5

Speurder van formaat

 
 

 

In 1975 het Charles eksamen geskryf om ’n sersant te word en dit maklik deurgekom. In daardie jare het die polisie ’n eiesoortige matriek, bekend as ’n regsmatriek, ingestel wat ’n voorvereiste vir bevordering tot offisier was. Studeer was egter nie vir Charles nie en gevolglik is sy kollegas wat verdere eksamens afgelê het, bevorder tot hoër range, maar nie hy nie. In latere jare het tot advokate vir die verdediging in hofsake briewe geskryf om aan te beveel dat hy ’n offisier word.

Maar dit het nooit gebeur nie. Charles is in 1981 tot adjudant-offisier bevorder en dié rang was die hoogste wat hy tot aan die einde van sy loopbaan sou beklee.

Goeie opleiding is ’n voorvereiste om ’n suksesvolle speurder te kweek. Charles het hoofsaaklik indiensopleiding ontvang, spesifiek in forensiese ondersoekwerk. Lt.genl. Lothar Neethling, die latere adjunkkommissaris van polisie, het in 1971 ’n moderne forensiese laboratorium in Pretoria gevestig. Dit was die eerste van sy soort in Afrika en het uitstaande resultate gelewer. Charles sou verskeie kere ten nouste met Neethling saamwerk.10

’n Skoot in die nag

Hul eerste kennismaking was met die sogenaamde Randfontein-trajeksaak, wat jare daarna nog as voorbeeld van uitstekende forensiese ondersoekwerk sou dien. Charles is by die saak betrek deur die gesoute speuroffisier Carel Coetzee.

Op Oujaarsaand in 1976 was daar soos gewoonlik ’n feestelike stemming op die myndorp Randfontein. Die voggies het gevloei en toe die nuwe jaar aanbreek, is vuurwerk die lug ingestuur. In daardie jare was daar nog nie munisipale regulasies daarteen nie.

Op die stoep van sy huis op die Grasland-hoewes, ’n gebied teenaan die dorp, het die 43-jarige Rocco de Villiers besluit hy wou ook in die feesvieringe deel. Hy het sy jaggeweer gaan haal en ’n skoot in die lug afgevuur.

Etlike kilometers verder het die agtjarige Jacoba Kloppers, salig onbewus van die rumoer op die dorp, in haar bed in haar ouerhuis geslaap. Sy sou ook nie geweet het van die doodskoeël wat deur die dak kom en haar tref nie. Die koeël is by haar regteroor in en het teen haar linkerslaap vasgeslaan.

Haar ouers het die slag deur die dak gehoor en op hul bebloede kind afgekom. Hulle het tevergeefs na die Krugersdorp-hospitaal gejaag.

Toe die dokters ’n koeëlpunt in die wond aan Jacoba se kop vind, het hulle dit aan die polisie gerapporteer. Dit was ’n ernstige geval en die speurders van Moord-en-roof is ingeroep om die saak te ondersoek.

Die geskokte ouers kon nie ’n verduideliking gee van wat gebeur het nie. Jacoba se pa was buite homself en het vyandig teenoor almal opgetree. Hy is aanvanklik as ’n verdagte beskou, maar toe kom die speurders af op die koeëlgat in die dak van die Kloppers se huis.

Kol. (later brig.) Carel Coetzee, in daardie stadium die Wes-Randse speurhoof, het Lothar Neethling gevra om die raaisel rondom Jacoba se dood te help ontrafel. As Coetzee se regterhand het Charles die intensiewe ondersoek eerstehands meegemaak.

Neethling het eerstens vasgestel dat die koeël sowat drie kilometer deur die lug moes getrek het. Padlangs was dit sowat ses kilometer. ’n Groot groep polisiemanne het daarna die gebied gevee deur by elke huis aan te klop op soek na vuurwapens van dieselfde kaliber as dié van die koeël waardeur Jacoba getref is.

Rocco de Villiers word vasgetrek as die skuldige. Dit blyk gou dat hy ware berou toon en ’n boete en opgeskorte tronkstraf is aan hom opgelê.

“Daar is nie plek vir slordige ondersoekwerk deur ’n speurder nie,” sê Charles ferm wanneer ek hom uitvra oor hoe hy te werk gaan in ondersoeke. “In een geval is ek drie dae nadat ’n bejaarde egpaar wreedaardig vermoor is as ondersoekbeampte aangestel. Tot my ontsteltenis moes ek van die vermoordes se seun verneem dat hy sedertdien sy ma se beursie onder die matras waar haar lyk gevind is, ontdek het. En in die kombuis was ’n bebloede mes wat deur die eerste speurders op die toneel misgekyk is. Boonop het senior speurders, waaronder twee kolonels, drie dae vantevore die toneel besoek. Dié soort oorsig is onverskoonbaar. Ek het behoorlik gal gebraak.”

Sulke oorsigte was egter die uitsondering eerder as die reël, sê hy.

“Ons het in daardie tye bitter min moordsake nié opgelos nie. Ons het ’n moordenaar gejag totdat ons hom gekry het.”

Volgens Charles is daar ’n paar basiese reëls wat nooit in ’n ondersoek oortree mag word nie.

“’n Ernstige misdaadtoneel, byvoorbeeld van ’n moord, moet so gou moontlik afgesper word sodat die gebied nie gekontamineer word nie. Elke stukkie van die terrein moet sorgvuldig, oor en oor, nagegaan word. ’n Onbetrokke speurder is ’n nuttelose speurder.

“Ek het daaraan geglo om herhaaldelik na die toneel terug te keer al was dit nie altyd nodig nie. Elke keer het ek ’n beter insig gekry. Geen leidraad kan as onbelangrik afgemaak word nie en moet opgevolg word.”

Oujaarsdagmoord by ’n padstal

Die aanval op die neefs Chris en Maansie Pauley is een van talle sake waarin Charles gewys het watter deeglike en vasberade ondersoeker hy is.

Dit was laatmiddag op 31 Desember 1976 toe die Pauleys hul padstalletjie, ’n sinkstruktuur, naby Dobsonville opgepak het. Die twee het die dag goeie sake gedoen deur hoenders en groente van hul kleinhoewe te verkoop. Hul omset van amper R7 000 vir die dag was ’n fortuin vir daardie tyd.

Die geld was in ’n kartonboks.

Toe word die twee Pauleys skielik en onverhoeds oorval. ’n Rower skop die deur van hul klein sinkgeboutjie oop en begin op hulle skiet, terwyl ’n tweede rower deur die verkoopsluik op hulle losbrand. Chris Pauley word in die hart en maag getref en sterf onmiddellik. Maansie het bewusteloos neergeval met ’n skoot deur sy maag. Toe hy sy bewussyn herwin, sien hy sy neef langs hom lê, reeds dood.

’n Derde rower het die kartonboks met die geld van die toonbank gegryp en na ’n wagtende motor gehardloop, wat deur ’n vierde man bestuur is. Die ander twee rowers het op Chris se broer, Jan Pauley, hul ander neef, Nick Prinsloo, en twee seuns by die padstalletjie langsaan begin skiet. Prinsloo het daarin geslaag om die seuns teen die grond vas te druk en die koeëls het hulle almal rakelings gemis. Die rowers het met die kontant weggejaag.

Die aanval was fyn beplan. Die tydsberekening en die dodelike akkuraatheid van die skietery het die kleinboere van die ander padstalletjies geen kans gegee om hulle te verset nie, al was hulle almal gewapen.

Die ondersoek na die voorval is gelei deur AO Koos van Rooy, bygestaan deur Charles. Van Rooy het na die moordtoneel gejaag, terwyl Charles na die Ontdekkershospitaal gestuur is. Hy het daar aangekom feitlik saam met die bakkie waarin die swaar gewonde Maansie en Chris Pauley se lyk was.

Charles het Chris se pistool in sy kortbroek se agtersak gevind – hy het nie kans gehad om dit uit te haal nie.

Op die dag van Chris Pauley se begrafnis het die twee speurders foto’s ontvang wat deel uitmaak van die lykskouingsverslag. Dit het egter nie die ingangskoeëlwonde aan die lyk behoorlik getoon nie. Daar was onder meer nie genoegsame getuienis oor die afstand waarop die skote afgevuur is nie. Van Rooy en Charles haas hulle toe na die begrafnisonderneming op Roodepoort waar die lykswa reeds gereed gestaan het om met die kis na die kerk te vertrek.

Dit het mooipraat en later dreigemente gekos om die bestuurder van AVBOB sover te kry om die kis vir hulle oop te maak. Terwyl die polisiefotograaf nog foto’s neem, het Charles opgemerk dat die lyk nie op die gebruiklike manier deur die lykbesorger voorberei is nie. Die voete en ander dele van die liggaam was nog vol stof soos Charles dit die dag by die hospitaal gesien het. Dit was waarskynlik die rede vir die begrafnisondernemer se aanvanklike onwilligheid om die kis oop te maak. Toe Charles my die storie vertel, het hy ietwat lakonies opgemerk: “Stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer.”

In die daaropvolgende weke het die speurders dag en nag leidrade opgevolg. Die nag voor die noodlottige rooftog het vier inbrekers ’n .38 Special-rewolwer uit ’n huis in Lenasia, suid van Johannesburg, gesteel en die polisie het sterk vermoed dat dit die moordwapen was.

Vir ses weke daarna is leidrade rondom die Lenasia-inbraak opgevolg. Uiteindelik is vier mans met die hulp van beriggewers in hegtenis geneem wat positief met die inbraak verbind kon word. Die gesteelde .38 Special is ook by hulle gevind.

Die speurders se teleurstelling was groot toe ballistiese toetse getoon het dit was nie die vuurwapen wat in die rooftog op die Pauleys gebruik is nie. Die speurders moes toe van voor af begin.

Inligting van beriggewers het hulle egter gehelp om nie te lank daarna nie vier ander verdagtes vas te trek. Dit was nadat een van die verdagtes sy mond verbygepraat het in ’n sjebeen. Op uitkenningsparades is die vier mans met die moord en die rooftog verbind.

Dit was ’n uitgerekte hofsaak waarin Charles lank aan kruisondervraging onderwerp is. Uiteindelik is Freddy Mofokeng (31), Oupa Gumede (22), Sydney Gumede (27) en Petrus Ndlovu (26) in die Witwatersrandse hooggeregshof aan moord en gewapende roof met verswarende omstandighede skuldig bevind en die doodstraf is aan hulle opgelê. Op appèl is Sydney Gumede en Ndlovu se doodstraf na lewenslange gevangenisstraf verander. Mofokeng en Oupa Gumede is in die Sentrale Gevangenis in Pretoria gehang.

Die Pauleys was ’n hegte familie en Jan Pauley het hom oor sy broer se weduwee en vyf kinders ontferm. Tien maande later is hy dood nadat hy in Soweto geskiet is toe hy saam met die polisie gaan soek het na 21 van sy beeste wat op sy kleinhoewe by Doornkop aan die westekant van Soweto gesteel is. Die twee broers se dood so kort ná mekaar het tien kinders vaderloos gelaat.

Voorgevoel – en ’n dogtertjie raak weg

Sommige speurders het nou eenmaal ’n beter voorgevoel as ander. Charles het dikwels sy instinkte gevolg, wat op die ou end geblyk het in die regte rigting was. Hy kon uit ’n groep vreemdes voor hom byvoorbeeld dikwels agterkom wie ’n verdagte is deur hul lyftaal dop te hou.

“Dis egter gevaarlik om met ’n eerste indruk op loop te gaan. ’n Goeie speurder moet altyd skepties wees en wantrouig bly. Dit geld ook sy eie instinkte. Niemand moet as ’n verdagte ontsien word nie,” sê Charles.

In die saak van ’n vermiste kind het Charles se speurvernuf en vasberade ondersoekwerk ’n belangrike rol gespeel. Toe ’n vierjarige dogtertjie in Desember 1975 helder oordag uit haar ouerhuis in Weltevredenpark, Roodepoort, verdwyn, was haar ouers en inwoners van die buurt verstaanbaar hewig ontsteld. ’n Grootskeepse ondersoek deur die polisie en ’n soektog deur lede van die publiek is van stapel gestuur.

Sy is spoedig verlate en erg getraumatiseerd in ’n straat op Roodepoort gevind. Daar was ’n jong bruin vrou in die nabyheid, maar dié het haar uit die voete gemaak.

Die dogtertjie se gesiggie was met bruin skoenpolitoer besmeer en haar hare was afgesny. Sy was soos ’n swart kind aangetrek met ’n kopdoek en tafeldoek om haar lyfie. Sy het kneus- en bytplekke gehad wat op aanranding gedui het, maar daar kon nie vasgestel word of sy seksueel gemolesteer is nie, hoewel daar vreemde merke naby haar geslagsdele was. Die moontlikheid is ondersoek dat sy vir ’n rituele moord voorberei is, maar dat iets voorgeval het wat die boosdoeners se planne gefnuik het.

Die ontvoering het heelwat publisiteit in die pers gekry en daar was groot druk op die polisie om die skuldiges aan te keer. Charles is gevra om alles anders te los en uitsluitlik aan dié saak aandag te gee. Hy het al die kamers van huis- en tuinwerkers in die omgewing deurgesoek, ’n magdom mense ondervra en al sy beriggewers ingespan.

Dit was veral sy vrae oor vreemdelinge wat onlangs in die omgewing opgemerk is wat die deurslag gegee het om die saak op te los. Hy het vasgestel dat ’n bruin meisie van Honeydew onder verdagte omstandighede saam met ’n vreemde man daar weg is.

Die intensiewe ondersoek het hom spoedig na ’n padkamp by Knoppieslaagte naby Pretoria gelei. Daar het hy ’n tienderjarige bruin meisie in hegtenis geneem wat ’n bekentenis afgelê het dat sy die dogtertjie ontvoer het.

Charles se ondersoekwerk is soos volg deur die afdelingskommissaris aangeprys: “Konstabel Miller se volharding waar andere reeds sou tou opgooi, het uitsluitlik tot die oplossing van die saak gelei. Met uiters skrale inligting tot sy beskikking, het hy feitlik dag en nag gewerk om elf dae ná die voorval die beskuldigde op te spoor. Die lid se werk toon deurgaans hierdie volharding en pligsbesef.”

Charles was nie tevrede nie. Die eintlike skuldiges agter die bruin meisie se optrede moes nog aan die pen ry as die motief vir die ontvoering rituele offering van die dogtertjie was. Sy bevelvoerders het egter gemeen die saak is opgelos en ander opdragte is aan hom gegee.

“Duiwelse barbaarsheid”

In talle ondersoeke was die hulp van Charles se swart kollegas van onskatbare waarde. Een daarvan was in die ondersoek na die moord op die 44-jarige Laurene Botes, ’n minsame, sagmoedige vrou wat haar lewe aan welsynswerk en haar gesin gewy het. Laurene se man, Sybrand, was ’n houtwerkonderwyser by die Hoër Tegniese Skool (of HTS) Nic Diederichs, wat die vorige jaar langverlof geneem het om vir sy gesin ’n nuwe huis te bou. Laurene se droomhuis is in die nuwe woonbuurt Rant-en-dal, langs die Krugerdorpse gholfbaan, opgerig.

Op 26 Januarie 1976 het die Botes-gesin nog net enkele weke in hul nuwe huis gewoon. Toe Sybrand en sy twee seuns, André (15) en Sybrand jr. (17), die middag ná skool by die huis kom, het hulle dadelik besef alles is nie pluis nie. Die voordeur was oop. Laurene was ’n netjiese vrou wat nie goed laat rondlê het nie, maar een van haar skoene het in die voorportaal gelê. Hulle het haar kopdoek in die gang gekry en haar ander skoen in die badkamer.

Vroeër die oggend het die 22-jarige Petrus Mphotu by die voordeur geklop en vir Laurene geld gevra. Hy het voorheen as verwer by ’n naburige huis gewerk. Eie aan haar aard het Laurene geld gaan haal, maar Mphotu is agter haar by die huis in en het haar reeds in die voorportaal oorval.

Sy het haar heftig verset en die worsteling het van die gang tot in die slaapkamer aangehou. Daar het hy haar verkrag. Hierna het sy haar steeds verset en sy en haar aanvaller het in die harwar deur die kamervenster geval. Speurders het later monsters van die aanvaller se hare en bloed geneem wat teen die vensterbank gevind is.

Buite die huis het Mphotu Laurene verwurg. Hy het haar lyk toe onder ’n bouseil versteek. Hierna is hy weer die huis binne waar hy sy hande by ’n wasbak in die badkamer gaan was het. Bloed en hare is later met die ondersoek in die afvoerpyp van die wasbak gevind.

Een van die seuns het onder die seil op sy ma se bebloede lyk afgekom. Aan haar kop was ’n wond wat waarskynlik veroorsaak is toe sy teen ’n steierpaal in die agtertuin gestamp is.

Met die speurders Jaap le Roux, Dries Peach en Charles se aankoms op die toneel is hulle begroet deur die geskokte pa en seuns. Al wat Sybrand Botes vir ’n ruk kon uitkry, was dat dit “duiwelse barbaarsheid” is.

Aanvanklik het die speurders oor die motief vir die moord getwyfel, want net een beursie is gesteel. Ná intensiewe ondersoekwerk, wat ondervraging van al die werkers in die omgewing ingesluit het, is ’n verwer met die noemnaam “Petrus” as die waarskynlike verdagte geïdentifiseer.

Charles se twee kollegas Solly Rangwaga en Solly Mogadi het hul bloedhondneuse laag op die grond gehou. ’n Paar dae later het hulle inligting gekry dat die verdagte saam met drie ander op die parkeerterrein van ’n Caltex-vulstasie in die buurt dobbel. Charles, Dries Peach en die twee swart speurders het onmiddellik daarheen gery. Die vier dobbelaars het nog probeer weghardloop toe die ongemerkte polisievoertuig op hulle afpyl, maar hulle is aangekeer. Een het ’n oorpak met verfmerke op aangehad en daar is ’n diep snymerk aan sy hand. Die speurders het geweet hulle het hul man.

Petrus Mphotu is met vingerafdrukke, bloed- en haarmonsters met die moord verbind. Hy is skuldig bevind en tot die doodstraf gevonnis.

’n Goeie getuie

Dit bring ’n eiesoortige spanning mee om in ’n hof te getuig en vir lang tye aan kruisverhoor deur die land se beste advokate onderwerp te word. Toe ek dié onderwerp by Charles en sy kollegas opper, was die meeste van hulle dit eens hoe moeilik dit soms is om maande ná ’n voorval in die fynste besonderhede daaroor te getuig. “Dit tap jou en eis ’n tol, al is dit nie jy wat in die beskuldigdebank staan nie,” sê Charles.

Tog onderskei juis dit ’n uitmuntende speurder van die res. Daar word van speurders verwag om dossiere deeglik vir hofsake voor te berei en dit verg ’n sekere mate van administratiewe kundigheid en regskennis. Slordige werk haal jou gou die gramskap van aanklaers en voorsittende beamptes op die hals. “Noue samewerking tussen die ondersoekbeampte en die staatsaanklaer is ononderhandelbaar,” sê Charles. Hy het deur die loop van hofsake altyd by die aanklaer gesit en hom van die nodige inligting voorsien of opdragte uitgevoer.

Charles was die ondersoekbeampte in verskeie moordsake waarin die doodstraf uiteindelik aan die skuldiges opgelê is. Staatsadvokate het opgemerk dat Charles se dossiere meestal uitstekend vir hofsake voorberei is, hoewel hy geen voorliefde vir papierwerk gehad het nie. Wanneer ’n “dossier-inspeksie” gehou is, kon Charles nêrens gevind word nie. Wanneer hy as takbevelvoerder van die eenheid moes waarneem, was die groot hoeveelheid papierwerk ’n straf en moes ander tot hul frustrasie daarmee uithelp.

“Daar was nie ’n beter veldwerker as Charles nie,” was egter die refrein onder sy oudkollegas.

Gesoek: ’n liggaamsbouer met ’n gesteelde Renault

’n Hofsaak waarin Charles deur die regter, die prokureur-generaal en die advokate vir die verdediging geloof is vir sy goeie speurwerk en voorbereiding van die saak vir die verhoor, was dié oor die moord op Alfred Miller.

Rowers het ’n geruime tyd lank die Millers se bewegings op hul kleinhoewe by Doornkop, wat aan Soweto grens, dopgehou. Hulle is deur van die Millers se werkers opgemerk. ’n Dag vantevore, toe die Millers nie daar was nie, was hulle selfs op die plaaswerf onder die voorwendsel dat hulle beeste wou koop.

Alfred se bejaarde pa was daardie wintersmiddag in Junie 1980 besig om plaasgereedskap voor sy werkswinkel te herstel toe die rowers hom en twee van sy werkers oorval. Hy en die werkers is by die agterdeur van die woonhuis ingeboender tot by die sitkamer waar die niksvermoedende Alfred gesit het. Toe die rowers sy pa voor hom wreedaardig met ’n ysterstaaf teen die kop slaan, het Alfred hom te hulp gesnel, maar een van die rowers het hom koelbloedig doodgeskiet.

Die rowers het met net ’n bietjie kontant, ’n .22-geweer en ’n polshorlosie in ’n ou Renault weggejaag. Later het Charles die .22-geweer in ’n bos daar naby gevind.

 

Hoofstuk%205_Miller%20workshop.TIF.tif

’n Verdagte maak uitwysings aan maj. (later lt.genl.) Krappies Engelbrecht en ’n tolk op ’n hoewe by Doornkop, Roodepoort, ná die moord op die boer Alfred Miller in 1980.

Hoofstuk%205_Charles%20doen%20uitwysings.TIF.tif

Charles maak uitwysings ná die moord op Miller.

 

Die werkers kon ’n goeie beskrywing van die rowers en die Renault aan Charles gee. Hulle het die bestuurder van die motor as ’n besonder sterk geboude man beskryf, soos ’n liggaamsbouer. Charles het toe na ’n liggaamsbouer met ’n Renault begin soek. Met die hulp van beriggewers is die eienaar van elke Renault in Soweto nagegaan – totdat iemand uitgewys is wat aan die beskrywing voldoen het.

Charles en ’n groep swart speurders het die liggaamsbouer in die vroeë oggendure by sy woonplek gaan verras. Met hul aankoms het hulle ’n ou Renault agter die huis opgemerk. Die oorblufte liggaamsbouer is deur die bulderende speurders uit sy bed geruk en nog voor hy tot verhaal kon kom met vrae bestook.

Hy het ontken dat hy die eienaar van die voertuig is. Hy het na ’n ander man in die huis as die eienaar verwys. Dié het ook ontken dat hy die voertuig besit, maar daar was nie meer wegkomkans nie. Charles het geweet hulle is skuldig.

Deur uitwysings is al die ander rowers – daar was vier – in hegtenis geneem. Die hele groep is op ’n uitkenningsparade deur die Millers se werkers uitgewys. Een van die meelopers is nie aangekla nie en het belangrike uitwysings aan maj. (later lt.genl.) Krappies Engelbrecht gemaak.

In die hofsaak is Charles en die ander getuies aan langdurige kruisondervraging onderwerp, maar die saak teen die beskuldigdes was waterdig. Twee van die rowers, Elias Masuluke (23) van Meadowlands en Sylvester Phungwayo (26) van Zondi, het die doodstraf gekry. Masuluke was ’n geharde misdadiger wat in daardie stadium verskeie ander aanklagte van roof teen hom gehad het. ’n Derde beskuldigde, Sasoka Handa (30) van Dobsonville, is tot 30 jaar tronkstraf gevonnis op aanklagte van gewapende roof en moord. Die vierde lid van die groep is weens ’n gebrek aan getuienis onskuldig bevind.