16 Onopgelos |
In die vroeë 1970’s sou die wrede moord op die weduwee Cornelia Johnson nie net vir Charles hoofbrekens besorg nie, maar ook tot ernstige gerugte lei. Dit was een van slegs ’n handjievol sake wat Charles en sy span nooit kon oplos nie.
Johnson was ’n veteraan van die vrouekorps wat in die Tweede Wêreldoorlog diens gedoen het. Teen 1971 het sy in haar aftreehuisie op Magaliesburg gewoon waar sy haar meestal met haar groente- en blomtuin besig gehou het. Sy het haar sedert haar man se dood maar eenkant gehou en het selde familie of vriende ontvang.
Nadat sy die tannie dae laas in haar tuin gesien het, het die 15-jarige buurdogter onrustig begin raak en ondersoek gaan instel of Johnson nie dalk siek is nie. By die voordeur het ’n vreeslike reuk haar laat terugsteier. Die polisie is ontbied. By hul aankoms het hulle die voordeur oopgebreek en in die slaapkamer op die halfontbinde lyk van die 73-jarige Cornelia Johnson afgekom waar sy op haar bed gelê het.
Die serp waarmee sy verwurg is, was nog styf om haar nek gedraai. Langs haar lyk het haar bril en ’n oop boek gelê. Die radio op die bedkassie was nog aan, maar die batterye was reeds pap sodat dit nie meer gespeel het nie. Enkele items soos ’n ou rewolwer wat Johnson onder haar matras gehou het en kleinerige artikels waaronder ’n beursie, draagbare radio en ’n paar skoene is uit die huis vermis, wat die vermoede laat ontstaan het dat roof die motief vir die moord was.
Charles en Miekie de Swardt is gevra om die saak te ondersoek. Daar is egter min leidrade op die toneel agtergelaat wat hul ondersoek bemoeilik het en ’n verdagte is nooit in hegtenis geneem nie.
Maande later is die ontbinde lyk van ’n swart man in ’n afgeleë kloof in die Magaliesberge gevind deur kommandolede wat met militêre oefeninge besig was. ’n Geruime tyd lank was daar hardnekkige gerugte in die polisiewandelgange dat dit die verdagte in die Johnson-moord was wat deur Charles en De Swardt gevang en tereggestel is om die rompslomp van ’n verhoor te vermy. Toe ek Charles daaroor uitvra, het hy dié beweringe ontken. Volgens Charles is die moordenaar nooit gevang nie.
Sue Barry en die ninja
Daar is soveel kinkels en vreemde draaie rondom die moord op Sue Barry dat dit net sowel ’n verbeeldingryke stuk fiksie uit ’n misdaadverhaal kon gewees het. Omstandigheidsgetuienis het daarop gedui dat dit ’n huurmoord was, maar toe pleeg die hoofverdagte in haar moontlike huurmoord – ’n man wat hom daarop geroem het dat hy ’n ninja is – selfmoord.
Die selfmoordtoneel was die vreemdste waarop Charles en sy kollegas nóg afgekom het. Ook die verband tussen die twee oorledenes bly ’n raaisel aangesien hulle oënskynlik niks met mekaar te doen gehad het nie. Daar sou lank oor dié bisarre gebeure gegis word.
Die aanvallige 41-jarige Sue Barry was ’n sprankelende en gewilde persoonlikheid en ’n bekende in Johannesburgse sosiale kringe in die jare tagtig. Het die sosiale vlinder toe depressief geraak?
Sommige het beweer sy het uitgevind sy ly aan ’n ongeneeslike siekte. Ander meen die dubbele lewe wat sy gelei het, het iets daarmee te doen gehad. Aan ’n vriendin het sy gesê dat sy na haar oorlede pa wil gaan.
Kort voordat sy vermoor is, het sy ’n groot bedrag geld uit haar bankrekening onttrek. Daar kon nie vasgestel word wat van die geld geword het nie.
Vroeg die oggend van 26 Februarie 1985 is haar lyk in haar ligblou Toyota Corolla op die Lanseria-Broederstroom-pad by Muldersdrift gevind. ’n Vrou het verby die motor gery en onraad vermoed. Sy het teruggedraai en ’n vrou bewegingloos in die passasiersitplek gesien sit met haar kop wat vooroor hang. Sue Barry was in ’n elegante donker aandrok geklee.
Daar was ook drie koeëlgate aan die linkerkant van haar bors. Aanvanklik het dit ook gelyk of sy met ’n mes gesteek is. Die lykskouingsverslag het getoon dat die moordenaar waarskynlik meer professioneel was: Hy/sy wou die .22-koeëls met ’n skerp instrument uit die wonde verwyder sodat dit soos messteke moes lyk. Dis waarskynlik gedoen om te voorkom dat die koeëls ballisties getoets word. Die motor was nie gesluit nie en die motorsleutels was steeds in die aansitter. Haar handsak het ook daar gelê met al haar persoonlike besonderhede en haar woonstelsleutels daarin. Alles is nagegaan, maar geen onmiddellike leidrade is gevind nie. Alle vingerafdrukke is afgevee.
Die dag nadat haar lyk gevind is, het Charles, AO Fires van Vuuren en AO Nick van der Merwe haar woonstel in Parktown in Johannesburg vir leidrade deurgesoek. Dit was ’n pynlik netjiese en goed toegeruste woonplek. Elkeen het vanuit ’n hoek na mekaar toe gewerk en hulle het letterlik elke sentimeter van die woonstel gefynkam.
Hulle kom op net drie stukkies inligting af wat vir die ongeoefende oog miskien betekenisloos sou wees. Hulle volg elkeen nougeset op:
Een: Hulle vind ’n adres van ’n welgestelde ouerige Joodse sakeman. Dit kom aan die lig dat Sue ’n skelm verhouding met hom gehad het. Ná die ou sakeman se pleidooie het Fires ingestem om hom vroegtydig in kennis te stel indien sy betrokkenheid rugbaar sou word sodat hy sy verleentheid self aan sy familielede kon verduidelik. Dit was nooit nodig nie. Nadat hulle hom behoorlik ondervra het, was hulle tevrede dat hy nie ’n verdagte is nie.
Twee: ’n Tweede stukkie inligting sou veel opspraakwekkender gewees het indien dit by die media uitgekom het. Die speurders het in ’n bedkassie se laai in die vermoorde se slaapkamer ’n foto van ’n bekende kabinetsminister gevind. Dit het gelyk of hy op die kant van die bed in die einste slaapkamer gesit het toe die foto geneem is. Daar was daardie tyd allerlei onbevestigde gerugte van dié minister se kaperjolle.
Fires wou met alle mag en mening ’n afspraak met die minister maak, maar die afdelingspeuroffisier, kol. Colin Steyn, het waarskynlik wyslik daarteen besluit totdat getuienis gevind kon word wat op die moord van toepassing was. Die minister se moontlike gefuif sou nie die moord oplos nie en net vir sensasionele nuus sorg.
Drie: Die derde stukkie inligting het na die onbelangrikste gelyk, maar sou uiteindelik deurslaggewend wees. Dit was ’n koerantadvertensie vir sogenoemde ninja-dienste op Broederstroom. In die advertensie was net ’n posadres.
Laat die aand het die speurders die posmeester op Broederstroom gaan opklop. Hy het op dieselfde perseel gebly waarop die poskantoor was. Hy het sy rekords nagegaan en vir hulle ’n fisieke adres gegee – ’n plaas by Broederstroom – en die naam Brian Cross.
Die speurders het besluit om ’n besoek aan Cross te bring.
Toe hulle die plaaswerf die volgende dag binnery, word hulle getref deur twee spookagtige huise. Al die speurders praat steeds oor hoe grillerig die hele plek was. Dit het gelyk of vreemde rituele daar beoefen word.
“Dit het behoorlik gevoel of die duiwel met sy dierehorings, sy slepende driehoekstert, op sy gesplete hoewe met die vurk daar rondloop – en ek is nie bygelowig nie,” sê Charles.
Toe hulle hulself aan Cross voorstel, het hulle dadelik gedink hulle het hul man. Die 49-jarige Brian Cross was uiters senuweeagtig en verdag, maar hulle kon hom nie sover kry om enigiets te erken nie. Daar was ook nie genoegsame getuienis wat hom met Sue Barry se dood verbind het om hom in hegtenis te neem nie.
Maar voor hul vertrek het hulle hom gewaarsku dat hy hulle weer sal sien.
Dit sou egter nie gebeur nie, want terwyl Charles en die ander speurders die volgende dag besig is met die ondervraging van die Haynes-bende, ontvang hulle ’n oproep dat Brian Cross selfmoord gepleeg het.18 Hulle het hulle dadelik na die spookagtige plaas gehaas.
’n Makabere toneel het hulle begroet.
Cross het homself met ’n rewolwer in die kop geskiet. Hy het op ’n vreemde mat van nylon in die sitkamer gelê. Rondom sy lyk was brandende kerse netjies in ’n sirkel gepak. Daar was ook ’n ring van uitgebrande buskruit om hom gestrooi. Op die lessenaar langs sy lyk was uitgebrande papiere . . .
Die speurders bly tot vandag toe oortuig dat Sue Barry vir Brian Cross gehuur het om haar te vermoor. Maar met sy selfmoord het hy gesorg dat die geheim van sy betrokkenheid by Barry se moord saam met hom graf toe gaan.
Moord onder die stort
Die goudmynbedryf het in die begin van die 1980’s nog gefloreer en groot gemeenskappe aan die Wes-Rand en ook suidwaarts vanaf Carletonville tot by Klerksdorp en Orkney onderhou. Baie sakeondernemings op die myndorpe het in daardie tyd grootliks staatgemaak op die koopkrag van die trekarbeiders wat in die myne gewerk het.
Duisende swart mynwerkers is in die mynkampongs gehuisves en hulle het aan verskillende stamme behoort. Dié faksies het soms gewelddadig teenoor mekaar opgetree.
In die laat sewentiger- en vroeë tagtigerjare het ’n reeks moorde in die kampongs van veral die Durban Roodepoort Deep-myn plaasgevind en Charles het aan die hoof van die ondersoekspanne gestaan het. In al die gevalle was die moordenaar(s) se optrede dieselfde: Terwyl die slagoffer gestort het, is hy met ’n skerpgemaakte fietsspeek – met ’n enkele steek in die hart – doodgemaak.
Mynspeurders en die indoenas is by die groot gemeenskaplike badkamers op die uitkyk geplaas vir mynwerkers wat speke wou insmokkel. Later is dié moordwapen vervang deur skerpgemaakte naelvyltjies, wat makliker versteek kon word. As moordwapen was dit vinnig en doeltreffend. Die hart is verbasend naby aan die borskas en dit verg nie ’n diep steek om dié orgaan noodlottig te penetreer nie. Teen die tyd dat die moord ontdek is, was die skuldige(s) reeds spoorloos.
Ondanks hul beste pogings kon Charles en sy span nooit die moordenaar(s) vind nie. Hy moes dit later weens werksdruk aan ’n ander ondersoekspan oorhandig. Al het hy in sy loopbaan honderde lyke gesien, het die lyke wat Charles herhaaldelik in die mynstorte in ’n plas bloed gesien lê het egter in sy geheue bly vassteek.
Later jare het hy geweier om te stort as daar niemand anders in die huis is nie en dan sluit hy boonop al sy huis se deure. Die stort se deur moet ook oopstaan en sy vrou moet in die nabyheid wees. Dan hoef hy ook net ’n sweempie van die sterk reuk van Lifebuoy-seep (wat aan die myners verskaf is) te kry om terugflitse van die moordtonele te kry.