17 Die land brand weer |
Oor die onluste van die middel 1980’s het Charles talle skokkende verhale om te vertel. Hierdie keer was swart mense se opstand teen wit onderdrukking omvangryker en beter georganiseerd, en die sterftes dikwels wreder as in 1976. Nie net het faksiegeweld tussen verskillende groepe ’n rol begin speel nie, maar die gruwel van halssnoermoorde het begin.
Enigeen wat – ten regte of onregte – daarvan verdink is dat hulle ’n beriggewer vir die polisie of regering was, of dat hulle die struggle op enige manier benadeel het, het die risiko geloop om die slagoffer van ’n halssnoermoord te word. ’n Motorband wat in petrol of ander brandstof geweek is, is oor die kop van die persoon gesit en aan die brand gesteek. Dit het die ongelukkige slagoffer tot 20 minute geneem om te sterf.19
In daardie tyd het die druk op gewone polisiemanne ook genadeloos toegeneem omdat die Nasionale Party-regering hardnekkig volgehou het dat die aanslag op die land se veiligheid as gewone misdaad beskou moes word. Polisiemanne moes dus op drie fronte diens doen: die werk van soldate verrig op die grens wanneer hulle daarheen gestuur is, stedelike onluste beveg en misdaad bekamp.
Dit het nie net ’n geweldige stremming op die polisie se mannekrag geplaas nie, maar ook op individuele polisielede. Teen middel 1986 is die regering uiteindelik gedwing om ’n noodtoestand uit te roep en die weermag in die townships te ontplooi.
Wat baie onthutsend is, is die amper terloopse manier waarop Charles daardie tyd onthou, soos die keer toe hy en sy makkers in die verbygaan ’n halssnoermoord aanskou het. Dis ’n seker aanduiding van sy afgestomptheid in daardie stadium.
“Vanuit ons bewegende voertuig kon ek sien dat die boonste deel van die slagoffer se lyk halfuitgebrand was. Die slagoffer was seker reeds ’n ruk dood, maar die band om sy nek en skouers het steeds gesmeul. Dit het soos ’n man gelyk. Ons het nie stilgehou nie, want daar was reeds ander polisiemanne op die toneel. Ons kon in elk geval niks doen nie en ons het aangery. Ons het almal al erger gesien.”
Tussen September 1984 en Maart 1993 het 505 mense na raming op dié manier gesterf.
‘Manne, maak gou!’
Dis ’n toneel wat enige polisieman sal laat sidder – wanneer kollegas wreed deur ’n massa vermoor word.
Op 21 Januarie 1986 het polisielede op oproeriges geskiet om by die verminkte lyke van hul kollegas, die 27-jarige konst. Frederick Koekemoer en die 25-jarige sers. Daniel Pretorius van die Krugersdorpse Onluste-eenheid, uit te kom. Hul lyke het in die veld naby die Cooke 2-kampong van die Randfontein Estates-goudmyn gelê waar hulle deur oproerige swart mynwerkers vermoor is.
Die lykskouings het later getoon die polisiemanne se noodlottige wonde is deur pangas, messe, knopkieries en ’n skroewedraaier toegedien. Koekemoer is oor ’n ruwe oppervlak gesleep en hy het heelwat bloed verloor voordat hy beswyk het. Die wonde aan al twee polisiemanne se arms het daarop gedui dat hulle hulself probeer verdedig het.
Pretorius se lyk het half onder die polisievoertuig gelê, waar hy waarskynlik skuiling probeer soek het. Ook hy het baie bloed verloor voordat hy gesterf het. Daar is probeer om hul liggame aan die brand te steek en hulle is met klippe bestook, sommige so groot soos rugbyballe.
Kort tevore is die polisie na die myn ontbied toe ’n groep mynwerkers op ’n oop stuk veld begin saamtrek het. Hulle was ongelukkig oor hul verblyfomstandighede. Die groep het hoofsaaklik uit Xhosas bestaan wat ontevrede was omdat hulle in dieselfde kampong as lede van ander bevolkingsgroepe moes woon. Hulle het ook beswaar gemaak teen die myn se veiligheidstelsel. Sulke byeenkomste is weens die onluste verbied en was dus onwettig.
Daar was reeds sowat vyfhonderd mynwerkers bymekaar toe Koekemoer en Pretorius alleen op die toneel opgedaag het. Pretorius het uit die polisievoertuig geklim en die skare met ’n megafoon versoek om uiteen te gaan. Hy het sowat vyf minute gewag, maar daar was geen reaksie nie. Hy het die groep weer versoek om uiteen te gaan.
Die skare was baie vyandig en het hom uitgejou. Die twee polisiemanne het daarop traanrook in die rigting van die oproeriges gevuur. Intussen het die mynpolisie aan die oorkant van die oop veld die gebeure dopgehou, maar buite die gevaarsone gebly.
Heel bo en bo: Die vermoorde konst. Frederick Koekemoer en sers. Daniel Pretorius se beskadigde polisievoertuig. Die bloedbesmeerde kajuit van hul voertuig.
Vroeër die dag het sangomas kepies in die voorkoppe en lywe van die mynwerkers gesny waarin moetie gesmeer is – wat veronderstel was om hulle immuun te maak teen koeëls. Later, tydens die geregtelike ondersoek na die gebeure, het een van die oproeriges in die Westonaria-landdroshof getuig dat die moetie koeëls in water sou verander en hulle dus nie “kon seermaak nie”.
Die oproeriges het stadig begin nader beweeg. Klippe is na die polisiemanne en hul voertuig geslinger. Die mynpolisiemanne kon sien dat twee groepe oproeriges die polisiemanne uit verskillende rigtings benader. Hulle het skote hoor klap. Op omtrent dieselfde oomblik het die twee groepe die polisiemanne bestorm.
Die twee polisiemanne het geen kans gehad nie. Pretorius is met ’n knopkierie platgeslaan. Terwyl hy op die grond gelê het, het hordes hom met messe, pangas en ander voorwerpe toegetakel. Intussen het die mynpolisie die oproeriges vergeefs met rubberkoeëls probeer verjaag, maar steeds buite die gevaargebied gebly.
Koekemoer het in die voertuig gespring, maar weer uitgeklim toe ’n brandende fakkel onder die voertuig ingegooi is. Hy het die fakkel verwyder en wou terugklim in die voertuig, maar is teruggeruk en ook met knopkieries, messe en pangas aangeval.
Polisieversterkings is reeds ontbied, maar het eers twintig minute later opgedaag. Vir Koekemoer en Pretorius was dit twintig minute te laat.
In die kantien op Westonaria was polisiemanne besig met ’n veerpyltjiespel. ’n Tweerigtingradio was aan. Almal het stil geword toe hulle die vergeefse en laaste hulpkrete van hul twee Onluste-kollegas hoor: “Manne, maak gou! Ons word vermoor!”
Polisieversterkings het begin opdaag. Die oproeriges het op hulle geskiet. In die skietgeveg is agt van die oproeriges doodgeskiet en meer as dertig gewond voordat die groep uitmekaargespat het.
Die leier van die groep, Temba Ngwaze, is gou geïdentifiseer en nog dieselfde aand in hegtenis geneem. Hy is ook as een van die sangomas uitgewys wat die oproeriges voor die voorval immuun teen gevaar moes maak. Gemoedere het hoog geloop onder die polisiemanne en daar is om wraak geroep.
Intussen het al die hoë offisiere van die streek die aand by die polisiekantoor op Krugersdorp bymekaargekom en beheer oor die situasie geneem. Daar is besluit dat die opvolgwerk onder Charles se direkte leiding sou plaasvind. Hy moes ook vir Ngwaze saamneem om uitwysings te maak, aangesien die oproeriges die vermoorde polisiemanne se twee haelgewere, twee 9 mm-dienspistole en twee seinpistole gebuit het. Ngwaze het onderneem om te gaan wys waar die wapens in die swart woonbuurt Bekkersdal weggesteek is.
Charles sou bygestaan word deur nog vier Moord-en-roofspeurders. Sy regterhand in daardie stadium, sers. Piet Wessels, het ’n reputasie opgebou dat hy nie vir die duiwel sal stuit nie. Wessels was ’n lid van die polisie se Spesiale Eenheid voordat hy na die Wes-Randse Moord-en-rooftak oorgeplaas is. Hy is kort tevore onskuldig bevind in ’n aanrandingsaak nadat hy die nasionale bokskampioen Aladin “Mean Machine” Stevens met een hou in ’n onderonsie in die aanklagkantoor van die Randfonteinse polisiekantoor platgeslaan het.20
In die lig van die gelaaide atmosfeer in polisiegeledere het ’n kolonel beswaar gemaak omdat die uitwysings onder Charles se bevel sou plaasvind. Die kolonel was van mening dat die gebeure reeds internasionale dekking geniet het en dat die reputasie van Charles en sommige van sy manne genoeg bewys was dat hulle nie ontsag sou hê vir die sensitiwiteit van die saak nie. Enkele ander offisiere het sy mening gedeel, maar daar is nogtans besluit dat Charles en sy groep speurders Ngwaze nog dieselfde nag vir uitwysings na Bekkersdal sou neem.
Hy en nog vier polisiemanne – AO Fires van Vuuren, AO Nick van der Merwe en serse. Piet Wessels en Mossie Mostert – het dieselfde aand met ’n geboeide Ngwaze in twee ongemerkte voertuie na Bekkersdal vertrek. Dit was gou duidelik dat Ngwaze nie werklik van plan was om enige uitwysings te maak nie. Nadat hulle verskeie plekke sonder sukses aangedoen het, het Ngwaze weer ’n huis uitgewys waar hy hulle verseker het een van die vermoorde polisiemanne se vuurwapens versteek is.
Die omgewing was swak verlig en Van Vuuren, Van der Merwe en Mostert het aan die agterkant van die huis stelling ingeneem. Charles en Piet Wessels het na die voordeur van die huis gestap met Ngwaze voor hulle. Ngwaze het skielik omgedraai en Charles hard gestamp sodat hy sy balans verloor en oor ’n asblik geval het. In die proses het Wessels ook oor ’n lae heining geval.
Volgens Charles en Wessels se getuienis in die geregtelike ondersoek daarna het Ngwaze vinnig in die rigting van ’n naburige huis probeer hardloop, waarop al twee polisiemanne vir hom geskree het om stil te staan. Hy het egter hul bevel verontagsaam en oor die draadheining tussen die twee huise gespring.
Charles het sy Parabellum op hom gerig en die sneller getrek, maar geen skoot het afgegaan nie. Dit was die eerste keer in sy loopbaan dat sy versorgde pistool geweier het. Wessels het twee skote met sy haelgeweer op Ngwaze gevuur en hom noodlottig in die rug getref.
Daar is dadelik vermoed dat Ngwaze op Charles se instruksie doodgeskiet is. Charles is later deur goedgesinde offisiere meegedeel dat die kolonel wat beswaar gemaak het teen sy bevel oor Ngwaze se dood geblaf het: “Ek het julle mos gesê!”
Charles ontken egter enige bewerings van wederregtelike optrede deur hom en Wessels: “Enige ander inligting wat Ngwaze nog kon verskaf, was van wesenlike belang vir die verdere ondersoek van die saak. Boonop was alle aandag op my en my manne nadat ek die opdrag ontvang het. Dit was allermins in belang van die ondersoek dat dinge so uitgedraai het.”
Die meeste offisiere het weggeskram van die taak om die skiettoneel te gaan ondersoek om die verpligte opmetings en waarnemings te doen. Maj. (later kol.) Blackie Swart van die Krugersdorpse speurders het toe aangebied om dit te doen. Die gebrek aan ondersteuning deur sekere offisiere het ’n wrang smaak by Charles en sy groep gelaat. ’n Formele geregtelike nadoodse ondersoek is in die Westonaria-landdroshof gehou waarin Charles en Wessels aan langdurige kruisverhoor deur senior advokate onderwerp is.
Die landdros het die saak na die prokureur-generaal verwys, wat bevind het dat daar nie genoegsame gronde vir ’n vervolging van Wessels en Charles was nie. Die manier waarop die saak verloop het, het egter groot verontwaardiging onder talle polisiemanne uitgelok. Vir hulle, asook vir Charles en Wessels, het dit gevoel of hulle, en nie die ware moordenaars nie, in die beskuldigdebank staan. En hoewel Charles en Wessels nie vervolg is nie, wou die gerugte van ’n teregstelling nie sommer wyk nie.
Vir Wessels se familie het die spanning en druk van die geregtelike doodsondersoek net te veel geword. Hulle het hom oorreed dat ’n loopbaan in die polisie nie die moeite werd is nie en hy het summier sy ontslag geneem en in die proses al sy mediese voordele en pensioen verbeur.
Moordspoor in Alexandra
Kort voor middernag op 11 Maart 1986 het ’n groot groep speurders van die Wes-Randse Moord-en-rooftak onder bevel van kol. Ben Kruger by die Honeydew-polisiekantoor byeengekom. Die doel was om saam met AO Nick Jacobs, bevelvoerder van die Honeydew-speurtak, na die swart woonbuurt Alexandra in die noordooste van Johannesburg te gaan om twee verdagte moordenaars vas te trek.
’n Week vantevore het die moordenaars die bejaarde Arthur Barlow voor sy vrou doodgeskiet terwyl hulle televisie gekyk het in hul huis op Honeydew. ’n Straatkind het aan ’n swart speurder vertel hoe die twee verdagtes in Alexandra oor die moord gespog het.
In die begin van 1986 was Alexandra ’n gevaarlike plek en ’n polisieman kon nie sonder voldoende ondersteuning in die township ingaan nie. In Februarie van daardie jaar is sowat veertig mense daar op ’n gewelddadige wyse vermoor, onder meer op die halssnoermetode.
Die taakspan wat na Alexandra vertrek het, het bestaan uit kol. Ben Kruger, Charles, AO Fires van Vuuren, AO Nick van der Merwe, sers. Mossie Mostert en ook lede van die Honeydew-speurtak, onder wie AO Nick Jacobs en die speurder Simon Mnomiya.
Die jong beriggewer het aanvanklik in die donker verdwaal. Die speurders het by hul voertuie gewag terwyl Van Vuuren, Mnomiya en die seuntjie die regte perseel probeer vind het. Hulle het ná ’n geruime tyd teruggekeer en gesê waarheen almal moet beweeg. Hulle het by ’n kerkie uitgekom wat op ’n vierkantige binnehof uitkyk. Aan weerskante van die binnehof was die tipiese steenhuise van die township.
Soos die gebruik was, het die speurders as voorsorgmaatreël nie saamgebondel nie, maar mekaar in ’n ry gevolg. Van Vuuren, Mnomiya en die seuntjie het voor geloop met Charles en die ander agterna. Van der Merwe en nog een het agtergebly om die voertuie op te pas en wag te hou.
’n Rekonstruksie van die toneel in Alexandra waar ’n swart polisieman per ongeluk tydens ’n operasie doodgeskiet en nog een ernstig gewond is.
Daar was ’n wit Cortina-stasiewa in die halfdonkerte aan die kant van die vierkant geparkeer waarby hulle moes verbybeweeg. Mnomiya het met sy flits in die voertuig geskyn. Skielik is ’n skoot deur die voorruit van die Cortina geskiet. Charles het net gehoor hoe Van Vuuren skree: “O, God, ek is geskiet!”
’n Tweede skoot is toe onmiddellik afgevuur, ook deur die voorruit. Dit het Charles rakelings gemis. Splinters van die ruit het klein snymerkies aan sy gesig gemaak en bloed het in sy een oog beland. Hy was ’n oomblik gedisoriënteer.
Iemand het geskree dat die man op die agterste sitplek ’n AK het. Die naaste polisiemanne het onmiddellik gereageer en hul magasyne op die motor leeggemaak. ’n Swart man het aan die voorste passasierskant van die voertuig uitgespring en met ’n koeël deur al twee sy bene neergeval. Die speurders het met nog ’n hewige sarsie op die man op die agterste sitplek losgebrand.
Hierdie keer het Charles nie geskiet nie. Met die bloed in sy oog en die speurders aan die agterkant van die voertuig – hy was voor die voertuig – het hy gevaar gestaan om hulle raak te skiet. Toe hy die bloed uit sy oog vee en behoorlik tot verhaal kom, was die skietery verby.
Tóé eers het die groep agtergekom watter fiasko dit was.
Agterin die voertuig het ’n swart polisieman met ’n R1 en veertien skote deur sy lyk gelê. Die gewonde man (wat sou bly leef) was ’n munisipale polisieman. Hulle is daar geplaas om wag te hou oor ’n raadslid se huis, wat ook op die vierkant uitgekyk het. In daardie tyd is swart munisipale raadslede geteiken deur diegene wat aan die struggle deelgeneem het omdat hulle beskou is as kollaborateurs van die regering. Die twee polisiemanne was veronderstel om in ’n waghokkie in die vierkant wag te staan terwyl hulle die gebied om die beurt patrolleer. Hulle het daardie aand besluit om in die voertuig te gaan slaap.
Almal was geskok en verslae.
Charles het egter nie ’n oomblik verspil om sy vriend te hulp te snel nie. Van Vuuren is deur die linkerskouer geskiet en het erg gebloei. Charles het dadelik met hom na die Garden City-kliniek in Brixton gejaag. Later moes hy ook verduidelik waarom hy na ’n hospitaal is wat so ver was, terwyl hy op pad daarheen verby verskeie ander hospitale gery het. Charles wou egter nie ’n herhaling hê van die gebeure toe sy kollega Cobus Jacobs ná die Taute-skietery in 1983 langs hom in die Benoni-Boksburg-hospitaal beswyk het nie.
Charles het ook die distriksgeneesheer van Roodepoort, dr. Niel Grobler, gevra om hospitaal toe te kom. Dr. Grobler het reeds jare lank ’n legendariese aanhang onder polisiemanne en hul gesinne gehad en is as ’n soort wonderwerker beskou.
Van Vuuren het mettertyd van sy wond herstel.
Onmin in polisiegeledere
Die skietery het tot op ’n hoë vlak opslae gemaak en daar was oor-en-weer-beskuldigings tussen verskillende polisieafdelings. Polisieoffisiere van die streek wou weet waarom hulle nie vooraf oor die operasie in kennis gestel is nie. Moord-en-roof se antwoord was dat dit weens die intensiteit van hul werk onmoontlik was om enigsins vooraf kennis te gee en dat hulle hulle nie deur sulke rompslomp aan bande kan laat lê nie. Dit was ook nie die gebruik nie.
Toe gerugte begin rondgaan dat van die speurders van die Wes-Randse Moord-en-rooftak daardie aand onder die invloed van alkohol was, het die gemoedere éérs hooggeloop. Dit het verder aan die lig gekom dat die klein beriggewer hieroor uitgevra is en dat hy die roete moes uitwys wat die Moord-en-rooflede daardie aand gevolg het – konstabels is aangesê om bierblikke en bottels op die roete op te tel sodat dit vir vingerafdrukke getoets kon word.
Al die speurders behalwe die gewonde Van Vuuren is reeds vroeg die volgende oggend by die Alexandra-polisiekantoor ondervra waarna hulle ook punte op die toneel moes gaan uitwys. In die ondervraging het harde woorde geval. Sommige ondervraers het gemeen die Moord-en-rooflede was onnodig hardekwas. Daar is selfs gedreig dat al die Moord-en-roofspeurders in hegtenis geneem en opgesluit sou word. Hierdie dreigement is glad nie goed ontvang nie. ’n Woedende kol. Ben Kruger het geantwoord dat dit net oor sy en sy manne se dooie liggame sal gebeur.
Die amper katastrofiese konfrontasie is eers ontlont toe ’n hoë offisier in Wachthuis besluit het dat dit beter sou wees om die speurders te laat gaan, maar hy het wel gesê daar moet op almal se vuurwapens beslag gelê word.
Só is bykans die hele tak se lede ontwapen.
Die konvooi motors van Moord-en-roof was die oggend op pad terug na hul kantore op Krugersdorp toe hulle ’n versoek van die polisie se radiobeheer op Luipaardsvlei ontvang om dringend na ’n toneel van ’n gewapende rooftog by die Hyperama in Constantiakloof te gaan.
Volgens Charles het Kruger botweg geweier: “Moord-en-roof Wes-Rand is so pas deur hul eie mense ontwapen. Geen lid van die eenheid sal onder die omstandighede die misdaadtoneel besoek nie. En notuleer hierdie boodskap woordeliks!”
Die ballistiese toetse op die groep se vuurwapens is vinnig afgehandel en dis aan die speurders terugbesorg. ’n Geregtelike doodsondersoek na die swart polisieman se dood is in die Randburgse landdroshof gehou, wat uitgerekte getuienis en kruisverhore ingesluit het. Die landdros se uiteindelike bevinding was dat niemand strafregtelik daarvoor verantwoordelik gehou kon word nie.
Dit het egter lank ’n wrang smaak gelaat in verskillende afdelings van die polisie.