Gerugte het die rondte gedoen dat die verdediging aansoek sou doen dat die saak afgewys word op gronde waarvan net hulle kennis gedra het. Op hierdie stadium het niemand verwag dat die beskuldigde sou getuig nie en aangesien ek nie enige vreemde gesigte buite die hofsaal gesien het wat potensiële getuies vir die verdediging kon wees nie, het ek getwyfel dat hulle enigiemand anders sou roep.
Die vorige Vrydag, kort ná die hof verdaag het, was ek die getuie van ’n hewige argument tussen Stoffel de Jager en Andries Steenkamp. De Jager het sy bes probeer om Andries te oorreed om vir die verdediging te getuig. Andries het egter botweg geweier en gesê dat Cloete hom in die getuiebank uitmekaar sou skeur. De Jager het hom probeer gerusstel deur te sê dat alles goed sou verloop solank hy net die waarheid praat. Op die ou end het die prokureur Coetzee, Erasmus en Heckroodt se hulp ingeroep om te probeer om Andries te oorreed om te getuig. Hulle het hom in een van die vertrekke langsaan ingeboender en die deur toegemaak.
Andries het nooit getuig nie. Ek is seker hy het besef dat wat hy ook al in die hof sou kwytraak meer kwaad as goed sou doen en dat Cloete inderdaad sy geloofwaardigheid en karakter aan flarde sou skeur.
Toe die hof op Maandag 18 November 2013 hervat, het ek opgemerk dat baie van die seun se ondersteuners, onder andere ook Andries en Marina, teenwoordig was. Toe ek sien hoe Sharon Erasmus sy hare ter bemoediging deurmekaar krap, het ek eenvoudig geweet dat hy gaan getuig. Dit was die oomblik waarvoor ek gewag het en waarop ek gehoop het.
Coetzee het stadig opgestaan, half skuins gedraai en met sy linkerhand gewys na waar sy kliënt sit. Jy kon ’n speld in die hof hoor val.
“Ek roep die beskuldigde om te getuig,” het hy aangekondig.
Die geluid van ’n naarstige getik op skootrekenaars en selfone soos al die joernaliste, ek inkluis, dié onverwagse nuus aan hul volgelinge twiet, het skielik opgeklink. Ek het oogkontak met Cloete en De Waal gemaak en albei het net veelseggend vir my geglimlag. Ek was eintlik in die wolke; ek moes eenvoudig net hoor wat die seun vir homself te sê het.
Toe die beskuldigde sy plek in die getuiebank inneem, het regter Kgomo hom gevra of hy presies verstaan wat dit beteken om die voorgeskrewe eed af te lê. Hy het ja gesê en toe sy volle naam gegee voor hy die eed gesweer het om die waarheid en niks behalwe die waarheid te praat nie: “So help my God”. Hy het langer geword sedert ek hom daardie eerste keer by die Steenkamps se gedenkdiens gesien het en het deftig gelyk in sy blou-en-wit gestreepte hemp en denims.
Die seun, wat op sy gemak gelyk het, het aan die hof gesê dat hy op 15 Augustus 1996 gebore is en sewentien jaar oud is.
“Op 6 April 2012 was jy vyftien?” het Coetzee gevra.
“Ja en in graad 10 in Grey-kollege op skool.”
“En in die laerskool?”
“Op Douglas.”
“Het jy die Steenkamp-gesin geken?”
“Ja, ek het.”
“Hoe oud was Marthel?”
Kgomo het verrigtinge onderbreek en Coetzee gevra of hy “Marthella” bedoel. Coetzee het sowaar na Erasmus vir bevestiging geloer voor hy voortgegaan het.
“Verskoon my, hoe oud was Marthella?”
“Sy was veertien.”
“En waar was sy op skool?”
“Sy was in Hoër Meisieskool Oranje en in Laerskool Douglas.”
Coetzee het hom gevra hoe dikwels hy Marthella gesien het en hom uitgevra oor hul onderskeie koshuise waar hulle in die week tuisgegaan het. Die seun het geantwoord dat hulle mekaar gesien het wanneer hulle vir naweke en vakansies Naauwhoek toe is, of wanneer hulle by vriende in Bloemfontein gaan kuier het. Hy het met selfvertroue gepraat en ’n mens kon hoor dat hy goed opgevoed is. Ek moet toegee dat hy meer soos ’n man as ’n tienerseun gelyk en geklink het. Hy het aan die hof gesê dat hulle tydens die Paasvakansie op Naauwhoek was, maar kon nie presies onthou wanneer hulle in Griekwastad aangekom het nie.
“Wat het jy daardie Donderdag, die dag voor die moorde, gedoen?” het Coetzee gevra.
“Ek het saam met Deon en die plaaswerkers in die veld op Naauwhoek gewerk. Christel en Marthella was in die huis besig.”
“En op Goeie Vrydag?”
“Ons is almal daardie oggend kerk toe. Ek kan nie onthou hoe laat ons gery het nie.”
“Wie het almal daardie oggend saam met jou kerk toe gegaan?”
“Dit was Marthella, Deon, Christel en ek. Ek kan nie onthou dat enige van die plaaswerkers saam met ons dorp toe gery het nie.”
Die seun het gesê dat die plaaswerkers gereeld saamgery het dorp toe. Ná die kerkdiens het hy en die Steenkamps iemand in die dorp gaan besoek om iets te gaan haal. Hy kon nie onthou of hulle uit die motor geklim het toe hulle by die vrou se huis was nie.
“Wie is sy?” het Coetzee gevra.
“Elsa Steenkamp. Sy’s Bulletjie [Andries] se ma.”
“Was Andries daar?”
“Ja, saam met sy kinders.”
“Het julle daarna nog êrens anders heen gegaan?”
“Nee.”
“Weet jy hoe laat julle weer terug op Naauwhoek was?”
“Nee, ek kan nie onthou nie.”
Hulle het kort nadat hulle weer terug op die plaas was middagete geëet en toe het hy meerkatte met Deon se .22-geweer gaan jag, terwyl die ander televisie gekyk het. Volgens die beskuldigde het hy die kluis oopgesluit, die geweer uitgehaal en dit weer toegesluit. Daarna het hy die kluis se sleutels op ’n spieëltafel in die hoofslaapkamer gelos. Hy het gesê dat hy die geweer later weer in die kluis teruggesit het. Toe Coetzee hom oor die kluis se sleutels uitvra, het hy gesê dat dit aan ’n groot bos sleutels was wat aan Deon en Christel behoort het. Ander sleutels aan hierdie bos het die huis se sleutels, die plaashek se sleutels en die motorhuis- en stoorkamersleutels ingesluit. Die gesin sou die sleutels saam dorp toe en daarna kerk toe geneem het. Hy het gesê dat hy enige tyd toegang tot die kluis gehad het.
Coetzee het toe oor ’n tweede, baie kleiner kluis uitgevra. Die seun het gesê dat die kleiner kluis bo-op die groter kluis gestaan het en waardevolle items soos Christel se juweliersware bevat het. Hierdie kluis se sleutel was ook aan die groot bos sleutels. Die groter kluis het die gesin se versameling vuurwapens, ammunisie, messe en somtyds geld bevat.
“Hoe is hierdie geld in die kluis gebêre?” het Coetzee gevra.
“Ons het gewoonlik die geld in ’n banksak weggesteek en in die groot kluis gesit waar ons spasie daarvoor kon kry.”
“Het jy gesien of daar enige geld in die sak was?”
“Ja, toe ek die geweer gaan haal het, was die geldsak vol.”
“Waar het jy gaan meerkatte jag?”
“Ek het suid van die skuur gaan jag, maar niks raakgeskiet nie.”
“Kan jy onthou hoeveel skote jy afgevuur het?”
“Nee, ek kan nie onthou nie.”
Coetzee het gevra hoeveel patrone in die geweer was toe hy dit uit die kluis gehaal het, maar hy kon nie onthou nie. Die gesin se vuurwapens is egter gewoonlik gelaai gehou, het hy gesê, maar te alle tye met die veiligheidsknip aan.
Coetzee het sy kliënt toe gevra of sy bewegings op die plaas ingeperk was. Nee, het hy geantwoord. Hy het vry rondbeweeg op die eiendom en het gedoen wat hy wou en nie nodig gehad om vir enigiemand te sê waarheen hy gaan nie.
Nadat hy die geweer in die kluis teruggesit en die sleutels op die spieëltafel gelos het, het hy en Marthella gaan perdry. Hy kon nie onthou wie se idee dit was nie. Coetzee het toe ’n bietjie teruggegaan en die seun uitgevra oor hoe hulle tydens middagete om die tafel gesit het. Deon het aan die bopunt van die ontbythoekie gesit met sy rug na die kombuisdeur, het hy gesê, met Marthella aan sy linkerkant, gevolg deur Christel en dan hy. Al drie het op die houtkroegstoele met hul rûe na die televisiekamer gesit.
Toe die seun uitgevra is oor sy en Marthella se bedrewenheid in gimkana/tentpensteek, het hy gesê dat hulle albei uitnemende ruiters was en provinsiale en nasionale kleure verwerf het. Toe hy gevra is om die sport te beskryf, het die seun skertsend gesê dat hy dit nie juis kan beskryf nie, behalwe om te sê dat ’n mens perdry terwyl jy probeer om met ’n lans na ’n teiken te steek. Hy het gesê dat die Steenkamps hul eie gimkanabaan net suid van die skuur gehad het waar hulle gewoonlik Saterdae geoefen het. Hy het toegegee dat ’n mens oor goeie perdryvernuf moet beskik om aan die sport deel te neem.
“Waarvan het jy die meeste gehou? Om te oefen of in die veld te gaan ry?” het Coetzee gevra.
“Ek en Marthella het albei verkies om vir plesier perd te ry.”
Op die dag van die moorde het hy en Marthella hul tentpensteekperde geneem, haar perd Thirty-Three en syne ’n wit perd, en agter wat hy “’n berg” genoem het op ’n ander deel van Naauwhoek aan die ander kant van die Niekerkshooppad gaan ry. Om daar uit te kom moes hulle deur die hoofhek ry, links draai op die pad en dan regs op ’n ander eiendom. Op daardie dag, 6 April 2012, het nóg hy nóg Deon enige werk op die plaas gedoen. Hy kon nie onthou hoe lank hulle perdgery het of hoe laat dit was toe hulle terug is plaas toe nie. Sy perd was nie te vuil nie en hulle het dus net Marthella se perd gewas voor hy die perde na hul kamp teruggeneem het (die perde is nie op stal gehou nie). Hy het toe weer na die huis teruggekeer en teen daardie tyd was Marthella reeds daar.
Christel het op haar rekenaar gewerk en Deon en Marthella het op die banke gesit en televisie kyk, maar die seun kon nie onthou wie waar gesit het nie. Op ’n stadium het Christel hom gevra om ’n rekenaarprogram in die kluis te gaan toesluit, maar hy kon nie onthou of hy die kluis gesluit het nadat hy die rekenaarskyf weggesit het nie.
“Wat het volgende gebeur?” het Coetzee gevra.
“Ons is almal deur die voordeur buitentoe, dink ek, maar ek kan nie onthou of ek en Marthella ook op stoele of op die gras gesit het nie.”
“Wat het julle buite gedoen?”
Hy het gesê die gesin het gewoonlik teen skemer daar gaan sit om koedoes by ’n drinkgat naby die huis dop te hou. Hy kon nie onthou of hulle daardie aand enige koedoes gesien het en of enigiemand spesifiek uit glase gedrink het terwyl hulle buite was nie.
“Waaroor het julle gesels?”
“Ek kan nie ons gesprek onthou nie.”
Almal het toe weer in die huis ingegaan en voortgegaan waarmee hulle besig was voor hulle buitetoe is. Christel was voor haar rekenaar. Deon en Marthella het op ’n bank gesit, terwyl die seun op ’n ander bank gelê het. Hulle het ’n episode van die komediereeks Vetkoekpaleis gekyk op die Afrikaanse DStv-kanaal kykNET.
Die beskuldigde het gesê dat hy uiteindelik opgestaan het en by die agterdeur uit is. Hy het na die skuur toe geloop en op pad soontoe probeer om sy beste vriend te bel, maar daar was nie antwoord nie.
“Hoekom het jy skuur toe gegaan?”
Hy het aan die hof gesê dat hy van plan was om die skietlamp se draad reg te maak. Die skuurdeure was effens oop en hy het deurgeglip. ’n Lig aan die linkerkant was reeds aan.
“Toe ek by ’n kas kom, het ek ’n geweerskoot gehoor,” het hy gesê. “Daar was nog skote, wat ek besef het van binne die huis kom. Ek het toe agter ’n werkbank gaan wegkruip.”
“Hoeveel skote het jy gehoor?”
“Ek het ses skote vanuit my wegkruipplek gehoor.”
“Hoe lank het jy daar gesit?”
“Ek weet nie, maar dit het lank gevoel.”
Hy het nie opgestaan om deur die venster te loer wat direk bo hom op die kombuisdeur uitkyk nie. Van waar hy gesit het, het die skote baie hard geklink en dit het vinnig op mekaar gevolg.
“Ek is eers uit die skuur uit en in die huis in nadat dit stil geword het.”
Coetzee het hom toe gevra wat hy gedink het toe hy die eerste skoot hoor. Die seun het gesê dat hy aanvanklik gedink het dat iemand ’n geweer per ongeluk afgevuur het, maar nadat hy ander skote gehoor het, het hy geweet dat daar iets fout is. Hy het bloed op pad na die kombuisdeur gesien en is toe die huis in.
Coetzee het hom onderbreek en uitgevra oor die koeël wat in die skuur se muur vasgeslaan het. Die seun het gesê dat hy dit nie gehoor het nie.
Hy kon ook nie onthou dat hy enige bloed op die vloer gesien het toe hy die huis in is nie. Die eerste ding wat hy gesien het, was Deon se voete toe hy deur die kombuis na die sitkamer geloop het. Hy het toe vir Christel en Marthella aan die ander kant van die ontbythoekie in die televisiekamer gekry. Christel en Deon het albei op hul mae gelê, maar Marthella het in ’n halfsittende posisie op haar regterheup geleun. Sy was vol bloed, maar het probeer opstaan toe sy hom sien. Hy het haar gehelp en sy het vir hom gesê dat sy besig is om dood te gaan en baie lief is vir hom. Marthella het toe geval en in die proses sy hemp geskeur. Omdat hy vol bloed was, het hy na sy slaapkamer gegaan, die geskeurde hemp uitgetrek en ’n ander een aangetrek. Sy arms en bene was ook vol bloed, maar hy kon nie onthou hoe dit vol bloed gekom het nie.
Ek was verbaas oor hoe normaal die tiener geklink het terwyl hy beskryf hoe mense, wat hy kwansuis liefgehad en sy hele lewe lank geken het, voor hom gesterf het. Daar was geen tekens van emosie of huiwering nie; hy het bloot op ’n geselstrant voortgegaan.
Die seun het verder gesê dat hy vinnig ander klere aangetrek het, waarna hy uit die huis terug skuur toe is. Toe hy by een van die bakkies kom, het hy egter nog skote binne die huis gehoor, maar dié het baie sagter geklink. Hy het weer in sy wegkruipplek gaan sit. Hy kon nie onthou hoe lank hy die tweede keer weggekruip het nie.
“Jy het jou selfoon by jou gehad. Waarom het jy nie gebel vir hulp nie?” het Coetzee gevra.
“Ek het nooit daaraan gedink om te bel nie,” het hy erken.
Toe hy uiteindelik uit die skuur is, het hy Deon se wit dubbelkajuitbakkie met die ligte aan bestuur. Toe hy deur die werf se hek ry, het hy die vuurwapens op die grond sien lê. Hy het gestop om dit op te tel, maar hy het eers gekyk of die wapens gelaai is en toe seker gemaak dat dit veilig gemaak is voor hy dit op die agterste sitplek gelos het. Hy het nie onthou dat daar enige bloed op die wapens was nie. Hy het die langer roete na die Niekerkshooppad gekies omdat dit minder ruig is en daar mense naby was. Hy het gestop om die plaaswerkers te waarsku dat hulle moet vlug voor hy weggejaag het. Hy kon nie onthou teen watter spoed hy gery het nie.
Hy het reguit na die Griekwastad-polisiestasie gery waar hy later ondervra is, maar hy kon nie onthou wat hy gevra is nie. Hy het onthou dat hy aan die polisiebeamptes gesê het dat die Steenkamps almal dood is. Al waaraan hy kon dink, was om sy bebloede hande te was. Hy het dit toe gedoen en sy hemp aan die agterkant van die polisiestasie uitgetrek.
Henriëtte Truter was die eerste persoon wat by die polisiestasie opgedaag het, maar hy het haar op daardie stadium nie geken nie. Sy het vir hom suikerwater aangebied, terwyl die polisiebeamptes die twee vuurwapens wat hy vroeër aan hulle oorhandig het, teruggevat het na die bakkie toe. Truter het hom toe na Proviand-restaurant vergesel waar baie van die plaaslike inwoners later bymekaar gekom het, onder andere dominee Piet Otto wat saam met hom gebid het.
Coetzee het vervolgens sy kliënt uitgevra oor sy ontmoeting met De Waal. Die seun het gesê dat De Waal hom voorgestel het en hom toe ondervra het oor wat gebeur het. Die ondersoekbeampte het ook beveel dat hy geprosesseer word en dat foto’s van hom geneem word.
Hy het daardie aand by Andries oorgebly en die volgende dag na die polisiestasie teruggekeer om sy formele verklaring af te lê. Alhoewel hy op De Waal se versoek verskeie tye in sy verklaring genoem het, was dit slegs skattings.
“Hoeveel honde het die Steenkamps gehad en was hulle so waaksaam soos die getuies beweer het?” het Coetzee gevra.
“Daar was vier honde, maar hulle het vir enigiets geblaf en daarom het niemand aandag gegee nie.”
Coetzee het hom toe gevra of die agterdeur gesluit was toe die gesin op die gras voor die huis gesit het, maar hy kon nie onthou nie.
Toe hy gevra is oor die video waar hy te perd na ’n teiken skiet, het die seun gesê dat hulle flieks gekyk het waarin mense te perd skiet en dat hulle dit wou namaak. Hy het toegegee dat Marthella ook ’n baie goeie skut was.
Tot my verbasing het Coetzee hiermee afgesluit en Cloete het voortgegaan met die kruisondervraging.
Cloete het effens neerbuigend voorgekom terwyl hy ’n artikel van die Wet op Kindergeregtigheid voorgelees het, wat lui dat die minderjarige beskuldigde van sy regte in kennis gestel moet word en elke aspek waaroor hy uitgevra word, duidelik moet verstaan. Cloete het die beskuldigde gevra om hom te sê indien hy iets tydens die kruisondervraging nie verstaan nie. Die seun het arrogant en uitdagend gelyk toe die staatsaanklaer hom vra of hy die aanklagte teen hom verstaan.
Daar is ’n swart lyn wat die waarheid verteenwoordig en op die waarskynlikhede dui, het Cloete gesê. Dit was nie sy bedoeling om die seun te probeer uitvang of hom in ’n leuen te betrap nie, maar eerder om die waarskynlikhede in sy weergawe van gebeure te toets om te sien of hy op die swart lyn bly of daarvan afdwaal. Hierop het die seun ontsteld gereageer en op sy tande gebyt.
“Hoekom het jy die vuurwapens opgetel?” het Cloete gevra.
“Ek wou dit nie daar los nie.”
“Maar hoekom het jy daar gestop en dit daar opgetel?”
“Ek het dit opgetel om myself te bewapen sodat enige aanvallers kon sien ek is nie ongewapen nie.”
Die seun het sy arms uitdagend gekruis terwyl Cloete doodkalm voortgegaan het. Hoekom, wou Cloete weet, het hy die vuurwapens op die agterste sitplek gesit as hy enige moontlike aanvallers wou afskrik? Hy het dit gedoen omdat die vuurwapens nie gelaai was nie en geen patrone meer gehad het nie, het die beskuldigde geantwoord. Hy kon die leë wapens gebruik het om die aanvallers af te skrik, het die staatsaanklaer teruggekap. Die seun se enigste antwoord was dat die wapens vir hom nutteloos was.
“Hoekom het jy jou dan nie by die huis bewapen nie?” het Cloete gevra.
Alhoewel hy geweet het dat hy in gevaar verkeer toe hy die huis binnegaan, het die seun gesê dat hy nie kan verduidelik waarom hy hom nie bewapen het nie. Toe hy gevra is waar hy gedink het die aanvallers was toe hy die huis binnegegaan het, het die seun gesê dat hy gedink het hulle is reeds weg.
“Jy het aan [jou tannie] gesê dat jy gedink het dit is ’n plaasaanval, maar wat dink jy gebeur tydens so ’n aanval?”
“Mense word in plaasaanvalle doodgemaak en in sommige gevalle word dinge gesteel.”
“Nee, in alle gevalle word dinge gesteel,” het Cloete teruggekap.
Die beskuldigde het gesê dat hy gedink het die aanvallers is weg kort ná die geweerskote opgehou het, maar Cloete het aangevoer dat dit onwaarskynlik is: Die aanvallers sou nie net gaan nadat hulle almal doodgemaak het nie. Die seun het egter volgehou dat hy veilig genoeg gevoel het om die huis binne te gaan. Cloete het teruggekeer na die vraag waarom hy hom nie bewapen het nie: As sy kamer maar net 2 m weg was van die kluis wat ander vuurwapens bevat het, hoe kon hy ’n nuwe T-hemp aantrek, maar nie ’n wapen gryp nie?
“Ek het nie op daardie stadium daaraan gedink nie. Dit maak seker nie nou sin nie,” het die seun erken.
Cloete het gevra hoe hy dit reggekry het om die vuurwapens, wat na bewering op die grond gelê het, raak te sien toe dit reeds skemer was, hy emosioneel en bang moes gewees het en hoog in die bakkie gesit het. Dit is hoogs onwaarskynlik, het Cloete aangevoer, dat die beskuldigde in staat sou gewees het om die wapens te sien en selfs op te tel waar hy gesê het hy het. Verder het hy daarop gewys dat die seun oënskynlik aan De Waal gesê dat hy dink die wapens is daar neergesit en nie daar neergegooi nie. Dit het die vraag laat ontstaan hoe die beskuldigde dit geweet het. Het hy homself net beskerm in die wete dat die wapens nooit op die grond was nie?
Die seun het verduidelik dat hy geen idee het waarom die aanvallers sulke waardevolle wapens agtergelaat het nie en het selfs genoem dat die .357-rewolwer klein en nie so swaar soos die groter geweer is nie. Hy het gesê dat die rewolwer nie hul ontsnapping sou belemmer het nie. Hy het bygevoeg dat hy die Steenkamps se wapens onmiddellik herken het toe hy dit op die grond raaksien.
“Ek het besef dat dit die moordwapens is toe ek dit optel,” het hy gesê.
Cloete het hom toe gevra hoe hy die wapens opgetel het, aangesien daar geen voetspore gevind is waar hy die wapens na bewering aangetref het nie. Die beskuldigde het gesê dat hy die bakkie se deur oopgemaak en uitgehang het terwyl hy met sy linkerhand aan die stuurwiel vasgehou het. Hy het die wapens met sy regterhand opgetel.
“Dit is baie vreemd om te glo,” het Cloete geantwoord.
“Dis wat gebeur het.”
“Jy sou in ’n baie weerlose posisie gewees het, as jy gemaak het soos jy beweer. Dis alles te vreemd om te glo.”
Die seun het erken dat hy ook dink dit is vreemd dat geen stof, gras of selfs die kleinste krapmerk op enige van die wapens gevind is nie. Verder, het Cloete opgemerk, maak dit nie sin dat die aanvallers sulke brutale moorde sou pleeg en dan die einste wapens, wat hulle met die misdaad kon verbind, binne spoegafstand van die misdaadtoneel sou agterlaat nie.
Cloete het ’n ander koers ingeslaan en gevra: “Hoe oud was jy toe jy leer skiet het?”
“Ek was baie jonk. Ek het eers met ’n .22-geweer leer skiet en later met die .357-rewolwer en ook met al ons ander vuurwapens.”
Die ironie het nie by my verbygegaan nie. Die beskuldigde is geleer skiet deur dieselfde persoon wat hy na bewering doodgeskiet het. Hy het gesê dat hy verskillende soorte diere, soos koedoes, blesbokke en steenbokke, gejag en doodgeskiet het.
“Kon die Steenkamps almal vuurwapens hanteer?”
“Ja, ek ook.”
“Gebruik julle vuurwapens in tentpensteek?”
“Slegs die seniors.”
Cloete het uitgevra oor die teiken vol skietgate wat in die skuur gevind is. Is die rewolwer gebruik om daarna te skiet? Die beskuldigde het ja gesê. Was vuurwapens deel van die beskuldigde se alledaagse lewe en het hy gereeld gaan skiet? Ja.
Cloete het gesê dit is indrukwekkend hoe goed die beskuldigde kan skiet, selfs van ’n bewegende perd af. Die seun het toegegee dat hy gemaklik is om met sulke wapens te skiet. Kgomo het toe verrigtinge onderbreek en gesê dat die Steenkamps in die video na die teiken gekyk het nadat die beskuldigde daarna geskiet het. Het hy daarin geslaag om die teiken te tref? Die seun het onthou dat hy dit twee keer getref het.
Cloete het van die vuurwapens afgestap en begin fokus op Marthella se bewegings in die tyd voor die moorde. Was Marthella daardie Donderdag by die huis en het sy haar ma en die werkers gehelp koekies bak, soos Martha Watermond getuig het? Ja, het die seun geantwoord.
“Het Marthella enige seunsvriende gehad wat haar in die dae voor die moorde op die plaas besoek het?”
“Nee.”
“Het Deon en Christel die plaaswerkers daardie Donderdagaand dorp toe gevat?”
“Ja.”
Was daar die Woensdag of Donderdag voor die moorde enige besoekers, insluitende seunsvriende wat die beskuldigde dalk oorgenooi het? Nee, niemand behalwe die gesin was op die plaas nie, het die seun geantwoord. Marthella het ook nie ’n kêrel in Bloemfontein of Griekwastad gehad nie.
“Was jy en Marthella daardie Donderdagaand alleen op die plaas?”
“Ek kan nie onthou nie, maar miskien was ons.”
Cloete het toe begin fokus op die seun se getuienis oor die koedoes wat die gesin buite dopgehou het. Sou iemand stilletjies verby hulle kon glip as hulle buite by die voordeur was? Nee, het die seun geantwoord, maar hy kon nie nou onthou of hulle by die voordeur of die kombuisdeur uit is nie. Sou iemand ongesiens by die voordeur kon ingaan of stilletjies verby die gesin deur die kombuisdeur kon glip? Nee. Sy tannie het getuig dat die gesin die voordeur nou en dan gebruik het. Ja, veral as hulle besoekers gehad het.
“Was die Steenkamps baie veiligheidsbewus?”
“Ek dink nie hulle was nie.”
“Maar hoekom is Paul Botha nie gekruisondervra oor sy getuienis dat die gesin baie veiligheidsbewus was nie?”
“Dis seker my skuld dat hulle hom nie gekruisondervra het nie.”
Die seun het sy regterarm met sy linkerhand vasgehou en op sy tande gebyt. Hy het ongemaklik gelyk toe hy erken dat hy ’n fout begaan het. Maar Cloete was nie van plan om hom uit die verknorsing te red nie en het gesê dat Botha ’n eerbare man is wat nie in die hof sou jok nie. Impliseer die beskuldigde dat Botha verkeerd is? Die seun het nee gesê. Gert Jordaan se getuienis het met Botha s’n ooreengestem. Was hy dus verkeerd? Die seun het nou nog meer ontsteld gelyk terwyl hy probeer verduidelik het hoekom hy en sy regspan nie Botha en Jordaan se getuienis bevraagteken het nie.
“Jy het nie verskil met wat hulle gesê het nie, so dit moet die waarheid wees?” het Cloete aangedring.
“Ek weet nie.”
Cloete het daarop gewys dat boere vandag dikwels teikens van wreedaardige misdade in Suid-Afrika is en dat hulle daarom almal uiters veiligheidsbewus is. Die seun het saamgestem, maar gesê dat Deon nie baie veiligheidsbewus was nie en dat hulle slegs saans die deure gesluit het. Hulle het nie gevoel dit was nodig om op Naauwhoek bang te wees nie.
“Ek weet jy is versigtig met wat jy hier in die hof sê, maar vir jou weergawe om sin te maak, moet jy die agterdeur oophou, nie waar nie?” het Cloete gevra.
“Ja, dis waar.”
“Kom ons bespreek die agterdeur. Ons weet die vuurwapens was in die kluis in die hoofslaapkamer?”
“Ja.”
Cloete het die beskuldigde gevra of hy saamstem dat ’n mens verby die kombuis en in die gang af moet loop om die hoofslaapkamer te bereik om by die kluis uit te kom en dat ’n indringer dit nie sou kon doen sonder om gesien te word nie. Hy het saamgestem. Cloete het vervolgens gesê dat Deon, ’n groot, sterk man, niemand verby hom sou laat kom het sonder ’n worsteling nie, maar dat daar geen teken van ’n worsteling was nie. Die seun het saamgestem. Volgens die bewysstukke, het Cloete voortgegaan, het Christel nooit geweet wat haar getref het nie en die skieter moes dus uit die rigting van die hoofslaapkamer gekom het om die gesin so onverhoeds aan te val. Die seun het weer saamgestem.
“Hoe het hierdie geheimsinnige skieter ongesien gebly tot die oomblik toe hy die slagoffers verras het?”
“Ek weet nie.”
“Jy het ’n groot probleem as jy nie aan hierdie hof kan verduidelik hoe iemand ongesiens by die slagoffers kon verbykom nie, want ’n vreemdeling sou dit nie kon regkry nie.”
Verder het verskeie getuies aangevoer dat die Steenkamps se vier honde waaksaam was vir die bewegings van vreemdelinge, het Cloete gesê. Die seun het egter gesê dat die diere vir enige beweging geblaf het en nie gevaarlik was nie. Hy het gesê dat hulle net aandag soek. “Glo jy dat daar ’n verskil is tussen ’n hond wat vir ’n vreemdeling blaf en een wat vir ’n bekende blaf?” het Cloete gevra. Die seun het nee gesê. Hy glo dat ’n hond vir enigiets sal blaf en nie net as ’n teken van gevaar nie. Maar, het Cloete gesê, baie mense het gesê dat die Steenkamps se swart borderkollie baie waaksaam was. Die beskuldigde het nie saamgestem nie: Hy het gedink dat die hond die teenoorgestelde was. Hy het volgehou dat die honde nie waaksaam was nie.
“Nes vroeër stem jy nie saam met getuienis wat nie bevraagteken is nie. Hoekom?”
“Ek weet nie. Ek het erken dit was my skuld. Ek kan nie meer as dit sê nie.”
Sy tannie was bekommerd dat daar indringers op die plaas was, het Cloete voortgegaan, en het die seun gevra of hy die honde hoor blaf het. Die seun het ja gesê. Hy het hulle vroeër die aand hoor blaf. Hoekom het hy dan nie vir haar gesê dat dit onbelangrik is, aangesien hulle vir enigiets blaf nie? Die seun het gesê dat hy dit waarskynlik aan sy tannie moes genoem het, maar dat hy nie het nie. Cloete het hom gevra waarom hy dit as belangrik beskou het om aan haar te sê dat hy die honde voor die moorde hoor blaf het. Hy het geantwoord dat hy nie weet nie.
“Jy kan nie aanhou sê dat jy nie weet nie of nie kan onthou nie. Jy sal my vrae moet beantwoord,” het die staatsaanklaer gesê.
Die seun het arrogant geglimlag.
“Ek wil nie speletjies met jou speel nie en ek probeer nie om jou uit te vang nie. Ek wil net billik wees en jou weergawe van gebeure toets.”
Cloete het hom gevra of hy die probleem met die honde begryp en hoe ’n indringer die huis kon binnekom sonder dat die honde geblaf het. Die seun het weer erken dat hy nie aan sy tannie gesê het dat die honde vir enigiets blaf nie. Hy het gedink dit is vreemd dat die honde blaf naby die perdekamp, maar die Steenkamps sou nooit opstaan om te gaan kyk waarvoor hulle blaf nie.
Kgomo het toe die verrigtinge onderbreek en die beskuldigde gevra of hy bedoel dat die honde voor die moorde geblaf het, maar nie tydens of daarna nie. Ja, het die beskuldigde gesê, hulle het nie daarna geblaf nie.
“Verstaan jy wat jy aan hierdie hof sê?” het Kgomo gevra.
“Ja.”
Kgomo het die beskuldigde toe gevra of hy sê dat die honde weg van die huis geblaf het. Ja, hulle het, het hy geantwoord.
Cloete het gesê dat hulle weet dat iemand anders as Deon, Christel of Marthella die misdaad gepleeg het. Die seun het saamgestem. As jy die waarheid praat, het die staatsaanklaer voortgegaan, beteken dit dat iemand by die huis ingeglip het. Die seun het weer saamgestem.
“Maar dis nie moontlik nie. Indringers gaan nie so te werk nie,” het Cloete gesê.
“Nee, hulle doen nie,” het die seun geantwoord.
Cloete het vervolgens op Möller se selfoongetuienis begin fokus en gesê dat dit belangrik is omdat dit ’n tydlyn van gebeure skep. Die beskuldigde het erken dat Deon een-en-twintig minute lank met sy ouers gepraat het nadat hulle klaar koedoes gekyk het en weer die huis in is. Die gesin het die huis ongeveer 18:10 binnegegaan, het Cloete gesê, en die moorde is eers ná 18:34 gepleeg. Die seun het senuweeagtig in die rigting van sy regspan gekyk. Cloete was duidelik besig om op iets af te stuur.
“So die indringer is verby die honde, deur die oop kombuisdeur en reguit na die hoofslaapkamer toe?”
“Ja.”
“Dit beteken dat hy ongeveer vier-en-veertig minute lank in die huis sou moes wegkruip. Waar sou hy dit kon doen?”
“In die hoofslaapkamer agter Christel se bed, miskien.”
“Dis hoogs onwaarskynlik. Sê jy dat hy vier-en-veertig minute lank op die vloer gelê en wag het om op heterdaad betrap te word?”
“Ek weet nie.”
“Dis nie hoe so ’n wreedaardige, koelbloedige moordenaar sou optree nie. Dis nie logies nie.”
Die seun het saamgestem. Cloete het daarop gewys dat geen vreemde wielspore gevind is nie, wat daarop dui dat die indringer te voet was. Die persoon sou dus heel waarskynlik uitasem gewees het, of ten minste harder as gewoonlik asemgehaal en gesweet het. Nietemin, het Cloete gesê, glo die beskuldigde dat iemand in die huis weggekruip het, selfs al het niemand enigiets gesien, geruik of gehoor nie. Boonop sou die gesin tog seker in hierdie tyd die badkamer gebruik het en die indringer ontdek het? Indien hierdie indringer wel in die huis en in die hoofslaapkamer was, sou hy volle toegang tot die kluis gehad het en die vuurwapens kon uithaal om die gesin onmiddellik dood te skiet. Hoekom het hy dan so lank gewag? Dis eenvoudig nie logies nie, het Cloete herhaal.
“As ek iets bevraagteken, moet ek verduidelik hoekom en daarom geld dieselfde vir jou,” het Cloete gesê.
“Dis al wat moontlik is.”
“Hy het die hele tyd toegang tot die kluis gehad. Hoekom het hy julle almal nie net geskiet nie?”
“Ek weet nie. Ek’s nie seker of ek die kluis gesluit het nadat ek die rekenaarprogram gebêre het nie.”
“Jy het probleme, want dit klink onmoontlik om te glo. Maar ons is besig om weg te beweeg van daardie denkbeeldige swart lyn wat ek aan die begin genoem het.”
Die seun het egter volgehou dat ’n indringer, wat in die huis weggekruip het, ’n moontlikheid was.
Kgomo het gevra of die kluis ’n geraas sou maak as iemand dit oopgemaak het en die seun het ja geantwoord. Hy het ook gesê dat die vuurwapens ’n geraas sou maak as iemand dit oorgehaal en/of gelaai het. Kgomo wou weet of die gesin in die sitkamer sou kon hoor as die vuurwapens in die kamer gelaai word, maar die seun het gesê hy dink dat dit te ver is.
“Kom ons gaan besoek die skuur, want dis baie belangrik in jou weergawe van gebeure,” het Cloete hervat.
Waarom het hy skuur toe gegaan? Hy wou die skietlamp se draad regmaak – hy het deur die skuur se deur wat halfpad oop was, geglip. Maar dit sou beteken dat ’n indringer dieselfde sou kon doen? Wat was die sigbaarheid aangesien dit skemer was? Was die skuur se ligte aan of af? Dit was af. Cloete het verwys na sersant Goliath se getuienis, wat aangedui het dat die skuur se ligte inderdaad af was. Maar as jy in die skuur was, sou jy tog sekerlik die lig aangeskakel het? Dit was te veel moeite om dit aan te skakel, het die seun beweer.
“Jy het gesê dat jy jou vriend gebel het terwyl jy skuur toe gestap het?”
“Ja.”
“Wel, dit maak nie sin nie, aangesien daardie onsuksesvolle oproep om 17:58 gemaak is en dit nie by die tydlyn inpas nie omdat jy beweer dat jy die oproep tydens Vetkoekpaleis gemaak het, wat eers om 18:00 begin.”
“Goed, dan was ek verkeerd.”
“Jy sien, jy moet jouself in daardie skuur plaas en ’n rede hê om daar te wees, anders maak jou weergawe nie sin nie.”
Cloete het genoem dat Bob en Henriëtte de Villiers albei getuig het dat die beskuldigde aan hulle gesê het dat hy ’n mes uit die skuur na die kluis geneem het. Die verdediging het nie Bob se getuienis bevraagteken nie. Dit was eers nadat Henriëtte getuig het dat hulle besluit het om dit te betwis. Die seun het erken dat dit sy fout was dat hulle nie Bob se getuienis betwis het nie. Cloete het egter gesê dat dit lyk asof hy sy storie verander het: Hy het aan verskillende getuies verskillende redes gegee waarom hy glo skuur toe is. Hy het byvoorbeeld aan De Waal gesê dat hy nie weet hoekom hy skuur toe is nie. Die beskuldigde het toe tussenin gepraat en gesê dat hy eers later aan die rede gedink het.
“Ja, jy kon eers later daaroor dink,” het die staatsaanklaer sarkasties gesê.
Die seun het ook aan sy ouma gesê dat hy nie kon onthou wat hy in die skuur gedoen het nie, het Cloete die hof herinner, en hy het ook vir Samuel Ludwick gesê dat hy die skietlamp wou regmaak eers nadat hy dit in die skuur raakgesien het en nie voor die tyd soos hy beweer het nie.
“Jy het vyf verskillende stories vertel. Verstaan jy my probleem hiermee?”
“Ja.”
“Jy kan nie die scenario’s rondom die gewere, die honde en hoe ’n indringer die huis ongesiens kon binnekom en nou ook die skuur wegpraat nie. Jy het probleme.”
Coetzee het toe opgestaan en gevra dat die hof tot die volgende dag verdaag. Kgomo het die seun gewaarsku dat hy nie in die versoeking moet kom om sy getuienis met enigiemand te bespreek nie, aangesien hy steeds onder eed was.
Die volgende dag het Cloete voortgegaan waar hy opgehou het en die beskuldigde weer eens uitgevra oor die skietlamp, wat net binne die ingang van die skuur was. Die seun het gesê dat hy die skote in die huis gehoor het voor hy aan die lamp kon werk.
“Dit kan nie reg wees nie,” het Cloete gesê. “Jy het gesê dat jy geloop het voor Vetkoekpaleis om 18:30 geëindig het, maar dat jy 30 m na die skuur geloop het en onmiddellik die geweerskote gehoor het? Ons weet Christel het die laaste SMS eers om 18:34 aan haar suster gestuur en daarom kon die geweerskote eers daarna geklap het.”
“Ek kon ’n paar draaie geloop het en vir ’n ruk buite besig gewees het voor ek by die skuur in is. Ek kan nie onthou nie.”
“Jy moet van hierdie geleentheid gebruik maak om die waarheid aan die hof te vertel.”
“Ek het nie ’n ander verduideliking nie.”
Tydens die kruisondervraging het ek opgemerk dat Marius Joubert weer in die hof was. Ek het aangeneem dat De Waal en Cloete hom uit Kaapstad ontbied het om hulle by te staan.
Cloete het die seun uitgevra oor die geweerskote wat hy na bewering gehoor het. Hy het eers gedink hulle word aangeval nadat hy die tweede skoot gehoor het, waarna hy na sy wegkruipplek geloop het in plaas van om te hardloop. Hoe kon hy rustig na sy wegkruipplek toe loop as hy bang was en vir sy lewe gevrees het, het Cloete gevra. Maar die seun kon dit nie verduidelik nie.
“Jy het nie gehardloop nie?”
“Dis ’n kort afstand. Dit sou nie ’n verskil gemaak het of ek geloop of gehardloop het nie.”
Cloete het aangevoer dat niemand sou loop as hulle vir hul lewe gevrees het nie. Die seun se weergawe van gebeure het hom dus gepla. Die staatsaanklaer het die beskuldigde op ’n neerbuigende manier daaraan herinner dat hy probeer om die hof te oortuig dat hy bang was en dus nie moet vergeet watter prentjie hy besig is om te skets nie. Hoekom het hy nie van sy wegkruipplek af probeer kyk wat aangaan nie? Die seun het gesê dat hy bang was en dat hy “miskien” maar moes gekyk het.
“Nie miskien nie, jy moes gekyk het,” het Cloete kwaai gesê en bygevoeg dat die beskuldigde se beweerde gedrag vreemd en onvanpas was. Hy het die seun weer daaraan herinner om die waarheid te vertel en gesê dat sy weergawe daarvan afdwaal.
’n Foto van die beweerde wegkruipplek langs die werkbank in die skuur is vertoon. Cloete het aangevoer dat niemand die seun sou kon sien indien hy opgestaan en deur die venster gekyk het nie. Die seun het egter erken dat hy nie een keer opgekyk het om te sien wat meters van hom buite aan die gebeur was nie. Cloete het gesê hy verstaan hoekom, want indien die beskuldigde, in sy weergawe, sy kop gelig het, sou hy vasgekyk het in die plek waar Marthella gewelddadig deur ’n onbekende aanvaller aangeval word. Die seun kon dus nie waag om te sê dat hy opgekyk het nie, want daar was geen onbekende aanvaller nie.
Uit die getuienis was dit duidelik dat Marthella vir ’n geruime tyd op daardie plek gebloei het en dat dit heeltemal onmoontlik is dat sy geen geluid sou gemaak het nie. Tog het die beskuldigde volgehou dat hy haar nie gehoor het nie.
“Dit maak my eintlik fisies seer om te luister na jou onwaarskynlike weergawe van gebeure,” het Cloete gesê.
Marthella was tydens die aanval maar net 16 m van die seun se beweerde wegkruipplek af en die honde sou tekere gegaan het. Cloete het aangevoer dat die seun jok en hom daarvan beskuldig dat hy sy getuienis verander om hom te pas. Cloete het die hof herinner aan Ludwick se getuienis, waarvolgens die seun aan hom gesê het dat hy Marthella hoor skree het, maar in sy eie getuienis het hy haar nie gehoor nie. Die seun het gesê hy dink Ludwick het gejok of het ’n swak geheue, maar Cloete het geantwoord dat Ludwick eerbaar is. Buitendien het die seun vir De Waal dieselfde ding vertel, maar nou het hy gesê dat hy nie kan onthou dat hy so iets vir die ondersoekbeampte gesê het nie.
Teen hierdie tyd was die beskuldigde wit in die gesig en rusteloos. Dit was duidelik dat Cloete ’n gevoelige snaar aangeraak het. Die staatsaanklaer was besig om ’n kat-en-muisspeletjie te speel en het die seun voortdurend onkant betrap.
Nog ’n foto is vertoon: dié keer van die bloedspatsels op die muur buite die huis langs die kombuisdeur. Die beskuldigde het erken dat hy nie kan onthou dat hy dit gesien het toe hy die huis in is nie. Korrek, het Cloete uitgeroep, hy sou dit nie gesien het nie, want hy was reeds in die huis en het nie geweet dat Marthella ingekom het nadat hy haar vir dood buite gelos het nie. Cloete het daarop gewys dat die seun geweet het van die poel gestolde bloed buite by die boom omdat hy Marthella daar aangeval het voor hy haar daar gelos het en die huis in is om die .22-geweer te gaan haal.
“Sien jy hoe die stukke van die legkaart begin inmekaarpas?” het die staatsaanklaer gevra.
“Nee, ek sien dit nie.”
“Jy kan nie aanhou sê dat jy dit nie kan verduidelik nie. Verduidelik dit net vir ons.”
Cloete het gesê dat die seun definitief die gestolde bloed sou gesien het as hy met die paadjie tussen die skuur en die kombuis langs geloop het. Die seun het ja gesê. Het hy die bloed op die kombuisvloer en -kaste gesien? Nee, hy het nie omdat hy daar verbygehardloop het. Cloete het dit bevraagteken en gevra dat foto’s van die bloed vertoon moet word. Die seun sou waaksaam gewees het toe hy die huis in is en sou dus die bloed gesien het.
“As jou weergawe waar is, sou jy die bloed gesien het, maar jy is buitetoe met die vuurwapens nadat jy almal vermoor het. Daarom het jy nie die bloed gesien nie, veral nie die bloed op die muur agter jou wat nie daar was toe jy die huis in is nadat jy Marthella aangeval het nie,” het Cloete gesê.
Die seun het beweer dat hy Deon se lyk eerste gesien het, het Cloete gesê. Is dit nie die natuurlike reaksie van enige mens om die slagoffer te skud om te sien of hy nog leef of om na ’n pols te soek nie? Die beskuldigde het net na Cloete gegluur sonder om te antwoord. Kgomo het toe tussenbeide getree en die seun gevra hoekom hy nie gekyk het of Deon of Christel nog leef nie, of selfs net na hulle geroep het om te sien of hulle nog lewe.
“Ek weet nie hoekom ek dit nie gedoen het nie. Hulle het net vir my dood gelyk omdat hulle op hul mae gelê het en ek het nie geweet wat om te doen nie.”
Cloete het gesê dat dit nie sin maak nie. Die beskuldigde kon nie weet dat hulle dood is deur net na hulle te kyk nie, tensy hy die een was wat hulle vermoor het. Hoekom het hy nie vir Marthella gevra wat gebeur het en wie haar aangeval het nie? Al wat die seun kon sê, was dat hy haar nie gevra het nie en sy hom nie gesê het nie. Sy het slegs aan hom gesê dat sy besig is om dood te gaan en dat sy vir hom lief is.
“Jy jok. Jy sou haar wou vra wie haar aangeval het en wat gebeur het omdat sy nog gelewe het en kon praat. Hoekom het jy nie? Want so ’n gesprek het nooit plaasgevind nie?”
“Ek verstaan wat ek veronderstel was om haar te vra, maar ek het nie en kan nie verduidelik waarom nie.”
Cloete het gesê dat Marthella aan die seun kon gesê het dat sy vir hom lief is, maar slegs binne die konteks waar sy besig was om om haar lewe te pleit. Hy het toe die beskuldigde gevra hoekom hy nie hulp ontbied het nie, alhoewel hy sy selfoon by hom gehad het. Die seun het gesê dat hy nie op daardie tydstip daaraan gedink het om enigiemand te bel nie. Cloete het gesê dat indien die seun geglo het dat dit ’n plaasaanval was, hy om hulp sou gebel het.
“Jy het die teenwoordigheid van gees gehad om die geweerskote te tel, maar jy het nie daaraan gedink om hulp te ontbied nie?”
Cloete het ook daarop gewys dat die seun heeltyd op sy selfoon besig was, soos wat die geval was toe De Waal sy verklaring afgeneem het. Hy het gesê dat Marthella erg beseer was en binne sekondes sou sterf en steeds het die beskuldigde nie daaraan gedink om hulp te ontbied nie. Die seun het geantwoord dat almal verskillend reageer en volgehou dat hy nooit daaraan gedink het om iemand te bel nie.
“Besef jy hoe vreemd dit alles klink?” het Cloete gevra.
“Nee, nie regtig nie.”
Hoekom het die seun nie daaraan gedink om ’n ambulans te ontbied toe hy die huis in is en sien dat die telefoon van die mikkie af is en almal rondom hom beseer is nie? Die seun het gesê dat hy gedink het dit is te laat, aangesien hulle reeds dood was. Hoekom was dit vir hom belangrik om sy geskeurde en bebloede T-hemp uit te trek en ’n skoon een aan te trek? Hy was ongemaklik, het die seun gesê. Die staatsaanklaer het weer eens gevra waarom hy ander klere aangetrek het, maar homself nie bewapen het nie.
Cloete het toe ’n ander koers ingeslaan en die seun gevra waar hy Marthella die eerste keer gesien het nadat hy die geweerskote gehoor het. Hy het gesê dat hy haar regs van Christel sien lê het. Cloete het aan hom ’n foto gewys en gevra of hy bedoel dat sy nader aan die stoel was. Hy het ja gesê. Maar dit het van sy oorspronklike weergawe verskil, waarin hy gesê het dat hy haar aangetref het op die presiese plek waar sy dood is. Cloete het die seun daarvan beskuldig dat hy sy weergawe van gebeure verander het nadat hy Joubert se getuienis gehoor het.
“Eers het jy aan kolonel De Waal gesê dat sy daar aangetref is en nou kry jy haar lewend aan die ander kant van Christel?”
Omdat Joubert getuig het dat geen bloedspatsels agter Marthella se lyk gevind is nie, het Cloete gesê, het die beskuldigde sy getuienis verander sodat hy nou kon sê dat sy beweeg het, terwyl sy in sy oorspronklike weergawe en volgens die analis se getuienis nie beweeg het nie. Cloete het daarop gewys dat die verdediging tydens Joubert se kruisondervraging nooit genoem het dat Marthella beweeg het soos wat die beskuldigde nou aanvoer nie. Hy het die seun daarvan beskuldig dat hy slegs nou so sê omdat hy sy weergawe van gebeure verander het.
“Dis van uiterste belang. Hoekom op hierdie aarde het jy niks gesê nie?”
“Ek sê nou so,” het die seun uitdagend gesê en toe probeer om sy regspan die skuld te gee deur te beweer dat hy hulle gesê het, maar dat hulle verkies het om die inligting te ignoreer.
“Jy het nooit jou regspan hiervan vertel nie,” het Cloete gesê.
Indien Coetzee of Erasmus daaroor ingelig is, sou hulle Joubert gevra het of dit waar kon wees. In plaas daarvan het die seun besef dat Joubert se getuienis verdoemend is vir sy weergawe van gebeure en daarom het hy sy storie verander.
“Onthou jy dat die regter jou gewaarsku het om met niemand te praat toe ons gister hier verdaag het nie?” het Cloete gevra.
Die staatsaanklaer het aangevoer dat die beskuldigde sy getuienis kon bespreek het en dit gevolglik verander het om hom beter te pas. Ek het tydens die vorige dag se kruisondervraging opgemerk dat een van die seun se vurigste ondersteuners, Marina Steenkamp, na die hoek regs agter in die hofsaal verskuif het en in ’n leë bank gaan sit het. Elke keer dat Cloete die seun ’n vraag gevra het, het hy na haar gekyk en het sy ja of nee met haar kop geknik. Ek het Cloete en De Waal daarvan vertel en later gehoor dat hulle Erasmus genader het, wat op haar beurt weer vir Marina teen sulke gedrag gewaarsku het. So ver ek kon agterkom, het sy dit nie weer gedoen nie.
“Om jou getuienis te verander laat jou swak lyk as ’n getuie,” het Cloete voortgegaan.
“Ek verstaan.”
“Jou nuwe storie haal die wind selfs uit my seile uit.”
Hy het die seun gevra om sy nuwe weergawe te verduidelik. Die beskuldigde het gesê dat Marthella op haar regterheup gesit het en op haar regterhand geleun het; dat sy opgestaan het, hom vasgegryp het, aan hom gesê het dat sy hom liefhet; en dat sy toe inmekaar gesak het en sy hemp geskeur het. Cloete het daarop gewys dat hy aan getuies gesê het dat sy op haar regterarm geleun het, maar dat hy nou sê dat dit haar regterhand was. Toe hy gevra is of hy Marthella vasgehou het, het die seun gesê dat hy nie kan onthou nie. Hy kon haar onder haar arms vasgehou het, maar hy is nie seker nie. Hy het haar nie gegryp en styf vasgehou nie omdat hy skrikkerig was vir haar bloed. Dit was hoekom sy inmekaar gesak het. Kgomo het hom gevra of die natuurlike ding om te doen nie sou wees om haar styf vas te hou nie, maar die seun het herhaal dat hy gegril het vir haar bloed.
“Ek wil nie onsensitief klink nie, maar dit was nie die tyd om vir bloed te skrik nie,” het die regter hom aangevat. “Jy moes haar vasgehou het!”
Cloete het toe gevra waarom hy aan Truter gesê het dat Marthella in sy arms gesterf het. Die seun het gesê dat hy nie kan onthou dat hy dit gesê het nie. Hy het aan Otto gesê dat hy haar weggestoot het en aan De Villiers dat hy haar wou vashou, het die staatsaanklaer uitgewys. Net soos in die geval van die skuur het die beskuldigde verskillende weergawes vertel van wat tussen hom en Marthella gebeur het kort voor haar dood.
Cloete het hom gevra hoekom Marthella sy hemp gegryp en geskeur het en waar sy in haar verswakte toestand die krag vandaan gekry het. Die staatsaanklaer het gesê dat hy nie kan verstaan waarom sy aan die seun sou ruk en pluk nie omdat sy dankbaar vir sy hulp sou wees.
“Elke aspek van jou weergawe van hoe Marthella gesterf het, is ’n leuen,” het Cloete gesê.
Toe hy gevra is hoe hy dink Marthella aan die ander kant van Christel beland het, kon die seun nie antwoord nie. “Wat dink jy het in die huis gebeur toe jy die geweerskote gehoor het?” het Kgomo gevra. Soos tevore het die seun gesê dat hy gedink het dat die eerste geweerskoot ’n ongeluk was. Watter soort ongeluk? Hy het nie geweet nie, maar het gou besef dat iets verkeerd is. Hy het nie vir een oomblik gedink dat Deon vir Christel sou skiet nie en daarom moes dit ’n plaasaanval gewees het.
“Jy het nie gedink om te vlug nie, aangesien jy gedink het dat dit ’n plaasaanval was?” het die regter gevra.
“Nee, ek het gedink dis verby nadat ek ses skote gehoor het.”
Hoekom het hy nie probeer om hulp te kry of om hulp te bel nie, het die regter gevra. Hy het net gewag tot dit stil geword het, was al wat die seun gesê het.
Cloete het toe gesê dat die minder direkte roete wat die seun na die hoofpad gevolg het, hom pla. Volgens die staatsaanklaer is die pad wat na die hoofhek lei nie so ruig soos die pad wat die seun geneem het nie. Daar is struike en bome langs hierdie pad waaragter ’n aanvaller maklik kon geskuil het om die seun te oorrompel.
“Hoekom het jy in die rigting van die plaaswerkers se huise gery?”
“Omdat ek hulle nooit verdink het nie.”
“Wou jy hulle waarsku?”
“Moontlik.”
Cloete het daarop gewys dat die seun, volgens ’n getuie, stilgehou en die hek oopgemaak het, en eers nadat hy besef het dat mense hom gesien het, het hy besluit om hulle oor die beweerde aanval te waarsku. Die seun het nooit probeer om die plaaswerkers se aandag te trek nie, aangesien hy nie op sy toeter geblaas of na hulle geroep het nie. Hy het ook nie die werkers ’n geleentheid dorp toe aangebied ten spyte van die feit dat daar plek in die bakkie was nie.
“Jy het hulle nie opgelaai nie, want jy het geweet daar was geen plaasaanval nie en dat hulle veilig is!” het die staatsaanklaer uitgeroep.
Cloete het toe die seun daarvan beskuldig dat hy tyd gemors het deur dorp toe te ry, aangesien die logiese ding sou wees om die polisie te bel en hulle na die plaas te ontbied. Deur met die slegte gruispad te ry, het die seun die beweerde aanvallers genoeg tyd gegee om weg te kom.
Toe hy gevra is, het die seun erken dat toe Christel die SMS om 18:34 aan haar suster gestuur het, almal nog lewend en ongedeerd was.
Cloete het teruggekeer na die tydlyn van daardie aand se gebeure. Toe die beskuldigde die polisiestasie bereik, het die staatsaanklaer gesê, sou hy eers uit die bakkie moes klim en by die gebou inhardloop, en dan sou die polisiebeamptes hom genoeg moes kalmeer sodat hy kon verduidelik wat gebeur het. Dit sou ’n paar minute geneem het. Konstabel Langa het toe die vuurwapens ingebring voordat adjudantoffisier Wildt begin rondbel het om hulp te ontbied. Die polisiemanne het toe teen 18:50 vir Jafta, hul hoof in Kimberley, gebel: dit sou sestien minute nadat Christel haar laaste SMS gestuur het, gewees het.
“Alles vat tyd,” het Cloete gesê.
Toe hy gevra is of hy saamstem dat dit alles minstens twee minute sou geneem het, het die seun ja gesê. Toe De Waal die roete wat die beskuldigde die aand van die moorde vanaf die plaas na die polisiestasie geneem het tydens ’n tydtoets gery het, het Cloete gesê, het dit sewe en ’n half minute geduur. Het die beskuldigde met hierdie tyd saamgestem? Ja. Dit het beteken dat die gebeure op die plaas, vanaf die eerste geweerskoot tot hy in die bakkie daar weg is, volgens sy weergawe ’n maksimum van sewe minute geduur het.
“’n Klomp goed het dus in minder as sewe minute op daardie plaas gebeur?” het Cloete gevra.
“Ja.”
“Stem jy saam dat die skietery en aanval ’n ruk sou geneem het? Maar natuurlik weet jy niks nie.”
Dit sou Marthella ’n ruk geneem het om terug in die huis te strompel, waar sy later dood aangetref is, het Cloete opgemerk, omdat sy weens bloedverlies swak was. Verder was dit duidelik dat toe sy die huis weer binne is sy gaan ondersoek instel het of haar pa hulp benodig, “iets wat jy nagelaat het om te doen”, en probeer het om ’n telefoonoproep te maak. Dit alles terwyl die seun, volgens sy weergawe, in die skuur weggekruip het.
“Jy is nog in die skuur?” het Cloete hom herinner.
“Ja,” het die beskuldigde geantwoord.
Eers toe dit stil geword het, het die seun dit gewaag om uit sy wegkruipplek te kom en die huis binne te gaan, het die staatsaanklaer bevestig. Kon dit alles in minder as sewe minute gebeur het? Die beskuldigde het verbaas gelyk oor die vraag.
“Ek het uitgelaat dat jy in jou weergawe twee keer in die skuur weggekruip het, wat ongeveer tien tot vyftien minute kon geduur het. Maar as ons dié deel uitlaat, is die tydsberekening reg,” het Cloete voortgegaan.
Dit was hierdie tweede keer se wegkruip in die skuur wat die staatsaanklaer baie interessant gevind het. Dit moes baie langer gewees het as die eerste tien minute wat die seun glo weggekruip het, het hy gepeins. Toe die seun vra hoekom, het Cloete gesê: “Wel, jy het jou mos reeds misgis dat die aanvallers klaar weg was, dus as jy nie vir ’n ruk weggekruip het nie, sou jy tog voor die aanvallers by die hek uitgekom het.”
Die seun kon dit nie weerlê nie. “Ek verstaan dat die staat my in die huis plaas as my wegkruipery in die skuur wegval,” het hy uitdagend gesê.
“Die honde sou tog agter die aanvallers aangehardloop het?” het Cloete gevra.
“Nee, ek glo nie. Die honde het gewoonlik weggekruip vir donderweer of harde geluide en daar het geweerskote geklap.”
“Die ligte in die skuur was af,” het Cloete teruggekap. “Jy was maar net in die skuur ná die moorde toe jy die bakkie gaan haal het. Die tydlyn bewys sonder enige twyfel dat jy nie in die skuur was nie, maar in die huis toe die slagoffers vermoor is. Jy het ’n totale gebrek aan belangstelling in die ondersoek na die moorde getoon, wat onverklaarbaar en baie vreemd is. Die enigste keer dat jy belangstelling getoon het, was toe jy daardie aand saam met die polisie na die plaas wou terugkeer.”
“Dis nie my werk om die moorde te ondersoek nie, maar die polisie s’n,” het die seun geantwoord.
Cloete het gevra hoekom die beskuldigde nooit gevra het wie die slagoffers vermoor het nie en hoe hy so seker kon wees dat almal dood is. Terwyl die polisie hulle na die toneel gehaas het, het die seun nie vir bevestiging van die slagoffers se dood gewag nie. In plaas daarvan het hy begin om sy vriende vanaf sy selfoon te bel en hulle daarvan te vertel.
“Jy het nie geweet wat aangaan nie, maar wou al jou vriende vertel. Hoekom?”
’n Normale tienerseun sou by die polisiestasie gewag het vir nuus en herhaaldelik gevra het om op hoogte van sake gehou te word in die hoop dat iemand oorleef het.
“Maar jy van alle mense het vir ’n feit geweet dat hulle dood is en het dus nie nodig gehad om vir nuus te wag nie, het jy?”
“Ek verstaan, ja.”
En die volgende oggend, tydens die uitry plaas toe, het die seun nie vir De Waal gevra of hulle al iemand gevang het of wat hulle al uitgevind het nie.
“Jy het net vir De Waal gevra of jy alles gaan erf.”
Die seun het geweet dat niemand anders gevang sou word nie omdat daar niemand anders was nie, het Cloete gesê. Boonop het nóg die seun nóg iemand na aan hom daardie Sondag met De Waal in verbinding getree om navraag te doen oor die ondersoek. En toe hy De Waal daardie Maandag sien, kon die seun slegs praat oor die mense wat vir Deon geld geskuld het. Om die waarheid te sê, het Cloete aangevoer, het De Waal nie ’n enkele navraag oor die ondersoek van die seun of sy regsverteenwoordigers ontvang nie, totdat hy daardie Mei ’n verdagte in die saak geword het.
“Die polisie was op die spoor van ’n koelbloedige moordenaar en jy het hulle nooit vertel van die beweerde dreigemente wat Dawid Kgoranyane gemaak het nie. Hoekom nie?”
Dit was die seun se oupa wat die polisie later van die beweerde dreigemente vertel het, maar Kgoranyane het in elk geval ’n waterdigte alibi gehad. Die seun het Joe Scholtz ook nooit gevra of enige van die kameras langs die Niekerkshooppad gewerk het nie. Cloete het dit ook eienaardig gevind dat diegene na aan die seun, selfs voor hy ’n verdagte geword het, opdrag gegee is om nie met hom oor die aand se gebeure te praat nie.
“Hoekom is almal te bang om met jou te praat as jy net ’n slagoffer is?”
“Ek weet nie.”
“Jy het almal laat verstaan dat slegs jou vingerafdrukke gevind sou word en jy het geglo dat jy ’n verdagte is, nie waar nie?”
“Ek het ’n saakdossier met my naam daarop gesien. Ek het daaruit afgelei dat ek ’n verdagte is.”
Cloete het ’n dossier opgehou en dit vir die seun gewys. Dit was die oorspronklike dossier wat Wildt geopen het en waarin hy die voorval as ’n plaasmoord met drie slagoffers geklassifiseer het.
“Kyk, niemand in hierdie dossier is ’n verdagte nie,” het Cloete gesê.
Die seun het saamgestem, maar gesê dat hy sy naam gesien het en gevolglik gedink het dat hy ’n verdagte is. Cloete het hom weer eens daarvan beskuldig dat hy vir die hof jok.
Kgomo het toe tussenbeide getree en gewaarsku dat die seun nie gelei mag word om homself te inkrimineer nie. Ná hierdie vermaning het Cloete aanbeweeg.
Volgens jou, het Cloete gesê, het slegs een persoon die Steenkamps vermoor. Die seun het geantwoord dat dit meer as een persoon kon gewees het. Maar, het Cloete geredeneer, as daar meer as een persoon was, sou Marthella nie buitetoe kon hardloop nie. Die seun het na bewering twee sarsies skote van twee verskillende vuurwapens gehoor. As daar meer as een aanvaller was, sou dit nie die geval wees nie aangesien beide vuurwapens gelyktydig gebruik sou word. En tydens sy bespiegeling oor die aanvaller se wegkruipplek het die seun altyd net van een aanvaller gepraat.
“Jy was nie daarvan bewus dat Christel besig was om SMS-boodskappe aan haar suster te stuur nie?”
“Nee.”
“En nou is jou nuwe getuienis oor Marthella wat op ’n ander plek aangetref is nie net skokkend nie, maar ook verrassend om te hoor.”
“Ek verstaan.”
“Ek vind dit ook verbasend dat jy so baie bloed op jou gehad het as jy skaars aan Marthella geraak het. Hoekom so baie bloed?”
“Ek weet nie. Ek het net daardie een keer aan haar geraak.”
“Hoekom so baie bloed?”
Die seun het net na die staatsaanklaer gestaar en toe gesê dat dit is hoe dit gebeur het.
“Jy help nie jou saak as jy nie behoorlik aan die hof kan verduidelik hoe dit gebeur het nie,” het Cloete gesê. “Dink jy dis genoeg om net te antwoord ‘ek kan nie onthou nie’, ‘miskien’ of ‘ek weet nie’? Want ek kan jou sê dis nie genoeg nie. Dit gaan jou nie help as ek my betoog lewer nie.”
Toe die seun gevra is, kon hy nie verduidelik wat die voorwerp met ’n rand tussen hom en Marthella was nie en hy kon ook nie onthou of Marthella op hom gehoes het nie. Maar toe hy by haar was, het sy vir hom gesê dat sy vir hom lief is voor sy inmekaar gesak het.
Cloete het ’n ander koers ingeslaan en die seun daarvan beskuldig dat hy homself geïnkrimineer het deur sekere dinge aan sekere getuies te vertel wat slegs die moordenaar kon geweet het. Hy het byvoorbeeld vir sy tannie vertel dat Christel voor die rekenaar gesit het toe sy geskiet is en hy het vir Piet Otto vertel dat hy dink Marthella het probeer om iemand te bel.
“Miskien het Deon probeer bel. Hoekom het jy gedink dit was Marthella?” het Cloete gevra.
“Omdat sy nog gelewe het.”
Die seun het ook vir Henriëtte de Villiers vertel dat dit gelyk het asof Deon opgekom het, op die vloer gegly en toe vooroor geval het. Hoe kon hy dit geweet het?
Toe die seun probeer om vir die staatsaanklaer te sê dat hy slegs gesê het wat hy gedink het gebeur het, het Cloete aangedring: “Maar hoe het jy geweet dat hy gegly het? Jy het presies geweet wat gebeur het, want jy was daar.”
Toe hy weer gevra is of hy gekyk het of Deon en Christel dood is, het die seun nee gesê. Hy het nie eers naby Deon se lyk gekom nie en was nie bewus van die omvang van sy beserings nie. “Maar toe jy daardie aand by Andries en Marina Steenkamp se huis oorgeslaap het, het jy aan Marina gesê dat Deon in die agterkop geskiet is!” het Cloete uitgeroep. “Nou, volgens jou eie getuienis, kon jy dit nie geweet het nie. Sy kon dit net by jou gehoor het. Ek wag. Jy mag maar antwoord.”
Die seun het ontken dat hy Marina daarvan vertel het en Cloete het hom weer eens daarvan beskuldig dat hy sy getuienis verander het.
“Jy was 100% seker dat die slagoffers dood is, want dit is wat jy vir almal vertel het, insluitende die polisie en die plaaswerkers,” het Cloete gesê. Die beskuldigde het probeer argumenteer deur te sê dat hy seker was almal is dood.
“Maar jy het nooit gekyk of hulle dood is nie. Hoe kon jy dan seker gewees het hulle is dood?”
Cloete het gesê dat die meerkatstorie ook ’n versinsel is wat uitgedink is om die kruitresidu wat moontlik op die seun gevind kon word, weg te redeneer. Hierdie inligting het slegs aan die lig gekom ná ’n bespreking tussen hom en Andries Steenkamp.
Volgende aan die beurt was die raaisel van die vermiste geld.
“Jy moes sê dat iets weg is en daarom het jy vir almal gesê dat geld uit die kluis weg is. Hoeveel is weg?” het Cloete gevra.
“Ek weet nie.”
Maar kort ná die moorde het die seun aan Deon se oudste suster gesê dat hy dink iets soos R36 000 is uit die kleiner kluis weg en R80 000 uit die groot kluis. Nou het hy gesê dat hy die bedrae verkeerd gekry het omdat die geld baie gelyk het. Dit was slegs ’n skatting. Hy het aangeneem dat ongeveer R60 000 weg is.
Cloete het toe daarop gewys dat die geldsak waarna die seun verwys het in werklikheid leeg was, behalwe vir ’n enkele honderdrandnoot. Die seun het gesê dat hy dit vreemd vind. “Maar jy het dit nie die aand van die moorde vreemd gevind toe jy aan De Waal gesê het dat jy nie dink iets is weg nie,” het Cloete hom herinner. “Jy het ’n motief vir die moorde nodig gehad en daarom het jy later daardie aand by Andries se huis beweer dat geld weg is. Kyk na hierdie foto. Sien jy dit? Geen geld kon uit hierdie kluis geneem word nie.”
“Dit kon.”
Cloete het sy kop geskud en aan die hof verduidelik dat die leë sak gevind is agter verskeie gewere wat eers verwyder sou moes word. Hy het van geen misdadiger geweet wat die tyd sou neem om ’n kluis netjies uit te pak en weer terug te pak nie, veral nie as hy sopas die moorde gepleeg het en so vinnig moontlik moes vlug nie. In teenstelling hiermee het Cloete ’n foto gewys van ’n pistoolsak wat op die vloer voor die kluis agtergelaat is.
“Hulle kon die leë sak terug in die kluis gegooi het en dit kon toe op die bodem beland het,” het die seun gesê.
“Jy het nooit De Waal se getuienis hieroor betwis nie,” het Cloete geantwoord.
Die seun moes toegee dat hulle De Waal nooit bevraagteken het toe hy gesê het dat dit onwaarskynlik is nie.
Verder, het Cloete voortgegaan, hoekom sou iemand die geld in die eerste plek uit die sak haal? Dit sou makliker gewees het om die geld met sak en al te vat.
“Jou getuienis oor die vermiste geld is ’n totale leuen.”
“Nee, dit is nie.”
Cloete het vervolgens na die tweede sarsie geweerskote teruggekeer. Die seun het aanvanklik aan De Waal gesê dat die skote wat hy gehoor het aaneenlopend en ononderbroke was. Hy het later sy storie verander en ’n tweede sarsie geweerskote bygevoeg.
“Jy het daardie aand besef dat jy jou weergawe moes verander en sê dat jy ’n tweede sarsie skote gehoor het omdat Marthella, vir jou weergawe, nog moes leef toe jy by die huis uit is,” het Cloete gesê.
Die staatsaanklaer het die seun daarvan beskuldig dat hy die nag ná die moorde wakker gelê het en sy weergawe versigtig uitgedink het om hom te pas. Dit is hoekom hy De Waal eers die volgende dag by die polisiestasie van die tweede sarsie skote vertel het. As hy by sy vroeëre weergawe gehou het, het Cloete skynbaar geïmpliseer, sou Marthella nie nog geleef het om sy hemp in die huis te skeur nie. Om jou verklaring te verander, het Cloete gesê, is ’n duidelike aanduiding dat jy nie die waarheid praat nie.
Maar hierdie tweede sarsie skote het nie al die seun se probleme opgelos nie – dit het in werklikheid net meer probleme geskep. Nou het hy homself in die huis saam met die beweerde aanvaller geplaas ná die eerste skote gevuur is.
“Hoe is dit moontlik dat jy saam met ’n aanvaller met ’n gelaaide geweer in die huis is en jy word naby die telefoon toegelaat? Jy word selfs toegelaat om ongedeerd die huis te verlaat en hulp te ontbied? Ek haat dit om dit te sê, maar weet jy hoe belaglik dit klink?”
“Nee, dis hoe ek dit onthou.”
“Hierdie beweerde aanvaller was jou baie goedgesind.”
“Miskien.”
“En toe het jy toegelaat dat hierdie persoon die slagoffers teregstel. Verwag jy regtig dat hierdie hof jou storie moet glo? Ek sê dikwels dat enigiets onder die son moontlik is, maar dié storie is heeltemal onmoontlik.”
Kgomo het die verrigtinge onderbreek en gevra of die seun iemand anders kon gekry het om die skietery te doen. Alhoewel dit ’n moontlikheid was, het geen getuienis daarop gedui nie.
“Wat anders is na bewering weg?” het Cloete voortgegaan.
“’n Mes en Christel se sleutels.”
“Niemand sou drie mense vermoor vir ’n mes en ’n bos sleutels nie,” het Cloete gesê.
Hy het die seun vervolgens uitgevra oor sy verklaring aan sy tannies dat die Steenkamps maklik kwaad geword het. Die seun het gesê dat hy nie die konteks van daardie gesprek kan onthou nie, maar dat hy van mening is dat Deon altyd baie gou kwaad geword het. Cloete het toe gevra hoekom die seun, nadat hy ’n sielkundige besoek het, verbied is om weer openlik met sy tannies te praat. Die seun het gesê dat hy nie weet nie.
“Hoekom het jy selfs jou sielkundige gevra of jy sal erf?”
“Omdat ek bekommerd was oor wat van die plase en die vee sou word.”
Cloete het die seun toe daarvan beskuldig dat hy te vinnig ná die moorde begin planne maak het vir die toekoms. Die seun is die Sondag ná Goeie Vrydag na die plaas toe om ’n perd te gaan haal vir ’n gimkanatoernooi!
En toe ’n onaangename verrassing.
“Hoe het jou bloed op jou kortboek beland?” het Cloete gevra.
Dit was ’n onthulling wat die beskuldigde en sy verdediging heeltemal onkant betrap het. Coetzee en Erasmus het woes deur hul lêers begin blaai. Die seun het senuweeagtig in hul rigting geloer en aan Cloete gesê dat hy nie daarvan bewus is dat bloed op sy kortbroek gevind is nie.
“Ek is vir die tweede keer sprakeloos omdat jy nou beweer dat jy nie daarvan bewus was nie,” het die staatsaanklaer gesê.
Cloete het gevra dat ’n foto van die kortbroek vertoon word en het uitgewys dat tien van die bloedspatsels daarop met die seun se DNS ooreenstem. Marthella se bloed is ook op die voor- en agterkant van die kortbroek gevind. Hy het die beskuldigde gevra of hy daardie aand enige beserings opgedoen het. Hy kon nie onthou dat hy enige gehad het nie.
“Die staat sal aanvoer dat jou neus gebloei het en dat jy die bloed met jou hande aan jou broek afgevee het,” het Cloete gesê en bevestig dat die krapmerk aan die seun se nek nie genoeg sou gebloei het vir die hoeveelheid bloed wat op die kortbroek gevind is nie.
Ek het later by De Waal gehoor dat hulle die aand van die moorde by die polisiestasie opgemerk het dat die seun se neus gebloei het, aangesien daar bloed in en om een van sy neusgate was. Cloete het geïnsinueer dat die seun en Marthella geworstel het, dat sy hom op die neus geslaan het en sy neus gebloei het.
Met die verdediging nog in skok oor dié onthulling, het Cloete begin fokus op die aanklag van verkragting. Volgens Fouché en Els se getuienis, asook die wetlike definisie van verkragting, is Marthella seksueel gepenetreer. Die seun was alleen saam met Marthella op die plaas en was dus die enigste een wat haar kon gepenetreer het. Daar is reeds bewys dat daar gedurende ’n tydperk van twee-en-sewentig uur voor die moorde niemand anders op die plaas was nie. Indien dit ’n vreemdeling was wat Marthella verkrag het, sou sy haar ouers vertel het. Maar indien iemand na aan haar haar verkrag of gemolesteer het, sou sy skaam en miskien te bang gewees het om iemand te vertel. Cloete het aangevoer dat sy nie haar ouers sou vertel het as dit die seun was wat haar verkrag het nie.
“Die staat glo dat Marthella vir Deon wou vertel van wat jy aan haar gedoen het en dat jy geweet het wat sy beplan.”
Waaroor was die argument tussen die beskuldigde en Marthella kort voor die moorde? Die seun het dit aan De Waal genoem, maar kon nie nou onthou nie.
“Hoekom kan jy nie onthou waaroor julle geargumenteer het nie?” het Kgomo gevra.
“Ek kan net nie.”
Cloete het beweer dat die beserings aan Marthella se vagina en die daaropvolgende moorde met mekaar verband hou.
“Jy het Marthella sonder enige twyfel verkrag en haar en haar ouers vermoor om die waarheid weg te steek,” het hy gesê.
Die seun het nie ’n antwoord gehad nie. Hy het Cloete net aangegluur.
Daarmee het Cloete begin om sy kruisondervraging af te sluit. Hy het die feite van die saak teenoor die onwaarskynlikhede in die beskuldigde se beëdigde verklaring opgesom. Hy het aan die hof gesê dat hy die beskuldigde sedert die begin van sy kruisondervraging daardie Maandag, amper drie dae, die geleentheid gegee het om die waarheid te vertel, maar dat hy gekies het om dit nie te doen nie.
“Die manier waarop jy my vrae beantwoord het, is kommerwekkend. Jy het ’n traak-my-nieagtige houding,” het Cloete gesê.
Die gerespekteerde staatsaanklaer het omgedraai en elkeen van sy span in die oë gekyk. Hy het toe opgekyk na Kgomo en gesê dat hy klaar is met sy kruisondervraging. Hy het my eintlik hoendervleis gegee. Dit was ’n herinnering dat hardwerkende mense soos hierdie steeds bestaan en dat goed oor kwaad sal seëvier.
Coetzee het besluit om sy kliënt weer te ondervra en hom verskeie vrae gevra oor die sekuriteit in die algemeen op die plaas. Die seun het gesê dat daar geen geëlektrifiseerde heinings op die plaas was nie, dat nie al die huis se vensters diefwering gehad het nie en dat daar geen alarmstelsel in die huis was nie. Hy het ook bevestig dat die Steenkamps destyds geen sekuriteitshekke in die huis gehad het nie. Daarna het Coetzee aangekondig dat hy ook klaar is met sy kruisondervraging.
Die altyd gewillige Kgomo het besluit om self ’n paar vrae te vra.
“As jy kon kies, sou jy eerder skoolgaan of boer?” het die regter gevra.
“Ek wil eerder boer, maar ek verstaan dat ek eers skool moet klaarmaak,” het die seun geantwoord en bygevoeg dat hy nie baie van skool hou nie, maar dat hy wel studeer.
“Stem jy saam dat Deon en Christel tereggestel is?”
“Ja.”
“Stem jy saam dat Marthella voor haar dood gemartel is?”
Kgomo het gevra dat ’n foto van Marthella se gesig en geskeerde kop vertoon word. Hy het sy vraag anders gestel en gevra hoekom Marthella eers gemartel is, terwyl Deon en Christel net tereggestel is.
“Ek het nie ’n antwoord nie. Ek kan nie sien dat sy gemartel is nie.”
“Dit lyk alles effens vreemd.”
Die beskuldigde het saamgestem. Kgomo het toe gevra of die beseerde meisie voor haar dood om haar lewe gepleit het, maar die seun kon hom nie antwoord nie. Die regter het gesê dat dit lyk of die Steenkamps ’n liefdevolle gesin was. Hy het gevra of die beskuldigde en Marthella probleme gehad het. Die seun het geantwoord dat hul probleme nie ernstig was nie.
“Hoekom het jy nie om hulp gebel toe jy besef dat Marthella nog leef nie?”
“Ek het nie daaraan gedink om te bel nie, want ek het gedink sy is dood.”
“Het jy enige opleiding in noodhulp?”
“Nee.”
“Het jy ten minste probeer om haar lewe te red?”
Die seun het nee gesê: hy het nie. Hy het nie eers vir ’n pols gevoel nie.
Dit het vir my onmenslik geklink. Het die seun besef wat hy sê? Enige normale mens sou probeer om iemand wat hy of sy ken en kwansuis liefhet, te red. Sy optrede was te veel soos dié van ’n moordenaar.
Ná Kgomo se vrae het Coetzee die verdediging se saak afgesluit. Uiteindelik was die einde van hierdie verhoor in sig. Beide partye het ingestem om die hoofpunte van hul slotpleidooie skriftelik in te handig en dan hul saak op Woensdag 27 November 2013 te bepleit. Die hof is tot dan verdaag.