20 “Praat sal jy práát!” |
“Jy kan nie terreur met terreur beveg, óf marteling met marteling, óf onmenslikheid met onmenslikheid nie – nie as jy wil aanvoer dat jy ’n beter saak het nie.” – prof. Christof Heyns, aangehaal in Beeld, 24 Julie 2012.23
Marteling van verdagtes in polisieaanhouding was in die ou bedeling, soos trouens vandag nog, teen die wet. Daar word egter nie statutêr spesifiek vir só ’n oortreding voorsiening gemaak nie. Dit val onder gemeenregtelike misdrywe soos gewone aanranding, aanranding met die opset om ernstig te beseer, poging tot moord of moord.
Die fisieke en sielkundige marteling van aangehoudenes was nooit amptelik ’n beleid van die ou Suid-Afrikaanse Polisie nie, maar dit het beslis voorgekom. In die laat 1980’s en vroeë 1990’s is in die media onthul dat berugte polisie-eenhede, soos dié by Vlakplaas en ook sekere afdelings van die destydse veiligheidspolisie, verdagtes in aanhouding gemartel het. Hierdie eenhede se optrede was op polities gedrewe oortredings gerig en hul slagoffers was meestal politieke aktiviste.
Lede van die Moord-en-roofeenheid is dikwels ook daarvan beskuldig dat hulle ongeoorloofde ondervragingsmetodes gebruik het. Hulle het hulle egter op ernstige, nie-politieke misdrywe toegespits, waarvan moord en gewapende roof die belangrikste was. In my navorsing vir hierdie boek het dit duidelik geword dat sommige lede van die Moord-en-roofeenheid nie sou skroom om verdagtes op ’n uitermate wrede manier te ondervra om inligting of ’n bekentenis uit hulle te kry nie.
“Enige hardhandige ondervraging moes verkieslik plaasvind binne 48 uur nadat die verdagte in hegtenis geneem is,” het ’n oudspeurder vertel. “Dit was nie net die kritieke tydperk waarin ’n misdaad opgevolg moet word nie, maar die verdagte moes ook in terme van die Strafprosesreg voor die verstryking van dié tyd in die hof verskyn. Ons moes altyd allerlei planne prakseer om die regsverteenwoordiger van die verdagte weg te hou, byvoorbeeld deur te beweer dat ons op ’n ondersoek uit is.
“Ons moes die verdagte voor sy hofverskyning aan die praat kry, verkieslik deur ’n formele bekentenis uit hom te kry of minstens dat hy noodsaaklike erkennings en uitwysings maak. Daarna kon hy maar in die hof huil oor die behandeling wat hy van ons ontvang het, want dan het ons reeds die inligting wat hom met die misdaad verbind. Dit het gewoonlik ook beteken dat sy weergawe van beweerde aanranding nie veel gewig in die hof sou dra nie.”
Volgens hierdie oudspeurders was van hul “sagter” metodes om slaap, water en veral sigarette van verdagtes wat rook te weerhou. Ondervragings het soms plaasgevind terwyl die verdagte die hele tyd naak in ’n staande posisie moes bly. Swart verdagtes se moetiebandjies is ook afgevat om hulle weerloos te laat voel.
Ondervragingspanne het mekaar afgewissel tydens langdurige sessies, wat die verdagte uitgeput het.
“Gewoonlik het die ondervraging gepaardgegaan met die beproefde good cop/bad cop-benadering waarin die een ondervraer die verdagte se vertroue wen deur hom teen die ander ‘genadelose’ ondervraer te ‘beskerm’.”
In sekere gevalle is besonder pynlike ondervragingsmetodes aangewend wat in wese op marteling neergekom het. Die polisielede was egter bewus daarvan dat hul optrede teen die wet was en daarom is voorsorg getref dat hulle nie uitgevang word nie. In die woorde van een speurder: “Dit was belangrik dat ’n verdagte geen letsels van hardhandige behandeling oorhou wat die aandag van ’n mediese dokter kon trek en later as bewys teen ons kon dien nie. Ons het ’n geskikte plek op ’n hoë verdieping gehad waar ons gewoonlik in die vroeë oggendure, wanneer daar geen ooggetuies was nie, ’n verdagte aan sy enkels by ’n venster laat uithang het. Sy mond was altyd toegebind. Op ’n gegewe oomblik is die een enkel laat los asof die polisielid sy greep op die verdagte verloor. Hy is dan ‘net betyds’ teruggetrek die gebou in.”
Sogenaamde tjoeping was waarskynlik die bekendste ondervragingstegniek – wat behels het dat ’n binneband of nat seilsak oor ’n verdagte se kop getrek is sodat hy nie asem kon kry nie. Dis herhaal totdat hy bereid was om ’n bekentenis af te lê of die verlangde inligting te gee. Hy is die stilswye opgelê deur verdere dreigemente dat die optrede later herhaal sou word as hy daaroor uitpraat.
Daar was ook ’n variasie van verskillende skokapparate wat aan ’n vasgebinde verdagte se geslagsdele of sy polse vasgemaak is. Gewoonlik het ’n motorbattery of klein kragopwekker die krag verskaf. Voordat die verdagte geblinddoek is, is hy onder die indruk gebring dat die elektriese skok uit ’n kragprop in die muur of gloeilamp afkomstig was. Sou hy dan later daaroor getuienis in die hof lewer, is dit gewoonlik as onwaarskynlik afgemaak aangesien hy dan doodgeskok sou gewees het.
“Sommige lede was vindingryk, soos die een wat rubberbande ontwerp het waarmee ’n verdagte se gewrigte en enkels aan ’n stoel vasgemaak is sodat hy geen skaafmerke oorhou weens die rukbewegings wanneer hy geskok is nie.”
Sowel wit as swart lede het hulle aan dié metodes skuldig gemaak.
In die woorde van oud-Moord-en-roofspeurders
Onwettige ondervragingsmetodes en marteling is ’n onderwerp wat hewige emosies ontketen. Morele oordele help die historikus egter nie om ’n verskynsel soos marteling te verklaar nie. Om ’n verklaring vir dié optrede van die Moord-en-rooflede te probeer vind, was my eerste stap om hulle self te vra hoekom hulle dit gedoen het.
Hulle het ingestem om my vrae te beantwoord. Sommige het aangedring op anonimiteit. Weinig van die oud-Moord-en-roofspeurders van die Brixtonse en Wes-Randse takke met wie ek onderhoude gevoer het, het hulle téén marteling as ’n ondervragingsmetode uitgespreek. (Dit het nie so algemeen by die ander polisie-eenhede voorgekom nie.)
Die oorgrote meerderheid is daarvan oortuig dat hulle deur hul optrede hul plig nagekom het en in landsbelang opgetree het. Hulle het ook geen berou getoon nie. Inteendeel, talle was besonder driftig in hul oortuiging dat hulle reg was en daar was ’n soort ongeloof dat enigeen hul optrede kon bevraagteken. Sommige het dit selfs as ’n “opoffering” beskryf.
Diegene wat ontken dat hulle enige aandeel daaraan gehad het, moes wel daarvan geweet het, maar het niks daaromtrent gedoen nie. In ’n gespesialiseerde eenheid soos dié van Moord-en-roof sou lede wat nie by die gebruike van die meerderheid ingeval het nie, buitestanders gewees het en dit beswaarlik lank daar kon uithou.
Hul antwoorde word hieronder onveranderd aangebied. Dit bevat die belangrikste motiverings ter regverdiging van ongeoorloofde ondervragingsmetodes om misdaad op te los. (Dis nie noodwendig ’n volledige weergawe van al die argumente nie.)
In ’n tweede stap word ’n bekende kriminoloog se mening oor marteling van verdagtes in polisieaanhouding en die polisiemanne se motivering daarvoor gevra.
1. “Sekere omstandighede vereis genadelose optrede”
Daar is baie keer geen ander uitweg as om genadeloos teenoor oortreders van geweldsmisdaad op te tree nie. Daardie misdade kan eenvoudig nie altyd op konvensionele maniere opgelos word nie. Mens het met abnormale boosaards te doen wat tot die ergste wreedhede denkbaar in staat is. As ons nie die metodes gebruik het nie, het baie geweldenaars losgekom en hul duiwelswerk voortgesit. Buite verstaan mense nie hoe naby dit soms kom vir ’n gewetenlose misdadiger om weg te kom nie.
Daardie metodes was ongetwyfeld suksesvol in die oplossing van baie misdade. Iemand wat daarmee verskil, toon eenvoudig ’n onbegrip vir die strewe na suksesvolle oplossing van geweldsmisdaad in ons land.
Of moes ons ’n verkragter en moordenaar van klein dogtertjies op die strate loslaat, terwyl ons weet hy is skuldig en die enigste manier om die waarheid uit hom te kry is om daardie inligting uit hom te wurg? Vir ons was daar nie ’n keuse in so ’n geval om uit te oefen nie. Jy moes jou plig uitvoer. – Oudspeurder A.
Een oudspeurder het my gevra wat hom te doen sou gestaan het as die pedofiel Gert van Rooyen destyds lewend gevang is en in die speurderskantoor smalend gesê het dat hy die vyf dogtertjies iewers weggesteek het waar hulle kon doodgaan, en daarna weier hy om enige woord verder te praat.
Daar was nie ’n ander manier om boosheid te beveg nie. Daardie soort misdadigers ken nie ’n ander taal as vrees nie. Die meeste sielkundiges in hul wit jassies word deur die misdadigers om die bos gelei. Daardie sielkundiges het nie gesien tot watter barbaarsheid die gewetenlose moordenaars in staat is nie. Hulle het nie tussen die bloed en harsings rondgekruip nie. Daar is ook nie van hulle verwag om die misdaad op te los nie. Die suksesvolle oplossing van geweldsmisdaad kan eenvoudig nie aan sagmoediges oorgelaat word nie. Dan is dit ’n verlore stryd. Punt.
Tyd is dikwels van wesenlike belang. Enige gesoute speurder sal jou vertel hoe belangrik die eerste 48 uur is om leidrade in ernstige misdade op te volg. Daardie yster moet gesmee word terwyl hy warm is, anders mag geleenthede vir altyd verbygaan.
Ons het baie op die spel geplaas. As ons uitgevang word, kon ons alles verloor en het ons boonop vervolging in die oë gestaar.
Die mense wat ons ondersoekmetodes aangeval het, het lekker snags in hulle pisvelle [komberse of beddegoed] gelê, terwyl ons ons lewens vir hulle op die spel geplaas het. So ook vervolging indien die ongeoorloofde ondervraging aan die lig sou kom.
Ons het eintlik baie gewaag vir die saak om misdaad op te los terwyl ons belaglike salarisse ontvang het. Baie van die huidige polisiemanne sê juis dit is nie meer die moeite werd om hulle nekke uit te steek nie en die misdade kan maar eerder onopgelos bly, en dit is presies wat gebeur.
– Oudspeurder B.
2. “Bekamping van ernstige misdaad is niks anders as oorlog nie en moet met die reëls van oorlog beveg word”
Ek verstaan nie die onderskeid nie. In oorlog is daar nie genade nie. Soldate kan bomme op die vyand gaan gooi wat onskuldige vroue en kinders doodmaak en niks oorkom nie. Maar ’n reeksmoordenaar of pedofiel wat klein dogtertjies verkrag en vermoor het, moet beskerm word. Hy het kwansuis regte wat belangriker as die gevolge van sy afskuwelike dade is. Dit maak nie sin nie. Ons het nie die ondervragingsmetodes gebruik vir ons plesier nie. Ons was nie ’n spul perverse sadiste nie. Iemand moes daardie werk verrig en die dice het op ons geval. – Oudspeurder C.
3. “Dit was nie dieselfde as polisiebrutaliteit nie”
Daardie ondersoekmetodes was nie polisiebrutaliteit soos wat by Marikana [in 2012] gebeur het en ander onlangse gevalle nie. Ons het nie met die publiek so te werk gegaan nie, maar net met die ergste denkbare misdadigers. Ons het hierdie metodes nie op hoenderdiewe toegepas nie.
– Oudspeurder A.
4. “Druk het dit genoodsaak”
Daar was gevoellose druk van die hoër gesag op ons om sukses te behaal. Moet my nie vertel al die generaals en brigadiers was so naïef dat hulle nie geweet het wat aangaan nie. ’n Blinde oog is gegooi so lank die misdaad opgelos is en ons nie betrap is nie. Hulle wou die biltong eet, maar nie die bok slag nie. – Oudspeurder D.
Daar was van oral geweldige druk op ons om sake op te los . . . Die grootste deel van die bevolking keur genadelose optrede teen geweldsmisdadigers goed. – Oudspeurder C.
Daar is weinig wat soveel druk op ’n toegewyde speurder plaas as bedroefde familielede wat berusting wil kry oor wie die gruweldade teen hul geliefdes gepleeg het. Of moes ons hulle in die oë kyk en vertel dat daardie moordenaars weggekom het? – Oudspeurder D.
Die indruk is by my gewek dat die polisielede nooit oor wederregtelike optrede tydens ondervragings gekonfronteer is nie. Waar sake opgelos is, het hulle van lede van die publiek net lof ontvang. Dit kon hulle verder onder die waan gebring het dat hul saak reg was, minstens dan in die oë van die publiek.
5. “Dit het ’n sekere reputasie verseker”
Vandag is daar geen ontsag meer vir die polisie nie, met die gevolg dat die misdadigers doen wat hulle wil. Ek onthou as ons by Brixton Moord-en-roof se terrein ingery het, het verdagtes hulle bevuil sonder dat ons iets gedoen het en sommer begin praat. Verstaan reg, ons het nie vrees by die publiek ingeboesem nie, dit was vrees wat die geharde kriminele vir ons gehad het. Nooit het ek onder die publiek ’n ander beskouing as waardering vir ons teëgekom nie. – Oudspeurder B.
’n Perspektief vanuit die kriminologie
Wat stel een mens in staat om ’n ander mens te martel? Hoe gebeur dit dat iemand wat veronderstel is om die wet toe te pas, ’n verdagte fisiek en geestelik sal folter om ’n bekentenis uit hom te kry? Sodoende oortree hy immers die wet en word hy self misdadig. Wat is so ’n persoon se motivering en hoe regverdig hy dit teenoor homself?
Volgens prof. Christiaan Bezuidenhout van die departement maatskaplike werk en kriminologie aan die Universiteit van Pretoria is dit onmoontlik om ’n profiel op te stel wat die tipiese persoon wat ander martel akkuraat sou beskryf. Bezuidenhout sê sulke gewelddadige gedrag word onder meer deur biologiese, sielkundige, omgewings-, historiese, kulturele en ekonomiese faktore veroorsaak. Hierdie faktore werk dikwels saam in op een individu wat die kompleksiteit van die probleem illustreer.
“Weens die kultuur van geweld in Suid-Afrika het geweld ’n alledaagse verskynsel geword en baie mense aanvaar geweldsmisdaad en aggressiewe uitkomste as ‘normaal’. Marteling kan dus vir baie mense ’n normale gebeurtenis of ‘kognitiewe skema’ word. Sosiale gedrag in die algemeen, en aggressiewe gedrag in die besonder, word grootliks beheer deur die sogenaamde ‘kognitiewe skema’ wat in alledaagse ervarings aangeleer en gememoriseer word,” sê Bezuidenhout.
Hy verduidelik dat so ’n kognitiewe skema bepaal hoe ’n individu in sy beroepsrol moet optree of hoe hy hom in reaksie op omgewingstimuli moet gedra, asook wat die gevolg van sy gedrag sal wees. Bezuidenhout sê dat ’n kognitiewe skema met betrekking tot marteling waarskynlik op die volgende maniere by iemand ingeprent kan word:
Nadat so ’n kognitiewe skema eers in die geheue “geprogrammeer” is, word dit volgens Bezuidenhout nie maklik verander nie. Hy noem ook dat omgewingsfaktore die leidrade verskaf wat individue in staat stel om te bepaal watter skema vir watter geleentheid “geskik” is. ’n Nuwe kognitiewe skema wat bepaal dat marteling noodsaaklik en in landsbelang is, kan ’n individu se gewone standaarde of buffers teen sulke gedrag maklik oorneem.
“Dis belangrik om daarop te let dat ’n persoon met swak innerlike buffers teen aggressie en wat reeds van kleins af aan geweld blootgestel was, moontlik met verloop van tyd geneig sal wees om tydens ’n martelsessie makliker aggressief op te tree,” sê Bezuidenhout. “Selfs die persoon met ’n goeie opvoeding en gesonde sosialisering kan oorweldig word deur die ‘eer’ om in ’n elite-eenheid te dien.
“Dis ook belangrik om te besef dat baie verskillende faktore inwerk op die manifestasie van aggressie en die uiteindelike besluit om marteling as deel van jou dagtaak toe te pas. Kognitiewe skemas wat geweld toelaat, sal enersyds deur jou aard en andersyds deur sosialisering en omgewing beïnvloed word. Verder sal die persoon se genetika en huislike omstandighede, sosio-ekonomiese stand en omgewingsfaktore alles ’n rol speel in sy risiko of geneigdheid om aggressiewe gedrag te toon.”
Bezuidenhout wys daarop dat iemand wat geestelik “normaal” is en dus geen wesentlike afwykings het wanneer hy by die polisie aansluit nie, maar dan die mandaat gegee word om geweld te pleeg (wettig ’n lewe te mag neem) heel waarskynlik daardeur geaffekteer sal word. Sommige individue kan selfs ’n gedragsversteuring soos psigopatie ontwikkel.
“Dit beteken die persoon raak gevoelloos, toon geen empatie nie en ervaar mettertyd opwinding in die uitvoering van sy dade. Hy leer nie uit vorige ervarings nie en raak egosentries. Verder kan hy nie insien waarom iemand sy gedrag as onaanvaarbaar beskou nie. ’n Persoon wat ’n gedragsversteuring ontwikkel of reeds ’n psigopaat is, sal goed vaar in hierdie omgewing en sal geen berou vir sy gedrag toon nie.”
Bezuidenhout sê as mag hierby gevoeg word, word dit “’n dodelike konkoksie”. Polisielede kan maklik hul magsposisie misbruik, wat dit vir hulle nog makliker kan maak om hul gedrag te regverdig.
“Diesulkes misbruik hulle mag blatant en sal sonder om ’n oog te knip buite hul voorgeskrewe mandaat optree. As ’n polisieman met psigopatiese neigings die vryheid gegee word om op te tree soos hy goeddink en deur sy seniors daarin ondersteun word, sal dit hom aanspoor om die onmenslikste dade teenoor ander mense te pleeg. Die magsbeheptheid en die suksesvolle inwinning van bekentenisse sal maak dat dit ’n leefwyse word.”
Mag is egter nie die enigste rede wat individue kan gebruik om hul gedrag te regverdig nie. Volgens Bezuidenhout is ’n tweede soort regverdiging gesetel in die oortuiging dat die groep se belange en doelwitte allesoorheersend is en dat almal hulself daarvoor sal opoffer. Individue sal voorts aanvoer dat hulle in belang van vryheid optree en dat dit hulle die reg gee om enige vorm van outoriteit te verwerp wat ander optrede van hulle vra.
Laastens regverdig individue hul besluite op grond van prestasies en die beloning of erkenning wat hulle kry as hulle sekere dinge bemeester.
Bezuidenhout sê iemand wat glo dat hy die reg het om iemand anders te martel, sal van al hierdie regverdigings gebruik maak.
“So iemand is gewoonlik magsbehep, slaan nie ag op protokol nie, reken nie die gesag wat iemand anders op hulle wil afdwing nie en doen dit ter wille van die groep of elite-eenheid waaraan hulle behoort. Hulle beskou hulself mettertyd as die laaste vesting tussen die ‘vyand’ en die gemeenskap. Teen hierdie agtergrond is die aard van die marteldaad onbelangrik.”
Diegene wat dit regkry om hul gedrag te regverdig, kan later selfs meer ekstreme geweld begin gebruik en geweld in hul daaglikse bestaan begin inkorporeer. Hulle kan selfs bevrediging uit hul magsposisie en geweld put. Wanneer hulle van loopbaan verander of wanneer hulle uittree, is hulle boonop in staat om hul lewe van geweld as ’t ware te liasseer.
“Dis egter hoogs onwaarskynlik dat hulle nie psigologiese letsels sal oorhou nie. Dis ’n residu van ’n wreedaardige verlede wat sal agterbly in hierdie individu,” sê Bezuidenhout.
Hy wys egter daarop dat sou so ’n persoon dalk van tyd tot tyd oor sy optrede nadink, sal sy regverdigingsmeganismes hom waarskynlik in staat stel om sy skuldgevoelens te onderdruk.
“Dit help die persoon om die belang van hul taak bo enige onsekerhede te plaas – hulle kan selfs ’n grootheidswaan ontwikkel in die lig van hoe belangrik hulle hul take geag het.”
Marteling in die 21ste eeu
Marteling is so oud soos die mensdom self. Amnestie Internasionaal raam dat minstens 81 lande se regerings wêreldwyd tans nog marteling beoefen, sommige selfs openlik.
Daar is uiteenlopende menings oor marteling en veral oor of dit onder sekere omstandighede geoorloof is. Die terreuraanvalle op die Twin Towers in New York en elders in Amerika in 2001 is ’n voorbeeld van watter ingrypende impak gebeure soos dié op gewone mense se gedagtes oor marteling kan maak.
Daarna het die sogenaamde “tikkende tydbom-scenario” ’n groot besprekingspunt in die Westerse media geword. Een van die hipotetiese vrae was of marteling geregverdig is wanneer ’n terroris weier om uit vrye wil inligting te gee oor die ligging van ’n kernbom wat in ’n digbevolkte gebied geplaas is en binnekort sal ontplof.
In daardie bespreking het dit oor landsveiligheid en die bedreiging van terrorisme gegaan, maar daar is ook aangevoer dat die argument deurgetrek kan word na ander gevalle, byvoorbeeld ernstige misdade wat nie politiek van aard is nie. Die verskillende argumente het ’n hele aantal morele en humanitêre vrae opgeroep, onder meer wanneer gemeenskapsbelang voorrang bo individuele regte moet geniet.
Die BBC het in 2006 ’n meningspeiling in 25 lande gedoen en mense gevra of regerings onder sekere omstandighede terreur met ’n mate van marteling mag beveg. Die resultate was verrassend: Marteling is nie summier afgekeur nie, met 41% van die deelnemers aan die peiling wat gekwalifiseerde marteling goedgekeur het. Daar was ’n duidelike onderskeid tussen lande met verskillende nasionale veiligheidskwessies. In Italië het slegs 14% van die deelnemers een of ander vorm van marteling gesteun, teenoor 53% in Israel. Ander faktore soos politieke en godsdienstige affiliasie het ook ’n rol gespeel.
Die Amerikaanse weermag se intelligensie-afdelings en die CIA is die afgelope dekade herhaaldelik van marteling beskuldig. Dit het byvoorbeeld aan die lig gekom dat terreurverdagtes by ’n aanhoudingskamp in Guantánamobaai in Kuba gemartel is. Sommige Amerikaanse amptenare wat die martelmetode van sogenaamde waterboarding probeer regverdig het, is heftig gekritiseer. (Met waterboarding word iemand op sy rug laat lê met ’n lap of plastiekseil oor sy gesig terwyl water aanhoudend daaroor gegooi word, wat ’n sensasie van verdrinking veroorsaak.)
Menslike tydbomme
Dis insiggewend dat baie van die argumente wat die voorstanders van gekwalifiseerde marteling opper ook deur die plaaslike oudspeurders aangevoer is ter regverdiging van hul optrede.
Dis nie die doel van hierdie boek om morele uitsprake te maak nie, maar eerder om te probeer begryp waarom sekere polisielede verdagtes gemartel het. Polisielede werk onder buitengewone omstandighede en word aan dinge blootgestel wat die gemiddelde mens nooit sal ervaar nie. Dit het veroorsaak dat daar in talle gevalle menslike tydbomme geskep is, veral omdat daar in die ou bedeling nie aan ontlonting en berading aandag gegee is nie.
In sulke abnormale omstandighede het die grense van algemeen aanvaarbare gedrag blykbaar vir sommige van hulle begin vervaag. So is hulle uiteindelik self in die draaikolk van misdaad ingesuig deur hul optrede. Tog beklemtoon Bezuidenhout ook dat dit uiteindelik steeds elke individu se keuse bly hoe hy in ’n bepaalde situasie optree.