23

Gewond en vergete

 
 

 

Charles se gesondheid het uiteindelik onder die voortdurende spanning begin ly. Hy was waarskynlik reeds vir etlike jare voordat hy en Jakes van Niekerk van moord aangekla is ’n tikkende tydbom. Volgens sielkundiges lei jare lange emosionele afskakeling geleidelik tot geestelike en fisieke uitbranding.24 Twee koeëls wat te naby aan hom in die grond vasgeslaan het, het Charles se mondering een somerdag laat kraak.

Op 6 Desember 1991 is Charles alleen op pad van Azaadville, die Indiërwoonbuurt by Randfontein, toe hy ’n radioberig ontvang van ’n man wat by ’n spoorwegstasie van sy vuurwapen beroof is. Die rowers het oor die perseel van West Rand Consolidated Mines probeer wegkom. Hy was naby aan die toneel en het besluit om te gaan ondersoek instel.

Toe hy by die mynperseel inry, sien hy drie swart mans in die rigting van die kampongs hardloop. Terwyl hy uit sy voertuig klim, skreeu hy op hulle om stil te staan, maar hulle skiet op hom.

Die eerste twee skote het baie naby aan hom in die grond vasgeslaan. In daardie stadium het die drie mans tussen ander mense, wat ook op pad was na die kampongs, inbeweeg, wat dit vir Charles onmoontlik gemaak het om terug te skiet. Hy was in die oopte en die rowers het aanhou skiet. Hy moes dus gou skuiling soek en het sodoende verwyder geraak van sy voertuig.

Hy is oorweldig deur ’n doodse vrees. Hy het gevoel hy is vasgekeer en op daardie oomblik het sy gewone nugtere, praktiese planne om hom uit sulke situasies te wikkel hom ontwyk. Charles het ook onthou dat ’n sekuriteitsbeampte, Theunis Schutte, vroeër daardie jaar baie naby aan die plek waar hy hom bevind het deur rowers oorval is op pad huis toe. Hulle het sy vuurwapen afgeneem en hom daarmee doodgeskiet. Schutte se moordenaars was nog op vrye voete.

“Wat maak ek hier?” het die vraag hom te binne geskiet, terwyl hy vir die eerste keer in sy lewe onbeheersd aan die bewe gegaan het. “Ek dobbel met my lewe en vir wat?”

Charles doen toe iets wat hy nog nooit vantevore in sy lewe gedoen het nie. Hy hardloop na sy motor en ry. Nie na waar die ander polisiemanne, wat intussen by die toneel aangekom het, begin vergader het nie, maar huis toe. Reguit huis toe.

Die volgende dag het hy moeisaam uit die bed opgestaan en sy kantoorwerk probeer afhandel. Hy kon nie konsentreer nie en het afgemat gebly. Op 9 Desember 1991 neem hy vir die eerste keer in sy loopbaan behoorlik verlof van 26 dae. Hy het toe meer as 600 dae opgehoopte verlof gehad.

Maar Charles kan nie tot rus kom nie. Die kleinste dingetjies ontstel hom. Die klappers in die buurt op Oujaarsdag het soos aanhoudende geweerskote geklink. Hy is geteister deur slaaploosheid en is kort van draad. In dié tyd gaan hy ook gereeld aan die bewe.

Charles is voorheen by verskeie geleenthede deur misdadigers met die dood gedreig. Hy het hom dit nooit te erg aangetrek nie en altyd ’n manier gevind om dit te hanteer. Maar nou het die doodsdreigemente deur ’n berugte swart bende, wat hulself die “Japanese gang” genoem het, hom erg ontstel. Hulle het die geskrewe dreigemente sedert November 1991 vanuit die Johannesburgse gevangenis aan hom gestuur. Hy raak omtrent buite homself toe hy agterkom dat Dorothy elke keer voor sy wil ry, eers onder die motor kyk of daar nie dalk ’n bom of iets dergeliks is nie.

Op 8 Januarie 1992 begin Charles weer werk, maar die verlof het skynbaar niks gehelp nie. Hy bly erg gespanne. Dis op dieselfde dag dat hy hoor hy gaan aangekla word van die moord op die petroljoggie Lenient Malopo.

Die finale breekpunt kom die volgende dag toe hy by die Roodepoortse staatslykhuis aanry om ’n lykskouingsverslag van ’n vermoorde af te haal. In die gang kom hy sers. Basie Johnson, een van die lykshuis se personeellede, teë. Johnson se arm het liggies gebloei op die plek waar ’n naald ingesteek is toe hy kort tevore bloed geskenk het. Die onskuldige wondjie ontstel Charles egter so dat hy lighoofdig word en moet sit om nie om te val nie.

“Dynamite”

Hy het aanhou werk, maar kon die dae by die werk kwalik deursien. Hy kon snags net vir kort rukkies slaap voordat hy naar en natgesweet wakker geskrik het. Dorothy het geruime tyd reeds besef iets groots is fout met haar man en het by hom gepleit om professionele hulp te kry.

Op 17 Januarie 1992 word Charles weens stres in die Sandton-kliniek opgeneem. Volgens die mediese verslae het die psigiaters gesukkel om sy toestand onder beheer te kry. Ná sewe weke se behandeling is hy uit die kliniek ontslaan, maar hy kon steeds nie na behore by sy eenheid funksioneer nie.

Hy sukkel om oral aan te pas en word ’n tweede keer in die Sandton-kliniek opgeneem. Die dokters se diagnose is dat hy chroniese posttraumatiese stressindroom het. Die mediese verslae verwys na erge angs en depressie.

Die Moord-en-roofspeurders kon ook maar ’n ongenadige spul wees. Toe Charles met sy tweede besoek aan die kliniek ná drie weke ontslaan word, het hy ’n kollega gevra om hom te kom haal omdat hy sy vrou wou verras. Maar in plaas daarvan om hom reguit huis toe te neem, is hulle na ’n groot polisie-bosbraai by die Randfontein-meer.

Al was dit heeltemal teen doktersvoorskrifte, het Charles heelwat Wellingtons-en-Coke by sy keel laat afgaan. Sy kamerade was bly om hom weer te sien en by die geleentheid het hulle vir hom ’n bloedrooi T-hemp met die woord “dynamite” voorop en ’n tekening van ’n brandende dinamietlont gegee.

Laat die aand het Charles se kollegas hom by sy huis se voorhekkie afgelaai en laat spat. Hulle het geweet wat wag as Dorothy die deur oopmaak en ’n beskonke Charles in die verspotte T-hemp sien. Dorothy het aan my gesê daar is nie genoeg woorde om te beskryf presies hoe ontevrede sy daardie aand was nie.

Van held tot niks

Teen die vroeë jare tagtig was Charles reeds ’n legende by die Wes-Randse Moord-en-rooftak. Sy jonger oudkollegas is dit eens dat die eenheid vir jare met Charles as persoon vereenselwig is.

“Ons het geweldig na hom opgesien en hy was ’n belangrike trekpleister om na daardie eenheid oorgeplaas te word,” sê Mossie Mostert. “Hy het sy werk kop toe gevat en was ’n goeie leermeester. Jy kon hom met alles vertrou en al kon hy by tye befoeterd wees, sou hy jou nooit in die steek laat nie, al was jy verkeerd. Charles weet nie wat dit is om sy rug op ’n kollega te draai nie.”

Charles was ook ’n vaderfiguur vir talle van sy jonger kollegas en het baie van hulle met hul persoonlike probleme gehelp. Hy moes dikwels in netelige situasies ingryp, veral waar lede hulle aan drank vergryp het. By ’n geleentheid is sy hulp ingeroep nadat ’n besope lid een aand by sy huis verskeie skote met sy dienspistool afgevuur het. Sy vrou het saam met hul kinders na veiligheid gevlug. Die hulp van die blitspatrollie is ingeroep, maar nie een van die blitspatrollielede was bereid om die molesmaker te konfronteer nie omdat die betrokke Moord-en-roofspeurder se reputasie hom vooruit geloop het. Hulle het prontuit gesê dis te gevaarlik. Die enigste een wat sou kon help, was Charles.

Nadat Charles na die speurder se huis ontbied is, het hy daarin geslaag om hom onder bedwang te bring en te ontwapen.

Charles is ook deur sy gemeenskap hoog geag. Toe ’n bekende NG predikant van Krugersdorp homself eenkeer per ongeluk deur die been geskiet het terwyl hy ’n vuurwapen in sy studeerkamer skoongemaak het, het die hele dorp gegis of dit ’n selfmoordpoging was. Die predikant het hom gevra om aan die gemeente te verduidelik presies wat gebeur het en dit het hy toe ook een Sondagoggend in ’n stampvol kerk gedoen. Daarna het die geskinder opgehou.

Ná die geregtelike doodsondersoek van die petroljoggie in 1991 val Charles se lewe nog verder uitmekaar. Ewe skielik het hy ’n klad op sy naam en is sy posisie by die werk ook in die gedrang. Sedert die Taute-skietery in die vroeë 1980’s het Charles toenemend alleen begin werk. Eerder as om soos in die verlede saam met die jonger lede van die tak gesellighede by te woon, het hy hom algaande sosiaal begin onttrek. Sy oudkollegas vertel dat wanneer hy teen die einde van sy loopbaan wel sulke geleenthede bygewoon het, hy geneig was om die geleentheid te probeer oorheers.

Sedert 1981 was Charles tweede-in-bevel van die Wes-Randse Moord-en-rooftak en het hy talle kere as bevelvoerder waargeneem. In 1991 is die tak vergroot en een van sy juniors, wat ’n offisier geword het, is in sy plek as tweede-in-bevel aangestel. Vertoë sedert die laat 1970’s deur verskillende bevelvoerders en lede van die kantoor van die prokureur-generaal aan die polisiehoofkantoor om Charles te bevorder het deurentyd op dowe ore geval. Op 48 het verdere bevordering vir Charles buite die kwessie gelyk. Eers ná sy ontslag uit die polisie is ’n beleid van bevordering op meriete en nie net op grond van kwalifikasies nie gevolg.

In 1991 het die swak oordeel van ’n onsimpatieke uniformoffisier Charles amper in die moeilikheid gebring. Dié offisier het probeer om Charles aan te kla omdat hy nie ’n saak opgevolg het nie. Dit was nadat Charles een middag op Roodepoort ’n besope konstabel in ’n patrollievoertuig van die pad getrek en die naaste polisiekantoor van die voorval laat weet het. Nadat hy die konstabel by die Roodepoortse polisiekantoor aan ’n sersant oorhandig het, is hy vort op ’n dringende ondersoek na ’n gewapende rooftog. Die offisier het later aangevoer dat Charles die besope polisieman na die aanklagkantoor moes vat en die saak daar persoonlik verder moes geneem het.

Charles is in sy loopbaan van dertig jaar nooit ge-peg (departementeel skuldig bevind aan ’n oortreding) nie en sy bevelvoerder in daardie stadium, kapt. Johan Steyn, het sy verontwaardiging aan die streeksbevel oorgedra oor sy speurders wat van sulke onbenullighede aangekla word terwyl hulle belangrike werk het om te doen. Die saak teen Charles is laat vaar, maar dit het hom steeds geweldig ontstel. Hy het toenemend fyngevoelig oor sulke voorvalle geword.

Sy merkwaardige loopbaan in die polisie kom op 30 September 1992 tot ’n einde toe hy medies ongeskik verklaar en uit die polisie ontslaan word. Sy mediese verslae sedert 1992 verteenwoordig ’n pakhuis vol trauma. In ’n vroeë verslag sê hy dit voel of hy in ’n diep donker gat is waaruit hy nie kan kom nie. Hy voel nutteloos en afgemat. Hy voel ook asof hy nog nooit iets in sy lewe vermag het nie.

Op sy afskeidsgeselligheid aan die einde van 1992 het lt.genl. Krappies Engelbrecht, wat aan die polisiehoofkantoor verbonde was, opgemerk dit is ’n skande dat Charles vir sy kleurryke loopbaan van dertig jaar net ’n swak gevoude ontslagsertifikaat met die woord “GEEN” onder die subhoof “Opmerkings” gekry het. Dit eggo Charles se gevoel dat hy deur die polisie in die steek gelaat is.

Hy was ook diep gebelg toe die polisie ná sy uittrede aanvanklik nie sy vuurwapenlisensie wou hernieu nie. Die polisie was waarskynlik huiwerig om dit te doen weens sy sielkundige toestand, maar Charles het gevrees dat hy en sy gesin se lewens in gevaar was weens die doodsdreigemente van die “Japanese gang”. Die volgende jaar het Charles steeds so fisiek bedreig gevoel dat hy Dorothy oortuig het hulle moet permanent na ’n nuwe sekuriteitskompleks op ’n plattelandse dorpie verhuis. Dorothy het met ’n swaar hart van haar twee oudste kinders weggetrek. Sy en Charles woon vandag steeds op die plattelandse dorpie.

’n Lewe ná die polisie

Vir die volgende twintig jaar ontvang Charles deurentyd psigiatriese behandeling en moet hy chroniese medikasie gebruik. In 2011 word hy in die Vista- psigiatriese hospitaal in Centurion opgeneem. Dis vir hom ’n verleentheid en hy dring daarop aan dat sy drie kinders, wat besonder geheg is aan hom, nie daarvan moet weet nie. Sy oudste seun, Charles, ’n skoolhoof, vind egter met ’n omweg en tot sy ontsteltenis uit dat sy pa twee dekades nadat hy die polisiemag verlaat het, steeds aan chroniese posttraumatiese stres ly.

Die gevoel dat hy alleen in ’n motor moet wees wanneer hy bestuur, gaan nooit weg nie, so ook nie sy engtevrees nie. Ná dertig jaar moet al die deure van die huis steeds gesluit wees en Dorothy moet in die nabyheid wees wanneer hy stort. Steeds bring die reuk van Lifebuoy-seep moord-herinneringe – die doodsreuk en bloedbesmeerde mure, die smartkrete van geskokte familielede op moordtonele. Hy wil steeds platval as hy harde knalgeluide hoor wat soos skote klink. Die skuldgevoel oor Jaap le Roux en die ander se dood daardie noodlottige aand op Boksburg wou ook nooit wyk nie. En daar is nog ander nagevolge . . .

Charles het in 1984 ’n eenmalige kompensasiebetaling van R1 000 van die Ongevallekommissaris ontvang vir die skietwonde wat hy die vorige jaar op Boksburg opgedoen het. Dis kwalik ’n kompensasie vir die ewige herinneringe aan die gebeure wat die sigbare littekens van die wondmerke steeds veroorsaak. Die normale gebruik van albei sy arms is aangetas as gevolg van die skietwonde en die beserings wat die motorbotsing vroeër veroorsaak het.

Die karige pensioen wat Charles ná sy ontslag ontvang en die feit dat hy nog vir sy laatlam, die 15-jarige Lionel, moes sorg, verplig hom om ná 1992 sy inkomste aan te vul. Hy doen dit deur minderwaardiger werkies te verrig, soos om as ’n gewapende wag vragmotors na Durban en Kaapstad te begelei. Maar dit word ook te veel vir hom en hy moet dit staak wanneer geringe voorvalle hom erg ontstel. Charles is vir niks anders as speurwerk opgelei nie.

’n Deel van sy pensioenuitbetaling belê hy in ’n onderneming wat verbande en ander mediese artikels aan apteke verskaf. Die onderneming misluk egter. In 1993 nader lt.genl. Lothar Neethling Charles om deel te word van ’n uitgelese groep met die doel om ’n nuwe private forensiese ondersoekonderneming te stig. Neethling se omstrede betrokkenheid by die polisie en weermag se klandestiene optredes en die daaropvolgende hofsake maak dat die plan nie materialiseer nie.

Charles is vandag ’n skadu van die formidabele speurder wat ek dertig jaar gelede vir die eerste keer ontmoet het. Hy bly ’n gewonde polisieman – psigies en liggaamlik.