12

Doodstraf

 
 

 

Gedurende sy loopbaan as speurder is Charles aangewys as die ondersoeker in van die wreedste moordsake. Danksy sy uiters deeglike ondersoekwerk en voorbereiding vir die hofsaak het die beskuldigdes in tientalle van hierdie sake die doodstraf gekry.

In een van dié sake het vier rowers een Augustus-oggend kort voor nege die Hi Spirit-drankwinkel in Delarey, Roodepoort, binnegestorm waar Alan Lovette die bestuurder was. Hulle was op hom die oomblik toe hy die voordeur vir ’n werker oopgesluit het. Hulle het Lovette en die ander werkers se bewegings reeds lank dopgehou.

Lovette se pistool was agter by sy broek ingedruk en hy het daarna gegryp. Die grootste van die rowers, Matthews Maluleke, het op Lovette afgestorm, hom gestamp, die pistool by hom afgeneem en op hom gerig.

“Vat die sleutel van die brandkluis. Moet my net nie skiet nie,” het Lovette luidens ’n berig in Beeld gepleit. Maar Maluleke het geskiet. Lovette het met ’n koeëlwond in die bors agter die toonbank neergesak. Die rowers het die kluis oopgesluit, al die geld daaruit gevat en padgegee.

Lovette was reeds sterwend toe sy assistent Angel Badenhorst hom op die vloer aantref. Volgens die koerantberig het hy haar hand in syne geneem en geprewel: “Ek wil nie nou al doodgaan nie . . .”. Hulle het die voorafgaande anderhalfjaar saamgewerk.

Charles was ’n geruime tyd voor die moord bewus van Maluleke en sy bende. Volgens sy inligting het hulle ’n gewapende rooftog by die OK in dieselfde straat as die Hi Spirit beplan. Hul planne is gefnuik toe die OK-bestuurder dit doelbewus laat uitlek het dat die Moord-en-roofspeurders van hul planne weet. Daarna het die bende hul aandag na die drankwinkel verskuif.

Charles het sy ou kameraad Elias Mbaimbai by die Roodepoortse speurders gaan “leen” en saam met sers. Piet Wessels het hulle vir twee weke ná die moord leidrade in Soweto opgevolg. Dit het aan die lig gekom dat ’n werknemer van die OK in Delarey die bron is wat inligting aan die rowers verskaf het. Tydens ondervraging het hy die identiteit van die rowers aan Charles bekend gemaak. Sewe verdagtes, onder wie Maluleke, is aangekeer.

Matthews Maluleke is in die Witwatersrandse hooggeregshof ter dood veroordeel. Hy is op 24 Junie 1986 in die Sentrale Gevangenis in Pretoria gehang. Die ander rowers het langtermyn-gevangenisstraf gekry.

’n Oopgeslane Bybel

In 1986 was die boomryke Kenmare nog ’n rustige woonbuurt van Krugersdorp – nog sonder die kenmerkende hoë mure en veiligheidsheinings wat die aangesig van die woonbuurt in later jare sou verander. ’n Vreemdeling kon nog maklik aan ’n huis se voordeur klop en kinders kon op soel someraande kommervry in die strate speel.

Maar op daardie oggend van 27 Februarie 1986 sou iets in die woonbuurt verander . . .

Die 73-jarige Petrus (Bossie) Boshoff was met Bybelstudie in sy studeerkamer in Willoughbystraat besig. Voor sy aftrede was hy vyftien jaar lank ’n bekende stadsklerk van Germiston. Die brandweerstasie van Germiston is destyds na hom genoem. Sy 69-jarige vrou, Jane, is besig om in hul slaapkamer reg te maak om dorp toe te gaan om haar hare te laat doen. Die egpaar sou die volgende dag met vakansie vertrek.

Wilson (Oupa) Mkhize het reeds ’n tyd lank die twee bejaardes se bewegings dopgehou toe hy aan die voordeur klop onder die skyn dat hy werk soek. Hy het geweet die Boshoff-egpaar het ’n permanente werker in hul diens, maar dat dié met verlof in Mosambiek is.

Deur die loop van die dag raak die Boshoffs se seun, Adriaan, bekommerd omdat hy geen antwoord kry wanneer hy sy ouers bel nie. Hy is baie onrustig en ry die aand van Pretoria af na hul huis op Krugersdorp. Teen tienuur klop hy vergeefs aan die deure. Alles is doodstil en al die ligte af.

Hy breek by die huis in en kom op sy pa se lyk in die voorportaal af.

Speurders moet die gangdeur met ’n byl oopkap. Sy ma se lyk lê in een van die kamers in ’n plas bloed op die vloer. Die moordenaar het eers sy pa oorweldig en doodgesteek en toe sy ma op dieselfde manier vermoor. Hy moes berserk geraak het, want hy het albei talle kere met ’n mes gesteek.

Sy gedrag was vreemd nadat hy die moorde gepleeg het: Hy versteek nie die twee lyke nie, maar asof hy sy bose werk wil verbloem, bedek hy die lyke met komberse en dekens. Om die vrou se kop het hy ’n handdoek gedraai. Daarna het hy met die egpaar se ligblou Datsun Laurel gevlug.

In die moorddossier is ’n lysie van persoonlike besittings wat hulle met vakansie wou saamneem die stille getuienis van die Boshoffs se vakansieplanne. In die foto-afdeling van die dossier kan ’n mens op die vermoorde Bossie Boshoff se lessenaar sy oopgeslane Bybel sien lê.

Op die dag van die moord is Charles en AO Fires van Vuuren besig met ’n ander moordondersoek in Port Elizabeth. Charles word onmiddellik na Krugersdorp teruggeroep om as ondersoekbeampte die leisels oor te neem in wat as hoëprofielmoorde beskou is.

Die Wes-Randse afdelingspeurhoof, kol. (later lt.genl.) Colin Steyn, het moeite gedoen om Charles met die ondersoek te help deur groot publisiteit aan die moord te verleen in die hoop om inligting in te win. Die publiek is op nasionale televisie en verskillende radiostasies gevra om met enige inligting na vore te kom.

Dit het vrugte afgewerp.

Wilson Mhkize word vasgetrek toe hy die Datsun aan ’n Indiër wat ’n tweedehandse motoronderneming in Lenasia bedryf, wil verkoop. Die Indiër het van die moorde en die voertuig geweet nadat hy daarvan op TV-nuus gehoor het. Hy bel die polisie terwyl Mhkize nog op sy perseel is.

Mhkize beland agter tralies en Charles kan sy ondersoekwerk voortsit om hom onteenseglik met die moorde te verbind.

Die volgende Sondagoggend ontvang Charles ná kerk ’n oproep van die vermoordes se seun, Adriaan, wat hom vra of hy en sy vrou voor middagete die verdagte kan ontmoet. Dis ’n buitengewone versoek wat gewoonlik summier geweier sal word. Maar dit kan van waarde wees indien hulle sou bevestig dat hulle die verdagte nie geken het nie. (Mhkize het beweer dat hy reeds jare vir die vermoorde egpaar gewerk het.)

Op die ingewing van die oomblik stem Charles in. Terugskouend was dit ’n gewaagde ding om te doen.

Die vermoordes se seun en skoondogter was kennelik opgevoede en gelowige mense wat iewers betekenis uit die waansin van die moord wou haal. Die skoondogter was ’n mediese dokter en die seun ’n suksesvolle korporatiewe sakeman. Die onverstaanbare wreedaardigheid teenoor weerlose bejaardes laat ’n magtelose gevoel by agtergeblewenes. Charles wou op ’n manier help om vir hulle berusting te bring.

Hy het Mhkize by die selle uitgeboek en hom geboei na sy kantoor geneem waar hulle die Boshoff-egpaar sou ontmoet. In daardie stadium was Mhkize heeltemal bereid om saam te werk. Hy was selfs “nederig en amper onderdanig”.

Toe Adriaan sê hy het die man nog nooit gesien nie, het Mhkize net skuldig afgekyk. Adriaan se vrou, Elsa, het voorgestel dat sy ’n kort gebed doen.

Om ’n onverklaarbare rede het Mhkize se houding daarna in ’n oogwink heeltemal verander. Hy het aggressief geword. Uit die hoek van sy oog kon Charles sien hoe Adriaan se hand na die binnesak van sy baadjie gaan. Charles het koud geword. Hy het gedink hy het die verkeerdste ding denkbaar gedoen om die bedroefde kinders toe te laat om die moordenaar van hul ouers op so ’n manier te ontmoet. Van waar Charles gestaan het, was dit te laat om iets te doen. Hy het die ergste verwag . . .

Maar die wind word uit Charles se seile geneem toe Adriaan ’n klein Bybeltjie uit sy sak haal en dit vir Mhkize aanbied, terwyl hy kalm sê: “Ek hoop dit help jou deur die poorte van die hemel.”

Charles was nog besig om slukke van verligting te gee toe Mhkize heeltemal onbeheersd woedend en aggressief raak.

“Dit was asof die duiwel op daardie oomblik heeltemal beheer oor hom geneem het.”

Charles het moeite gehad om Mhkize in bedwang te hou en moes hom na die polisieselle sleep. Hy was teleurgesteld oor die verloop van die gebeure en het getwyfel of hy die regte ding gedoen het. Onder in die selle kon Charles sy emosies ná Mhkize se optrede nie in bedwang hou nie . . . hy was woedend.

Ná ’n uitgerekte saak is Wilson Mhkize in die Witwatersrandse hooggeregshof ter dood veroordeel en later in die Sentrale Gevangenis in Pretoria gehang.

“Die graf van die mensdom”

Nadat sy laatmiddag op 25 Februarie 1985 van haar werk by die Lanseria-lughawe teruggekeer het, was die 25-jarige Heather Shaw besig om kos te maak in haar en haar man se huurhuis op ’n kleinhoewe by Nooitgedacht in die Muldersdrift-omgewing.

Die paartjie het pas ingetrek nadat hulle kort tevore uit Zimbabwe geëmigreer het. Hulle is kort tevore getroud en het gemeen dit sou veiliger in Suid-Afrika wees, waar hulle ook ’n beter toekoms sou hê.

Hulle was verkeerd.

Heather het die mes waarmee sy aartappels geskil het op die ingeboude sytafel neergesit toe Joseph Phiri aan die kombuisdeur klop. Van die werkers op ’n buurkleinhoewe het vroeër die middag gesien toe hy na die huis loop. Hy was ’n ongewenste karakter wat voorheen op ’n buurplasie gewerk het, maar is die trekpas gegee. Joseph Phiri het bedrieglik onskadelik voorgekom met sy beleefdheid en kleinerige, selfs tingerige bou.

Die polisiefotograaf se swart-en-wit foto’s van die misdaadtoneel het ’n soort ouwêreldse “bekoorlikheid”. Dis asof die foto’s meer met jou wil praat as hedendaagse kleurfoto’s. Maar enige “bekoorlikheid” verdwyn onmiddellik wanneer ’n mens verder in die fotodossier blaai en by dié van Heather se lyk kom.

Dis ’n aaklige toneel.

Sy lê op haar maag met haar gesig eenkant toe gedraai, haar hande onder haar ingevou. Haar rok is hoog opgetrek en haar broekie lê langs haar kaal voete. Daar is veelvuldige steekmerke aan haar rug. Die donker kolle op die mat en haar klere wys dat daar baie bloed moes gewees het.

Die 18-jarige Joseph Phiri het sy duiwelswerk haarfyn in ’n bekentenis beskryf. Hy het in ’n pomphuisie op die werf vir Heather gewag om van die werk af te kom. Nadat sy opgedaag het, het hy nog ’n ruk gewag voordat hy aan die kombuisdeur gaan klop het. Hy het gevra of sy vir hom werk het en terselfdertyd die mes gesien waarmee sy die aartappels geskil het. Toe sy nee sê en hom vra om te loop het hy kwaad geword.

Hy het haar vasgegryp en by die kombuis ingedwing. In die gestoei het hy die mes in die hande gekry. Sy het haar heftiger verset as wat hy verwag het. Hy het met haar tot in die eetkamer geworstel waar hy haar oorrompel het. Hy het haar herhaaldelik met die mes in die bors gesteek. Toe sy val, het hy aangehou om haar in die rug te steek. Albei haar hande en arms het ook steekwonde gehad.

Dis nie duidelik uit die lykskouingsverslag of Phiri haar verkrag het voordat Heather aan haar wonde beswyk het nie.

Phiri het daarna deur die huis geloop en ’n blikkie Castle-bier uit die yskas geneem en gedrink. Voordat hy gevlug het, het hy kleinerige items soos haar handsak, ’n rooi draagbare radio, ’n tassie met kassette, ’n baadjie en ’n bottel met kleingeld gevat. (Moontlik was dit ’n geval waar die doodmaak van die slagoffer die primêre oorsaak van die misdaad was, terwyl die diefstal ’n sekondêre motief was.)

Van die gesteelde goed is die volgende dag deur die speurders in die veld naby die huis gevind nadat Charles hulle opdrag gegee het om met ’n sogenaamde vee-operasie enige bewysstukke te soek. Dis moontlik die rede waarom Phiri ’n paar dae later na die misdaadtoneel teruggekeer het – om die gesteelde goed te kom haal.

Toe die 27-jarige Robert Shaw net ná sesuur van die werk af kom, tref hy sy vrou se halfnaakte liggaam in ’n plas bloed op die eetkamervloer aan. Shaw is buite homself van histerie toe Charles en die ander speurders kort daarna by die huis opdaag. Aanvanklik sukkel hulle om inligting uit hom te kry. Hy kan nie tot bedaring kom nie en beweeg ál om die huis. Hy wou die moordenaar in die hande kry.

Die buurwerkers, wat die verdagte vroeër na die huis sien loop het, het geweet dis Joseph Phiri. Charles het vermoed dat hy nog in die omgewing wegkruip en het sy besonderhede aan almal in die nabyheid gegee.

Enkele dae later ontvang Charles ’n oproep van ’n plaaswerker: Phiri is weer in die omgewing van die Shaws se huurhuis opgemerk. Charles, AO Nick van der Merwe en AO Fires van Vuuren, bygestaan deur ander speurders, het onmiddellik na die moordhuis gejaag.

Toe Phiri die motors met die speurders aangejaag sien kom, het hy in ’n mangat geklim en in ’n stormwaterpyp afbeweeg. Plaaswerkers het sy skuilplek dadelik aan die speurders uitgewys. Charles het sy kollegas opdrag gegee om die mangat dop te hou terwyl hy ál langs die loop van die pyp beweeg het totdat hy weer ’n opening gevind het.

In die opening het hy hard aan sy makkers geskreeu dat hulle moet terugstaan, want hy gaan skote in die pyp afvuur. Sy woorde was nie koud nie, toe peul Phiri by die mangat tussen die speurders uit.

Joseph Phiri het die doodstraf gekry en is op 6 November 1986 in die Sentrale Gevangenis in Pretoria gehang.

(Muldersdrift sou later ’n brandpunt van plaasmoorde word. Luidens Beeld van 4 April 2013 loop dié gebied, wat as die Wieg van die Mensdom bekend staan, die gevaar om die “graf van die mensdom” te word.)

White trash

“As alkohol in die twintigste eeu uitgevind was, sou dit tot ’n verbode dwelm verklaar gewees het.”

Dié woorde van ’n landdros het nog altyd by Charles vasgesteek. In hoeveel hofsake moes hy hoor hoe geweldenaars ter versagting aanvoer dat hulle onder die invloed van alkohol of dwelms was toe hulle hul wandade gepleeg het.

Dié verweer het egter nie vir Anton Werner Stoop gehelp om sy onbeskryflike wreedheid te verskoon nie.

Op die aand van 24 Februarie 1986 gaan Stoop en twee van sy vriende, Willem Jansen en Francois Bester, erg aan die drink in die Witpoortjie-hotel op Roodepoort. Hulle is kort voor middernag daar weg in Stoop se broer se luikrug-tweedeurmotor. Dit was David Mthutang se ongeluk om die drie besope mans by die Pick ’n Pay-winkelsentrum in Witpoortjie raak te loop.

Mthutang het voor hul motor ingeloop en het, volgens Stoop se getuienis, vir hulle ’n lelike teken gewys. (Die hof het dit later as onbeduidende provokasie beskou.)

Die mans het Mthutang op die parkeerterrein van die winkelsentrum agtervolg en hom vasgekeer. Hulle het hom begin aanrand deur hom te skop en te slaan totdat hy geval het. Daarna het Stoop wydsbeen oor Mthutang gestaan, sy kop opgetel en teen die teeroppervlak gestamp totdat hy sy bewussyn verloor het. Stoop het op hom gespring.

Die bewustelose Mthutang is in die bagasiebak van die voertuig gelaai. Stoop het bestuur. Daar was ’n dun afskorting tussen die bagasiebak en die agterste sitplek, wat hulle in die ry uitgehaal het. Mthutang het in die bagasiebak sy bewussyn herwin en begin skop.

Die drie geweldenaars het met hom na ’n oop stuk veld in Mindalore, Krugersdorp, gery. Toe Stoop stilhou en die bagasiebak oopmaak, het Mthutang probeer vlug, maar hulle het hom gekeer en weer aangerand.

Toe Mthutang nogmaals val, het Stoop hom met ’n klip teen die kop geslaan. Stoop het so erg aangegaan dat Jansen probeer het om hom van Mthutang af te trek. Jansen moes Bester roep om hom te kom help, maar dié was nog erg besope. Hulle moes al hul krag gebruik om Stoop van sy slagoffer af te kry.

In daardie stadium was Mthutang se liggaam reeds slap en hy het roggelgeluide gemaak.

Wéér is Mthutang in die motor se bagasiebak gelaai. Hierdie keer het Stoop nie bestuur nie, want hy was van plan om Mthutang in die ry uit die bagasiebak te gooi om die indruk te wek dat hy sy beserings in ’n tref-en-trap-ongeluk opgedoen het. Op die Chamdor-pad het Stoop hom uitgegooi.

Stoop het egter besluit om stil te hou en hom weer in die bagasiebak gelaai. Daarvandaan is hulle na ’n vulstasie om petrol in te gooi, waarna hulle deur Krugersdorp en met die Hekpoortpad tot naby die Sterkfontein-hospitaal gery het.

Daar het hulle Mthutang se liggaam verbrand om dit soos ’n halssnoermoord17 te laat lyk. ’n Nadoodse ondersoek het getoon dat die oorledene nog geleef het toe hy verbrand is.

Toe die uitgebrande lyk die volgende oggend gevind word, is die ondersoek na die Wes-Randse Moord-en-rooftak verwys. Die manier waarop die lyk verbrand is, was nie heeltemal soos ander halssnoermoorde nie.

Op instruksie van Charles is die gebied deeglik gevee. Daar was baie bloedspore. En ’n kwitansie van ’n motorwasplek op Luipaardsvlei: Die kwitansie gee die speurders die deurbraak waarop altyd in sulke sake gehoop word . . .

Die motorwasplek kon die registrasienommer van die motor verskaf waarvoor die kwitansie uitgereik is. Dis Stoop se broer se luikrug-tweedeurmotor. Trouens, met hul besoek aan die broer vind hulle duidelike tekens van bloed agterin die bak van die motor.

Daarna het die verdagtes die skuld op mekaar gepak, soos dikwels die geval is, en dit het die ondersoek aansienlik vergemaklik.

Die moord het tot in die buiteland opslae gemaak. Dit was “wit” moord op “swart” en die buitelandse pers, sê Charles, was altyd op hul nekke om in sulke gevalle inligting te kry.

Maar Nick van der Merwe het teenoor my opgemerk: “Ons het nie by Moord-en-roof ’n onderskeid tussen moordenaars van verskillende rasse gemaak nie. Moordenaars bly moordenaars. Almal by die tak het wel na die verdagtes as ‘white trash’ verwys, want dis wat hulle was.”

Stoop het die doodstraf gekry en sy twee meelopers swaar gevangenisstraf.

“Goeie werk, manne!”

Teen die einde van 1986 laat weet Wachthuis in Pretoria dat die Wes-Randse Moord-en-rooftak beloon gaan word vir die uitmuntende werk van Charles en sy manne om soveel moordsake in daardie jaar op te los.

Hulle weet nie wat om te verwag nie en AO Fires van Vuuren word Pretoria toe gestuur om die beloning in ontvangs te neem. Dit was ’n tjek sodat die manne ’n braai kon hou . . .