1. Hond se gedagte
1.
Oubaas wil heeldag al aan Hilda se moemfie ruik. Daar is net mooi geen keer aan die karnallie nie. Hy is vandag weer meer katools as wat goed is vir sy ouderdom en gesondheid. Hy trippel al van vroegdag af pieliepalie agter Hilda aan en wil haar kort-kort platspring, maar sy is deesdae nie meer lus vir pomp nie en buitendien stink Oubaas se asem, want hulle het KFC Zingerburgers vir middagete gehad. Hilda verkies die gewone Rounders, want die spicy Zingers krap haar sensitiewe maag om en dan poep sy tydig en ontydig met ’n dofsware plof soos ’n afgeleefde os uit die Groot Trek.
Oubaas is al op die punt van volslae waansin so horny is hy. Sy plesierige pienk peestertjie staan punt in die wind. Kaptein, span die seile. Daar is druppeltjies kwyl op sy snorbaard en ’n dom, pleitende uitdrukking in sy oë. Hy begin so vinnig asemhaal dat dit lyk of hy enige oomblik gaan ontplof.
Hilda is nie meer lus vir hierdie kak nie. Sy kan die alewige gesnuffel tussen haar bene nie meer uitstaan nie. Sy krimp ineen, trek haar rug op ’n knop en skyt ’n dun straaltjie goudgeel stront stralend in ’n sierlike boog onder die krismisboompie in die hoek van die sitkamer. Oubaas huppel nuuskierig nader en snuffel geesdriftig aan die spuitpoepspatsels.
“Oubaas, siejy! Siejy!” skree my ouma, Engela Erwee (85), op die poedelmannetjie. Sy is so uitgeteer dat dit lyk of haar La-Z-Boy-stoel haar insluk. Haar kop bewe.
“Raas eerder met Hilda, Ouma!” sê ek.
Dit help tog nie om met my ouma te probeer praat nie, want sy raak by die dag al hoe dower en ’n mens moet alles twee of drie keer sê, oor en oor en oor, en elke keer harder as die vorige keer. Boonop dink sy die son skyn nie net uit Hilda se gat nie, maar kom ook soggens daaruit op en gaan saans daarin onder soos in ’n romantiese fliek wat in Hawai verfilm is. Die twee poedels is net so gedaan met die wêreld soos my ouma, daarom kan ek nie verstaan dat Oubaas nog so jags kan raak nie. My ouma het hom jare gelede present gekry by ’n vaalgat vroetelpappie-wewenaar met vlamrooi hakskene wat by haar vlerkgesleep het. ’n Paar maande nadat sy vir Oubaas gekry het, het sy ’n uitgeteerde, verrinneweerde weggooi-poedelwyfie, met vlooie wat aan haar vreet en droë kwylkoeke om haar bek, in die straat opgetel en haar huis toe gebring en “Hilda” gedoop.
Oubaas is ’n klein terroris. Hy hou daarvan om almal al hulle hel te gee. ’n Mens sou dit nooit van so ’n ou verpoepte poedelbondeltjie verwag nie. Iewers moes iets lelik skeefgeloop het. Dalk het die wewenaar hom destyds mishandel. G’n wonder die kleine, fyne, sagmoedige Hilda se senuwees kan dit nie meer hou nie. Dié dat sy so in die sitkamer kak – en dit nogal onder my ouma se heilige plastiek-krismisboompie wat sy al donkiejare het en wat skuins voor die fucked-up klavier staan wat al vol spinnerakke is omdat niemand meer daarop speel nie.
My ouma bly in De la Reystraat in Vrededorp (Fietas in die volksmond) in Johannesburg. Haar man, Jakobus, het vir Transnet gewerk en is vyftien jaar gelede dood toe hy voor ’n trein beland het en sy oorleef op sy pensioen. Sy kry R1500 per maand sonder mediese voordele. Daar is nie ’n manier dat sy dit sal kan bekostig om Oubaas en Hilda na ’n dog whisperer te stuur nie. En wie moet nou met die kak sit? Engela se kleinseun, wie de fok anders.
“Sal jy skoonmaak daar onder die boompie, my kind?” vra sy. “Ek is so lief vir daai boompie, dit laat my altyd so aan jou oorle’ oupa dink. Hy het dit nog in 1961 vir my by Uniewinkels gekoop, ek sal dit nooit vergeet nie.”
“Maar Hilda se kak is nog te slap, Ouma! Ons moet eers wag dat dit droog word, dan sal dit makliker wees om dit weg te gooi.”
“Nee, jy moet dit nóú doen, want mevrou-dominies De Wet kom nou-nou oor vir tee. Gaan haal die skopgrafie en ’n ou mes in die kombuis en dan skraap jy dit op en dan vat jy matsjampoe en was die res uit wat bly vassit aan die mat. En gaan kry die air freshener in die toilet.”
“Ou Dora de Wet? Is dit sy wat kom?” vra ek.
“Wat sê jy, my kind?”
“DORA DE WET!”
“Ja, my kind.”
“Maar dominee Dawid het mos afgetree, hoe kan sy dan nog ’n mevroudominies wees?”
“Wat sê jy, my kind?”
“Niks nie, Ouma.”
“Hoesê?”
Fok tog!
“NIKS NIE!”
Dan kry sy weer stilstuipe. Ek gaan soek alles in die kombuis wat ek nodig het om Hilda se kak te verwyder. My ouma se kop sak slapperig soos ’n stukkie geknakte seldery op haar bors neer en dit lyk of sy aan die slaap wil raak.
Ek voel of ek vanmiddag se KFC-koolslaai wil uitkots wanneer ek die mat begin skoonmaak. Oubaas begin Hilda weer kak byt. Kef-kef-kef, njef-njef-njef, knor-knor-knor, poep-poep-poep, grom-grom-grom, njar-njar-njar, stertjieswaai-stertjieswaai-stertjieswaai, trippel-trippel-trippel, dis om jou van toe te kak. Om alles te kroon is my ouma weer huilerig vandag, want sy mis almal wat al dood is altyd as Kersfees naderkom snik-snik-snik en geen pen kan haar smart beskryf nie snik-snik-snik en nou sit sy maar hier stoksielalleen in haar ou huisie en vergaan in hierdie ondermaanse voorportale van die verdoemenis snik-snik-snik met niemand wat na haar kyk nie (nudge-nudge-wink-wink-snik-snik-snik). En dan volg ’n helse snotverdriet-aanval met al die krane oopgedraai.
Ek sug terwyl ek Hilda se slymerige stront begin verwyder. Fokweet, ek kan nie nog my ouma se cheerleader ook wees om haar deur krismis en happy new year te kry nie. Dit sal my van my fokken trollie af dryf. Om my eie cheerleader te wees is al klaar ’n full-time job.
Skielik is my ouma weer wawydwakker.
“Watter dag is dit vandag, Lammetjie?” vra sy, nou in ’n krakerige stemmetjie wat klink of dit dié van ’n ratelende geraamte kan wees.
“Vrydag, Ouma,” sê ek hard en stadig sodat dit goed kan insink.
“En wat is die datum nou weer?”
“15 Desember 2012.”
“O, ja.” Sy bly ’n rukkie stil, maar aan die manier waarop daar iets in haar oë flikker, kan ek sien daai breintjie is weer aan die woel soos ’n speelgoedhasie wat ’n splinternuwe Duracell-battery in die hol opgedruk gekry het. Dit lyk of sy probeer sommetjies maak in haar kop wat by die dag al kleiner word en een van die dae soos ’n ertjie gaan lyk.
“Dan is dit nog net ses dae!” sê sy.
“Nee, dis nog tien dae tot Kersfees, Ouma.”
“Ek praat van 21 Desember, my kind, nie die 25ste nie. Op 21 Desember gaan dit mos die Oordeelsdag wees. Op watter dag val dit?”
“Dis volgende Vrydag.”
“Hoesê, my kind?”
“DIS VOLGENDE VRYDAG!”
My ouma sit dag en nag en TV kyk en het ’n dokumentêre program van National Geographic gesien waarin hoogaangeskrewe wetenskaplikes en ander gesiene eerbiedwaardiges oortuigend aangevoer het die wêreld sal op 21 Desember 2012 vergaan en dat die mensdom sy gat goed en deeglik en dubbel en dwars gaan sien. En as National Geographic so sê, dan moet dit so wees. Volgens hulle gaan dit iets allerverskrikliks wees. Vuur, swael en verskrikking. Visioene uit die hel se kakhuis. Net ’n paar mense sal oorleef. Daar gaan next to fokol oor wees van alles wat eens op aarde was. Geen water nie, geen kos nie, geen elektrisiteit nie, geen internet nie. Dit gaan ’n weird zonked-out zone wees wat alle verstand te bowe gaan.
Ek het nog nie uitgefigger of ek hierdie kak glo of nie. Deesdae is enigiets moontlik en is daar te veel goed wat nuut onder die son is, so dit sal my nie verbaas as die kak ons kolskoot in die gesig gaan tref nie. En in vandag se wêreld weet die meeste mense anyway ook nie meer wat die verskil tussen reality en ’n conspiracy theory is nie, of die verskil tussen reality en ’n soapie, of tussen reality en reality TV, of tussen reality en ’n sitcom. Vir almal het dit alles ’n morsige mixed grill in ’n pressure cooker geword waarin ’n duiwelsdrek-heksebrousel vrolik borrel en bruis dat die stoom so staan en niemand kan genoeg kry daarvan nie, elke dag word dit van vooraf weer vir ons opgedis. Wat my betref, kan die hele ou spul maar uitfok.
Fok, dit gaan oudergewoonte weer ’n kak krismis wees. Jingle bells jingle all the fucking way. To top it all, hou ek fokol van ou Dora de Wet met haar pers pruimbekkie en fancy gedoende hare wat lyk of sy haar kop elke oggend in ’n sement-mixer druk. Ek onthou nog hoe haar man, broer Dawid, altyd op die preekstoel gebulder het: “Donker wolke pak saam! Die dood is in die pot!” toe ek nog op skool was. Ons het vir ou Dora die bynaam Droëwors gegee omdat ons vermoed het dis omdat sy nie genoeg piel kry nie dat sy so ’n pyn in die gat is. Vir broer Dawid het ons Duiwel de Wet genoem omdat hy altyd by die Sondagskool vir ons vertel het hoe ons eendag in die hel gaan braai as ons rook, suip, draadtrek en naai voor ons trou.
Oubaas trippel opgewek om my rond terwyl ek probeer om Hilda se kakvlekke afgewas te kry. “Fokof!” sis ek vir hom.
“Wat sê jy, my kind?”
“Hilda se stront lyk nie gesond nie, Ouma,” sê ek so hard soos Lou Ferrigno in The Incredible Hulk sodat sy my mooi kan hoor.
“Hoekom? Hoe lyk dit?”
“Dis loperig en groen. Dit lyk vrot.”
“Hoesê, my kind? Sê weer?” My ouma leun vorentoe in haar La-Z-Boy om beter te kan hoor. Haar kop bewe weer gevaarlik.
“DIT LYK SOOS VROT SNOT!”
Sy snak na haar asem, gryp haar jammerlappie en sak weer agteroor in haar stoel. Sy kan wragtag nie langer hier in Vrededorp bly nie, dis te gevaarlik. Daar is te veel gangsters en verkragters wat onlangs uit die tronk vrygelaat is of op parool is, tikkoppe en homeless hoere wat dag en nag rusteloos deur die strate sluip, jy kan jou voordeur vir net mooi niemand meer oopmaak nie. Sy sal ouetehuis toe moet gaan. Daar is geen ander uitweg nie.
“Dink jy Hilda is siek, my kind?”
“Dis seker maar iets soos wanvoeding. Dit lyk darem nie of sy besig is om dood te gaan nie. Maar dit kan ook voedselvergiftiging of so iets wees, ’n mens weet nooit.”
“Wat het geword van daai dogtertjie wat saam met jou op skool was en wat nooit kon ophou huil nie, Lammetjie?” verander my ouma skielik die onderwerp. “Wat was haar naam nou weer?”
“My naam is Malletjie, Ouma, nie Lammetjie nie!” sê ek, maar sy hoor my nie.
Ek is niemand se Lammie of Lammetjie nie. Ek is nie ’n fokken skapie nie. My regte naam is Lambert Malan. Toe ek klein was, het almal my Lammie of Lammetjie genoem. My beste buddy op skool was egter dislekties en hy het my Malletjie genoem, en die naam het bly steek. Malletjie Malan. One time.
“Hoesê, my kind?”
“EK KAN NIE HAAR NAAM ONTHOU NIE!”
“Waar is sy nou?”
“EK WEET NIE!”
“Ai, sy was tog so ’n pragtige kindjie, ek onthou haar gesiggie nog ná al die jare,” sê my ouma en klik haar tong asof sy pas gehoor het ’n bekende aktrise of geliefde minnesanger het ’n lang stryd teen ’n nare en uitmergelende siekte verloor.
Dan kry sy weer ’n stilstuipe-aanval. Die matsjampoe skuim tussen my hande. Een van die versierings aan die krismisboom is ’n neonblou plastiekengeltjie wat hoog bo aan ’n garingdraadjie hang en lyk of hy sweef. Hy waak oor die heilige kol waar Hilda gekak het. Dit lyk of hy vrede met die wêreld het. Lucky bastard.
Ná tien minute vra my ouma weer: “Sê my ’n bietjie, Lammetjie, wat het geword van daai dogtertjie wat nooit kon ophou huil nie?”
“Sy het Miss South Africa geword,” lieg ek.
“Sê weer?”
“SY HET MISS SOUTH AFRICA GEWORD!”
Oubaas kyk my gesteurd aan. Hilda poep diep en behaaglik. Dit stink verskriklik. Ek gryp die air freshener en spuit dit dat dit lyk asof daar ’n napalm-wolk om die krismisboompie hang. Van die druppeltjies sif soos acid rain op die plastiekengeltjie se vlerke neer.
“My jinne, my kind, wat vertel jy my nou? En sy het seker met ’n ryk man getrou, ’n professor of ’n dokter of ’n ding?”
“Nee, sy is getroud met ’n vrou wat die till slaan in die Pick n Pay.”
“Hoesê?”
“SY HET MET DIE GROOTBAAS VAN SUN CITY GETROU!”
“Jinne, my kind,” sê my ouma en vroetel weer met haar snotsakdoekie. “Daai selfde een met wie Anneline Kriel ook getroud was?”
“Einste, Ouma!”
Sy leun weer terug in haar La-Z-Boy. Die are op haar kop lyk nou perser as toe ek hier aangekom het.
“Ouma, ek het gedink …”
“Ja, my kind?”
“Dit is nie meer veilig hier in Vrededorp nie. Dis nêrens in Johannesburg meer veilig nie. Baie oumense wat alleen bly, word beroof. Ek dink Ouma moet ouetehuis toe gaan. ’n Mens lees elke dag in die koerant van oumense wat wreed gemartel en vermoor word. Daar was vandag weer ’n storie oor ’n vrou wat in haar huis in Brixton aangeval is. Die skobbejakke het haar vasgebind, met sigarette en ’n strykyster gebrand, haar vyf keer verkrag en toe acid op haar gesig gegooi.”
My ouma word bleek. Baie bleek. Sy klem haar sakdoekie stywer vas. “Deur wie?” vra sy.
“Niemand is nog gevang nie. So, ek dink nie Ouma het ’n keuse nie. Ouma moet ouetehuis toe gaan. Ek sal Huis Hartelus in Newlands bel en vra of hulle plek het.”
“Newlands! Dis hopeloos te ver!” Haar kop begin weer erg bewe. “En wat dan van Oubaas en Hilda? Hulle sal mos nie dat ek hulle saamvat nie?”
“Ons sal hulle dan maar moet laat uitsit.”
Sy snak na haar asem. “Oor my dooie liggaam! Ek bly net hier!”
Oubaas en Hilda het hulle name gehoor en gluur my aan asof ek laer is as die donkerste skaduwee van Jaws se stinkste, grootste bol kak op die diepste bodem van die Dooie See, en laat sak dan hul koppe om hul middagslapie al sugtend en poepend tegemoet te gaan.
“Nee, ek gaan nêrens nie,” sê my ouma beslis. “Dit maak tog buitendien nie meer saak nie, want dis nog net ’n week tot die Oordeelsdag en dan sal ek veilig by my Hemelse Vader wees en ek is seker Hy sal Oubaas en Hilda ook saam met my neem. Hulle kan maar kom inbreek, dit maak tog geen verskil meer nie.”
Ek kry nie al Hilda se kak uit die mat nie. Ek spuit air freshener op die klammerige, muwwerige bruin vlekke wat oorgebly het en skuif dan die krismisboompie dat dit reg bo-op dit staan sodat ’n mens dit nie kan sien nie. Ek gaan gooi die gemors weg, bêre die matsjampoe, gooi die mes in die asblik en die skopgrafie by die agterdeur uit en was my hande.
Na ’n swanger stilte van vyftien minute raak my ouma se tong weer los. “Sê my ’n bietjie, Lammetjie, wat het geword van daai dogtertjie wat jou maatjie was en wat nooit kon ophou huil nie?”
Fok tog!
“Sy is dood, Ouma.”
“Hoesê, my kind?”
“SY IS DOOD!”
“Jinne, my kind, wat vertel jy my nou?” My ouma se oë is skielik groot en lyk of hulle stokstyf wil staan. “Wat het gebeur?”
“Sy is verkrag en keelaf gesny.”
Sy snak weer na haar asem en vat haar snotsakdoekie stywer vas. “Waar het dit gebeur, my kind?”
“Sy was alleen in haar woonstel. Hier naby iewers, in Mayfair of Pageview.”
“Jinne, my kind, dis verskriklik,” hyg sy. “Was sy getroud?”
“Ja, haar man was die Springbok-kaptein Bees Bosman. Onthou Ouma nie? Hulle troukiekie was nog op Huisgenoot se voorblad,” praat ek kak.
My ouma probeer dink en vroetel weer senuweeagtig met haar sopnat sakdoekie. “Ai tog, Lammetjie. En ons almal het altyd gedink sy sou eendag met jou trou, julle was tog so uitgeknip vir mekaar. Tsk-tsk,” klik sy haar tong. Dan verander sy weer haar deuntjie. “Hoor hier, my kind, wil jy nie solank vir ons ’n mooi plaatjie opsit voor mevrou-dominies kom nie? Kyk daar by my CD-spelertjie, daar lê ’n paar CD’s. Sit iets mooi op, soos Rina Hugo se ‘Blye versekering’ of Gé Korsten se ‘Amazing Grace’.”
Dit sal die bleddie dag wees. Ek haal my Samsung Galaxy S4 Life Companion-slimfoon uit my broeksak en krap in my drasak vir my Portable Philips Wireless & Universal Music Speakers. Op my playlist kies ek Pizzaman se hit “Sex on the Streets”. Ek draai die volume vol oop. Dis hoog tyd dat die biesies weer ’n slag bedonnerd bewe, fokweet.
“CLAP YOUR HANDS! CLAP YOUR HANDS!” trek ’n klomp lekker losgat terte los. Jy kan hoor hulle is lus om hard te paartie. Jy kan sommer sien hoe swaai hulle hul bikiniboude in die diskoligte. Dan neem ’n man by hulle oor wat klink soos ’n knypgat Amerikaanse politician wat ’n speech gee dat jy vuur en swael deur die lug hoor spat. Hy waarsku dat daar mense is wat ’n veldtog beplan om seks in die strate van Amerika te hê – “in every major city from coast to coast!”
Maar dit is nie al nie …
Hy bulder soos ’n besete vark van Gadara dat hy ons nou uit ons geloof uit gaan skok, want raai wat? Die musiek wat hierdie straatnaaiers gaan gebruik om die mensdom te vermorsel en die beskawing te laat verkrummel is daardie verrotte, vuil, vieslike, wellustige, dierlike gemors genaamd rock ’n’ roll!
My ouma maak gaapbewegings soos ’n moeg gespartelde baber op droë grond en probeer met my praat, maar ek maak of ek haar nie hoor nie.
Diengdong-diengelongdong lui die voordeurklokkie. Ek gaan maak oop. Dora de Wet dra ’n roomkleurige rok so reg uit Foschini. Haar parfuum is so skerp dat dit in ’n suur pong om haar hang. My ouma sê altyd mevrou-dominies lyk op ’n haar na soos Monika Vorster in Egoli: Plek van goud, ’n mens sou sweer hulle is ’n tweeling.
“Middag, Lambert, dis gaaf om jou weer te sien,” kom dit oor Dora se stywe lippies. Sy kom nader om my te soen. Ek draai my kop vinnig weg en koes net betyds, want haar geplooide mondjie met die moesie op die bolip laat my dink aan ’n toegeknypte varkpoepholletjie in ’n Vrystaatse winter.
“Wat gaan hier aan?” vra sy. “A nee a, watse heidense musiek speel julle?”
“Dis die sokkie-remix van ‘Al lê die berge nog so blou’,” sê ek. “Kom binne.”
“Sit dit dádelik af!” blaf sy. “Het jy dan geen respekte vir mevrou Erwee nie?”
My ouma se gesig helder op toe sy vir Dora sien. Sy straal asof sy die engel Gabriël homself in al sy glorie aanskou en smaail van oor tot oor, jy sien net winkeltande. “Middag, mevrou-dominies! Kom sit, kom sit! Maak uself tuis! Hoe gaan dit met u?”
“Middag, mevrou Erwee, goed dankie en met u?”
“Ag, dit gaan maar ellendig, my ou bene is so seer en ek het ’n lastige hoesie wat nie wil weggaan nie en ek kan ook nie meer aldag so mooi sien nie, dit voel of ek deur ’n waas kyk,” sê sy in haar teemstemmetjie. “En ek kan ook nie meer mooi hoor nie. Alles klink soos ’n fluistering.” Soos te wagte skop die selfbejammering weer in en sy begin droewig huil.
“Ag foeitog, mevroutjie, ek is só jammer om dit te hoor!” sê Dora. “Neem mevroutjie darem iets vir die lastige hoesie?”
“Ja, Lammetjie het darem vir my hoesmedisyne gebring.”
“Mevroutjie moet net nie te veel daarvan drink nie, hoor! ’n Mens kan verslaaf raak daaraan,” sê Dora streng. “En raai wat? Ek het vir mevroutjie ’n klein ou Kersgeskenkie gebring! Ek weet dit is nog ’n bietjie vroeg, maar ons is so besig dat ek mevroutjie seker nie voor volgende jaar weer sal kan besoek nie.”
“Ag baie dankie, mevrou-dominies, u moes nie!” My ouma skeur die pakkie opgewonde met bewerige handjies oop. “Oe, dis dierbaar van u!” roep sy verruk uit. “’n CD van Bobby van Jaarsveld! Kyk net hoe ’n pragtige seun is hy!”
“Ja, hy is ’n baie oulike kind, mevroutjie, en hy stel ’n baie goeie voorbeeld vir ons jeug, want hy het getrou voor hy kinders gekry het en elke keer as daar weer ’n ou babatjie vir hom en sy pragtige vroutjie kom, vra hy vir God om vir die kinders name te gee en dan fluister Hy die name vir hom saans in sy drome. Dit is vir my tog so mooi. Dit gryp my so aan. Ons land het meer sulke rolmodelle nodig.”
“Bobby kan my piel suig,” sê ek sag, maar hard genoeg vir Dora om te hoor. Dit lyk of sy ’n waatlemoen wil kak.
“Hoesê, my kind?” vra my ouma.
“BOBBY HET ’N VLIEGTUIG!”
“Sjoe, dan is hy seker skatryk.”
“Ja, Ouma, hy’s ’n triljoenêr!”
Dora gee my ’n kyk wat haar soos ’n vuil uil laat lyk, maar ek kan sien sy is nou self skielik nie meer seker of sy reg gehoor het of nie.
“Lammetjie, gaan maak vir ons tee, my kind,” sê my ouma. “Daar is Zoo-koekies in die kas, bring dit ook saam.”
Ek gaan sit die ketel aan. My ouma se huis is so klein dat ek elke woord wat hulle sê tot hier in die kombuis kan hoor, selfs al praat ou Dora meteens sagter.
“En Lambert, mevroutjie?” vis sy. “Hoe gaan dit met hom? Het hy darem al ’n meisie? En gaan hy nog gereeld kerk toe?”
“Ag, mevrou-dominies, ek weet nie wat om te sê nie, ek sien hom omtrent nooit nie en as ek hom nie vandag gebel het en gevra het om vir my hoesmedisyne te gaan koop nie, sou ek hom seker ook nie gesien het nie.”
“Ai tog, mevroutjie, dis darem nie mooi nie …”
“En noudat die Oordeelsdag Vrydag gaan aanbreek, dink ek so baie aan al my dierbare geliefdes wat my ontval het en verlang ek so verskriklik na hulle.” My ouma bars weer in trane uit.
“Ag nee, mevroutjie! Wat is nou fout? A nee a, ’n mens huil mos nie as jy weet die Here hou jou hand vas nie!”
“… en ek sien saans as ek droom hoe ek my geliefdes volgende week in die hiernamaals gaan ontmoet,” gaan my ouma snikkend voort, “maar as ek so na hulle gesigte kyk in my drome daar waar hulle in die hemel sit, is Lammetjie se plekkie leeg.” Sy gee ’n rou snik.
“A nee a, mevroutjie, moenie nou al bekommerd wees oor wat volgende week gaan gebeur nie! Môre is Geloftedag en ek is seker Lambert sal sommer die héle dag by u kom kuier en Kersfees ook, dan sal mevroutjie sommer báie beter voel,” kwetter Dora. “Ons kan nie ingryp in die weë waarop die noodlot ons stuur nie, mevroutjie, dis te onbegrypbaar vir ons klein menslike verstand, soos broer Dawid altyd sê.”
Ek gaan sit op die trappie by die kombuisdeur terwyl ek wag dat die water kook. My ouma se agterplaas is vervalle. Die gras is lank, die kakiebosse staan wild, die blomme is dood, die wasgoedpale staan skeef en die drade hang slap. Verdroogde, ou hondedrolle lê die wêreld vol.
My foon buzz om te sê daar is ’n nuwe SMS. Ek druk die koevertjie op die touchscreen om te sien wie my soek. Big dreams? Check your credit status online for free! SMS YES to quote/STOP to opt out. Std rates. T&C.
Waddefok! Ek delete dit dadelik. Dis tien dae voor krismis en dié soort kak is deesdae al wat ek kry. Ek check of daar e-mail is. Fokol. Almal het van my vergeet nadat ek in Julie retrench is. Fokweet wat ek gaan doen.
’n Boeing kom laag oorgevlieg en doof die vroumense se gesanik in die sitkamer vir ’n rukkie uit. Ek wens ek was op daai vliegtuig wat sy silwer spoor deur die blou lug sny. Eersteklas. One-way ticket. Destination unknown.
Oubaas en Hilda het die vliegtuig se suisende gedruis gehoor en kom met flappende ore uit die huis gestorm. Hulle gee sulke knopgat knorretjies en jaag die skaduwee van die vliegtuig op die grasperk van noord na suid. As hulle by die heining om die erf kom en die skaduwee verdwyn, steek hulle in hulle spore vas en staar voor hulle uit asof hulle met volslae domheid geslaan is. Oubaas gee ’n verspotte huppel en begin aan Hilda se moemfie ruik. Sy is oombliklik afgepis en grom vir hom. Dit lyk nie of Oubaas vandag lus is vir kak nie en hy knor terug. Sy tande is al geel en stukkend. Sy tong hang uit. Spoeg spat die wêreld vol. Hy probeer op Hilda klim, maar sy skud hom af en byt hom aan sy keel. Hy steier en hol die huis tjankend, stert tussen die bene, binne.
Die ketel sing. Ek haal die koppies, teepot, teelepels, melk, suiker en Zoo-koekies uit, pak alles op ’n skinkbord en gaan terug sitkamer toe. Goddank sit my ouma nie meer en huil nie.
“Het u gehoor wat met Japie en Gesie Volschenk gebeur het, mevroutjie?” vra Dora terwyl ek die skinkbord vir haar hou. “Mevroutjie onthou seker mos nog Japie was hoog op in die Broederbond. Hy was ’n belangrike mens. En Gesie het altyd die pragtigste blommerangskikkings gedoen vir dope, troues en begrafnisse. Wel, sy het hom nou die dag by ’n spa betrap, kaal met net ’n handdoek om sy private dele en ’n jong meisie sonder ’n buustelyfie wat hom vol olie vryf. Is dit nie verskriklik nie? Gesie het hom nou vir ’n egskeiding gedagvaar.”
“Genade, mevrou-dominies, wat vertel jy my nou?” stotter my ouma en klem haar snotsakdoekie stywer vas. Dis so helder soos daglig dat sy nie die vaagste benul het van wie ou Dora praat nie.
“Nee, mevroutjie, ek weet tog nie wat van hierdie wêreld word nie. Die duiwel loop los, sê ek nou vir u, hy loop lós.”
Ou Dora bly stil vir ’n dramatiese verposing, laat haar woorde vir ’n rukkie in die lug hang en sug dan soos ’n diep denker terwyl sy haar tee roer.
Ek gaan kyk watter CD’s by my ouma se CD player lê en sit Josh Groban se “You Raise Me Up” op. Die eerste versie is nog nie eens klaar nie of ou Dora en my ouma bars in trane uit en ween met oorgawe asof hulle langs die riviere van Babilon sit.
“Ag, is dit nie te pragtig nie, mevroutjie? Is dit nie te prágtig nie!” sê Dora ekstaties. “Pure manna vir die siel!”
“Het julle al die TV-advertensie gesien waarin hulle ‘You Raise Me Up’ gebruik?” vra ek.
“Nee?” sê Dora.
“Hulle gebruik dit om Viagra te adverteer,” lieg ek.
“Wat, my kind?” vra my ouma.
“VIAGRA, OUMA!”
“Wat is dit?”
“PILLE WAT JOU TOTTERMANNETJIE STYF MAAK!”
Dit lyk of Dora ’n ystervark insluk. Sy gee my weer ’n vuil kyk en haal tissues vir haar en my ouma uit. Hulle snuit hulle neuse luid en slordig.
“Kom ons gesels eerder oor die mooi dinge in die lewe, mevroutjie,” gaan Dora voort. “Wat gaan julle môre op Geloftedag eet?”
“Ek weet nie, mevrou-dominies, Lammie sal seker vir my ’n bietjie KFC of McDonald’s bring.”
“O, ek sorg dat ons altyd báie moeite doen op godsdienstige vakansiedae, want dan kom ál die familie altyd oor vir ete,” sê Dora.
“Dis nie meer Geloftedag nie, dis nou Versoeningsdag,” sê ek.
Dora kyk my aan asof ’n muishond my pas uitgekak het. “Vir my en broer Dawid en ons gesin was dit nog altyd Geloftedag en Geloftedag sal dit vir ons bly,” sê sy ferm. “Dit is en bly ’n heilige dag, net soos Kersfees.”
“En wat gaan mevrou-dominies-hulle môre eet?” vra my ouma.
“Oe, mevroutjie, vir voorgereg beplan ek ’n sampioen-preisop met klein aartappeltjies, en u weet, almal in my familie het maar hulle ou dingetjies en ek wil graag toesien dat elkeen sy gunsteling-vleis op sy bord het. Daarom het ek ook gebraaide garnale op pasta, vegetariese cannelloni, Marokkaanse lamstjops en roosmaryn-lemoenhoender. Broer Dawid se suster hou ook daarvan dat ons ’n ietsie tradisioneels geniet omdat dit nie net ’n godsdienstige dag is nie, maar ook ’n kulturele dag, en het gesê sy sal ’n doekpoeding en ’n gemarineerde skaapkop ook bring. So daar sal ’n ou ietsie vir almal op die tafel wees. En dan natuurlik geelrys met rosyntjies, pampoenkoekies met ’n karamelsousie, aspersies en boontjies. En vir nagereg malvapoeding en klappermelk-brood-en-botterpoeding, en daarna sjokolade-kraakhappies en hertzoggies saam met die koffie.”
“Sjoe, mevrou-dominies, maar jy sal jou mos morsdood moet werk, jou arme mens!” sê my ouma.
“Nee wat, my bediende doen sommer alles. Sy is ’n regte raakvatter, ek het haar mooi geleer. Ek sal wel ’n ogie hou, want ’n mens weet mos nooit met die goed nie, maar alles verloop tot dusver seepglad.”
Dora doop ’n Zoo-koekie in haar tee.
“Hoe gaan dit by die koerant, Lambert?” vra sy en hap die kop af van die apie op die koekie.
“Uitstekend,” lieg ek. “Hulle het vir my gesê ek gaan nog een van die dae redakteur word.”
“Ag, maar dis goeie nuus!” sê sy toe sy klaar gekou het. “En hoe is dit gesteld met jou sieleheil?” Sy doop nog ’n koekie in haar tee, hierdie keer een met ’n hond op. Sy hap sy stert af.
Ek is skielik nie meer lus vir hierdie kak nie. “Ek het nie ’n siel nie,” antwoord ek. “Toe ek in matriek was, het julle mos vir my gesê mense soos ek is ’n gruwel in God se oë. So, hoekom sou ek dan ’n siel hê?”
Dora verstik byna. My ouma snak na haar asem. Die are op haar kop raak al hoe perser.
“Hoe kan jy so iets vir mevrou-dominies sê, Lammetjie!” begin sy weer in haar huilstemmetjie praat.
“Toe ek nog ’n kind was, het die dokter wat gehelp het met die geboorte gesê ek is ’n oorgangsgewas,” lieg ek.
“’n Oorgangsgewas?” vra Dora.
“Ek was kanker in my ma se baarmoeder. En ek is die wandelende bewys daarvan dat kanker gebore kan word.”
Die twee vroue is sprakeloos. Dora se gesig is so bleek soos ’n opgebruikte vadoek.
“Voel mevrou-dominies ’n bietjie sleg?” vra ek haar. “Ek het pilletjies hier wat jou weer in ’n kits pure perd sal laat voel. Op die boksie staan dit help vir die regenerasie van die intestinale flora.”
“Lammetjie, jy maak my hart baie seer,” neul my ouma en begin weer huil.
Oubaas kom ingehardloop. Sy poloniepienk pielietjie staan stokstyf en is slymerig en vol grond. Dit is duidelik dat hy nie meer weet waarnatoe nie. Hy is buite beheer. Hy spring soos ’n hondsdol ding teen Dora se been op en begin haar kuitspiere vinnig en sekuur naai. Na so agt stote gee hy ’n verspotte blaffie van vreugde en kom dat die kranse antwoord gee.
“Fiddlesticks!” vloek Dora. “Vlooi! Siejy! Kyk nou net hoe het jy my broekiekous geskeur! En julle moenie in mevrou Erwee se huis poefies nie!” Oubaas kyk haar verward dog dankbaar in die oë. Sy gee hom ’n harde raps op sy snoet en hy hardloop stert tussen die bene weg.
“Sy naam is nie Vlooi nie, sy naam is Oubaas,” sê ek.
Dora maak of sy my nie hoor nie. Sy haal ’n tissue uit haar handsak en vee Oubaas se taai spatsels van haar been af.
My ouma is diep geskok. Die skande! Die teekoppie val uit haar bewerige handjie en haar snotsakdoekie fladder grond toe. Haar oë staan stokstyf. Sy maak ’n paar rukbewegings en sak terug in haar La-Z-Boy. Haar tong hang uit.
“Mevrou Erwee! Mevrou Erwee!” gil Dora histeries. Sy klap my ouma op haar wange. “Mevroutjie! Hoor u my?”
Oubaas begin tjank. Sy snorbaard bewe van ontsteltenis. “Mevrou Erwee het ’n aneurisme gehad!” skree Dora dat haar wange sidder. Hilda strompel na die krismisboom en kry weer ’n spuitpoep-aanval.
“Wat is ’n aneurisme?” vra ek.
“’n Aar het in haar kop gebars!”
Diengdong-diengelongdong lui die voordeurklokkie.
“Ag nee, nie dit ook nou nog nie!” Dora rol haar oë ten hemele. “Gaan kyk wie dit is!” blaf sy. “Ek bel solank die ambulans!”
Ek maak die voordeur oop.
“Is mevrou Engela Erwee tuis?” vra ’n vreemde jong man.
“Ja, maar sy is nie nou beskikbaar nie. Kan ek help?”
“Ek werk by dokter Joggie du Toit, die veearts daar in Brixton. Hy het my gevra om mevrou Erwee se papegaai vir haar te kom aflaai. Hy was ’n bietjie olik en vir drie dae by ons. Mevrou Erwee het hom Dinsdag gebring en gesê hy het ’n lastige hoesie en is hardlywig. Sy dink ook hy het water op die longe en geheueverlies en het gevra dat ons hom vir waarneming moet hou, maar dokter Joggie sê hy is nou weer perdfris.”
Fok, ek het skoon van my ouma se papegaai vergeet.
“Hallo, Pik!” groet ek hom.
Pik pik-pik-pik verwoed met sy snawel teen sy hok se tralies. Duiweltjies dans in sy oë. Hy wikkel sy bloedrooi stertvere gevaarlik. Hy lyk bedonderd. Baie bedonderd.
“GOEIEMÔRE, SUID-AFRIKA!” bulder hy.
2.
DJ Funk Soul Brother is shit hot. Hy speel die underground night club The House of Love in die middestad en trance-paarties op plase naby Jo’burg oor naweke aan die brand met sy mix van psytrance, post-progressive para-psychedelic, hardcore post-triphop, meta-industrial goth en ’n bietjie old-school jungle en drum & bass. Die wannabe hipster intellectuals van die media beskryf hom as “die mistieke anargis van post-psigedeliese prototrance”. Sy regte naam is Rocky Johnson. Hy het tot onlangs in die tweedehandse boekwinkel Good Reads in Greenside gewerk, maar die eienaar is gehijack en vermoor en sy familie het die winkel toegemaak. Daarna het hy ’n job gekry by Pulp Books in Parkhurst, maar dit het vir hom begin voel of elke dag se nine to five soos ’n ketting is wat net al hoe stywer en stywer om ’n honger hond se nek trek tot dit hom heeltemal verwurg en hy het toe bedank. Girls vrek oor Rocky, want hy lyk op ’n haar na nes Ethan Hawke in Reality Bites. Hy is my beste buddy.
Ek het genoeg gehad van Dora de Wet en die kak en drama by my ouma se huis, die hok met Pik daarin in Dora se arms gedruk en gesê ek moet dringend waai, ek kan nie ’n sekonde langer bly en wag tot die ambulans kom nie. Ek het ’n belangrike afspraak met die aandeelhouers van die koerant oor hoe om hulle winste op te stoot, het ek gelieg, maar eintlik wou ek net by Rocky uitkom, want ons het dik stukke om te praat. Ons het ’n soort van partnership begin omdat ons dringend moet dink aan maniere om geld te maak nadat hy bedank het en ek retrench is by Volksmond, die trashy tabloid waar ek drie jaar lank ’n fotograaf was. Ek kan seker freelance, maar ek wil fokweet vir lank nie weer aan ’n fokken kamera raak nie. Ek het al genoeg dooie en opgefokte mense afgeneem, genoeg regte bloed en Ware Lewensdrama-derms, genoeg isdaar-nog-trane-tragedies, genoeg vetgat politicians wat soos slymerige brulpaddas op steroids lyk, genoeg sogenaamde reuse van die sakewêreld met hulle swart ogies soos dié van die haaie in Jaws, genoeg moordenaars en celebrities en verkragters, genoeg gesigte, een na die ander, eindeloos soos shadows teen die mure van ’n spookhuis vol uitgezonkte spaced-out zombies.
Rocky maak ook nie juis ’n fortuin met sy gigs nie. As jy wil geld maak as DJ in Johannesburg, moet jy in die nightclubs in Sandton jol. En as jy gigs by sulke plekke wil score, moet jy eers gatkruip en pielsuig by die eienaars en cocaine deals vir rich bitch cougars clinch en ’n VIP by The Lollipop Lounge wees. Maar DJ Funk Soul Brother speel vir die liefde van die saak en nie vir die bucks nie. Solank almal net ’n lekker tyd het as hulle dans op die hipnotiese beats wat hy optower, is hy meer as happy.
Ek en Rocky het gekliek twee koppe is beter as een en dat dit beter sal werk as ons saam planne uitdink oor hoe om te survive. Die pakket wat ek van Volksmond gekry het toe ek retrench is, was nou nie exactly ’n royal kakhuis vol geld nie en baie daarvan is deur skuld opgevreet. Om van tax nie eens te praat nie. Gee die keiser meer as wat hom toekom, die fokken varkhond uit die hel. Dit lyk my ek sal my ouma boonop ook nou aan die lewe moet help hou. As ek en Rocky nie ons gatte in rat kry nie, gaan ons kort voor lank soos kerkmuise begin leef, net om eendag as kerkhofrotte te vrek. Welkom in Kakstraat. Jy hoef nie eens jou voete op ons voordeurmatjie af te vee nie.
Ons eerste plan was om ’n soort van private investigating agency te begin wat spesialiseer in sake soos owerspel en liefdesbedrog. Rocky het die idee gekry toe hy een aand na die TV-program Cheaters gekyk het. Ons kan rondnaaiers uitsnuffel en skelm foto’s en video’s van hulle in compromising positions vat. Met my background as tabloid-fotograaf behoort dit peanuts te wees. Ons het gedink dis ’n briljante idee. Ons het hard gedink aan ’n naam vir die agency en dit toe The Third Eye genoem. Rocky het vir ons ’n website ontwerp om ons dienste te adverteer, maar ons het nog geen navrae gekry nie en moet dringend begin dink aan ander maniere om geld te maak.
Ek parkeer my fucked-up Opel voor die gebou in Ameshofstraat, Braamfontein, waar Rocky se flat is. Ek het kliphard na The The se CD Dusk geluister in die kar op pad hiernatoe. Die woorde van die laaste song, “Helpline Operator”, eggo nog in my kop toe ek die kar toesluit. Ek probeer om die prentjies te sien van die storie wat die song vertel. Daar is ’n man wat wag dat die son moet sak oor die stad sodat die stemme van die nag kan begin opklink. Hy ruik die pyn op die asems van verlore siele. Hy hoor die geheime wat in almal se harte fluister.
’n Straatkind bedel geld by die ingang waar ek die buzzer druk. Die stad is besaai van hulle. Hy is vuil en sy klere is stukkend en geskeur. Hy stink na drank en gom en sy oë lyk leeg, soos dié van ’n bok wat ’n doodskoot gekry het. Sy skurwe vel is vol rowe en snyplekke. Ek gee hom die laaste kleingeld wat ek in my sak het. “Thank you, master, God bless you,” prewel hy, skarrel weg soos ’n rot en word deur die donker nag ingesluk.
Die liggie op die buzzer se speaker flikker.
“Ja?” Oor die krakende speaker klink Rocky se stem soos dié van ’n alien action hero in ’n PC game.
“Dis ek, Malletjie!”
“Piele! Kom in.” Ek maak seker dat die hek agter my toeklik en druk 7 by die lifts.
“Jisjisjis, bru, hoezit?” vra Rocky toe hy sy deur oopmaak. Omtrent al die mure in sy flat is vol rakke wat oorloop van CD’s en boeke. Vyf Coke-kratte vol ou vinyl-LP’s staan die grootste deel van die vloer vol. Posters van die flieks Masked and Anonymous, Journey to the Underworld en Underground Uprising is in die gang teen die muur opgeplak en op die stukke van die rakke wat uitsteek voor al die boeke en CD’s is daar skulpe, draadfiguurtjies van diere wat in neonkleure geverf is, ’n miniatuur-aardbol met ’n lampie binne-in wat dit supernaturally laat gloei, lighters, vuurhoutjieboksies en halwe pakkies Wilson’s XXX. Ons gaan sit en steek Princeton Filters aan.
“Dit gaan maar bra kak,” sê ek en vertel hom wat alles by my ouma se huis gebeur het. “Ek dink nie daar het ’n aar in haar kop gebars nie. Ek dink sy het net uitgepass. Dit gebeur nou en dan, en dan kom sy ’n rukkie later by en gaan aan asof niks gebeur het nie. Ek dink dis maar net bloeddruk. En dis net omdat daai predikantsvrou so ’n ou fokken melodrama queen is dat sy haar verbeel het my ouma skop die emmer.”
“Holy shit,” sê Rocky.
“En gister het die boontjietellers van Volksmond my gebel en gesê hulle het per ongeluk vir my R20000 meer uitbetaal as wat ek moes kry en dat ek dit moet teruggee. So ek gaan basies next to fokol bucks oorhê.”
“Fok hulle!”
“Ek is nog die moer in vir hulle omdat hulle my retrench het, want dit was oor hulle eie stupidity. Niemand koop meer koerante nie omdat hulle al die nuus verniet op die internet kan lees. Volksmond kan anyway ook nie kers vashou by die markpenetrasie van sy mededingers in die dagbladpers nie.”
“Jirre, dit klink kinky,” sê Rocky. “Ek like dit as jy soos ’n journalist praat. Is dit ’n opsitkers?”
“Nee, dis ’n dinamietkers in die hol.”
“Fok Volksmond! Moenie dat dit jou bug nie. Vergeet van hulle. Jou freedom is meer werd as om ’n slaaf te wees van mense wat jou deur die ore naai sodat die base ryker kan word en jy armer.”
“Ja, fok hulle,” sê ek. “Volksmond kan my piel suig. Volksmond se hol. Ek onthou nog so drie maande voor ek retrench is, is daar ’n vergadering gehou waar die een of ander droë drol van human resources met ons gepraat het oor hoe belangrik korporatiewe burgerskap is en dat ons trots moet voel as ons Volkshol en die moedermaatskappy, MegaMedia, se T-shirts in die openbaar dra.”
“Corporate citizenship! Fok, dis ’n scary thought. So asof mense ’n klomp skape is,” sê Rocky. Hy staan op en gaan kry vir ons elkeen ’n bier in die yskas in die kombuis.
“Wag, laat ek sommer ’n joint ook rol,” sê hy toe hy terugkom. “Dit sal jou opcheer. Jy moet nou van al hierdie kak vergeet.”
Hy maak die boom in ’n blits skoon deur ’n siffie en rol twee lekker vet zolle. Ons steek dit aan en trek die rook stadig en diep in. Dit vat nie lank nie voor dit deeglik inskop en die lewe weer op ’n snaakse en weird manier begin sinvol voel.
“Ryk en lekker!” sê Rocky.
“Die boom van kennis van goed en kwaad!” sê ek.
“Klopdisselboom!”
“Net so. Moenie die boompie buig solank hy jonk is nie, rook hom eerder.”
Altyd wanneer ons gerook is, speel ek en Rocky met woorde. Ons noem die speletjie trippy-pingpong, want die woorde raak soos tafeltennisballetjies wat só rondbons dat dit voel of jy self begin hop. Rocky is Engels, maar wil altyd hê ek moet hom cool woorde en sêgoed in Afrikaans leer, hy sê hy smaak dit baie. En wanneer die zol skop, pop daar sommer vanself woorde in ons koppe op, begin ons breins soos alfabetnoedelsop op ’n warm stoofplaat borrel en laat waai ons.
“Solank dit net nie ’n krismisboom is nie,” sê Rocky.
“Ja, en solank dit net ’n blinkblaarboom is. Veral wanneer dit boomskraap gaan.”
“Met background music deur die Boomslang Blues Band.”
“Net solank niemand hulle probeer dwarsboom nie.”
“Dan is dit beter om die kat eers uit die boom te kyk.”
Ek krap deur Rocky se CD’s en sit Tom Robinson Band se Power in the Darkness op.
“Het jy intussen aan nog schemes gedink hoe ons kan bucks maak?” vra Rocky
“Dalk moet ek maar begin freelance en foto’s neem by troues en begrafnisse.”
“En by bachelor parties en kitchen teas en stork teas. Jy sal ’n killing maak.”
“Nee, fok. Ek sal dit eers doen as ek heeltemal desperaat is. Daar moet beter maniere wees om ’n living te kan maak.”
Die middelste deel van die title track op Tom Robinson Band se CD is classic cool shit. Rocky draai dit harder. Dit klink soos ’n speech deur ’n knypgat-stywelip Britse politician. Hy sê die regering en tradisionele instellings soos openbare skole, die House of Lords, die Church of England, die heilige huwelik en selfs die magnificent police force is die teiken van voortdurende aanvalle deur die vieslike gomgatte wat ons gesonde samelewing wil ondermyn en dat niemand, maar niémand, meer veilig is in hierdie totale aanslag nie. Dis tyd dat die mense moet sê genoeg is genoeg, donder die politician voort dat jy sommer kan sien hoe spat die spoeg en hoe swaai sy vet vingertjie. Hy sê dis tyd dat almal moet terugkeer na traditional values soos dissipline, gehoorsaamheid, moraliteit en vryheid.
Dan skop die ouens in die band weer in met hulle skreeuende hardegatkitare en dromme soos ’n stoomtrein sonder brieke en Tom wat vertel wat hierdie wetsgehoorsame onderdane alles graag in die lewe wil hê: hulle wil vry wees van die Rooies en die swartes en die criminals, prostitute, moffies en punks, football hooligans, juvenile delinquents, lesbians en social scum, niggers en Paki’s en vakbonde, gypsies en Jode, linkse leeglêers en liberaliste … “freedom from the likes of YOU!” spoeg hy die woorde soos sweepslae. Ons luister met die nodige respek klaar en draai die volume dan ’n bietjie sagter sodat ons verder kop in een mus kan kom.
“As ’n mens jou kaarte reg speel, kan jy baie geld maak uit die Afrikaanse mark,” sê ek.
“Hoe?”
“Onthou, sex sells. Wat van iets soos ’n sex shop, soos Adult World – maar ’n Afrikaanse sex shop. ’n Franchise, iets soos ’n kettingwinkel.”
“Kettingwinkel klink soos die naam van ’n hardcore S&M club,” lag Rocky en vat weer ’n diep trek van die joint.
“Of ons kan incash op die klimaat wat Fifty Shades of Grey geskep het en ’n lesbian S&M club oopmaak en dit The Butchery noem.”
“Hahaha! En as jy ’n gewone Afrikaanse sex shop oopmaak, wat sal jy dit noem?”
“Iets soos … Die Genotgrot. Of Fyndraaivallei.”
“Dit klink nie sleg nie,” sê Rocky.
“Ja, maar come to think of it, die woord genotgrot is ook al holrug gery en eintlik klink Fyndraaivallei te veel na die naam van ’n Afrikaanse TV-drama of ’n massage salon in Waterkloof.”
“Afrikaanse mense vrek ook mos oor hulle music, dalk moet ons dit ook inwerk. Ons kan net Afrikaanse songs in die shop speel. Dink net watse special promotions jy alles sal kan hê.”
“Koop ’n turbo-driven vibrator en wen ’n CD van daai sanger wat ‘Parrapappa-parrapappa’ sing. Of koop ’n boks vol S&M stuff soos boeie, kettings, maskers, leather gear en swepe en kry ’n DVD van die Alabama-studentegeselskap verniet. Koop die Afrikaanse Kama Sutra en kry daai ou wat Noot vir noot aanbied se outobiografie teen ’n special prys van R20.”
“Is jy serious, is daar ’n song met die naam ‘Parrapappa-parrapappa’?”
“Ja. Dit gaan seker oor ’n sugar-daddy.”
“Wat is ’n sugar-daddy in Afrikaans?”
“’n Vroetelpappie. ’n Ander Afrikaanse woord daarvoor is sekspes.”
Rocky lag. Die joint skop nou big time in. “En as ’n ou so ’n shop het, moet jy obviously in die hele land franchises oopmaak.”
“Ja, jy sal binne ’n maand ’n miljoenêr word in plekke soos Bloemfontein, Bellville en Pretoria-Oos. En ’n mens kan natuurlik ook spesiale opblaaspoppe verkoop wat soos Afrikaanse celebrities lyk – sangers, sepiesterre, Springbok-rugbyspelers, TV-aanbieders, skrywers, digters …”
“Fok, Malletjie, dit klink nou piele,” sê Rocky opgewonde. “The sky is the limit met ’n plan soos dié.”
“Ons kan nog selfs groter gaan. Afrikaanse mense hou mos elke jaar fokken baie feeste. Wat van ’n mens begin ’n soort van travelling sex shop en gaan na al die feeste toe daarmee?”
“Ja! Ons sal in die bucks rol soos varke in die modder. Watse festivals is daar alles?”
Ek haal my foon uit en tik Afrikaanse feeste op Google Search. “Daar is die Aartappelfees in Bethal, die Bieliemieliefees in Reitz, die Skaapkopfees in Clanwilliam, die Biltongfees in Bethulie, die Geelstertfees in Struisbaai, die Vleisfees in Calvinia, die Kierieklapperfees in Potgietersrus, die Rittelfees in Vredendal, die Tekkiefees in Vereeniging, die Varingfees in Brackenfell, die Vryfees in Bloemfontein, die Woordfees in Stellenbosch, die Absa Klein Karoo Nasionale Kunstefees in Oudtshoorn, die Clover Aardklop Nasionale Kunstefees in Potchefstroom en die Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees in Nelspruit. En skaapkopfeeste raak ook al hoe gewilder. Hulle skiet soos mushrooms op oral in die land.”
“Is jy serious?”
“Ek lieg nie vir jou nie, my ou.”
Ek tik skaapkopfees op Google Search en lees vir Rocky waarop ek afkom. “Die mense by die skaapkopfeeste sê altyd die oë en die harsings is veral lekker. En hier is selfs ’n resep. Jy braai uie in ’n pot wat goed seël. Jy sout die skaapkop in en gebruik ook genoeg peper. Dan sit jy die kop in die uie met naeltjies, koljander, Worcestersous en asyn. Jy plaas die deksel op en stoom op lae hitte vir drie ure. Dan plaas jy die kop in ’n oond wat tot 180 grade verhit is en bak vir 30 minute totdat dit lekker krakerig is.”
“We, the sheeple …”
“Wie weet wat is volgende. Dalk ’n Vlakvarkpoephol-op-toast-fees op Verneukpan.”
“Klink vir my of hulle eerder ’n Tos-innie-bosfees nodig het, if you ask me.”
“’n Mens kan ook na ander plekke gaan en hulle oortuig om hulle eie feeste te begin,” sê ek. “Dan gee jy dit ’n soort van nostalgic old time flavour sodat jy baie mense kan lok. Hulle vrek deesdae vir sulke dinge. Soos ’n boereworsfees op Brakspruit, ’n koedoedrolspoegfees in die Kamdeboo, ’n donkielongfees op Donkerpoort of ’n krismiswurmfees op Koekenaap.”
“Wat is ’n krismiswurm en ’n donkielong?” vra Rocky.
“Dis ou Afrikaanse woorde vir ’n konsertina. Jy kan ook ’n hoenderkopfees op Holfontein hou of ’n koekstruiffees op Kakamas.”
“Wat is koekstruif? ’n Soort siekte?”
“Nee, man, dis trifle.”
Ons koppe begin sing van al die idees. Rocky rol nog ’n joint sodat ons nog meer bome deur die bos kan raaksien.
“Wat sal ons so ’n travelling sex shop noem?” vra hy.
“Die Wa met die Wolwiele, of so iets.”
Spoedig bied die zol egter vir ons dieper insig in die harde, koue, onafwendbare realiteit van sake.
“So ’n plan sal nie werk nie, want ’n ou sal fókken baie geld nodig hê om dit van die grond af te kry,” sê ek. “Of jy sal moet gatkruip by investors en borge en ek weier om so laag te daal. Dan bly ek maar liewer ’n armgat.”
Rocky sug. “Ai, dis nou jammer. Dit sou vet sports gewees het. Maar jy is reg. Dis essential dat ons ons eie base bly. Ek wil nooit weer vir ’n baas werk nie. Fok dit.”
“Ek het nou die dag gelees wat die vyf top jobs op aarde is, en toe het ek gedink if that is the case, no thank you and fuck you very much.”
“Was dit daai Forbes research? Ek het dit ook gelees. Wat was die top five nou weer?”
“Software engineer eerste, actuary tweede, human resources manager derde, dental hygienist vierde en financial planner vyfde.”
“Urrggghhh … En wat is die vyf kakste jobs nou weer?”
“Lumberjack in die eerste plek, dairy farmer tweede, enlisted military soldier derde, oil rig worker vierde en newspaper reporter die vyfde kakste.”
Rocky staan op en sê hy moet gaan pie. Ek tel vanoggend se koerant langs die stoel op om op hoogte te kom van wat alles in die wêreld aangaan. LAASTE GRU-OOMBLIKKE, skree die headline op die voorblad. Twintig kinders en ses volwassenes is gister afgemaai in ’n skietorgie by die Sandy Hook Elementary School in Newtown, Connecticut. (Foto’s van moordenaar se bloedspoor en ’n tydlyn-grafika binne.) Daar word ook berig dat ’n man 22 laerskoolkinders met ’n mes gesteek het in Guangshan, China, in die jongste van ’n reeks soortgelyke voorvalle die afgelope tyd.
Ek blaai verder en laat my oë oor die headlines gly. Dokter vas oor huurmoord op vrou. Vrou (84) keelaf gesny in plaasaanval. Mooiste bruid van 2012 skitter op glansaand. Sesjarige verkrag in woonwapark. Hooggeplaastes kom aan by ANC-kongres in Bloemfontein. Kommer oor sekte-saamtrek in woestyn. Belastingbetalers dok R125 miljoen op vir adjunkminister se oorsese reise. Britse aktrise kry nuwe borste.
Naby Brits is die vel van ’n dertienjarige seun se gesig afgeskil en sy keel, tong en niere verwyder, lees ek in ’n klein beriggie onderaan bladsy 12. Sy lyk is in ’n veld gekry. Sy maatjies het hom laas gesien toe hulle sokker gespeel het. ’n Polisiewoordvoerder sê hulle vermoed dit was ’n moetiemoord. Verder word ook berig dat ’n stripper, Verushka Meyer, in Johannesburg in hegtenis geneem is nadat ’n vooraanstaande sakeman en leier van die industrie se lyk in sy BMW se kattebak by ’n casino gekry is.
Rocky haal Power in the Darkness uit sy CD player toe hy terugkom en sit Bob Dylan se Oh Mercy op. Die kitare klink kwaai en die beat is befok en gee jou ’n skop in die gat. Ons lewe in ’n politieke wêreld waarin daar geen plek vir liefde is nie, sing Bob.
“Ek het aan iets anders ook gedink,” sê Rocky. “Jy het mos baie contacts opgebou toe jy by Volkshol was. Jy het mos al die hele wêreld afgeneem.”
“Ja, so to speak.”
“Ons kan natuurlik daarop capitalise,” sê Rocky. “Saam met The Third Eye kan ons ook ’n enterprise begin met services vir sulke mense.”
“Moet tog net nie sê ek moet foto’s van hulle neem vir hulle press releases of shoots doen vir glossy tydskrifte nie,” sê ek.
“Nee, dit kan jy doen net wanneer jy regtig down and out is. Daar is baie ander options.”
“Soos wat? Moet tog net nie sê ons moet eksklusiewe masseurs en escorts word vir daai soort mense nie. Ek kak in my broek as ’n Springbok wil hê ek moet sy draad trek of as ’n Afrikaanse sangeres wil hê ek moet haar ’n muffdive gee. Ek sidder by die blote gedagte.”
“Nee man, moenie worry nie. Chill, bru. Dit beteken net ons bied ons services aan as ’n soort van general pimp.”
“’n Soort van general pimp?”
“Ja. Wat is dit in Afrikaans?”
“’n Soort van algemene koppelaar.”
“O.” Rocky bly ’n rukkie stil. “Maar ek het dan gedink ’n koppelaar is ’n clutch?”
“Die meeste mense wat ek ken, praat maar van ’n pimp,” sê ek. “Ek weet daar is ’n woord soos fokalisator ook in Afrikaans en neem aan ’n mens kan ’n pimp ook so noem, want hy is mos ’n soort katalisator ook.”
“Nee, fok torre, ek bedoel iets soos ’n spin doctor of ’n public relations officer,” sê Rocky.
“’n Skakelbeampte? Nee asseblief tog, red my siel.”
“Of red jou piel, bru. Dis nie heeltemal soos public relations in die gewone sense nie. Die trick is dat jy al daai rykgatte bullshit en al die concepts en idees laat klink asof dit baie smart en important en intellectual is. ’n Ou moet net weet hoe om hulle uit jou hand uit te laat vreet en hulle te laat voel hulle is meer important as wat hulle regtig is.”
“Aha, ek is met jou. Iets soos ’n leefstylkonsultant of ’n lewensafrigter?”
“’n Life coach? Ja, iets in daai lyn.”
“I catch your drift,” sê ek en laat my gedagtes nog ’n bietjie gaan terwyl ek die rook in kringetjies deur my neusgate uitblaas. “En ons kan dienste aanbied soos multimediaskakeling, krisis-reputasiebestuur, handelsmerk-optimalisering …”
Goeie genadige fok, maar DJ Funk Soul Brother rook supercool shit. Ek kan nie die woorde glo wat oor my lippe kom nie. Waar de fok kom hulle vandaan? “En daar hou dit nie op nie,” gaan ek voort. “Daar is ook strategiese handelsmerk-posisionering, scenario-beplanning, gedifferensieerde identiteitsverpakking vir verskillende sosiale media, soekenjin-optimalisering, kapasiteitsontginning van markpotensiaal …”
“Fok, bru, maar jy is darem well-spoken! Of is dit nou net omdat jy stoned is?”
“Wel, ek het darem Afrikaans-Nederlands 1, onthou, en ek het al baie koerante gelees in my lewe.”
Ons lewe in ’n politieke wêreld, in stede vol vrees en eensaamheid, sing Bob.
“Maar jy is spot-on, Malletjie. Ek en jy weet dis als ’n pot kak, maar die mense daar buite dink dis die wonderlikste goed op aarde as jy op so ’n manier daaroor praat. Jy exploit net hulle vanity, dis so simpel soos dit. Die celebrities wil altyd meer en meer publicity en exposure hê. Hulle kan nooit genoeg kry nie. Hoe meer hulle in koerante en magazines of op TV kan wees hoe beter, al moet hulle ook watse strontstories spin en journalists soft-soap om dit reg te kry. En ons facilitate dit net vir hulle.”
“Ek weet nie of ek weer met sulke soort mense wil werk nie. Dit sal my van my rocker af dryf. Ek het genoeg met hulle te doen gehad toe ek vir Volkshol gewerk het. By the way, weet jy wat noem hulle die hacks en fotograwe wat vir die tabloids werk?”
“Nee?”
“Die luise op die skaamhare van die samelewing. So, ek het nou net drie jaar agter die rug as een van daai luise en ek weet wragtag nie of ek weer daarvoor kans sien nie.”
“Beggars can’t be choosers, bru,” sê Rocky. “Ons sorg net dat ons die heeltyd in beheer bly.”
“Ja, ons moet na niemand se fokken pype dans nie. Ons moet eerder sorg dat hulle na ons pype dans sonder dat hulle dit agterkom.”
Ek vat nog ’n paar trekke van die joint. Die hele idee begin al hoe beter klink.
“Wat sal ons dit noem?” vra ek.
“Hmmm … wat van iets soos Fandalism Exclusive Consulting?”
“Fandalism. Hahaha. Ek laaik dit.”
Ek drink my bier klaar en begin skielik gaap asof ek die hele fokken Witwatersrand op een slag kan insluk. “As ek nie nou gaan slaap nie, is dit tickets met my. Ek gaan nou waai. Ons kan die idee môre verder finetune en ’n plan van aksie uitwerk.”
“Cool,” sê Rocky. Ons highfive mekaar.
“GET YOUR ROCKS OFF! GET YOUR ROCKS OFF!” skree ’n manic rocksanger skielik op my foon se ringtone net toe ek in my kar klim. Ek kyk altyd eers wie dit is voor ek antwoord. Dis Alice Ellis, ’n joernalis by Cosmopolitan wat die hots het vir my en geen geheim daarvan maak nie. Sy wil my so graag naai dis net nie waar nie. Ons het saamgewerk by Volkshol, waar sy ’n leefstyljoernalis was voordat sy die job by Cosmopolitan gekry het.
Ek druk nie die groen icon op die touchscreen nie. Fok dit. Ek het nie nou nog krag vir allerhande sopstories nie. Ek sit my foon in my sak en val in die pad Brixton toe.
Fokkit, dis hectic om laat in die nag te bestuur as ’n ou spaced-out is. Ná gister se reën is die kar se voorruit propvol vet, ronde stofblertse. Wanneer die ligte van die lamppale langs die pad daarop skyn, lyk die strale soos dié van ’n spaceship in Alien vs. Predator wat jou agternasit en jy kan nie vinnig genoeg wegkom nie.
Net toe ek by die Brixton-begraafplaas verbyry, sien ek flitsende rooi ligte in die truspieëltjie. Eooowww-eooowww-eeooowww weergalm ’n sirene skielik so hard langs my dat my ore tuit. Die ambulans jaag skreeuend verby en verdwyn voor my in die verte, waar sy liggies nou lyk soos ’n klomp muskiete wat mal is van die dors na bloed en op wie ’n hele blik Doom uitgespuit is.
Ek sit die CD player aan sodat die musiek my kan wakker hou. Ek forward weer tot by “Helpline Operator”. Almal soek na iemand wat vir hulle kan vertel wat hulle graag wil hoor, sing The The. Almal soek altyd na ware liefde om hulle te help om te voel wat hulle nie meer kan voel nie. Ek is die intieme vreemdeling, fluister jou geheime in my oor …
3.
By die huis in Ripley Road, Brixton, waar ek ’n buitekamer in die agterplaas huur, is dit pikstikdonker. Die maan hang in die lug soos ’n spook wat hom bleek geskrik het. Die flou lig laat die karre in die straat soos grys static op ’n obsolete computer screen lyk. Dit voel of ek in ’n twilight zone in een of ander freaky movie is.
Ek sukkel om die hek langs die landlord se huis na die agterplaas oop te kry. Ek moet keer dat ek nie my gat af val nie. Iets fladder skielik oor my skouer. Ek skrik my lam. ’n Vlermuis vlieg soos ’n hondsdol ding verby. Dit lyk of hy gifgeel gloeiende oë het. In Brixton ruik die nagte soos die flou asempie van ’n wolf wat moeg gehardloop is.
Ek volg die paadjie van die hek na my voordeur op gevoel. Al is ek ’n bietjie geswaai, voel dit tog of ek op ’n unreal manier hoog bo alles dryf, soos die windgat plastiekengeltjie op my ouma se krismisboom wat nie ’n saak met die fokken wêreld het nie.
Fokweet hoe lank ek nog hier sal kan bly voor my geld op is. Ek sal ander blyplek moet begin soek. Ek weet net nie waar nie. Dalk moet ek maar ’n kamer by die Salvation Army of die YMCA kry.
“Jisjisjis,” groet ek die posters van Kurt Cobain en Jim Morrison teen my muur, waar ’n kol maanlig hulle soos verlore seuns laat lyk in die shadows wat op hulle val. Kurt se hare is lank en vuilblond. Jim is kaalbolyf. Jy kan in hulle oë sien hulle wil nog iets sê, iets wat hulle nie kans gekry het om te sê toe hulle nog kon nie. Iets moerbelangrik. ’n Saak van lewe en dood. Ek wens ek het geweet wat dit is. Maar nou is dit te laat.
Ek trek my skoene en klere uit en val op my bed neer. My foon bliep. Voicemail. Dis Alice Ellis: “Lambert, waar is jy? Hoekom antwoord jy nie jou foon nie? Ek het jou dae laas gesien! Hoor hier, onthou jy nog jy het my belowe ons kan gaan tee drink en koek eet in Sandton City? Ek wil môre soontoe gaan om vir my ’n Jenni Button-aandrokkie te kry, my baas het my gestuur na ’n deftige Versoeningsdag-funksie môreaand in die Michelangelo-hotel. Die signature look van haar rokke is goddess glamour, en jy lyk vir my na die soort ou wat van godinne hou, as jy weet wat ek bedoel. Bel my en laat my weet! Mwah! Mwah!”
Ek delete die boodskap. Na so vyf minute begin ek stadig maar seker uitpass. Salig. Dit voel of ek in diep water wegsak, soos ’n walvis in die Stille Oseaan. So moet dit op cloud nine in die sewende hemel voel.
“GET YOUR ROCKS OFF! GET YOUR ROCKS OFF!”
Waddefok tog nou? Ek gryp die foon en probeer kyk wie dit is. Rocky, gloei die silwerblou letters op die touchscreen in die donker. Ek druk die groen icon.
“Malletjie! Slaap jy al?”
“Ja, fok man! Wat is dit?
“Sorry, bru. Hoor hier, ’n ou wat The Third Eye se website gesien het, wil vir ons ’n joppie offer,” sê hy opgewonde. “Hy het ’n e-mail gestuur en ek het hom gebel.”
“Watse joppie?” vra ek.
“Die ou se naam is Ben de Beer. Hy sê hy is een van die grootste music promotors in Suid-Afrika. Ek het nog nooit van hom gehoor nie. Het jy?”
“Ja, hy is baie bekend. Hy is meer van ’n musiekmagnaat as ’n promotor, maar ek het al gelees hy word ook ’n impresario genoem.”
“Anyway, hy sê die sanger Zander Stander het verdwyn. De Beer is sy manager. Hy wil hê ons moet hom help soek. Ek het nog nooit van Stander gehoor nie. Het jy?”
“Ja. Hy’s baie gewild. Moerse high profile.”
“De Beer sê hy moet ons dringend sien, daar is nie tyd om te mors nie, want hy is bang vir die ergste.”
“Soos wat?”
“Dat Stander ontvoer is. Of dat hy vermoor is. Sy selfoon is glo af, dit sê net the ‘subscriber you have dialled is not available, please try again later’, dit gee jou nie eers die option om voicemail te los nie, sê De Beer. Anyway, hy wil ons môreoggend elfuur sien.”
“Hoekom dan eers? Is dit dan nie ’n krisis nie?”
“De Beer is vanaand by die Absa Vuur & Vlam Afrikaanse Music Awards in Sun City. Dan is daar nog ’n afterpaartie. Hy kan nie vanaand terugry nie en sal eers môreoggend na nege daar kan wegkom.”
“En hoekom gaan hy nie polisie toe nie?”
“Hy sê omdat dit so ’n high profile case is, wil hy nie hê dit moet aan die koerante uitlek nie, dit kan baie damage doen wat tot loss of life kan lei.”
“Goeie genugtige fok,” sê ek. “Watse damage?”
“Hy’t nie gesê nie, maar dit klink hectic.”
“Waar wil hy ons sien?”
“Die Butcher Block Executive Grill, ’n steakhouse in die Crowne Plaza in Rosebank. Sal ek jou so tienuur kom oplaai?”
Fokkit. Ek kry daai stop-die-bus-ek-wil-fokken-afklim-gevoel, maar ek kan nooit nee sê vir Rocky nie. “Oukei dan,” sê ek.
“Ek sal Stander solank google en hom op Facebook uitcheck. Sal jy kyk wat daar oor hom in die Afrikaanse koerante en magazines se online archives is? Dan chat ons môre.”
“Oukei, check jou dan.”
“Great stuff, bru. Lekker slaap. Onthou om jou alarm clock vir agtuur te stel, ek wil nie nog sukkel om jou wakker en presentable te kry nie. Onthou, ons kan nie soos wash-outs lyk as ons na so ’n important meeting gaan nie.”
“Moenie worry nie, ek weet. Oukei, check jou later.”
Nou is ek wawydwakker. Ek sal ’n Syndol of twee moet pop as ek hoegenaamd geslaap wil kry. Ek staan op, sit die lig aan, maak die kassie bo die wasbak oop, pop ’n geel pil uit die groen boksie en sluk dit by die wasbakkraan af. Ek sal eerder môre vroeg opstaan en die argiewe uitcheck, ek is nottefok in staat om dit nou te doen nie.
En, net toe my kop die kussing weer tref, sowaar as bliksemse wragtag: “GET YOUR ROCKS OFF! GET YOUR ROCKS OFF!” Number withheld, sê my touchscreen. Ek antwoord nie en soek die settings om die wekker te stel. Ek is net klaar daarmee, toe bliep die foon om te sê daar is ’n voicemail. Fok tog! It never rains but it fucking pours.
“Lambert, dis mevrou-dominee De Wet hier,” begin die boodskap. Ys in haar stem, graniet en yster in haar klinkers, lemme in haar medeklinkers. “Ek sukkel al die héle aand om jou nommer in die hande te kry. Ek moes toe die koerant bel om dit te kry. Waar is jy?” blaf sy. “Ek het toe die ambulans gebel en jou ouma is in die Helen Joseph-hospitaal opgeneem,” knetter sy volstoom voort. “Die dokter sê dit was toe nie ’n aneurisme soos ons gevrees het nie, maar net hoë bloeddruk wat haar laat flou word het. Hulle sal haar oornag daar hou en môreoggend nog haar bloedsuiker dophou en sorg dat sy ’n ordentlike ontbyt inkry, maar jy moet haar elfuur gaan haal en huis toe vat, want ek kan dit nie doen nie, dis môre Geloftedag en ek is báie besig. Jy moet met matrone Baby Mkhuseli praat, haar nommer is 011-489-2934. Hulle soek ook mevrou Erwee se siekefondsnommer dringend. Ek maak staat op jou. Totsiens.”
Koelkop bly, Malletjie, koelkop bly, sê ek vir myself. Te veel dinge gebeur gelyk. Ek sit die GPS en location detection op my foon se settings af. Ek wil niks van die wêreld daar buite weet nie. Ek wil hê niemand moet weet waar ek is nie. Dis die beste so. My kop sak weg in die kussing. Ek switch heeltemal af. Ek haal diep en stadig asem en konsentreer net daarop en dink aan niks anders nie. Dit werk altyd soos ’n bom.
Dan pass ek uiteindelik uit, prys die Heer met blye galme.