Inleiding

 
 

 

Daar het nog min boeke oor die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Polisie verskyn wat aandag gee aan die bekamping van misdaad en nie net op politieke onrus fokus nie. Waar literatuur wel die optrede van die polisiemag bespreek, word dit meestal voorgehou as deel van die apartheidsmasjinerie wat die destydse politieke bestel moes handhaaf.

Boeke deur joernaliste soos Jacques Pauw1 en De Wet Potgieter2 het polisiewandade van ’n politieke aard onthul. Hoewel dié boeke veel gedoen het om die duistere kant van die polisie in die apartheidsjare te onthul, kan dit ook verkeerdelik die indruk wek dat die hele polisiemag uitsluitlik korrup was.

Daarteenoor is daar werke van voormalige hoë polisieoffisiere wat ewewigtigheid inboet omdat dit probeer om alle polisieoptredes tydens die apartheidsjare te regverdig. Die biografieë van genls. Johan van der Merwe3 en Wouter Grové4 gee ook nie juis aandag aan die lot van polisiemanne op grondvlak nie en veral nie daardie polisiemanne wat nie primêr met die bekamping van politieke oortredings gemoeid was nie.

Ook oor die geskiedenis van Koevoet, die polisie se berugte teeninsurgensie-eenheid wat in Ovamboland in die destydse Suidwes-Afrika diens gedoen het, het ’n hele aantal werke verskyn.5 Die storie van die binnelandse gespesialiseerde afdelings van die polisie soos die Moord-en-roofeenheid is egter afgeskeep.6 Hierdie boek probeer daardie leemte vul.

Charles Miller se verhaal is veel meer as net die optekening van een polisieman se lewe. Dis enersyds ook ’n misdaadgeskiedenis wat daardie oënskynlike barbaarsheid wat sommige mense tot ondenkbare wreedheid dryf, dokumenteer. Die boek gaan andersyds ook oor ’n spesifieke eenheid van die polisie en die ekstreme omstandighede waaronder sy lede misdaad moes beveg.

Die primêre taak van die Moord-en-roofeenheid was om ernstige misdade soos gewapende roof en moord te ondersoek en verdagtes op te spoor. Politieke oortredings is deur die veiligheidspolisie en ander ondersoek. Aangesien die Moord-en-roofeenheid misdade in ’n tyd van politieke onrus moes bekamp, het hulle soms noodwendig ook met politieke misdade te doene gehad. Sedert 1976 het politieke onrus toegeneem totdat dit in die middel tagtigerjare en daarna feitlik ononderbroke tot 1994 voortgewoed het. Dit het die bekamping van gemeenregtelike misdade soos moord en roof uiteraard baie moeiliker gemaak.

Dié boek is ’n geskiedenis van ’n polisie-eenheid deur die oë van ’n wit speurder in die laaste drie dekades van die ou Suid-Afrikaanse bedeling. Charles was van 1962 tot 1992 ’n polisieman – in die hoogbloei van apartheid – en hy en sy kollegas was noodwendig produkte van hul tyd. Charles self, soos ook sy kollegas, het nooit die politieke bestel van die dag bevraagteken nie. Die boek het egter geen politieke bymotiewe nie en is ook nie bedoel as ’n politieke geskiedenis nie. (Daar word wel van tyd tot tyd na mense se ras verwys omdat dit van historiese belang in ’n werk van hierdie aard is.)

Die Brixtonse Moord-en-rooftak was alombekend en in sommige kringe ook berug. Die Wes-Randse Moord-en-rooftak was heelwat kleiner as Brixton s’n, maar sy lede is aan dieselfde soort gevare blootgestel. Moord-en-roof was nie ’n plek vir sissies nie en was ook nie vir engeltjies bedoel nie. Min kon in dié eenheid aanpas. Nog minder kon dit enduit daar uithou. Dit het ’n spesiale mens geverg om in hierdie hoërisiko-eenheid te aard.

In ’n land wat skynbaar deurdrenk is met geweld word ons daagliks met misdaadnuus gebombardeer. Ek is etlike kere gevra waarom ek misdade uit die verlede wil ophaal wanneer mense reeds so misdaadvoos is.

Ek glo egter van hierdie oudpolisiemanne se stories moet vertel word, nie net vir individuele heling nie, maar ook vir die welstand van die gemeenskap. En om hul stories te vertel moet ’n mens ook kyk na die misdade waarmee hulle gewerk het – en meestal opgelos het.

Van die oudpolisiemanne met wie ek in aanraking gekom het, het ’n geestelike tamheid oor hul ondervindinge getoon. Enkele nabye kollegas van Charles het aan my gesê die herinneringe was te onaangenaam om op te roep. Sommige het Charles selfs afgeraai om sy herinneringe in ’n boek te deel.

Daar was ook oudlede wat aanvanklik wantrouig was oor my motiewe wanneer ek hulle vir onderhoude genader het. Ander het my gemaan dat dit ’n onnodige waagstuk is om hierdie geskiedenis op te teken. Daar was by sommige steeds ’n onderliggende vrees dat dit ’n heksejag teen hulle sal veroorsaak as hulle hul harte uitstort. Daardie oudpolisiemanne se onverwerkte gevoelens bly steeds opgekrop sonder ’n uitlaatklep en sal seker só saam met hulle na die graf gaan.

Gelukkig was dit ’n klein minderheid wat nie hul ervaringe wou deel nie. ’n Land se geskiedenis kan nie op lugleegtes gebou word nie. Niemand kan die verlede verander nie en geen deel van die geskiedenis behoort onaangeraak gelaat te word nie. Dit kan skadelik wees om aspekte van ons land se geskiedenis doelbewus te ignoreer of die optekening daarvan te probeer keer. Sulke historiese amnesie is ’n té maklike uitweg vir diegene wat sensitiewe aspekte van die verlede wil vermy.

Die boek sal onder meer ongeoorloofde ondersoekmetodes deur Moord-en-rooflede bekyk. Die doel is wel nie om ’n morele oordeel uit te spreek nie, maar eerder om die optrede van die speurders te probeer verklaar en objektief te beoordeel.

Sekere dinge was klaarblyklik vir Charles moeilik om op te roep. Tog het hy al my vrae openhartig beantwoord, al was dit dikwels baie sensitiewe vrae. Hy het een beperking gestel op die publikasie van sy herinneringe: dat geen oudkollega daardeur gekompromitteer mag word nie.

“Jy verklap nooit jou makker se geheime sonder sy toestemming nie.” Ek het onderneem om hieraan te voldoen.

Ek het gevind dat daar onder die meeste lede van die Moord-en-roofeenheid, ondanks ernstige struwelinge wat hulle destyds onderling kon gehad het, steeds ’n besondere kameraderie heers. Ek het ook besef dat die volle geskiedenis van die gebeure waarby Charles betrokke was nie volledig opgeteken sal kan word solank daar nog lewende oudkollegas is nie.

Pogings om insae in Charles se persoonlike lêer by die polisie te kry, het misluk. Charles het nie tydens sy dienstyd dagboek gehou of aantekeninge van voorvalle gemaak nie. Daar moes dus deels op sy geheue staatgemaak word. Sy herinneringe is aangevul deur koerantberigte, waarvan merkwaardig baie oor Charles se optrede as polisieman in sowel die Afrikaanse as Engelse pers verskyn het. ’n Magdom ander dokumente, waaronder ou dossiere en hofoorkondes, is ook nagegaan. Sommige betrokkenes se name het mettertyd vergete geraak en kon ook nie in ander bronne gevind word nie.

Die talle onderhoude wat ek met ander oudpolisiemanne gevoer het, was van onskatbare waarde. Dit was kommerwekkend om te sien hoe hulle aspekte van sekere traumatiese gebeure geblokkeer het. Wanneer hul geheues egter verfris is, het hulle met ongeroeste speurvernuf addisionele inligting ingewin, en sorg is gedra om alle feite te kontroleer. Bykans almal van hulle moes, soos Charles, sielkundige behandeling ontvang nadat hulle die polisie verlaat het.

Hoewel probeer is om lig te werp op die trauma wat polisielede in die voorste linie moes verduur, is die boek nie ’n akademiese sielkundestudie nie. Ek is nie opgelei om my lyf psigiater te hou nie, maar tekens van die trauma by sommige polisiemanne was só ooglopend dat dit nie ’n kenner verg om dit raak te sien nie.

Ek hoop dat die talle onderhoude wat ek met Charles en sy kollegas gevoer het nie onnodig ou wonde oopgekrap het nie, maar dat dit dalk selfs terapeuties was. Dat dit soms vir hom veeleisend was, was vir my duidelik. Ek is dankbaar dat hulle my behoefte gedeel het om hierdie geskiedenis op te teken.

Enige gevolgtrekkings wat gemaak word, bly my interpretasie van die gebeure en ek neem alleen verantwoordelikheid daarvoor. Dit kan wees dat Charles of sy oudkollegas met wie ek onderhoude gevoer het nie met van daardie gevolgtrekkings saamstem nie.