Nawoord |
Suid-Afrika is vandag ’n geskende land met van die meeste moorde en verkragtings ter wêreld. Die vrees om wreed aangeval, vermink of vermoor te word is iets alledaags hier. Misdaad en ’n kultuur van geweld het van die Suid-Afrikaanse bevolking ’n getraumatiseerde samelewing gemaak. Almal is op ’n manier slagoffers daarvan – ook Charles Miller.
Die omvang van misdaad weerspieël iets van die gemeenskap waarin dit plaasvind. Daar is genoeg voorbeelde van samelewings waar geen misdaad verdra word nie en misdaadsyfers ook danksy streng optrede teen oortreders laag is. China is die grootste land op aarde, maar het per capita die kleinste aantal moorde. In sommige Moslemlande kom sekere misdade feitlik glad nie voor nie. In hierdie opsig is daar iets groots fout met die Suid-Afrikaanse samelewing.
Die samelewing en die owerhede moet dus ook hand in eie boesem steek voordat individuele polisiemanne voor die voet verdoem word. Sekere optredes is stilswyend goedgekeur en soms het die owerhede hulle gewoon blind gehou vir wat op voetsoolvlak in polisiekantore aangegaan het. Die polisiemanne is boonop aan buitengewone, selfs abnormale, spanning blootgestel, maar moes steeds maniere vind om onder die omstandighede te funksioneer. Hulle was dikwels nie geestelik toegerus daarvoor nie.
Dat baie van hulle uiteindelik menslike tydbomme geword het, kan net deels voor daardie individuele polisielede se deur gelê word. Die owerhede het hulle ook versaak deur geen aandag aan enige psigiese ontlonting, berading en leiding te gee nie.
Ongelukkig is vandag se polisielede ook nie beter daaraan toe nie. Hulle ly steeds onder swak werksomstandighede, uitermatige spanning, ’n gebrek aan hulpbronne en opleiding en swak besoldiging. Te oordeel na die stortvloed mediaberigte maak baie polisielede hulle aan misdaad skuldig. Sterftes in polisieaanhouding het die afgelope dekade boonop toegeneem.25
In 2001 is Moord-en-roofeenhede landswyd as deel van ’n herstruktureringsprogram ontbind. ’n Voormalige bevelvoerder van die Brixtonse Moord-en-rooftak het daarna in ’n koerantberig opgemerk: “Nou is die poorte van die hel oopgemaak vir die duiwels om uit te kom.”
Dit is inderdaad so dat die polisie vandag baie meer sukkel om ernstige misdrywe soos gewapende roof en moord op te los en te verminder. Die doel was nie soseer om ’n vergelyking tussen die ou Suid-Afrikaanse Polisie en die huidige Suid-Afrikaanse Polisiediens te tref nie. In ag genome dat ander omstandighede in die verskillende tydvakke gegeld het, kan volstaan word met die volgende: Die huidige, dikwels onbeholpe polisiediens kan wat dissipline, algemene doeltreffendheid en veral die suksesvolle oplossing van misdaad betref, nie in die skadu van die polisiemag van ouds staan nie. Tog is dit egter só dat die ou polisiemag ook ernstige gebreke gehad het.
Vandag voel baie polisiemanne wat in die vorige bedeling in die voorste linies gewerk het soos uitgeworpenes, vergete deur die gemeenskap wat hulle eens gedien het. Hulle is steeds oortuig dat, ongeag sekere optredes wat sedertdien kritiek ontlok, hulle steeds baie opgeoffer het ter wille van die gemeenskap en ’n groter saak. Baie voel daarom in die steek gelaat en bitter.
Dis jammer dat daar weens die veranderde politieke situasie nie erkenning gegee word aan ’n generasie polisiemanne wat geweldige suksesse met die oplossing van ernstige misdrywe behaal het nie. Dis egter wel ook so dat by sekeres ongeoorloofde optredes ’n skaduwee oor andersins dikwels roemryke loopbane werp.