Epiloog – die vonnis

Don Steenkamp is op 13 Augustus 2014, byna vyf maande nadat hy skuldig bevind is en twee dae voor sy agttiende verjaardag, tot altesaam ses-ensewentig jaar tronkstraf gevonnis vir sy misdade: twintig jaar vir elk van die moorde op sy pa, ma en suster; twaalf jaar vir die verkragting van sy suster; en nog vier jaar vir regsverydeling. Regter Kgomo het gesê dat die vonnisse gelyklopend is, dit wil sê dat Don elk van sy vonnisse apart maar gelyktydig sal uitdien. Hy sal dus twintig jaar in die tronk deurbring.

Ek het in hierdie boek deurgaans ’n duidelike onderskeid tussen die enigste oorlewende van hierdie tragedie en die beskuldigde gemaak omdat Don op daardie tydstip minderjarig was en sy identiteit volgens wet beskerm moes word. Aangesien sy moordverhoor afgehandel was voordat hy agttien geword het, sou die media sy identiteit onder normale omstandighede nie kon bekendmaak nie, tensy die voorsittende regter ’n aansoek om hom ná sy verjaardag te identifiseer, toegestaan het. Don het egter besluit om teen sy skuldigbevinding en vonnis te appelleer en omdat hierdie hofverrigtinge ná sy agttiende verjaardag sal plaasvind, is die wet nie meer van toepassing nie.

Verskeie nuusblaaie het hul besluit om Don te identifiseer, gegrond op die feit dat hy nou agttien en ’n veroordeelde misdadiger is, maar ek het meer duidelikheid gaan soek. Ek het met talle wetsgeleerdes gesels, onder andere dr. Llewellyn Curlewis, die president van die Prokureursorde van die Noordelike Provinsies, en professor Ann Skelton van die Universiteit van Pretoria se Sentrum vir Kinderreg, wat erken het dat Don se saak uniek is en dat sy identifisering uiteindelik tot ’n grys gebied van die wet behoort. Curlewis was van mening dat die media die beskuldigde kan identifiseer sodra Bennie Heckroodt se regsverteenwoordiger die appèldokumente ingedien het. Skelton meen egter dat die besluit eerder aan ’n regter oorgelaat moet word.

Ek het toe Kgomo se kantoor genader, aangesien hy die oorspronklike mandaat uitgereik het wat sê dat hy self ’n aanklag sal inbring teen enigiemand wat Don identifiseer. Kgomo se sekretaresse, Gaynor Lemmetjies, het ’n brief wat die regter aan Volksblad gerig het, nadat dié koerant foto’s van Don op sy agttiende verjaardag geplaas het, na my aangestuur.

In sy brief, wat begin met “Die perd het klaar weggehol …”, meld Kgomo dat hy nie wou hê dat Don se identiteit bekendgemaak word voor die afhandeling van die vonnisoplegging en voordat hy agttien word nie, aangesien dit groot omstredenheid sou veroorsaak. “My besluit sou regoor Suid-Afrika weergalm het,” skryf hy. “Wat gebeur nadat ek uitspraak gelewer het, soos nou, gaan my as voorsittende regterlike beampte in die saak nie aan nie. Ek is functus officio [sonder enige verdere amptelike bevoegdheid].” Voorts meld Kgomo dat, afgesien van die bogenoemde oorwegings, hy nooit gesê het dat Don se identiteit nooit onthul mag word nie. “Regters gee nie advies nie; hulle praat deur hul uitsprake.”

Ek het Bennie Heckroodt opgesoek en hy het bevestig dat hulle inderdaad teen Kgomo se beslissings gaan appelleer. Iets wat ek lankal begin besef het, is dat Don se ondersteuningsnetwerk hom meer kwaad as goed gedoen het. Dit is weereens bewys gedurende die voorvonnisverhoor, toe Don erken het dat hy aangesê is om nie met die sielkundiges en maatskaplike werkers saam te werk wanneer die gebeure wat op die aand van die moorde plaasgevind het, bespreek word nie. Hy het gesê hy kan nie daardie aand bespreek nie, want dit kan ’n negatiewe uitwerking op sy toekomstige appèl hê.

Heckroodt het ná die vonnisoplegging vir my gesê dat hy vas oortuig is dat hul appèl sal slaag. Hy wou nie uitwei oor die gronde waarop hulle gaan appelleer nie, maar het bloot gesê: “Of [Don] twintig of vyf-en-twintig jaar tronkstraf gekry het, is nie ter sake nie, want hy gaan binnekort uit wees as daar enige geregtigheid in hierdie wêreld is.” Hy het egter erken dat Kgomo se vonnis van twintig jaar redelik is omdat hulle hulle almal voorberei het op die hele vyf-en-twintig jaar wat die vervolging wou hê. (Volgens die Strafproseswet sowel as die Wet op Kindergeregtigheid mag ’n minderjarige jonger as sestien jaar nie meer kry as die vyf-en-twintig jaar wat lewenslange tronkstraf uitmaak nie. Aangesien Don vyftien jaar en agt maande oud was toe hy die moorde gepleeg het, het hy ’n langer tronkstraf met net vier maande vrygespring.)

Tussen Don se skuldigbevinding op 27 Maart en die vonnisoplegging op 13 Augustus, het ’n voorvonnisverhoor van 13 tot 16 Mei plaasgevind. In dié tyd het die staat getuies vir verswarende omstandighede opgeroep, en die verdediging het nog ’n paar vir versagtende omstandighede laat getuig. Nie een van die partye kon hul saak sluit nie en die verrigtinge is dus tot 3 Junie uitgestel. Die getuies was onder andere Heckroodt, Marina Steenkamp, Marthella se voormalige skoolhoof, Mariehetta Matthee, en amptenare van die Nasionale Instituut insake Misdaadvoorkoming en Rehabilitasie van Oortreders. Twee van die vervolging se getuies, Brian du Plessis en John-Henry Dykman, wat spesifiek oor Don se arrogansie en persoonlikheid getuig het, was voor én na die moorde onderskeidelik sy voormalige Afrikaans- en wetenskaponderwysers by Grey-kollege. Dykman was ook sy huisvader in die koshuis.

Slotbetoë is op Dinsdag 24 Junie gelewer en Kgomo het die verrigtinge tot Augustus verdaag. Hy het aangedui dat hy die tyd nodig het om ’n gepaste vonnis vir Don te oorweeg omdat hy nie die indruk wou wek dat hy oorgretig is om die saak agter die rug te kry nie. Don het gedurende hierdie tyd, en ná sy skuldigbevinding, in die afdeling vir jeugoortreders in die Kimberley-gevangenis gebly. Hy het weekliks besoekers ontvang en dié is toegelaat om tuisbereide etes te bring, solank hy in die besoekersarea geëet het voor hy na sy sel teruggeneem is. Ek het gerugte gehoor dat hy besig is met ’n knoeiery en allerhande beloftes maak in ruil vir beskerming, en so meer.

Die dertiende Augustus was regter Kgomo se laaste dag in die hof vir die Griekwastad-moordsaak. In sy vonnisuitspraak van agt-en-veertig bladsye het hy op verskeie teenstrydighede in die getuienis en bewyslewering van getuies vir die verdediging gewys en tot etlike belangrike gevolgtrekkings gekom in verband met Don en sy pleging van die moorde.

Kgomo het begin met ’n opsomming van die misdade waaraan Don skuldig bevind is en toe daarop gewys dat “dit dus veelvuldige gesinsdoodslag, ook bekend as gesinsmoord, was”. Hy was oortuig dat Don deur niemand, ook nie ’n volwassene nie, beïnvloed is om die moorde te pleeg nie. Hy het gesê dat Don, as die martelaar, iets wou bereik: om geslagsgemeenskap met sy suster, Marthella, te hê.

“Die meisie het geweier en haar eerbaarheid verdedig,” het Kgomo gesê. “Gevolglik is sy gemartel, verkrag en vermoor om te keer dat sy haar ouers van die verkragting vertel. Omdat die meisie se ouers teen die skuldige sou getuig, moes hulle ook uit die weg geruim word. Dit is die mees waarskynlike motief vir die moorde.”

Kgomo het sakereg (R v Khumalo en Nkosi, 1918 AD 500 by 504) aangehaal en gesê: “Die gewone man pleeg nie ’n ernstige misdaad sonder ’n motief nie.” Hy het dit gebruik as regsverdiging vir sy gevolgtrekking dat dit “uiters bisar” sou wees indien enigiemand anders Don beïnvloed het om sy eie suster te verkrag en te vermoor.

Kgomo het die getuie vir die verdediging, dr. Larissa Panieri-Peter, as ’n betroubare en indrukwekkende getuie aangeprys. Panieri-Peter is ’n spesialis- forensiese psigiater wie se kundigheid nooit in twyfel getrek is nie. In haar getuienis het sy gesê dat “hierdie misdaad, uit ’n psigiatriese oogpunt beskou, intens wreedaardig is. Dit is beslis nie wat ’n mens sou verwag van ’n koelbloedige, voorbedagte teregstelling deur ’n ervare en uitmuntende skerpskutter nie.” Sy het daarop gewys dat die aard van die geweld en die patrone van die beserings opmerklik is en dat dit eerder ’n emosie soos woede of haat suggereer. Sy het dit vreemd gevind dat Don volhou dat hy onskuldig is. Kgomo het min verskil opgemerk tussen Panieri-Peter se getuienis en dié van Cloete se deskundige, majoor Bronwyn Stollarz, die hoofsielkundige van die SAPD se Sielkundige Ondersoekeenheid.

Stollarz het getuig dat die feit dat Deon oor die kop geslaan is toe hy reeds onkapabel was, beteken dat Don hom op daardie tydstip nog as ’n bedreiging beskou het. Sy het ook daarop gewys dat die onnodige geweld, wat Deon sowel as Marthella moes verduur, op woede dui. Sy het saamgestem met dr. Fouché se getuienis en Kgomo se vraag dat dit oormatige geweld was.

Kgomo het Heckroodt se motiewe in twyfel getrek en gewys op die feit dat Don almal heel van die begin af gemanipuleer het, en selfs probeer het om ander te impliseer en die skuld op hulle te pak. Die regter het daarop gewys dat Heckroodt Don uit die staanspoor aangesê het om die moorde met niemand te bespreek nie omdat hy nie geweet het wie sy “belange op die hart dra” nie. Wat Heckroodt se getuienis ter strafversagting betref, het Kgomo gesê dat “Heckroodt, Don se voog, die weg berei het vir diegene wat in die minderjarige se onskuld glo, of vir diegene wat volslae ontkenners is”. Tydens die voorvonnisverhoor het Heckroodt getuig dat hy die uitspraak gelees het en nog steeds nie van Don se skuld oortuig is nie.

Kgomo het ook die getuienis van die verdediging se deskundige kriminoloog, dr. Eon Sonnekus, betwyfel. Hy het die verskillende kere dat Sonnekus tydens sy hoofgetuienis sowel as kruisondervraging “gestruikel” het breedvoerig verduidelik. Kgomo het op een tydstip selfs gesê: “Die sluwe doktor gee al weer ander die skuld.” Die regter het bevind dat Sonnekus se getuienis partydig, verdraaid en onbetroubaar was, en het dit dus verwerp. Hy het vervolgens bevind dat Sonnekus se poging om Stollarz se onderhoud met Don te onderbreek, met die bewering dat hy opdrag gekry het om dit te doen, aan onetiese optrede grens.

Kgomo het gemeld hoe Don, ten spyte van sy skuldigbevinding, nog steeds die meerderheid van sy familie se ondersteuning geniet. Hy het voorgelees uit ’n brief van Don se ouma aan vaderskant, Bettie Steenkamp, met die gepaste titel “My trane is myne”. Daarin skryf sy dat sy oud geword het met die wete dat sy nie almal in haar familie teen kwaad kan beskerm nie en dat die lewe op sy beste onvoorspelbaar is.

“Die tragedie op 6 April het alles verander. Hoe moeilik is dit nie om daaroor te praat nie … die tyding van my seun, skoondogter en kleindogter se dood was die slegste nuus denkbaar. Ons is diep verskeur en hul plekke sal altyd leeg wees … Nadat ek die afgelope week na al die getuienis van verskeie deskundiges en ander getuies geluister het, kan ek nie anders as om te glo dat my geliefde kleinseun die moorde gepleeg het en dat dit te wyte is aan ’n geweldig negatiewe karakterinsinking nie.”

Ten slotte pleit Bettie by die hof dat Don die nodige psigiatriese en sielkundige ondersteuning sal kry sodat hy eendag gerehabiliteer en weer in die samelewing opgeneem kan word. Die agt-en-tagtigjarige het tydens ’n latere onderhoud erken dat sy heel waarskynlik nie die dag sal beleef wanneer haar kleinseun uit die tronk vrygelaat word nie. Dit moes baie geverg het om Bettie tot dié slotsom te laat kom; iets wat ander, soos Heckroodt, nog nie reggekry het nie. Ek kan my nie indink hoe dit vir iemand van haar ouderdom moet voel om te aanvaar dat haar kleinseun sy suster, die bejaarde vrou se kleindogter, verkrag het en haar en hul ouers toe wreedaardig vermoor het nie. En om dan nog steeds aan die skuldige se kant te bly nie.

(Ek wil op hierdie tydstip net iets regstel. Don is nie aangeneem nie. Deon en Christel was sy biologiese ouers en Marthella was sy biologiese suster. Toe sy identiteit uiteindelik bekendgemaak is, het ’n gerug die rondte begin doen en is die sosiale media oorstroom met mense wat beweer het dat Don aangeneem is – asof dit ’n verskoning vir sy misdade is.)

Kgomo het toe oorgegaan tot die kwessie van geestesversteuring. ’n Groot deel van die voorvonnisverhoor was toegespits op die vraag of Don ’n psigopaat is en/of aan die een of ander geestesversteuring ly. Die kort antwoord is nee, maar hy sal voortdurend geëvalueer moet word ingeval enige tekens gedurende sy gevangenskap hul verskyning maak. Panieri-Peter het daarop gewys dat Don ten tyde van die moorde nog minderjarig was en dat “sy sielkundige ontwikkeling nog grootliks onvoltooid was”. Sy het erken dat daar subtiele tekens van veranderinge in sy gedrag is, maar dat almal wat lig hierop sou kon werp nou dood is. Sy het ’n Psigopatiekontrolelys met Don uitgevoer: die resultaat was ’n skrale veertien uit veertig. ’n Mens moet dertig of meer kry om as ’n psigopaat gediagnoseer te word. “Na my mening regverdig dit ’n versigtige psigiatriese evaluasie van hom in die komende jare,” het sy gesê. “Die mense wat met hierdie opvolgwerk belas word, moet weet dat hulle moet oplet vir tekens van geestesversteuring wat verskyn, waarvan die belangrikste selfmoordgedrag sal wees, asook tekens van persoonlikheidstrekke wat hul verskyning maak.” Sy het bygevoeg dat daar gedurende die volgende vyf jaar meer oor Don bekend sal raak en dat, indien hy aan ’n geestesversteuring ly, dit gedurende hierdie tydperk na vore sal tree.

In haar risiko-evaluasie van Don het Stollarz ook bevestig dat sy toets vir psigopatie negatief was. Sy het gesê dat sy volgehoue skuldontkenning ’n nadelige uitwerking op sy rehabilitasie sal hê, en daarop gewys dat daar ’n hoë voorkomssyfer van residivisme (’n neiging tot terugvalling) by seksoortreders, veral verkragters, is en dat die voorkomssyfer by jong oortreders soos Don nog hoër is. Sy het egter erken dat daar ook faktore is wat die risiko verminder, soos die feit dat dit sy eerste oortreding is, dat sy ouderdom voordelig kan wees wanneer dit by terapeutiese ingryping kom, en dat hy ’n stabiele en ondersteunende huisomgewing by die Heckroodts in Modderfontein het.

Wat vir my interessant was, was die onthulling dat Don gedurende Junie en Augustus 2012 na pornografie gekyk het. Volgens Stollarz behoort daar ’n afname in seksuele prikkeling te wees wanneer ’n mens stres ervaar, maar Don het twee maande na die moorde na pornografie gekyk. Don het gedurende die voorvonnisverhoor erken dat Marthella die mooiste meisie was wat hy geken het en dat hy selfs ’n paar van haar besittings (asook dinge wat aan sy ouers behoort het) in sy slaapkamer in die Heckroodts se huis hou. Vir my was dit grillerig. Dit het my laat dink dat hy trofeë bêre om hom te herinner aan wat hy gedoen het.

Nadat Kgomo Panieri-Peter sowel as Stollarz se getuienis in ag geneem het, het hy in sy vonnisoplegging tot die slotsom gekom dat Don ’n gevaar vir die samelewing is. Hy het aanbeveel dat Don aan enige beskikbare behandelingsprogramme vir seksoortreders deelneem terwyl hy in die tronk is, en dat hy gereelde psigoterapiesessies met ’n kliniese sielkundige bywoon om die sake wat Panieri-Peter en Stollarz albei geopper het, te ondersoek. Kgomo het spesifiek oor Bettie se brief gepraat toe hy sê: “U kleinseun is ongelukkig halsstarrig en eiesinnig. U het die skrif aan die muur gelees en dit grootmoederlik aan hom oorgedra. Hy het geweier om dit te lees of na u raad te luister. Inteendeel, hy het sy rug na die muur, en dus ook na u, gedraai.

“Die ou mense sê as jy nie wil hoor nie, moet jy voel. Die digter Jan F.E. Celliers skryf in sy gedig ‘Trou’: ‘Ek hou van ’n man wat sy man kan staan.’ Jy [Don] is oor twee dae ’n man. Jy moet nou jou sak sout opeet.”

Kgomo het daarop gewys dat Cloete om die maksimumstraf van vyf-en-twintig jaar ingevolge artikel 77(4) van die Wet op Kindergeregtigheid gevra het en dat Don se prokureur, Riaan Bode, geen “strafbeperkings” voorgestel het nie, hoewel hy erken het dat hy weet die seun sal tronkstraf kry. Daarmee het die regter Don tot ’n effektiewe twintig jaar in die gevangenis gevonnis en gesê: “Ek verminder die vonnis met vyf jaar as ’n venster van hoop waardeur jy kan kyk terwyl jy vanuit die gevangenis jou toekoms bepeins.” Dit was sy oorwoë mening dat gevangenisstraf die enigste gepaste vonnis vir Don is. Kgomo het toe beveel dat elk van die vyf vonnisse gelyklopend uitgedien word en dat dit geantedateer word tot 14 Maart 2014, die begindatum van die gevangenisstraf.

Ek was nie in die hof nie, maar het verneem dat Don geglimlag het toe hy na die aanhoudingselle geneem is. Verskeie van my bronne het bevestig dat dit waar is. Hulle was nie tevrede met die vonnis van twintig jaar nie en het gemeen dat Kgomo te toegeeflik was. Ek het met hulle saamgestem. Gelyklopende vonnisse of nie, twintig jaar vir drie lewens het na bitter min gelyk. Marthella sou heel waarskynlik nog drie keer so lank geleef het.

Die ergste van alles is dat Don Steenkamp, die Griekwastad-moordenaar, in aanmerking sal kom vir parool wanneer hy slegs 50 persent van sy vonnis uitgedien het; dit beteken dat hy voor sy agt-en-twintigste verjaardag in die gemeenskap vrygelaat kan word. Hy sal reguit na die naaste bank kan stap, waar sy ouers se multimiljoenrand-nalatenskap vir hom sal lê en wag. Ek is nie oortuig dat geregtigheid werklik hier geskied het nie. Al wat ek weet, is dat ek belowe om hom te agtervolg totdat ek die waarheid uit hom kry. Ek wil hom eendag die woorde hoor sê: “Ek het my gesin vermoor.”

Vir die jongste inligting en meer foto’s van die misdaadtoneel, besoek asseblief die boek se mikrotuiste by www.griekwastadmoorde.co.za

Het jy enige kommentaar, voorstelle of terugvoer oor hierdie boek of enige ander Zebra Press-titels? Kontak ons by talkback@zebrapress.co.za

*

Besoek www.randomstruik.co.za en teken in op ons nuusbrief vir die jongste inligting en nuus elke maand