11 Die Boeremafia van Randfontein |
Hulle was niks anders as gewetenlose misdadigers nie – Afrikanerboewe geklee in swierige, uitheemse oopknoophemde met groot krae om hul swaar goue kettings soos statussimbole te vertoon. Party het herkenbare mullet-haarstyle gehad, almal het selfvoldaan rondbeweeg, hul gewig rondgegooi, omring deur jong wagte wat eerder soos kragape lyk, bewonder deur alomteenwoordige blondines in die skemerwêreld van dwelms en prostitusie, helde in hul eie onderwêreld van misdaad en moord.
Sedert die 1990’s het die Haynes- en Goosen-broers grootliks gemaak en gebreek soos hulle wou: Hulle was Ralph en Barney Haynes, en Johan en Mike en Corrie Goosen.
Dan was daar Ferdie Barnard.15 Hy en Ralph Haynes sou mekaar in die tronk beter leer ken . . .
Charles het Ferdie al as jong seun ontmoet. Ferdie se pa, maj. Piet Barnard, was vir die grootste gedeelte van Charles se tyd by die Wes-Randse Moord-en-rooftak die bevelvoerder van die speurtak op Roodepoort. In vele opsigte was Barnard ’n vaderfiguur vir Charles. Majoor Piet het geweet hy kon altyd op Charles staatmaak. Voordat al die takke van Wes-Randse Moord-en-roof op Krugersdorp gesentraliseer is, het Charles in dieselfde klein speurderskantore as Barnard se span speurders gewerk en noue vriendskapsbande is gesmee.
Barnard het gereeld vir Charles vertel hoe Ferdie van jongs af na hom opgesien het en hoe hy graag in sy voetspore wou volg. Ná aanvanklike sukses as ’n speurder in die Wes-Randse Narkotikaburo het Ferdie Barnard die pad egter heeltemal byster geraak.
Hy het hom reeds vroeg in die 1980’s in die misdaadwêreld begewe en sou ’n berugte huurmoordenaar word. In 1984 het hy en ’n kollega vooraf met twee dwelmslawe ooreengekom dat hulle op ’n sekere nag by ’n apteek in Wilropark op Roodepoort sou inbreek. Die twee dwelmslawe het nie geweet dis ’n lokval nie. Tydens die inbraak is een van die dwelmslawe, Peter Ward, doodgeskiet en die ander, Edward Joffe, gewond.
Vroeër, in Februarie 1983, het Barnard vir Edward Symons in Spencerlaan, Maraisburg, doodgeskiet nadat hy hom van die pad afgetrek het.
Vir hierdie en ander misdrywe het Barnard ses jaar gevangenisstraf gekry. Terwyl hy in 1984 nog verhoorafwagtend was op die aanklagte van moord op die dwelmslawe het hy egter nog die simpatie van talle polisiemanne gehad omdat hulle geglo het hy was die slagoffer van ’n heksejag vanuit sekere polisiegeledere. Charles was een van hulle.
Barnard het in 1984 tydens die moordsaak teen hom sy borgtogvoorwaardes verbreek deur nie vir die verhoor in die hooggeregshof in Johannesburg op te daag nie. ’n Groot soektog, wat aan die soektog na die bankrower André Stander herinner het, is in opdrag van hoër gesag in die polisie van stapel gestuur. Barnard was landswyd ’n gesoekte man met sy foto wat op TV en in die koerante verskyn het. Sy pa was in ’n netelige posisie as speurhoof op Roodepoort. Hy was ook bevrees dat sy seun hom teen inhegtenisneming mag verset en doodgeskiet word.
Ferdie se pa het sterk vermoed dat sy voortvlugtige seun met Charles in verbinding sal tree weens die sterk vertrouensverhouding tussen hulle. Piet Barnard het Charles dus versoek om sy seun onmiddellik aan die polisie uit te lewer as hy met hom sou kontak maak.
Ferdie het inderdaad enkele dae voor die volgende hofverskyning met Charles in verbinding getree. Daar is ooreengekom dat hy hom vroeg die oggend van die verhoor aan Charles sou oorgee om uitgelewer te word. Die hofverrigtinge het reeds ’n aanvang geneem toe Charles Ferdie vanuit die gang wat na die selle lei in die beskuldigdebank besorg. Dié dramatiese, onverwagse verskyning het omtrent ’n beroering onder die pers en die hofpersoneel veroorsaak.
Op die regter se vraag of hy Ferdie in hegtenis geneem het, het Charles ontkennend geantwoord en gesê hy het net gehelp om hom voor die hof te bring. Charles se optrede het amper verreikende gevolge vir hom ingehou. Sekere offisiere wou hom van regsverydeling en hulpverlening aan ’n voortvlugtige laat aankla. Danksy die ondersteuning wat Charles vanuit hoër gesag geniet het, het dit egter nie gebeur nie.
Dit was toe dat Barnard met Ralph Haynes in die tronk deurmekaar geraak het, hoewel hulle mekaar ook voorheen as jong manne aan die Wes-Rand geken het.
Die gebroedsels – Corrie Goosen, Ralph Haynes, Ferdie Barnard en Kie.
Die Haynes- en Goosen-broers het in die sewentigerjare saam op Randfontein grootgeword. Die Haynes-gesin het uit 17 kinders bestaan en hulle het in armoede grootgeword. Die drie Goosen-broers se grootword-omstandighede was nie veel anders nie. Al drie het reeds vroeg in hul lewens begin misdaad pleeg.
Hulle het ook almal geweet van Charles Miller. Van jongs af het hulle ’n heilige ontsag vir hom gehad. Toe hulle met hul wandade begin, was Charles reeds ’n legende onder die rampokkers van die omgewing, al het hy hulle nog nie almal geken nie. Die ondersoekende joernalis Jacques Pauw het verskeie boeke oor die Goosen- en Haynes-broers se lewens geskryf. In Dances with Devils (2006), byvoorbeeld, merk hy op: “If the lives of Ferdi [sic] Barnard, Corrie Goosen and Ralph Heyns [sic] were a Hollywood movie script, no one would believe it. Their story is stranger than fiction and more fantastic than anything an imaginative writer would dream up.”
Dit het alles met die oudste Goosen-broer begin . . .
In Desember 1980 word die 23-jarige Johan Goosen in die Krugersdorpse streekhof tot altesaam 26 jaar gevangenisstraf gevonnis. Omdat elf jaar van die gevangenisstraf samelopend vir verskillende misdade is, sal hy heelwat vroeër op parool vrygelaat word. In die hof gebruik hy die deursigtige verskoning dat hy die misdade gepleeg het omdat hy werkloos was en nie vir sy verwagtende vrou en hul twee kinders kon sorg nie.
Vroeër die jaar het Goosen ’n afleweringswa op Randfontein gesteel en op eie houtjie met sy roofveldtog begin. In een week het hy vyf gewapende rooftogte op kleinerige sakeondernemings op Randfontein en Krugersdorp uitgevoer. Op 15 Oktober 1980 het hy twee swart vroue by ’n vrugtestalletjie oorkant die Krugersdorpse wildtuin van kontant beroof. Op dieselfde dag het hy twee Randfonteinse supermarkte beroof en op 21 Oktober ’n Randfonteinse kafee. Die volgende dag het hy die Krugersdorpse tak van die United-bouvereniging in Rustenburgstraat oorval en weer met kontant weggekom. Sommige van die rooftogte het hy met sy eie voertuig, ’n wit Chevrolet, uitgevoer.
Al die dossiere oor sake waarby Johan Goosen vermoedelik betrokke was, is vir ondersoek aan Charles oorhandig. Hy het vermoed die rower tree alleen op en het ’n taamlik goeie beskrywing van sy liggaamsbou en motor gehad. Omdat die meeste rooftogte in die omgewing van Randfontein plaasgevind het, het hy ook sterk vermoed die rower woon in die omgewing.
Charles het aanvanklik alleen aan die sake gewerk. Eers het hy die name van alle wit mans op Randfontein nagegaan wat moontlike verdagtes kon wees. Die Goosen-broers was op die lys, maar in daardie stadium het Charles nie die broers geken nie. Die meeste name op die lys van verdagtes het uit die omgewing van Finsbury, Randfontein, gekom. Charles het hom gevolglik op dié gebied toegespits.
Hy het onverpoos navrae en patrollering in Finsbury en die omgewing gedoen. Een oggend het hy ’n man in ’n nuwe wit Chevrolet opgemerk. Die man het klaarblyklik doelloos rondgery. Wat meer was: Die bestuurder het aan die beskrywing van die verdagte voldoen.
Charles het hom voorgekeer. Die man kon nie sy identiteit bevestig nie en het sy van as Van der Merwe en ’n vreemde woonadres opgegee. Charles het die aas uitgegooi en hom laat gaan.
Oor die polisieradio stel hy vas dis ’n vals adres en die geregistreerde eienaar van die voertuig is Johan Goosen. Charles het dadelik geweet hy is die rower.
Die geregistreerde adres van die Chevrolet was dié van die Goosens se ouers. Toe Charles by die ouers aanklop, beweer hulle hulle het net twee seuns, Mike en Corrie. Laasgenoemde was nog ’n jong seun.
Charles se geduld was op en met versterkings het hy gou die skuldige ouboet, Johan, opgespoor. Slegs enkele jare later sou hy met Mike te doen kry in ’n ondersoek na ’n gewapende rooftog en moord. Maar dit sou die jong Corrie wees wat een van die grootste rampokkers van die 1990’s sou word.
Johan Goosen het skuld weens al die rooftogte beken. Hy het ook die vuurwapen wat hy tydens sy rooftogte gebruik het aan Charles gaan uitwys.
Jare later, nadat hy reeds gevangenisstraf uitgedien het, het Johan Goosen een Sondag ná kerk by Charles se huis aangekom en vir hom gesê dat hy nou gerehabiliteer is. Hy het eerlik voorgekom, maar dit was nie lank voordat hy terug was op sy ou weë nie. “Jy kan maar die luiperd se kolle toeverf soos jy wil, maar ’n luiperd bly ’n luiperd.” (Dorothy was bitter ongelukkig dat misdadigers weer eens geweet het waar hulle woon.)
In 1992 het Johan Goosen sy dood gefabriseer om ’n groot versekeringsuitbetaling te kry. Sy vrou het beweer hy het aan die Weskus verdrink, maar hy is later springlewendig gevind en weens die onwettige handel in diamante gearresteer!
Hy het wel later in ’n motorfietsongeluk gesterf.
Charles is persoonlik in ’n skrywe van die nasionale speurhoof, lt.genl. J.C. Visser, namens die kommissaris van die Suid-Afrikaanse Polisie bedank vir sy ondersoekwerk in die Goosen-saak:
“Speurdersersant Miller se deursettingsvermoë en fyn waarneming het gelei tot die inhegtenisneming van ’n uiters gevaarlike misdadiger wat nie slegs hom nie maar die Mag tot eer strek.”
Nou’s dit weer Mike, Ralph en Barney . . .
Op ’n Vrydagmiddag, 22 Februarie 1985, pleeg Johan Goosen se jonger broer Mike saam met die twee Haynes-broers, Ralph en Barney, die eerste groot misdaad waarvoor hulle vasgetrek sou word. Hulle is deel van ’n gewapende rooftog saam met twee swart mans, Enoch Mazibuko en Philip Tlhapane, waarin ’n onskuldige sakeman doodgeskiet word.
Die samesweerders het agtergekom dat ’n sekere sakeonderneming elke tweede Vrydag ’n vaste patroon volg deur ’n groot bedrag geld met ’n voertuig van ’n bank na ’n uitbetalingspunt vir lone op Randfontein te vervoer. Inligting van ’n vertroueling van die maatskappy het getoon dat ’n sakeman, Charl Marais, die geld die betrokke Vrydag met sy Mercedes sou vervoer.
Die beplanning was dat hulle Marais met ’n gesteelde Cortina sou agtervolg. By ’n kruising sou hulle skielik voor die Mercedes inswaai om dit tot stilstand te dwing. Daarna sou hulle skoktaktiek gebruik – Tlhapane, wat besonder sterk gebou was, sou Marais met ’n vuishou tot oorgawe dwing, terwyl Mazibuko hom met ’n submasjiengeweer sou dreig.
Alles het volgens plan verloop, maar Mazibuko se vingers het gejeuk, of die spanning was net te groot. Marais was deurmekaar ná die vuishou en die Mercedes het stadig vorentoe beweeg en teen die rowers se Cortina gebots. In daardie stadium het Mazibuko naby die Mercedes se neus gestaan met die masjiengeweer op Marais gerig. Hy het twee skote afgevuur. Marais is noodlottig getref.
Een van die rowers het die aktetas met R14 100,69 gegryp, waarna hulle in die Cortina gespring en weggejaag het. Die geld is uiteindelik in Mike Goosen se ma se huis tussen die vyf samesweerders verdeel.
Ses dae ná die rooftog is die speurders van die Wes-Randse Moord-en-rooftak nog sonder leidrade. Teen 1985 was die Haynes- en Goosen-broers reeds so berug in die misdaadwêreld dat hulle van meet af aan as verdagtes beskou is sonder dat getuienis hulle met die moord en rooftog verbind het. Uit desperaatheid besluit die speurders om die kans te waag om Ralph, sy broer Barney Haynes en Mike Goosen te gaan haal vir ondervraging.
“Die besluit was niks meer as ’n skoot in die donker nie,” sê Charles. “Min het hulle geweet dat ons in daardie stadium niks gehad het om hulle met die misdaad te verbind nie.”
In die kantore van Moord-en-roof op Krugersdorp kon ’n sterk span speurders, wat mekaar afgewissel het, aanvanklik nie veel met die ondervragings uitrig nie. Dit het gelyk of die verdagtes vrygelaat sou moes word.
In ’n stadium het een van die speurders, AO Fires van Vuuren, ’n oproep ontvang dat ’n verdagte in ’n ander opspraakwekkende moordsaak selfmoord gepleeg het. Die speurders moes hul ondervraging onderbreek om na die selfmoordtoneel te gaan.
Moord-en-roof se kantore was op die tweede vloer van die polisiekantoor. Charles het Ralph aan die kraag beetgekry en hom hardhandig en vinnig by die brandtrappe aan die buitekant van die gebou afgeneem. Hy het hom gesleep, want Ralph het ’n houtbeen gehad weens ’n motorfietsongeluk.
Ralph moes gedink het Charles het ander, noodlottige planne met hom, want toe hulle onder kom, was hy soos ’n lammetjie. Hy het begin huil.
Charles kon egter nie verdere aandag aan hom gee nie, want die speurders was haastig om by die selfmoordtoneel uit te kom. Maar hy het hom gewaarsku dat hulle gou terug sou wees. Die speurders het nog ’n kans gewaag en die verdagtes weer in die polisieselle laat opsluit.
Charles se optrede het die gewenste uitwerking gehad, want toe die speurders terugkeer, het Haynes “soos ’n kanarie begin sing en oor die roof gebieg”. Hy was toe ver van ’n “onaantasbare mafiabaas”.
In die verhoor in die Witwatersrandse hooggeregshof in 1987 is Mike Goosen se saak van die ander beskuldigdes s’n geskei omdat hy op al die aanklagte skuldig gepleit het. Waarskynlik was dit ’n slenter waarin hy later as staatsgetuie die grootste blaam op die swart medepligtiges wou plaas.
Indien wel, het dit heeltemal geboemerang: Mike Goosen het die doodstraf ontvang. In die daaropvolgende saak teen die ander het Mazibuko ook die doodstraf gekry en die ander drie langtermyn-tronkstraf. Die speurders het gedink die reg het sy loop geneem.
Maar in die appèlhof in 1988 het die sake vir die vervolging op verskeie regstegniese punte skeefgeloop. Die twee vonnisse van doodstraf is tersyde gestel en al die langtermyn-gevangenisstrawwe aansienlik versag. In ’n betreklike kort tyd daarna was al die beskuldigdes weer op vrye voete.
. . . Toe Ralph en Ferdie
Dis in daardie stadium in die gevangenis dat Ralph Haynes en Ferdie Barnard, wat toe tronkstraf vir moord en ander misdrywe uitgedien het, vriende geword het. Dit was die begin van die Wes-Randse Boeremafia.
Haynes kon sagaardig voorkom, met ’n skynbaar altruïstiese streep waarmee hy mense beïndruk het. Agter daardie front het egter ’n gevoellose swendelaar geskuil met geen ontsag vir sy medemens nie. Ná hul vrylating in die laat tagtigerjare het hulle saam verskeie “knocks” uitgevoer. Individue, wat dikwels self ook by ongerymdhede betrokke was, veral die handel in ongeslypte diamante, is beroof. Dit was dus vir hulle moeilik om met die saak na die polisie te gaan. Hulle was ook by prostitusie en dwelmhandel betrokke.
Haynes, Barnard en Goosen was ook deel van die grootste diamantrooftog tot in daardie stadium in die Suid-Afrikaanse misdaadgeskiedenis. Hulle het hulle in 1995 voorgedoen as voornemende kopers in ’n diamanttransaksie op delwerye in die destydse Wes-Transvaal en het met miljoene rande se diamante laat spaander sonder om daarvoor te betaal.
In die laat tagtigerjare – sommige sê reeds in die tronk – is Barnard ook gewerf vir die berugte Burgerlike Samewerkingsburo (BSB), ’n klandestiene militêre eenheid waarin meestal voormalige polisiebeamptes gedien het en wat onder meer politieke teenstanders van die regering vermoor het. Die De Klerk-regering het ontken dat hulle van die bestaan daarvan geweet het of daardie optredes goedgekeur het.
Teen die tyd dat Barnard in 1989 vir David Webster, ’n anti-apartheidaktivis en antropoloog aan die Universiteit van die Witwatersrand, in opdrag van die BSB vermoor het, het hy reeds gevangenisstraf vir die twee genoemde moorde en een vir poging tot moord uitgedien. Hy is kort vantevore vrygelaat. Webster is glo vermoor voordat hy opspraakwekkende onthullings kon maak van die Suid-Afrikaanse Weermag se ondersteuning van Renamo teen Frelimo in die Mosambiekse burgeroorlog.
Barnard het in 1991 probeer om Charles te werf om by ’n frontorganisasie van die BSB, onder die naam Intricate Investigations BK, aan te sluit. Hy is toe nog nie aangekeer vir die moord op Webster nie. In ’n dokument wat “Streng Geheim” gemerk is – wat Ferdie opgestel het ter motivering – word die volgende genoem: “Charles Miller is by uitnemendheid ’n ekspert en spesialis in kriminele ondersoek, en is ’n hoogs opgeleide moord-en-roof speurder. Hy ken Soweto, [die] Wes-Rand en Johannesburg se misdaad beter as enige speurder in die RSA en beskik oor ’n netwerk van kontakte en beriggewers wat nie sy gelyke in die RSA het nie. Hy is reeds gevorderd in jare (48 jaar oud), maar kan slegs ’n aanwins wees vir die eenheid. Daar word met eerbied sterk aanbeveel dat werwing van dié persoon sterk oorweeg word. Dit bly steeds ’n prioriteit om die MK tot op die been te infiltreer en om bowenal effektief te wees.”
Charles stem in: “Dit het in daardie stadium soos die regte patriotiese besluit gelyk. Dit was nodig om die ANC, wat die vyand was, te ondermyn.”
Volgens Charles se vrou, Dorothy, was dit ’n bestiering dat daar nooit iets van gekom het nie. Die feit dat die werksaamhede van die BSB toe algaande aan die lig gekom het, het moontlik voorkom dat Intricate Investigations van die grond af gekom het. Die moontlikheid bestaan ook dat Charles se psigiese agteruitgang in dié tyd sy betrokkenheid teruggehou het.
Charles se verbintenis met Barnard het egter by hom bly spook – ’n hoë polisieoffisier het hom later gewaarsku dat hy van medepligtigheid in die Webster-moord verdink word. Eers nadat nog ’n BSB-lid, Calla Botha, ontmasker is as die bestuurder van die voertuig waaruit die doodskoot gevuur is, het die gerugte verdwyn.
Barnard dien vandag lewenslange gevangenisstraf in die Sentrale Gevangenis in Pretoria uit vir die moord op Webster. Corrie Goosen is in 1997 in ’n motorfietsongeluk in Port Elizabeth dood. Die Skerpioene het – om doodseker te maak dis wel Corrie – ’n taakspan gestuur om vingerafdrukke van sy lyk te neem om seker te maak hy het nie soos sy broer sy eie dood gefabriseer nie.
Ralph Haynes is nog voortdurend in die nuus. Jacques Pauw skryf in Februarie 2011 in Rapport dat Haynes in die vroeë 2000’s die “onbetwiste ‘Godfather’” van die Wes-Rand was. “Polisievriende het dossiere laat verdwyn en slagoffers het voor dreigemente geswig,” lui sy berig. Die sanger Steve Hofmeyr het in 2012 ’n boek met die titel Kapabel gepubliseer wat ruweg op Haynes se lewe gegrond is en die boek ook aan hom opgedra. Hofmeyr het sy fassinasie met Haynes in Beeld van 5 November 2012 bevestig toe hy opgemerk het: “Ek was in ’n sekere mate baie lief vir hom.”16
Haynes het aan die begin van 2011 egter spoorloos verdwyn. Daar is talle beweringe oor wat met hom gebeur het wat wissel van dat hy vermoor is of dat hy die land verlaat het. Van tyd tot tyd is daar mense wat beweer dat hulle hom aan die Wes-Rand gesien het – ander wil dit hê dat Haynes iewers onder polisiebeskerming wegkruip.