Kaptein Marius Joubert, in ’n pak klere en das, het op sy gemak gelyk waar hy in die getuiebank gestaan en wag het om beëdig te word. Die bebrilde Joubert, ’n lang man in sy vroeë tot middelveertigs, se donkerbruin hare was met ’n ouderwetse middelpaadjie gekam en hy het my effens aan ’n onderwyser laat dink, maar ek het geweet dat hy een van die beste forensiese bloedspatsel-analiste in die land is. Cobus Steyl het in die hof agtergebly om weer eens die verdediging by te staan. Joubert se hoof, brigadier Leonie Ras, was ook teenwoordig en het langs een van De Waal se assistente gesit. Ek het haar gegroet en ons het vinnig ’n paar woorde gewissel, aangesien ons al voorheen saam aan sake gewerk het. Ras het ook ’n lang gesprek met Steyl gevoer, en ek het aangeneem dat sy hom ken vanweë hul gedeelde belangstelling in die forensiese wetenskap.
Kgomo het toe die hofsaal binnegekom en die verrigtinge het begin. Nadat Joubert die eed afgelê het, het hy sy kwalifikasies op Cloete se versoek verskaf. Naas die feit dat hy reeds een-en-twintig jaar lank misdaadtonele ondersoek, het hy ook talle forensiese kursusse voltooi en is hy ook ’n deskundige op die gebied van die analise van bloedspatselpatrone. Hy kan ’n misdaadtoneel rekonstrueer deur te kyk na hoe die bloed gespat het, hoeveel dit gestol het, die volume en die posisie daarvan in verhouding tot waar die misdaad gepleeg is.
“Ek kyk altyd na die misdaadtoneel in die geheel voor ek begin om bloedspatselpatrone te identifiseer en te rekonstrueer wat gebeur het,” het Joubert verduidelik. “Bloed as ’n vloeistof reageer altyd op ’n voorspelbare manier wanneer dit gestort word.”
Die dinamika van bloed bestaan uit swaartekrag, impak, spatsels en vloei. Volgens Joubert kan bloed geslinger word van ’n voorwerp wat óf beweeg óf ophou beweeg het; dit kan ook drup, of vlek of smeer. Wat ook al die geval, vertel bloedpatrone altyd ’n storie.
Op hierdie tydstip het Joubert ’n groot lêer met honderde bladsye daarin oopgemaak en daaruit begin voorlees. Hy het ook die Steenkamps se nadoodse ondersoeke bygewoon, waar hy sy eie waarnemings gedoen het en die lyke en kledingstukke gedokumenteer het. Hy het ook die misdaadtoneel op Naauwhoek vier dae ná die moorde besoek om alle bloedpatrone te ondersoek.
“Edelagbare, ek wil net graag die families waarsku dat sommige van die foto’s, wat as deel van kaptein Joubert se getuienis vertoon en bespreek gaan word, baie grafies is,” het Cloete onderbreek.
Kgomo het na die familie en vriende gedraai, maar niemand wou die hofsaal verlaat nie. De Waal het met die Steenkamps beraadslaag en Erasmus met die Massyns, maar hulle was almal vasbeslote om te bly. Hulle wou hoor wat Joubert te sê het.
“Ek het op 12 April 2012 [die dag ná die nadoodse ondersoeke] Naauwhoek toe gegaan, waar ek die misdaadtoneel gedokumenteer het deur foto’s te neem en notas te maak,” het die analis gesê.
Hy het impakspatsels op die sekuriteitshek wat na die kombuis lei waargeneem en het bloed op die onderste deel van die kombuisdeur gevind. As deel van die ondersoek het hy drie DVD’s van die misdaadtoneel ontvang: twee het foto’s bevat en die derde was ’n video.
Joubert het die hof gevra om Marthella in ’n regop posisie met ’n koeëlwond in haar bors te visualiseer.
“Bloed het van haar wond oor haar liggaam gevloei, op haar arm gedrup en toe op die vloer gedrup,” het hy gesê. “Visualiseer dat daar oral bloedspatsels was.”
’n Foto is toe vertoon van ’n bloedspatselpatroon wat ’n boog vorm op die muur regs van die kombuisdeur. Joubert het verduidelik dat dit ’n wegspatpatroon genoem word. Hy het gesê bloed het op en vanaf Marthella se regterarm gedrup en met die swaai van die arm het bloed vanaf haar vingers in drie duidelike lineêre bloedspatselpatrone op die muur beland. Volgens Joubert het Marthella heel waarskynlik probeer om haar balans te behou toe sy haar arm geswaai het. Sy gevolgtrekking was dat sy besig was om die huis weer binne te kom toe hierdie bloed gespat het, aangesien dit van haar regterarm afkomstig was.
Joubert het die bloedspoor die huis in gevolg en verduidelik dat bloeddruppels op die waskamervloer ooreengestem het met bloed wat uit ’n wond drup. Sommige van hierdie bloeddruppels was versteur. Hy het gesê dat indien jy regs in die rigting van die ingang na die kombuis sou draai, ’n smeerpatroon wat daar op die vloer gevind is, ooreenstem met bloed wat van die linkervoet gedrup het en toe op die vloer gesmeer is. Bloeddruppels het nie ’n sigbare patroon nie, het hy opgemerk, maar drup gewoonlik afwaarts en versprei dan. Nog ’n smeerpatroon van iemand se hak is op die kombuisvloer gevind.
“Marthella se bloed is in sowel die waskamer as die oopplankombuis gevind.”
’n Groot bloedkol op een van die kombuiskaste het gestrook met die teorie dat Marthella daarteen geleun het en van haar bloed agtergelaat het, het hy voortgegaan. Die bloed het van die toonbank langs die kant van die kas afgeloop, wat aandui dat Marthella met die regterkant van haar liggaam daarteen geleun het. Grasdeeltjies en gruis met haar bloed gemeng, is op die toonbank gevind.
’n Foto is vertoon van Marthella wat op haar regtersy lê, met die onderste deel van haar liggroen hemp deurdrenk met bloed. Joubert het toe op haar rug gefokus en aangedui dat dieselfde grasdeeltjies en gruis op haar hemp gevind is. Sy was reeds besig om te bloei toe dit op haar klere oorgedra is, het hy afgelei. Dit het gestrook met die teorie dat sy binne die huis geskiet is en toe na buite gevlug het, waar sy aangeval is voordat sy die huis later weer binnegegaan het.
Nog ’n bloedsmeer en bloeddruppels is gevind op die vloer wat van die kombuis na die oopplan-eetkamer lei. Ons is weer eens die foto’s gewys wat die aand van die moorde geneem is, met die huis in donker gehul en die lyke wat nog op die vloer lê. Dit het gelyk asof Marthella haar voet gesleep het, het Joubert opgemerk, aangesien een van die smeerpatrone op die vloer gelyk het asof iets daardeur gesleep is.
’n Volgende foto het bloed naby Deon se lyk getoon, wat aandui dat Marthella heel waarskynlik ’n paar sekondes by haar pa stilgestaan het. Joubert het verduidelik dat hy ’n konsentrasie van bloed naby Deon gevind het en dat dit daarop dui dat iemand vir ’n ruk daar gestaan en bloei het. Die analis het daarna ’n foto gewys van wat soos ’n bloederige handafdruk lyk wat op die sitkamertafel gevind is. Joubert het gesê dat Marthella vermoedelik daarop geleun het om haar balans te behou. Nog bloeddruppels en nog ’n bloedsmeer is op die vloer daar naby gevind.
“Bloed het van Marthella se liggaam op die vloer gedrup en sy het daarin getrap soos sy voortbeweeg het.”
Joubert het toe op Deon gefokus asook ’n groot bloedsmeer onder hom tussen die regterkant van sy kop en regterskouer. Hy het dit as ’n bloedplas beskryf en afgelei dat Deon, nadat hy gewond is en net voor sy dood, hom gemakliker probeer maak het deur sy regterarm na sy lyf te trek en sodoende die bloed gesmeer het.
“Hy was dalk ongemaklik en kon miskien nie in daardie posisie asem kry nie en het gevolglik sy arm beweeg.”
Bloed van die agterkant van Deon se kop waar hy geskiet is, het getoon dat hy reeds op die vloer gelê het, aangesien die bloed weens swaartekrag afwaarts gevloei het.
Ek het na die beskuldigde gekyk. Hy het senuweeagtig aan sy wenkbroue gepluk en sy ken bevoel.
Bloed is ook onder een van die stoele gevind, het Joubert voortgegaan. Christel was in ’n regop of halfregop posisie toe sy in die rug geskiet is, aangesien bloed regaf na haar boude geloop het voor dit van rigting verander het. Dit het daarop gedui dat sy voor die rekenaar gesit het. Houtsplinters van die koeël wat deur die stoel is, is ook op haar rug gevind. Volgens Joubert het die bloeddruppels op Christel se klere aan die linkerkant van haar liggaam geen lineêre oriëntasie gehad nie. Die bloeddruppels wat op die vloer bo Christel se kop en voor een van die ontbythoekie se kroegstoele gevind is, het ooreengestem met iemand wat daar stilgestaan het terwyl hulle bloei. Hy het afgelei dat Marthella heel waarskynlik ook by haar ma gestaan het net soos wat sy by haar pa se lyk gestaan het en dat bloed daar van haar afgedrup het. Verder was ’n bloedsmeer wat aan die agterkant van Christel se regterarm gevind is ook van Marthella afkomstig.
Bloed wat gevind is op die linkerkant van die ontbythoekie in die gesin se televisiekamer het gedui op iemand wat probeer het om ’n telefoonoproep te maak. Verskeie foto’s het die bloederige vingerafdrukke op die toonbank en telefoon getoon. Marthella moes met haar regterhand op die toonbank geleun het, wat ’n bloedsmeer agtergelaat het, terwyl sy die gehoorstuk met haar bebloede linkerhand opgetel het, het Joubert bevind.
“Ek glo die meisie het probeer hulp ontbied.”
Niemand weet wat gebeur het ná Marthella se poging om hulp te ontbied en voor sy op die vloer agter haar ma beland het nie. Joubert het dus met sy getuienis voortgegaan deur te fokus op die bloedsmeerpatrone waar haar lyk aangetref is. Bykans geen bloed is op die teëls onder haar gevind nie, wat beteken dat sy reeds dood was in daardie posisie. Wanneer die hart ophou klop, word geen bloed meer deur die liggaam gepomp nie.
Alhoewel slegs bespiegeling, was die staat van mening dat die beskuldigde met die .22-geweer uit die hoofslaapkamer teruggekeer het en Marthella aangetref het waar sy besig was om te probeer bel. Hy het haar toe in die agterkop geskiet. Die geweerskoot wat haar daarna in die gesig getref het, het min bloeding veroorsaak, wat Joubert se waarneming ondersteun dat sy teen daardie tyd reeds dood was.
Volgende is grusame nabyfoto’s van Marthella se verwronge gesig aan ons vertoon. Dit het gelyk asof die bloed eers afwaarts gevloei het voor dit sywaarts gevloei het, wat bewys dat sy regop gestaan het voor sy op haar regtersy neergesak het. Joubert het groot elliptiese bloeddruppels op die voorkant van Marthella se hemp gevind, wat ooreenstem met bloed wat van ’n kopwond afwaarts op die bors drup.
Joubert het nou op Marthella se bebloede voete gefokus en verder opgemerk: “Terwyl Christel gebloei het, het sy nooit in enige bloed getrap nie. Haar voete was skoon. Sy het nie op die misdaadtoneel geloop nie.”
“Was sy kaalvoet of het sy skoene aangehad?” het Kgomo gevra.
“Sy was kaalvoet,” het hy geantwoord.
Joubert het nog foto’s aan die hof vertoon van Marthella se bebloede, naakte lyk en toe van haar gewaste naakte lyk op die lykshuis se vlekvryestaal tafel. Hy het die aandag gevestig op ’n nabyfoto van een van haar bebloede hande en daarop gewys dat sy kort naels gehad het, maar dat dit nie te kort gesny was nie. ’n Bloedvloeipatroon op een van haar bene het getoon dat bloed afwaarts en toe na die kant gevloei het.
“Dit bewys dat sy regop was en gebloei het. Die bloed kom van haar kortbroek wat vol bloed was.”
’n Mens kon uit die foto’s sien dat Marthella se voete, anders as haar ma se skoon voete, vol bloed was. Verdere foto’s van bloeddruppels wat naby die ontbythoekie gevind is, toon ’n ruimte waar Marthella heel waarskynlik stilgestaan het en ’n bloedsmeer wat ooreenstem met haar linkergroottoon. Aangesien Deon se voete ook skoon was, het Joubert afgelei dat Marthella, nadat sy die eerste keer geskiet is, die enigste een naas die aanvaller was wat op die misdaadtoneel rondgeloop het.
Voordat Joubert verder gegaan het, het hy ’n nabyfoto van Deon se gekneusde en geswelde gesig vertoon en ’n besering bo sy regterwenkbrou uitgewys.
Die analis het vervolgens gefokus op die vuurwapens wat in die moorde gebruik is en het met sy getuienis oor die .22-geweer begin. Hy het die bloed- en epiteelselle ondersoek wat op die wapen gevind is. Hy het Marthella se DNS op die visier van die wapen gevind asook haar bloed op die geweer se loop en kolf. Deon se DNS is op die sneller gevind. Op die .357-rewolwer het hy verskeie epiteelselle gevind, veral dié van Marthella op die greep en sneller. ’n Foto van die rewolwer het getoon dat dit vol bloed was, waarvan ’n bietjie selfs in die loop van die vuurwapen beland het.
“Die bloed het in die loop van die vuurwapen beland nadat die laaste skoot afgevuur is.”
Hy het bevestig dat die bloed Marthella s’n was en daarvolgens afgelei dat die wapen gebruik is om haar aan te val – heel waarskynlik nadat haar aanvaller nie meer ammunisie oorgehad het nie. Joubert het gesê dat hy gaan kyk het na die plek langs die hek wat na die huis lei waar die beskuldigde na bewering die twee wapens gevind het.
“Dat die beskuldigde hierdie wapens daar aangetref het, is vir my verdag omdat ek geen stof, gras of selfs krapmerke op die geweer of die rewolwer gevind het nie. Daar moes ten minste stof op die geweer of die rewolwer gewees het as dit op die grond gegooi is waar die beskuldigde beweer hy dit gevind het.”
“Wat laat jou so sê?” het Cloete gevra.
“Beide wapens is deeglik ondersoek en is in ’n uitstekende toestand aangetref. Die gruis sou dit beskadig het indien iemand dit op die grond gegooi het, maar die wapens is glad nie beskadig nie.”
Joubert het vervolgens met sy getuienis voortgegaan oor die klere wat die beskuldigde die aand van die moorde aangehad het. Hy het met ’n beskrywing van die beskuldigde se rugbybroek begin en ten minste agt moontlike bloedspatsels op die voorkant van die broek geïdentifiseer. Verskeie bloedspatsels was met ’n wit stof, moontlik seep, gemeng. Die res van die bloedspatsels was Marthella se bloed. Hy het ook bloed op die broekrek gevind en het nog vyf moontlike bloedspatsels op die agterkant gevind, waarvan sommige ook met die wit stof gemeng was. Toe Joubert die kortbroek geanaliseer het, het hy nie ’n kontrolemonster van die beskuldigde se DNS gehad nie.
Volgende aan die beurt was die beskuldigde se donkerblou T-hemp. Ek het die foto bestudeer en ten minste dertig bloedspatsels of -druppels op die voorkant getel. Joubert het bevestig dat baie van hierdie bloedspatsels, van verskillende groottes en vorms, met Marthella se DNS ooreenstem. Hy het nog ’n foto van ’n bloedspatsel met ’n lineêre patroon met rande gewys. Joubert het gesê dat ’n bebloede voorwerp aan die hemp geraak het. Ek het gewonder of dit nie dalk een van die vuurwapens, soos die .22-geweer, was nie.
Joubert het toe bevestig dat impakspatsels sowel as bloedsmeerpatrone op die hemp gevind is. Dit was verdoemende getuienis omdat die enigste manier waarop impakbloedspatsels op die beskuldigde se hemp kon beland, sou wees indien hy naby Marthella gestaan het toe sy met ’n stomp voorwerp geslaan is. Die definisie van impakbloedspatsels lui soos volg: “’n Patroon wat veroorsaak word deur impak teen mediumspoed op ’n bron van bloed. Om iemand te slaan veroorsaak gewoonlik hierdie tipe bloedspatsel.” Alhoewel dit nog steeds omstandigheidsgetuienis was, was dit die eerste fisiese bewyse wat die beskuldigde op die toneel geplaas het terwyl die moorde plaasgevind het.
Ek het ten minste tien impakbloedspatsels en ongeveer drie-en-twintig oordragbloedspatsels op die hemp getel. Joubert het van ’n chemiese middel gebruik gemaak om die mikrobloedspatsels wat nie met die blote oog gesien kon word nie, aan te dui. Hy het nog verskeie ander bloedspatsels met ’n spesifieke rand, wat duidelik nie deur enige liggaamsdeel soos ’n arm of skouer veroorsaak is nie, op die hemp aangedui. Alhoewel hy op daardie tydstip nie bevestig het wat hierdie bloedspatsels veroorsaak het nie, was dit vir my duidelik dat die bebloede .22-geweer met die patroon ooreenstem. Die beskuldigde het heel waarskynlik die wapen skoongevee of dit op sy skouer laat rus.
Joubert het vervolgens gekyk na die maroen hemp wat die beskuldigde aangetrek het nadat hy van die bebloede en geskeurde donkerblou T-hemp ontslae geraak het. Minstens vier bloedspatsels is op hierdie hemp gevind, maar die meerderheid daarvan was ook met ’n wit stof gemeng. Een van die bloedspatsels het met Marthella se DNS ooreengestem. Daar is verder ook verskeie bloedspatsels aan die binnekant van die hemp gevind. Dit het ook met Marthella se DNS ooreengestem.
“Die beskuldigde het Marthella se bloed aan sy lyf gehad toe hy die een hemp vir die ander verruil het en daarom het van die meisie se bloed aan die binnekant van die hemp beland.”
Joubert het nou na die oorledenes se klere gekyk en bevestig dat bloed van Marthella op Christel se blou-en-wit gestreepte hemp gevind is en dat hierdie bloed met Christel se eie bloed gemeng was. Verskeie impakbloedspatsels is op die voorkant van Marthella se groen hemp gevind, wat ooreenstem met haar eie wonde en heel waarskynlik deur haar kopwonde veroorsaak is. Joubert het nog ’n nabyfoto van die gras en gruis wat op haar klere gevind is, gewys. Toetse op Christel se denimromp en Marthella se kortbroek het getoon dat slegs die draer se DNS teenwoordig was. Al die bloedspatsels wat op Deon se klere gevind is, het ook net met sy eie DNS ooreengestem.
“Ek het die bloed ondersoek wat langs die koeëlgat in die sitkamermuur asook op die blindings gevind is. Ek het eers gedink dat Marthella hier geskiet is en dat hierdie bloed aan haar behoort. Ongelukkig was daar nie genoeg DNS om te bepaal wie s’n dit was nie.”
“Het jy gekyk of jy enige selfoonontvangs op die plaas het, kaptein Joubert?” het Cloete gevra.
“Ek het.”
“Het jy wel enige ontvangs gehad?”
“Ja, ek het selfoonontvangs gehad.”
Joubert se getuienis het nou verskuif na die sigbaarheid vanuit die skuurvenster waardeur die beskuldigde, in sy weergawe van gebeure, nie kon sien dat Marthella buite aangeval word nie. Coetzee het vroeër gesê dat hierdie venster tydens die in loco-ondersoek versper was en ’n mens dus nie duidelik daardeur kon sien nie.
“Ek kon die kombuisdeur in die verte duidelik deur die venster sien,” het Joubert bevestig.
Joubert het die misdaadtoneel gerekonstrueer en gesê dat bloed wat op die kombuisdeur en toonbanke gevind is, asook die bloeddruppels wat op die vloer en langs Deon se lyk gevind is, alles met Marthella se DNS ooreenstem. Hy was van mening dat Marthella deur die huis geloop het en met haar bebloede hande teen sekere voorwerpe geleun het in ’n poging om haar balans te behou. Die bloed van die smeermerk by Deon se regterskouer was reeds gestol toe dit gesmeer is.
“Kaptein, miskien kan jy die volgende opklaar. Was Deon besig om sy baadjie aan of uit te trek toe die skietery plaasgevind het?” het Cloete gevra.
“Nee, hy het nie die baadjie aangehad nie. Sy regterarm was vol bloed en dit sou aan die baadjie afgegee het as hy dit aangehad het. Iemand het dit ook nie van sy lyk verwyder nie omdat daar geen merke was wat daarop dui nie en sy lyk is ook nie verskuif nie.”
Joubert het verder gesê dat Christel op ’n stadium op haar knieë was, aangesien bloed teen haar rug afgevloei het. Marthella het ook naby haar ma se kop gestaan toe sy probeer bel het.
“Marthella was nog op haar voete toe sy probeer bel het. Haar bloed was op die gehoorstuk, maar nie op die numeriese telefoonknoppies nie. Sy het met haar regterhand op die toonbank geleun en die gehoorstuk in haar linkerhand vasgehou.”
Hy het bevestig dat sy in ’n regop posisie was toe sy in die bors geskiet is. Dit het heel waarskynlik plaasgevind ná haar ma geskiet is en sy opgespring en in die rigting van die deur gehardloop het. Grasdeeltjies en gruis is toe op haar bebloede, nat hemp oorgedra toe sy buite was. Die bloedvloeipatroon op Marthella se gesig het ooreengestem met die feit dat sy vir ’n ruk regop gestaan het, aangesien bloed op haar hemp gedrup het. Die afwaartse bloedvloeipatroon op haar bene het ook ooreengestem met die feit dat sy nog regop gestaan het nadat sy geskiet is. Sy het nie beweeg nadat sy op die vloer langs Christel se lyk beland het nie.
Joubert het toe sy mening gegee oor die bloed wat op die beskuldigde se donkerblou T-hemp gevind is. Hy het gesê dat die beskuldigde naby en voor Marthella gestaan het toe sy aangeval is. Ek het na die beskuldigde gekyk, wat op sy beurt af na sy voete gekyk het.
“Hy was reg voor Marthella toe sy aangeval is.”
Volgens Joubert het die bloedspatsels oor ’n bepaalde tydperk en gedurende verskeie oomblikke plaasgevind. De Waal het hiervan melding gemaak tydens die aansoek om borg. Dit het aangedui dat Marthella se bloed nie op een slag aan die beskuldigde oorgedra is nie, soos in sy weergawe van gebeure waarin hy beweer dat hy haar in sy arms vasgehou het toe sy gesterf het. Joubert was van mening dat haar bloed aan die beskuldigde oorgedra is tydens verskeie oomblikke of insidente daardie aand en dat hy reg voor haar gestaan het toe sy aangeval is. Met ander woorde, hy was die een wat Marthella aangeval het en binne en buite die huis met haar geworstel het.
Nog ’n baie belangrike bevinding was dat die bloed steeds vloeibaar was en gespat het toe dit op die beskuldigde en sy klere beland het. Daar was nog geen bloedklonte nie, wat aandui dat dit nog nie gestol het nie. As die beskuldigde die huis minute later binnegekom het, sou die bloed reeds begin stol het.
“Die beskuldigde was teenwoordig toe Marthella beseer is omdat haar bloed nog in vloeistofvorm was.”
Verder was die meeste bloed wat op die maroen hemp gevind is aan die binnekant en hierdie bloed was steeds nat.
“Het jy die beskuldigde se weergawe van gebeure gelees, kaptein?” het Cloete gevra.
“Ja, ek het.”
“As jy na paragraaf 17 van sy verklaring kyk, beweer hy dat hy Marthella in ’n sittende of lêende posisie langs haar ma aangetref het en dat hy gedink het dat sy ’n telefoonoproep wou maak omdat die gehoorstuk van die mikkie af was. Wat is jou mening hieroor?”
“Ek verwerp sy weergawe omdat dit nie met die bewyse ooreenstem nie. Marthella het nie beweeg nie nadat sy beland het waar haar lyk gevind is.”
“Maar die verdediging beweer dat Marthella die seun se hemp geskeur het toe hy haar vasgehou het?”
“Dit stem ook nie met die bewyse ooreen nie en ek verwerp dit. As Marthella sy hemp uit ’n sittende posisie geskeur het, moes sy van links orent gekom het en haar bebloede regterhand sou bloedspatsels agter haar veroorsaak het.”
Joubert het ’n foto van die teëls agter Marthella se lyk gewys. Daar was geen bloed op nie. Hy het gesê dat indien sy na die beskuldigde gegryp het, hulle bloedspatsels en merke op die vloer sou gevind het. Hy het ook die bloedvloeipatroon op haar gesig aan die hof uitgewys, wat bewys dat sy eers regop was en toe in ’n lêende posisie. Daar was nie ’n derde bloedvloeipatroon op haar gesig wat sou aandui dat sy weer regop gekom het nie. Joubert het ook gesê dat daar ook ander bloedvloeipatrone sou gewees het as sy weer regop gekom het, maar geen sulke patrone is gevind nie.
Die beskuldigde het hierdie verdoemende getuienis nie baie goed hanteer nie. Hy het hard gesug en sy kop tussen sy knieë laat sak. Ek dink hy het geweet hy was nou in die moeilikheid.
“Kaptein, dink jy dat Marthella die krag sou gehad het om die beskuldigde se T-hemp te skeur?” het Cloete gevra.
“Nee, sy sou te swak gewees het.”
“Het sy haarself verdedig nadat sy die eerste keer geskiet is?”
“Ja, sy het, buite die huis voor sy weer binnetoe is waar sy gesterf het.”
Op hierdie tydstip het Kgomo weer eens verrigtinge onderbreek en Joubert gevra of hy ook probeer het om die hemp te skeur. De Waal het die hemp uit die plastieksak gehaal en dit aan die analis oorhandig.
“Kan die hemp maklik geskeur word?” het Kgomo gevra.
“Nee, ek weet nie. Ek’s nie ’n kenner op hierdie gebied nie,” het Joubert geantwoord.
“Kan jy probeer?”
Joubert het toe so gemaak en die hemp geskeur. Ek twyfel of dit opsetlik was, maar hy het om verskoning gevra en almal in die hofsaal het gelag.
“Dit het krag geverg om dit te skeur. Ek moes al my krag gebruik om dit te doen,” het Joubert erken.
Daarna het Cloete aangekondig dat hy geen verdere vrae het nie. Kgomo het aan Coetzee gesê dat hy bereid is om tot 18:00 te sit, twee uur later as gewoonlik, sodat hy met sy kruisondervraging kon begin. Maar die advokaat vir die verdediging het nie belanggestel nie en gevra dat die hof tot die volgende oggend verdaag.
Ek het vermoed dat hy eers met Steyl wou beraadslaag sodat hy tydens die kruisondervraging op sekere aspekte van Joubert se getuienis kon fokus. Ek was ’n bietjie bekommerd en het gewonder of die staat oor genoeg bewyse beskik vir ’n skuldigbevinding. Na Coetzee se kruisondervraging van Joubert sou die staat hul saak afsluit. Dit het ook onwerklik gevoel om te dink dat die saak ná al hierdie tyd binnekort iets van die verlede sou wees. Voor Joubert vort is, het ek daarin geslaag om ’n foto van hom te kry waar hy die beskuldigde se geskeurde hemp omhoog hou. Ek het dit op Twitter geplaas sodat die wêreld dit kon sien.
Daarna het ek en ’n paar van my kollegas by Panarotti’s in die Noord-Kaap-inkopiesentrum gaan pizza eet. Ons het grappies gemaak en gelag. Ek dink ons het op hierdie manier probeer om te vergeet wat ons daardie dag in die hof gehoor het. Ek het ook byna die hele aand vrae van my Twitter-volgelinge beantwoord, terwyl ek heeltyd gewonder het hoe lank Joubert se kruisondervraging sou duur.
Die volgende dag was die duiwel behoorlik los nadat twee artikels wat met die saak verband hou, verskyn het in daardie week se Huisgenoot. Daar was ’n groot foto van die beskuldigde op die voorblad bo ’n aanhaling van sy voog: “Moet niemand dan lief wees vir hom?” Die tydskrif het twee artikels bevat wat uit verskillende oogpunte geskryf is. Die een artikel was oor die enigste oorlewende van die moorde, die sewentienjarige seun, en hoe hy dit hanteer, terwyl die ander een gehandel het oor die sewentienjarige beskuldigde wat nie geïdentifiseer kon word nie. Hierdie tweede artikel het sy teleurstelling beskryf toe dit duidelik word dat die AWB-vrou gejok het toe sy beweer het dat sy die moorde aanskou het.
My kollegas was woedend omdat die seun indirek in die tydskrif as die beskuldigde geïdentifiseer is, maar ek het nie saamgestem nie. Alhoewel enigiemand maklik die nodige gevolgtrekkings kon maak, het die tydskrif in werklikheid geen reëls oortree nie. Maar dit het nie iemand verhinder om ’n klag by die Persombudsman in te dien nie. Ek het later gehoor dat die personeel by Volksblad ontevrede was met Huisgenoot-joernalis Herman Scholtz se artikels en dat die meeste van hulle daarna hul Facebookvriendskap met hom beëindig het. Dit het voorgekom asof Volksblad uiters territoriaal is. Dit het my laat terugdink aan toe ek aangekondig het dat ek besig is om hierdie boek te skryf en hulle op ’n soortgelyke manier gereageer het. Elkeen het seker maar sy eie voorkeure.
Terug in die hof het Coetzee sy kruisondervraging begin deur te fokus op die donkerblou hemp wat die beskuldigde die aand van die moorde aangehad het. Steyl het langs De Jager en Heckroodt gesit.
“Ons wil na jou bloedspatselgetuienis kyk,” het Coetzee gesê.
“Reg,” het Joubert gesê.
“Jy het tien impakspatsels getel. Is dit korrek?”
“Ja.”
Kon slegs geweld gebruik word om hierdie impakbloedspatsels te veroorsaak, wou Coetzee weet. Ja, het Joubert geantwoord, omdat die bloed vanaf die bron deur die lug moes trek om op die hemp te beland.
Coetzee het die analis toe gevra waarom bloed opbreek. Joubert het verskeie redes gegee.
“Maar nie net as gevolg van trauma nie, korrek? Dit kan byvoorbeeld veroorsaak word deur te hoes?” het Coetzee gevra.
“Ja, dit kan.”
Joubert het toegegee dat dit moeilik was om die oorsaak van die impakbloedspatsels te bepaal en dat dit weens die oppervlak van die T-hemp ook moeilik was om die hoek daarvan te bepaal. Hy het egter bevestig dat dit van die voorkant af was.
“Is jy vertroud met die International Journal of Legal Medicine?” het die advokaat gevra.
“Ja, ek is.”
Cloete het in sy stoel omgedraai en na Coetzee gestaar, maar dié was salig onbewus en het Joubert gevra of dit belangrik is om die oorsaak en bron van bloedspatsels te identifiseer. Joubert het bevestigend geantwoord. Coetzee het toe uit die joernaal voorgelees en gesê dat dit belangrik is om te onderskei tussen die oorsaak en effek van bloedspatsels. Kgomo het op ’n stadium tussenbeide getree en Coetzee uitgetrap omdat hy nie korrek voorgelees het nie en hom daarna reggehelp.
Joubert het gesê dat hy met die teks saamstem, maar dat ’n mens die moorde moet sien binne die konteks van die bewyse wat versamel is by die nadoodse ondersoeke, ensovoorts.
“As jy na dokter Fouché se verslag oor die nadoodse ondersoek kyk, sal jy sien dat geen bloed in Marthella se keel gevind is nie,” het Joubert gesê.
“Nee, dit was nie haar getuienis nie. Sy het dit nooit gesê nie,” het Coetzee aangevoer.
Cloete het egter beswaar aangeteken. Hy het daarop gewys dat Fouché nie van enige bloed in Marthella se lugpyp melding gemaak het nie, wat beteken dat haar lugweë skoon was en dat sy nie bloed sou hoes soos Coetzee sy bes probeer het om te bewys nie. Cloete het gevra dat ’n foto van Marthella se gesig vertoon word, wat sou bewys dat daar geen bloed in haar mond was nie. Coetzee het egter daarop gewys dat in een van die foto’s bloed op haar lippe gesien kan word en dat dit dus ook in haar mond moes gewees het.
“Kaptein, jy was gister gretig om oor die bloed te getuig, so hoekom verduidelik jy nie hoe hierdie bloed op die meisie se lippe beland het nie,” het Coetzee dreigend gevra.
Dit het nie gelyk of Joubert enigsins van stryk gebring was nie. Hy het aan die hof verduidelik dat bloed heel waarskynlik van Marthella se kopwonde en/of die skietwond in haar gesig op haar lippe beland het. Hy het aan die hand gedoen dat ’n koeël deur die vlees bo haar mond, naby haar neus, gedring het en dat bloed só in haar mond kon gevloei het. Coetzee wou weet of daar enige bloed in haar mond was voor sy op die vloer beland het en Joubert het gesê dat dit moontlik is.
“Kon die impakbloedspatsels veroorsaak word deur te hoes, asem te haal of te praat?” het Coetzee gevra.
Die analis het ’n ruk lank daaroor nagedink voordat hy versigtig “Ja” geantwoord het.
Coetzee wou toe weet of dit moontlik is dat bloed op die beskuldigde se hemp oorgedra kon word en dan ’n spieëlbeeld van bloedspatsels kon vorm as dit opgevou en/of saamgebondel is. Joubert het dit bevestig.
Die advokaat het toe ’n foto van die blou hemp vertoon waar dit in ’n bondel op die beskuldigde se kamervloer lê. Hy het Joubert gevra om op ’n wit merk op die foto te fokus en het toe ’n ander foto vertoon voor hy gevra het of die hemp verskuif is. Joubert het toegegee dat dit verskuif kon gewees het.
“Sal jy ander resultate verkry as die hemp inderdaad verskuif is?” het Coetzee gevra.
“Nee.”
Joubert het verduidelik dat baie bloed benodig word om ’n spieëlbeeld te vorm, maar hy het toegegee dat bloed van die drukwerk kon afsmeer toe daar van die hemp ontslae geraak is.
Coetzee het verskeie verdere vrae gevra oor die bloed wat op hierdie T-hemp gevind is en hoe hierdie bewysstuk dalk gekontamineer is toe dit moontlik verskuif is. Kgomo het nog ’n keer tussenbeide getree en Joubert gevra of die bloed nie al droog sou gewees het teen die tyd dat die polisie op die toneel aangekom het nie. Dit was ’n baie belangrike vraag. Joubert het gesê dat die bloed wel teen daardie tyd al droog sou gewees het, wat beteken dat dit nie gesmeer of oorgedra sou kon word toe hulle die hemp hanteer het nie.
“Kan jy vir seker sê dat die bloed droog was?” het Coetzee gevra.
“Nee,” het Joubert toegegee.
Coetzee het toe verskeie vrae gevra oor die bloed wat op die .357-rewolwer gevind is. Joubert het gesê dat die bloed wat in die loop van die wapen gevind is, eers op die vuurwapen beland het nadat dit vir die laaste keer afgevuur is. Hy het egter erken dat hy nie gemeet het hoe diep die bloed binne die loop gevloei het nie.
“Stem die bloed wat in die loop van die rewolwer gevind is ooreen met ’n bloedterugslag-effek?” het Coetzee gevra.
“Ja.”
“Hoe vind dit plaas?”
“Wanneer die loop kontak maak met ’n wond en bloed in die loop invloei.”
“Hoe ver weg moet jy wees?”
“Teenaan die vel.”
“Kan jy die bloedpatroon in die loop identifiseer?”
“Ja, maar ek sal eers die wond moet sien.”
Joubert het aan die hof verduidelik dat die wonde wat die bloedterugslag-effek veroorsaak het, nie deur koeëls gemaak is nie en dus bewys dat dit gebeur het toe Marthella met die wapen aangeval is. Coetzee het daarop gewys dat die rand van die loop nie enige bloed ophet nie en Joubert het verduidelik dat dit heel waarskynlik skoongevee is.
Die advokaat het oor die toestand van die wapens uitgevra. Joubert het gesê dat hulle in ’n goeie toestand was, behalwe vir die bloed. Coetzee wou toe verder weet oor die epiteelselle wat op die wapens gevind is. Joubert het verduidelik dat epiteelselle agtergelaat word wanneer iemand ’n geweer afvuur of hanteer.
“Dis nie die beskuldigde se epiteelselle wat op die wapens gevind is nie?” het Coetzee gevra.
“Nee, slegs Deon en Marthella s’n,” het Joubert toegegee.
Dit was egter ’n betwisbare punt. Die beskuldigde het erken dat hy die wapens opgetel en aan die polisie oorhandig het. Die vraag was eerder hoekom sy DNS nie daarop aangetref is nie.
Coetzee het vervolgens op die maroen hemp begin fokus en gevra of die bloed aan die binnekant ooreenstem met ’n oordragpatroon. Joubert het bevestigend geantwoord en gesê dat die oordrag waarskynlik plaasgevind het toe die beskuldigde die hemp óf in sy kamer aangetrek het óf by die polisiestasie uitgetrek het, aangesien hy bloed op sy hande kon gehad het. Coetzee wou weet of die oordragpatroon aan die binnekant van die hemp deur ’n liggaamsdeel veroorsaak is, maar Joubert het weer eens nee gesê en dat dit was as gevolg van ’n voorwerp. Die verdediging het daarop gewys dat Joubert vroeër toegegee het dat die patroon deur ’n liggaamsdeel veroorsaak kon gewees het, maar Cloete het beswaar aangeteken en gesê dat Joubert dit nooit gesê het nie.
“Jy vind dit vreemd dat geen gras of stof op die wapens gevind is nie? Het jy verwag dat daar sou wees?” het Coetzee gevra.
“Ja.”
“Maar jy beweer dat Marthella buite was toe sy op die gras aangeval is, maar tog is geen gruis of gras op haar voete gevind nie?”
“Dis waar. Ons het slegs bloed aan haar voete gevind.”
Joubert het egter verder verduidelik dat Marthella eers in bloed getrap het toe sy die huis weer binnegegaan het, terwyl haar hemp reeds deurdrenk was van bloed toe sy buitetoe is. Die gras en gruis het aan die klewerige, nat bloed gekleef. Verder, het hy gesê, is daar gewoonlik olie op vuurwapens, soos die rewolwer en geweer, wat die wapens teen roes beskerm. Gras en stof sou hieraan vasgesit het. Coetzee het aan die hand gedoen dat dit nie so vreemd is dat dit nie gebeur het nie en Joubert het dit as korrek bevestig.
“As die Jeep-baadjie as bewysstuk ingesamel en ondersoek is pleks van dit te vernietig, kon dit jou van enige leidrade voorsien het?” het Coetzee gevra.
“Miskien.”
Die advokaat het toe ’n foto vertoon van die area waar die lyke aangetref is, maar waarop die lyke nie verskyn nie.
“Sien jy enige bloedsmeermerke waar Marthella se lyk gevind is?” het Coetzee gevra.
“Ek kan nie hierop kommentaar lewer nie, want die lyke is verskuif toe dit verwyder is en die toneel is dus versteur.”
Coetzee het gewys na ’n smeermerk naby Marthella se linkerelmboog, maar Joubert het slegs toegegee dat sy heel waarskynlik haar arm beweeg het. Toe hy uitgevra is oor bloed wat gevloei het nadat Deon se lyk verskuif is en hoekom dit nie droog geword het nie, het Joubert bevestig dat die bloed van binne die wond gekom het. Coetzee het egter sy openingsargument oor die impakspatsels herhaal. Hy het Joubert gevra om saam te stem dat trauma nie die enigste oorsaak kon wees van die verskeie gebeure wat die impakspatsels op Marthella se hemp gemaak het nie en hom weer gevra of praat, hoes of asemhaling ook sommige bloedspatsels kon veroorsaak. Joubert het toegegee dat dit moontlik is.
“Jy bedoel dat dit waarskynlik so is?” het Coetzee gevra.
“Nee, dis moontlik. Dis my opinie dat die impakspatsels wat op die beskuldigde se hemp gevind is moontlik veroorsaak is deur te praat of te hoes, maar dat dit nie waarskynlik so is nie volgens die bewyse.”
Cloete het weer eens beswaar aangeteken en aangevoer dat die staat nooit gesê het dat dit nie ’n moontlikheid is nie.
Coetzee het toe gesê dat die beskuldigde Joubert se bevindings ontken en dat geen voorwerp behalwe sy liggaam die bloedpatroon met lineêre rande op sy klere veroorsaak het nie. Op hierdie tydstip het Kgomo die verrigtinge onderbreek en ’n verdaging versoek. ’n Hewige donderstorm het oor Kimberley losgebars en hy, asook die res van ons, kon nie ’n woord hoor nie!
Ná die verdaging het Joubert aan die hof gesê dat hy glad nie saamstem met die beskuldigde se bewering oor die bloedpatroon met lineêre rande op sy klere nie. Coetzee het toe aangekondig dat hy klaar is met Joubert se kruisondervraging.
Cloete het egter sy getuie weer kruisondervra en Joubert gevra waar die meeste van die bloedspatsels op die donkerblou T-hemp gevind is. Die analis het gesê aan die linkerkant, regterkant en in die middel, wat aandui dat die bron van bloed voor die hemp moes gewees het omdat die bloedspatsels andersins slegs aan een kant aangetref sou word.
Cloete het toe ’n foto van Marthella se bebloede gesig vertoon en daarop gewys dat haar tande wit was. Dit het beteken dat sy nie bloed in haar mond gehad het nie. Vervolgens is ons foto’s gewys waarop ’n mens duidelik die bloedpatrone met lineêre rande op die beskuldigde se hemp kon sien. Joubert het verskillende patrone uitgewys wat duidelik nie deur enige liggaamsdeel veroorsaak is nie.
Kgomo het verrigtinge onderbreek en die getuie gevra om verskeie aspekte van sy getuienis te verduidelik: “Glo u die oorledenes, Deon en Christel, was onbewus van ’n dreigende aanval?”
“Ja, hulle is heeltemal onkant betrap,” het Joubert geantwoord. “Christel was weggedraai van haar aanvaller toe sy geskiet is. Waar sy voor die rekenaar gesit het, het sy geen bewegings gemaak behalwe om neer te sak en te sterf nie. Dieselfde geld vir Deon.”
Joubert het verder verduidelik dat ’n rewolwer ’n harde geluid maak wanneer dit afgevuur word en dat die Steenkamps heel waarskynlik vir ’n oomblik verward was nadat hulle die eerste skoot gehoor het. Hy het gesê die feit dat hulle met hul eie wapens uit hul eie kluis geskiet is, is baie betekenisvol, aangesien hulle nie kon geweet het dat gevaar binne hul eie geledere skuil nie. Joubert het verduidelik dat die kluis in die hoofslaapkamer was wat direk in die gang uitloop. Die gang loop weer uit in die oopplansitkamer en kombuis, waar die slagoffers gesit het. Volgens Joubert is Christel eerste geskiet, daarna Marthella en laastens Deon, wat heel waarskynlik probeer opstaan het terwyl hy na die aanvaller gedraai was.
Ek het die foto’s gesien en die misdaadtoneel besoek. Ek het afgelei dat Deon sy aanvaller bestorm het, maar neergeval het en ’n paar meter ver oor die vloer verby die aanvaller gegly het. Ek het gewonder wat sou gebeur het as Deon daarin kon slaag om sy aanvaller by te kom in daardie paar oomblikke voor hy al sy krag verloor het. Miskien kon dit Marthella se lewe gered het …
“Weet jy of Deon en Christel dadelik gesterf het?” het Kgomo gevra.
“Nee, maar hulle sou nie in staat gewees het om die huis te verlaat nadat hulle geskiet is nie.”
Joubert het verder verduidelik dat hulle eers gesterf het nadat hulle later met die geweer tereggestel is. Cloete het Joubert gevra of vuurwapens gewoonlik tydens ’n plaasaanval of miskien ’n sluipmoord agtergelaat word. Kgomo het grappenderwys gesê dat slegs ’n baie onervare sluipmoordenaar sonder sy eie wapens by sy slagoffer se huis sou opdaag. Joubert het geantwoord dat wapens waardevolle items in plaasaanvalle is en dat misdadigers dit nooit sou agterlaat nie.
Kgomo het tevrede gelyk en Joubert as getuie verskoon.
Voor die staat hul saak kon afsluit, moes die regter sy waarnemings tydens die in loco-ondersoek maande tevore aan die hof voorlees. Toe Kgomo klaar is, het Cloete opgestaan en gesê dat hy die staat se saak wil afsluit. Hy het egter eers die hof ingelig dat hy al sy getuies wat nie getuig het nie aan die verdediging beskikbaar stel. Dié getuies het Deon se neef, Andries Steenkamp, en sy vrou, Marina, ingesluit. Hy het selfs Cornelia de Wet, wat na bewering effens getik is en beweer het dat ’n AWB-moordbende die Steenkamps vermoor het, vir Coetzee aangebied. Dit het ’n paar onderdrukte lagbuie uitgelok.
“Die staat sluit sy saak teen die beskuldigde,” het Cloete aangekondig.
Ek kon sien dat Cloete, De Waal en verskeie ander maar alte verlig is. Dit was ’n moeilike saak en hulle kon nou terugsit en die verdediging se vertoning geniet. Coetzee was nog nie gereed om sy saak te open nie en daarom het die hof tot Maandag verdaag.
Ek het Cloete en De Waal albei ’n handdruk gegee. Die staatsaanklaer kon nou ’n ruskans geniet en het beplan om sy Saterdag op die gholfbaan deur te bring. De Waal het laat deurskemer dat hy uitsien na tyd saam met sy gesin, veral met sy vrou wat nog besig was om te herstel van haar siekbed.
Ek het toe vir Steyl voorgekeer en eenkant met hom gesels. Ek was verbaas om te hoor dat hy op pad terug Durban toe was en nie vir die verdediging sou getuig nie.
“Ek stem saam met alles wat Joubert gesê het en kon nie met sy bevindings foutvind nie,” het Steyl gesê.
As konsultant was hy nooit van voorneme om te getuig nie. Ek is seker dat hy nogtans goed betaal is, aangesien sy fooi, saam met dié van ’n privaat speurder, net meer as R100 000 beloop het. Maar as Steyl nie dan getuig nie, wie sou? Die enigste persoon wat die beskuldigde van skuld kon onthef, was hy self, veral ná Joubert se verdoemende getuienis. ’n Baie lang naweek was ons voorland terwyl ons gewag het om uit te vind presies wat Coetzee sou doen wanneer die verhoor hervat.