was dat Coetzee my opsy geneem het om die wrywing tussen ons te bespreek en ek het hom des te meer daarvoor gerespekteer.

Toe ons weer die hofsaal binnegaan en Joubert sy plek in die getuiebank inneem, het ek opgemerk hoe die beskuldigde lyk. Hy het, ongewoon vir hom, begin om sy kop te krap en sy naels te byt. Hy was op sy senuwees en wie kon hom blameer? Die bewyse teen hom het ’n duidelike patroon begin aanneem en sy regspan het tot op daardie stadium nie veel gedoen om dit te weerlê nie. Daar het by my geen twyfel bestaan nie dat dit net hy alleen was wat die Steenkamps vermoor het.