19

Nogmaals die “hangpaal”

 
 

 

Die doodstraf was nog altyd omstrede. Al die speurders met wie ek deur die jare te doene gehad het, was onvoorwaardelike voorstanders van hierdie uiterste vorm van vergelding. Wanneer hulle gevoel het ’n bepaalde misdryf regverdig dit, het hulle as ’t ware met die doodstraf voor oë gewerk.

Wanneer ’n regter die doodstraf opgelê het, is dit ook as ’n oorwinning vir die ondersoekspan beskou. Die ondersoekbeampte is op die skouer geklop en daardie middag is die oorwinning van die “hangpaal-vonnis” (soos hulle dit genoem het) gewoonlik met ’n bosbraai of die aand in die polisiekantien gevier. En die ondersoekbeampte moes vir die drankies betaal . . .

Tog sê Charles dit was vir hom altyd “aardig” om die regter die doodstraf te hoor uitspreek. “Daar was ’n vreemde soort stilte by die aanwesiges in die hof. Ek sal nooit daardie woorde ‘jy sal hang aan jou nek tot jy dood is’ vergeet nie.”

In die ou bedeling kon die doodstraf opgelê word vir moord, hoogverraad, sabotasie, menseroof, kinderdiefstal, verkragting en roof (met inbegrip van poging tot roof) indien daar verswarende omstandighede was, en selfs vir huisbraak met die doel om ’n misdryf te pleeg of ’n poging daartoe indien daar verswarende omstandighede was. Charles het talle moorde ondersoek waarvoor moordenaars galg toe gestuur is en was ook oorhoofs in beheer van verskeie sulke sake.

Vergete plaasmoorde

Daar was ’n duidelike gesnak na asems en onderdrukte snikke van familielede in die openbare galery. Die ondersoekbeampte, sers. Chris “Mossie” Mostert, het ’n groot klip van sowat 24 kg tydens die moordverhoor in die Witwatersrandse hooggeregshof by die hofsaal ingedra en voor ’n getuie op die getuiebank se reling geplaas.

Die rots was die moordwapen waarmee die 68-jarige Marie-Therese van der Borght se kop verbrysel is. As die staatsadvokaat die grusaamheid van die moord op ’n dramatiese wyse wou tuisbring, het hy daarin geslaag.

’n Padwerker het die vrou se naakte lyk op 17 Julie 1987 in ’n sloot langs ’n grondpad tussen Maanhaarrand en Hekpoort noordwes van Krugersdorp aangetref met die rots nog half bo-op haar verbryselde kop. Dit was ’n hele ent van haar plaas, Doornspruit, in die Magaliesburg-distrik waar sy alleen gewoon het. Die marteling wat die bejaarde vrou moes verduur voordat haar aanvallers haar uiteindelik doodgemaak het, moes verskriklik gewees het.

Daar was drie aanvallers.

Eers het hulle haar onder valse voorwendsels uit die plaasopstal gelok deur voor te gee dat ’n deel van die weiveld op die plaas aan die brand is. Sy het uitgegaan. Een van die aanvallers, die 30-jarige John Ndlovu, het immers by haar gewerk en sy het hom na alle waarskynlikheid vertrou. Saam met hom was sy 39-jarige vriend Lazarus Mance en ’n 15-jarige seun.

Die oomblik toe sy uit die huis kom, het hulle haar oorval. Die volle detail van hoe sy gemartel is, het nooit aan die lig gekom nie. Dis wel bekend dat sy nakend deur die veld gesleep is.

Die speurders van Moord-en-roof was nog besig met hul voorlopige ondersoek toe die plaaswerf in ’n miernes van bedrywighede ontaard. ’n Kolonel in die uniform-afdeling het dit goedgedink om die berede polisie en ’n helikopter se hulp in te roep om met die soektog na die verdagtes te help.

Dis die laaste ding wat speurders wil hê, want dis ’n basiese beginsel dat ’n misdaadtoneel nie versteur mag word totdat die ondersoek afgehandel is nie. Die jong sers. Mostert was buite homself van woede.21 Charles het hierdie beginsel immers herhaaldelik by al die speurders ingedril. Die klomp mense en perde was besig om belangrike leidrade te vernietig, terwyl die wind wat die helikopter opgeskop het die sleepmerke vernietig het waar die oorledene deur die landerye gesleep is.

Mostert het sy lot by Charles, sedert 1981 tweede-in-bevel van die Wes-Randse Moord-en-rooftak, gaan bekla. Die toneel is toe ontruim.

Toe die speurders die plaaswerkers kort daarna bymekaarroep, het een van hulle doodluiters begin wegloop. Toe hy nader geroep word, het hy sy pas tot ’n drafstap versnel, en toe hy agternagesit word, het hy begin hardloop. Hy is deur ’n vinnige swart speurder ingehaal en op die grond vasgepen.

Dit was John Ndlovu.

Tydens ondervraging het hy alles erken en ook gesê dat hy nie alleen was nie. Ndlovu het Mostert ’n goeie beskrywing van Lazarus Mance gegee en ook gesê waar op Brits hy woon.

Op Brits het Mostert eers behoorlik navrae gedoen voordat hy saam met ander speurders na Mance se blyplek is om hom te arresteer. Voor die huis het ’n persoon wat soos Mance lyk in die wintersonnetjie gesit en na musiek geluister, ’n draagbare radio teen sy oor. Mostert onthou hoe hy nog sy bolyf luilekker op die maat van die musiek beweeg het en hom nie juis aan die speurders gesteur het nie. Mostert se moed het gesak, want hy het gedink hulle het dalk die verkeerde man beet, maar toe hy om die huis loop, staan die oorledene se bakkie daar.

John Ndlovu en Lazarus Mance is al twee ter dood veroordeel. Die jeugdige is vrygespreek.

Bejaardes wat op afgeleë plekke woon, is dikwels maklike teikens vir misdadigers. Die aanval op die 64-jarige William Gobey en sy vrou, die 62-jarige Susanna, op die plaas Hartbeesfontein by Hekpoort in 1987 was ewe opportunisties en sinloos.

Op 24 April het twee rowers deur die digte bosse op die plaas gesluip totdat hulle die rondawel in die oog gekry het. Hulle kruip om die hoek van die huis weg en wag dat die agterdeur oopgemaak word. In die huis is die Gobey-egpaar en hul tweejarige kleinkind, Cindy.

Een van die rowers, Oupa Ndlovu, het voorheen vir die egpaar gewerk en hy ken hul bewegings. Die week vantevore het hy by die rondawel ingebreek toe die Gobeys weg was en ’n brandkluis probeer verwyder. Dit was te swaar en hy het tou opgegooi. Nou was hy terug met ’n helper, Zacharia Tseleng, om hom te help om sy vuil werk te voltooi. Hierdie keer het Ndlovu ook ’n gesteelde vuurwapen saamgebring.

Toe Susanna die kombuisdeur oopmaak, het die twee haar onmiddellik bestorm. Sy het probeer terugvlug die huis in, maar Ndlovu het blindelings op haar en haar man begin skiet. Susanna is in die gesig getref en was waarskynlik dood toe sy op die kombuisvloer ineenstort. ’n Koeël het haar man in die ken getref, terwyl klein Cindy ongedeerd was.

Die rowers het toe op die vlug geslaan.

Plaaswerkers het Ndlovu en nog ’n man sien weghardloop. Die speurders moes Ndlovu soos bloedhonde volg soos hy van een plek na ’n ander padgegee het. Maar hy is een vroeë oggend deur Mostert, Charles en ander speurders in ’n plakkershut in die swart woonbuurt van Brits vasgetrek. Hy het Tseleng nog dieselfde dag in die woonbuurt aan die speurders gaan uitwys.

William Gobey het van sy wond herstel, maar die smart van sy vrou se verlies was te groot en hy het vinnig weggekwyn. Hy is kort ná die hofsaak oorlede.

Ndlovu en Tseleng het die doodstraf gekry.

’n Nag van marteling

Wat sal drie jong mans daartoe dryf om ’n onskuldige en onbekende jong man wat hulle vir die eerste keer in ’n kroeg ontmoet, ’n hele nag lank te martel en dan wreedaardig te vermoor?

Dit was vroeg op Vrydagaand 4 Januarie 1985 toe die 24-jarige John Ackermann in die dameskroeg van die Killarney-hotel in Florida in die verkeerde geselskap van die 22-jarige Gerhardus Mostert, die 24-jarige Ivan Neuwerth en die 24-jarige Peter Deuchar beland.

Ackermann het nie juis vriende gehad nie en was waarskynlik honger vir geselskap. Saam met Deuchar was sy 17-jarige vriendin, Jacqueline Munro. Sy is die enigste een in die groep wat Ackermann geken het – dalk het dit hom die vrymoedigheid gegee om by die groep aan te sluit.

Die maer en amper fyn geboude Ackermann word egter gou deur sy nuwe kennisse oordonder. Hulle is tipiese boelies, maar hy verduur skynbaar aanvanklik hul neerhalende gesindheid teenoor hom.

hoofstuk%2019_clipping.jpg

Later die aand neem die dominerende Mostert die motorsleutels van Ackermann se Datsun 140Y by hom af. Mostert besluit om in Ackermann se motor na Fontana, ’n bekende wegneem-eetplek in Hillbrow wat deurnag oop was, te ry. Hy sê almal aan om saam te gaan. Mostert bestuur die motor omdat hy beweer Ackermann is te dronk. Ackermann het ook nie ’n keuse as hy beveel word om vir die kos te betaal nie.

Hulle ry terug Florida toe waar hulle die Lake-hotel aandoen – Ackermann moet ook vir die drankies betaal. Daarna is hulle na Neuwerth se huis op die New Unified-hoewes by Maraisburg, net langs Florida. Toe die motor by die oprit by Neuwerth se huis inry, het die motorradio hard gespeel. Dit het mense se aandag getrek. Volgens ’n ooggetuie het Ackermann die ander gesmeek om hom te laat gaan, want hy wou huis toe omdat sy ma alleen was en ontsteld sou wees as hy te laat opdaag. Dieselfde ooggetuie kon vanuit haar slaapkamer hoor hoe Ackermann pleit: “Neem my geld, neem my motor, maar los my in hemelsnaam net uit.”

Hulle het nie na hom geluister nie. Hulle het hom uit sy motor gepluk, met die vuis geslaan en geskop.

In die hof is moeite gedoen om vas te stel wat hulle tot die aanranding aangespoor het, maar ’n logiese verklaring is nooit aangebied nie. Volgens Mostert en Neuwerth se getuienis was hulle onder die invloed van alkohol en dwelms. Hulle het beweer hulle het onder meer Mandrax en dagga gebruik.

Die regter het egter bevind dat hulle die heeltyd doelgerig opgetree het en presies geweet het wat hulle doen. Hulle het na verskillende plekke gery waartydens veral Mostert heeltyd beplan het wat om met Ackermann te doen. Hul verduidelikings dat Ackermann seksuele toenadering eers tot Jacqueline en daarna homoseksuele toenaderings tot die mans gemaak het, is tydens hul eie getuienis weerlê en die regter het dit verwerp. Wat ook al die rede vir hul optrede was, dit was asof die duiwel besit van hulle geneem het.

Jacqueline was ongelukkig oor die gebeure en op haar aandrang is sy en Deuchar te voet daar weg. Ackermann het probeer vlug, maar is voorgekeer, weer aangerand en in die bagasiebak van die voertuig ingedwing.

By ’n kitsbank in Florida het hulle Ackermann se PIN-kode uit hom gekry en drie keer kontant uit sy rekening getrek. Daarna het hulle, met Ackermann steeds in die bagasiebak, die 19-jarige Eddie van der Merwe in Florida gaan oplaai. Daar is Ackermann nogmaals uit die bagasiebak gehaal en aangerand. Hy het daarin geslaag om los te ruk en het weer probeer vlug, maar hulle het hom vasgegryp en weer in die bagasiebak geboender.

Daarna het hulle met een doel na Cecil Paynepark in Maraisburg gery – om hom dood te maak. Maar eers sou sy ontvoerders hom nog martel.

Hulle het die afgeleë paadjie na die skietbaan geneem. Nadat hulle hom die hoeveelste keer uit die bagasiebak van die voertuig gehaal het, het hy weer eens probeer wegkom. Hy het probeer om onder bosse daar naby in te kruip. Hy is met ’n mes toegetakel.

Sy aanvallers het toe skynbaar berserk geraak. In ’n stadium het hulle hom kaal uitgetrek. Sy geslagsorgane is vermink, sy pubiese hare is gebrand en sy penis is afgesny. Sy erg verminkte lyk het 43 steekwonde gehad en volgens die lykskouingsverslag het hy breinskade opgedoen as gevolg van stampe teen die kop. Sy lewer het ook gebars.

Die mans het ook Ackermann se Datsun vol duike geskop, maar hul pogings om dit aan die brand te steek het misluk.

In die vroeë oggendure word die Florida-polisiekantoor in kennis gestel van die verlate motor naby die skietbaan. AO Bez Bezuidenhout word na die toneel uitgeroep toe dit nog donker is. Bezuidenhout kry bloed op die agterste sitplek en in die bagasiebak. Hy laat ’n konstabel agter met die opdrag om die omgewing te fynkam, terwyl hy na die naaste huise gaan om vas te stel of hulle nie iets gehoor het nie. Hy kry inligting van ’n “bakleiery” wat vroeër die nag by Neuwerth se huis sou plaasgevind het. Die name van Mostert en Neuwerth word genoem. Bezuidenhout ken Mostert – hy is ’n bekende moeilikheidmaker in die omgewing.

Met AO Bezuidenhout se terugkeer na die motor vind hulle die naakte en verminkte lyk van Ackermann onder ’n bos met slegs sy sokkies en skoene aan. Bezuidenhout tree onmiddellik met die Wes-Randse Moord-en-rooftak in verbinding.

Terwyl AO Bezuidenhout vir die speurders van Moord-en-roof wag, merk hy met dagbreek ’n motor op wat by die wal van die Hambergdam, wat op die skietbaan uitkyk, geparkeer is. Dit lyk of die insittendes die bedrywighede rondom Ackermann se Datsun dophou. AO Bezuidenhout beweeg ongesiens na die motor en verras die insittendes. Hy vind ’n man en twee vroue besig om dagga te rook.

Die man is Mostert.

Charles-hulle het intussen ook op die toneel opgedaag. Mostert is dadelik gearresteer, terwyl die ander drie in die daaropvolgende week op verskeie plekke betrap word waar hulle probeer skuil. Charles het die saak aan sers. Piet Wessels as ondersoekbeampte oorhandig, maar hom deurentyd bygestaan. Ná Wessels se bedanking (ná die skietery in Bekkersdal) het Mossie Mostert die dossier oorgeneem.

Daar was uitroepe van skok en verontwaardiging onder hofgangers toe die aanklaer die grieselige foto-album van die oorledene se verminkte lyk aan die hof voorlê. Van Ackermann se familielede het die hofsaal in trane verlaat.

Dit was ’n uitgerekte verhoor met die beskuldigdes wat mekaar probeer inkrimineer, wat die staatsadvokaat se taak vergemaklik het. Die regter het Mostert se beweringe dat hy ’n bekentenis voor ’n landdros nie uit vrye wil gemaak het nie omdat die ondersoekbeampte, sers. Piet Wessels, hom in die kantore van die Wes-Randse Moord-en-rooftak sou aangerand het, verwerp.

Sowel Mostert as Neuwerth is ter dood veroordeel. Van der Merwe is tot sewe jaar gevangenisstraf gevonnis en Deuchar het ’n opgeskorte vonnis gekry.

Mostert en Neuwerth is op 19 Maart 1987 in die Sentrale Gevangenis in Pretoria gehang.

6 Junie 1995 – Die doodstraf word afgeskaf

By een van die geleenthede waar ek en Charles gesels het oor die sake waarby hy in die laat 1980’s betrokke was waarin die doodstraf opgelê is, wys hy my vertoë wat destyds opgestel is deur aktiviste teen die doodstraf. Ndlovu en Tseleng, aan wie die doodstraf ná die Gobey-moord opgelê is, se name is op ’n lang lys van veroordeeldes vir wie die tersydestelling van die doodstraf gevra word. Hul name duik telkens op in soortgelyke geskrifte van daardie tyd.

Die aktiviste se argumente kom almal daarop neer dat die doodstraf onmenslik en barbaars is. Hierop sê Charles: “Nêrens kry ’n mens dat hierdie fanatiese teenstanders iets oor die lot van die slagoffers of die smart van hul naastes sê nie.”

Al die voormalige speurders van Moord-en-roof met wie ek onderhoude gevoer het, het – soms heel driftig – hul misnoeë te kenne gegee met die afskaffing van die doodstraf. Hulle het gevoel dat hul hande grootliks daardeur afgekap is.

Die laaste persoon wat in Suid-Afrika gehang is, is in November 1989 in die Sentrale Gevangenis in Pretoria tereggestel.22 In Februarie 1990 het pres. F.W. de Klerk ’n moratorium op enige verdere voltrekking van die doodstraf geplaas en op 6 Junie 1995 het die konstitusionele hof die doodstraf finaal afgeskaf.

In die dekade ná die afskaffing van die doodstraf is 250 000 mense in Suid-Afrika vermoor. Dis veel meer as die totale aantal Suid-Afrikaners wat in die voorafgaande 150 jaar se oorloë in die land gesterf het. Dit het iemand soos die strafregkenner prof. Carel Snyman, ’n afgetrede dosent in strafreg aan Unisa en skrywer van die toonaangewende boek Strafreg, wat deur regters, landdroste, advokate en prokureurs landswyd gebruik word, tot so onlangs soos September 2012 in Beeld laat opmerk: “Dis ’n statistiese feit dat die waarde van die menslike lewe nog nooit in die vredestydse geskiedenis van Suid-Afrika laer was as sedert die invoering van die ‘reg op lewe’, die begrip ‘heiligheid van lewe’ en daarmee saam die afskaffing van die doodstraf nie.”

Prof. Snyman meen ook volgens die Beeld-berig: “Dit maak nie saak watter intellektuele gimnastiek die voorstanders van die afskaffing van die doodstraf uitvoer nie, uiteindelik is dit die koue werklikheid soos weerspieël deur misdaadsyfers in die algemeen en moordsyfers in die besonder wat ’n mens sê of die uitspraak reg of verkeerd was . . . ’n Strafregsisteem wat voorgee dat die reg op lewe die hoogste reg is, maar wat in die praktyk eindig met een van die hoogste pro rata-moordsyfers ter wêreld, is ’n siek sisteem wat met verwronge beginsels werk.”

’n Boemelaar word ’n huurmoordenaar

“Alle moordenaars verdien nie die doodstraf nie,” merk Charles op.

Waar die tingerige Dorian Ivor Owens in die beskuldigdebank staan, lyk hy allermins na ’n huurmoordenaar. Hy is ooglopend ’n verslete boemelaar en kom aansienlik ouer as sy 43 jaar voor.

Ongeskeer, met lang, onversorgde hare, geklee in ’n vuil geruite hemp met ’n seeblou broek en ’n paar splinternuwe bruin skoene, wat iemand seker spesiaal vir die hofverrigtinge aan hom geskenk het, vertel hy in ’n sagte, bewerige stem op 18 Februarie 1988 aan die hof wat gebeur het.

Owens erken in die voorlopige ondersoek voor ’n volgepakte hofsaal in die Roodepoortse landdroshof dat hy die 45-jarige miljoenêr-sakeman Frik Muller doodgeskiet het nadat dié hom gehuur het om hom te vermoor.

Muller het hom op Vrydagoggend 12 Februarie 1988 in ’n toilet van die Ellispark-hotel in Doornfontein, Johannesburg, genader met die belofte dat hy daardie dag ’n klomp geld kan maak. Owens het daarna saam met Muller in sy groot Mercedes-Benz na sy spoghuis in Lindastraat, Constantiakloof, aan die Wes-Rand gery.

Hulle het ’n ent van die huis stilgehou en gewag dat die huiswerkers eers die perseel verlaat. Die gebruik was dat die huiswerkers op ’n Vrydag vroeg loop. Daarna het Muller vir Owens na ’n buitekamer van die drieverdiepinghuis geneem.

Daar het Muller aan die boemelaar voorgestel dat hy hom R2 000 sal gee as hy hom doodskiet. Muller het hom uitgelok deur die geld op die vloer neer te sit en ’n vuurwapen aan Owens te oorhandig. Hy het hom gewys wat om te doen sodat dit nie na selfmoord moes lyk nie.

Owens het voor die versoeking geswig. Ná jare lange drankmisbruik en swaarkry moes die geld vir hom soos ’n fortuin gelyk het. Owens het Muller ’n skoot in die kop en daarna een in die rug gegee.

Hy het die geld gevat en by die huis uitgehardloop. Buite het hy die vuurwapen in ’n struik in die tuin gegooi en so vinnig hy kon na Ontdekkersweg geloop. Van daar het hy na Bertrams geryloop waar hy by sy boemelaarsvriende aangesluit het. Hy het ook ’n groot hoeveelheid drank gekoop en saam met sy vriende dronk geword.

Sy tong het los geraak en hy het aan die ander boemelaars vertel dat hy vroeër die dag ’n ryk man teen betaling doodgeskiet het. Daarna het hy van al die alkohol aan die slaap geraak. Toe hy wakker word, was al die geld weg.

AO Fires van Vuuren, wat herstel het van sy wond in die fiasko twee jaar vantevore in Alexandra, het nog dieselfde naweek van die moord inligting ontvang dat boemelaars in Johannesburg met die ondersoek kan help. Hierdie keer het Charles se voorgevoel hom in die steek gelaat en hy was bra skepties oor die inligting. Sy kollega het hom nietemin oortuig dat hulle die boemelaars moet ondervra.

Fires en Charles is Bertrams toe en het sewe stinkende boemelaars vir ondervraging in hul voertuig geboender en na Moord-en-roof se kantore op Krugersdorp teruggekeer. Al die boemelaars het die vinger na Owens gewys, maar hy het hardnekkig enige betrokkenheid by die moord ontken.

Toe kry Charles ’n ingewing en die twee speurders gaan koop ’n bottel Old Brown Sherry. Ná die derde dop was Owens se tong weer los en het hy met die hele sak patats vorendag gekom.

Hoekom het Muller hom laat doodskiet?

Dit het uit verdere ondersoek aan die lig gekom dat Muller finansiële probleme met sy sakeondernemings ondervind het en lewensversekering vir ’n enorme R10 miljoen uitgeneem het. In die hoop dat die uitbetaling van die polis ná sy dood ’n einde aan die probleme sou maak, het hy die drastiese stap gedoen om iemand te kry om hom te vermoor.

Niemand het verwag of wou gehad het dat die ergste straf aan die boemelaar opgelê word nie. Later daardie jaar het Van Vuuren hom jammer gekry en vir hom ’n ou pak klere gegee om tydens sy verhoor in die hooggeregshof ’n bietjie meer respektabel te kan lyk.

Owens is deur regter T.T. Spoelstra in die Witwatersrandse hooggeregshof tot agt jaar gevangenisstraf gevonnis. Die regter het bevind dit is hoogs onwaarskynlik dat Owens met sy swak en verdorwe lewenswyse ooit weer ’n soortgelyke misdryf sou pleeg. Ná skaars drie jaar is hy op parool vrygelaat.

Gerugte wou dit hê dat hy gou weer in sy ou lewenswyse verval het en ’n ruk later oorlede is.

’n Keerpunt vir Charles

Dit was ene Kleynhans se doodsrit. Op 12 Februarie 1990 het hy by die hoewe van die Reineckes in Luipaardsvlei ingedraai om ’n elektriese fout te gaan herstel wat ’n werker van sy tuindiensteonderneming ’n paar dae tevore veroorsaak het. Hy weet nie dat sy aankoms drie geweldenaars steur wat in die huis besig was om die vrou op die dubbelbed in die hoofslaapkamer met toue vas te maak. Haar driejarige seuntjie het sy onder die bed ingestamp om hom te probeer beskerm.

Kleynhans is by die oop voordeur van die huis trompop in die bors geskiet.

Volgens die lykskouing was dit ’n doodskoot, maar op ’n onverklaarbare wyse het hy nog genoeg krag gehad om in sy bakkie te klim en dit aan die gang te kry. Die bakkie beweeg net ’n paar meter agteruit voordat dit stol en teen ’n muur tot stilstand kom.

By sy aankoms ’n ruk later maak Charles die deur aan die bestuurderskant oop en moet keer dat Kleynhans se lyk op hom val.

Kleynhans se opwagting het sy dood gekos, maar die vrou se lewe is waarskynlik daardeur gered. Die drie mans het op die vlug geslaan. Hulle het hul ou klere agtergelaat en in klere gevlug wat hulle gesteel het. Dit sou hul ondergang wees. In die harwar om weg te kom, het een boonop ’n plastieksak met sy bestuurderslisensie in verloor.

Só word Robert Kholisile en twee broers, Michael en Abnor Munyu, vasgetrek en uiteindelik skuldig bevind. Teen die tyd dat hulle gevonnis word, was daar reeds ’n moratorium op die doodstraf. Aan twee is langtermyn-gevangenisstraf opgelê.

Hierdie moord sou ’n keerpunt word vir Charles, wat sy ondersoeke voorheen betreklik klinies en sonder emosie kon doen. Hy het vir die eerste keer begin besef dat hy hom nie meer van sulke aaklighede kon afsluit nie. Die moord het by hom bly spook.

“Die doodstraf was nou ook iets van die verlede. Dit was of die angel in enige moordondersoek uitgehaal is toe die doodstraf in daardie stadium opgeskort is. ’n Mens kan nie help om te wonder of die geweldenaars nie al lankal weer vrygelaat is en wat toe verder van hulle geword het nie.”

Dit was in die vroeë oggendure toe Charles nog ander moordsake begin ophaal wat hom voorheen tydens ons gesprekke ontgaan het. Ek was moeg en het voorgestel dat ons eerder gaan slaap. Die moord en doodslag het net te veel geword.