10

’n Verskrikking vir bankrowers

 
 

 

Die publiek het dikwels ’n misplaaste fassinasie met bankrowers. Die sensasionele eskapades van André Stander en sy bende in die vroeë tagtigerjare is ’n sprekende voorbeeld daarvan. Dit word waarskynlik aangewakker deur die gewaagdheid van sekere bankrooftogte en die verromantisering daarvan in flieks. Die media beeld die gebeure ook soms uit met ’n soort bedekte verering van die boosdoeners.

Die meerderheid bankrowers bly egter gewetenlose misdadigers wat nie sal skroom om onskuldiges se veiligheid in gevaar te stel nie.

In die vroeë 1980’s het banke en bougenootskappe oral in die land kleiner banktakke gehad wat soms deel van eiendomsagentskappe gevorm het.14 Dit was maklike teikens vir voornemende bankrowers. Die kleiner banktakke het voor die elektroniese era gerieflike toegang vir kliënte gebied, maar het meestal powere veiligheidsmaatreëls gehad. Gevolglik het rooftogte op bankagentskappe amper epidemiese afmetings begin aanneem, veral aan die Wes-Rand.

Teen die tyd van die Bokkie Taute-skietvoorval in 1983 het Charles reeds legendariese bekendheid verwerf vir al die bankrooftogte wat hy opgelos het. In die voorafgaande agttien maande het hy aan die stuur gestaan van ’n span wat meer as ’n dosyn sake oor bankrooftogte opgelos het. Daar was etlike aanprysings van die polisie se hoër bevel vir sy suksesse en die misdaadverslaggewer Willem Knoetze het soos volg daaroor in Die Vaderland geskryf: “Met sy jongste welslae het adj.-off. Miller getoon hy is besig om ’n verskrikking vir rowers te word.”

Die diewe gaan Durbs toe!

In die sewentiger- en tagtigerjare het Durban amper ’n magiese aantrekkingskrag vir sekere wit bankrowers gehad. Miskien het dit iets te doene gehad met hul grootwordjare toe Durban vir middelklas- wit mense die versinnebeelding van kommervrye sonskynvakansies was. Hoe dit ook al sy, dit was asof hulle geglo het hulle sou daar buite die bereik van die lang arm van die gereg wees. Daar kon hulle hul buit met ’n behoorlike gefuif blaas.

Vir speurders van die ou Transvaal het dit soms ’n welkome geleentheid gebied om by die see uit te kom, waar hulle gratis in die polisiebarakke gebly het en dalk ’n kans kon kry om op die strand vleis te braai.

“Maar die meeste van die tyd was dit nie ’n vakansie nie,” verseker Charles. Hy het reeds in die 1960’s te doene gekry met bankrowers wat na Durban uitgewyk het.

Sowel David Field as Dirk Vorster het uit welvarende families gekom, maar het verkies om die misdaadpad te loop. Field was maar 24 jaar oud en Vorster net 19 toe hulle reeds deel van ’n groot sindikaat was. Hulle het hulle veral aan bedrog, motordiefstal en roof skuldig gemaak.

Een oggend het hulle motors in Hillbrow gesteel en die middag ’n Volkskasbank in Edenvale aan die Oos-Rand beroof. Met hierdie buit het hulle na Durban uitgewyk en in die luukse Pavillion-hotel op die strandfront gaan inteken. Hulle was nie daarvan bewus dat drie Moord-en-roofspeurders, Charles en Miekie de Swardt onder bevel van luit. Flip de Jongh, nog die heeltyd op hul spoor was nie.

In die vroeë oggendure op ’n Saterdag het die drie speurders die twee in die foyer van die hotel ingewag. In ’n berig in Die Vaderland is die ontmoeting só beskryf: “Die polisiemanne het die verdagtes in die sitkamer van die hotel ingewag en met hul pistole in hul hande die twee verras. Een van die rowers het probeer om ’n rewolwer wat hy in ’n skede onder sy arm gedra het uit te pluk, maar voordat hy die vuurwapen te voorskyn kon bring, is hy deur konstabel Miller vasgevat.”

Hulle is elk tot twaalf jaar gevangenisstraf gevonnis.

Dié bokser is ook ’n bankrower

Dawie du Preez was in die sewentigs ’n Suid-Afrikaanse bokskampioen, maar hy was ook ’n bankrower. Hy het bekendheid verwerf toe hy Mike Schutte in 1975 uitgeslaan en daarmee die Suid-Afrikaanse swaargewigbokskampioen geword het.

In die laat 1960’s was die kampioen egter om al die verkeerde redes bekend toe hy banke op Benoni en in Maraisburg beroof het. Kroegpraatjies was al menige misdadiger se ondergang – Du Preez het in die manskroeg van die Maraisburg-hotel, waar hy graag die kitaar geslaan het, te veel oor sy “kordaatstukke” by die banke gespog. Beriggewers het die inligting vir Charles aangedra.

Ná die rooftogte het Du Preez met sy hoogswanger vrou na Durban uitgewyk, onbewus daarvan dat Charles en ander speurders hom gevolg het. Die polisiemanne was bewus van sy vrou se swangerskap en toe Du Preez haar vir die bevalling na die kraamafdeling van die Addington-hospitaal neem, het die speurders hom ingewag.

Nadat hy gevangenisstraf uitgedien het, het hy maar weer die verkeerde paaie bewandel en in die middel 1970’s is hy weer eens in hegtenis geneem.

Die bankrower-bokser was weer in die tronk.

“Buck Rogers” in die bank

Die hofsaal van die Roodepoortse landdroshof was stampvol toe die aantreklike Rory Garret Tracy in 1983 op 21 aanklagte van gewapende roof verskyn. Selfs in die gange het die nuuskieriges mekaar verdring om ’n blik op die berugte bankrower te kry. Talle vroue het die 35-jarige Tracy onweerstaanbaar gevind. Hy het baie na die hoofkarakter van die gewilde destydse TV-reeks Buck Rogers gelyk en die koerante het hom gou só begin noem.

In die beskuldigdebank het die flambojante Tracy met die vroue in die hof geflankeer. Hy het onderlangs vir hulle troetelwoorde gefluister, terwyl hy geglimlag en selfs vir ’n paar geknipoog het. Hy het die kollig duidelik geniet.

Vroue-bankkassiere het in vervoering vertel hoe hy hulle met vleitaal bekoor het en van die sjarmante manier waarop hy hulle versoek het om die geld aan hom te oorhandig. Hy het ook gesê dat hy hulle nie wou seermaak nie. Meer as vyftien van hulle het by hul werk tyd afgeneem om die verhoor by te woon – al was hulle nie getuies nie en al het Tracy skuldig gepleit.

Vyf maande lank het Tracy ’n terreurveldtog in die takkantore van banke en bougenootskappe aan die Wes-Rand gevoer. Wat die misterie rondom hom aangeblaas het, was dat hy heeltemal alleen opgetree het. Meer as R45 000 is geroof, wat in daardie tyd ’n klein fortuin was. (Dis omtrent soveel soos ’n gerieflike vierslaapkamerhuis op Roodepoort gekos het.)

In dié tyd het hy goed geleef en elke aand in duur restaurante geëet en sy vriendinne getrakteer. Tydens die verhoor het dit aan die lig gekom dat hy deurgaans ’n speelgoedrewolwer gebruik het.

Hoofstuk%2010_clipping%20rower%20groet%20slagoffers.TIF.tif

Voordat Tracy die pad byster geraak het, het alles oënskynlik in sy guns getel. Hy het uit ’n welgestelde familie van Natal gekom. Sy pa was ’n bekende politikus van Pietermaritzburg en lid van die Provinsiale Raad. Tracy self was ’n kranige rugbyspeler en gewese slot van die Natalse Duikerspan. Ná sy egskeiding het dinge begin verkeerd loop. Hy was werkloos en het doelloos begin rondval. Uiteindelik het dit op die vyf maande lange terreur van roof uitgeloop.

Charles het leidrade opgevolg van beskrywings van die motor waarin Tracy tydens die laaste rooftogte weggekom het. Tracy het begin laks raak deur dieselfde motor in sy laaste paar rooftogte te gebruik. Dit het Charles die deurbraak gegee waarna hy gesoek het. Hy het vasgestel dat die motor in ’n vrou se naam gehuur word.

Die vrou het bestaan en is as ’n verdagte na Charles se kantoor gebring vir ondervraging. Jare lange ondervinding laat Charles gou besluit dat die vrou nie by die rooftogte betrokke is nie. Hy vind egter uit dat sy die voertuig gereeld aan haar vriend, ene Rory Tracy, leen.

Sy was heeltemal onbewus daarvan dat Tracy die voertuig vir die rooftogte gebruik, en is gewoonlik die aand ná die misdaad met ’n ruim hart deur Tracy onthaal. Sy was onder die indruk dat hy ’n suksesvolle sakeman is. Só het ook vele van sy ander vriendinne gedink.

Charles het nou oor genoegsame inligting beskik wat hom en sy span speurders warm op Tracy se spoor geplaas het. Dieselfde aand nog het hulle gereed gemaak om Tracy vas te trek.

Tracy het in ’n praghuurhuis in Kosmos, die rykmansuitspanplek by die Hartbeespoortdam, weggekruip. Toe Charles en sy span die aand onverwags by die huis opdaag, probeer Tracy wegkom deur oor ’n tuinmuur te spring en met die terrasse teen die hange van die Magaliesberge, wat op die dam afkyk, weg te hardloop. In ’n stadium het hy teen die steil helling afgerol en hom amper te pletter geval. Net daar is hy in hegtenis geneem.

Vroeër dieselfde dag het hy sy laaste rooftog in Horison, Roodepoort, uitgevoer.

Tot Charles se ontsteltenis word Tracy in April 1982 op ’n aansienlike borgtogbedrag vrygelaat voor sy verhoor. En soos Charles verwag het, verbreek Tracy sy borgtogvoorwaardes en vlug. Hy word nietemin binne ’n week op Newcastle vasgetrek voordat hy sy planne kon uitvoer om landuit te vlug. Hy bly daarna in aanhouding hangende sy verhoor.

Uiteindelik het Tracy se rooftogte net smart gebring.

Nadat hy skuldig gepleit het, is hy tot altesaam 44 jaar gevangenisstraf gevonnis deur streeklanddros Coen Butler, wat bekend was vir sy swaar vonnisse. Uiteindelik sou Tracy vyftien jaar daarvan agter tralies deurbring. Sy pa kon nooit oor sy seun se afvallige optrede kom nie en is ’n paar jaar later as ’n gebroke man aan ’n hartaanval oorlede.

Sewe jaar nadat Tracy uit die gevangenis vrygelaat is, sterf hy op 58-jarige ouderdom onder raaiselagtige omstandighede nadat hy in ’n voorval met die polisie op Belfast in Mpumalanga betrokke was. Hy was in daardie stadium ’n boukontrakteur op Belfast. Ná ’n motorbotsing het polisiebeamptes hom na die Belfast-hospitaal geneem waar hy geweier het dat sy bloed vir ’n alkoholtoets getrek word. Hy het probeer weghardloop, maar is deur polisiemanne in ’n patrolliewa voorgekeer.

Tracy is na bewering deur die polisiemanne aangerand toe hy hom verset het. Hy is so ernstig beseer dat hy nie kon loop nie en moes gehospitaliseer word. Sy toestand het daarna vinnig verswak. Hy is van die een staatshospitaal na die ander oorgeplaas, maar het uiteindelik ’n paar weke later beswyk. Sy familie is eers drie weke later van sy dood in kennis gestel. ’n Ondersoek na die beweerde aanranding deur die polisie het niks opgelewer nie.

Volgens Charles het geharde misdadigers dikwels nie ’n lang lewe nie.

“Dis asof dié mense bykans altyd die grondpad met slaggate loop en nie ou bene maak nie. Selfs die rowers wat nie gewelddadig sterf nie, word nie baie oud nie. Daar is selde ’n rustige oudag vir hulle. Miskien is dit omdat hulle hul hele lewe te rof geleef het.”

Die Deysel-bende

Die Deysel-bende was ’n wilde en roekelose groep bankrowers wat bestaan het uit drie broers – Dirk (23), Hermanus (21) en ’n minderjarige wie se naam nie destyds bekend gemaak is nie – asook ’n vriend, Alwyn Groenewald (21). Oor ’n tydperk van vier maande in 1982 het hulle minstens agt bankrooftogte in Johannesburg en aan die Wes-Rand uitgevoer.

Die Deysel-bende was tipiese bullebakke. Anders as Rory Tracy het hulle groot vrees ingeboesem by die vroue-bankkassiere op wie hulle toegeslaan het. Tydens Dirk Deysel, die leier van die bende, se borgtogaansoek later is getuig dat die vroue-slagoffers in vrees leef en uit hul werk wil bedank. Toe die pers buite die hof foto’s van die bende wou neem, is hulle te lyf gegaan en verskeie koerantmanne moes koes vir hul veiligheid.

Maar bullebakke maak altyd vyande, en daardie vyande sal hulle gewoonlik wil terugkry. Die Deysel-broers het boonop teen die einde van hul skrikbewind roekeloos begin raak en begin glo hulle is onaantasbaar.

Op Roodepoort het hulle hulle as voornemende kopers voorgedoen en ’n Cortina XR6 op ’n toetsrit geneem – maar nooit teruggekeer nie. Hulle het die voertuig daarna by ’n beriggewer van Charles op Randfontein gaan parkeer en die groot fout begaan om die beriggewer te nooi om saam met hulle rooftogte uit te voer.

Hul houding het die beriggewer nie aangestaan nie, maar hy het saamgespeel. Hy het Charles dadelik van die gebeure ingelig. Daar was egter nog nie genoeg inligting waarop die speurder kon reageer nie.

Die bende het die XR6 tydens hul rooftogte met ’n motorfiets afgewissel. Hul rooftogte was ’n belangrike rede waarom motorfietsryers destyds verbied is om met valhelms aan in banke te verskyn. Soms het Groenewald, wat heeltemal anders as die Deysels gelyk het, ’n meer prominente rol gespeel. Gevolglik was dit aanvanklik moeilik om al die rooftogte met mekaar te verbind.

As Charles egter ’n voëltjie gehoor fluit het, het hy die saak nie daar gelos nie. Hy het knaend, tydig en ontydig, by die jonger en kwesbaarder Deysel-broer opgedaag om vrae te vra. Hy het ook die eienaar van die XR6 opgespoor, wat om twyfelagtige redes nie ’n diefstalklag by die polisie aanhangig wou maak nie.

Stukkie vir stukkie het Charles inligting ingewin totdat die legkaart voltooi was. Toe die twee ouer broers die XR6 op ’n dag by Charles se beriggewer gaan haal, het hy hulle tot by hul woonstel in Hillbrow gevolg, waar hy hulle in hegtenis geneem het.

Die twee ouer Deysel-broers en Groenewald het skuld beken. Dirk Deysel het 14 jaar tronkstraf gekry op sewe aanklagte van gewapende roof, terwyl sy broer Hermanus en Alwyn Groenewald vir onderskeidelik vyf en sewe jaar tronk toe gestuur is. Die jonger broer is deur sy ouer broers beskerm en is uiteindelik onskuldig bevind.

Die veroordeeldes het ter strafversagting probeer om met die hulp van ’n kliniese sielkundige se getuienis te beweer hul misdade was weens die trauma wat hulle in die Grensoorlog ervaar het. Die streeklanddros het nie dié verduideliking aanvaar nie.

Die Deysel-broers was deel van ’n gesin van sestien kinders. Waarom toon familielede soms dieselfde afwykende misdadige gedrag? Is dit weens genetiese samestelling of omgewingsomstandighede, of ’n kombinasie van die twee?

Die Deysels sou in elk geval nie die laaste gesinslede wees wat besluit om saam misdaad te pleeg nie: Daar sal seker beswaarlik in ons land se misdaadgeskiedenis beter voorbeelde van bloedverwante wees wat in die skemerwêreld van misdaad gefloreer het soos die twee Haynes- en drie Goosen-broers.