26

Die uitspraak

Daar was op 27 November 2013 opwinding in die lug terwyl ons gewag het op die slotpleidooie. Ek was ongelukkig nie in die hofsaal nie omdat ek drie dae later, ná bykans sewe jaar by Media24, hul diens sou verlaat. Saam met die res van die land het ek egter ontwikkelinge koorsagtig op Twitter gevolg.

Tot almal se verbasing het Cloete gevra dat die hof tot 9 Desember verdaag. Die verdediging het nie beswaar aangeteken nie en Kgomo het ten gunste van die verdaging beslis. Die regter het die media gewaarsku dat hy nie redes sou verskaf nie, want hy het nie enige gehad nie! Gerugte het die rondte gedoen dat die verdediging oor nuwe getuienis beskik wat die beskuldigde kon vryspreek. Daar is oral bespiegel, maar niemand kon enigiets bevestig nie. My kollega Mary-Ann Palmer, wat die verrigtinge bygewoon het, het gehoor hoe die beskuldigde baie opgewonde aan ’n familielid sê: “Ek wonder wat ek nou volgende jaar gaan doen.” Iets was duidelik aan die broei.

Die familie van die oorledenes, wat bykans nooit ’n hofsitting misgeloop het nie, was op 9 Desember nie in die hof teenwoordig nie, maar slotpleidooie het nietemin ’n aanvang geneem. Cloete was namens die staat eerste aan die beurt. Hy het die hof ingelig dat hy sy geskrewe pleidooi in antwoord op die verdediging se slotpleidooi ingehandig het en dat hy slegs sou betoog waar die staat van die verdediging verskil het.

Hy het begin deur die feite van die saak op te som en het vervolgens verskeie inherente onwaarskynlikhede in die seun se weergawe van gebeure uitgewys. Die tydlyn van gebeure op daardie noodlottige aand het begin met Deon se telefoonoproep na sy ouers en Christel se SMS aan haar suster, en het geëindig met die beskuldigde wat by die polisiestasie aangekom het om die beweerde plaasaanval aan te meld. Eerstens, het Cloete gesê, moes die polisie die hoofhek op Naauwhoek oopmaak toe hulle daar aangekom het. Waarom, het hy gevra, sou indringers ’n hek agter hulle toemaak as hulle haastig was om van ’n misdaadtoneel weg te kom? Tweedens was die skuur se ligte af en alhoewel baie ligte in die huis aan was, was dit amper donker toe die moorde gepleeg is.

Die beskuldigde het aandagtig geluister, maar het senuweeagtig en ontsteld voorgekom en sy naels gebyt.

Kgomo het Cloete onderbreek om te vra hoekom die seun nie die Nissanbakkie wat naby die werkers se hek geparkeer was, opgemerk of aangemeld het as almal op soek was na iemand wat vir die misdade vasgetrek kon word nie. Cloete het gesê dat die seun geweet het dat die eienaar van die bakkie niks met die moorde te doen het nie. Dit was inderdaad duidelik uit al die getuienis dat geen plaaswerkers by die moorde betrokke was nie.

Cloete het toe die omvang van die Steenkamps se koeëlwonde opgesom voor hy begin fokus het op die beserings aan Marthella se vagina. Geen DNS in die vorm van semen of hare is op die meisie aangetref nie. “Dis waar dat die staat se saak slegs op omstandigheidsgetuienis berus,” het hy erken, maar presedentereg sê egter dat om skuld in sommige sake te bewys, omstandigheidsgetuienis sterker kan wees as direkte getuienis wat ’n persoon met ’n misdaad verbind. Daarom, het Cloete gesê, moet die staat die kumulatiewe effek van die omstandigheidsgetuienis oorweeg. “Ons moet staatmaak op wat hoogs waarskynlik is en op een redelike afleiding dui.”

Die seun se leuens moet beoordeel word binne die konteks van die misdade en die getuienis, het hy voortgegaan. Die aanklag van regsverydeling, het hy die hof herinner, was nou verweef met die ander aanklagte van moord en verkragting. Indien die seun op die ander aanklagte skuldig bevind word, moet hy ook skuldig bevind word aan regsverydeling.

“Die Wet op Kindergeregtigheid het nie die bewyslas verander nie. Daar is nie ’n groter las op die staat nie,” het Cloete gesê. Dus moet alle beskuldigdes op dieselfde manier hanteer word, selfs diegene onder die Wet op Kindergeregtigheid. Die wet sê slegs vir die hof hoe om minderjarige beskuldigdes te hanteer.

Hierdie moorde was besonder wreedaardig en diegene wat dit gepleeg het, het seker gemaak dat niemand oorleef nie, het Cloete beweer. Hoekom, as die beskuldigde geglo kan word, is hy dan gespaar? Die kern van die saak is die feit dat die oorledenes met hul eie wapens doodgeskiet is. Wat die staat betref, bewys dit dat daar geen indringers was nie. Dit verwerp ander moontlikhede soos ’n aanval uit weerwraak of ’n aanval wat gelas is.

“Deon was ’n groot, sterk man; hy sou nie ’n indringer in sy huis toegelaat het nie.”

Die staatsaanklaer het vervolgens die aandag gevestig op nuwe bewerings wat deur die verdediging in hul slotpleidooi gemaak is, waar hulle gesê het dat iemand wat die Steenkamps moes geken het die moorde gepleeg het. Maar wat was dan die motief? En hoekom het die verdediging dit nou eers, reg aan die einde van die verhoor, genoem? Waar sou hierdie persoon geskuil het en hoe sou hy ongesiens toegang tot die kluis verkry het? Daar was geen getuienis om hierdie bewerings te steun nie.

Cloete het toe begin fokus op die beskuldigde se getuienis en gesê dat die seun nie die wapens naby die hek kon gevind het nie. Die seun het voortdurend gejok oor wat werklik daardie aand gebeur het en het nie minder nie as nege verskillende weergawes verskaf van hoe sy hemp geskeur is. Die staat is van mening dat dit buite geskeur is terwyl hy met Marthella geworstel het. Verder is dit heeltemal onwaarskynlik dat die seun nie om hulp sou gebel het of ten minste vir Marthella sou gevra het wie hulle aangeval het voor sy gesterf het nie.

Wat die aanklag van verkragting betref, het Cloete gesê, dui die patoloë se getuienis daarop dat Marthella wel verkrag is. Ek het gehoor dat die verdediging verskeie wilde aantygings in hul slotpleidooie sou maak, insluitende dat Deon sy eie dogter verkrag het en/of dat die seun seks gehad het met Marthella met haar toestemming. Die verdediging was vasbeslote – of so het dit altans voorgekom – om redelike twyfel te skep deur sulke moontlikhede aan die hand te doen. Hulle moes die motief weerlê. Ek is van mening hulle het gedink geen motief beteken geen moorde nie. Maar weer eens, hoekom het hulle dit nie alles tydens die verhoor genoem nie?

Cloete het gesê dat die staat glo dat Marthella haar pa wou vertel wat die beskuldigde aan haar gedoen het en dit die rede is hoekom hy almal vermoor het.

“Die getuienis teen die beskuldigde is oorweldigend en dui daarop dat hy die Steenkamps vermoor het. Dus kon die verkragting nie toeval gewees het nie.”

Die enigste redelike afleiding is dat die beskuldigde Marthella verkrag het en almal vermoor het om dit weg te steek. Hoekom, as die seks met toestemming was, sou sy haar ouers daarvan wou vertel het? Verder het die verdediging duidelik saamgestem dat daar seksuele penetrasie was en dat iemand in die huis daarvoor verantwoordelik was.

“Die beskuldigde was die enigste aanvaller. Hy het probeer om sy betrokkenheid weg te steek en die polisie te mislei.”

Hierdie moorde was beplan, het Cloete gesê. Die hof moet dus bevind dat die moorde met voorbedagte rade gepleeg is.

Hiermee het hy sy betoog afgesluit. Cloete het weer sy sitplek ingeneem en Kgomo het daarop gewys dat hy verbaas sou wees indien die seun die vuurwapens in die gras sien lê het, maar nie die Nissanbakkie op die Niekerkshooppad buite die hek opgemerk het nie. Coetzee het nie op hom laat wag nie en gesê dat die seun nooit die plaaswerkers daarvan verdink het dat hulle by die moorde betrokke was nie. Dit het Kgomo egter koudgelaat.

Dit was nou die verdediging se beurt. Coetzee het met sy slotpleidooi begin deur te fokus op die staat se bewerings dat sy kliënt ’n leuenaar is. Die seun se ouderdom van vyftien jaar en agt maande moet in ag geneem word, het hy gesê, maar Kgomo het onderbreek en gevra hoe die waarheid komende van ’n volwassene verskil van dié van ’n kind. Die advokaat het toegegee dat dit nie verskil nie.

Voorts het Coetzee gesê dat hy dit onwaarskynlik vind dat iemand wat sopas drie mense vermoor het so geskok en getraumatiseer soos die beskuldigde sou voorkom toe hy die moorde aangemeld het. Hy het ook gesê dat dit onwaarskynlik is dat die skuur se ligte aan was, aangesien dit nog nie heeltemal donker was toe die moorde plaasgevind het nie.

Kgomo het Coetzee weer onderbreek. Indien die ligte aangeskakel was, sou dit vir die beweerde aanvaller duidelik gewees het dat die seun in die skuur skuil.

“Met respek, dis slegs ’n afleiding wat ’n mens kan maak en nie die getuienis van my kliënt nie,” het Coetzee geantwoord.

Kgomo het nog vrae gehad. Hy het duidelik ’n probleem gehad met die seun se storie dat hy in die skuur was. Hoekom het die seun Marthella nie hoor skree nie? Coetzee het geantwoord dat die seun slegs gesê het dat hy nie kan onthou nie. Net omdat hy nie kan onthou nie, beteken nie noodwendig dat hy jok nie.

Die regter was egter nie van plan om dit net daar te laat nie. Hy het elke stelling bevraagteken wat Coetzee gemaak het. Wat wou die aanvaller bereik deur Marthella buite aan te rand? Coetzee het gesê dat hy nie die vraag kan beantwoord nie omdat daar nie getuienis is om dit te steun nie. Hy was van mening dat die aanvaller haar wou doodmaak. Maar, het Kgomo geantwoord, dit is duidelik dat die aanvaller haar eers wou laat ly. Coetzee kon nie hierop antwoord nie. As ’n mens op waarskynlikhede sou steun, hoekom sou die aanvaller die wapens neergooi of agterlaat? Weer eens het Coetzee nie ’n antwoord gehad nie. Hy wou ook nie daaroor bespiegel nie. Indien die seun regtig die plaaswerkers wou waarsku, sou hy die bakkie se toeter geblaas het, maar hy het nie. Hoekom nie? Weer het Coetzee nie ’n antwoord gehad nie.

Coetzee het vervolgens gefokus op die bewerings oor die beskuldigde se eerstehandse kennis van die moorde en die wonde. Hy het aangevoer dat die seun op enige manier daarvan te wete kon kom, soos tydens ’n gesprek met ’n polisiebeampte of ’n familielid. Kgomo wou egter weet hoekom die seun nie kan onthou hoekom hy en Marthella voor die moorde gestry het nie.

“Gee hy voor dat hy ’n swak geheue het of het hy werklik ’n swak geheue? Hoekom kan hy dit nie onthou nie, want dis tog uiters belangrik?” het die regter gevra.

Coetzee het nie ’n gepaste antwoord gehad nie en Kgomo het gesê dat hy dit moeilik vind om te glo dat ’n tiener iets so belangrik soos ’n stryery sou vergeet slegs ’n paar uur nadat dit plaasgevind het.

Coetzee het toe gefokus op die aanklag van verkragting en gesê dat die verdediging se enigste redelike afleiding is dat Marthella nie verkrag is nie. Die feit dat haar maagdevlies lank voor die voorval reeds geskeur was, kon net een ding beteken: Sy was reeds seksueel aktief. Daar was geen fisiese bewyse, het hy gesê, dat die seun die besering aan haar vagina veroorsaak het nie. Verder was daar geen beserings om te bewys dat haar bene oopgeforseer is nie. Coetzee het aan die hand gedoen dat die staat ’n motief gesoek het met betrekking tot die aanklag van verkragting, maar dat daar verskeie ander moontlikhede bestaan wat die seun se betrokkenheid weerlê.

“As die beskuldigde ’n konsensuele seksuele verhouding met Marthella gehad het, hoekom sou sy nou skielik haar pa daarvan wou vertel?” het Coetzee gevra.

Hy het dit toe nog ’n stap verder gevoer, soos ek geweet het hy sou, en aangevoer dat daar ’n moontlikheid is dat Deon vir die beserings aan Marthella se vagina verantwoordelik kon wees, aangesien hy die enigste ander man was wat kontak met haar gehad het.

“Hoekom sê jy so? Is dit volgens instruksies?” het Kgomo gevra.

“Dit was inderdaad my instruksies,” het Coetzee gesê.

Dit het die regter gepla en hy het die verdediging daaraan herinner dat sy kliënt hom nie instruksies kan gee om sekere dinge te sê nie. Die kliënt kan voorstelle maak vir sy eie verdediging, maar dit is die advokaat se plig om getuienis te vind om sulke bewerings te staaf voor betoë in die hof gelewer word. Kgomo was duidelik nie tevrede met die manier waarop Coetzee hierdie “nuwe getuienis” hanteer het nie. Hy het Coetzee tereggewys, maar dié het hom nie veel daaraan gesteur nie en daarna aangekondig dat hy klaar is met sy slotpleidooi. Kgomo het die hof verdaag tot 12 Desember 2013 vir die uitspraak.

Ek het later te hore gekom dat Heckroodt en die seun glad nie tevrede was met Coetzee se slotpleidooi en die feit dat die regter hom tereggewys het nie. Dit is te begrype omdat dit die verdediging se saak ondermyn het, maar hoe kon daar in die eerste plek van Coetzee verwag word om sulke ongegronde bewerings by sy slotpleidooi in te sluit? Wat my betref, was ek net bly dat die einde in sig is sodat ek met my lewe kon aangaan.

Maar op 11 Desember, ’n dag voor die uitspraak, het die Diamond Fields Advertiser ’n berig geplaas waarin beweer is dat die beskuldigde en sy voog hul regspan weens ’n beweerde vertrouensbreuk afgedank het. Dit was verbasende nuus.

Ek het De Jager gebel en by hom verneem dat hy ’n SMS ontvang het dat sy mandaat onttrek is om die seun te verteenwoordig. Hy was net so geskok en verward soos ek. Hy het egter geweier om te erken dat hulle in die pad gesteek is en gesê dat hy, Coetzee en Erasmus die volgende dag in die hof sou verskyn, maar slegs om hulle formeel aan die saak te onttrek. Ek kon nie anders as om te dink dat dit net nog ’n vertragingstaktiek is nie: ’n poging deur die beskuldigde om die uitspraak uit te stel en sy vryheid tot ná Kersfees te geniet.

Ek het gehoor dat die prokureur Riaan Bode nou deur Heckroodt aangestel is. Nadat ek met verskeie regskenners gepraat het, soos die voormalige landdros en huidige advokaat Marthinus Kruger, het dit duidelik geword dat Bode heel waarskynlik óf sou vra dat die saak heropen word óf sou betoog vir ’n aanvullende slotpleidooi of vir ’n verdaging.

Daardie spesifieke dag, 11 Desember 2013, sou Marthella se sestiende verjaarsdag gewees het. Huisgenoot het verskeie liefdevolle briewe van haar vriende in daardie week se uitgawe gepubliseer. Dit was hartroerend om die minste te sê.

Toe die hofverrigtinge die volgende oggend begin, het Coetzee namens sy regspan gepraat en Kgomo se toestemming gevra om hulle aan die saak te onttrek omdat hul mandaat “beëindig” is. Kgomo het nie ingenome gelyk nie.

Cloete het opgestaan en aan die regter gesê dat alhoewel daar niks is wat hy aan die besluit kan doen nie, hy voel dat tyd al weer onnodig verkwis word.

Nadat Kgomo die saak oordink het, het hy gesê: “Ek moet dit seker toelaat. Julle het toestemming om julle te onttrek.”

Hiermee het Coetzee en Erasmus die hofsaal verlaat, en Bode het opgestaan om die hof toe te spreek. Hy het aanvanklik sag gepraat, maar Kgomo het hom gou aangesê om harder te praat. Nadat hy hom voorgestel het, het die prokureur gevra om ’n aansoek in te dien. Dit het aan die lig gekom dat daar onversoenbare verskille tussen die beskuldigde en sy voormalige regspan is. Bode het om uitstel gevra kragtens artikel 168 van die Strafproseswet, wat lui dat ’n hof ’n verhoor kan uitstel tot enige toekomstige datum van die hof se keuse. Cloete het gesê dat die staat die aansoek om uitstel teenstaan.

Nadat Kgomo sy opsies oorweeg het, het hy gesê dat hy óf kan uitspraak lewer óf kan uitstel, maar wat sou regverdig wees teenoor die seun? Sou dit in die belang van geregtigheid wees om die aansoek om uitstel te weier?

“Dis vir my ’n moeilike besluit omdat hierdie aansoek in so ’n gevorderde stadium van die verhoor my ontstel,” het Kgomo gesê.

Hy het daarop gewys dat die regspan se mandaat weke vroeër beëindig kon word om te voorkom dat die uitspraak verder uitgestel word. Hy het Cloete gevra of dit die staat se saak sou benadeel indien hy die aansoek weier, waarop die staatsaanklaer geantwoord het dat hy versigtig is om gronde te bied vir ’n appèl. Cloete wou duidelik die beste hê vir die langtermynuitkoms van sy saak vorentoe.

Die seun se regte is sedert sy inhegtenisneming in alle opsigte gehandhaaf, het Cloete gesê. Die beskuldigde het vir ongeveer een-en-twintig maande behoorlike regsverteenwoordiging gehad van regsgeleerdes wat saam meer as negentig jaar se ervaring het. Dit het nie daaroor gegaan of die voormalige regspan goed genoeg was of nie.

“Advokate is nie houtpoppe nie en slotpleidooie is nie ’n sirkus nie.”

Alhoewel ons nie toegang tot die inhoud van die aansoek gehad het nie, het dit gelyk asof Cloete impliseer dat Heckroodt ’n groot probleem gehad het met die manier waarop Coetzee sy slotpleidooi hanteer het. Wat Kgomo se teregwysing betref, het Cloete daarop gewys dat dit nie vir ’n regter ongewoon is om betoë te toets deur moeilike vrae te vra nie en dat dit nie ’n aanduiding is dat die advokaat se prestasie swak is of dat hy die saak sal verloor nie.

“Die voog se besware teen Coetzee is beuselagtig.”

Heckroodt het skynbaar ook die kruisondervraging van twee getuies bevraagteken, maar Cloete het weer eens gesê dat advokate nie houtpoppe is nie. Kgomo het hieroor gelag en aan die advokaat gesê dat hy versigtig moet wees hoe hy die woord uitspreek, aangesien iemand dalk kan dink dat hy “houtkoppe” sê: ’n vernederende en rassistiese woord wat tydens apartheid gebruik is om na swart mense te verwys. Cloete het net geglimlag en toe gesê dat die aansoek voldoende is om uitstel toe te staan.

“Ons moet vra of dit nie die oudste truuk in die boek is nie. Ons sê dit is duidelike manipulering van die regsproses en ’n misbruik van mag,” het Cloete gesê.

Aangesien Bode teenwoordig is as die seun se regsverteenwoordiger, het Cloete afgesluit, is geen verdere voorbereiding nodig nie en kon die uitspraak voortgaan.

Nadat Kgomo ’n ruk lank oor alles nagedink het, het hy gesê: “Ons het een-en-twintig maande aan hierdie saak afgestaan, dus wat sal ’n verdere drie maande of so saak maak behalwe om ongerief te veroorsaak?”

Hy het egter bygevoeg: “Geregtigheid wat uitgestel word, is geregtigheid wat misken word.”

Cloete het dit as ’n geleentheid gebruik om daarop te wys dat hulle die seun uiters tegemoetgekom het. Die hof het ’n plig teenoor die Steenkampfamilie om geregtigheid vinnig te laat geskied, het hy gesê. ’n Kind geniet nie noodwendig meer regte nie, het hy afgesluit, en hulle het ’n plig teenoor alle aspekte van die wet.

Bode het niks verder gehad om by te voeg nie en Kgomo het sy beslissing gegee. Hy het begin deur te sê dat die aansoek ter elfder ure ingedien is en dat ten spyte van sy misnoeë daaroor, die verdediging se aansoek meriete het. Kgomo het toe uit ’n ander beslissing voorgelees en aangehaal: “’n Regter is nie ’n stom skeidsregter nie, maar moet ’n verhoor bestuur.” Volgens presedentereg, het hy gesê, moet staatsgeld nie vermors word op die onnodige uitstel van ’n saak nie. Hy was egter bereid om die aansoek toe te staan om die verhoor tot 18 Maart 2014 uit te stel.

Ten minste kon almal nou vir ’n ruk ontspan en Kersfees en Nuwejaar geniet, het ek gedink.

Ek het ’n lid van die seun se voormalige regspan, wat anoniem wou bly, gebel en hom gevra hoe hy gevoel het nadat hulle in die pad gesteek is. Hy het aan my gesê dat dit een van die moeilikste sake van sy loopbaan was en dat hy eintlik verlig is. Hy het beweer dat hulle opdrag ontvang het om die scenario’s in te sluit rakende Deon wat Marthella verkrag en die seun wat ’n konsensuele seksuele verhouding met Marthella gehad het, maar dat dit moeilik was om dit te doen omdat daar geen getuienis was om hierdie wilde aantygings te steun nie. Hoe meer ek na hom geluister het, hoe meer het ek besef dat hierdie persoon weet dat die seun skuldig is. Ek het hom gevra hoekom hulle die seun toegelaat het om te getuig en hy het geantwoord dat hulle geen ander keuse gehad het nie omdat hy die enigste een was wat homself kon verontskuldig. Ek het hom gevra vir sy mening oor die nuutste uitstel en hy het aan my gesê dat indien die regter van plan was om die seun onskuldig te bevind, hy met sy uitspraak sou voortgaan en die seun sou vrystel.

Die maande wat Maart 2014 voorafgegaan het, was meestal rustig en sonder enige belangrike gebeurtenisse, behalwe een hartseer en tragiese voorval. Cloete se suster, Carin Rabbets, en haar agttienjarige seun, Ralph, het in ’n motorongeluk buite Richmond in die Noord-Kaap gesterf. Haar man, Wessel Rabbets, het dit oorleef.

Die media het in die tyd voor die verhoor sou hervat selde oor die beskuldigde berig. Ek dink hy en Heckroodt het dit geniet om nie 24/7 deur die media gepla te word nie. Ek het ’n paar foto’s van hom gesien waar hy ’n bul by die een of ander rodeo gery het en êrens gelees dat hy besluit het om sy matriek eers in 2015 klaar te maak ná die moordverhoor. Dit het sin gemaak: Dit kon nie maklik gewees het om te leer met die swaard van lewenslange tronkstraf wat oor jou kop hang nie.

Ek het my gelukkig geag dat die SAUK, my nuwe werkgewer, uit hul pad gegaan het om my in staat te stel om die verhoor enduit by te woon. Ek het op 17 Maart 2014 weer eens met die N12 Kimberley toe gery en is vir die soveelste keer deur dorpe soos Potchefstroom en Warrenton. Hierdie lang ritte van byna vyf uur het my altyd tyd gegee om te dink, veral oor wat voorgelê het. Ek kon my nie indink dat Bode net aanvullende slotpleidooie sou inhandig nie, aangesien ek gehoor het dat die seun die hof wou oortuig dat Marthella óf deur iemand anders verkrag is óf dat sy glad nie verkrag is nie. Hiervoor moes nuwe getuienis aangehoor word, wat sou beteken dat die verhoor heropen moes word.

Ek was die volgende oggend vroeg in die hof. Die enigste ander persoon in die hof was die pragtige Lani Fouché van OFM, wat daardie oggend vermoedelik heeltemal te vroeg uit Bloemfontein weg is. Ons het nuus uitgeruil en bespiegel oor wat daardie dag sou gebeur. Die hofsaal was gou vol joernaliste, regsgeleerdes, familielede van die oorledenes – onder andere die seun se grootouers aan moederskant en sy ouma en tannie aan vaderskant, Deon se niggie Isobel Fourie en haar man Hennie – en die beskuldigde se ondersteuners, onder andere sy ma se suster, die Heckroodts, Bennie Heckroodt se suster Marietjie Krös en Marina Steenkamp.

Aan weerskante van ’n ernstige Bode het drie vroulike assistente gesit. Later sou hierdie getal tot vyf vermeerder en die Vader alleen weet wat hulle almal eintlik gedoen het.

Kgomo het ingekom en die verrigtinge het uiteindelik begin. Bode was eerste aan die beurt en het die hof ingelig dat hy ’n aansoek wil indien om die saak te heropen. Alhoewel ek dit verwag het, was ek steeds geïrriteerd dat die seun weer ’n keer probeer om die onvermydelike uit te stel. Bode het verskeie dokumente ingehandig en aan die regter gesê dat hy meer getuies wil roep.

“Meneer Bode, ek het u aansoek deurgelees, maar ek wil graag van die staat hoor,” het Kgomo gesê.

“Edelagbare, ons is gereed,” het Cloete gesê. “Die staat sal die aansoek teenstaan.”

Alhoewel Cloete eers om 22:00 die vorige aand ’n afskrif van Bode se aansoek ontvang het, het hy ’n afskrif van ’n nuwe patoloog se verslag aan dokter Els gestuur en hulle het dit saam teengestaan. Die verdediging het blykbaar ’n patoloog in die hande gekry wat bereid was om Els en Fouché se getuienis te weerlê en te getuig dat Marthella nie verkrag is nie.

Die skerpsinnige Kgomo het daarop gewys dat die vorige verdediging in hul slotpleidooi gesinspeel het op bloedskande of selfs verkragting deur die pa, waardeur hulle bykans toegegee het dat seksuele penetrasie wel plaasgevind het. Bode het saamgestem, maar aangevoer dat sy voorgangers nie een van die staat se patoloë gekruisondervra het oor die moontlikheid dat Deon sy dogter kon verkrag het nie. Hy het toe uit die nuwe patoloog se verslag voorgelees, wat aangedui het dat die rooi merk nie ’n besering was wat deur seksuele penetrasie veroorsaak is nie, maar dat dit heel waarskynlik deur Marthella self veroorsaak is. Kgomo het egter daarop gewys dat Els en Fouché alle vrae oor hierdie rooi merk deeglik beantwoord het.

’n Heftige argument tussen Bode en die regter het gevolg, aangesien die prokureur rondgespring het oor die kwessie van sy voorgangers se bevoegdheid. Die regter het daarop gewys dat die vorige verdediging toegang tot hul eie patoloog vir die duur van die verhoor gehad het, maar verkies het om hom nie as getuie te roep nie. Hy het gesê dat die seun drie regsverteenwoordigers gehad het om hom by te staan en te adviseer, asook sy voog.

“Dink jy dat professor Loftus [die verdediging se patoloog] nie bevoeg is nie?” het Kgomo gevra.

Bode wou nie in die openbaar sê dat iemand onbevoeg is nie en het sy stilswye gehandhaaf.

Kgomo het Bode toe gevra of hy regtig weet wat dit verg om ’n verhoor te heropen. Die prokureur het voortgeploeter en uiteindelik die gronde vir die heropening van die verhoor voorgelees. Bode het beweer dat verskeie getuies, soos Loftus, nie beskikbaar was nie, maar Kgomo het nie saamgestem nie. Loftus was beskikbaar vir die verdediging, het hy gesê. Beskikbaarheid beteken nie onmiddellik beskikbaar nie en as regter sou hy die verhoor met genoeë vir verskeie dae uitgestel het om enige getuie tegemoet te kom. Bode het toe sy taktiek verander en weer aangevoer dat sy voorgangers onbevoeg was aangesien hulle geen voorneme gehad het om getuies soos Loftus te roep nie.

Op een stadium het Bode aangevoer dat nóg die seun nóg sy voog sy voorgangers opdrag gegee het om in hul slotpleidooi te sê dat Deon moontlik vir Marthella verkrag het en/of dat die beskuldigde ’n konsensuele seksuele verhouding met haar gehad het. Maar Kgomo het hom tereggewys en gesê dat advokate aan sekere etiese kodes onderworpe is, wat dit hoogs oneties maak om die hof te mislei en dit is dus onwaarskynlik dat hulle dit sou gedoen het.

Bode het hom nie daardeur laat afskrik nie en het volgehou dat sy voorgangers se hantering van die seun se verdediging veel te wense oorlaat. Hy het oor nuwe feite beskik en wou die verhoor heropen. Die beskuldigde het die reg om nuwe getuienis aan te bied, aangesien hy nog ’n kind is en beskerming volgens die grondwet geniet, het hy gesê. Bode het ’n aanhaling voorgelees uit die vereistes vir die heropening van ’n verhoor ná slotpleidooie gelewer is en toe gesê: “Getuienis moet wesenlik betrekking hê en relevant vir die uitkoms van die verhoor wees.” Uitsonderlike omstandighede word benodig, het hy toegegee, maar ’n lang tronkstraf en ernstige aanklagte staar die seun in die gesig. Dit dui op uitsonderlike omstandighede. Verder sou hul patoloog, dokter Naidoo, die volgende twee dae en die week daarna elke dag beskikbaar wees indien die verhoor heropen sou word.

“Dit sal nie onmoontlik wees om hierdie verhoor in die volgende tien dae af te handel nie,” het Bode afgesluit.

In antwoord hierop het Cloete opgestaan en die hof ingelig dat hulle die aansoek teenstaan.

Die beskuldigde het vorentoe geleun en hoorbaar gesug.

Cloete het daarop gewys dat sy kollega, advokaat Quinton Hollander, die dokumente saamgestel het wat die aansoek teenstaan en gesê: “Die verdediging het kundiges gehad van wie hulle inderdaad tydens die verhoor gebruik gemaak het. Voor kruisondervraging het advokate Coetzee en Erasmus met Loftus beraadslaag en hulle het gekies om nie die patoloë te kruisondervra oor die besware wat nou geopper word nie.”

Cloete kon minstens drie gevalle onthou waar die verdediging ’n verdaging versoek het sodat hulle hul kundiges voor kruisondervraging kon raadpleeg. Daar was hoegenaamd geen aanduiding dat die vorige verdediging nie vir Loftus geraadpleeg het nie en daarom moet die hof aanneem dat hulle het.

“Dokter Naidoo is die derde patoloog wat die verdediging oor die beweerde verkragting geraadpleeg het.”

Die implikasie was dat die ander twee patoloë met Els en Fouché se bevindings saamgestem het. Cloete het toe daarop gewys dat die verdediging nooit die feit dat Marthella seksueel gepenetreer is in hul slotpleidooi betwis het nie. Dit is nou vir regter Kgomo om te besluit, het hy gesê, of Naidoo se bevindings akkuraat is en as die waarheid aanvaar kan word voor hy toestemming verleen dat die verhoor kan heropen.

Toe verras Cloete almal deur te sê dat Naidoo se bevindings blykbaar nie gefinaliseer is nie. Verder het die patoloog, volgens sy CV, oënskynlik geen ondervinding of relevante opleiding op die gebied van seksuele aanranding nie.

In hierdie verslag het Naidoo skynbaar beweer dat Marthella haarself heel waarskynlik gekrap het en dat dit die besering aan haar vagina kon veroorsaak het. Maar Cloete het daarop gewys dat die patoloog nooit die moeite gedoen het om te kyk hoe lank die meisie se naels was nie. Aangesien haar naels in werklikheid baie kort was, kon dit nie die oorsaak gewees het nie. Naidoo het ook beweer dat Marthella ’n vaginale infeksie gehad het, maar daar was geen bewyse van ’n vaginale afskeiding tydens die nadoodse ondersoek of op die foto’s nie.

“Dit lyk nie of Naidoo se verslag betroubaar is nie.”

Cloete het afgesluit deur te sê dat hy glo dit onregverdig sou wees om aan te neem dat indien die staat se motief wegval, die hele saak sou ineenstort.

Die hof het vir ongeveer ’n uur en ’n half verdaag terwyl Kgomo sy besluit geneem het. Toe die regter terugkeer, het die beskuldigde hoopvol na hom gekyk.

“Ek het besluit dat die verdediging nie genoegsaam hul saak bepleit het sodat ek hierdie verhoor kan heropen en hulle nog ’n getuie kan roep nie,” het Kgomo gesê.

Dit is te begrype dat die seun en verskeie van sy vurigste ondersteuners baie teleurgesteld gelyk het. Die verhoor is uitgestel tot Dinsdag 25 Maart 2014 sodat die staat sowel as die verdediging hul slotpleidooie kon lewer. Kgomo het Bode gewaarsku dat hy niks moes herhaal nie, aangesien dit die tweede rondte van slotpleidooie sou wees wat hy moet aanhoor. Dit het beteken dat Bode heel waarskynlik ’n aanvullende slotpleidooi skriftelik by die regter sou indien. Cloete sou dan ’n kans hê om daarop te reageer.

Die einde was uiteindelik in sig. Die beskuldigde het reeds alle moontlike maniere probeer om die onvermydelike uit te stel. Sy gesig was bloedrooi toe hy die hofsaal verlaat het, of dit nou van stres of woede was, kan ek nie sê nie, maar elke keer dat ek hom daarna gesien het, het dit gelyk of hy meer gewig verloor het. Sy ondersteuners was duidelik nie baie ingenome met die nuus nie. ’n Paar van hulle het in die hof gebid nadat die regter die hofsaal verlaat het en hulle het, soos altyd, probeer om die beskuldigde moed in te praat.

Die volgende week het verbygevlieg. Ek het laat Maandagaand 24 Maart 2014 na Kimberley teruggekeer en oor die vorige twee jaar nagedink. Ek het vanaf die heel eerste dag geweet dat die seun heel waarskynlik skuldig is, maar wat as ek verkeerd was? Baie mense het my daardie week om my opinie gevra, maar ek het maar net gesê dat ons moet wag en kyk wat gebeur.

Die slotpleidooie op 25 Maart het verloop soos verwag. Ek het opgemerk hoe bekommerd die beskuldigde en sy voog gelyk het. Voor die hofverrigtinge begin het, het hulle albei met hul rûe gedraai na die media, diep in gesprek, aan die verste kant van die beskuldigdebank gestaan.

Bode was eerste aan die beurt. Hy het aan die hof gesê dat hy die slotpleidooi gewysig het wat Coetzee in Desember van die vorige jaar ingehandig het. Met verwysing na die gedeelte waar Kgomo vir Coetzee tereggewys het oor hy ongegronde betoë oor Marthella se verkragting by hul slotpleidooi gevoeg het, het Bode gesê dat die beskuldigde nooit ’n pleitverduideliking verskaf het nie en aangevoer dat sy vorige regspan hom nie korrek verteenwoordig het nie.

“Ek’s nie seker ek verstaan wat jy probeer sê nie. Voer jy aan dat advokaat Coetzee sonder instruksies opgetree het?” het Kgomo gevra.

“Dis my instruksies dat nóg die beskuldigde nóg sy voog vir Coetzee opdrag gegee het om te sê dat Deon vir Marthella verkrag het,” het Bode geantwoord.

“Hoekom erken die beskuldigde of sy voog nie dat hulle verkeerd verteenwoordig is nie?” het Kgomo gevra.

Bode het hierdie vraag probeer omseil deur te sê dat sekere feite nie tydens die verhoor aangeroer is nie, maar Kgomo het aangevoer dat advokate volgens instruksies van hul kliënte optree. Hoekom is dit nie alles voor die uitstel van die verhoor geopper nie, het die regter kwaai gevra.

“Sê u advokaat Coetzee is onbevoeg?”

“Nee.”

Bode het beweer dat Coetzee sy eie aannames gemaak het en daarom aangevoer het dat Deon moontlik vir Marthella verkrag het. Maar, het hy herhaal, dit was nie in opdrag van sy kliënt nie. Dit het vir my gelyk, noudat Andries en Marina Steenkamp die Heckroodts gehelp het met die betaling van die seun se regsfooie, asof die seun en sy verdediging skielik ongemaklik voel om Deon se naam te beswadder. Ek vermoed die enigste manier waarop die beskuldigde uit hierdie gemors kan kom was om die skuld op Coetzee te pak, wat nie in die hof was om homself te verdedig nie.

Bode het voortgegaan en bevestig dat nóg die staat nóg die nuwe verdediging sê dat Deon enige seksuele misdade gepleeg het.

Alhoewel die prokureur nie toegelaat is om sy patoloog as getuie te roep nie, het sy aanvullende slotpleidooie nietemin uitsluitlik gefokus op die feit dat Marthella, volgens Naidoo, nie verkrag is nie. Dit was duidelik dat Bode steeds probeer het om die staat se motief vir die moorde te weerlê en dat hy gedink het hy sodoende die seun se vryheid sou bewerkstellig.

“Marthella is nie seksueel deur die beskuldigde aangerand nie,” het hy gesê.

“Wie het dan? Deon?” het Kgomo gevra.

“Nee, daar is ’n ander moontlikheid behalwe seksuele penetrasie wat die besering kon veroorsaak het.”

“Volgens watter getuienis?”

Bode het sy bes probeer om die ietwat ongeduldige regter te paai. Hy het die definisie van verkragting hardop in die hof voorgelees, maar Kgomo het daarop gewys dat enige voorwerp, en nie net ’n menslike liggaamsdeel nie, in verkragting gebruik kan word.

“Die staat was verplig om die beskuldigde presies te sê hoe hy Marthella verkrag het sodat hy kon weet hoe om hom behoorlik te verdedig,” het Bode aangevoer.

In antwoord hierop het Kgomo basies gesê dat dit nie waar is nie. Die regter het Bode toe gewaarsku dat sy betoë in die verkeerde rigting begin neig en dat hy besig was om “’n groot fout” te begaan.

“Hoekom dink jy is Marthella gemartel en nie haar ouers nie?” het Kgomo ’n ruk later gevra.

Bode het die regter geïgnoreer en begin om die misdaadtoneel te bespreek, maar Kgomo het hom weer gevra.

“Meneer, hoekom dink u is sy gemartel?”

Bode het probeer verduidelik, maar dit het nie sin gemaak nie, waarop hy probeer het om die regter se vraag te omseil.

“Dink u dat u my vraag beantwoord het?”

Bode het voortgegaan om presedentereg te bespreek, maar Kgomo het hom weer in die rede geval.

“Ek’s regtig nie geïnteresseerd in enigiets wat nie op rekord geplaas is of getuienis wat nie in die hof betwis is nie,” het hy gesê.

Die prokureur het toe begin met ’n ellelange betoog oor hoe onbevoeg die polisie was omdat hulle nie daarin kon slaag om een bruikbare vingerafdruk te vind nie. Hoekom, as daar so baie mense in die huis was, is geen ander vingerafdrukke gevind nie? Dit was ’n geldige punt, maar Kgomo wou niks hiervan weet nie.

“Wat moet die polisie doen as hulle geen ander vingerafdrukke kan vind nie? Jou betoog grens nou aan bespiegeling,” het die regter gewaarsku.

“Die beskuldigde se vingerafdrukke is nie op die vuurwapens gevind nie …” het Bode begin.

“Wie dink jy het dit aan die polisie oorhandig?” het Kgomo gevra.

Bode het toe die fokus verskuif na die groen Jeep-baadjie en die bloedbevlekte mat wat deur Joe Scholtz tot niet gemaak is en nooit vir DNS getoets is nie. Bode het gevra hoekom Deon ’n baadjie wou aantrek as almal somersklere aangehad het. Hy het gesê dat dit vreemd en ongewoon was, en aangevoer dat onbekende DNS dalk daarop gevind sou word indien dit getoets kon word.

“Ons sal nooit weet nie omdat dit tot niet gemaak is.”

Die misdaadtoneel is ook deur die polisie versteur, het hy voortgegaan, en daarom kon geen voetspore geïdentifiseer en ondersoek word nie. Hierop het Kgomo hom gevra wat die polisie moes gedoen het: Moes hulle nie die huis binnegegaan het om vir moontlike oorlewendes en/of indringers te soek nie? As dit nie die seun was nie, het die regter gevra, wie was dit dan? Die prokureur het gesê dat hy nie die vraag kan beantwoord nie omdat die verdediging nie vingers kan wys na ’n derde party of kan sê dat iemand anders daar was nie. Die regter het daarop gewys dat dit onwaarskynlik is dat iemand anders vier-en-veertig minute lank in die huis kon weggekruip het. Hy het ook op verskeie ander aspekte gewys wat bewys het dat dit onwaarskynlik is dat ’n indringer op die plaas of in die huis was.

“Jy hou regtig daarvan om te bespiegel. Hou asseblief net by die getuienis,” het Kgomo geskerts.

Die regter het Bode gevra waar die beweerde indringer in die huis weggekruip het. Bode het probeer argumenteer dat hy nie die hele tyd in die huis kon gewees het nie, maar Kgomo het dit duidelik gemaak dat die indringer nêrens anders kon heen nie.

Die prokureur het afgesluit deur te betoog dat die moorde nie vooraf beplan kon gewees het nie omdat die seun die einste vuurwapens wat hom inkrimineer, ingehandig het.

Ná ’n ietwat uitputtende oggend het ons vir middagete verdaag.

Ná die pouse het Cloete aan die hof gesê dat hy slegs sekere aspekte van Bode se betoog wou bespreek, aangesien Kgomo reeds oor die staat se geskrewe voorleggings beskik. Die staat was van mening dat Marthella verkrag is volgens die nuwe definisie van verkragting, het hy gesê. Hulle het nooit gesê dat Marthella deur ’n penis gepenetreer is nie, maar slegs dat sy seksueel gepenetreer is volgens die wetlike definisie van verkragting.

“Die verdediging se drie probleme is dat hulle nie die vorige verdediging openlik wou kritiseer of wou sê dat hulle onbevoeg was nie, en dat hulle erken dat die polisie se ondersoek deeglik was.”

Coetzee en Erasmus het hulle baie goed van hul taak gekwyt, het Cloete voortgegaan. Die seun is goed ingelig en het die aanklagte begryp waarop hy teregstaan. Verder het die verdediging nie eintlik iets ter tafel gebring in die vorm van nuwe getuienis ná hulle om uitstel gevra het nie.

“Ek het ook gedink toe ek die uitstel op 12 Desember toegestaan het dat iets nuuts aan die lig sou kom, maar dit het nooit nie,” het Kgomo saamgestem.

Cloete het vervolgens verskeie tekortkomings in die seun se verdediging uitgewys, soos waarom hy lewend agtergelaat is om vrylik in die huis rond te beweeg; die feit dat hy erken het dat hy voor die moorde ’n argument met Marthella gehad het; en dat die seun homself as ’n verdagte geïdentifiseer het lank voor die polisie dit ooit gedoen het.

“Die seun se weergawe van gebeure was altyd hoogs onwaarskynlik,” het Cloete afgesluit.

Bode het opgestaan om teen verskeie van Cloete se bewerings beswaar te maak, maar kort voor lank was hy ook klaar. Nou het dit by Kgomo berus om ons in te lig wanneer hy sy uitspraak sou lewer.

Ek het aanvanklik verwag dat uitspraak daardie Vrydag gelewer sou word, maar Kgomo het ons almal verras deur aan te kondig dat dit sy voorneme is om dit Donderdag te lewer: “Die hof sal om 08:45 begin omdat my uitspraak baie lank is,” het hy gesê.

Die beskuldigde het nie geglimlag soos sy gewoonte was ná ’n lang dag in die hof nie. In plaas daarvan het ’n wolk van onheil hom en sy groep ondersteuners omgewe.

Ek was bekommerd dat Kgomo dalk daardie dag dinge te ver kon gedryf het en in die proses moontlike gronde vir die verdediging kon bied om teen sy uiteindelike beslissing appèl aan te teken. Hy het Bode gedurig onderbreek en by tye aan hom gesê dat hy verkeerd is. As gevolg hiervan het hy die prokureur nie regtig kans gegee om sy werk te doen nie. Daar is ’n regsbeginsel wat regters verbied om die strydperk binne te tree, aangesien hulle eintlik net toegelaat word om vrae te stel met die doel om duidelikheid te verkry. Kgomo het duidelik nie hierby gehou nie en die beskuldigde sodoende gronde gebied vir vryspraak deur die appèlhof. Kon dit al die tyd Bode se strategie gewees het? Ongelukkig was dit nie die eerste keer dat Kgomo dit gedoen het nie.

In September 2008 het die appèlhof, gelei deur regter Nathan Ponnan, die skuldigbevinding en gevolglike vier-en-twintig jaar lange vonnis van Joseph le Grange, wat daarvan aangekla is dat hy die dertienjarige Biron Phetlo vermoor het, tersyde gestel. Die vyf regters het Kgomo tereggewys omdat hy rasbevooroordeeld was teenoor wit Afrikaners, wat sy oordeel beïnvloed het. Hulle het gesê dat Kgomo die mees basiese beginsels van goeie geregtelike gedrag oortree het deur in werklikheid as staatsaanklaer oor te neem. In ’n bevinding wat herinner aan die Griekwastad-saak het die appèlregters ook bevind dat Kgomo op ’n vroeë stadium reeds besluit het dat die getuies vir die staat die waarheid praat en dat die beskuldigde gejok het. Hulle het gesê dat Kgomo se kommentaar tydens die verhoor nie op onpartydigheid gedui het nie.

Soos die geluk dit wou hê, was Cloete ook die staatsaanklaer in hierdie verhoor. Hy het aan my verduidelik dat die regters aangevoer het dat die staat en die verdediging albei bevoegde regsverteenwoordigers gehad het en dit daarom vir Kgomo onnodig was om so betrokke te raak. Nadat Le Grange se skuldigbevinding tersyde gestel is, het Cloete hom weer aangekla en weer sy saak gewen.

Ek het Donderdag 27 Maart 2014 baie opgewonde wakker geword met die wete dat dit my laaste dag by die Griekwastad-moordverhoor was. Twee jaar van intens ondersoek doen, soek na die waarheid en die kompetisie met die nuus voorspring, het alles op vandag se verrigtinge uitgeloop.

Die hofsaal het daardie oggend vinnig vol geraak. Baie ou gesigte, soos McAnda en Mohithli, was teenwoordig om die uitslag van hul harde werk te hoor. Die beskuldigde het sy plek ingeneem en het ’n paar minute lank kop onderstebo gesit. Hy het verslae gelyk en ek was seker hy was ’n emosionele wrak. Dit kon nie maklik gewees het om te weet dat hy die hofgebou dalk vir die laaste keer as ’n vry mens betree het nie.

Kgomo het ingekom, gaan sit en onmiddellik sy beslissing begin voorlees: ’n dokument van agt-en-vyftig bladsye wat hom vier uur sou neem om klaar te lees. In ’n poging om die seun se identiteit geheim te hou, het die dokument soos volg na hom verwys: “In die saak tussen die staat teen DD.”

Kgomo het begin deur te sê dat die verhoor gehou is kragtens artikel 63 van die Wet op Kindergeregtigheid 75 van 2008, gelees saam met artikel 154(3) van die Strafproseswet 51 van 1977 omdat die beskuldigde ’n sewentienjarige minderjarige is. Die beskuldigde het tereggestaan op vyf aanklagte: “Me M” was veertien jaar oud en is verkrag en vermoor; beide haar ouers, “mnr D en mev C”, is vermoor; en die beskuldigde het die loop van die gereg gedwarsboom deur ’n valse verklaring by die polisie af te lê dat die misdaad ’n plaasaanval was, terwyl hy die skuldige was. Hierdie verklaring waarvolgens die polisie opgetree het, het die staat benadeel en het die regspraak ondermyn.

“Die manier waarop ek die misdade beskryf het, is onsensitief. Dit is egter onafwendbaar om die minderjarige met die gestorwe slagoffers te verbind om sodoende te verhoed dat die beskrywing van die gebeure nie te verweef of selfs belaglik word nie … Om in die omstandighede die identiteit van die minderjarige te beskerm, was ’n nagmerrie. Om die waarheid te sê, het die advokate vir beide partye gewonder of die spreekwoordelike put nie gedemp is nadat die kalf reeds verdrink het nie. My beslissing is die volgende: Hoegenaamd nie en dit is hoe dit vir nou sal moet bly.”

Kgomo het voortgegaan en gesê dat die seun deur twee ervare advokate (Coetzee en Erasmus) verteenwoordig is tot hul mandaat “kontroversieel” ’n dag voor hy sy uitspraak in Desember moes lewer, beëindig is.

“Die eerste teken dat iets verskrikliks plaasgevind het, is deur me Martha Watermond en me Abigail Pieterse in hul getuienis beskryf … Alhoewel die minderjarige getuig het en daar in die kruisondervraging aan die hand gedoen is dat hy daardie roete geneem het om die werkers te waarsku, is die weergawe wat ek aanvaar dié van hierdie twee dames, naamlik dat die minderjarige tot by die hek gery het, dit oopgemaak het en eers toe hy hulle raaksien nadat hy weer terug by sy voertuig was, aan hulle gesê het om te vlug omdat sy gesin vermoor is.”

Kgomo het aan die hof gesê dat hy in hierdie vroeë stadium van sy beslissing daarop wil wys dat die seun nie Jan Ludick se wit 1400-Nissanbakkie kon misgekyk het nie. Verder het die seun met Deon se wit Isuzubakkie weggejaag en wielspore agtergelaat, wat die verdediging later probeer aanvoer het deur die beweerde indringer veroorsaak is.

“Die rustige dorpie Griekwastad, met sy kerk, is tot in sy fondamente geskok toe ’n vyftienjarige oopgesigseun kort ná 19:00 op Vrydag 6 April 2012 by die polisiestasie ingestorm het en gesê het dat sy ouers en suster op Naauwhoek, ’n plaas ongeveer 10 km suid daarvandaan, vermoor is en dat hy die enigste oorlewende is.”

Die verdediging het in ’n “moedige” poging baie tyd daaraan bestee om te bewys dat die beskuldigde nie so kategories oor die moorde kon gewees het nie.

“Uit die oorweldigende getuienis van die mense met wie hy gepraat het, hoofsaaklik sy naaste familielede en die polisie, bevind ek dat hy inderdaad kategories was.”

Kgomo het vervolgens ’n opsomming gegee van wat die beskuldigde aan die onderskeie getuies, onder andere Truter, Otto, die De Villiers-egpaar, sy tannies en sy ouma, gesê het. Hy het vyftien punte gelys teen die moontlikheid dat ’n “onbekende indringer” die moorde kon gepleeg het:

  1. Die Steenkamps is almal eers met die .357-rewolwer geskiet en daarna met die .22-geweer tereggestel. Nadat Deon en Christel met die rewolwer geskiet is, sou hulle nie kon beweeg nie terwyl Marthella daarin geslaag het om na buite te vlug.
  2. Beide vuurwapens is in die kluis in die hoofslaapkamer gehou, wat minder as 4 m van die beskuldigde se slaapkamer af was. Volgens die getuienis was daar slegs een skieter wat na die kluis moes terugkeer om die .22-geweer te gaan haal nadat hy die rewolwer leeggeskiet het. Die verdediging het erken dat die skieter met die uitleg van die huis vertroud moes gewees het.
  3. Die kluis is oop aangetref met die sleutels in die kluis se sleutelgat. Foto’s het verskeie vuurwapens getoon wat onaangeraak in die kluis agtergelaat is. Dit sou ’n ryk vonds vir ’n indringer gewees het indien dit ’n plaasaanval was.
  4. Die voordeur van die huis was op knip en die ketting ingehaak en slegs die kombuisdeur was oop. Die televisie en verskeie ligte was aan. Die enigste manier waarop ’n indringer die huis kon binnekom, was deur die kombuisdeur, maar hy sou nie ongesiens kon inkom nie. Die honde sou ook geblaf het.
  5. Daar was geen tekens van inbraak nie, want die voordeur en al die vensters was onaangeraak. Kgomo het gesê hy weet nie waarvoor die indringer sou gewag het, waarvoor hy sou gesoek het of wat hy wou bereik het tydens die beweerde vier-en-veertig minute wat hy kwansuis weggekruip het nie.
  6. Die minderjarige kon nie tien tot vyftien minute lank in die skuur weggekruip het soos hy beweer het nie as gevolg van die tydlyn tussen die SMS wat Christel gestuur het en die telefoonoproep wat na kaptein Jafta gemaak is, en die spoedtoets wat kolonel De Waal uitgevoer het.
  7. ’n Indringer kon hoegenaamd nie verby die Steenkamp-gesin gesluip het na die slaapkamers toe nie as gevolg van die huis se uitleg.
  8. Dit was uiters belangrik vir die beskuldigde se verdediging dat hy hom in die skuur moes bevind, want as hy nie daar was nie, was hy óf ’n getuie van die moorde óf het hy die snellers getrek van die vuurwapens wat hy later aan die polisie oorhandig het. Kgomo het op verskillende ander punte gewys waar die beskuldigde “homself gepootjie het, soos dat dit te donker sou gewees het om iets uit te maak as hy inderdaad in die skuur was”.
  9. Die beskuldigde het aan getuies vertel dat hy Marthella hoor skree het, maar tydens die verhoor het hy valslik ontken dat hy dit ooit gesê het. Hy sou ’n duidelike uitsig vanaf sy wegkruipplek gehad het as hy wou gesien het hoe die meisie enkele meters van hom af aangeval word.
  10. Marthella was reeds besig om te bloei toe sy op die grond neergesak het en gruis en gras het aan haar nat, bloedbevlekte hemp vasgekleef.
  11. Die beskuldigde het gesê dat hy nooit opgekyk en deur die skuur se venster gekyk het nie omdat hy nie die beweerde aanvaller sou kon beskryf het indien hy dit wel sou gedoen het nie.
  12. Die beskuldigde was koud en ongevoelig toe hy beskryf het hoe hy verby Deon en Christel geloop het en hoe hy na bewering vir Marthella weggestoot het omdat haar bloed hom laat gril het. Kgomo het tereg uitgewys dat bloed nie iemand wat gereeld jag, sal afskrik nie. Die regter het gevra hoekom die seun nie om hulp gebel het nie en eerder gekies het om sy bebloede T-hemp uit te trek en dorp toe te ry. Kgomo het die seun se verklaring verwerp dat Marthella aan hom gesê het dat sy vir hom lief is.
  13. Een van die mees onwaarskynlike bewerings deur die beskuldigde was die feit dat die indringer te voet en ongewapen sou wees, soos ’n tipe “lone ranger”, op die plaas sou aangekom het, by almal sou verbygesluip het, die vuurwapens sou gevat het en die Steenkamps vermoor het, maar die beskuldigde ongedeerd agtergelaat het voor hy slegs ’n mes en ’n bos sleutels gesteel het, R32 000 kontant agtergelaat het en toe nie ’n voertuig gesteel het nie, maar eerder te voet gevlug het en 50 m van die huis van die moordwapens ontslae geraak het. “Hierdie Rambo is nou weer eens ongewapen.” Kgomo het gesê dat as dit alles waar was, die aanvaller die domste plaasaanvaller in Suid-Afrika genoem sou word.
  14. Die feit dat daar ander vuurwapens en ammunisie in die kluis was, het die seun se weergawe van gebeure verder weerlê omdat hy ’n uitstekende skut is wat hom kon bewapen en weerstand kon gebied het teen die beweerde aanvallers terwyl hy vir die polisie gewag het.
  15. Dit was hoogs onwaarskynlik dat die seun die vuurwapens sou raakgesien het waar die “dom” indringer dit na bewering neergegooi het in die lang gras langs die pad wat na die plaaswerkers se huise lei. Kgomo het die seun se verduideliking verwerp van hoe hy die wapens raakgesien en toe opgetel het.

Kgomo het gesê dat indien bogenoemde punte net toeval was, die seun onder die gelukkigste gesternte ooit gebore moes gewees het.

Hy het voortgegaan deur die verskillende wonde van elke oorledene te lys. Elkeen is van naby geskiet en met ’n skoot in die kop tereggestel. ’n Rekonstruksie van gebeure het getoon dat Christel eerste geskiet is, waarna Marthella in die bors geskiet is. Hierdie koeël is deur haar voor dit deur die voorafvervaardigde muur is en teen die skuur se muur opgeslaan het. Marthella het toe uit die huis gevlug en buite inmekaar gesak voor sy later weer na die huis teruggekeer het.

Oor die vraag of Marthella verkrag is of nie, het Kgomo daarop gewys dat Fouché tot die gevolgtrekking gekom het dat die meisie soos ’n tierwyfie baklei het om haarself te verdedig. Hy het die verskillende beserings genoem wat sy opgedoen het, onder andere die krapmerke bo haar linkerboud. Sy het ook volgens die nadoodse verslag krapmerke aan haar linkerarm gehad. Fouché en Els het albei bevind dat daar seksuele penetrasie was. Met verwysing na presedentereg in die staat teen Johnny Carter (saaknommer CA & R 37/2013), het Kgomo gesê daar is bevind dat “die geringste penetrasie genoegsaam is. Sodra penetrasie plaasgevind het, word die nodige element vir die man se aanspreeklikheid daargestel.

“Ek is gevolglik daarvan oortuig dat hierdie tienermeisie verkrag is en dat dit nie die eerste keer was nie. Ek waag dit om te sê dat wie ook al hierdie onskuldige meisie die tweede keer verkrag het ook die moorde gepleeg het.”

Hy het hierdie bevinding so skielik gemaak dat ek en my kollegas aanvanklik gedink het dat die regter weer na presedentereg verwys het. Slegs nadat Kgomo vir ’n vinnige teepouse verdaag het, kon ek bevestig dat hy in werklikheid van Marthella gepraat het. Wat nog meer ontstellend was, is dat hy geglo het dat sy meer as een keer verkrag is. Ek het met verskeie polisiebeamptes en joernaliste gesels en ons was almal van mening dat die verkragting die moeilikste aanklag vir die staat sou wees om te bewys.

Ná die pouse het Kgomo verskeie aspekte van die saak opgesom. Met verwysing na die seun se bewering dat Marthella sy nek gekrap het tydens hul argument daardie middag, het die regter bevind dat hy oortuig was dat die seun nie aan geheueverlies kon gely het soos hy beweer het nie en dus nie kon vergeet het waaroor hulle ’n paar uur voor die moorde gestry het nie.

Kgomo het met Joubert saamgestem en geglo dat bloed van die seun se neus op sy kortbroek beland het, aangesien hy nie ’n besering opgedoen het wat genoeg sou gebloei het vir die hoeveelheid bloed wat aangetref is nie. Hy het sy ongeloof uitgespreek oor die verregaande bewerings oor bloedskande, ensovoorts, tydens die aanvanklike slotpleidooi en het verskeie uittreksels uit The Law of South Africa, volume 14 (eerste heruitgawe) aangehaal:

“Upon receipt of instructions the duty of the advocate is firstly to ascertain carefully the true facts, obtaining at the same time the proof of them. Secondly, as far as the law is concerned, s/he should determine whether there is a cause of action or defence.

“Counsel who has no belief in the truth of an assertion and knows s/he has no evidence to support it is not entitled to put it to a witness during cross-examination … an advocate is not entitled in defending a client to attribute to another person the crime with which his client is charged wantonly or recklessly, unless the facts or circumstances given in the evidence or rational inferences drawn from them raise at least a reasonable suspicion that the crime may have been committed by the person to whom guilt is imputed.”

Kgomo het gesê dat om die karakter, waardigheid en nagedagtenis van Deon Steenkamp op so ’n laat stadium en so onregmatig aan te val, was onvanpas en nadelig vir sy familie en vriende. Wat die beskuldigde en sy verdediging in die hof aangevoer het, het berus op blote gissings.

Kgomo, wat nou die seun se getuienis beskryf het, het gesê dat hy ongelukkig ’n uiters swak getuie was. Hy was ontwykend en heeltemal ongeloofwaardig onder kruisondervraging: “Nie net was dit die geval nie, maar hy was ongelukkig ook op sy ouderdom ’n deurtrapte leuenaar. Indien ek, soos nou hier, sy veronderstelde besoeke aan en wegkruipery in die skuur as sy alibi verwerp, moet sy getuienis hanteer word asof hy nooit getuig het nie.”

Kgomo het gesê dat dit vir hom logies sin maak dat Marthella se marteling die teregstellingsmoorde van al die oorledenes voorafgegaan het.

“Ek kan nie dink dat die moordenaar die meisie sadisties sou martel net om plesier uit haar pyn te put nie. Die afbeeldings en foto’s wat in die hof vertoon is, is grusaam, selfs met die bloed wat van Marthella se kop en gesig afgewas is.”

Die regter het gevra hoekom die seun heeltemal ongedeerd daarvan afgekom het – hoekom die moordenaar hom laat leef het – en het na presedentereg verwys wat sê dat sekere gevolgtrekkings gemaak moet word na gelang van of ’n afleiding bo alle redelike twyfel uit hierdie feite gemaak kan word.

Kgomo het gesê dat hy hom opsetlik daarvan weerhou het om negatiewe kommentaar te lewer op of enige waarde te heg aan die seun se houding in die getuiebank weens die lengte van die verhoor en die feit dat hy nog ’n kind is: “Hy het geen emosie in die getuiebank getoon nie. Hy het ’n sterk stem en was selfversekerd en vol selfvertroue. Selfs wanneer hy in ’n hoek gedryf is, het hy nie gebloos nie. Hy het nooit gestotter of oor sy woorde gestruikel nie, selfs toe hy blatant gejok het. Hy het ’n sterk karakter. Hy is beslis nie ’n skugter mens nie.”

Die regter het voortgegaan met die verskillende scenario’s van hoe die seun se T-hemp geskeur is en het tot die gevolgtrekking gekom dat dit buite geskeur moes gewees het en nie in die huis nie. Dit is opmerklik dat die beskuldigde tydens sy getuienis nie genoem het dat hy Marthella weggestoot het nie.

“Na my mening is die onafwendbare implikasie dat dit nie nodig was om Marthella weg te stoot nie, aangesien haar liggaam reeds slap was en neergesak het op die vloer en dat die beskuldigde se klere buite die huis met Marthella se bloed bevlek is.”

Die mees duidelike aanduiding dat die seun inderdaad die skieter is, was dat hy binne ’n uur na die moorde vir Truter gesê het dat hy dink Deon het opgespring toe hy geskiet is; dat hy aan sy tannie gesê het dat dit gelyk het of Deon probeer het om die skieter te keer, maar in sy eie bloed gegly en geval het; en dat die getuienis van Fouché en Joubert basies bevestig het wat die seun gedink het gebeur het.

“Ten opsigte hiervan het die minderjarige, vir die soveelste keer, homself onwetend geïnkrimineer.”

Dit is sy mening, het Kgomo gesê, dat die martelaar iets wou bereik en dat daardie iets, volgens die getuienis, was om geslagsgemeenskap met Marthella te hê: “Die meisie het geweier en haar eerbaarheid verdedig. As gevolg daarvan is sy gemartel, verkrag en vermoor om te keer dat sy haar ouers van die verkragting vertel. Omdat die meisie se ouers teen die skuldige sou getuig, moes hulle ook uit die weg geruim word, en hulle is. Dit is die mees waarskynlike motief vir die moorde.”

Kgomo het vervolgens die vyfde aanklag van regsverydeling breedvoerig bespreek. Hy het tot die gevolgtrekking gekom dat as die seun aan verkragting en op die drie aanklagte van moord skuldig bevind sou word, hy dan outomaties op hierdie aanklag skuldig bevind sou word. Na sy mening het die seun die polisie “op ’n dwaalspoor gebring en hulle toe om die bos probeer lei”.

Kgomo het toe verder uitgewei oor Bode se besorgdheid dat die seun se grondwetlike regte die aand van die moorde deur De Waal geskend is toe die ondersoekbeampte versoek het dat hy verduidelik wat gebeur het en gevra het dat foto’s van die seun en sy klere geneem word. Die regter het daarop gewys dat die seun se destydse voog, Andries Steenkamp, tydens daardie aanvanklike onderhoud – wat nie as ’n ondervraging beskou is nie – teenwoordig was en dat hy voorgestel het dat ’n prokureur tydens die afneem van die verklaring teenwoordig moet wees. Erasmus was sedert 7 April 2012 betrokke by die saak totdat haar dienste in Desember 2013 beëindig is en was tevrede met die polisie se hantering van haar kliënt. Die regter het dus bevind dat die seun tot 12 Augustus 2012, toe hy gearresteer is, nie as ’n verdagte beskou of behandel is nie. Die verdediging se aansoek om die saak te heropen was net ’n slenter.

Regter-president Frans Kgomo het toe voortgegaan om sy finale opsomming te lewer. Die beskuldigde het alleen en bedruk gelyk toe die regter hom vra om op te staan.

“Ek is oortuig dat niemand anders as die minderjarige beskuldigde wie se identiteit, vir wat dit werd is, steeds nie bekend gemaak mag word nie, al die misdade gepleeg het wat in die akte van beskuldiging genoem word soos die staat inderdaad voorgelê het, nie net bo alle redelike twyfel nie, maar sonder die minste twyfel,” het Kgomo aangekondig. “Om al die aspekte te hanteer wat teen die minderjarige bewys is, sou neerkom op oordrewenheid. Die moorde is nie net met voorbedagte rade gepleeg nie, maar is inderdaad beplan en uitgevoer met die uitsluitlike doel om moord te pleeg. Die minderjarige beskuldigde word dus soos volg skuldig bevind:

“Aanklag een: die verkragting van Marthella Steenkamp, skuldig soos aangekla.

“Aanklag twee: die moord op Deon Steenkamp, skuldig soos aangekla.

“Aanklag drie: die moord op Christel Steenkamp, skuldig soos aangekla.

“Aanklag vier: die moord op Marthella Steenkamp, skuldig soos aangekla.

“Aanklag vyf: regsverydeling, skuldig soos aangekla.”

Verskeie van die seun se ondersteuners, onder andere Hanlie Heckroodt en Marina Steenkamp, het in trane uitgebars. Die seun het verpletter gelyk en regs na sy voog gekyk vir vertroosting en ondersteuning.

Die seun se borgtog word herroep, het Kgomo aangekondig, en hy sal in hegtenis geneem word aangesien hy nou ’n veroordeelde moordenaar en verkragter is.

Bode het aangedui dat hy ’n aansoek om borgtog sou indien in ’n poging om die seun se borgtog tot sy vonnisoplegging te verleng. Cloete het toe gevra dat die saak uitgestel word vir voorvonnisverslae wat onder andere deur ’n maatskaplike werker en ’n forensiese sielkundige saamgestel moes word en wat gebruik sou word vir verswarende omstandighede. Die staat wou ook verklarings van familielede hê en het gevra dat ’n slagofferimpakstudie gedoen word. Dit sou die regter die geleentheid bied om te hoor hoe die misdaad diegene wat die oorledenes geken en liefgehad het, geraak het. Bode het gesê dat die verdediging ook sou streef om al die nodige verklarings vir versagtende omstandighede te bekom. Volgens die Wet op Kindergeregtigheid behoort die opstel van hierdie verslae nie langer as ses weke te duur nie.

En toe, vir die eerste keer sedert die verhoor begin het, is die seun na die aanhoudingselle vergesel, waarna die uiters emosionele Marina Steenkamp uit die hofsaal gestorm het. Ons het vir middagete tot 14:30 verdaag.

Ná middagete het Bode ’n vinnig voorbereide aansoek om borgtog ingedien. Hy het Heckroodt as sy eerste getuie geroep, wat basies herhaal het wat hy ’n jaar en ’n half tevore tydens die seun se eerste aansoek om borgtog gesê het. Heckroodt het weer die belangrikheid van die seun se opvoeding beklemtoon, alhoewel hy reeds ’n ruk lank nie meer studeer het nie, en aangedui dat hy bereid is om namens die seun borggeld tot die bedrag van R50 000 te betaal. Heckroodt het aan die hof gesê dat hy daarvan hou om die seun op die plaas te hê, aangesien hy ’n harde werker is, maar meer belangrik was die feit dat hy nou as deel van die gesin beskou is.

“Ek was nog nooit spyt dat ek hom in ons huishouding ingebring het nie,” het Heckroodt gesê.

Hy het verder aan die hof gesê dat die seun elke tweede Sondag in Kimberley kerk toe gegaan het en dat toegang tot hul vuurwapens streng beheer is. Alhoewel hy nooit vir die seun bang was nie, selfs wanneer hy gewapen was, het hy verstaan hoekom ander bekommerd is.

Cloete het Heckroodt gekruisondervra en gesê dat dit hom verstom hoe almal net verwag dat die seun se lewe normaal moet voortgaan alhoewel hy nou aan moord en verkragting skuldig bevind is. Die staatsaanklaer het ’n onlangse foto gewys van die beskuldigde, gewapen met ’n geweer, langs wat na ’n dooie koedoe gelyk het. Volgens Cloete het hierdie foto, wat op die seun se WhatsApp-profiel verskyn het, bewys dat alhoewel hy drie mense met vuurwapens vermoor het, hy steeds toegang tot gevaarlike wapens het en borgtog gevolglik problematies is. Met toegang tot vuurwapens, wat sou die seun keer om dit weer te doen terwyl hy op borgtog uit is? Die staat het dus die aansoek teengestaan.

Op die ou end het Kgomo borgtog geweier. Die seun se ondersteuners het verbaas gelyk.

Maar Cloete was nog nie klaar nie. Bode het gesê dat die seun se status en agtergrond in aanmerking geneem moet word en dat hy na ’n plek van veiligheid gestuur moet word, maar Cloete het betoog dat hy na die gevangenis in Kimberley gestuur moet word aangesien hy nou oud genoeg was. Selfs ek was verbaas hieroor. Ek het verwag dat die seun na Galeshewe sou terugkeer tot sy agttiende verjaarsdag op 15 Augustus 2014, maar Kgomo het met die staat saamgestem. Die seun was op pad na ’n geenkontakgevangenis vir volwassenes.

“Wat my pla is dat ek die seun steeds nie ken nie. Ek weet nie wie hy is nie,” het die regter opgemerk. “Hy het die reg gehad om skuld te beken, maar hy het gekies om dit nie te doen nie en kyk waar het dit hom gebring.”

Die vonnisoplegging is toe tot 13 Mei uitgestel. Op die ou end kon ek maar net aanneem dat Cloete vir lewenslange gevangenisstraf sou betoog. Dit was hoogs waarskynlik dat ’n vonnis van vyf-en-twintig jaar opgelê sou word, aangesien die seun skuldig bevind is aan moord met voorbedagte rade.

Toe Kgomo die hofsaal verlaat, het die seun se emosionele familie en vriende beurte gemaak om hom te groet. Hy het verward gelyk en ek dink dit moes alles baie onwerklik gevoel het. Alhoewel hy skuldig was, twyfel ek of hy gedink het hy sou tronk toe gaan.

De Waal het gewag terwyl almal afskeid geneem het. Die seun se ouma aan vaderskant het uit die galery afgestap en was laaste om die seun vir etlike sekondes te omhels. Ek twyfel of sy geglo het dat hy skuldig was, maar dit was duidelik dat haar dogters gevoel het dat geregtigheid uiteindelik geskied het. Later daardie middag was hulle baie emosioneel toe hulle Cloete, De Waal en hul onderskeie spanne persoonlik bedank het vir hul uitstekende werk.

Tydens die verloop van die verhoor het die media, myself inkluis, deurentyd berig dat die seun geen emosie getoon het nie. Ek is nou van mening dat ons verkeerd was. Hy het wel emosie getoon, maar dit was nie die tipe emosie wat ons verwag het nie. Hy was soms duidelik ontsteld, gespanne en kwaad, en ander kere weer gelukkig. Maar hy het nooit ’n traan gestort nie. Ten minste nie in die openbaar nie. Terwyl ek gekyk het hoe hy na die aanhoudingselle vergesel word, het ek gewonder of hy inderdaad ’n psigopaat is.

Met nabetragting oor die moorde het ek tot die gevolgtrekking gekom dat die seun eenvoudig baie ernstige oordeelsfoute begaan het. Die getuienis dui daarop dat hy Marthella verkrag het. Ek is van mening dat hy dit moontlik geregverdig het deur voor te gee dat sy hormone die oorhand gekry het.

Die aand van Kgomo se beslissing het ek ’n lid van die ondersoekspan besoek. Ons het die saak bespreek en tot die gevolgtrekking gekom dat Marthella ná kerk verkrag moes gewees het toe sy en die beskuldigde gaan perdry het. Dit was meer waarskynlik as die vorige aand, aangesien dit gelyk het asof alles nog die volgende oggend reg was. Verder het hulle gestry toe hulle uit die veld teruggekeer het.

Plaas jouself in sy skoene, met nêrens om te gaan nie en die wete dat Deon hewig sou reageer as hy moes uitvind wat jy gedoen het. Die enigste opsie sou wees om eerste toe te slaan. Net soos Kgomo en Cloete dink ek dat Marthella se marteling boekdele spreek. Die seun het sy woede en frustrasie omdat hy mense vir wie hy lief was, moes vermoor, op die weerlose meisie uitgehaal. In plaas van sy fout te erken en die gevolge van Marthella se verkragting te dra, het hy soos ’n kind gereageer en die maklikste uitweg gekies om straf vry te spring.

Ek het in die hofsaal gewag en gekyk hoe De Waal uiteindelik die beskuldigde boei. Vir die eerste keer in byna twee jaar het ek na hom gekyk met die oë van ’n ouer en het ek vir die eerste keer ’n bang en hulpelose kind gesien. Hy het verpletter gelyk en het sy bes probeer om sy trane te sluk. Maar ek het ook opgemerk dat ’n kalmte hom gevul het en ek kon nie help om te wonder of hy as gevolg van sy skuldigbevinding uiteindelik vrede gevind het nie. Ek het vir sy part eintlik hartseer gevoel toe De Waal hom agterin die polisievoertuig laai. Sy arrogansie en uitdagende houding was skoonveld. Al wat oorgebly het, was ’n bang en eensame sewentienjarige seun.

Met die seun op pad tronk toe het ek teruggedink aan wat Bennie Heckroodt, wat die seun heeltyd ondersteun het, eenkeer gesê het:

“Moet niemand dan lief wees vir hom?”